Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

by elizac

TRALALA

Augustus 31, 2011 in Sonder kategorie

Hier gaat ons al weer. Die hoogtepunt in my oninteressante lewe vandag, was ‘n bloedtoets om te kyk of my skildklierfunksie al verbeter het, en of dit nog dieselfde is. Indien dit steeds onderaktief is, sal daar nog pille by my lewe gevoeg word. Maar ten minste sal dit dan gedeeltelik verklaar waarom ek soveel gewig opgetel het hierdie jaar. (Die ander gedeelte word verklaar deur my eetgewoontes. Het juis nou ‘n stukkie melktert – self gebak uit die Kook en Geniet – gesit en eet. Kan mos nie help dat my kos lekker is nie!)

En môre is dit hospitaal toe vir ‘n klein prosedure. Wat wel weer narkose vereis. Ek, wat nog net een keer vantevore by ‘n ginekoloog was, was hierdie jaar al twee keer by een. ‘n Oulike meisiekind wat lyk of sy nog in matriek moet wees. Want die medikasie wat ek gebruik om die kanker hok te slaan, veroorsaak weer ander probleme, o.a. groeisels in en op die vrolike dele. So môre gaan sy ‘n kamera daar by die vrolike dele opstuur, en dan gaan hulle ‘n poliep verwyder. Enetjie wat nie daar moet wees nie en wat weer ander probleme veroorsaak. Soos ‘n gedurige gevoel asof ek wil menstrueer (jammer aan die manne, maar dis die lewe!). En terwyl ek nou in chemopouse is, kan sulke goed nie gebeur nie.

Laat ons maar hoop die vrolike dele bly vrolik.

Ek dink ek sal maar Vrydag of so gaan hoor of die skildklier nog problematies is.

by elizac

KRAPPIES EN KREWE

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

Ek’s nou moeg van kanker. Daar is nou net te veel mense wat siek is. My tante is Dinsdag geopereer vir baarmoederkanker. Iemand in ons kerk het ses maande gekry om te leef. Nog ‘n onderwyseres gaan Maandag in vir ‘n mastektomie. My swaer is met ‘n tipe longkanker gediagnoseer. Al die slegte nuus rol net so oor ons.

Kanker is ‘n vieslike siekte. Dit maak nie saak hoeveel pienk strikkies aan ons uitgedeel word, of hoeveel pienk Prestik daar verkoop word nie; dit bly ‘n vieslike siekte. ‘n Ding wat soos ‘n spinnekop in jou lyf sit en ‘n giftige web spin.

En ek weet: as dit nie vir my eie diagnose was nie, sou ek waarskynlik nie eens opgelet het dat soveel mense siek is nie. Dit sou net doodeenvoudig nie deel van my lewe gewees het nie. Maar nou ken ek te veel siekes. Net ‘n paar jaar terug  het ek en my vriende huwelike en geboortes gevier – nou hou ons begrafnis. En ons is nog nie eens oud nie (al is ek seker die sestienjariges sal van my verskil).

Toe ek verlede jaar gediagnoseer is, het ‘n vriend, wat in Nieu-Seeland bly, mooi op Afrikaans gesê: dis ‘n krappie siekte. Ek stem saam. Hierdie kreef is krap.

by elizac

MY VET BROER

Augustus 15, 2011 in Sonder kategorie

Nee, my broer is nie vet nie. Allesbehalwe. Dis die titel van ‘n boek wat ek so ‘n week of wat terug gelees het en wat ek vreeslik geniet het. Ja, die studente staak al twee weke lank en nou het ek weer kans om lekker te lees. Gewoonlik lees ek nie juis boeke wat deur mans geskryf is nie. Buiten Jeffrey Archer, Dick Frances en so aan. Ek wil ontspan wanneer ek lees – nie wroeg of pseudo-intellektueel probeer wees nie. Maar hierdie een het my aandag getrek, want die agterblad lees so:

“Men are people who clean the loo just once a month and only when asked by a woman,

Who know distances, heights and weights of all things except peaches and babies…”

Toe dog ek, ek sal ‘n kans vat met My Fat Brother van ene Jim Keeble. Al in 2003 gepubliseer (en in Amerika glo onder die naam Men and Other Mammals – dink ek het daai titel voorheen gehoor), maar nou eers deur my ontdek. En het ek nou nie lekker gelees en gelag nie. Sommige aande het ek so gesit en lag, dat ek gedink het die bure gaan die dokter bel.

