Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

by elizac

LOS SONDAGGEDAGTES

Februarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Mmm, sit ek nou vanmiddag vir ‘n slag en maak my yahoo e-pos oop. Daar kry ek allerhande boodskappe van die blog administrator. Mense wat vir my boodskappe stuur. Mense wat reageer op my kommentare. En so aan. Sit en lees ek eers deur al die kommentare (verstommend wat mens alles kan doen as jou eetkamer soos ‘n varkhok lyk en krale die hele vloer vol rol en jou Duitse lêers moet gelê word en jy’t nog nie jou Franse huiswerk gedoen nie) en lag vir wat mense skryf en blaai vorentoe en agtertoe deur mense se skrywes. Te lekker. En soos ek lees, rol die gedagtes bont deur my kop. Ek moet ‘n stukkie skryf vir ons kerkblad. Lus om net te sit en klets oppie blogs. Klomp idees.

Oor Monopoly. Oor die markdag gister. Oor kreatiwiteit. En oor die mense wat so baklei met mekaar, al ken hul mekaar glad nie.

Nou’t ‘n klomp mense hulle blogs uitgewis, en nou sal ek nooit weet wat hulle volledige kommentare op my kommentare was nie. Ai tog. Ek verstaan regtig nie hoekom die mense so ontstig raak nie. As iemand iets sê of skryf wat jou ontstig, hou verby. Of lees bo-oor. Dis hulle saak. Om die een of ander rede is almal in Suid-Afrika mos onderwysers: ons moet gedurig vir almal op hul foute wys. En ons vergeet dat elkeen op sy/haar eie tyd leer. Teen ‘n pas wat hulle pas.

So sit ek vanoggend in die kerk. Stigtelik NG, met ‘n lekker orkes wat speel, en ons hef ons hande na bo en sing halleluja. Voor my sit ‘n tiener in ‘n kortbroek. So ‘n wittetjie. En ‘n spaghettibandjietoppie aan. Met sandale. Nou kyk, 26 grade in ooslonnen is warm, veral met die humiditeit saam, en dit is ‘n stranddorp, maar ‘n kortbroek kerk toe? En dan praat ek nie eens van ‘n kniebroek nie – nee, ‘n kort kortbroek. En pappie staan neffens en dit pla hom klaarblyklik nie. Al die oordeelliggies in my kop gaan aan: hoe kan die ouers dit toelaat? Dan is dit nog die spaghettibandjies sonder ‘n stigtelike dingetjie bo-oor… Waar is die respek?

Toe moet ek myself tot halt roep. Vir die kind is dit reg so. Sy’t miskien so grootgeword. Dalk dink sy later anders.

Intussen is dit nie my plek om te beslis oor ‘n kortbroek in die kerk nie. Die Here sien ons harte. Hoekom sal ek nou aanstoot neem as Hy dit nie doen nie?

Dit bring my by my gedagte vir die dag:

AS EK NIE AANSTOOT NEEM NIE, KAN NIEMAND AANSTOOT GEE NIE.

Sela.

by elizac

BIERIEFMINT

Februarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Hier in die Oos-Kaap kan ons nogal lekker bierief. Sommer die hele naweek lank. En dis omtrent ‘n industrie: daar moet tafels en stoele en tente gehuur word, en dan mamas wat kos kook, en sommer ‘n paar ekstra toilette, en iemand om die voertuie op te pas (of te rangeer). Kort-kort gebeur dit dat ek by die huis kom, en dan is my geliefde ook tuis. Dan vra ek maar wat gaan vandag aan. Nee, ons bierief. Dan ruk die hele kantoor op na waar die bieriefmint dan nou ook al plaasvind, en daar word geen werk gedoen nie. ‘n Tydjie later kom daar ‘n briefie om vir donasies vir so-en-so se antie se skoonma se broer se begrafnis, en dan moet daar uitgedeel word. En dan nog ‘n tydjie later is dit tyd vir die begrafnis en dan kom die hele kantoor weer tot stilstand, want almal moet gaan begrafnis hou.

