Jy blaai in die argief vir 2010 November.

by elizac

KERSFEES IS OP PAD!

November 30, 2010 in Sonder kategorie

My twee engele het vandag die kersboom opgemaak. Kyk net hoe oulik! Dit was Nontombi se eerste keer so sy kon die ster bo-op sit. Sesona sê reeds: Oh! We used to hang this one! Asof sy al die afgelope tien jaar kersboom opmaak, en sy’s net sewe!

by elizac

REACH FOR RECOVERY

November 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s vandag poot-uit na ek en ‘n vriendin gisteraand saam met die dames van Reach for Recovery (www.reach4recovery.org.za) gepartytjie het. En nee, ek het net een glas wyn gehad, maar dit was ‘n lang aand met baie gesels en grappies. Aan tafel was Yvonne, wat op 59 gediagnoseer is met borskanker, Dawn, tagtig, en op 73 vir die eerste keer gediagnoseer – sy moes reeds twee keer daarna hoor sy het kanker – en Dulcie. Die gasspreker was Colin Moss se ma – en ek moet nou eers ‘n soektog begin om haar naam op te spoor, want ek het nie meer my kaartjie nie. Sy het ‘n droë, swart sin vir humor. Die tipe waarvan ek hou. Tussendeur het ons geëet en gelag en gesels. Dawn en Dulcie is ‘n totale inspirasie, en ek sal graag saam met hulle wil gaan tee drink. Alhoewel ek dink hulle sal dalk eerder ‘n whiskeytjie wil drink. Moet sê: ons het in gemeen dat ons oor min dinge skuldig voel en net die lewe wil geniet terwyl ons kan!

En o ja, ek het nie meer my kaartjie nie, want ek het iets gewen in die gelukkige trekking: ‘n bottel sjampoe!

NS Ek kry nie Colin Moss se ma se naam nie. Maar ek weet nou heelwat meer van Colin Moss.

by elizac

NAAIS

November 20, 2010 in Sonder kategorie

Ek kom agter dat mense deesdae verskriklik gaaf is met my – ten minste diè wat my ken, al is dit net van sien. Hulle luister bedagsaam na my stories, al is dit vervelig. Hulle vra hoe gaan dit en hulle neem nie aanstoot oor wat ek sê nie. Ek dink hulle is bang ek verwissel die tydelike met die ewige, en dan was hulle naar met my, en dan sal hulle skuldig voel!

Soos vandag by die mark. Nou ek weet nie of julle dit weet nie, maar daar is ‘n ongesproke hiërargie onder die stalletjiehouers: dis jou plek daai en dis my plek daai, en ek het die beter plek, want ek is al langer hier as jy, en so aan. Maar ons baklei nie daaroor nie en ons is eintlik baie vriendelik met mekaar. As iemand nuut nou my plek kom vat voor ek opdaag, dan praat ons daaroor en dan is dit nou ook verby. En as iemand besluit om nie meer mark toe te kom nie, dan skuif die volgende ou op na daardie plek, as dit nou ‘n beter plek is. Met die oppak en die afpak probeer ons ons beste om mekaar in ag te neem: jy parkeer so dat daar plek is vir nog een om af te pak (of op te pak) en jy help die tannie om ‘n baksteen onder haar motor se wiel te sit, want jy weet al die handrem werk nie meer so lekker nie. As iemand gou wil toilet toe gaan, of ‘n ietsie wil gaan koop, dan hou jy toesig oor die stalletjie en jy neem die betaling en haal maar eers kleingeld uit jou eie beursie, of julle ruil produkte by mekaar. En ons kla by mekaar oor hoe warm of hoe koud dit is, of hoe stil dit is, of hoe besig dit is.

