by

DONDERDAG SE MOEG

September 23, 2010 in Sonder kategorie

Vandag is dag sewe na chemo. Gewoonlik kry ek bloedtoetse op dag ag, maar aangesien môre nou ‘n openbare vakansiedag was, moes ek vandag al gaan. En terwyl ek sommer alles uitgestel het tot die laatste oomblik, moes ek ook vandag my nuwe rekenaar gaan ingee by die werk sodat hulle die sagteware daarop kan programmeer; ek moes my nuwe bestuurslisensie gaan afhaal en ek moes ‘n kinderpartytjie hanteer in die Spur. Veral laasgenoemde het my bene laat bewe, want natuurlik is my bloedtelling toe laag en natuurlik moet ek weer inspuitings kry, maar die onkoloog is nie beskikbaar nie en ek sal eers later moet terugkom vir die inspuitings. Wat beteken het ek is die Spur in sonder om eers ‘n sweempie van beskerming te hê teen die massa kinderkieme. Nie dat enige beskerming sou gehelp het nie, maar ‘n mens mag altyd hoop. Dit was ‘n geswetterjoel van ‘n ander aard, met ‘n helske lot township kinders wat ook om die een of ander rede ‘n “opvoedkundige” uitstappie na die Spur gehad het. Presies hoe dit by die opvoedkunde inskakel, sal ek nie weet nie. In my dae sou ons nie restaurant toe gegaan het om opgevoed te word nie. Dalk dieretuin toe. Of die Kasteel. Verder was daar ‘n menigte kinderpartytjies. Ek kan dit verstaan, want dit is beslis ‘n makliker opsie as om die partytjie by jou eie huis te hou. Kulturele verskille maak dit net ook ‘n duur opsie, want die ouers kom sit saam en dan eet hulle ook…

Elk geval, die partytjie is verby en ek het intussen ook my inspuitings gaan haal en die eerste een self toegedien. My geliefde is besig om die bakkie en die waentjie te pak, want môre vat ek en my peetseun van 31 jaar oud die pad af Kaap toe met my skoonma se bokse goed. Lang storie kort: sy het hier gewoon, woon nie meer hier nie en haar goed staan ons hele agterstoep toe, sodat ons nie by die braai kan uitkom nie. Of ons pragtige stoeptafel. Of enige ding van ons wat op die agterstoep was nie. So ek het nou gesê tot hiertoe en nie verder en die goed moet weg. Einde van die jaar wil ek my danbaarheidstee op die stoep hou en dan kan ek nie. Verder sal ek daarvan hou as my huis soos ‘n huis kan begin lyk in plaas van ‘n pakstoor. Môre ry ons rustig met die bakkie en sleepwa tot Victoria-Wes, en dan van daar met ‘n draai tot in die Kaap. Ek was maar angstig, want ek het nog nooit so ver alleen (my peetkind het net ‘n leerderslisensie en mag nie die bakkie en sleepwa bestuur nie) met ‘n sleepwa gery nie. Maar supervrou kan mos; dus kan ek ook.

Ek’s net moeg. Gelukkig ry ‘n mens sit-sit…

7 antwoorde op DONDERDAG SE MOEG

  1. jy kan want jy is ‘n wenner
    veilige pad
    sterkte en baie liefde

  2. elizac het gesê op September 23, 2010

    Ja, ek het nog nooit agteruit gery met ‘n sleepwa nie! Ek weet in teorie hoe…

  3. elizac het gesê op September 23, 2010

    Ek’s ‘n dapper muis…

  4. Mooi ry.
    en as jy by jou dankbaarheidstee kom, laat weet dan skink ek my koppie hier vir jou

  5. E, oor die agteruitry, die teorie wou nog nooit vir my werk. as ek sleep parkeer ek so dat ek nie agteruit hoef te gaan nie

  6. elizac het gesê op September 23, 2010

    Waarskynlik 6 November!

  7. elizac het gesê op Oktober 3, 2010

    Bly jy dink so. Partykeer voel alles of dit in slow motion gebeur.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.