By my werk gaan dit net so. Omtrent elke week is daar ‘n e-pos van hierdie student wat ons skielik ontval het, of Bongi Baso wat in Mthatha werk wie se broer skielik dood is, of na ‘n lang siekbed, of wat nou ook al die geval is. En dan word daar eers ‘n diens gehou op die toepaslike kampus en vervoer na die bieriefmint georganiseer. Daarna is dit die kollektebrief, en dan nog later weer eens die vervoer wat georganiseer word om na die begrafnis te gaan. So kan ‘n mens in een week tien e-posse kry net om die reëlings van een bieriefmint te organiseer en te bevestig.

Ons bure oorkant die pad, die Jongolos, het vandag gebierief. Hulle het al drie dae terug begin om saans boomtakke af te saag, tot my geliefde se ergernis. Daai gezoem van ‘n boomkerwer dryf hom tot raserny. Gister het hulle toe die wit tent in die voortuin opgeslaan met twee plastiektoilette op die sypaadjie. En vanoggend, toe ek so net na sewe mark toe ry, was die eerste voertuie al op die sypaadjie. Teen die tyd wat ek teruggekom het, het ons hele straat gelyk soos ‘n supermarkparkeerterrein, en die begrafnisgangers, of die bieriewers, want ‘n begrafnis en ‘n bieriefmint is nie noodwendig dieselfde nie, het in ‘n tou gestaan om by die hek ingelaat te word. Nou weet ek nie of hulle kaartjies moes ingee nie, maar ons is mos nou nie genooi nie. En gewoonlik laat weet hulle vir ons as daar ‘n groot partytjie gehou gaan word (anders as ons ander bure wat doodeenvoudig net partytjie tot die oggendure).

Ek was nogal angstig oor die bieriefmint wat so op ons voorstoep plaasvind, want dit kan ‘n lawaaiery afgee, en veral ook toe daai groot karre so knap teen ons inrit begin parkeer. Maar dinge het heel stigtelik afgeloop. Teen vanmiddag sesuur was hier nog net ‘n paar voertuie oor in die straat. Die ergste lawaai was die deure wat toegeklap het, en ‘n alarm of twee wat afgegaan het.

Nou’s daar nog net ‘n klompie bierbottels oor in die straat. My man sal die later sommer oor hulle tuinmuur gaan gooi…

Viva vir die Jongolos en hulle gaste.

Jare gelede, toe ek nog vars in die Oos-Kaap was, gee ek vir een van my kollegas ‘n “hike” ( ‘n “lift” het daardie tyd nie bestaan nie). So is ek mos nou ‘n vriendelike persoon en ek vra mooi vrae oor die familie. Waar’s jou pa en waar bly jy en so aan. Nee, pappie klink na ‘n man wat hoog op is in die politiek en sy bly op daardie plek in haar eie huisie. En jou ma? Nee, seg sy, my mother is late. Nou woer die ratte in my kop eers, want hoekom sal sy nou vir my vertel dat haar ma laat is? Wat het dit nou met die gesprek te doen? Tot sy sê: She passed away two years ago. Toe kliek ek: moeder is nie laat nie, maar sy is laat. Her late mother, met ander woorde.

Nou praat ons ook al so. Sê vandag vir ‘n vriendin ons bure bierief. Antwoord sy: somebody is probably late. Ja, baie!

by elizac

7e TRAAN (VERVOLG)

Februarie 18, 2011 in Sonder kategorie

Ja, ja, ek kyk nog altyd 7e Traan. So met rukke en stote. Sodra Gita en haar broer verskyn, gaan doen ek eers iets anders.

Maar hoe’s hierdie vir ‘n goeie storie:

Bonita is eintlik Charmaine se langverlore seun… Die dat sy nie van haar hou nie! Te eenders, sien?