Oor die algemeen is die mense dus redelik vriendelik. Maar daar is nou een kêrel daar by ons wat nogal redelik onbeskof is. So het ‘n paar van ons nou al onder sy tong deurgeloop as ons iets doen wat hom nie aanstaan nie. Gewoonlik het dit te doen met die parkering vir die aflaai of die oppak. Een oggend was hy laat. My stalletjie is in die parkeerterrein. Ek het dus my voertuig so parkeer, dat niemand op my staanplek kan parkeer nie. Maar ek moes eers wag vir een van die ander stalletjie-eienaars wat nog goed aflaai. Die mense langs my het al beweeg toe ek nog wag. En hier kom meneer laat aangery, en hy is die hel in, want ek het “selfsugtig” parkeer. Wat beteken dat hy nou vyf meter verder moet loop met sy goed. Skel skel skel. Ek’t hom geïgnoreer en daarvan vergeet.

Tot vandag. Toe dit by die oplaai kom, staan meneer se bakkie dwars oor twee parkeerplekke. En daar is ‘n tannie en ‘n oom wat hulle goed moet oplaai, maar hulle kan nie hul voertuig intrek nie, want syne staan daar. En hy gesels. Die oom het ‘n dubbele hartomlyning gehad, so hy is ook nie wel nie. Hy kom skinder daar by my en sê: kyk nou daai een! As ons dit gedoen het, was die hel nou weer los! Want hulle het ook al onder sy tong deurgeloop. Die tannie sê net: ek is te bang om iets vir hom te sê. Ek vra hom toe mooi om sy bakkie asseblief anders te parkeer, want die mense wil hul goed oplaai. En hy’s katvriendelik met my. Te oulik.

Seg ek vir die tannie: hy’s te bang om iets leliks vir my te sê!

My grootste probleem is natuurlik dat ek nou deesdae verwag dat mense naais met my sal wees. En ek wonder: hoekom kan hulle nie maar altyd gaaf wees nie? Hoekom moet ‘n mens met kanker gediagnoseer word voordat mense vriendelik is met jou? Hoekom kan ons mekaar nie meer in ag neem nie? Hoekom is dit nie maar doodgewoon net goeie maniere nie?

by elizac

STORIES

November 19, 2010 in Sonder kategorie

Daar is baie mense op hierdie aarde wat ‘n storie het om te vertel. Om die waarheid te sê, ek dink elkeen van ons het ‘n storie om te vertel. En baie van hierdie stories sou uitstekende storielyne kon wees vir ‘n sepie soos Sewende Laan (ja, ja, ek sal probeer om op te hou hierna!), sonder dat daar enige waansinniges is, of dat mense van hulle koppe afraak. As daar nou een ding is wat ek geleer het, is dit dat mense ‘n besondere vermoë het om verskriklike terugslae te oorleef sonder om die kluts kwyt te raak.

Ter illustrasie, ‘n paar stories:

Vrou staan op Kersdag op. Daar is ‘n klop aan die deur. Staan daar ‘n dame met ‘n kind op die heup: wanneer verlaat jy jou man? Hy het gesê jy en hy gaan die einde van die jaar uitmekaar, maar jy is nog nie weg nie. Egskeiding. Baklei. Vrou los man, koop haar eie huis, gaan aan met haar lewe. Man verloor die vrou wat vir twintig jaar vir hom gesorg het: sy het die slaghuis beman, ekstra geld ingebring, en plaas versorg wanneer hy op “sakebesoeke” was. Girlfriend doen nie die dinge nie. Hy besef wat hy verloor het en begin weer by eks kuier. Hulle gaan vir berading. Hulle trou weer. Vyf jaar later staan dieselfde dame op die stoep met nog ‘n kind: wanneer loop jy dan nou? Jou man het gesê sodra jul kind uit matriek is, dan skei julle, en jy’t nog nie geloop nie. Die keer kry sy niks uit die egskeiding nie. Sy het nooit die voorhuwelikse kontrak gelees nie en sy was getroud buite gemeenskap van goedere sonder die aanwasbedeling. Sy het ook nie meer ‘n vaste werk nie, want haar eks het gesê sy moet dit los, want dit veroorsaak te veel stres. Sy moet onder begin. Eks gee nie ‘n sent nie – dit wat sy nog kon gekry het, word vinnig deur die familie in ‘n trust gesit. Sy skep haar eie lewe. Die eks-familie bly haar kontak vir raad… Eks het ‘n’ tref-en-trappie in Pretoria en toe hy weer sien, staan tref-en-trap op sy voorstoep: ek’s swanger en hier is ek. Trou met tref-en-trap, maar hou nog altyd vir girlfriend aan. En die storie hou net aan.

