Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

by elizac

VAN UITSTEL…

Junie 19, 2011 in Sonder kategorie

… kom moeilikheid. Want party dinge kan jy net nie afstel nie, al wil jy hoe graag. Ek’s mos ‘n super-uitsteller. Het al op universiteit dikwels deurnag gewerk, omdat ek eers ander, interessanter goed gedoen het eerder as ‘n taak uitgewerk het. (Ek wonder nog altyd hoeveel punte ek sou gekry het as ek nou getrou gewerk het, maar dis water onder die brug, en nog soortgelyke clichés). En dan is die duiwel mos getrou en net sodra jy gaan sit om ‘n slag iets te doen, dan steek hy (of sy?) ‘n liederlike stokkie voor jou planne.

Soos vanaand. Om die een of ander rede bevind ek my op die oomblik in ‘n posisie waar ek tegelykertyd aan twee referate moet werk. En môre twaalfuur sien ek my een kollega om ‘n bietjie te praat oor ons bevindinge, en ek het nog nie ‘n snars gewerk nie. Behalwe om inligting bymekaar te maak. Sou vanaand so ‘n bietjie deur die bevindinge gewerk het, aangesien die ander referaat hierdie afgelope week ietwat dringender was. Terwyl ek dié oor drie weke moet lewer, en die ander een eers in Augustus.

Maar natuurlik kan ek nou glad nie my werk e-pos oopmaak nie. Dis die boodskap wat ek kry:

Service unavailable!

The server is temporarily unable to service your request due to maintenance downtime or capacity problems. Please try again later.

If you think this is a server error, please contact the webmaster.

Nee, ongelukkig kan ek nie op ‘n Sondagaand om kwart voor ag die webmeester kontak en vir hom/haar aansê om alles aan die gang te kry net sodat ek my werk – wat ek tot op die nippertjie uitgestel het – kan doen nie. Ek sal maar môre-oggend vroeg weer moet probeer. Hopelik is die probleme teen half 9 opgelos…

Dus sal ek nou maar die ander joppie moet gaan pak wat ek nou al weke uitstel: om al my krale in hul plekke te kry. Ek ratel eintlik van opgewondenheid. Dis so opwindend soos om my tone te kou. Maar nou ja, ek het Meimaand as verskoning gebruik om nie die krale te organiseer nie, en dié is ook nou al amper drie weke verby.

HELP! Selfs die boek met feite oor Vigs is interessanter!

by elizac

‘N REëNDAGSTORIE – TERWYL DIE SON VIR ‘N SLAG SKYN

Junie 14, 2011 in Sonder kategorie

So met die lang reën saam dink ek mos aan die tyd toe ons in ons ou huisie ingetrek het. Ek’s met langverlof om my D klaar te maak en het dus baie tyd om op die gras in die son te sit en onkruid uit te trek – die vorige huisbewoners was klaarblyklik nie juis tuiniers nie, en hulle enigste bydrae tot wat eintlik ‘n sokkerveld is, was ‘n poging tot trench gardening. Vermoed ons. Want dit is al waarop die twee grafte in die agterplaas kan dui. Hoop ons.

Sien die Here seker die vrou gaan nie voor ‘n rekenaar uitkom nie en Hy stuur reën. Baie reën. Met die reën saam, kom die nuwe-huis-ellende. Die eerste ding wat ingee, is die elektriese hek. Ons het ‘n vriend se waentjie geleen en dié staan in die oprit. Met ‘n oop hek. Die beste waaraan ek kan dink, is om die waentjie te haak en tot in die agterplaas te sleep waar dit buite sig van nuuskierige oë en vlytige hande kan staan. Netnou staan die sleepwa wielloos, en met huiskoop is daar nie begroting vir ekstra wiele nie.

