Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

by elizac

MY LEWE…

Mei 28, 2011 in Sonder kategorie

… is deesdae so opwindend soos dié van daai ouens wat so planking doen. Want hoe verveeld moet jy nou wees om op vreemde en gevaarlike plekke doodstil te gaan lê en foto’s daarvan te neem net om ‘n bietjie opwinding na jou saai lewe te bring? Dan kan hulle mos maar liewer die tuindwerg – a la Amelie – op vreemde en gevaarlike plekke gaan afneem.

 

Ek’t nou vannag ‘n visserige storie moes klaarskryf sodat my man dit in ‘n handboek kan gebruik. So as julle kindertjies op een of ander stadium ‘n dramatiese storie lees van ‘n seun wat sy vriendin se pa uit die see red, dan’s dit myne. Dis nou net Afrikaans Eerste Addisionele Taal. My kop is skoon suf gedink.

 

Werklik, die muse kan mos nou nie so aangejaag word nie.

 

by elizac

DIE WERK VAN ‘N VROU

Mei 25, 2011 in Sonder kategorie

Sit en lag ek en my vriendin-van-Frankryk nou die dag so langafstand oor die foon. Omdat ons vroue mos nou nie deesdae onse plekke ken nie. So ek het gedink ek moet hierdie versie van ene mnr CJ Langenhoven met al die misleide vroue daar buite deel, sodat ons weer onse plekke kan inneem. Onse regte plekke. Hoor net hier:

DIE WERK VAN ‘N VROU

Wat is jou werk, o vrou?

Om huis vir jou man te hou,

Sy sokkies te stop, en sy dassies te las,

Sy hemde te stryk en sy broeke te was?

Ja dit. Hou sy aansien van buite rein,

En klee ook jouself altyd netjies en fyn!

Om sy kos te kook, en te staan by sy vuur,

En te stik in sy rook, en sy potte te skuur?

Ja dit. Sy gesondheid en vlyt en moed

Moet jy sorg om met heilsame spys te voed!

In die wêreld sy kinders te bring met smart?

Ja dit: en dan steeds nog te dra op jou hart!

En meer: onvermoeid by sy siekbed te staan,

Sy moed op te beur as sy hoop hom ontgaan,

Sy wonde te salf, hom te troos in sy klaag,

Sy laste van teëspoed same te draag;

Sy ywer steeds warm te hou vir sy plig,

En jou eie steeds ongewaardeerd te verrig!

Sy huis te verlig met ‘n glimlag van vreug,

En sy hart te verhef met ‘n voorbeeld van deug;

Om te sorg vir sy liggaam en siel en verstand:

Dit alles, o vrou is jou plig, en die pand

Aan jou toevertrou vir die heil van jou land.

En om laaste die hoogste en duurste te noem:

Vir die heil van jou volk, hou jou eer en jou roem!

Nou ja toe, wat wil ons nog meer hê? So duidelik afgemeet is ons plek hier op aarde. En hy sê so mooi: o vrou. Dit klink soos ‘n ode. Ek hoop net die “stik in sy rook” verwys na die stoof se rook, en nie die man se rook nie. Daar is darem min dinge so mislik soos iemand wat sy/haar rook in jou gesig uitblaas.

O, ekskuus. Ek’t my plek vir ‘n oomblik vergeet.

En ek moet sê: werkloosheid sal sommer vinnig reggeruk word as alle vroue by die huis moet bly. Dan kan die mans mos die werk doen, soos dit hoort.

NS Ek aanvaar mense met ‘n gemiddelde IK sal verstaan waarom ek en my vriendin-van-Frankryk hieroor gegiggel het.

by elizac

AL WEER DIE HARE

Mei 24, 2011 in Sonder kategorie

Ek gaan nou vanmiddag gou-gou salon toe om my hare te laat knip. In hoeverre ‘n mens dit nou ook ‘n knip kan noem. Want my hare is seker nou so 6cm lank, maar dit staan soos ‘n verskrikte krans om my kop. Nou wil ek net hê my vriendin moet dit so ‘n bietjie langs die kante knip sodat dit meer na ‘n styl lyk. Ek’s ‘n bietjie angstig oor die knip. Mens sou sweer dis nie dieselfde persoon wat ‘n bietjie meer as ‘n jaar terug na dieselfde salon gegaan het om haar hare af te skeer nie. Sonder om ‘n oog te knip of te veel trane te stort. Want nou’s my hare darem baie kosbaar!

Niemand sal seker glo hoeveel komplimente ek vir my hare kry nie. Asof ek gekies het om dit so te laat sny. En dikwels: oh, you’ve cut your hair! Ek is nog steeds nie seker hoe om daarop te reageer nie… Dankie, maar eintlik groei hulle nou?

