Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

by elizac

ONGEDURIG

Maart 29, 2011 in Sonder kategorie

Ek’s op die oomblik redelik ongedurig. Omgekrap. Sommer skuinsweg beneuk. En hoekom? Omdat ek Donderdag ‘n vergadering in die liewe Butterworth moet gaan bywoon. ‘n Vergadering wat 10:00 die oggend begin en eers teen 16:00 klaarmaak, as ons gelukkig is. Dan is dit nog die tyd op die pad soontoe en die tyd op die pad terug.

Ons weet mos nou ook al teen die tyd presies wat op hierdie vergaderings gebeur. En ek is deesdae nie baie geneë om te sit en tyd mors terwyl ek iets anders kan doen wat waarde toevoeg tot my lewe nie. Donderdag sal ek ook nie soos gewoonlik kan wegglip nie, want ek moet verslag lewer namens die eks-voorsitter van ons een komitee. Want ek is nou die nuwe voorsitter, en hy kan nie die vergadering bywoon nie.

Dit maak ook nie saak hoeveel keer ek vir myself sê: geniet net die oomblik! Konsentreer op nou! nie, Donderdag bly inmeng in my sielsvrede. Heeltemal onnodig.

Asof ek nou nie vandag al klaar ‘n vergadering agter die blad het nie. En studente wat nie opdaag vir hul klas nie, want hul wag vir my om hul te bel. Hallooooooo? Ekskuuuuuuus? Van wanneer af bel die dosente die studente om op te daag vir klas? Ek het bloot jou nommer geneem om te bel indien daar probleme is. Soos wanneer die studente toyi-toyi en ek wil uitvind wat aangaan (ja, dis ‘n ander wêreld die). 40 minute het ek vandag gewag. En dis nou nie asof ek Duits gepraat het nie; nee, ons het die saak op Engels uitgeklaar: Dinsdag om 13:00 klas.

Die antie se lont is besig om kort te raak.

Toe sit ek netnou die videospeler aan om my daaglikse dosis dr Phil te kyk. Sien al die hele dag daarna uit om vanaand, wanneer ek tot rus kan kom, oor ‘n koppie tee saam met die geagte doktor te kuier. Maar nee, die SAUK het dit goedgedink om weer eens, soos gister, ‘n ou episode uit te saai. Sonder verduideliking.

EK IS DUS AL VYF DAE SONDER DR PHIL!

NS Ek moet darem sê: daar is ook van my verwag om vandag en môre in Mthatha te vergader. Ek het nee gesê. Sekere goed is nie verpligtend nie, en dit lewer geen bydrae tot my lewe nie. Jammer, ek moes hospitaalbesoek doen. Dit is veel belangriker as ‘n vergadering wat hoogs waarskynlik nie ‘n kworum gaan hê nie. Ek sou ook dink dat my klasse heelwat belangriker is as vergaderings.

Mmmmm, wonder of iemand my nou by my werkgewer sal gaan aankla?

by elizac

RELAY FOR LIFE – OOS-LONDEN

Maart 27, 2011 in Sonder kategorie

Dit was gister Relay for Life in die Jan Smuts stadion hier in Oos-Londen. My eerste. Ek onthou verlede jaar het ons ‘n kunsmark in die skool naby die stadion bygewoon en my keel het nog so toegetrek, want ek het besef: daai Cansa is nou deel van jou lewe ook. Toe was dit ook gister. Ek wou net saam met ander Survivors wees en hulle stories hoor. So dikwels moet ‘n mens hoor hoe die en die dit toe nie gemaak het nie. Wat moet ek met daardie inligting maak? Om dood te gaan, is deel van die lewe, en ek is baie bewus daarvan. Vertel my dus liewer die opbeurende stories.

Ewentwil, ons het seker so half 5 daar opgedaag en ek moes registreer. Het ‘n band gekry met “Survivor” daarop geskryf en die is om my lyf gedrapeer. Soos vir ‘n skoonheidskoningin. Daarna moes ons ons name op ‘n doek teken. Ons het ook ‘n pienk sak gekry met allerhande goedjies in, van seep en tandepasta tot sjokolade. En toe is ek en die geliefde die Survivor’s tent binne, waar ons by ‘n vreemde vrou en haar man gaan sit het. Meer omdat die luide country musiek aan die oorkant was. Dit was egter goed, want sy het vyftien jaar terug borskanker gehad en sy oorleef al vyftien jaar. Dit laat my beter voel.

