Jy blaai in die argief vir 2011 April.

by elizac

AG SKAPE. VYF MANS. EEN SEDAN.

April 20, 2011 in Sonder kategorie

Nee, dis nie wat julle dink dit is nie. Lees bietjie hier:

http://www.dispatch.co.za/news/article/1091

Ek bly in ‘n interessante omgewing. Vreesaanjaend, maar interessant…

by elizac

ZOLADEX EN GOEIE NUUS

April 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek sit vanaand met ‘n reusepleister op my lyf. Dit was ‘n nuwe suster wat die inspuiting gedoen het om die pil onder my vel in te plant en gewoonlik sit hul geen pleister op na die tyd nie. Maar sy het dit goedgedink om een van daardie waterdigte pleisters op te plak. Ek kla nie. Ek sou net daarvan gehou het as hulle ‘n mooi prentjie op my die pleisters geplak het. Dalk een van Bruce Willis? Daai een waar hy so mooi omdraai met net die voorskoot aan in The Two of Us. Sal mens sommer blitsig laat beter voel.

Verder is my bloedtoetse normaal, behalwe dat my witbloedseltelling steeds laag is. Die onkoloog voel geen knoppe of abnormaliteite nie.

En dit is môre amptelik ‘n jaar sedert my eerste chemo. Wat seker beteken dat ek al meer as ‘n jaar hier blog. Het vanaand ‘n glasie of twee daarop geklink. Nuwe navorsing wys dat drank ‘n oorsaak is van kanker in mans, maar nie noodwendig in vroue nie. So: gesondheid!

by elizac

WANNEER DIE TYD VLIEG …

April 14, 2011 in Sonder kategorie

… moet ‘n mens mos pret hê, of hoe? Ek sien die mense hier in blogland is ook besig, maar hulle bly skryf. Sommige het selfs tyd om die pot te roer.

Gisteraand hoor ek op Pasehellaaaha hulle noem dit bloG, met die Afrikaanse G. Vreemd. Vreemder nog is die vrou wat soggens vieruur opstaan sodat sy so twee ure aan haar blog kan werk. Want sy werk voltyds, en dis al wanneer sy tyd het om aan haar blog te wy. Nou ek verstaan dat sy baie prentjies oplaai en resepte uittoets, maar twee ure per dag om te blog? Nee o giftig, ek weet nie wat se werk sy doen nie, maar hierdie vrou het nie krag om twee ure per dag aan blog af te staan nie. Sy’s in elk geval al klaar weer laat vir ‘n spertyd vir die uitgewers. Twintig bladsye teen Maandag, en ek het nog net gekyk wat ek moet doen en die dokument opgestel… Maar dis my eie skuld. Is al weer besig om te veel goed in een dag te probeer indruk, en dan is ek saans te moeg om nog te werk. Dan krap ek maar so hier en daar en luister televisie tussenin en krap die kat se kop.

Dinsdag was weer een van daardie prettige dae waar die tyd net eenvoudig weggeraak het. So haas ek my dorp toe, want ek moet 9:00 met toetsing begin vir die Wholesale en Retail Learnership (Nee, ek weet nie wat dit op Afrikaans is nie, maar ek is seker iemand sal my kan reghelp). Daar sal tien kandidate wees. Hulle moet ‘n vorm invul en daarna vir vyf-en-veertig minute ‘n toets skryf met ‘n klompie somme en taalvrae. Daar sal ook ‘n kort mondelinge toets wees, asook ‘n kort onderhoud. Alles behoort teen half 1 klaar te wees. Dit sal my dan genoeg tyd gee om 13:00 by my klas te wees.

Kom ek daar aan, en hier staan goed vyftien siele en wag. Dis kwart voor nege en ek dink: nie sleg nie. Ek sal vyftien kan hanteer. Die lokaal is ‘n bietjie knap, maar terwyl ek nou by ‘n voorheen benadeelde instituut werk, is ek bekend met plan B en plan C en plan D; dus sal ek dit kan doen. Net so ‘n paar fotostate maak en … o gits, hier is nog vyf siele. En nog vyf siele. En nog…

Meteens is die lokaal nie net knap nie, maar uiters benoud. Geen geloofwaardige toets kan onder hierdie omstandighede afgelê word nie. Ek gaan bel die baas, maar maak sommer self die uitvoerende besluite: leerders moet na ‘n groter lokaal skuif (en sommer self hul eie tafels en stoele dra), ek telefoneer ‘n kollega om te kom help en begin fotostate maak. Teen die tyd wat my kollega opdaag, is dit tienuur, en sit daar al 47 siele gereed om getoets te word. Almal is desperaat vir werk. Nie een het werk nie. En hulle ding almal mee om vyf posisies.