Vrou besef na twintig jaar: my man behandel my al jare soos ‘n kind, en ek wil nie meer ‘n kind wees nie. Veral ook omdat sy iemand anders ontmoet het wat haar nie soos ‘n kind behandel nie. Egskeiding. Begin ‘n verhouding met ‘n getroude man. Drama. Een dag aan, en die ander dag nie. Nog steeds vriende met haar eks, wat vir almal vertel hy glo hulle sal saam oud word. Nog detail? Laat my eers stop. Die storie hou nog aan.

Vrou werk by maatskappy waar hulle met allerhande prosedures begin om van haar ontslae te raak. Alles wettig. Die storie hou nog aan.

Man versorg sy geliefde wat HIV positief is. Die werk weier om sy geliefde op die mediese fonds te sit – al mag hulle nie- want hulle is nie getroud nie. Maar dis deur-en-deur diskriminasie, want daar is heteroseksuele paartjies wat saambly en nie getroud is nie, maar hulle kan op mekaar se mediese fonds kom, maar sy geliefde mag nie, want hulle is gay. Niemand sê dit nie, maar die finale handtekening word geweier. Uiteindelik trou hulle voor die magistraat, en nou is daar geen verskoning meer vir die diskriminasie nie. Maar dit is te laat: die virus het reeds die maat se gesig aangetas, en die antiretrovirale middels werk nie meer nie. Hy sterf. Man moet voortgaan met sy lewe. Die storie hou aan.

Vrou sit in chemokamer. Sy huil. Sy het drie kinders aan die dood afgestaan: een van die tweeling was ‘n stilgeboorte; die ander was serebraal verlam. Hy het op 21 gesterf. Haar derde seun en sy vrou is in ‘n motorongeluk dood. Hulle laat ‘n kind van vyf jaar agter, wat saam met haar tante in Nieu-Zeeland gaan bly. Vrou word gediagnoseer met borskanker en kry ‘n dubbele mastektomie. Haar papegaai gaan dood. Haar hond word omgery. Sy word gediagnoseer met longkanker. Sy klou verbete vas aan die lewe. Die storie hou aan.

‘n Jong man van twintig ly aan depressie. Hy pleeg selfmoord en laat sy ouers agter met al die bagasie en vrae. Hulle storie hou aan.

Michele Lesley Jerome (Mike) Smith sterf op 7 November 2010 op ouderdom 48. Hy het kanker gehad. Hulle het hom ses maande gegee, maar hy het baklei ter wille van sy seuns. Vandag is hulle albei uit die skool en werkend, maar hulle onthou ‘n pa met ‘n positiewe ingesteldheid. Hulle lewens gaan aan.

Dan is daar die haarkapper wat besluit sy wil ‘n plekkie by die see hê. En sy trek see toe en begin haar salon en ontmoet die man van haar drome. Haar storie gaan aan.

Klink bogenoemde vergesog? Want elkeen van hierdie stories is die waarheid. En heeltemal dramaties genoeg sonder dat iemand van die trollie afgeval het, of moord gepleeg het, of in die tronk beland het.

Maar die groot storie hier is: dis nie die einde nie. Daar is nie maklike oplossings, soos in Sewende Traan nie. ‘n Storielyn vir ons gewone mense kan nooit ophou nie.

NS Ek het na Sewende Laan se webwerf gegaan en my kommentaar daar gelos – ook skakels na my blogs! Hopelik lees iemand dit en kry ook ander mense se kommentaar van daar.

by elizac

VRAISEMBLANCE

November 19, 2010 in Sonder kategorie

Mmmm, laat my ‘n slag intelligent klink. En ja, hierdie pos is al weer oor 7e Laan, en spesiaal vir die skrywers bedoel. Ek sal staaadig praat…

