by

GOD EN KANKER

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek sien daar is ‘n mens of twee wat met mekaar verskil op my blog. En dis goed so – daarmee het ek nie ‘n probleem nie. Waarmee ek wel ‘n probleem het, is die feit dat ek vertel word dat ek siek geword het as gevolg van langdurige sonde in my lewe. Ekskuuuus? Watter sonde, watter “langdurige” sonde, wat ek gepleeg het – en daar is waarskynlik heelwat van hulle as ek nou sal gaan sit en tel – was so erg dat ek borskanker moes kry? En hoekom loop daar derduisende mense daar buite rond wat nie siek is nie, maar wat moor en steel en skade aandoen, maar hulle word nie ook siek nie? Of heelwat erger nie? Ek is al sedert ek tien was ‘n toegewyde kind van die Here. Een van daai wat maar ‘n redelike pyn in die agterstewe was (en sekerlik soms nog is). Maar ek kan nie in ‘n God glo wat mense laat kanker kry om hulle te straf vir hulle sondigheid nie. God oordeel aan die einde van ons lewens en gee ons altyd nog ‘n kans. Ek kan wel glo in ‘n gebroke wêreld wat inmeng in ons lewens, ‘n vyand wat ons vertel ons is nie goed genoeg nie, of wat God se skepping misbruik om ons siek te maak, of wat tussen ons en God wil staan.

Daar is dae wat ek met God baklei omdat ek nie wil siek wees nie. En dis mos hierdie vreemde siekte: jy voel fisies goed, maar soms slaan die implikasies jou op ‘n emosionele vlak. So mense kan nie van buite sien dat daar fout is nie – veral nie wanneer jou hare weer begin groei nie. Dan vat ek maar ‘n afdag (of twee) en probeer net my siel heelmaak.

Ek probeer ook nog ‘n saak uitmaak op ‘n kwasi-sielkundige vlak dat ons nie doen wat ons veronderstel is om te doen in hierdie wêreld nie, en daarom word ons siek: die anomalie van wie jy werklik is en dit wat jy voorgee om te wees, raak dalk te groot, en dit veroorsaak dat jy siek word. Miskien is dit die “langdurige” sonde…

Want ek is ‘n kunstenaar en ‘n onderwyser. Maar, omdat my salaris vir brood en botter sorg, het kuns in die niet verdwyn. En my siel voel die verlies.

Maar moet asseblief nie vir my kom vertel dat ek sonde gepleeg het en dat God my daarom straf nie.

Dankie.

22 antwoorde op GOD EN KANKER

  1. Daar is nie n god nie my kind. Dit is n storie, soos kersfees vader. laat dit maar gaan.

  2. pasella het gesê op Oktober 25, 2010

    Jy is een honderd persent reg, kanker is nie ‘n straf vir sonde nie.

  3. ek het net helfte van jou eerste paragraaf gelees en is HOOGS ontsteld. Dan moes siekte helfte van die aardbol al uitgewis het, en ek eintlik ook nie hier wees nie.

  4. elizac het gesê op Oktober 25, 2010

    Nee, jy is reg. Daar is nie ‘n god nie. Wel ‘n God.

  5. elizac het gesê op Oktober 25, 2010

    Ja, asof daar nie genoeg in hierdie ou lewe is om oor skuldig te voel nie.

  6. Elizabeth, 10 sterre vir jou antwoord. Dit kon nie beter gesê word nie

  7. Wow, hoe onsensitief kan mens kry?

    Probeer tyd maak vir jou kuns, dis goed vir jou siel. Sterkte x

  8. Lyk my jy los jou vuil spore ook maar oral.

  9. Nee kyk, die dag as mense daai ou cliche’s uithaal en mens daarmee probeer ‘troos’ dan raak ek sommer dou blou … kwaad.
    Mens word maar net siek, dis al. Dan moet mens daardeur. Baie, baie sterkte, ek bid vir jou.

  10. Dit is nie ‘n slegte ding om ‘n rede, of oorsaak vir kanker te soek nie, maar dit vind baie lankal op ‘n baie verantwoordelike empiriese vlak plaas. Onlangs is aangekondig dat nog ‘n groot siekte, naamlik Rinderpes volledig verwyder is net soos Pokke ook. Ek het nou die dag met ‘n man gesels wat gestrem is weens Polio. Hy is net-net te laat gebore voordat die serum en inenting algemeen geraak het. Mediese navorsing beweeg elke dag ‘n klein stappie nader om die oorsaak/e van kanker op te spoor. Daar is ook al uitstekende mediese intervensies sodat mense kanker oorleef. Die mortaliteitssyfers het dramaties gedaal, veral vir sekere kankers. Dit is ‘n sinvolle soeke. Wat egter ‘n nuttelose en selfs skadelose soeke is,is om die antwoord in die ‘hemele’ of in religieuse mites, oud of nuut te soek.

  11. Maryke, as mense ‘n standpunt stel waarmee jy verskil en waarvan jy nie hou nie, is dit heel onnodig om dit as ‘vuil spore’ te bestempel. Ek dink nie enigiemand wat aan hierdie bespreking deelgeneem het dusver, het vuil spore gelos nie. Mense glo verskillende dinge en huldig verskillende standpunte en tree in gesprek en dit is ‘n goeie ding. Hou dit op volwasse vlak.

