by

VERSLAWING

September 9, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit vandag weer en stel lieflik die werk uit wat ek eintlik moet doen: om ‘n referaat oor Vigs in die klaskamer (nee, nee, net oor hoe om dit aan te bied!) klaar te skryf. Sit en blaai ek deur die blogs en besef hoeveel mense skryf oor verslawing. Dis òf dat hulle self verslaaf is aan iets, òf hulle woon saam met iemand wat aan iets verslaaf is. Nou het ek reeds voorheen genoem dat ek nou maar ‘n slegte verslaafde sal maak, so daaruit sal julle seker kan aflei dat ek nie kan verstaan hoe dit voel om verslaaf te wees aan iets nie. Selfs my kosverslawing het hierdie jaar al verdwyn. Maar – en hier moet ek nou al weer bely – ek weet hoe dit voel om getroud te wees met ‘n alkoholis. Ek weet van die put van leuens en die hoop en die weer-op-jou-gesig-val en die probeer opstaan, net om weer te val. Ek weet hoe dit voel om te voel asof jy die hele tyd in ‘n sepie leef. Alles is altyd drama. En ek het baie gebid dat iemand tog asseblief die televisie se knoppie moet afsit.

Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek begin beplan het aan die perfekte moord. Gedink het: hoe sal ek ‘n baksteen deur sy kop kan sit en daarmee kan wegkom? En gelukkig besef het dat dit waansin is om so te dink, en dat EK die probleem het.

En dis waar Al-Anon in my lewe gekom het. Hulle het my lewe gered. Ook diè van my eks – ten minste het hy nie aan my hand gesterf nie. En ek het geleer dat ek self die televisie se knoppie moet afsit.

Nou wil ek net vir almal sê wat met verslawing saamleef: as die verslaafde nie AA (Alcoholics Anonymous) of NA (Narcotics Anonymous) bywoon nie, kan jy maar vergeet van gesond word. Ja, en ek ken die verskonings: ek is nie soos hulle nie (dis nou daai slegte dronkies by AA), of ek het ‘n sielkundige probleem, of dis my ouers se skuld, of joune, of wie-ook-al.

En jy, jy wat saam met die verslaafde probeer leef, jy het ook hulp nodig. Want as jy nie hulp kry nie, dan help jy die verslaafde.

So, gaan sluit aan by Al-Anon. En gaan kry vir jou twee boekies: One Day At a Time en Courage to Change. En as jy net een kan bekostig, kry dan net een.

Dit sal jou lewe red.

3 antwoorde op VERSLAWING

  1. Glo jou dat iemand wat dit nog nie ervaar het, nie weet wat dit is nie.

  2. elizac het gesê op September 10, 2010

    Ja, you did not cause it and you can’t cure it. So die beste ding is om aan te gaan met jou lewe, want niks wat jy doen of sê gaan iets aan die ander persoon se lewe verander nie. Baie moeilik om so te leef.

  3. elizac het gesê op September 10, 2010

    Ek hoop jy het al iewers daai boekies vir jou aangeskaf. Sal ook in Engeland wees. Dit moet hel wees om saam met ‘n alkoholis groot te word.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.