Jy blaai in die argief vir 2011 Januarie.

by elizac

TOI LETTE OR NOT TOI LETTE

Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie

Enigeen wat al besoek afgelê het in ‘n vreemde land, sal weet dat daar woorde is wat ‘n mens eenvoudig net moet leer ken, of jy sal nie oorleef nie. Wat my betref is die woorde “uitgang”, “trek” en “stoot” belangrik. ‘n Mens lyk altyd simpel wanneer jy aan ‘n deur stoot wat jy eintlik moes trek – of andersom, natuurlik. Verder is dit maar sleg om tot die einde van die perron te moet loop, net om uit te vind jy kan nie verder nie, en dan te moet terugdraai net omdat jy die woorde “sortie” of “ausgang” gemis het.  Omrede ek nie gewoonlik rooivleis eet nie, leer ek ook altyd die woorde vir “tuna”, “vis” of “hoender”. In Griekeland was hierdie dinge nogal moeilik, want hulle gebruik mos nie Romeinse skrif nie. Ek weet steeds nie of iemand ons verneuk het nie, want ek kan nie die strokies lees nie… Gelukkig kon ek darem die woord “Exodus” uitmaak en daarvan aflei dat dit die uitgang is.

Die belangrikste woord wat my betref, is egter die woord vir toilet. Het julle al gesien hoe moeilik dit is om ‘n toilet in die hande te kry wanneer jy een nodig het? Gelukkig bly dit darem relatief maklik in Europa, want ‘n toilet is dikwels ‘n “toilette” of ook “WC”. Sover soos wat jy stap, moet jy dus altyd ‘n oog uithou vir daardie woorde, anders kan jy dalk moeilikheid optel.

Die ander probleem is dat toilette in Europa nie gestandaardiseer is nie (ons praat nou nie van toilette in ander lande soos Malawi, of Indië nie). Elke keer wanneer jy een wil gebruik, moet jy eers ‘n pamflet deurlees om te verstaan wat om te doen. Party het knoppe wat trek, en party het knoppe wat stoot, en sommige het nog ‘n ketting bo in die hoek. Die ergste is daai Italiaanse toilette wat soos die Moslemtoilette lyk, en waar jy moet hurk om jou ding te doen. Wat sekerlik nie ‘n probleem is vir ‘n hupse jong meisie nie, maar vir hierdie Suid-Afrikaanse tante en in die middel van die winter, kan dit nogal probleme veroorsaak. Dan moet jy so hurk en jy langbroek probeer uit die nat hou en jou jas agter laat opwip en balanseer, en sorg dat jy alles vinnig doen voor jou skoene ook papsopnat is. En natuurlik nog mik ook. Nee, grillerig. Klaarblyklik betaal hul meer belasting as hul ‘n normale porseleintroon het, maar jislaaik, dis werklik nie ‘n aangename ondervinding nie.

Op Schipol lughawe het hulle van daardie toilette wat outomaties spoel. Ek sien hulle het die onding nou ook hier na Suid-Afrika ingevoer. Onding? Ja. Het jy al daardie toilette probeer? Nou miskien help dit as jy baie maer is en daardie sensor mis jou, maar as jy so in die rigting van grootte 14 na 16 begin lyk, dan tel daardie sensor jou op as jy dit net durf waag om te beweeg. Met die gevolg dat ‘n geweldige stroom water elke kort-kort hier onderdeur jou skiet.

In Duitsland het hulle nou by sekere plekke toilette wat hulle Sanifair noem. Baie oulik – meer my soort ding. Behalwe dat jy nou nogal 3 Euro moet betaal om hulle te kan gebruik. (Gelukkig kry jy dan weer afslag wanneer jy iets te ete of te drinke in die kafeteria koop). Wanneer jy dan die toilet spoel, is daar so ‘n armpie oor die sitplek en die sitplek begin te oulik al in die rondte draai en woel. Wat beteken jy kry elke keer ‘n skoon sitplek.