Ons klomp Survivors het die baan geopen deur een keer om die baan te stap. Dit was nogal vreemd: ons het omgestap en die omstanders het vir ons hande geklap. Ek weet nie eintlik hoekom nie. Dis mos nie ‘n prestasie nie? Dis vir my meer ‘n kwessie van dis nou soos dit is. Of is hulle maar net bly dis nie hulle nie? Of bewonder mense ons omdat ons ‘n doodsvonnis oorleef het? Ek weet nie. Dalk is ek net sinies.

Ek’t vir Helen gesien. Sy sê die goggas is terug, en hulle moet Woensdag besluit wat nou verder.

Ek’t vir Ronnie gesien. Haar toetse is normaal.

Ek’t vir Irene gesien. Sy sit nou in ‘n rolstoel.

En ander mense, van onkologie, van die tandarts, van Pathcare. Weet nie hoe sommige van hulle my herken het nie, want ek het my pienk pruik opgehad, maar hulle het wel!

Rondom die baan het kerse in sakkies gebrand ter ere van diegene wat dit nie gemaak het nie, of wel.

Ek het ook ‘n kersie laat aansteek vir my tante, wat drie jaar gelede na dertig jaar uiteindelik die stryd verloor het. Sy bly vir my ‘n inspirasie. Soms wens ek net sy was daar, sodat ek vir haar kan vra: hoe het jy dit hanteer? Help my net hier ‘n bietjie.

Klaarblyklik maak Cansa ‘n klomp geld met die Relay for Life. Ek’s bly daaroor.

En ek’s bly vir my man wat die geleentheid saam met my bygewoon het, en wat die laaste 100m saam met my gestap het. En bly vir my vriendin wat agtergebly het om te sien hoe ons om die baan stap. Om ons te ondersteun.

NS Ons het direk vanaf Relay for Life na Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo gegaan. Briljante vertoning, ten spyte van die probleme met die mikrofoon en ‘n vlermuis in die saal.

by elizac

HALLELUJA!

Maart 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek skryf die pos met gemengde gevoelens. Want ek weet nie of ek moet skuldig voel nie. En ek het so ‘n bietjie vergeet, soos Heksie sou gesê het, om nog ‘n item by my vorige lysie te voeg. My chemobrein is regtig baie erg. Ek hoop dis ‘n aanduiding daarvan dat my brein besig is om te herstel. Want dit is vandag, amptelik. ses maande na my laaste chemo. Halleluja!

Maar om tot die punt te kom: ek merk die afgelope ruk op daar is baie stof op my lessenaar in my kantoor. Die skoonmaakdame sê vir my sy het my kantoorsleutel verloor en sy kan nie skoonmaak nie. So elke dan en wan haak ek haar nader en sê: kom maak skoon, asseblief. Maar ek let op sy’t klaar skoongemaak en ‘n halfuur later is daar weer stof. So ‘n snaakse stof wat uit die dak neersif. Ek dag eers dis die plafonborde wat so maak, maar toe kom my brein by: daar is gevleuldes wat op die plafon woon – ek hoor hulle stap – en dis waarskynlik hulle wat die stof veroorsaak. Met die gevolg dat ek toe van toe af skaars by my kantoor kan inkom voordat ek begin krap. Want ek is oortuig daarvan dat allerhande mikroskopiese gediertetjies ook saam met die stof op my val. Laat weet die regmaakmense hier’s fout. Stap self na hul kantore toe en praat mooi vriendelik. Hulle stuur nou-nou iemand.

Niks gebeur nie.

Sê die sekretaresse sy’t al verlede jaar vir hulle laat weet daar is fout, maar hulle het nog niks daaraan gedoen nie. Sy’t maar intussen uit haar kantoor getrek. En ek dog sy’t uitgetrek, omdat sy meer plek soek!

Skryf ‘n e-pos en pos dit aan die persoon in beheer, plus die persone in beheer van die persoon in beheer. Laat weet hulle daardie stof is gevaarlik vir ons gesondheid en dit kan tot longprobleme lei.