In die literatuur is daar ‘n begrip genaamd vraisemblance. As jy Afrikaans en Nederlands op universiteit bestudeer het, behoort jy hierdie begrip al raak te geloop het. Om die waarheid te sê, jy behoort dit in enige taalverwante vakgebied raak te lees. Eenvoudig gestel – en julle kan Wikipedia ook hiervoor raadpleeg! – verwys dit na “the quality of seeming to be true or likely”. Met ander woorde, wanneer ‘n voorval in ‘n storie plaasvind, moet ek kan glo dat dit wel kan plaasvind. So, byvoorbeeld, moet ek kan glo dat wanneer Rooikappie deur die bos loop, sy wel ‘n pratende wolf kan vind. Ek moet ook kan glo dat hierdie wolf haar ouma sal opvreet en dat die ouma wel lewendig weer uit sy maag kan kom (alhoewel ek as kind gewonder het hoe die houtkapper dit reggekry het om nie vir ouma binne die wolf ook raak te kap nie!). Sit ek nou dieselfde pratende wolf in 7e Laan, sal dit egter belaglik voorkom. Binne die konteks van 7e Laan behoort wolwe nie te praat nie. Binne die konteks van Rooikappie is dit wel moontlik.

Nog ‘n voorbeeld: wanneer Alice daar in Towerland (of is dit nou Wonderland? ek wonder) ‘n netjies aangetrekte haas verby haar sien hardloop en sy hom volg, in die haastonnel beland en dan allerhande avonture beleef, glo ek dit. Binne die konteks van die storie is dit geloofbaar.

Onlangs was daar ‘n reeks op SABC2. Pushing Daisies, dink ek, was die naam. In hierdie verhaal het ‘n jong man uitgevind dat hy dooie dinge weer lewendig kan maak, maar dat daar ‘n prys was om te betaal: iets anders sou sterf in daardie mens/dier/ding se plek. Ons weet almal dat dit onmoontlik is (ons dink in elk geval so), maar binne die leefwêreld van die storie is dit moontlik.

Terug by 7e Laan. Binne die leefwêreld van Hillside en die karakters gebeur daar gereeld dinge wat teen die logika van die storie ingaan. Dit is veronderstel om in die werklikheid af te speel. Ons as kykers moet ons kan vereenselwig met die storielyn, omdat ons ons kan verbeel dat dit ook met ons kan gebeur, of ten minste met mense om ons. Wanneer Paula dan haar uittree-annuïteit in kontant omskep, dink ek onmiddellik: maar dit kan mos nie! Of wanneer Emma en Dawid op ‘n vliegtuig spring sonder dat ‘n visum gereël is, dink ek: dit kan mos nie! Waar is die visums? Met watter paspoort reis hulle? En ja, selfs vir Indië het ons gewone Suid-Afrikaners visums nodig – dit is net “gratis”, alhoewel jy vir koerierkostes moet betaal as jy nie naby ‘n Indiese ambassade bly nie.

Ek wil so graag iets in Afrikaans kyk, en ten minste is daar nie grappies waarvoor ek nie lag nie, of onsinnige name soos “Tommie Tottie” of so nie. Maar ai, ek wens so ek kon die storie glo!

by elizac

AL WEER DIE L(W)AAN

November 17, 2010 in Sonder kategorie

Die volgende vrae hou my snags wakker:

Hoekom weet Neville, die briljante joernalis en redakteur, nie wat in sy eie koerant aangaan nie? Soos met “vandag” se koerant: die arme Sanjay (is dit sy naam?) is deur Matrone oorweldig en gedwing om ‘n artikel oor haar te skryf. Die liewe Neville lees dit eers nadat dit in die koerant verskyn het, en blameer Sanjay daarvoor. Huh? Het daai bokkie nie by sy lessenaar gestop op pad drukkers toe nie?

En waarom is Vanessa en Xander uitmekaar? Het ek iets gemis? Was dit ‘n gevry met haar eks, die dwelmsmokkelaar?

Hoe op deeske aarde kry daai girls dit reg om klere in ‘n boetiek te koop? Wat verdien kelners in Hillside?

Wat kos cocktails in Hillside? Moet min wees, want hulle is gedurig aan de cocktail.