En in Frankryk het hulle die keer toilette met “ingeboude sitplekke” gehad. Klink dit nie na ‘n goeie idee nie? Dink net: jy hoef nooit weer ‘n toiletsitplek te koop nie, want dit kan nie breek nie! Maar die nare waarheid is dat hierdie toilet met die “ingeboude sitplek” lyk soos ‘n gewone toilet sonder ‘n sitplek. So jy moet jouself neerlaat op daardie koue porselein, en met minus 8 grade is dit geen grappie nie.

In Rome voel ‘n mens meestal asof jy die katakombes besoek wanneer jy ‘n toilet gaan besoek, want jy moet gedurig met ‘n trap afstap na die kelderverdieping, en net sodra jy dink nou het jy die plek, dan is daar nog ‘n trappie. Sodat jy later gebukkend by die poorte moet instap.

Die ergste nog was my ondervinding met ‘n sypaadjietoilet in Parys. Ek moes dringend ‘n plekkie kry, maar het nie geweet waarheen nie. Tot ek hierdie oulike sypaadjietoilet gesien het. Dis sulke blink huisies wat op die sypaadjies staan, en dan gooi jy ‘n munt in (ek dink daai tyd was dit nog 2 frank) en die deur gaan oop en jy kan ingaan. Verligting! dink ek nog, en gaan in. Maar net daar steek ek toe vas. Want die “toilet” in daardie plek lyk meer na ‘n blompot. En alles word mooi outomaties skoongemaak wanneer jy uitgaan en die deur weer toemaak. Wat nou nogal oulik is. Maar my vraag was net: as daar nie ‘n gat in die toilet is nie, waarheen spoel die inhoud? Dit moet mos nou oor die blompot se rand, en dan moet ek weer die blompot se rand gebruik! En ek sal maar nie vertel van die vloer nie. Daaroor wil ek liewer ‘n sluier trek, soos die sluier van gebruikte toiletpapier wat oor die slotte in die planke …. o wag, laat ek liewer nie vertel nie.

En eerlik gesê, maak nie saak hoe arm jy is nie, maar as jy nie hoef te betaal vir ‘n toilet se gebruik nie, dan moet jy versigtig wees. So het ek al in Luzern van ‘n gratis toilet gebruik gemaak, maar ek kan nou nog voel hoe die kieme teen my opkruip. Dit was soos iets uit ‘n dwelmfilm, met ‘n boks vir gebruikte naalde teen die muur en bloedspatsels en nog onnoemlike dinge.

Ek troos my egter deesdae aan twee dinge: dis nie Indië nie. En dis ook nie ‘n mastektomie nie.

by elizac

VREEMDE TALE IN LUNèVILLE

Januarie 27, 2011 in Sonder kategorie

Mmm, na aanleiding van Zeppie se vertelling oor die Ingelse gesprek, moet ek eers hierdie storie vertel:

Gedurende ons maandlange reis deur Europa, het ons op ‘n Sondag hier kort na Nuwejaar in ‘n dorpie met die naam Lunèville beland. Weet nie hoe dit uitgespreek word nie, want my Frans is beperk tot die woorde “sortie” en dan kan ek die Franse name vir “trek” en “stoot” en “tuna” en “hoender” lees. Maar ek sou dink “Loonville” is gepas.

Nou hierdie dorpie is bekend vir ‘n sekere tipe porselein met die naam van faience. En die van julle wat al so deur Europa gereis het, sal weet dat Europese dorpies nie juis oop winkels het op ‘n Sondag nie. Maar ons was op pad terug Duitsland toe en ek wou sien of daar dalk ‘n winkeltjie of twee in die dorpie is wat dalk van hierdie faience aanhou. Net sodat ek nou mooi kan sien hoe dit eintlik lyk, al is dit net deur ‘n winkelvenster.