Ek kry ‘n e-pos terug om my te laat weet hulle het Vrydag ‘n “service provider” ingehad om ‘n kwotasie te gee en nou wag hulle vir die kwotasie. My moed sak in my skoene, want nou sal die “procurement process” eers gevolg moet word. Hopelik het ek ‘n stofvrye werksomgewing teen 2013. Intussen sal ek seker in die kafeteria moet gaan sit en werk.

Ry ek netnou die 35km kantoor toe. Met die instap merk ek duifvere op die grond. En toe ek by my kantoor kom, staan daar ‘n leer.

Halleluja! Duifies is verwyder! Hoe dit gebeur het, weet ek nie, maar ek dink daai e-pos oor die stoflonge het hulle aandag gekry.

Nou voel ek bietjie skuldig, want ek het die aardbewing en tsoenami in die duifies se lewens veroorsaak. Hulle sit verdwaas op die dakke rond en lyk selfs bietjie verbaas. Ek weet nie of hulle kindertjies in die proses verloor het nie.

Ek sou seker skuldiger gevoel het as dit swaeltjies was, maar ek sou nie oor swaeltjies gekla het nie. Ten minste vat hulle winters die pad. Duiwe sal vir ewig sit. En my verbeelding werk in elk geval oortyd. Kan julle jul voorstel wat hier op die plafon bo my kop aangegaan het?

NS My kantoordeur was oop toe ek hier aankom. Vra ek die sekretaris: wie’t die deur vir hulle oopgemaak? Nee, sê hy, die skoonmaakdame het vir hom gevra om oop te sluit. Ekskuuuuuuus? Hier vertel sy my nou al ses maande lank dat sy nie ‘n sleutel in die hande kan kry nie!

by elizac

SOMS IS DIE LEWE NIE REGVERDIG NIE

Maart 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek sit weer eens hier met massas stories in my kop, maar daar is eintlik nie tyd om dit uit te skryf nie. Ek sit en spartel met akademiese skryfwerk wat binnekort presies 24 uur laat gaan wees.

Maar die afgelope tyd het die volgende gebeur:

