Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

by elizac

JULLE WIL MOS

Oktober 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek het genoeg gehad van pienk strikke en valse besorgdheid. Dis die werklikheid.

by elizac

AI TOGGIE

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraand myselwers verwonder aan die feit dat ek my vergryp aan aarbeie in plaas van Woolies se tjoklits. Dit was wel sappige, rooi, ryp en groot aarbeie, maar nog steeds. Nie normaal nie. Alhoewel ek my lus vir tjoklits reeds vroeër vanjaar verloor het, kon ek nog steeds my pad deur ‘n sjokoladewoud eet as ek eers begin het.

En vandag het ek nou ‘n grieperigheid oor my. Seker somergriep, alhoewel dit al amper twee weke aanmekaar hier in Oos-Londen reën.

Partykeer verwonder ek my aan my eie liggaam. Weet dit dan nie dat dit reeds siek was en nog siektes nie nodig is nie?!?

by elizac

GOD EN KANKER

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek sien daar is ‘n mens of twee wat met mekaar verskil op my blog. En dis goed so – daarmee het ek nie ‘n probleem nie. Waarmee ek wel ‘n probleem het, is die feit dat ek vertel word dat ek siek geword het as gevolg van langdurige sonde in my lewe. Ekskuuuus? Watter sonde, watter “langdurige” sonde, wat ek gepleeg het – en daar is waarskynlik heelwat van hulle as ek nou sal gaan sit en tel – was so erg dat ek borskanker moes kry? En hoekom loop daar derduisende mense daar buite rond wat nie siek is nie, maar wat moor en steel en skade aandoen, maar hulle word nie ook siek nie? Of heelwat erger nie? Ek is al sedert ek tien was ‘n toegewyde kind van die Here. Een van daai wat maar ‘n redelike pyn in die agterstewe was (en sekerlik soms nog is). Maar ek kan nie in ‘n God glo wat mense laat kanker kry om hulle te straf vir hulle sondigheid nie. God oordeel aan die einde van ons lewens en gee ons altyd nog ‘n kans. Ek kan wel glo in ‘n gebroke wêreld wat inmeng in ons lewens, ‘n vyand wat ons vertel ons is nie goed genoeg nie, of wat God se skepping misbruik om ons siek te maak, of wat tussen ons en God wil staan.

Daar is dae wat ek met God baklei omdat ek nie wil siek wees nie. En dis mos hierdie vreemde siekte: jy voel fisies goed, maar soms slaan die implikasies jou op ‘n emosionele vlak. So mense kan nie van buite sien dat daar fout is nie – veral nie wanneer jou hare weer begin groei nie. Dan vat ek maar ‘n afdag (of twee) en probeer net my siel heelmaak.

Ek probeer ook nog ‘n saak uitmaak op ‘n kwasi-sielkundige vlak dat ons nie doen wat ons veronderstel is om te doen in hierdie wêreld nie, en daarom word ons siek: die anomalie van wie jy werklik is en dit wat jy voorgee om te wees, raak dalk te groot, en dit veroorsaak dat jy siek word. Miskien is dit die “langdurige” sonde…

Want ek is ‘n kunstenaar en ‘n onderwyser. Maar, omdat my salaris vir brood en botter sorg, het kuns in die niet verdwyn. En my siel voel die verlies.

Maar moet asseblief nie vir my kom vertel dat ek sonde gepleeg het en dat God my daarom straf nie.

Dankie.

by elizac

DAAI EINDE VAN DIE JAAR AMPER EKSAMEN GEVOEL

Oktober 20, 2010 in Sonder kategorie

Die studente is op die oomblik totaal uit hulle velle uit. Die eindeksamen begin 8 November en mens kan skaars met hulle huishou. Dis te verstane, maar jinne, mens kan nie nou nie wil klas toe kom nie! Ek sê altyd: woon ten minste die eerste paar weke en die laaste paar weke van ‘n kwartaal se klasse bly, want dis wanneer die dosente begin tips gee vir die eksamen. Maar nou word daar vreeslik musiek gespeel hier na die studentekantien se kant toe, en daar word gejil en geskree dat die biesies onder by die dammetjie bewe. Ek voel behoorlik soos ‘n sirkusaap soos ek in die klas moet rondspring en grappies vertel om tog net ‘n bietjie aandag te kry.