Verder het ek gister vir my perdesjampoe gaan koop. My hare krul bietjie minder, maar ek lyk steeds na ‘n poedel wat ‘n slegte salon job gehad het. Ek hoop maar die oop kolle groei nou toe. Dit maak die kinders bang as hulle die antie se kopvel so kan sien deurskyn.

by elizac

ARCADIA HOME SHOPPING

Mei 22, 2011 in Sonder kategorie

Weet iemand iets van Arcadia Home Shopping af? Ek probeer inligting bymekaar maak, maar hulle webwerf is “tans” van lyn af. Ek vermoed hulle is besig om ‘n ou tannie te verneuk.

Die adres is:

Arcadia Home Shopping (Pty) Ltd

h/v Ou Paarl Weg en Okavango Weg

Brackenfell

7561

Reg Nr 1990/005437/07

Al wat ek tot dusver oor hulle uitgevind het, is dat baie mense klagtes oor hulle het. Dalk is hier iemand wat persoonlike kennis dra?

by elizac

BEDERF

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Ag, dan word ek hierdie naweek heerlik bederf terwyl my man en sy kollegas by die SAOU-kongres by Mpekweni Beach Resort is. En ek sit heerlik in die hotelkamer wat werklik op die strand is, en ek kyk na die lieflike blou see en die goue strand. (Komende van die Wes-Kaap het daardie liedjie van die “goue sand, waarop ons graag speel” my altyd vreeslik gepla, want die Wes-Kaapse strande is mos silwer; nie goud nie. Dus kon ek nie verstaan hoe hulle so opgewonde raak oor die goue sand nie.)

Kyk net bietjie hier:

Ons kamer is regs onder. Die foto het ek van hul webwerf afgelaai en dis ‘n bietjie deinserig, maar vandag is ‘n absolute Goddelike dag, met ‘n blou hemel en diepblou see en die goue sand.

Ons kamer is links onder op die strand. Die hotel se spitsdak steek bo uit. Dis waar die eetsaal en konferensiefasiliteite is. Die swembad is in die middel. Net jammer hulle het op die oomblik nie ‘n spa nie, anders was ek daar vir ‘n massering!

Ek geniet elke oomblik – selfs die hotelkos. Ek weet nie of hulle ‘n ander sjef het nie, maar gisteraand se kos was heerlik. Ek het net al die blikkieskos vermy – dis ‘n bietjie ver van die beskawing af, maar ek dink die boere in die omgewing voorsien van die vars produkte. Ook die poeding was heerlik: bruintjies (tog vir my so ‘n simpel woord, maar ek sal seker gewoond raak daaraan), creme caramel en gebakte gemmerpoeding. Die ander het soos tipiese hotelpoedings gelyk, maar hierdie was smaaklik verby.

Die hele omgewing maak my kreatief. Ek wil op die strand sit en skryf, of skilder. Ek wil ‘n lang ent gaan stap en met God praat. Ek wil ook hê Hy moet weet hoe dankbaar ek is vir ‘n ekstra jaar in my lewe, want verlede jaar hierdie tyd was ons ook hier. Dit was pas na my tweede chemo. Ek het geen hare gehad nie. Ek het soos ‘n spook gelyk met ‘n goedkoop pruik, en ek was angstig om met ander mense in aanraking te kom, want hulle kon my met hulle siektes aansteek. My arme man het hard probeer, maar niks was lekker nie.

Nou is ons weer hier. Dit is ‘n jaar later, en ek is ‘n ander mens. Op die oomblik verwys ek dikwels na “verlede jaar hierdie tyd”. Ek aanvaar dit sal ook verbygaan. Want eintlik vier ek die feit dat dit ‘n jaar later is. Ek sit dikwels met trane in my o? en dink aan die vrou wat ek verlede jaar hierdie tyd was. Ek wens ek kan vir haar sê dit gaan verby. Ek wens ek kan vir haar sê dat sy maar moet mislik voel wanneer sy mislik voel, en dat sy elke goeie oomblik moet geniet.

Ek wens ek kan dit vir almal sê. Op so ‘n manier dat hulle verstaan.

Halleluja! Ek gaan nou op daardie goue sand loop en my spore laat saam met die van die seemeeue en strandlopertjies.

by elizac

[email protected]

Mei 18, 2011 in Sonder kategorie

Vir almal wie se gedigte in [email protected] gepubliseer is! http://bestbooks.co.za/Noticeboard/92

Ek’s baie opgewonde oor my paar gediggies wat in die bundel(s) verskyn!

by elizac

VERKIESING

Mei 18, 2011 in Sonder kategorie

Ek is eintlik bietjie bang om hier te skryf vanaand. Omdat ek eintlik so ‘n bietjie wil skinder, en net so ‘n bietjie wil gal afgaan. Nee, dit gaan nie hier oor politiek nie, in elk geval nie politiek wat mense buite my werkskring sal van weet nie. En dit gaan definitief nie oor môre (later vandag) se munisipale verkiesings nie. Maar ek is vanaand hartseer en teleurgesteld. Omdat ek mos eintlik ‘n verskriklike positiewe mens is, en altyd die beste van mense verwag. En wanneer dit dan nie gebeur nie, is ek teleurgesteld.