  • voetewas by die chemokamer. Ek ontmoet ‘n 31-jarige vrou wat ‘n linkerborsmastektomie gehad het. Haar man wil by my weet wanneer ek dink hulle weer “relations” kan hê. Hy’t natuurlik nie geweet wie ek is nie, en dat, as hy reguit wil hê, gaan hy reguit kry. Toe het ek hom gesê hy sal maar aan DIY moet dink, want sy vrou se gesondheid is nou belangriker as enigiets anders. En hy moet wag tot sy reg is, en hy sal sy tegniek moet verander om by haar aan te pas.
  • Ek ontmoet ‘n 52-jarige vrou wat in ‘n toestand van angs is oor haar kankerdiagnose. Ons huil in mekaar se arms.
  • Ek kan nie slaap nie weens tandpyn. Met visies van honderde gate en tande wat uitval, gaan ek na my wonderlike tandarts. Deesdae het alle dokters tyd vir my. Ek kry ook afspraak by mondhigiënis. R1500 later moet ek nog gaan antibiotika kry vir die abses. My eerste abses van my lewe.
  • Aardbewing in Japan. Tsoenami en verwoesting.
  • Ek moet duiwe-uitskeiding (by gebrek aan ‘n polietse woord) oorsteek om by my een klas uit te kom. Klaarblyklik is dit aanvaarbaar dat ‘n plafon nou al drie jaar lank stukkend is en dat die duiwe, wat op die dak nesgemaak het, nou sommer ook binne die gebou sit en julle-weet-wat. Ek gee klas onder die gekoer van duifies. Te oulik.
  • Ek moet die liggaam van ‘n dooie duif uit my klas verwyder. Het nogal gewonder wat so vreemd ruik, maar die lugverkoeling aangesit (een klas met lugverkoeling!) en voortgegaan. Net gesien die studente gaan sit, staan op en gaan sit elders anders. Tot hulle vir my sê: there’s a dead bird under the table, Doc! Toe verwyder ek die oorledene, met my studente wat in skok na hulle asems snak. As lewensles voeg ek hulle toe: There are worse things in life than a dead bird, ladies and gentlemen.
  • Ek moet die geliefde van ‘n geliefde na die dokter neem. Hy’s al vyf weke siek. Die kliniek sê dis nie Vigs nie en dis nie TB nie. Die dokter laat ons sit, doen ‘n ondersoek en sê: julle sal die moontlikheid dat dit wel Vigs is, moet oorweeg. Die man het definitief TB. TB kom van ‘n verkeerde lewensstyl, soos te veel rook en te veel drink. Die man rook en drink nie, maar daar is iets wat hy wel doen, en hy het die kind om dit te bewys. Teen die tyd wat ek vodde by die huis kom, rol daar woorde oor my lippe wat ‘n Christenmens nie moet ken nie.
  • Vrydagoggend is dit ons en Ampath en die ELISA-toets. Vinnig verby, maar toe kom die wag.
  • ‘n Man kom bedel by my. Hy’s honger, seg hy. En hy het nege kinders om te voed. Nege! antwoord ek. Kon jy nie iewers net stop nie? Ek druk hom ‘n paar rand in die hand. Gaan koop vir jou drank, sê ek. Dankie! sê hy. Ek dink nie hy’t my Engels verstaan nie. Dalk het ek te vinnig gepraat.
  • Ons woon ‘n togapartytjie by. Klaarblyklik is dit ‘n ding wat die Engels baie doen. Op universiteit en so. Wonderlike jazz en heerlike kos. Gelukkig hoef ons nie tot die einde te bly nie en kan ons loop voordat die klere begin waai. Ek mag in die versoeking gekom het en my sari-toga (ek doen nie wit nie) laat sak het. En dan het ‘n hele klompie mense hul dalk nugter geskrik.
  • Nog ‘n voetewas by die chemokamer. Die keer is daar darem meer positiewe energie. Ons huil saam, lag saam en praat oor die verskriklike smart in die wêreld. Ons kan niks doen aan die pyn en lyding van die mense in Japan nie, maar ons kan dalk, net dalk, iets probeer doen aan die pyn en lyding in ons onmiddellike omgewing. Ek het die laaste ruk weer eens besef hoe uitgelewer ‘n mens is as jy nie geld het nie. En dan gebeur al die verkeerde dinge mos op een slag: jou kind raak siek, jou man raak siek, jou broer kry nie sy salaris nie, die taxigeld gaan op. Dan moet jy maar regkom, al gaan dit swaar. Dis bitter onregverdig.
  • Die kat ontwikkel ‘n kol op die oog. R460 later en ek moet drie keer ‘n dag vir kattie vang en salf in haar oë sit. Het julle al ‘n kat probeer vang? ‘n Makke? Het julle al ‘n wilde kat, soos myne, probeer vang? En dit om salf in die oë te sit? En dit nogal drie keer! Ek het nog net drie keer salf in haar oë gesit, en alreeds vermy die kat my soos die pes.
  • Ek gaan spreek die tandarts. Weer eens. Twee van my tande moet waai. Klaarblyklik het die chemo die wortelkanaaltande aangetas. Ek sommer dadelik in trane, want dis mos nie my skuld dat ek moes chemo kry nie! Dis mos nie regverdig nie! En ek lyk al klaar so angswekkend met die dun hare en die yl wenkbroue en die afwesige wimpers en die baard op my ken – hoe sal ek nou lyk met gate in die mond? Een moontlik voordeel kan wees dat ons my kan uitverhuur as die ongelooflike haarlose, tandlose, bebaarde vrou.
  • Die studente staak. Al weer. Soos wat ek hier sit en skryf, weet ek nie of my Ingelse klas vanmiddag gaan studente hê nie. En ek moet 35km ry om dit uit te vind. Die Duitse klas het nie plaasgevind nie. Ek en my studente sou 13:00 ontmoet het, maar klaarblyklik was die kampus geblokkeer en die polisie op die toneel.

Teen die einde van verlede week het ek ietwat vuisvoos gevoel. Selfs my aweregse sin vir humor het begin padvat. Toe die tandarts vandag vir my sê hy was so bly om my te sien, want ek het so ‘n borrelende persoonlikheid, kon ek net lag. Ek het my fizz verloor.

Maar Sabo God is great, soos Karen Blixen se huisbediende altyd gesê het. Vandag het ons gehoor dat die geliefde se geliefde nie Vigs het nie. Dat hy negatief is. Dat hy wel TB het, maar dat dit oneindig meer behandelbaar is.

