Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

by elizac

VINNIGE INLOER

Desember 22, 2010 in Sonder kategorie

Buona sera! Guten Abend!

Ja, ons lewe nog, vir die wat wonder. Ek’s te moeg om te blog en kom vanaand vir die eerste keer in ‘n week weer by die rekenaar uit.

Athene was pragtig en Rome nog meer. Tans in Ulm, Suid-Duitsland. Dis koud, maar nie so erg soos op die nuus nie!

More (en verskoon die afwesigheid van kappies ens – hierdie is ‘n Duitse sleutelbord!) ry ons na Meran/Merano in Suid-Tirool. Ons gaan Kersfees saam met die Taljaners vier.

Die hoogtepunt van ons reis tot dusver, was die Katolieke diens in ‘n klein kerkie in Rome. Sommer so toevallig op die kerkie afgekom terwyl ons Sondagoggend deur die strate gedwaal het. Lekker saam nagmaal gehou en amper ‘n internasionale insident veroorsaak, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag!

Is ek ‘n skrywer? Ja! Die hele tyd skryf ek al hierdie dinge in my kop neer… Hiehie!

by elizac

KYK BIETJIE HIER!

Desember 15, 2010 in Sonder kategorie

Het vandag vir my vals wimpers laat aansit:

Soos julle kan sien, is die wenkbroue nog nie heeltemal terug nie, maar dit kom aan. Baie dankbaar dat ek amper normaal lyk!

O, en vanoggend is ek weer gemeet by Kurwes, en ek het sommer ‘n hele klompie centimeters verloor.

Mag julle almal ‘n geseënde feestyd beleef!

by elizac

OPGEWONDENHEID

Desember 14, 2010 in Sonder kategorie

Djulle, dan’s hierdie antie darem vir djulle opgewonne! Sy moet nog net haar kat by die kathotel gaan aflaai, vir haar laat wimpertjies aansit, en dan is sy reg om by die lughawe afgelaai te word!

Ja, môre vlieg ons via Johannesburg en Kaïro na Athene! Dis nou die ou trippie wat ons Juniemaand sou gedoen het sodat ek by ‘n kongres kon gaan refereer, maar wat toe uitgestel moes word, omdat ek te siek was. Ons moet ons vliegtuigkaartjies gebruik voor 25 Januarie; dus moet ons nou gaan. En nou is die ou reisie nie meer vir werk nie, maar net om lekker te kuier. Ai, ek sien uit!

Vanaf Athene gaan ons na Rome, waar ek nog nooit was nie. Daarna is dit Duitsland toe na my suster en ons peetkind, terug Italië toe vir Krismis (waar ek en my geliefde heerlik in die sneeu op ‘n plaas gaan bly), weer terug Duitsland toe, dan na Montfort l’Aumary (‘n pragtige middeleeuse Franse dorpie) waar ‘n vriendin van ons bly, terug na Duitsland, en dan die laaste paar dae weer terug na Athene. Tussen Krismis en tot na Nuwejaar is dinge redelik planloos, met net so ‘n vae idee wanneer ons in Frankryk gaan arriveer en wanneer ons weer teruggaan. Londense vriende sal ons ook daar ontmoet, en dit gaan ook heerlik wees om hulle te sien.

Intussen staak die Griekse lugvaartkontroleerders vandag en môre… Manlief seg ek moet die lugdiens bel en vra wat hulle gaan maak. Ek seg nee, ons los dit. Ons sal Donderdag sien of ons in Athene arriveer of nie!

Darem een ding wat ek die jaar geleer het: Een dag op ‘n slag, een tree op ‘n keer.

by elizac

AI DIE KRISMISBONUSSE!

Desember 13, 2010 in Sonder kategorie

Die sensitiewes onder ons moet my maar vergewe, maar ek betaal beslis geen kersbonus aan die vuilgoedverwyderaars nie. Elke maand moet ek ‘n spesifieke bedrag op my munisipale rekening betaal sodat hulle ‘n salaris kan kry, en as hulle dan die vuilis kom verwyder, lê daar oral nog vuilgoed rond. Hulle tel net die sakke op en maak nie rondom skoon nie. Bonus? Dit word mos reeds betaal! Ek sien nie mense wat na die onderwysers toe loop en vir hulle ‘n geldjie aanbied omdat hulle so mooi na hul kinders omgesien het in die jaar nie…

by elizac

VOETEWAS

Desember 10, 2010 in Sonder kategorie

Eintlik weet ek nie hoe om hierdie post te begin of selfs eens te skryf nie. Dit kan so maklik in agterdeurkomplimente ontaard, en dis nie die bedoeling nie. So kom ek vra mooi, voordat ek begin, moet asseblief nie vir my vertel hoe wonderlik ek is of enigiets van die aard nie. Ek doen bloot wat my opdrag is.