Een van die studente sê vir my: Doc, you are getting old. Seg ek vir hom: No, you are getting old. I am old!

En, soos julle dalk weet, ek voel nie te wonderlik op die oomblik nie. Die realiteit is moeilik om te aanvaar. Ek wil net hê die hele gemors moet verby wees, maar ek wil nie my lewe verbywens nie. Dis net moeilik om te maak soos ‘n volstruis, want ek is die hele tyd bewus van die foob hier aan jou linkerkant. Dit trek die hele tyd. Dan is daar ook nog die ekstra vlees onder my arm – alles deel van die tissue expander wat sy eie pad volg om vel te skep vir die nuwe bors. Mens kan seker niks anders verwag nie, want daar is immers meer as 500ml se soutoplossing wat hier onder my vel rondwoel, maar dit bly ongemaklik. En hoe langer die besigheid aangaan, hoe ongemakliker voel dit.

Miskien moet ek maar sit en eers deur ‘n hele dankbaarheidsalfabet werk. Gelukkig tog help die studente my om van my eie geite te vergeet.

Daar gaat die musiek al weer…

by elizac

……

Oktober 18, 2010 in Sonder kategorie

Ek wil nie kanker hê nie.

Ek wil nie kanker hê nie.

Ek wil nie kanker hê nie.

Ek wil nie kanker hê nie.

Ek wil nie kanker hê nie.

Wanneer kom aanvaarding?

by elizac

NAWEEK

Oktober 17, 2010 in Sonder kategorie

Dis maar ‘n vervelige opskrif, maar nou ja, op die oomblik gebeur dinge net en die tyd spoed verby, en tog gebeur daar nie eintlik iets nie. Ons is die hele tyd besig, en ek geniet dit erg. Ons het die hele Saterdag meubels rondgeskuif, want ons het Vrydag per ongeluk ‘n wondermooie linnekas gekoop. Ek het Saterdag op my knieë deurgebring om die kas skoon te maak en te was en olie te smeer. Nie gedink ek sal ooit so ‘n kas kan bekostig nie, maar ons het dit as winskoop op ‘n garage sale gekoop. So het ons peetkind toe die twee oumense kom help dra en skuif, en boor vasgehou toe ek gate in die mure wou boor vir die ophang van ons mooie skilderye. O.a. ‘n David Kuijers wat nou al drie maande op die vloer staan.

Vrydagmiddag moes ek gaan vir my driemaandelikse Zoladex-inspuiting. Dis daardie pilletjie waarvoor hulle ‘n gaatjie in jou vette boor en dan is jy vir so drie weke daarna nog blou. Ek terg altyd die suster wat my inspuit en vra vir prentjies van Brad Pitt se agterstewe om my mee besig te hou terwyl ek lê en wag vir die lokale verdowing om sy werk te doen. Sy dink ek maak ‘n grap, maar eintlik sal ek nogal daarvan hou om ‘n paar gawe foto’s van Bruce Willis se boudjies te bestudeer terwyl ek daar horisontaal verkeer. Net om die aandag so ‘n bietjie af te lei, natuurlik.

Voor die tyd moes ek die onkoloog spreek, maar sy was besig en so het ek toe maar weer in die chemokamer beland. Een van die vroue wat die vorige week daar was, was weer daar. Hierdie keer was haar gemoed redelik af. Dis regtig sleg wanneer ‘n mens fisies nie goed voel nie en jou gees is ook op ‘n slegte plek. Dan wil jy net ingee en opgee. En dan is dit ook nie lekker nie as mense jou probeer vertel daar is ‘n lig voor in die tonnel. Ek’t maar so ‘n bietjie saam met haar gehuil, want ek weet die son sal môre weer skyn, maar op daardie oomblik voel alles net sleg.

Daarna was ek by die onkoloog vir my laaste afspraak in 2010. Sy is ook besig om haar tassies te pak – het ‘n professoraat by Stellenbosch aanvaar. So in die nuwe jaar ontmoet ek al weer ‘n nuwe onkoloog.

Terwyl ek vir my Zoladex gewag het, het ek met ‘n meneer Morrison gepraat. Hy het al verlede jaar hierdie snaakse knoppe in sy nek gekry Dit lyk behoorlik soos ‘n volstruis wat gholfballe ingesluk het. Hulle het klaarblyklik vir alles getoets en hy is eers in Augustus met Hodgins limfoon gediagnoseer. Hy moet twaalf sessies chemo kry, en was Vrydag besig met nommer twee. Dis nog ‘n lang pad wat voorlê, maar hy was baie positief.