En ons huis staan nog op sy fondamente, en ons het nog water en ligte, en ons het nog ‘n kossie in die yskas, en petrol in die kar, en ons het nog vriende en familie wat by ons staan.

En dit alles dra ons deur hierdie onregverdigheid.

by elizac

TOGAS

Maart 12, 2011 in Sonder kategorie

Een probleem wat ek op die oomblik het, is dat ek moeilik nee sê vir iets wat prettig mag wees. So het ons toe ja gesê vir ‘n kollega se vyftigste verjaardagvieringe vanaand. Probleem is, dis ‘n togapartytjie. Togapartytjie? En moet nou nie dink die Engelse toga is net so maklik soos die Afrikaanse toga nie. Nee, ek moet soos ‘n Griekse godin lyk; nie soos ‘n Griekse professor nie. So daai roete is uit. En soos dit nou maar gaan met my en die geliefde is snaaks aantrek vir partytjies nie baie hoog op ons agendas nie. Ons het vandag eers ‘n draai by die mark gemaak, die stoep afgepak en weer volgepak, en in die tuin gewoel. Niks getoga nie. Tot ek netnou se kant onthou ek moet nog probeer toga maak. En ons sit sonder haakspelde en wat nou.

Toe google ek gou “How to make a toga” en dink dalk is daar iets. Dalk?!? Hoor net hier:

“Have you been invited to a toga party and are worried that you have nothing to wear? Are you off on a cruise where you know there will be toga evenings? Do you attend college or are about to go to college where there will be toga parties every weekend? Then visit howtomakeatoga.blogspot.com”.

Klaarblyklik is daar meer mense wat die behoefte het om togas aanmekaar te slaan vir partytjies. Ek vind dit nogal vreemd.

Verder weet ek nie of dit ‘n goeie idee is om ‘n klomp mense in hul veertigs en vyftigs bymekaar te gooi met togas aan nie. Veral nie as sommige van hulle jou kollegas is nie. Ons vrouens werk hard om ons engelvlerke te verdien, maar dit lyk nie altyd baie seksie om hulle te ontbloot nie. Nie as jy koebaai waai nie, en ook nie in ‘n toga nie.

Ek gaan nou maar my sari uitpluk en om my lyf draai. Togastyl. Manlief sal met ‘n laken tevrede moet wees.

Intussen moet ek gou haakspelde gaan koop by die Superspaar om die draai.

by elizac

VAN VERLIES EN VAN FEESVIER

Maart 9, 2011 in Sonder kategorie

Vandag, presies ‘n jaar terug, om sesuur die oggend, het ‘n bang en moeë vrou die Beaconbaai Life Hospitaal binnegeloop. Bang was sy, want sy was op pad na haar mastektomie. Vrywilliglik, sonder dat iemand haar soontoe moes sleep. Moeg, want sy het sedert haar diagnose ‘n week vantevore omtrent nie geslaap nie.

Wat sy toe nog nie geweet het nie, is dat sy geen waarborge gaan kry nie. Al wat sy toe gehad het, en al wat sy vandag nog het, is haar man se hand om vas te hou en hierdie woorde: Ps 103:3 Hy vergewe al jou sondes en genees al jou siektes.

Ek dink baie terug aan daardie vrou, en ek dink aan die pad wat ek gestap het. My nabyvriendinne sê ek het verander. Kennisse sê: ag, jy is nog soos altyd, en bedoel dit as ‘n kompliment. Hulle weet daar het hierdie “ding” met my gebeur, maar hulle weet nie of hulle dit by die naam moet noem en of hulle daaroor mag praat nie. Wat hulle nie weet nie, is dat hierdie “ding” ‘n mens se lewe oorneem en dat daar ‘n tyd in jou lewe is waar niks anders bestaan nie. En bewaar my dat ek deur hierdie leerkurwe moes gaan, maar dat ek dieselfde mense anderkant uitkom. Dan was dit duur skoolgeld vir niks.

So vandag vier ek die verlies van my linkerbors. Verlies? Voel ietwat vreemd, want “verlies” impliseer, volgens die woordeboek, “kwytraking”, “dit wat verlore gegaan het”, of, as werkwoord: “ongemerk laat wegval”, “kwyt raak”. Asof daar so ‘n ongeërgde, argelose wegraak van my linkerbors was, soos ‘n sonbril wat ek neergesit het en daar vergeet het. Asof ek net een oggend wakker geraak het en besef het: haai, my bors is weg! Wonder wat het van haar geword?