Ek sal maar wag vir die tv-gids om te kyk watter treurmare hulle nou weer uitgedink het. Seker een of ander mal mens in haar agtergrond.

by elizac

REG SO

Februarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Ek koop vandag ‘n produk by ‘n skoonheidsalon. Dit beloof om my wimpers te laat groei. Hier is die boodskap op die pakkie:

This U.S.A scientist the living creature “EPM” of researching to manufacture be constituted by 10 amino acidses, ising to becomes the human body organizes protein a part, can make the hair cell combine the formation organizes, and activates after the har hair bud to organize, making be placed in the hair cell of the period recovers the abruption of the growth period increases in value the level, urging the fast growth in eyelash. Consecution normal use about 20-30 days eyelash would more long and thicker, benter! And the eyelash does not change length because of the metabolism fallens off. This article safety is effectively and in no way the side effect! Such as the immodesty to the eye, need not the cleaning!!

Reg so. Dit laat my beter voel.

Soos julle kan sien, val ek vir enige produk wat haarstimulasie beloof…

by elizac

INSPIRASIE

Februarie 9, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie is net om myself te inspireer:

Dit is vriendin Laurika Fourie (google haar bietjie!) se uitnodiging na haar laaste chemo in 2009. Sy was 34 toe sy gediagnoseer is. Kyk net hoe inspirerend!

by elizac

OM TE VAT. OF NIE TE VAT NIE.

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Nou ja. Ek sien die hel was weer los hierdie naweek op Litnet se blogs. Mens kan ook nie jou rug draai nie. Op die oomblik sit ek hier – en dis nie op ‘n baie goeie plek nie. Het pas my man ontstig deur in trane uit te bars – met my gedagtes in ‘n totale warboel. Dis die een ding op die ander. Aan die een kant het ek nogal begrip vir wat die man geskryf het, maar aan die ander kant dink ek nie naïewiteit/oningeligtheid/stommiteit/goeie bedoeling (noem dit wat jy wil), is ‘n verskoning nie.

Laat my probeer om so goed as moontlik die gedruis in my kop te beskryf: Ek het nie kinders nie. Ek het wel ‘n hele klomp niggietjies en ook twee nefies en ander peetkinders. En ek dink ek het vir die eerste keer in my lewe voor die realiteit van die weerloosheid van kinders te staan gekom toe ek een van hulle se doeke moes ruil, of moes bystaan met die ruil van ‘n doek, of ‘n bad. Die spesifieke oomblik kan ek nie onthou nie; wel die gedagte. Op daardie moment het ek besef hoe totaal uitgelewer kinders aan die wil van grootmense is. Omdat hulle klein is, en omdat hulle onskuldig is. Jy laat jou vriende se tienerdogter/seun toe om jou kinders op te pas en betaal selfs daarvoor. Maar jy weet nie (regtig) wat gebeur terwyl jy nie daar is nie. Jy laat jou kind se oom/tante toe om die doeke om te ruil, of die kleinding te bad. Maar jy weet nie (regtig) wat gebeur terwyl jy nie daar is nie. Ek het eendag gesien hoe ‘n bediende ‘n kind van so drie bad met die dringende instruksie: Was jou muis! Was jou muis! En oor en oor moet daar “muis” gewas word, terwyl die bediende (en toeskouers) dink dit is snaaks. Ek het verskriklik ongemaklik gevoel. En niks daaroor gesê nie.

Ek probeer dink dat die pappa wat geblog het oor sy verhouding met sy dogter dit met derduisende goeie bedoelings gedoen het. Moontlik ter illustrasie van sy goeie verhouding met sy dogter. Anders sou hy dit tog seker nie geblog het nie. En ek verstaan wat hy bedoel, want op ‘n sekere ouderdom is hulle nog so onskuldig, en dis so maklik om net te speel en nie versigtig hoef te wees oor vat nie. Dis so heerlik om daardie klein lyfies soggens vas te druk, en te kielie, en te speel. Dis ‘n vreugde om daardie klein lyfie in die bad te stop en saam te speel. Maar ek moet nou sê: nog nooit het ek nodig gehad om ‘n hand op ‘n kind se tietie te sit nie. Oor die maag, ja, vir ‘n drukkie, maar nie oor die bors nie. Daar is ‘n groot verskil tussen “speel-speel kafoefel” met ‘n kind (en ek het ‘n probleem met die gebruik van die woorde “kafoefel” of “vry” in die konteks) en kafoefel met ‘n grootmens. Jy sit jou hande op ‘n kind se rug, of se arms, of se bene, en – soos my suster sê – jy blaas op hulle ruggies of armpies of beentjies of magies, maar raak nie aan die private dele van die liggaam nie.