Ek het vandag in ‘n verkiesing by die werk gestaan. Ja, dis ‘n redelike eienaardige situasie, maar die hoof van die departement word deur stemming verkies vir ‘n tydperk van vyf jaar. Dit is nie ‘n gewone pos nie.

Klaarblyklik is daar vooraf erg geskinder oor die meriete van die twee kandidate. So hoor ek toe deur die mondtelegram dat die feit dat ek ‘n Doktorsgraad het, glo teen my tel. Waarom, sal ek nou nie weet nie. Dit is tog ‘n akademiese instelling. (Die ander kandidaat het natuurlik net ‘n Meestersgraad.) Verder word die feit dat ek kanker gehad het, ook teen my gehou. Dit was seker een van die grootste teleurstellings: dat ‘n kollega, vir wie ek net die grootste agting en respek het, vir my bel om uit te vind of ek die stres sal kan hanteer, want ek het dan nou kanker gehad. En of ek sal kans sien om met die ander kandidaat saam te werk (hy kan ‘n emosionele kalant wees). Ek het geweier om hom te antwoord. Op daardie moment het ek ook besef dat ek sy stem verloor het. Want sy argument was: as ons vir jou stem, gooi daai man al sy speelgoed uit sy bed, en dit gaan vir jou stres veroorsaak. As ons vir hom stem, dan sal jy dit kan hanteer en dis minder stresvol vir jou.

Ek kan maar net my kop skud. Hoeveel dinge in hierdie lewe is meer stresvol as ‘n kankerdiagnose? Egskeiding? Daar was ek ook al, en ek het dit oorleef. Die dood van ‘n geliefde? Ditto. Ek sou dink dat hulle juis na my moet kyk en kan sien hoe ek lyk en optree en kan besef: joe, hierdie vrou is sterk! Sy is die beste kandidaat!

Maar nee, daar word ore uitgeleen aan allerhande stories, in plaas daarvan om objektief na die feite voor jou te kyk.

Dan is daar ook diegene wat vir ‘n spesifieke persoon stem, omdat dit dan daardie persoon se huidige posisie vakant sal laat. Wat weer vir hulle die geleentheid gee om moontlik daardie posisie te beklee. En wat dan nou ‘n paar ekstra sente in daardie persoon se sak sal laat val.

Of dit die moeite werd is? Ek weet nie. Ek het net vandag vir God gevra om die ander persoon te laat wen as Hy voel dat ek nie nou gereed is nie. En ek het nie gewen nie. Ek het met drie stemme verloor (dit sou net twee gewees het, maar een van my kollegas is – wederregtelik – nie toegelaat om te stem nie).

Ek weet nie wat God se plan met my is nie, maar dit is klaarblyklik nie ‘n leierskapposisie binne die instituut nie. Daarby moet ek berus.

Wat ek wel gaan doen, is om te fokus op die twee referate waarmee ek besig is, asook op my persoonlike skryfwerk. Die roman is uitgedink en moet nog op papier kom. Dis ‘n lekker storie (vir my, natuurlik!)

Intussen is die kinderverseboek gedruk en gereed vir verspreiding. Ek hoop om my kopieë hierdie week te ontvang. Ek hoor die illustrasies is ontsaglik mooi en sien uit daarna om die finale produk te sien.

Het iemand anders hier ook gedigte geskryf wat vir [email protected] aanvaar is? Die publikasiedatum is 13 Mei 2011!

by elizac

AG, IS EK NIE GELUKKIG NIE!

Mei 9, 2011 in Sonder kategorie

Joe, ek is darem eindeloos gelukkig! (En met die gelukkig bedoel ek nou soos in lucky). Totaal. Dis nou maar eers Maandag en het ek het reeds kennis gekry dat ek twee miljoen pond geërf het en ek is twee keer deur Mrs Elizabeth Morrison van Engeland gekontak om haar te help om haar man se erfenis aan die armes en die wese uit te deel. Foeitog, sy het terminale kanker en is in Maleisië vir behandeling. Dis nou die rede waarom sy nie self kan help om die erfenis uit te deel nie. Lees net hier:

Hello Friend,

Let me start by first introducing myself properly to you. It may surprise you receiving this mail from me, since there was no previous correspondence between us, my name is Mrs. Elizabeth Morrison from England I am a widow and a devoted Christian, since my husband died, Late Mr. Anderson McWilliams, I have been suffering from arthritics and lately doctors have diagnosed me with terminal cancer which left me with approximately twelve months to live.

