Jy blaai in die argief vir 2010 September.

by elizac

BARBARA G

September 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek het nie vir Barbara geken nie. Dankie aan Anha wat haar aan my bekend gestel het vandag. Dit laat ‘n mens dink. Soveel van ons het ongelooflik baie om voor dankbaar te wees en ons mors die tyd met niksdoen en kla. Vanaand sit en kyk ek my daaglikse dosis Oprah, en hulle praat oor die fliek Eat, Love, Pray. En ek kyk so vir Julia Roberts en dink sy’t so ‘n wonderlike lewe. Wens ek kan so ‘n lewe hê. Dink net: om nooit hoef te kommer oor geld nie. Jy kan doen net wat jy wil. En ook: hoe onregverdig is dit dat iemand miljoene dollars verdien deur te maak asof hy/sy iemand anders is, en ons almal bewonder hulle en wil ook so wees. En dan is daar mense wat baie hard werk en nog steeds min geld verdien en nog steeds tyd het om ander mense te help en om meelewend te wees. Mense wat tyd het om ander met die oë van hul siel te sien. Om werklik raak te sien.

Ons weet nie wat vir ons voorlê nie. Ons het net vandag om die beste te doen wat ons kan doen. Om goed te wees teenoor die mense met wie ons in aanraking kom.

En om monumente op te rig vir diegene wat dit werklik verdien.

by elizac

DONDERDAG SE MOEG

September 23, 2010 in Sonder kategorie

Vandag is dag sewe na chemo. Gewoonlik kry ek bloedtoetse op dag ag, maar aangesien môre nou ‘n openbare vakansiedag was, moes ek vandag al gaan. En terwyl ek sommer alles uitgestel het tot die laatste oomblik, moes ek ook vandag my nuwe rekenaar gaan ingee by die werk sodat hulle die sagteware daarop kan programmeer; ek moes my nuwe bestuurslisensie gaan afhaal en ek moes ‘n kinderpartytjie hanteer in die Spur. Veral laasgenoemde het my bene laat bewe, want natuurlik is my bloedtelling toe laag en natuurlik moet ek weer inspuitings kry, maar die onkoloog is nie beskikbaar nie en ek sal eers later moet terugkom vir die inspuitings. Wat beteken het ek is die Spur in sonder om eers ‘n sweempie van beskerming te hê teen die massa kinderkieme. Nie dat enige beskerming sou gehelp het nie, maar ‘n mens mag altyd hoop. Dit was ‘n geswetterjoel van ‘n ander aard, met ‘n helske lot township kinders wat ook om die een of ander rede ‘n “opvoedkundige” uitstappie na die Spur gehad het. Presies hoe dit by die opvoedkunde inskakel, sal ek nie weet nie. In my dae sou ons nie restaurant toe gegaan het om opgevoed te word nie. Dalk dieretuin toe. Of die Kasteel. Verder was daar ‘n menigte kinderpartytjies. Ek kan dit verstaan, want dit is beslis ‘n makliker opsie as om die partytjie by jou eie huis te hou. Kulturele verskille maak dit net ook ‘n duur opsie, want die ouers kom sit saam en dan eet hulle ook…

Elk geval, die partytjie is verby en ek het intussen ook my inspuitings gaan haal en die eerste een self toegedien. My geliefde is besig om die bakkie en die waentjie te pak, want môre vat ek en my peetseun van 31 jaar oud die pad af Kaap toe met my skoonma se bokse goed. Lang storie kort: sy het hier gewoon, woon nie meer hier nie en haar goed staan ons hele agterstoep toe, sodat ons nie by die braai kan uitkom nie. Of ons pragtige stoeptafel. Of enige ding van ons wat op die agterstoep was nie. So ek het nou gesê tot hiertoe en nie verder en die goed moet weg. Einde van die jaar wil ek my danbaarheidstee op die stoep hou en dan kan ek nie. Verder sal ek daarvan hou as my huis soos ‘n huis kan begin lyk in plaas van ‘n pakstoor. Môre ry ons rustig met die bakkie en sleepwa tot Victoria-Wes, en dan van daar met ‘n draai tot in die Kaap. Ek was maar angstig, want ek het nog nooit so ver alleen (my peetkind het net ‘n leerderslisensie en mag nie die bakkie en sleepwa bestuur nie) met ‘n sleepwa gery nie. Maar supervrou kan mos; dus kan ek ook.