En net daar, op die Sondagoggend, in die nat en reënerige Lunèville, betrek die nood vir my en manlief – hy met sy diabetiese blaas en ek met my, wel, ja, vroulike blaas. Ons wou mos die oggend twee groot vet koppies tee drink by die ontbyt. Nou is ons dringend op soek na ‘n fasiliteit, maar daar is niks oop in die dorpie nie. Terwyl ons so soekend oor die dorpsplein stap – in die rigting van ‘n brasserie wat oop lyk – verdwyn my man. Woordeloos. Maar nou’s ek ook al gewoond daaraan, en my logiese denke begin inskop, want die enigste plek waarin hy kon verdwyn het, is so ‘n troostelose wit geboutjie op die plein. Tensy hy nou weggeraap is.

Dit is toe ook so: my geliefde het gesien dat die geboutjie na ‘n privaatplek lyk, gaan ondersoek instel en toe sommer ingeglip. Met die glip ek toe ook in, maar ek vra hom om net kywie te hou daar by die deur, want as die deur toegaan, is dit pikgitdonker binne, en ek wil darem nou nie betrap word deur een of ander Franse persoon nie. So met my sit saam, hoor ek net hoe my man daar buite praat: Madam! Madam! MADAM! THERE IS SOMEBODY IN THE TOILET!

Nou’s ek mos heel kalm. Toe ek buite kom, vra ek hom wat gebeur het. Nee, seg hy, daar kom so ‘n tantetjie met ‘n fiets oop en toe op die gebou afgestorm en sy wil my deur oopmaak, en sy hoor nie toe hy met haar praat nie, en sy wil net oopmaak. Tot hy haar toe teen die skouer stoot en haar ferm in Engels daarop wys dat die toilet beset is. En hy stap terug motor toe.

Ek hoor iemand agter die skerm – daar is so ‘n skerm voor die deure – murmereer, en ek gaan kyk. Daar staan toe ‘n tantetjie – by gebrek aan ‘n ander term om haar te beskryf – so reg uit die prenteboeke van my jeug: sy het ‘n plastiek reënkappie op die kop, met so ‘n liggroen uitrusting aan, en sy hou haar fiets met ‘n mandjie bewend orent. Sy kla. Ek dog laat ek die ou tante gerusstel. Sy lyk asof sy kan doen met ‘n bietjie liefde. En daar skree sy op my: Americain! Go home! Ek sê mooi vriendelik: Ek is nie ‘n Amerikaner nie. Toe raak sy so ‘n moment rustig, maar natuurlik het ek in Engels gepraat, wat ‘n fout was. Toe skree sy weer vir my: Imbeciles! Idiots! En nog allerhande Franse woorde wat ek natuurlik nie kon verstaan nie. Ek sê, maar tante, kom laat ek jou ‘n drukkie gee. Maar sy bly skree. (Ek sou seker ook as ‘n vreemdeling van 1,8 meter op my afstorm en my wil kom druk). En sy bly my uitskel vir “uneducated” en ‘n idioot. Ek was verstom. Hoe op deeske aarde behandel ‘n mens ‘n toeris in jou dorp op hierdie manier? En waarom dit uiters giftige reaksie op iets wat tog ‘n blote misverstand was?

Ek het haar later maar net gekyk en gedink: tante, ek het ‘n doktorsgraad, ek praat vier tale. Jy praat net een en jy noem my onopgevoed? En ek moet nou ook sê: vir ingeval die tante nie opgelet het nie, haar dorpie het ons geldjies nodig. Dit lyk beroerd op die Franse platteland.

Dit het my ‘n tydjie geneem om die gif van my gemoed af te kry. Ek wonder steeds of sy dalk iets onwettigs in daardie toilet wou gaan doen het, want selfs nadat ons geloop het, het sy nie van die fasiliteite gebruik gemaak nie. ‘n Dringende nood was daar dus beslis nie. Boonop was daar ten minste een ander toilet wat beskikbaar was. Hoekom dus die verskriklike haat?

En wat my erg gekry het, was die sielloosheid in die vrou se oë. En dat ek niks daaraan kon doen nie.