O, en ek het die hoofsuster gevra of ons maar een keer ‘n maand haar chemokamer kan kom ontwrig. Sy is heeltemal gelukkig as ons iets doen om haar pasiënte te laat beter voel. Ek het ook uitgevind die alchemis (dis nou die apteker wat ons dosisse meng!) en sy vrou kook konfyt as ‘n stokperdjie.

En ek moet sê: ek verstom my elke keer oor die mens se vermoë om in moeilike tye uit te hou en aan te hou.

by elizac

OP BESOEK

Oktober 14, 2010 in Sonder kategorie

So is dit al amper die einde van my tweede week terug by die werk, en dis net vergaderings en klasse en deadlines links en regs. My dagboek lyk asof daar oorlog op gemaak is, want oral is daar inskrywings van goed wat onthou moet word en goed wat gedoen moet word en dan al die afsprake. Ek’s te bang chemobrein skop in op eienaardige tye!

En dan het ek so ‘n heerlike tyd saam met my studente. Verlede week was hulle nog effens versigtig, maar vandag het hulle lekker gelag, want die wind waai baie hard en ek moes my pruik vashou sodat dit nie afwaai nie!

Verlede week. Ja, ek was moeg teen Donderdagmiddag, maar Vrydagoggend kwart voor tien was ek by die chemokamer om een van die vroue wat ek daar ontmoet het, se laaste chemo by te woon. Ek het aanvanklik gedink ek sal net so ‘n uur by haar sit, maar toe is daar ander vroue wat ek ook ken, en uiteindelik is ek eers oor een daar weg. Omdat ek ‘n ander afspraak met ‘n vriendin gehad om saam te gaan middagete eet. Te lekker.

Ek het ‘n bottel alkoholvrye vonkelsap vir Marie geneem, en ook koekies. Ons het maar almal op haar ‘n glasie geklink. Een van die vroue het ook koek gebak met borskankerstrikkies op; so ons het almal lekker partytjie gehou. Ten spyte van.

‘n Mens ontmoet die wonderlikste mense so op jou pad. Daar in die chemokamer was ‘n paartjie, Trevor en Val, wat al ‘n lang pad met chemo gestap het. Val het Vrydag haar een-en-twintigste chemo gehad. Sy is twee jaar terug gediagnoseer, het vir haar gereelde ondersoeke gegaan, en toe kom die kanker terug. Maar hulle het die ongelooflikste getuienis en Trevor het ook daar getuig van wat God vir hulle doen en wat Hy in hulle lewens beteken. Kan julle jul voorstel: een-en-twintig chemos in totaal!

Dan was daar ook Gretel – wat die koek gebak het, en wat Herceptin moet kry tot haar hart dit nie meer kan verdra nie. Sy is HER2 positief, en dis ‘n verskriklike moeilike tipe kanker. Tot ongeveer 1997 was daar geen middel wat dit effektief kon behandel nie, maar nou is daar Herceptin. Ongelooflik duur, maar dis al wat werk.

En Phumeza was ook weer daar, al sou sy teruggegaan het Kaap toe. Sy was egter te swak om te werk en het dus hier aangebly. Ons het altyd die Salticrax gedeel!

Daar was ook tyd om iemand se hand vas te hou terwyl hulle ‘n aar soek. Ek weet mos hoe dit voel en hoe ek dit haat!

Die stories wat ‘n mens hoor in so ‘n chemokamer is ongelooflik. Ek dink altyd: hoe doen mense dit? En dan besef ek: jy’t ag chemos oorleef. Jy’t dit ook gedoen! Ek besef egter elke keer hoe ongelooflik vasberade die mens is om soveel slegte goed te oorleef. Die deursettingsvermoë wat mense het tydens slegte tye, is vir my ‘n openbaring. Een van die vroue het diabetes, artritis en kanker, maar sy is positief en sy leef. ‘n Ander vrou het haar enigste nie-gestremde seun aan die dood afgestaan. Haar ander seun het serebrale verlamming, en haar dogter woon in Nieu-Zeeland. Daar het net eenvoudig soveel goed in haar lewe al verkeerd geloop, en nou is daar kanker. En sy praat terwyl die trane oor haar wange loop, maar sy leef.