Die storie kortliks: Scott Barrow het vasgeval in ‘n gemaksone sonder dat hy dit werklik besef. Sy jonger broer, die dikketjie nou, het alles: oulike vroutjie, moontlik ‘n baba op pad, goeie vriende, gewone werk, finansieel nie te breed nie. Scott skryf ‘n paar gediggies oor mans en dis hoe hy sy geldjie maak. Alles baie gemaklik en sonder om hom te veel te vermoei. Dieselfde geld vir sy verhouding en ook vir sy vriende: solank alles oppervlakkig bly, is hy gemaklik. Dan los Scott se meisie hom – en hy vind uit dat sy eintlik al lankal ‘n verhouding met iemand anders het; hy het dit net nie geweet nie, en van hier af loop dinge afdraend. Skielik is hy alleen sonder dat hy alleen wil wees; sy vriende bly weg, want hulle is ongemaklik met sy probleme; en dan sterf sy ma onverwags.

Wat heerlik is van die storie, is dat daar egte karakterontwikkeling plaasvind: Scott neem sy lewe in heroorweging en val rond tussen komiese momente (daar is heelwat oor pikkewyne, onder andere mis hy amper sy ma se begrafnis omdat hy in hegtenis geneem word weens aanranding van ‘n pikkewyn) en tragiese oomblikke. Maar uiteindelik kom hy by ‘n punt waar hy as volwasse man sy plek in die samelewing kan inneem. Met ‘n klein skeutjie romanse tussenin. Hoe hy by die punt uitkom, is ‘n heerlike verhaal oor mans en hoe hulle dink, sonder dat dit ‘n wroeging word, en sonder dat vrouens objekte word. Wat ek nogal waardeer.

Lees dit gerus as jy nog nie het nie. Nie almal sal seker hiervan hou nie, maar ek het dit ‘n uiters leesbare boek gevind.

by elizac

CHRISTA STEYN

Augustus 11, 2011 in Sonder kategorie

‘n Artikel oor Christa Steyn en haar borskanker.

http://plwc.org.za/blog/2011/07/13/hanlie-retief-gesels-met-christa-steyn/

Hoop julle kan dit lees.

by elizac

ONS KASTEELTJIE IN FRANKRYK

Augustus 3, 2011 in Sonder kategorie

In Januarie vanjaar het my suster ons aan die wonderlikste verblyf in Frankryk bekendgestel: Au Manoir, rue du Chateau 10, 54550 Sexey aux Forges. (Laasgenoemde is die dorpie se naam, vir die wat nou bietjie verdwaal is). Maar dit behoort genoeg te wees om te sê dat dit in die Noorde van Frankryk is in die provinsie Lorraine (of Lothiringen op Duits). Die naaste groot stad is Nancy, wat bekend is om die ontstaan van die Art Nouveau beweging. Daar is ook ‘n museum gewy aan Art Nouveau in Nancy en hoogs interessant om te besoek.

Terug by ons kasteeltjie: Au Manoir is die oorblyfsels van ‘n ou kasteel – basies het net die toringgedeelte oorgebly en dit is wat hulle in verblyf omskep het.

Hierdie gedeelte van die toring bestaan uit ‘n aparte slaapkamer met ‘n dubbelbed, ‘n badkamer en ‘n vertrek met ‘n sitkamer en die beddens in hierdie foto. (Ja, dis my ou pruik wat so ewe kasueel daar oor die voetenent hang! Kan nie glo dat ‘n jaar terug ek geen hare gehad het nie en met pruike moes rondloop).

En hier is die sitgedeelte, waar ons ook kon tee maak. Daar is geen kosmaakgeriewe nie, want die eienares, madame Nicole Soligot en haar man, monsieur Jean-Francois Soligot, verskaf ontbyt en ook aandete op versoek. Tydens hierdie etes kuier jy dan saam met die eg Franse dame en haar man (op Frans!) terwyl hulle jou met die kos van die omgewing bedien: madeleines, konfyte, perskes, heuningbrood. Saans verskaf hulle klaarblyklik ook wyn uit die omgewing. Ongelukkig het ons nie kans gehad om die befaamde aandetes te beproef nie, want haar man was in die hospitaal vir ‘n heupvervanging tydens ons besoek, en hy is glo die een wat die gaste met sy sjarme en wynkennis beïndruk.