Ek troos my daaraan dat die dorpie dalk na die tante vernoem is.

by elizac

NAAK FOTO

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

Nee, jammer vir almal wat nou op hierdie skakel gekliek het, maar hier sal geen naakfoto verskyn nie. In elk geval nie vandag nie. Ek wens net ek kon vir julle my foto wys. Die een wat my man geneem het toe ek nie geweet het daarvan nie. Waar ek in volle glorie staan, aftiet en al. Want al was ek nou nog nooit ‘n skoonheid nie, en al is ek nou nie mooi maer nie, en al is daar baie foute, is dit vir my ‘n verskriklike mooi foto. Van hierdie 46-jarige tante, met die kort, kort grys hare (ja, hulle groei nou grys uit!) en die litteken wat dwars oor my linkerbors loop. Van ‘n middeljarige vrou, wat tepelloos en weerloos in ‘n stort staan.

En dis vir my so mooi, want ek is steeds vrou in al my naakte eenvoud, met al my fasette, en ek het respek vir hierdie liggaam wat my deur alles gedra het. Ek het ook vrede gemaak met hierdie liggaam.

Vanaf volgende week gaan daar nuwe littekens op my lyf wees. ‘n “Kwesplek”, sê die woordeboek. Die skil wat ek om my dra. Dis die merk van my weerloosheid, maar ook die merk van my krag.

by elizac

MAMMOGRAM

Januarie 25, 2011 in Sonder kategorie

Vandag om vieruur my jaarlikse mammogram gehad. Almal wou by my weet of ek nie senuweeagtig is nie. Ja, so ‘n bietjie voor die tyd, maar die res van die tyd het ek glad nie daaraan gedink nie. Wat help dit tog om oor goed waaroor jy nie beheer het nie te sit en stres? Jy sal nog niks daaraan kan verander nie. Die enigste ding wat iets kan verander, is jou houding.

Vandag was ek nou omtrent soos daardie vrou wat vreeslik vol fiemies was en altyd baie gesteld op haar privaatheid. Toe raak sy swanger. En elke keer as sy dokter toe moet gaan, is dit ‘n vreeslike storie, en sy hou toe vir ‘n vale. Niemand mag niks sien nie. En daar skenk sy toe geboorte aan ‘n fris kind, met die gepaardgaande onwaardige behandelinge en so, met vreemdelinge wat in elke gaatjie in jou liggaam opstaar. Toe stap sy die gang af in die hospitaal, sien ‘n man met ‘n wit jas, keer hom voor, pluk haar kamerjas oop en vra: is dit reg as my borste verskillende groottes is? Waarop die man verbouereerd stotter: ek is nie ‘n dokter nie!

Want ek het nou nie meer vreeslik baie skaamte oor nie. Jy kry mos eers daai ou kamerjassie wat jy op die een of ander manier rondom jou liggaam moet bind sonder dat dit oopflap. Dan sit en wag jy agter ‘n gordyntjie. Daarna word jy na die martelkamer gelei en gestraal terwyl jy met die kamerjassie om jou een helfte staan. Die ander helfte halfkaal, met die kamerjas so verleidelik oor die skouer gedrapeer. Dan moet jy die een arm uit die mou haal terwyl hulle jou met ‘n saluutgebaar laat staan. Dis nou om onder die arm te kan bykom. Maar die jassie hang nog so oor die ander skouer en maak die ander bors toe. Huh? Of jy nou eers links kaal sien en dan regs, kaal is kaal, en op die ou-end was alles kaal. En toe is dit deur sonar toe, want my borste is/was mos dig. Dan lê jy daar sonder die jassie op ‘n plank, en ‘n assistent drapeer weer die jassie oor jou bolyf. Net sodat die dokter dit kan afpluk vir die sonar. Laat ‘n mens seker minder blootgestel voel.

En die radiografis het al tydens die mammogram gesê dit lyk nie of daar fout is nie, maar die dokter wil net seker maak. Die dokter het ook my linkerbors gekyk om te kyk of daar enige abonormale oorblyfsels is. Vertel toe vir my met genoegdoening dat hy die krammetjies kan sien waarmee die implantaat vasgemaak is. Grillerig.

En, dank die Here, ek is skoon. Skoon! So eet mens mos ‘n olifant, of hoe? Stukkie vir stukkie.