Ek het naamlik op Dinsdag 7 Desember vanaf tienuur by die chemokamer van die St Dominick’s Hospitaal hier in Oos-Londen die pasiënte se voete gaan was en masseer en ingesmeer met lekker room. Namens die Pink Chicks, natuurlik (www.pinkchicks.co.za) en met my pienk pruik op. Almal in die chemokamer (die susters ingesluit) het ook elkeen ‘n pakkie pienk prestik gekry met die Pink Chicks se besonderhede op. Aanvanklik was ek maar bedug op die reaksie van die pasiënte, hul gaste en die personeel, maar ek het deurgedruk. Het mos al vroeër toestemming gekry van die hoofsuster, die praktykbestuurder, die maatskaplike werker, en ek het ook vir Cancercare ingelig. Net sodat niemand nou moet dink ek trap op hul toontjies nie. Alhoewel ek dit eerder sou gewas en gemasseer het as hulle opgedaag het.

En so het ek toe my Dinsdag deurgebring: plat op die vloer, met mense se voete op my been gedruk en met my wat masseer en vrae vra en praat probeer raad gee oor hoe om te ontspan. Eers voetjies in bietjie lou water met Savlon gehou – daar mag geen infeksies wees nie – en toe stadig gemasseer. Op die ou-end het ek net vyf mense se voete gedoen, maar ek was tot kwart voor 2 daar.

Dit is ‘n nederige ervaring, en ek dink dit laat mense nogal ongemaklik voel as ‘n wildvreemde vrou skielik aanbied om hul voete vir hul te masseer. Maar as ‘n mens self gemaklik is met die daad, laat dit ander ook ontspan. En om iemand se voete te was en in te vryf, is ‘n totale daad van liefde.

Liefde teenoor Dawn, wat Dinsdag nie ‘n goeie chemodag gehad het nie. Teenoor Janet, teenoor die boer van Queenstown, teenoor die vrou van Glen Navar. Laasgenoemde twee is albei met Graad 4 kanker gediagnoseer, en die boer het nog ses maande – as hy gelukkig is. Hy sê hy is nie ‘n goeie Christen nie, want hy doen nie al vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen nie. Vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen? Wat is dit? Ek het gedog Christus het aan die kruis gesterf sodat ons verlossing kan ontvang – ook van die “vyf goed wat ‘n Christen behoort te doen”! Ek het gedog Christene leef ‘n lewe van dankbaarheid en nie van wette nie. Ek deel toe maar my begrip van hierdie dinge (en ja, dit is ‘n aardse begrip) met die oom. Net omdat ek nie elke Sondag in die kerk sit saam met die gelowiges nie, beteken nie dat ek ‘n sleg Christen is nie. Eintlik weet ek nie regtig wat die verskil tussen ‘n goeie en ‘n slegte Christen is nie. Ek’t gedog daar is net Christene.

Maar eintlik wil ek daar nie “sendingwerk” doen nie. Eintlik wil ek daar net mense se voete was. Uit liefde. En uit my eie dankbaarheid.

O, moet darem byvoeg: terwyl ek so op die grond sit kom die een onkoloog in en hy begin vreeslik lag vir my met my pienk pruik. Hy sê dis ‘n uitstekende idee. Gister bel hulle my om te vra waar ek die pienk pruik gekoop het, want iemand anders wil ook begin pruike dra na die chemokamer toe.