Ek is bly ek het gaan besoek aflê. Daar is soveel inspirasie te put uit hierdie mense. En dit het my petrol gegee om aan te gaan.

by elizac

TERUG BY DIE WERK

Oktober 13, 2010 in Sonder kategorie

Mmmmm, ek’s terug by die werk. Het baie opgesien daarteen, maar ek vergeet altyd hoe lekker dit is om met die studente te werk. En veral hierdie tyd van die jaar, wanneer hulle uiteindelik uitgevind het dat hulle maar iets mag sê en dat die dosent hulle nie sal vermoor nie. Gewoonlik duur dit tot so Augustus voordat hulle begin ontspan, maar ek het mos nou hierdie jaar se Augustus gemis. So ek het teruggekom na ‘n hele paar voor-op-die-wa studente. Dis te lekker.

Hierdie tyd van die jaar is dit natuurlik ook ‘n gesukkel om punte in te kry. My dierbare kollega wat in my plek waargeneem het, het lekker baie werk met die studente gedoen, maar een van sy punte is nog uitstaande. Dan is daar ook studente wat gedink het dis ‘n goeie idee om nie die ander dosent se werk te doen nie – hulle sal liewer vir my wag. Dit beteken dat hulle nou moet inhaal, of hulle kry 0. En dit kan beteken dat hulle die jaar druip. Ek waarsku altyd: jy wil nie druip nie, want dan moet jy volgende jaar weer in my klas sit en na dieselfde ou grappies luister!

Een van my studente was vir ses maande in Engeland om krieket te speel. Ja, julle het reg gehoor. Hy het aan die begin van die jaar heelwat besluite gehad om te neem in terme van sy toekoms, want hy is ‘n kontrak aangebied vir “county cricket” daar. En hy moes hier studeer. So besluit hy toe om wel te registreer en te gaan krieket speel. My werksopdragte kon hy aanstuur via e-pos, maar hoe hanteer jy ‘n toets? Nou moet hy inhaal vir al wat hy werd is. Op hierdie stadium weet ek dat hy die Besigheidsengels deurgekom het (ons doen deurlopende evaluering, so daar is geen eksamen nie), maar ek weet nie van die ander vakke nie. Hy beplan om volgende jaar terug te gaan Engeland toe en moontlik eventueel burgerskap te aanvaar. Weet nie of die Ingelse dit weet nie!

En vandag se klas? Ons het gepraat oor wat organisasies kan doen om hul werknemers te help om oor kulture heen beter te kan kommunikeer. Verder het ek ook die studente rassiste genoem. Omdat hulle met tweedebeste tevrede is. So hulle dink ander kulture is biologies beter as hulle, want hoekom is hulle met tweedebeste tevrede? Kom ek verduidelik vinnig: ons universiteit het nie al die fasiliteite wat ander universiteite het nie. Byvoorbeeld, wanneer ek in ‘n klas inloop, moet ek eers bord skoonmaak en stoele soek en so aan. Die oorhoofse projektors het lankal verdwyn, om van dataprojektors nie eens te praat nie. Ek noem toe aan die studente dat ek by Stellenbosch klas gegee het, en hoe lekker dit was, want ek sit net my geheuestokkie in die rekenaar en dan gee ek klas. Waarop een student toe sê: so hoekom gaan jy nie terug nie? En dis waar ek my toe liggies vererg en vir hulle vra hoekom hulle tevrede is met die omstandighede waaronder hulle moet klas loop. Is dit omdat hulle glo dat hulle nie beter verdien nie? Ek het VYF jaar baklei om stoele in ons klaskamers te kry. Elke keer as ek gekla het dat dit tien minute duur voordat ek kan begin klas gee, omdat die studente eers stoele moet gaan soek, is skouers opgetrek en vir my gesê: die studente breek die stoele. My antwoord? Maak dit reg! Einde ten laaste het ek aan die begin van verlede jaar foto’s geneem van studente wat op die vloer sit, of op tafels, of besig is om stoele rond te dra, en dit aan ‘n klomp mense gestuur. Die reaksie? Dis nie te sê hulle dra die stoele na ‘n klaskamer nie! Help nou ‘n nasie! Ons het darem daarna stoele in die klasse gekry. Die probleem is dat sommige lokale sestig studente moet akkommodeer, maar daar is eintlik net spasie vir 45. Dan word stoele en tafels in ander lokale gehaal. Jy kan hulle nie blameer nie. Wat my onstig, is dat die studente dit net aanvaar, maar dat hulle bereid is om oor ander goed klasse te boikot. Goed wat niks met die akademie uit te waai het nie.