Hoe het Alice dit reggekry om “verveeld” te wees met haar werk as BESTUURDER van die klub? Is dit nie die tipe werk waar jy snags nog laat wakker is en soggens vroeg al weer moet regstaan nie? En hoe kan sy ‘n werk in ‘n geleentheidsbestuurmaatskappy daarmee saam doen?

Dieselfde geld Aggie: hoe kry sy dit reg om juwele te ontwerp en by die koerant te werk? Word sy nie betaal om ten minste ag ure op kantoor te spandeer nie? En weet die skrywers van 7e Traan presies hoe lank ‘n mens moet studeer voordat jy kan juwele ontwerp? Of sit en ryg sy (soos ek) krale aanmekaar?

Hoe kry Matrone dit reg om matrone van die ouetehuis te wees EN in die boekwinkel te werk? Is matronewees dan nie meer ‘n voltydse werk nie?

Hoe kry Errol dit reg om soggens, wanneer hy al op skool moes gewees het, in die koffiewinkel rond te dwarrel om koerante af te lewer? Of begin skole in Hillside dalk eers nege-uur?

Hoekom raak net mense wat dieselfde kultuur (en dikwels ook velkleur) op mekaar verlief? Daar het Kabelo nou vanaand ‘n oulike Sotho girl ontmoet. Dis net Vince wat oor die grense heen gekuier het. En sy was mal, so dit tel nie.

En hoekom draai die verliefde paartjies altyd hul koppe weg van mekaar as hulle mekaar drukkies gee? Mense wat vir mekaar lief is, kyk na mekaar toe!

En, gepraat van soen, hoe op aarde kry Annelie dit reg om vir Deon Coetzee te soen?

Geen wonder ek ly aan slapeloosheid nie!

by elizac

POPHUIS

November 10, 2010 in Sonder kategorie

Partykeer dink ek ek sou ‘n sleg ma gewees het. Veral wanneer ek, soos vanmiddag, my lekker tuismaak voor die tiewie om my opgeneemde Dr Phil te sit en kyk. Met ‘n koppie tee kompleet. En dan kom daar ‘n klop aan die deur en daar staan my sewejarige peetkind en sy wil kuier. En dan is hierdie antie nie altyd baie lekker nie.

Maar dan, soos vanmiddag, maak ek die deur oop en ons twee speel so lekker saam, dat ek skoon van die tyd en al my geite vergeet. En ek glo mos ‘n kind moet besig wees. So daar moet gebrei word en gehekel word en genaaldwerk word en geverf word – dink dit uit, en ons sal dit doen. Solank dit kreatief is. Op die oomblik is sy nog ‘n bietjie klein vir brei en hekel, maar ons kan krale inryg en verf. Tans maak ons ‘n pophuis. Vandag het ons begin met die plakpapier. Sodra ons genoeg vuurhoutjiedosies het, sal ons begin met die meubels!

Kyk die antie se kaal kop!

by elizac

KURWES

November 10, 2010 in Sonder kategorie

Vir 2010 het ek twee (eintlik drie) persoonlike voornemens gehad: ek sal tien kilogram verloor voor ons na Griekeland vertrek, en ek sal by daai vrolike gimnasium vir vroue, die een met die kurwes, gaan aansluit. Ten einde die laaste een te bereik, moes ek natuurlik eers my lidmaatskap by die aktiewe maagde opgee, wat dus eintlik my derde voorneme was. Dit is dus met groot genoegdoening dat ek hier, twee maande voor die einde van die jaar, kan aankondig dat ek al drie voornemens bereik het.

Weliswaar het dit nou nie presies so verloop soos wat ek gedink het nie. Ek het wel my lidmaatskap by die Aktiewe Maagde opgegee aan die einde van Januarie, maar daarna het die ander twee voornemens ‘n bietjie deurmekaar geloop. Ek het eers die tien kilogramme verloor, en uiteindelik, aan die einde van Oktober, by die Kurwes gaan aansluit. Verder was ons toe nie in Junie/Julie in Griekeland nie, maar ons sal wel in Desember en Januarie daar wees! En die dieet wat ek noodgedwonge moes volg by tye, is beslis nie aan te bevele nie. Tensy daar iemand is wat dink chemoterapie (waarom word dit “terapie” genoem? Dit kom nie naby ‘n lekker massering nie!) en mondsere is ‘n briljante plan om gewig te verloor. Ek moet darem byvoeg: ek het ‘n verder twee verloor deur bloot nie te ooreet nie, en is dus nou al verby my mikpunt van tien. En soos dit maar met doelwitte gaan, het ek hierdie een ‘n bietjie verskuif: nog vyf, asseblief!