Dit is maklik om skade aan te rig, bewustelik of onbewustelik. Selfs ons goeie bedoelings, en dalk veral ons goeie bedoelings, kan later in ‘n kind se gedagtes tot monsters word. Kinders het aanvanklik nie ‘n seksuele bewustheid nie, maar wanneer

hulle wel bewus word van hierdie goed, skep dit ‘n dualiteit in so ‘n kind se kop: hy/sy sê hy/sy is lief vir my, maar dan vat hy/sy daar? En dan word ek geleer dat dit nie reg is nie? 

Dis juis die ding van seksuele mishandeling: dat dit dualisties is. Veral as dit op ‘n sogenaamde “onskuldige” vlak plaasvind. Op hierdie manier veroorsaak dit groot skade, want aan die kind word voorgehou dat dit onskuldig is, terwyl daar in die kind se kop al ‘n botsing begin plaasvind van: ek hou nie hiervan nie.

Eintlik, dink ek, dat baie vroue met hierdie dualiteit kan identifiseer. Ek sal graag wil sien hoeveel vroue nog nooit by die werk op die een of ander “onskuldige” manier seksueel geteister is nie. ‘n Vinnige hand op die boud, of ‘n “drukkie” wat net daardie tydjie te lank is.

En, aan die ander kant, dink ek, is dit tyd dat ons Afrikaanses begin wakker skrik wat hierdie dinge betref. Daar is nog heeltemal te veel mans wat nie besef waar om die streep te trek nie. En heeltemal te veel vroue wat giggelend deel is van gesprekke waarin vroue verneder word. Maar dis waarskynlik ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

My beste raad? Nee, hierdie antie het nie raad nie. Dis maklik om ‘n oordeel te fel. Mag ek net sê: vat jy aan my peetkinders, sal jy nooit weer slaap nie.

NS Ek het my susters gevra om hul opinie uit te spreek op die gewraakte blog. Die uitslag? ONAANVAARBAAR!

by elizac

NIE GESKIK VIR SENSITIEWE SIELE NIE

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

Waarskuwing: moet asseblief nie hierdie post oopmaak as jy nie die gevolge van rekonstruktiewe sjirurgie wil sien nie. Hierdie foto’s is net vir mense wat nie gaan naar word of flou val of wat lelike goed gaan sê nie. Want dis my foobs en ek dink dis pragtig.

Halleluja!

Hier is die plastiese sjirurg besig om die verbande af te haal. Ek het al twee keer gewas, maar is nog steeds erg kleurvol.

So het die buise gelyk vir die dreinering. Links is my ou nuwe bors en regs is die nuwe bors.

Kan nie glo dis al so ver nie!

by elizac

VAARWEL, BUISE!

Februarie 3, 2011 in Sonder kategorie

Oor ‘n halfuur moet ek by die plastiese sjirurg wees om die buise en die drein te laat verwyder. Halleluja! Dit sou eers om 18:00 plaasgevind het, maar hulle het die afspraak geskuif na half een. Te wonderlik. Dan gaan ek sommer ook sien hoe lyk die nuwe f/boobies. Het nog glad nie na hulle gekyk nie en is nog steeds in verbande toegedraai.

Hierdie operasie is minder traumaties as die eerste een. My man sê ek is sterker. Weet nie of ek werklik sterker is nie, maar ten minste is dinge nie so emosioneel nie. Ten minste wag daar nie weer chemo op my nie. Ten minste weet ek nou wat gaan gebeur. So min of meer. En ten minste probeer ek nie meer so hartsogtelik in beheer wees nie.

Ek praat Maandag met ‘n vrou wat vir my sê: I don’t want to die. En ek kan nie vir haar sê dat sy nie gaan sterf nie, maar ek kan vir haar sê om elke moment wat sy het, te geniet. Selfs die chemokamer. Want dis deel van ons lewe, en of ons nou sit en kerm of sit en jubel, ons moet daar deur.