Hier is die tweede slaapkamer. Kyk net hoe mooi.

Ek en die geliefde het vir ‘n verdere klompie dae teruggekeer na hierdie pragtige plek. Hierdie keer was dit sonder die hulp van my suster se Frans en ons het probeer kommunikeer in Duits! Eventueel het ons die woordeboeke gegryp: ek slaan die Engelse woord na en wys dan die Franse woord vir ons gasvrou, en sy slaan die Franse woord na en wys dit vir my op Duits! En so het ons heerlik oor die weg gekom en twee ontbyte op Frans oorleef! Madame se dogter het ook kom kuier en sy kon Engels praat. Sy was op pad na Suid-Amerika om daar te gaan verpleeg en het eintlik net haar ouers kom groet voordat sy gegaan het.

Ons tweede keer het ons in die ander toringkamer gebly.

Is dit nie absoluut pragtig nie? En die prys? 60 Euro vir twee persone, ontbyt ingesluit.

Daar is nie veel om te doen in die dorpie nie, aangesien dit slegs ‘n bakkery en ‘n kerk het. Maar in die somer is daar lieflike wandelpaaie. En as jy ‘n voertuig huur, is Nancy net om die draai, asook Bacharat – vir diegene met baie geld om op kristal uit te gee. Ook Metz is doenbaar vanaf hier, en daar is die wonderlikste Chagall vensters in die katedraal.

Ek sal teruggaan. Ons het nog nie die Dorp van Boeke gaan besoek nie. En ek het nog nie al die kristal en die porseleinfabrieke gesien nie!

O, kontaknommer is 0630153475. Gebruik die Franse internasionale kode. En laat iemand wat kan Frans praat namens jou bel, as jy dit nie kan doen nie!

by elizac

TER WILLE VAN ‘N BIETJIE BAKLAVA

Augustus 2, 2011 in Sonder kategorie

In Athene was daar hierdie kafee wat die wonderlikste baklava verkoop. Nie daardie ou pieperige stukkies wat mens ten duurste hier in Suid-Afrika aangepresenteer word nie, maar ‘n lieflike sny, met neute en heuning wat daaruit drup. So het ons in Januarie twee keer daar gaan baklava eet – sodat ek vir ‘n week daarna nog nie ‘n soetding oor my lippe kon kry nie. En so sien ek toe al amper ses maande uit na daardie stukkie baklava in Athene. Terwyl die lewe my dan nou weer eens in daardie rigting gestuur het – die keer vir werk.

Hier teen dag drie in Athene kon ek dit nie meer hou nie, en manlief en ek sit af na die Metro Kafee op die Monastiraki Plein. Dis ook die Monistiraki Metrostasie, en saans heers daar ‘n heerlike atmosfeer met jongmense wat oral sit en mense wat musiek speel en selfs Afrikadromme.

Die grootste probleem wat ek in Athene ondervind, is die gerokery. Nou kyk, hulle het ook allerhande oulike rookwette, maar hulle pas dit nie toe nie. Verder rook die oorgrootte meerderheid van die bevolking, so ‘n nie-roker is die vyand. Klaarblyklik, het ons eens gids gesê, rook ongeveer 85% van die bevoking en hulle begin rook sodra hulle twaalf word. So moet ‘n mens gedurig jou weg tussen ‘n klomp rokers deur baan om uiteindelik by ‘n plek te kom waar jy in veiligheid kan sit en eet.

Nou wat het rook met baklava te doen? Wel, as jy jou baklava rookvry wil geniet, moet jy binne die restaurant sit. Almal mag buite rook, maar nie binne nie.

En so kry ons toe (weer eens) te doen met die eienaar wat die wette afdwing vir sy kelners, maar nie vir homself nie. Stap ons by Metro in en daar sit meneer agter sy rekenaar en hy rook lustig onder die rook verbode tekens. Vra ons die kelner hoekom rook die man in die restaurant? Hy trek net sy skouers op. Toe stap ons maar uit – ek met my lus vir baklava so net-net onder beheer – en ons gaan spandeer so 30 Euro in ‘n ander restaurant.

