Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

by elizac

NEOPHEDAN

Julie 3, 2011 in Sonder kategorie

Nou ja, hulle sê mos gedeelde leed is halwe leed, so kom ons kyk of dit help as ek die newe-effekte van my medikasie met ander mense deel. Ons borsbuddies praat sommer almal van Tamoxifen, maar eintlik gebruik ek Neophedan. Klaarblyklik is Tamoxifen die generiese produk. Hier is die newe-effekte:

  • warm gloede (het ek, maar gelukkig net in die kop)
  • edeem (het ek – so ‘n ou pofferige handjie)
  • vaginale bloeding
  • pruritus vulvae (‘n gejeuk jy-weet-waar)
  • ingewandstoornisse
  • lighoofdigheid (ja)
  • uitslag (ja)
  • hypocalcaemia – lae kalsiumvlakke (Sal eers weet as ek begin bene breek)
  • verminderde bloedplaattelling
  • verminderde witbloedselle
  • hoofpyn (ja)
  • depressie (ja, veral met al die negatiwiteit rondom my)
  • moegheid (ja, net ‘n vitamine B-inspuiting help)
  • deurmekaar (ja, maar ek weet nie of dit normale deurmekaar is en of dit aangehelp word deur die medikasie nie)
  • beenkrampe
  • voortydige haarverlies (en hulle sê my nou eers? Dit terwyl ek my ou haartjies so mooi met perdesjampoe versorg)
  • droë vel (wel, dis redelik normaal vir my)
  • trombose
  • endometriese veranderinge
  • menopouse (ja, het ek)

Dan word daar ook so tussenin laat val dat hierdie medikasie lewerkanker in rotte veroorsaak het. Dit laat ‘n mens natuurlik baie goed voel. Ook is daar klaarblyklik ‘n kans op baarmoederkanker indien die persoon aan wie dit toegedien is, nog nie in menopouse is nie. Wat ek nie was nie, maar nou is, as gevolg van die medikasie. (Dit laat my altyd so ‘n bietjie beneuk voel as mense vir my raat het vir die warm gloede, en hulle besef nie dat ek GEEN medikasie mag gebruik om my hormone aan te wakker nie. As ek nie warm gloede wil hê nie, moet ek net ophou om die medikasie te gebruik. Dan sal my liggaam weer normaal funksioneer. Met die gepaardgaande risikos.)

Og, laat ek liewer my tas gaan pak. Ons vlieg môre Duitsland toe en daarna na Athene vir ‘n kongres.

by elizac

VOLSTRUISGEVOEL

Julie 3, 2011 in Sonder kategorie

Ek was hierdie week so ‘n bietjie depro. Ek dink die negatiwiteit van my omgewing is uiteindelik besig om my in te haal – ons Suid-Afrikaners kla mos so aanhoudend en alles is net altyd sleg. Dus vermy ek maar die nuus en mense wat sit en kerm oor Julius Malema en hoe die land teen 2020 uitmekaar gaan val. Verder het die Pink Chicks Dinsdag weer gaan voete was in die chemokamer en daar was so ‘n depressie wat daar gehang het. Een vrou het, terwyl ek haar voete was, spasmas gekry van die Taxotere en met ‘n gepynigde geskreeu op my skoot beland. Terwyl die suster haar ignoreer. Partykeer raak ek sommer woedend wanneer ek daar is: die swart susters, lyk dit my, dink nie hulle swart susters se pyn is werklik nie. En ek weet hulle kan lekker aansit, maar wie is jy om namens my te besluit of ek werklik in pyn is of nie? As ek vir jou sê ek is in pyn, dan beter jy my glo en my help. So eindig ek toe met ‘n vrou op my skoot, en, al is ek self nie ‘n liggewig nie, was daar nie ‘n manier wat ek haar op die stoel kon terugkry nie. Intussen sit sy my bene dood, en niemand kom help nie.

En so sit ek toe daar op die vloer en onthou daardie sêding wat ons in die KJA geleer het: dis makliker om iemand af te trek as op te help. Maar ek smaail maar so tussen die moerigheid deur.

Dan moet ek nog luister na mense kla oor hul lewens. Hoe sleg dit finansieel gaan. Hoe hul gesondheid nie lekker is nie. En en en. Sulke tye wil ek sê: wat wil jy nou hê moet ek vir jou sê? Ek verstaan dat sekere dinge vir mense ‘n krisis is, maar as dit ‘n oplossing het – al duur dit lank – is dit nie ‘n krisis nie; dis bloot ‘n probleem. Ek verstaan ook dat daai ding op daardie moment vir jou baie erg is, maar werklik, ‘n gebreekte toon is in my oë nie die grootste probleem op aarde nie, en dit sal verbygaan. Terwyl jy so sit en kla, sit ek voor jou met ‘n tiet wat trek en ongemaklik is; met ‘n linkerarm wat bly opswel en wat bydra tot die ongemaklikheid. Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie bewus is daarvan dat ek ‘n vals bors aan die linkerkant het nie. Die enigste tyd wat ek dit nie voel nie, is wanneer ek slaap.

En terwyl jy so kla, het Mike gesterf aan kolonkanker.

Ek het werklik nie nodig om na al hierdie geteem te luister terwyl die depressie so op my kom lê nie. Vandag het ek vinnig gaan lees oor die newe-effekte van die Tamoxifen wat ek elke aand vir die volgende vyf jaar moet sluk. Ek weet nie hoekom ek vir daardie moment uit my volstruishouding gekom het nie, want ek neem die medikasie nou al nege maande sonder dat ek gaan uitvind het wat die newe-effekte is. En dis nou nie asof dit inligting is wat my laat beter voel nie. Dis ook nie inligting wat my enigsins meer vertroue in die mediese wetenskappe gee nie.

Dus gaan ek nou maar weer my kop onder die sand druk.

En as jy wil kla, gaan praat met die muur.