by

EN HOE HELP ‘N MENS?

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Wat sê ‘n mens vir iemand wat met kanker gediagnoseer is, of wat iets slegs oorgekom het?

Ek weet regtig nie. Niks help nie. Dit weet ons almal mos.

Ek het ‘n vriendin van wie ek ‘n jaar laas gehoor het. Deur ‘n vriend hoor ek dat sy nie weet wat om vir my te sê nie. Nou wat moet sy vir my anders sê as wat sy voorheen vir my gesê het? Deur dit alles heen bly ek nog steeds ek. Ek het nou net ‘n ekstra onderwerp om oor te praat.

So luister na my en moenie vir my vertel ek kla die hele tyd nie. Dis nie waar nie. Partykeer wil ek net my simptomes met jou deel. Soos die skurwe voete. Of die snaakse kol onder my arm. Of my jeukende winkbroue. Dis vir my ook alles nuut en eienaardig.

En dan kan ek nog altyd na jou luister ook. Ek sien die naweek ‘n vriendin wat aan erge depressie ly. En ek sien sy is nie lekker nie, maar dit glimlag en sê: dit gaan goed. Uit daarmee, sê ek. Nee, sy wil nie by my kla nie, want my goed is soveel erger. Ekskuus?!? Maniese depressie is ‘n verskriklike siekte. Op die ou-end sit en gesels ons toe ‘n uur terwyl sy by my uitpak. Dit laat my normaal voel as jy normaal met my praat. Dit nie vermy om oor jou lelike hare te praat nie. Ja, ek het nie hare nie, maar ek gaan weer hare hê. En jou hare is tog nog altyd vir jou belangrik. Dis bietjie simpel om so aan te gaan oor hare en klere en naelpolitoer, maar as dit jou gelukkig maak, dan maak dit jou gelukkig. Ek gaan tog sekerlik nie van almal verwag om die vleeslike vaarwel toe te roep en net oor die geestelike te gesels nie. Dis dalk meer sinvol, maar dis nie heeltemal normaal nie.

Die heel lekkerste vir my is om tussen vriendinne te sit en ons sit en gesels net. Oor meer as die oppervlakkige. Ons kyk na mekaar met die oë van die siel, en ons sien mekaar raak. Dis lekker. Dis belangrik. En dit help.

Jy kan altyd ‘n eetdingetjie gaan afgooi as jy weet jou vriend/vriendin het vandag chemo gehad. Of, as jy weet sy/hy word eers oor vier dae siek, gaan doen dit dan. Of gaan maak ‘n koppie tee vir hom/haar in sy/haar eie kombuis. En drink dit saam. En gesels. Terwyl jy met sielsoë kyk.

8 antwoorde op EN HOE HELP ‘N MENS?

  1. Elizabeth,

    Ek moet my ervaring met jou deel.

    Na vier en ‘n half jaar na diagnose het my vrou gesterf aan kanker. Ek weet waarvan jy praat.

    So ‘n paar maande voor haar dood kom daar ‘n dosyn familie lede aan. Hulle is van ‘n kerk wat alles wil reg bid. Nee, “dis reg julle kan maar bid”, sê ons.

    Kyk, hulle het vir haar gebid. Gebid dat die spoeg so spat. So erg het hulle gebid dat ek naderhand maar uitgeloop het en solank voorbereidings vir die koffiedrinkery gaan doen het. Asseblief ek praat nie nou neerhalend nie, ek sê dit met peïteit.

    Toe ek terug in die kamer kom is sy (dis nou my oorlede vrou in die bed) klip hard besig om die wat vir haar gebid het te troos. Hulle almal tjank toe snot en trane. Sy het haar hande vol gehad met die getroosdery. Sy vra my naderhand ek moet help om hulle te troos.

    Ek raai mense altyd aan om nooit, maar nooit, iemand met kanker te ondeskat nie. Ek het merkwaardighede ervaar.

    Alle sterkte, en ek hoop dat jy die pes oorwin.

    Groete,

    Izak

  2. elizac het gesê op September 7, 2010

    Ek laat die mense maar bid. Dit laat hulle goed voel. En bid help altyd. Jammer vir jou dat jy hierdeur moes gaan.

  3. elizac het gesê op September 7, 2010

    Ek sê altyd: ek is nie kanker nie.

  4. elizac het gesê op September 7, 2010

    Ai vaderland, die kind? Hoe oud?

  5. elizac het gesê op September 7, 2010

    Vra vir haar of sy wil praat. Anders sit en praat jy maar net oor jou eie goedjies. Dis ook belangrik.

  6. elizac het gesê op September 7, 2010

    Ek’t vandag weer by ‘n vriendin gekuier wat vir my ‘n rots is. Nie omdat sy so baie vir my doen nie, maar omdat sy sommer by my kom sit en gesels oor haar lewe. En vir haar kan ek my voete wys en sê: kyk hoe dop my tone af van die chemo!

  7. elizac het gesê op September 7, 2010

    Ek’s nou skoon buite myself van skok.

  8. elizac het gesê op September 8, 2010

    Onthou net: dis maar net my opinie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.