Party van ons moet die lewenslesse met hamerslae leer.

by elizac

D-DAG

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

D-dag het toe uiteindelik aangebreek. Maandag 31 Januarie 2011. Meer as ‘n jaar nadat ek die knop op 23 Januarie 2010 “ontdek” het en as gevolg van die ontdekking op ‘n avontuur om my lewe gegaan het.

Ja, ek het twee nuwe boobies! Heropbou en Ontwikkeling het uiteindelik plaasgevind. My fake foob is vervang deur die permanente foob, en my regterbors is genip en getuck. Ek het op hierdie stadium nog absoluut geen idee hoe dit lyk nie, want my borskas lyk soos wanneer ‘n karakter in die sepies in ‘n ongeluk was: toegedraai in doeke. Môre-aand om 18:00 sien ek die plastiese sjirurg. Hy sal dan die pype uithaal (hoop ek!) en dan sal ek sien hoe die nuwe foobies lyk.

En raai wie is toe die eerste persoon wat ek raakloop in my hospitaalkamer? Nomfundo, die enetjie wat destyds na my mastektomie so woes aan my verwyderde linkerbors gestamp het, die bloeddruk op my linkerarm geneem het, en toe ek kla, vir my gesê het: This too shall pass. Ek het amper vir ‘n mes gevra… Maar die keer was ek vriendelik en het gemaak asof ek haar nog nooit ontmoet het nie. Sy het die hele tyd met my gepraat in so ‘n ietsiestemmetjie en met kougom in die mond. Ek moes elke keer vra: ekskuus? Wat sê jy? Maar gelukkig was die personeel wat my teater toe geneem het baie vriendelik.

En toe moes ek eers deur hel gaan voordat ek aan die slaap kon raak. Ek weet nie wat die narkotiseur in my lyf gespuit het nie, maar dit was verskriklik seer. En toe spuit hy nog ‘n produk in en sê ewe: dit gaan ‘n bietjie brand. ‘n Bietjie brand? My goeie [email protected]!, dit het gevoel asof iemand kookwater op my arm gegooi het! En met die eerste insit van die eerste naald, is die aar natuurlik heeltemal toe en kan die drup nie vloei nie, en dit brand en brand en brand, en ek bly sê dis seer en krul later van die pyn. Hy los wragtig die naald net daar terwyl hy ‘n ander aar soek… Daarna toe nog die verbranding van my arm. Ek hou my arm in die lug, want dis al wat die pyn laat bedaar, maar toe die tweede inspuiting kom, skree ek net: hou asseblief my hand vas! Want toe voel dit asof dit gaan afbrand. Natuurlik gryp sy toe my ander hand. Die laaste wat ek kan onthou, is dat ek skree: die ander hand! Kyk, ek weet hulle maak my eintlik seer terwyl ek nie daarvan weet nie, maar hoekom moet hulle my seermaak terwyl ek nog by is?

Met die bykomslag hoor ek net: Doktor! Doktor! En toe is ek in my privaatkamer (weet nie hoe dit gebeur het nie!) en op morfien en ‘n drup en Nomfundo neem my bloeddruk op my bene. My man het iewers opgedaag met blomme en kaartjies, en toe vriendinne – een wat Maandag 50 geword het, en ek moes die hele partytjie mis, omdat my operasie uitgestel is van verlede Donderdag na Maandag toe. Nou gaan ons eers later partytjie hou. En dan vier ons sommer die nuwe dekade en die nuwe foobs en gesondheid en die lewe.

O, ek moes eers Maandag 12:00 by die hospitaal wees. Toe het ek en ‘n vriendin gou gaan voete was en masseer by die chemokamer. Ek het uiteindelik net een persoon se voete gedoen, want ek het te veel gesels! En ons moes natuurlik vroeër loop, sodat ek betyds kon wees vir die hospitaal. Maar dit was goed om dit te doen en het my aandag afgelei van wat later daardie dag gaan gebeur.

So nou sit ek hier by die huis. Weet nie tot wanneer ek my “stil” moet gedra nie, maar ten minste mis ek die fakulteitsvergadering! En een van die dae kan ek my nuwe hophuisies met trots wys!