I am currently in MALAYSIA for treatment and being looked after by a nurse. Before my husband died, he left some money to the tone of (Seven Million, Five hundred Thousand Dollars) and he made me promised him that it should be used for humanitarian work, please let me know if you are interested in helping me achieve the wish of my husband. I will give you further details upon response.

In His Arms.

Mrs. Elizabeth Morrison

Ag, kyk net hoe mooi: In His Arms. En dis ‘n massiewe bedrag: to the tone of seven million five hundred thousand Dollars. Dink net hoeveel arm studente kan ek met daardie geld help.

 

Miskien moet ek haar laat weet sy moet sommer vir behandeling hier na Suid-Afrika toe kom. Dis heeltemal goed genoeg hier, en moontlik selfs gelykstaande aan die Maleisiese behandeling. Dan kan ons twee hier ontmoet en kan sy die geldjie sommer self uitdeel terwyl sy behandeling kry.

 

Wonder net hoekom die Engelse tannie Dollars geërf het?

NS As ek nou vieslik was, kon ek gewens het dat hierdie persoon werklik kanker kry. Mens spot nie met siekte nie.

by elizac

BOEGOETEE EN KAT

Mei 6, 2011 in Sonder kategorie

Mmm, sluit ek nou vanaand my aand heerlik rustig af met ‘n koppie boegoetee en die kat op my skoot. Net soos die dag begin het. Het vanoggend opgestaan met die uitsluitlike gedagte dat ek vandag net gaan fokus op dit wat ek wil doen. Op my te doen lysie was die haasfoto’s vir die Caltex White Rabbit kompetisie (my geliefde se idee, maar ek moet die uitvoering doen), ‘n abstrak vir ons eie “internasionale navorsingskonferensie” in Augustus en ‘n kort toespraak wat ek môre by ‘n vrouetee moet doen.

Die haasfoto’s het nogal tyd geneem. Uit paranoia het ek dit onder die geliefde se naam geplaas, want ek wil regtig nie massas pos van Caltex af kry nie. Hier is my gunsteling:

Die oom maak pophuise daar by Zoar en ons het stilgehou om enetjie te koop vir die peetkind. En toe sommer die hasie laat poseer. Die oom het gedink dit is baie snaaks.

En dan natuurlik die wenfoto:

Ongelukkig dink ek die Caltexmense sal hierdie foto sensor.

En terwyl ek so besig is met die foto’s, dag ek: wil ek regtig aan twee kongresse deelneem hierdie jaar? Wil ek werklik daardie stres hê? Die antwoord is natuurlik nee. Toe besluit ek om nie die abstrak vir die kongres te skryf nie (dit moes vandag in wees). En direk daarna het ek weer van plan verander en wel die abstrak geskryf.

En ek het darem ook die toesprakie geskryf gekry. As deel van my plan, gaan ek ‘n pragtige antieke bordjie met ‘n hamer stukkend slaan. Ek verwag om baie geskokte uitroepe te kry!

by elizac

VINNIGE INLOER

Mei 4, 2011 in Sonder kategorie

Mmm, ek loer net vinnig in. Meimaand is heeltemal te besig (dis my Desember) en chaoties om al die gedagtes in my kop neer te pen. Wens hulle wil ‘n ding uitvind waar ek net op ‘n opnemertjie kan praat op pad werk toe en dan kan ek dit by my rekenaar inprop en dit laai die woorde af. Getik. Of is daar al so iets? Ek’s mos nou op die ouderdom waar ek nie meer kan byhou met al die nuwighede nie. My kop is net te vol.

So besig was ek tot dusver, dat ek nog glad nie by die biblioteek was nie. Ek, wat so twee boeke per week lees. Ek lees darem intussen aan Have a new husband by Friday van Dr Kevin Leman. En dan lees ek ook aan die skryfsels hier op die blogs. En wat die manne te sê het. So tussen Dr Leman en sommige van die blogmanne, wil-wil ek my net vererg. Waarom dink mans dis VROUE wat moet verander, maar dat mans nie kan verander nie? So ek moet aantrek sodat mans nie deur my verlei kan word nie. Bring die burkah! (Nie dat dit daardie vroue teen mishandeling en verkragting beskerm nie)

Wag, laat ek my tikvingers tot stilstand bring. Netnou sê ek iets wat kon gebly het. Mens moet altyd in gedagte hou: antwoord ‘n sot nie na sy sotheid nie.

Groetnis