Naskrif: Ek het gevra of ek afslag kry omdat hulle net een bors hoef te doen. Grappie, maar ja, ek kry afslag! Nie 50% nie. Ek dink ons verdien ten minste 75% af!

by elizac

BAIE BAIE GELUK

Januarie 24, 2011 in Sonder kategorie

Vanaand wil ek net baie baie geluk sê aan oorlede spinnekop. Dit was gister, 23 Januarie 2011, presies ‘n jaar gelede dat ek die spinnekop se nes in my bors gevoel het. En bewus geword het van sy tentakels wat hy deur my liggaam wil versprei.

Van nou af aan is alles ‘n jaar gelede.

23 Januarie: een jaar gelede het ek die spinnekopp in my bors gekry.

27 Januarie: een jaar gelede was ek by my algemene praktisyn, wat gedink het dis ‘n sist en antibiotika voorgeskryf het.

16 Februarie: sonar, en hulle sê dit lyk nie goed nie.

24 Februarie: een jaar gelede was my diagnose.

9 Maart: een jaar gelede was die mastektomie.

En so kan ek aangaan. Dus vier ek vanaand een jaar terug se spinnekop, en die wete dat hy sy gat gesien het…

by elizac

VERLANGE

Januarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Vanaand verlang ek sommer na ‘n lang lys mense:

  • my tweelingsuster en my peetkind.
  • my jonger suster.
  • my twee niggies daar in die Kaap. Ons doen tog altyd sulke – vir my – lekker goed saam.
  • my vriend Johannes, wat nie meer met ons is nie.
  • my ouers, wat ek vier maande laas gesien het. En dit was nogal kort gelede.
  • my tannie Tilla, wat hierdie siekte dertig jaar gelede oorwin het, en toe twee jaar terug nie weer kans gesien het vir die oorlog nie.
  • en my broervriend Cobus, wat in die koue London bly.

Seker maar omdat ek die hele dag niks en niemand gesien het nie. Nie eens kerk toe gegaan het nie. En seker maar ook omdat ek hulle wat nog hier is, nie die vakansie kon sien nie.

Ek’t al so baie gewens Oos-Londen kon wees waar Mosselbaai is. Dan was dit darem heelwat nader aan my mense.

by elizac

EN SO GAAN ONS VOORT

Januarie 21, 2011 in Sonder kategorie

Toe ontmoet ek vandag noodgedwonge vir Siyabonga, wat die tegnikus is by die Hemingsways Cell C-tak. En met die eerste sien, besef ek reeds dat die ligte aangeskakel is. My foon se stem is weg, sê ek. Kan jy iets doen? Hy skud sy kop. Nee, verduidelik hy mooi, dis ‘n skuiffoon, en dikwels raak die kabel tussen die twee skuifgedeeltes foutief en dit veroorsaak dat die foon dan sy stemmetjie verloor. Hy sal die foon Johannesburg toe moet stuur. En hy trek die papiere nader en begin invul en teken en stoot dit oor na my toe. Nou my maggies, seg ek, kon daardie dame van gister nie ook maar die papiere ingevul het nie? En dan kon jy nou vandag by die winkel opgedaag het en gesien het hier’s ‘n foon en jy kan hom nie fieks nie en jy moet hom Johannesburg toe stuur. Dan kon jy my gebel het en laat weet het. Want dan’t ek nou nie nodig gehad om in die Mol rond te hardloop nie. Ek hou nie van Mols nie. Nou hoekom nie? wil hy weet. Want die winkelassistente hier is workers en nie bestuurders nie. Hulle is meestal onbeskof en onbehulpsaam, en die musiek is ook te lawaaierig. Maar ek vertel dit toe nou nie so nie. Ek vertel hom nie van workers en bestuurders nie.

Laat vanmiddag moet ek weer deurry na die Mol om vir Siyabonga te vra om my man se ou foon vir my te fieks, sodat ek my simkaart kan insit. Hy doen dit binne sekondes met ‘n glimlag op die gesig.