Ja, ek gebruik maar altyd die voorbeelde vir ‘n lewensles.

Ook die sogenaamde “rassistiese” voorval met Roland Schoeman het vandag ter sprake gekom. Om iemand in Afrikaans ‘n “aap” of ‘n “bobbejaan” te noem, beteken nie jy is noodwendig ‘n rassis nie. Sover ek weet, noem ons mekaar ook ape of bobbejane. En dit beteken doodeenvoudig jy dink die persoon het iets onnosels gedoen, of gedra hom/haar soos ‘n aap of ‘n bobbejaan. Dit maak nie van jou ‘n rassis nie. En natuurlik is daar mense wat hierdie woorde op ‘n rassistiese manier gebruik, dit gee ek toe. Dit beteken nie Roland Schoeman het dit gedoen nie. Myns insiens is dit bloot ‘n geval van interkulturele waninterpretasie.

So ek is terug by die werk, en dis heel lekker. Was net einde verlede week totaal uitgeput!

by elizac

DAG MENEER!

Oktober 5, 2010 in Sonder kategorie

Kyk, ek was nou nog nooit ‘n prentjie nie. En daar is geen skoonheidskompetisie op hierdie aarde wat ek sal wen nie. Maar, sover ek weet, het niemand my nog ooit voorheen vir ‘n man aangesien nie. Ten spyte van my aansienlike gebrek aan bates. Laat my vertel: op Vrydag staan ek in die tuin van die selfsorgplek waar ons in die Strand oornag het. Ek is besig om my tas in die bakkie te laai, terwyl ek vir peetkind wag om te ontwaak en sy oggendrituele uit te voer. En ek het besluit om nie my pruik op te sit nie, sodat ek kaalkop (wel, amper, die hare is darem nou al so vyf milimeter lank) in die tuin staan. So stap daar ‘n vriendelike vrou in die straat verby: “Dag, Meneer!” groet sy ewe vrolik. Ek het maar teruggegroet en nie geweet of sy aan my stem sou kon hoor dat dit nie ‘n meneer is wat in die tuin staan nie. En ek het lekker gelag en die storie oorvertel. Daarna is ons na die vulstasie om vol te maak en al die klein goedjies te doen wat ‘n mens maar doen so voor ‘n langerige reis. Ek is steeds hoedloos en pruikloos. Sê die petroljoggie vir my: “Good morning, Sir!” Waarop ek toe maar vriendelik antwoord: “Nee, Meneer, ‘n Sir was ek nog nooit nie”.

Vriendelike groete

Sir Elizabeth

by elizac

MET ‘N 1400 OP PAD

Oktober 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek’t al genoem dat ek redelik angstig was oor die trippie Kaap toe, omdat ek vir die eerste keer in my lewe (en skaars ‘n week na die laaste chemo) ‘n lang afstand met ‘n sleepwa sou ry. En dat ek nog nooit met ‘n sleepwa agteruit gery het nie. Die teorie is dat jy die voertuig moet links laat gaan as die sleepwa regs moet gaan, maar nou ja, ek het nog nooit geleentheid gehad om die teorie in die praktyk te toets nie. So het ek en peetkind toe maar gesorg dat ons met die bakkie en sleepwa altyd so parkeer dat ek nie hoef agteruit te ry nie. Want dan sou peetkind die waentjie moes afhaak en sleep tot hy dit weer kan aanhaak! En as ek sê “waentjie”, is dit nogal eufemisties: die sleepwa is nie ‘n Ventertjie nie en is lekker breed en tuisgemaak (met padvaardigheidsertifikaat).