  12. jjjonker het gesê op Oktober 26, 2010

    Hi Elizabeth,

    Jy moet dit maar aanvaar – maar jou nie laat ontstel daardeur nie – dat daar verskillende “klasse” van gelowiges is in enige godsdiens, ook in die Christendom. Daar is die gewone gelowiges en dan diegene wat glo dat hulle “‘n dieper lig” sien, soos Prophet van sing.

    Hierdie groep sal bv. aanvoer dat daar nie iets is soos kliniese depressie nie – slegs gebrek aan geloof en gebed.

    Of dat jy depressief is omdat jy Rooms-Katoliek is. Sodra jy jouself “bekeer” en Protestant word, sal die moeilikheid verdwyn.

    Of dat die probleem veroorsaak word deur aandenkings in jou vertoonkas – houtsneewerk, beeldjies, ens.

    Ek dink jy kry die prentjie. Uit wat ek egter waarneem, lyk dit nie of hierdie tipe berading help nie – eerder dat dit die situasie vererger. Dis myns insiens ook totaal teenstrydig met die beeld van ‘n God van Liefde.

    So my boodskap aan jou is om maar bietjie die verklarings wat jy aanhoor te filter, en dan ook: “Keep the Faith” en “Hang in there!”

  13. elizac het gesê op Oktober 26, 2010

    Nee, jy’s reg. Ek dink nie die persoon se kommentaar was sleg bedoel nie, en gelukkig het ek reeds hierdie tipe aanmerking reg aan die begin gehoor; so ek kon daarmee vrede maak en aangaan.

  14. As al my langdurige sondes in aanmerking geneem moes word was ek al lankal dood! Moet jou asb. nie aan sulke negatiewe kommentaar steur nie. Kyk liewer Boontoe daar waar jou hulp vandaan kom (soos wat jy tans doen)!

  15. elizac het gesê op Oktober 27, 2010

    Dis wat my vriendinne ook sê!

  16. Ek stem een honderd present met jou saam, Elizabeth! Dis vir my vreemd dat daar mense is wat so arrogant is dat hulle vir ons probeer vertel wat God se bedoelings is! Asof hulle meer weet as ons. Ek probeer na alles in die lig van die ewigheid kyk. Dis al hoe ek party goed kan probeer verstaan. Wanneer ons terugkyk op ‘n tyd van lyding, sal dit seker kort wees, maar nou is dit beslis nie.

  17. elizac het gesê op Oktober 28, 2010

    Julle terug?

  18. Nog nie, Elizabeth, ons vlieg more via Dubai en land oormore-oggend.

  19. elizac het gesê op Oktober 28, 2010

    Het jou blogskrywes oor Parys ens baie geniet!

  20. jjjonker het gesê op November 8, 2010

    Hi Elizabeth,

    Jammer ek karring so laat weer hier – nadat almal al aangeskuif het na nuwe plasings – maar iets het my bygeval oor die konsep van siekte as straf vir sonde.

    Ek het ‘n ruk terug ‘n boek “A New Earth” deur ‘n guru met sielkundige agtergrond genaamd Eckhardt Tolle – op Oprah se beste boeke lys, nogal – gelees. As jy eers sy styl verstaan en by die waffle verbykom, is dit nogal heel sinvol geskryf.

    Daar verduidelik hy dat die Engelse woord “sin” verkeerd vertaal is uit die Grieks na “sonde”, soos gedefinieer in die 10 gebooie.

    Nee reken hy, die betekenis van die oorspronklike Grieks was “to miss the point” en niks sulke stront soos vlinders op jou jeans, ‘n gehapte appel op jou hemp of Rapport koop na kerk nie (my interpretasie).

    Dit is nou vir my ‘n meer “SIN”volle verduideliking waarmee ek graag assosieer.

  21. Jacques het gesê op Desember 2, 2017

    Mense vir soveel dekades is die evangelie en God so verkeerd gepreek. Waar pas Christus in? Wat van die kruis? Christus is die plan van God, Sy wil was Christus, nie siektes, verkragting, seer en chaos nie. Die probleem is ons onkunde en dit is hoekom mense snert kwyt raak soos langdurende sondes. Jy is in Christus vergeef, gister vandag en môre. Jy staan vlekloos in Christus voor God. Wat is fout met ons om so belaglik te radineer? God is God – liefde, genade, versot op jou. Geskape in Sy ewebeeld. Nie verwerp, verkrag, vermoot nie. God het geen invloed op aarde nie, ons het. Kanker word veroorsaak deur baie dinge en beslis nie God nie. Deur MY wonde is jy genees..

  22. Jacques het gesê op Desember 2, 2017

    Jou geloof bepaal jou siening. Jou ingesteldheid bepaal jou impak. Jou aanvaarding in Christus, jou aanvaarding dat jy vergewe is en nie jouself moet veroordeel nie. Jy bepaal die invloed van die volmaakte werk in Christus. Of jy dit aanvaar of nie, dis reeds gedoen. Volmaak, vir jou, jou siekte, sonde, tekort en seer alles op Hom vasgeslaan aan n houtkruis. Sy bloed vir jou. Jy bepaal hoe die volmaakte werk jou lewe verander en bëinvloed.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.