Eureka vir Siyabonga! Hy is ‘n bestuurder!

by elizac

“MANAGERS” EN “WORKERS”

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

Kom ek verduidelik nou mooi stadig die verskil tussen ‘n “worker” en ‘n “manager”, want dit lyk my in hierdie land moet almal nou “workers” wees, sodat iemand tog net asseblief nie moet hoër wees as iemand anders nie.

‘n “Worker” is ‘n persoon wat vir ‘n salaris of ‘n loon werk. Hulle gaan werk toe, doen wat van hulle verwag word en ontvang ‘n salaris aan die einde van die maand. Een keer ‘n jaar wil hulle ‘n salarisverhoging hê, maar hierdie verhoging affekteer nie noodwendig produktiwiteit nie, met ander woorde hulle insette verhoog nie. Hierdie persoon streef moontlik na hoër dinge in die lewe, maar is nie bereid om die werk in te sit wat dit verg om dit te bereik nie. As daai horlosie huis-toe wys, dan gaan hulle huis toe.

‘n Bestuurder – of dan ‘n persoon wat ‘n professie beoefen – is iemand wat meer doen as wat van hulle verwag word. As die baas vra vir iemand om oortyd te werk sonder vergoeding, dan is hulle daar. Want hulle besef die ondervinding kan hul later goed te pas kom wanneer hul wel vir bevordering aansoek doen. As iemand vir hulle ‘n vraag vra, sê hulle nie “Ek weet nie”, maar “Ek sal gaan uitvind”. Hulle stap daardie ekstra myl. Hulle neem nie etenstye as hulle te besig is nie. Hulle werk deur teetyd as dit nodig is.

Ter illustrasie: Sondag arriveer ons in Johannesburg met ons oorvol tasse. My man stres oor die ekstra geld wat ons moet inbetaal, en ek sê net: geniet die oomblik! Terselfdertyd sien ons ook die elektroniese borde by die SAL (ja!ja!) se toonbanke verkondig dat ‘n mens ‘n volle 32kg per persoon kan meeneem op binnelandse vlugte. Toe ons by die toonbank kom, is daar ‘n knap kêrel aan diens. Hy let op dat ons vanaf Kaïro ingevlieg het en klaarblylik geld ander reëls vir daardie vlug. Ons wys hom daarop dat die elektroniese borde verkeerd is en hy sê mooi: Baie dankie. Ek sal die bestuur daarop wys. Ek sê: Haai, maar jy’s oulik, en hy glimlag en antwoord: As ek vir hulle daarop wys, dan kry ek die krediet as die persoon wat dit raakgesien het. Joehoe! Hierdie man is ‘n bestuurder. Hy was nie geaffronteerd deur ons nie. Hy het dit waardeer dat ons vir hom op ‘n fout gewys het en hy het besluit om iets daaraan te doen. Hy het ook opgelet dat ons vanaf Kaïro ingevlieg het sonder dat ons vir hom gesê het. Vir hom bevorder ek gou-gou.

Vanoggend gaan ek na Cell C om my foon se probleem aan te meld. Ek ry spesifiek na die tak wat die maklikste vir my is om te besoek. Daar word ek aangeraai om na Hemingway’s, ons plaaslike winkelsentrum, te gaan, want hulle het twee tegnici aan diens. In ‘n terloopse aanmerking sê die mannetjie vir my: dit sal help as jou foon Engels praat. Want my foon praat mos Nederlands. Ek sê: dis maklik genoeg om dit terug te stel na Engels! En vertrek na Hemingway’s. Waar ek eers moet parkeer en die interessante bestuurstyl van die Oos-Kapenaars moet trotseer. By hierdie tak praat ek met ‘n dame. By gebrek aan woordeskat. Ek sê mooi vir haar: My phone has lost its voice, and if you need to fix it, you may have to switch it to English, because it is now on Dutch. Sy gee my ‘n verwilderde kyk, neem my foon by my en vra, net om seker te maak, You would like your phone to be on English? Toe raak ek weer stadig moeilik. Dis nou nie haar skuld dat sy nou al die tweede persoon by die tweede plek is nie, maar dis al oor tien en ek is al vanaf nege-uur op pad werk toe. En ek kan sien sy is nie ‘n bestuurder nie. Sy is ‘n worker. Sy is daartoe in staat om die voor-die-hand-liggende te doen, maar nie meer nie. Toe verduidelik ek stadig: No, my phone has no ring tone and I can’t hear anybody. Where are your technicians? O nee, seg sy toe, hulle is vandag nie daar nie. Hulle is besig met opleiding. Asof dit my nou hoera! en halleluja! sal laat uitroep. Kom môre weer. My antwoord? Dit is nou presies die rede waarom ek aan die einde van die jaar my Cell C-kontrak gaan opgee, want as my man soortgelyke probleme met sy foon het, neem hy dit na sy diensverskaffer en hulle los dit sommer daar en dan op.