So gesê, so gemaak. Waentjie in die agterplaas en ek gaan maak ‘n wye draai met my Astratjie om die grafte te vermy. Wip-wip oor die gras en draai. En dis met die draaislag wat daai Astra vashaak en nie wil verder nie. Die kar sit seker nie eens ‘n halwe centimeter diep in die grond nie, maar dit wil nie beweeg nie. Voorwielaandrywing.

‘n Vriend met ‘n ernstige 4X4 sê hy sal kom uitsleep. Hy en sy gesin is op pad na ‘n gospelkonsert, maar sal sommer voor die tyd ‘n draai maak en dinge regmaak. Kom hy met gesin en al om die hoek, en die ernstige 4X4 stuit net daar in sy spore – maak dit nie eens tot by die grafte nie. Kos hom ‘n ander vriend bel om hom te kom uitdraai uit ons tuin uit. Amper laat vir die gospelkonsert en my Astratjie staan nog steeds in die agterplaas.

Manlief (op daardie stadium nog nie manlief nie, net mede-eienaar, maar dis ‘n ander storie) moet die Sondag teruggaan King William’s Town toe en so word ek voertuigloos by die huis gelos. Maar dis mos nou nie ‘n probleem nie, aangesien ek moet studeer en die naaste Spar sowat 800 meter van hier is.

Seg ‘n kollega van my hy sal my kom uittrek met sy Landrover. Landrover kan alles. Net sodra die reën so ‘n bietjie lig, dan kom hy. Daag hy toe ook die Woensdag daar op. Die Landrover wip-wip oor die grassies en hy gooi ‘n draai oor die grafte. Ons kry my karretjie so ‘n skeutjie gestoot, maar kollega sê hy gaan net gou agterom ry en dan… En net daar steek die Landrover vas. En nie sommer bietjie nie: sak tot by die naaf in die grond in weg. Ons probeer met planke en bakstene, maar die Landie weier steeks. Kos kollega om sy kêrel te bel om hom te kom haal. Hy sal die Landrover kom uitgrawe sodra die grond droër is.

So staan die Landrover en die Astra toe ewe gesellig in die agterplaas.

Teen die volgende Saterdag is ek al ‘n bietjie kriewelrig. Mens raak mos lus vir bietjie rondry as jy nie kan rondry nie. Gelukkig skyn die son toe al van Woensdag af. Kollega bel en sê hy gaan gou kom kyk of hy die Landrover kan uitkry en dan trek ons sommer my kar ook uit. Dit hoes en blaas en stoot. Ons druk bouplanke onder die wiele in. Die Landrover sit. Ek bel solank vir vriend die meganiese ingenieur. Hy’t net so ‘n ernstige 4X4 met ‘n winch en dié sal darem seker die Landrover kan uitkry. Intussen sukkel my vrolike vriend met die Landrover. En met die gesukkel, kry hy vastrapplek en daar wip-wip die Landrover ewe gelukkig oor die grasperk. Hy gooi weer ‘n es en kom terug. En nou? sê ek. Nou trek ons jou kar uit, seg my vriend. En hy haak my karretjie se voorkant aan sy Landrover se agterkant en hy sê: as ek sê gaan! dan draai jy daai stuurwiel na regs en jy kom! En toe hy sê: Gaan! toe draai ek daai stuurwiel en my kar spring meteens teen 90 grade na regs en ons wip-wip oor die grafte en uit.

Ek vra vir vriend of hy wil bietjie koffie hê. Nee, seg hy, hy moet by die huis kom. Kêrel wag. En terwyl hy so bakarm oor die oopgedraaide venster leun, sê hy: Ek’s bly ek kon jou kar uitkry voor jou meganiese ingenieursvriend opgedaag het. En met ‘n glimlag voeg hy by: Ek mag gay wees, maar ek is nog steeds ‘n man!

by elizac

KERKBASAAR

Junie 5, 2011 in Sonder kategorie

Meimaand by my is soos Desember by ander mense: chaos. Dis die einde van die semester, die studente skryf eksamen en alle punte en werkstukke moet in wees en klaar wees. Jy probeer vir oulaas nog hand op die stuur hou en die studente “omhoog begelei” voordat jy ook – uiteindelik – moed opgee en net klaarmaak. En dan is dit net genade dat jy en jou kollegas dit lewend tot die einde van die semester maak, of dat een van julle nie in die tronk beland nie.