Daar daag nog twee op. Laat. Hoe wys ‘n mens hulle weg? Dalk is dit nou net die twee wat goed doen en wat potensiaal het. Hulle begin ook skryf. Ek maak fotostate van die tweede toets terwyl my kollega toesig hou. Hardloop tussen die fotostaatmasjien en die toetslokaal en kram papiere vas en organiseer. Dis mos hiervoor wat ek studeer het!

Half een is al die toetse klaar, en ek laat my arme kollega alleen agter om die onderhoude te voer. Terwyl ek my ander studente gaan ontmoet en ‘n uur en ‘n half lank met hulle Duitse uitspraak oefen, en die werkwoord verduidelik. Die studente is sommer flink na my preek van die vorige week. Toe ek vir hulle uitgelê het presies hoe gelukkig hulle is om ‘n plek op universiteit te hê en dit te kan bekostig (soort van) om daar te wees.

En daarna is dit direk na die ander kampus toe vir ‘n Engelse lesing oor interkulturele kommunikasie.

Te heerlik. Alles opgevolg met ‘n Zumbasessie by Kurwes.

 

Môre is dit bloedtoets, vergadering in die dorp, afspraak by die onkoloog, Zoladex-inspuiting, middagete by vriendin, hopelik ‘n sessie by Kurwes (aangesien ek 2,5kg opgetel het), werk aan ‘n hoofstuk, Franse klas. Iewers moet ek nog juweliersware klaarmaak vir Saterdag se mark.

Intussen vlieg die tyd. Ek kan nie glo dis al weer tyd vir my opvolgbesoek nie. Voel soos gister wat hulle nog die naalde in my lyf gedruk het…

by elizac

NEELS DIAMANT (2)

April 10, 2011 in Sonder kategorie

Net om te wys ek was regtig daar! En het ek gesê dat die sterre oor ons koppe gevlieg het?

by elizac

NEELS DIAMANT

April 10, 2011 in Sonder kategorie

So sak ek en die geliefde en ‘n vriendin hier af Pie Ie toe vir die Neels Diamant konsert. Ons neem foto’s met die vertrek, die koffie langs die pad, die arriveer… Ok niks gewoond nie. Bly mos in Oes-Lonnen. Maar dis lekker, en ons neem ons tyd met die driehonderd kilometer na die beskawing toe. Niks haastig nie; solank ons net so teen 6h gepoeier en gepoliesh op pad kan wees.

Die keer bly ons by Abel en Isabel van Zyl in hul Beachview Gastehuis – in Beachview, natuurlik (Kyk maar op www.wheretostay.co.za om hul besonderhede te kry!) Ongelooflike twee interessante mense. Isabel het verlede jaar ‘n hartaanval en ‘n beroerte gehad, alhoewel die spesialis nog die dag vantevore gesê het sy het die gestel van ‘n 17-jarige. Kort daarna is sy en Abel saam met die kinders Europa toe – sy in ‘n rolstoel. Sy sê sy voel ook soos ek: lus om partykeer net ‘n ietsie onwettigs te rook, want waarom het sy dan nou al die jare so gesond geleef? ‘n Mens kan ure by hul omkuier, en dit voel soos familie met wie jy goed oor die weg kom. En die stories wat hul kan vertel!

Ons sit toe ook in die Goue Sirkel. Waarom dit nou so Goud was, weet ek nie, want dit was net wit plastiekstoele op ‘n wit plastiekoppervlak wat bo-op die veld gepak was. Ek’t maar daai stoeltjies gereserveer, want ek het nie geweet hoe lyk die stadion of hoe ver jy van die verhoog sal af wees as jy op die paviljoene sit nie, maar dit was eintlik toe heeltemal goed. Die stadion kan 45000 mense neem; dus nie massief groot nie. Ek dink die meeste mense kon goed sien.