Hierdie dame is definitief nie ‘n bestuurder nie. Sy is nie ‘n probleemoplosser nie. Sy het magteloos en sonder antwoorde na my gestaan en kyk. Volgens haar is die verskoning “hulle is besig met opleiding” en die oplossing “kom môre terug”, heeltemal aanvaarbaar. As sy ‘n bestuurder was, sou sy moontlik my foon ingeneem het, belowe het om dit vir ‘n tegnikus te gee, en gesê het hulle sal my bel sodra dit klaar is. Sy sou my besonderhede op ‘n vorm neergeskryf het en in ‘n logboek en waarookal ‘n mens sulke goed doen. Sy sou oplossings kon voorstel vir my selfoondilemma. Van my kant af kry sy geen bevordering nie.

Dan is daar natuurlik diegene wat hulle as “bestuurders” voordoen, maar eintlik is hulle “workers”. Dis die tipe bestuuder wat bedreigd voel deur sy/haar “workers” wat wel bestuursmateriaal is. Dis die tipe bestuurder wat die werknemers nie toelaat om onafhanklike besluite te neem nie, of kreatief te dink nie. Dalk werk die Cell C dame vir so ‘n bestuurder, en dalk het sy al geleer om nie te veel te doen nie, want dan kom sy in die moeilikheid.

Ek twyfel.

Self is ek nie ‘n “worker” nie. Ek is ‘n professionele persoon met professionele status en daarom het ek ‘n ander werksetiek. Ek werk saans en oor naweke as dit van my verwag word, en meestal is ek die persoon wat die verwagtinge stel.  Wanneer ‘n student na my toe kom en vra vir Mr Piet Pompies van die Management Department, dan sê ek nie goed soos: Lyk ek vir jou miskien soos ‘n meneer? of: Hy is nie hier nie. Ek sê vir die student: Hierdie is nie Management nie; dis Communication. Kom ek gaan wys jou waar die Management kantore is. Dan het hy/sy mos nou sommer twee goed geleer: eerstens, dis waar kommunikasie is, en tweedens, daar is management. En dan staan ek op en gaan wys hom/haar.

Nou sal ek maar sien wat môre gaan gebeur. Of ek ‘n worker of ‘n bestuurder gaan kry om my probleme op te los.

by elizac

AI, DIE LIEWE CELL C

Januarie 19, 2011 in Sonder kategorie

Ek’s bietjie kwaad, so ek moet net die storie met die res van Suid-Afrika deel:

Ek’s al ‘n hele klompie jaar ‘n getroue Cell C-kontrakhouer. Maar ek dink die laaste twee jaar sal nou ook my laaste kontrak by die dierbare Cell C wees. Want hulle is baie flink met kontrak aan jou verkoop, maar die naverkoopsdiens is iets vreesliks. Op die oomblik sit my selfoon sonder stem, maar ek stel uit om dit te gaan aanmeld, want ek is nogal lugtig vir die toertjies waardeur ek moontlik sal moet gaan om die foonprobleem aangemeld te kry. Dit het hulle ten minste drie weke geneem om die vorige probleem wat ek gehad het, op te lus. En dit eers nadat ek stap vir stap vir hulle verduidelik het wat verkeerd is. Volgens hulle was daar nie ‘n probleem nie.

Maar dis nie my storie nie.