En twee van die susters het vir my baie dankie gesê, en een van die administratiewe beamptes het gesê hulle dink dit is ‘n baie cool ding om te doen. Ek het darem ook ‘n vet druk van een van die susters gekry!

by elizac

VANDAG…

Desember 10, 2010 in Sonder kategorie

… is ek so ‘n bietjie moedeloos. My man is met tipe twee diabetes gediagnoseer. Dit dreig nou al vyf jaar lank, en hy wil nie hoor nie. So nou is dit amptelik. En ek gooi my speelgoedjies rond, maar ek weet ek kan niks daaraan doen nie. Van hom verwag ek om te gaan nalees oor diabetes en wat hy kan doen om sy liggaam te help. Of hy dit gaan doen, is ‘n ander saak. Partykeer kan slim mense baie dom wees.

En dan dink ek nog: eintlik het ons so ‘n lekker lewe saam. Eintlik gaan dit so goed met ons. Is dit nou die duiwel se manier om ons terug te kry? Het die kanker nou nie goed genoeg gewerk nie? Maar ek weet hier in my binneste: leefstyl. Te lekker leef. Te lekker eet. Nie ophou nie.

Hier het ek al weer nie beheer nie. Nie oor my man nie.

by elizac

WAARBORGE

Desember 8, 2010 in Sonder kategorie

Partykeer dink ek: as ek net ‘n waarborg kan kry. Maar daar was nie eens ‘n waarborg op hierdie lyf nie, so hoekom sal daar nou ‘n waarborg wees op hierdie lewe?

by elizac

OG EK HET TRANE IN MY Oë!

Desember 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s vandag heel emosioneel: het vanoggend daarin geslaag om maskara aan my wimpers te sit! Dis die eerste keer in maande! Daar is weliswaar net 3 langes bo en tien kortes onder, maar dis iets. Ek is uiters dankbaar dat hulle wel groei, want baie mense verloor hul wenkbroue en ooghare permanent na chemo. As ek nie grimering aanhet nie, lyk ek soos iets uit ‘n bangmaakstorie, want daar waar die wimpers was, lyk dit so wit. Dit lyk dus of ek permanent wit kringe rondom my oë het. Gelukkig kan ek ‘n oogpotlood gebruik om dit te verdoesel, maar ek is nou nie een van daardie vroue wat elke uur of twee my grimering gaan bekyk nie; dus moet dit wat in die oggend gebeur het, die hele dag hou. Wat beteken dat dit nogal skrikwekkend kan lyk hier na die middag se kant toe.

En wie sou nou kon dink dat chemo so ‘n harige storie is? ‘n Mens sou dink dat jy glad nie oor hare dink nie, want jy het nie hare nie. Maar nee, dis omtrent al waaraan jy dink: hoe om ordentlik te lyk sonder hare, hoe om ordentlik te lyk sonder wimpers, hoe om ordentlik te lyk sonder wenkbroue, hoe te glad dit op sekere plekke is. Ook hoe om aan te trek en grimering aan te sit sonder om die kinders skrik te maak.

Eers was dit die besluite oor sal dit ‘n pruik wees, of sal dit ‘n serp wees. En aangesien ek toe lyk soos die Michelinmannetjie met die serp op, is die besluit toe namens my geneem: pruik sal dit wees. Die pruik het weer tot vele momente aanleiding gegee. Hoeveel van julle kuier by mense en dan hardloop die gasvrou deur die huis terwyl sy skree: waar is my hare? Ek is nou al so gemaklik, ek bestuur sonder hare met die pruik langs my op die passassierssitplek. Soos ‘n mak hond. Dan sit ek dit vinnig op wanneer ek stop, trek ‘n kam deur die hare, en daar gaan ek. Die een voordeel van die pruik in die Oos-Londense reën is dat dit nie van styl verander omdat dit nat is nie. Nee, dit word net so mooi weer droog ook.

En ‘n mens sou nou ook dink dat jy kan bespaar op wakse en skeer en so aan, maar die beenhare het hardnekkig bly uitkom en elke drie weke moes ek net vinnig ‘n skeermes oor die bene laat gly. Nou is hulle so voor-op-die-wa dat ek omtrent elke dag moet skeer, en ek het al ‘n waks geboek vir volgende week! Nie gedink ek sal weer hierdie jaar hoef te waks nie! Ek het selfs al hare op my arms! Gelukkig was hulle nog altyd baie lig en glad nie opvallend nie.

Ek droom al van hare kam, van mooi wimpers hê… Dis omtrent ‘n obsessie.

Diè dat ek vanoggend amper in trane was toe ek wel die bietjie maskara kon aansit.