Ek en vriendin het net foto’s geneem. Links en regs. Van onsself, van ons saam, van die stadion, van die mense, van die groot televisieskerm met ‘n pragtige foto van Neels Diamant.

Ag, en daar begin die musiek, en toe die bas so deur my borsbeen dreun, toe weet ek: hier kom ‘n ding. En Neels stap op die verhoog, en ons gaan omtrent in ‘n beswyming in. Vir die eerste keer in my lewe kon ek verstaan hoe mense so meegevoer kan raak by evangelisasiedienste. Dis asof my hande vanself in die lug klim, en my bene kom vanself orent, en my lyf gaan aan die skud en roer met my lippe wat op maat van die woorde saamsing. Liewe hemel, ek staan daar met my hande uitgestrek na bo en dink: volgende Sondag in die kerk beter jy ook handjies lig, want hier kan jy dit doen vir Neels Diamant, maar jy’s te inkennig om dit vir Christus te doen? Ruk jou reg.

Maar wat ‘n belewenis. Ek kan vir niemand beskryf hoe dit werklik was nie. Daar sit ons onder die Here se ope hemel, met die sterretjies wat vonkel in die lug, en dit voel asof jy en die stadion wegsweef op ‘n surreële planeet met die musiek van jou drome wat om jou vloei. Neels open met Soolamon en daai dromme klink of hul in Afrika gemaak is. Ons sing Sweet Caroline dat die stadion verdwyn, ons luister na Shilo, Brother Love’s Travelling Salvation Show, Beatiful Noise, Cracklin’ Rosie, Solitary Man, I’m a believer, Red Red Wine... Dit voel totaal onwerklik om hierdie liedjies, waarmee ek amper grootgeword het, vir die eerste keer lewendig te kan hoor. Die beste van alles is dat die man se stem hom uiteindelik pas. Ja, dit verskil nie ‘n moment van sy vroeë liedjies nie. Vir my voel dit of sy lyf uiteindelik sy stem ingehaal het! Jy kon sien hy raak nou moeg, maar daardie stem! Ons het saam ge-Hallelujah op Holly Holy, gedans op Crunchy Granola Suite, en hy eindig – heeltemal te vroeg – met If I don’t see you again. En ons raak mal!

En Neels kom weer op die verhoog en hy sing. Uiteindelik sluit hy af met  I am … I said. Ai, ‘n roerende oomblik. En alles heeltemal te gou verby.

Maar laat ek nou vir julle een ding sê: hierdie ou tante het haar hart uitgedans en gesing en gehande-in-die-lug. Die lewe is kort. Wie sê Kerneels kom ooit weer Pie Ie toe?

by elizac

EK BEGRYP NIE

April 3, 2011 in Sonder kategorie

My studente vra my vroeër die jaar wat die verskil is tussen kennis en begrip. Terwyl ek vir hulle wag om self by ‘n verklaring uit te kom (ja, mens fasiliteer mos deesdae), dink ek: al wat ek vir julle op hierdie oomblik kan sê, is dat ek baie dinge weet, maar dat ek min dinge verstaan. Ek begryp nie. Ek weet nie waarom mense dinge doen wat hulle doen nie.

En ek is teleurgesteld. Verskriklik. Ek dink ek voel bietjie soos Anha hierdie week gedoen het. Ek’s ook lus om sekere van Anha se woordeskat te gebruik en dan daarna in trane uit te bars. Anha, sê daai woorde asseblief namens my. Ek dink ek gaan dalk ‘n ander blogpersona tydelik moet aanneem sodat ek kan sê wat ek wil sê. Netnou lees mense hier.

Een van my gawes is gasvryheid. Soveel so dat my man dikwels die mense moet keer om te kom kuier, anders brand ek myself uit. Hierdie laaste ruk was weer so ‘n tydperk: elke naweek iets aan die gang, en as dit nie een iets is nie, is dit twee, of selfs drie. Tussendeur besluit my familie ook om te kom kuier. Ek het nie vakansie nie, dit raak ‘n rowwe week by die werk met al daardie vergaderings – waar ‘n mens ‘n uur moet wag om te kyk of jy ‘n kworum kry – en studente-opdragte wat inkom en gemerk moet word en en en. Intussen moet ek ook my laaste sente spandeer op my laaste mediese rekeninge en daar kom nie ekstra in nie. As salaristrekker maak dit mos nie saak hoe hard jy werk nie; die inkomste bly dieselfde. Daar is ook ‘n deadline, wat genadiglik uitgestel is tot 18 April. ‘n Deadline vir werk wat hopelik oor ‘n jaar of twee sal betaal.