Vir die van julle wat wonder oor die nodigheid van ‘n 1400-bakkie en die sleepwa, kortliks die volgende: my skoonma het, nadat sy haar lewe lank in die Kaap gebly het, so drie of vier jaar terug besluit om van skoonpa te skei. Daarop het sy by my skoonsuster in Johannesburg gebly en toe uiteindelik besluit om by ons te kom bly. So het ons haar hele trek hier na ons toe gebring. En aan die begin van die jaar, nadat sy vir die eerste keer in drie jaar in die Kaap gaan kuier het, het sy besluit om terug te trek Kaap toe. Sy het aanvanklik baie geskop teen die idee van ‘n ouetehuis, maar dit was die enigste manier waarop sy in die Kaap kon bly, en dus het sy in ‘n ouetehuis ingetrek. Intussen het al haar goed by ons bly staan. Die maklikste manier om dit by haar te kry, was om die bakkie en sleepwa te laai en die goed na haar te vervoer. Sela.

My man kon nie die tog saam met my aanpak nie, want hy kon net vir twee dae verlof kry. Verder moes hy ook hierdie naweek en tot môre ‘n werkswinkel in die Kaap bywoon. Vandaar my epiese trek oor die vlaktes van die Karoo via die plaas tot in die Kaap. Sonder my man. Gelukkig is peetkind ‘n handige man en hy het oral met die sleepwa gehelp. En ek het nooit nodig gehad om agteruit te ry nie! Daar was een moment by die gastehuis in Joubertina (Le Bocage, as julle wil gaan naslaan) waar ek gedink het ek dalk sal moet tru, maar dit was toe nie nodig nie.

My haastige geaardheid is net tot die uiterste beproef. Dit is regtig nie in my aard om teen 60km per uur ‘n bult uit te sukkel nie. Ek het ook gedink ons sal die stadigste voertuig op pad wees, maar hier deur die ou Ciskei het ons selfs daarin geslaag om ‘n hele klompie voertuie verby te steek. Ek moes net altyd in gedagte hou dat my eie voertuig langer as gewoonlik is en dat ek nie bloot voor ‘n ander voertuig kan insny nie. ‘n Mens moet ook bedag wees daarop dat jy langer tyd gaan nodig hê om verby te steek. En daai laaaaaaaang pad tussen Carnarvon en Williston is nie so plat soos wat ‘n mens dink nie – ‘n 1400-bakkie met ‘n vol sleepwa laat dit jou gou agterkom. Gelukkig tog vir ‘n plek soos die Williston Mall waar ‘n mens vir ‘n lafenis kan stop. (As jy nog nie op Williston was nie, is dit dalk nou tyd om hulle Mall te gaan ontdek!) My arme peetkind het hom verkyk aan die plat land en aan die myle en myle teerpad wat voorlê. Hy het ook, ten spyte van my man se instruksies aan hom, lekker aan die slaap geraak. Seker maar oor ek RSG verkies vir geselskap en hy natuurlik nie ‘n woord kon verstaan nie!

Met die afry Kaap toe het ons die eerste dag ag ure gery aan ongeveer 530km en die tweede dag sewe ure aan min of meer dieselfde afstand. Natuurlik het ons langs pad gestop: eers in Bedford en toe in Graaf-Reinet, maar nooit baie lank nie. Met die terugkom het ons Klein Karoo langs gery – altyd vir my ‘n lekker roete, veral as ‘n mens tyd het. Ons het ongelukkig net tyd gehad om in Barrydale te stop vir ‘n vinnige middagete. Ons het ook by die wewery gestop, waar ‘n baie vriendelike dame vir ons gewys het hoe om ‘n weefstoel te werk. En na ons nag in Joubertina, moes ek stop in PE by ‘n kralewinkel! Ongelukkig het ons toe ook by Colchester gestop vir middagete (ek het duiselig begin raak na ek die vorige aand slegs ‘n stuk beskuit geëet het en ook die oggend net ‘n stuk beskuit ingekry het) en moes toe deur ‘n baie eienaardige ondervinding sit met ‘n ouerige dame wat ons bedien het en nie herwaarts of derwaarts geweet het nie. Die ou restaurant daar is oorgeneem deur ‘n supermarkgroep, en dit was regtig nie die moeite werd om daar te stop nie. Ek en peetkind het later net gelag vir die swak bediening en die eienaardige atmosfeer.

En so het ons toe gistermiddag half 5 eers Oos-Londen getref.

En Annamari was toe reg: die waentjie volg bloot die voertuig!

NS Ons het baie lekker gebly in die volgende plekke: Die Peperboom (Victoria-Wes), Kwikstertjie (Strand) en La Bocage (Joubertina). Nie een van hierdie plekke behoort aan my nie, en niemand betaal my vir die publisiteit nie!