Kry ek vanmiddag om 15:32 ‘n oproep van ‘n persoon wat my man soek. Natuurlik by sy volle doopname, wat al klaar ‘n aanduiding daarvan is dat dit iemand is wat hom nie ken nie. Sy bel van Cell C en wil weet wat sy selnommer is, en of dit nog – net as ‘n voorbeeld! – 0761111111 is. Ek sê nee, sy nommer het verander. Sy wil natuurlik weet wat dit is. Nee, ek gaan nie sy nommer uitgee nie. Waarom bel jy? Nee, seg sy, sy kan die inligting nie vir my gee nie, want dis ‘n persoonlike oproep. Ek vra mooi vir haar: wil jy iets verkoop? Want ek weet mos, my man sal vir haar sê, dinges weg hier. Ek het reeds ‘n selfoon en wie de hel het my nommer vir julle gegee en haal dit nou so dadelik van julle lyste af! Sy sê in ‘n uiters aanmatigende stemtoon: dit is persoonlik en ek sal nie die inligting aan jou gee nie, en terwyl ek nog praat, sit sy die foon neer.

Nou ek het nuus vir die onbekende dame van Cell C: die foonlyn waarop sy gebel het, is in MY naam geregistreer. EK betaal die rekening. Sy het dus geen reg om my man op daardie lyn te bel nie – ons funksioneer onder verskillende vanne! Wanneer sy dus my man bel op MY foonlyn, beter sy ‘n ordentlike rede daarvoor hê. En wanneer ek nou my man vertel van die onderonsie, en sy bel hom weer, gaan sy met ‘n uiters onvriendelike man te doen hê. Want hy gaan vir my beskerm. En hy gaan haar vertel waar Dawid die worteltjies begrawe het. En as sy nou dink sy kan wegkom met onbeskof wees teenoor my, maar dan iets aan my man wil verkoop, moet sy weer dink. Ek was nog vriendelik met haar. My man gaan nie wees nie.

Wat sy natuurlik ook nie weet nie, is dat ek ‘n blog op Litnet het. En dat die eerste ding wat ek gedoen het na ons gesprek, was om te kliek op “skep pos”.

Mag dit ‘n les wees.

NS Vir diegene wat wonder: nee, my man mag maar “my” telefoon gebruik. En mense mag hom maar op “my” telefoon bel. Dis immers “ons” huis!

by elizac

STATUS

Januarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Nee, nie status soos in statuur nie, maar status soos in wat gaan aan. Vanoggend bloedtoets gehad en moes eenuur die onkoloog sien. Lekker deurmekaar, want dit was ook my eerste dag terug by die werk nadat ons eers gisteroggend half ag die land binnegekom het. Ek het pyn onder my regterarm en die onkoloog het ‘n mammogram aangevra. Dis (die mammogram, nie die pyn nie!) eintlik heel normaal, want ek het verlede jaar in Februarie laas ‘n sonar gehad. Dus gaan ek 25 Januarie vir die mammogram om seker te maak alles is reg. Verder het ek ‘n afspraak by die ginekoloog vir 21 Februarie. Klaarblyklik kan die Tamoxifen baarmoederkanker veroorsaak, so ek moet gereeld vir ondersoeke gaan. Ai toggie. Die onkoloog vra: How’s your womb? Ek sê: my wat? Your uterus, antwoord hy. Toe verstaan ek eers. Nie gedink ek het ‘n womb nie. Net ‘n uterus. Weet nie hoekom nie!

Môremiddag sien ek die plastiese sjirurg om te praat oor die volgende operasie.

Terug op die mallemeule.

Intussen het my kat katgriep opgedoen by die kathotel, ten spyte van die streng vereistes vir toelating. Onder andere moes sy hierdie keer ‘n ekstra inspuiting kry wat voorgeskryf word vir katte wat in ‘n kathotel bly. Sy was in ‘n hok langs ander katte wat die griep gekry het en sy is toe ook aangetas. So ek sit met ‘n veeartsrekening van R800. Eintlik voel ek die mense wie se katte die virus ingedra het, moet die rekening betaal, maar nou ja.