Ewentwel, ons gaste daag Woensdagaand op. Eers nog in ‘n toestand oor Vumile wat in die tuinwoonstel bly en wat TB het, en hoe kan hy die hek oopmaak? Hy gaan dan die kinders aansteek. Ek verduidelik mooi van hy is nie aansteeklik nie (anders sou ek hom mos nou nie daar laat bly het nie!) en los die dinge op my lys om huis toe te jaag en oop te maak vir die mense. Kan nie my Kurwes doen nie, want dis nog hospitaalbesoek ook om 7. Maar ek hoor sommer die ouers is gestres.

Ek en manlief speel te heerlik met die kinders. Nog peetkinders van ons, en te dierbaar vir woorde. Maar die ouers bly gestres.

Gisteraand los ons hulle alleen om na ‘n vriendin se verjaardagvieringe te gaan. En ons vier dit behoorlik: een glasie wyn vir die aand, maar ek dans met my vriendinne (manlief dans nie en hulle is geskei of enkellopend) en met my vriendin se ma, en met die eregas van die aand, en ons doen die buzz (!) en ons gesels en neem lawwe foto’s en maak dit ‘n aand van ‘n aand. Ons gaste bly by die huis, sit die hele tyd met hulle rekenaars aan en bly gestres.

Vanoggend raak ek wakker vir kerk, sit die wekker af, rol om en probeer verder slaap. Die geliefde kom maak my wakker: Kom ons gaan Twee Swane toe; wil jy saam? Eers wil ek nog lê, maar besef toe daar sal nie weer geslaap kan word nie. Staan op en eet ‘n broodjie saam met my peetkind. Ek sien die ouers hol deur die huis. Ek vra later: wat maak julle? Nee, ons pak. Ons het te veel werk om klaar te maak, en as ons nie werk nie, is daar nie ‘n inkomste nie. Hulle ry nou. Terug Noorde toe. Gestres.

Ek slaan net my hande saam. En hoekom is ek verbaas? En hoekom is ek teleurgesteld? Ek weet mos van vele vakansies wat hierdie einste ouers gehou het, waarna hul reikhalsend uitgesien het, en waar hulle binne drie of vier dae goed opgepak het om huis toe te gaan, want hulle het “te veel werk”. So waarom het ek gedink dit gaan hierdie keer anders wees? Omdat ek so wonderlik is? Omdat ek so ‘n fantastiese gasvrou is?

En nou moet ek bieg: ek begryp die mense nie. Volgens hulle het hul nie vakansie kom hou nie. Nou wat het hulle hier kom maak? Gedink ek en my man gaan kinders oppas terwyl hulle werk? Dink hulle regtig dat ons, omdat ons ‘n salaris verdien, meer tyd het as hulle? Dis dieselfde mense wat elke dag die kinders in die bed stop van 12-3, en dan saam met die kinders gaan slaap. Ek het nie daardie voorreg nie. Bowendien het ons nie nou vakansie nie.

Al die ander goed wat ek wil sê, sal ek nou maar vir myself hou. Ek ken nie al die feite nie.

Maar ek is verskriklik teleurgesteld dat ons peetkinders nou saam met die ouers huis toe is. Met hulle het ek geen probleme nie. Dis net dat die ouers so verskriklik gestres is.

NS Die kuiergaste sê daar sal wel ‘n volgende keer wees. Dit lyk my nie hulle het die realiteit van die situasie al besef nie. Daar is nie “volgende kere” nie. Daar is net vandag. Ek het geen waarborg dat ek volgende jaar hierdie tyd gesond sal wees nie. Ek het geen waarborg dat hulle volgende jaar hierdie tyd gesond sal wees nie. Al wat ek weet, is dat ons die beste met vandag moet maak. Dit help ook met die stres.