Twee dae later stap ons weer daar in. Niemand rook nie, maar die kêrel wat die vorige keer daar gesit het, sit agter die toonbank en speel rekenaarspeletjies. Kort-kort pieng dit daar van agter. Rook hier iemand? vra ons mooi vriendelik. Nee, sê die kelner. Maar dit ruik na rook – ou rook wat in bekleedsel ingetrek het. Maar ek lus daai baklava. Dus bestel ek ‘n koppie tee en ‘n stuk baklava, maar kort daarna kom ek agter my baklava kom nou met ‘n geurtjie. Waarlik sit die kêrel agter die toonbank met ‘n sigaret waaraan hy teug, en dan laat sak hy dit so skelm langs die kant weg. Sodat ons nie kan sien nie.

Ek sê vir my man hiermee kan ek nie saamleef nie en gaan vra mooi vir die man of hy dalk die eienaar is. Ja, sê hy. Nou ja, sê ek, ons hou nie daarvan dat hy rook nie. Gaan hy nou te kere oor hoe kan ons dit ruik, want hy sit tien meter (nee, seker so drie meter) van ons af. Dit verstom my altyd: mense wat rook en dus nie veel van ‘n reuksintuig oor het nie, vertel vir my dat ek dit nie kan ruik nie. Asof hulle nou sal weet wat ek kan ruik. Maar hy druk eventueel sy sigaret in ‘n blikkie dood en sit en brom in sy lippe.

Ek en my geliefde is toe nou nogal omgekrap, want die vredevolle teetjie en baklava, ontaard toe nou in ‘n insident. Praat so ‘n bietjie oor die wette in die land en ons regte – alles op Engels, sodat die kêrel ons kan verstaan.

Toe ons opstaan om te loop, toe begin die skepsel weer daar van agter die toonbank: hoe ons die ander dag in sy restaurant ingeloop het en gesien het dat hy rook en dat ons toe buite gaan sit het. Nee, sê ek, ons het nie buite gaan sit nie; ons het daardie aand 30 Euro by ‘n ander restaurant gaan spandeer en dis 30 Euro wat in iemand anders se sak beland het; nie syne nie. Gaan hy aan oor hoe onbeskof ek is, want ek skree op hom. Nee, seg ek, jy’t eerste geskree. Yes, but I am speaking in your language, sê hy vir my. Ek dink hy bedoel omdat Engels sy tweede taal is, klink hy dalk net onbeskof vir ons. En hy impliseer natuurlik dat ons nie kan Grieks praat nie, maar dat hy wel ons taal kan praat. Toe help ek hom vinnig reg.

Where are you from? vra hy, en ek sê: Suid-Afrika. En hoor net wat sê hy: Well, you go and talk to your blacks like that. We are Europeans and you don’t talk like that to us. Maar ek strip my moertjies in triplikaat en vertel hom toe mooi: my children are black! How dare you, you rude man! Vertel hy mos vir ons maar hy sit vyftien uur per dag in die winkel en hy kan nie elke keer uitstap om te gaan rook nie. Maar my man vlieg hom daar in en skree: Ons was hier in Desember ! En jy was nie hier nie! Ons was hier in Januarie! En jy was nie hier nie! Ons sal nooit weer hierheen kom nie, want jy is onbeskof! Ek sê vir die man: jy is onbeskof en dis jou skuld dat jou restaurant leeg is. Jou kelners (die staan almal rondom ons en maak groot oë) is geëmbarasseerd deur jou optrede! Gaan kyk bietjie rondom jou! Al die ander restaurante sit gepak, maar joune is leeg! En dis jou skuld!

Europeër? Ek dink nie so nie. As hy ‘n Europeër was, het hy respek vir die wette van sy land en die Europese Unie gehad.

So, hier is nou ‘n boodskap vir al die rokers daar buite: as jy wil rook saam met jou baklava, gaan na Cafe Metro net oorkant die Monastiraki Stasie in Athene. Vir al die ander mense: ek sal aanbeveel dat jy ‘n ander plekkie gaan soek wat ook lekker baklava verkoop.