Vandag was ek nou vir my tweede sessie by Kurwes. Natuurlik moes ek eers ‘n longaandoening opdoen voordat ek tot die uitvoering van my voorneme kon oorgaan, maar die het intussen verbeter. Lyk my mens moet eers jou longe uithoes voordat jy jou longe se kapasiteit kan verbeter. Maar na die tyd kon ek toe ook hare was. Wel met ‘n miniskule hoeveelheid sjampoe, maar tog.

En vandag, daar in Kurwes,  met die lig van ‘n masjien, voel ek toe vir die eerste keer soos ‘n survivor. Moenie vra hoekom nie.

Miskien was dit omdat Cher vrolik saam met my gesing het.

by elizac

46

November 8, 2010 in Sonder kategorie

Op Vrydag 5 November was dit my ses-en-veertigste verjaardag. Ja, ek is reeds 46 jaar op hierdie aarde, en partykeer voel dit so ongelooflik kort. Ek onthou nog destyds in die laerskool moes ons voortdurend opstelle skryf oor die jaar 2000. Dit was soos ‘n magiese getal met oneindige moontlikhede ver in die toekoms. Ek het toe al gaan sit en uitwerk dat ek 35 jaar oud sal wees in die jaar tweeduisend – eintlik 36, maar aangesien ek aan die einde van die jaar verjaar, sal dit 35 wees. Dit was nogal ‘n skok vir my. Om te dink dat ek 35 sal haal! Nou’s dit al tien jaar later en die jaar 2000 was toe nie die waterskeiding wat almal gedink het dit sal wees nie. Ons droom nog steeds van robotte wat ons huise vir ons sal skoonmaak… My ses-en-veertigste jaar op hierdie aarde was (en is steeds) vir my ‘n waterskeidingsjaar: voor en na. ‘n Jaar terug was ek iemand anders, wat gedink het sy sal sommer eendag ‘n hartaanval kry en dood neerslaan. Wat oefening gedoen het, omdat sy haar cholesterol wou laag hou, en wat goeie kos geëet het vir dieselfde redes. En wat gedink het: hoe geseënd is ons familie nie. Daar het eintlik nog so min verkeerd geloop in ons gesin. Een egskeiding en ‘n miskraam.

Verlede jaar die tyd was ek bekommerd oor my oudag en wie na ons gaan kyk wanneer ons oud is. Vandag is ek dankbaar vir ‘n jaar wat aan my lewe toegevoeg is. Vandag sal oudword vir my goeie nuus wees.

En hoe het ek my ses-en-veertigste jaar gevier? Met ‘n dankbaarheidstee vir almal wat hierdie jaar iets in my lewe beteken het. Ek het vyftig vroue genooi en op die ou-end het so dertig opgedaag. Hul opdrag was om nie vir my geskenke te koop nie, maar om eerder ‘n donasie vir die Pink Chicks (www.pinkchicks.co.za) te gee. Uiteindelik het ons R1610 ingesamel. Dis seker nie sleg nie, maar ek vermoed ons sou meer ingesamel het as almal besef het dis eintlik my verjaardaggeskenk! En ons het vreeslik lekker geëet – en die jaar het ek self niks gedoen nie. Ek het bloot koeke en soutgoed gaan bestel en daarvoor betaal en klaar.

Die aand het ek en vier vriendinne gaan uiteet (my man was in Port Elizabeth vir ‘n vergadering). En ons natuurlik so besimpeld gelag oor klein goedjies, sodat dit ‘n baie vrolike aand was. Egter net een bottel wyn tussen die vyf van ons, alhoewel dit meer geklink het na ‘n bottel (of twee) per persoon.