Voeg nog by die normale chaos ook die kerkbasaar. Want ja, die eerste Vrydag in Junie is ons gemeente se basaar, en hierdie tannie het so ‘n paar jaar terug aangebied om die handwerktafel te behartig. Sommer so sonder wyk en begeleiding van die ouderling en die diaken. Met die hulp van ‘n paar vriende en enkele gemeentelede wat hul tyd opoffer om goedjies te maak. Want sien, ons is mos nou deesdae die basaartannies. Daai tannies wat agter die tafel staan en vriendelik glimlag en “my kind” sê en “wys my jou geldjies; dan sê tannie vir jou wat dit kos”. (So ‘n klompie jare gelede vra my vriendin eendag vir haar man: Wat het van al die basaartannies geword? En terwyl sy dit sê, besef sy: maar ons is die basaartannies!)

Dus sit ons die tradisies voort. Ek kan nie bak nie, en my poedings sal dit nie tot by die tafel maak nie, maar ek kan gate boor en skroewe indraai en verf en mosaïek en naaldwerk doen en brei en hekel en juwele maak – noem dit op. Ek kan ook slawedrywer speel, en Vrydagmiddae en Saterdagmiddae het ek en ‘n paar vriendinne rondom die tafel gesit en goedjies gemaak vir die tafel. Harte van lint. Harte van drukkersplate en met hars oor. Mosaïekkruise. Borde van papiermache. Skilderye met servette. Bewertjies van stywe papier. En op die manier probeer ek jaarliks die chaos van my verskeie obsessies rondom my wegwerk: ‘n obsessie met teddiebere maak, ‘n obsessie met scrapbooking (nie lank gehou nie!), ‘n obsessie met mosaïek, ‘n obsessie met hekelwerk, met breiwerk, met papiermache, met krale. Alles ter wille van die kerk.

En dan is daar elke jaar die heerlike verrassings: die tannie wat die mooiste naaldwerkstukke vir ons bring. Sakke en verrassingkies in organza; pennesakkies, oorgetrekte hangers, doedoesakke (geen idee wat dit is nie, maar dis pragtig!) Ook my vriendin – geen kerkganger nie – wat vir Barbie klere gemaak het, en ‘n vorige jaar pragtige borsspelde. Nog ‘n vriendin wat die oulikste harte en kruise gemaak het en met knope versier het. En ‘n ander een wat elke jaar klere skenk wat sy gemaak het: pragtige, vroulike stukke teen weggeepryse.

Elke jaar dink ek: ons het nie genoeg goed nie! En dan kom ek die Donderdagaand by die kerksaal en daar wag vir my naaldwerk, breiwerk, goeie handwerk. En Vrydagmiddag staan die mense al tou om te kyk wat op ons tafel is. Die een sê: hou asseblief die stuk vir my! Of: is dit regtig die prys? Ek wil almal hê!

En dis heerlik om te weet die mense hou van die goed wat ons verkoop (as daar mense is wat nie daarvan hou nie, moet hulle maar stilbly!)

Hier bo is ons tafel. Dit lyk maar armoedig, maar ek kan julle verseker dit het pragtig gelyk! Die skildery links onder is deur ‘n vriendin gemaak. Die hake regs onder was ‘n spanpoging.

Raak ek wel ontslae van die deurmekaarspul wat deur my onderskeie obsessies veroorsaak is? Nee, toe nie. Nou bring die gemeentelede vir my al hul oorskietlappies, oorskietwolle, oorskietlinte – kortom, alles wat hulle nie wil hê nie! En ek moet dit stoor…