Ek vier ook my nuwe lewe. Die een wat ek nie wou gehad het nie. Die een met die plastiekbors en die min wimpers, maar ook die een wat ek tree vir tree uitgekap het. Met die hulp van vriende en familie en man en dokters en verpleegsters en ondersteuners en engele en God. Die een waaraan ek steeds werk.

So vandag het ons kerse aangesteek, ek en my man. Regop kerse wat flikker teen die donker in. Met dankbaarheid en feesvier in ons harte.

by elizac

AS…

Maart 8, 2011 in Sonder kategorie

… dit nou nie vir die ontsaglike hitte was nie (31 grade met hoë humiditeit, en ja, ek weet dis erger op Upington, maar 48 grade op Upington is gelyk aan 31 grade in Oos-Londen), en as dit nou nie was vir die feit dat ons huisbestuurder (weer eens) nie vandag opgedaag het nie (sy kom twee keer ‘n week na ons toe, maar sy was meer as ‘n week laas hier…), en as dit nou nie was dat ek verskriklik tandpyn het nie, sou ek vandag iets ongelooflik betekenisvols kon skryf. Iets wat die wêreld soos ons dit ken, kan verander. Iets wat mense se gesindhede teenoor mekaar sou kon laat verander. Iets wat sou veroorsaak het dat die wêreld vir ewig in vrede sou kon leef; dat mense nie oor allerhande onsin met mekaar baklei nie en wat sou maak dat ons elkeen elke dag van ons lewe in vreugde leef.

Maar nou kry ek te warm.

En die huis is te deurmekaar. Daar moet skoongemaak word en klere gewas word.

En ek moet nog iewers werk toe gaan. Na my tandartsafspraak.

En ek moet ‘n hoofstuk skryf vir ‘n boek.

En ek dryf op ‘n wolkie van pynpille. Met fisiese pyn wat seker beter sal wees na die besoek aan die tandarts, maar finansiële pyn wat drievoudig toegeneem het, weens die kontantbetaling direk daarna.

Werklikwaar. Dat wêreldvrede nou deur sulke beuselagtighede gekortwiek moet word.

NS Elke pyn wat ‘n mens kry, is mos moeilikheid. Gelukkig werk denial goed…

by elizac

K

Maart 6, 2011 in Sonder kategorie

Ek moes nou eers sit en dink: sal ek, of sal ek nie? En toe weer: maar dis my kinders van wie gepraat word! Dis my studente! As ek stilbly, lyk ek of ek saamstem.

Dus moet ek nou vra: is dit net ek wat die gebruik van die k-woord in ‘n sekere pos van vandag aanstootlik gevind het?

Ek gee werklik nie om in watter konteks dit gebruik is of gebruik word nie. Dis myns insiens ‘n onaanvaarbare woord om in enige geselskap te gebruik. Dis beledigend teenoor my kinders. En dalk dink jy nie so daaroor nie, maar ‘n bietjie sensitiwiteit kan nie verkeerd wees nie.

by elizac

SHAVATHON (2)

Maart 5, 2011 in Sonder kategorie

My bewys:

Julle kan ook duidelik sien waarom ek nie wou laat skeer nie! Dit groei darem nou al amper ses maande net om hierdie lengte te bereik!

by elizac

SHAVATHON 2011

Maart 4, 2011 in Sonder kategorie

Het julle al jul hare laat spuit of skeer? Toe-toe-toe, almal wat so simpatie kan aanbied: nou is jou kans om daad by die woord te voeg! Anha, Maankind, Jurnalus, Wynvlieg, Modderkoekie, al die Elizabeths, Marykes, Lady Bugs, Boetas, Sussas en ja, selfs die trolle, ek soek bewyse! Hier is nou jou kans om ‘n nuwe haarstyl of alternatiewe kleur te beproef! En dink net: dis alles vir ‘n goeie doel – dis jou kans om jouself beter te laat voel!

Kom nou, my hare is rooi, geel. pienk, oranje, groen… Jammer, maar ek het nie kans gesien om (weer) al my hare te verloor nie!