O, en die oggend het my ander peetkind, Sesona, my wakker gesing met “mnini emnandi kuwe, mnini emnandi kuwe, mnini emnandi kuAuntie!” en vir my ‘n tuisgemaakte kaartjie gebring en ‘n koekie Dove seep. Te kosbaar vir woorde. Sy is nou sewe en het vanjaar maar erg aan die kortste end getrek omdat haar tante nie altyd daartoe in staat was om aandag aan haar te gee nie.

Ons koektafel. Die tafeldoek is ‘n sari wat ek in Indië gekoop het vier jaar gelede.

by elizac

AI, DIE LOGIKA

November 3, 2010 in Sonder kategorie

Wie van julle ken die storie van Sister Logical en Sister Mathematical wat vir ‘n middagwandeling gegaan het? Ek sal probeer vertel so goed ek kan onthou. Die tweetjies gaan stap die middag laat vir hulle gewone middaguittoggie. Meteens spring daar ‘n man uit die bosse en skree: Ek gaan julle nou raap en skraap! Sister Mathematical skree oeeeeeee! en Sister Logical skree oeeeee! en Sister Mathematical sê: wat gaan ons maak? Ek het pas uitgewerk as ons teen so-en-so ‘n spoed hardloop oor so-en-so ‘n afstand, sal hierdie man nog altyd vinniger as ons kan hardloop. Hy sal ons kan inhaal en ons dan raap en skraap! Sister Logical sê vir Sister Mathematical: Sister, hardloop jy in daardie rigting solank en dan probeer ek hierdie kant sy aandag aftrek. So gesê en so gedaan. Sister Mathematical hardloop dat sy bars terug klooster toe en kom uitasem daar aan. ‘n Hele tydjie later kom Sister Logical totaal gedaan en verinneweerd daar aan. Oeeeee, sê Sister Mathematical, wat het gebeur? Wel, sê Sister Logical, toe jy weghardloop, sê die man vir my: Lig jou rok op! Oeeeee! skree Sister Mathematical, en toe? Wel, sê Sister Logical, toe sê ek vir hom: Drop your pants! Oeeee! skree Sister Mathematical, en wat toe? Wel, sê Sister Logical, dis logies: man with pants down is slower than woman with dress up.

My man noem my Sister Logical. Vir ‘n goeie rede. As ek iets teenkom wat ek nie lekker verstaan nie, of wat nie vir my sin maak nie, dan begin daar sulke ratjies in teenoorgestelde rigtings in my kop draai. En dit werk nie so goed nie. Dan begin ek vrae vra tot dinge vir my sin maak.

Kyk nou maar net weer vir 7e Traan op die oomblik. Die week daag Madel wragtig weer in Hillside op, en verlede week was sy nog so onkapabel dat die liewe Christelle, wat ‘n verfkwas kan vashou, maar nie ‘n lepel nie, haar geldsake moet hanteer. Dit nou ‘n vrou wat vir jare in die afwesigheid van haar oorlee man ‘n sportwinkeltjie so goed bestuur het, dat dit haar en haar familie skatryk gemaak het. Skielik kan sy nie meer haar eie sake hanteer nie. Maar ‘n week later daag sy fris en gesond in Hillside op en neem besluite en bekommer haar oor haar kind. Wat ook nou na jarrrre en jarrrre onthou het dat sy gemolesteer is. Of watookal. En ek moet die nonsens sluk? En daai kookboek wat hulle so blitsig aanmekaar geslaan het. Met resepte van vyf mense. Jislaaik, lyk my ek moet in Hillside gaan werk. Dan kan ek ook op ‘n kelnerin se salaris in boetieks gaan koop en elke aand gaan cocktails by ‘n fênsie restaurant. Alhoewel, vroue in Hillside staan nie ‘n kans nie. Die meeste van hulle word mallerig na ‘n tyd.

Dalk is dit tyd dat ons DieEsTieWie aanskaf. Ten minste sal ek dan dieselfde make-over oor en oor kan kyk.