Ek’s net moeg. Gelukkig ry ‘n mens sit-sit…

by elizac

ONDANKBAAR EN BENEUK

September 20, 2010 in Sonder kategorie

Vandag wil ek vir niemand ‘n voorbeeld wees nie. Dit reën al sedert Vrydag hier in Oos-Londen, en terwyl ek danbaar is vir die reën en hoop dat die binneland van die Oos-Kaap ook uiteindelik goeie reën gekry het, is Oos-Londen ‘n muwwe plek as dit so aanhoudend nat is. Alles ruik na muf: klere, beddegoed, banke, beddens, jyself. En ek is ongemaklik. My foob (en eintlik wil ek ‘n Wes-Kaapse woord hier gebruik) trek en ek is die hele tyd bewus daarvan. Ek is lekker beneuk daaroor, want dit voel asof ek nooit weer net NORMAAL sal kan wees nie. Ek WIL nie meer met hierdie kankertwak sit nie. Ek wil net my lewe hê soos dit was, al weet ek dit sal nooit weer so wees nie. Ek wil kan aangaan en gaan oefening doen sonder om bewus te wees van ‘n foob of ‘n boob. Sal ek ooit kan gaan stap sonder om bewus te wees van die omgekeerde skorsie hier op my linkerkant? Ek probeer om nie daaraan te dink nie.

Vandag is ek nou net ondankbaar en beneuk. Sal maar die weer die skuld gee.

by elizac

EN NOU IS DIT VERBY. OF AMPER VERBY.

September 19, 2010 in Sonder kategorie

Vrydag se chemo het blitsig verbygegaan: het die onkoloog effens te vroeg gesien, teen kwart voor tien was my rekening betaal en teen tienuur was ek in die stoel vas aan my eerste flush, saline solution en chemo. Hulle het die chemo stadig gestel, sodat ek eers teen eenuur daar uit is. Maar wat ‘n verligting, ten spyte van wat voorlê. My mond is reeds besig om borreltjies te vorm – julle weet mos, daardie oulik borreltjies wat mondsproei aandui.

Ek het ook Vrydag begin met die Tamoxifen – nog ‘n hormooninhibeerder. Het aanvanklik gedink ek sal dit eers begin sodra die Zoladex klaar is, maar diè moet ek klaarblyklik ook nog kry.

En ek was sooooo verlig toe ek Vrydag daar uitstap. Kon nie glo dat AG behandelings verby is nie. Ter viering van die gebeurtenis het ek ‘n pienk pruik gedra met pienk veertjie-ooringe, ‘n ligtepienkbroek en ‘n grys toppie. Baie rustig. En ek het pienk penne met vere vir die vroue uitgedeel en blou penne met vere vir die mans uitgedeel. Ook koek vir almal wat wou hê en Pumeza het haar pakkie Salticrax gekry. Dit was haar laaste dag by Oos-Londen onkologie, want sy moet teruggaan Kaap toe vir haar werk.

Plan vorentoe: ek sien die onkoloog 15 Oktober en kry dan terselfdertyd my driemaandelikse Zoladex-inspuiting. Dis eintlik net ‘n pil wat hulle onder vetselle in plant. Op die maag.

Daarna begin siek ek die onkoloog en moet deur die toetse gaan: maagsonar, x-strale en so aan om te kyk of daar niks versprei het of vasgegroei het nie. Die dinge sal ek seker metterwoon uitvind, of ek nou wil of nie.

Ek moet ook nog gaan uitvind wat Tamoxifen aan ‘n mens doen. Net om voorbereid te wees.

by elizac

MôRE

September 16, 2010 in Sonder kategorie

So môre is chemo ag. Ek bly maar bietjie bang vir die naalde, maar dit is hopelik die laaste keer vir die res van my lewe. Praat vanaand met ‘n vriendin wat verlede jaar deur dieselfde storie is. My vraag bly: goed, dis nou verby, maar hoe nou verder? Die drama van mastektomie en chemo en newe-effekte gaan nou nie meer sigbaar wees nie. Nou begin ‘n stiller drama wat heelwat minder opsigtelik gaan wees: die opvolgbesoeke, die wag vir uitslae, die pille vir vyf jaar. Klaarblyklik maak die Tamoxifenpille ‘n mens ook moeg, maar nie so moeg soos die chemo nie. Elke mens se liggaam reageer egter uniek, so niemand kan sê wat gaan gebeur nie. Op hierdie stadium weet ek ook nie wanneer dit gaan begin nie, want ek is nog op Zoladex, daai pilletjie wat hulle elke drie maande in my maag plant om my hormone hok te slaan.

Op hierdie stadium moet ek dus net voortleef deur die diagnose en die gevolge. Soos iemand op Breastbuddies gesê het: daar is lewe na/met kanker. Niks het verander nie. Ek is nog ek. Ek sal nog steeds in my klasse optree met hart en siel. Ek sal nog steeds grappies maak en snaakse dinge sê en doen. Maar daar het ‘n ander dimensie bygekom.

Ek sou so graag wou hê dat almal met wie ek in aanraking kom, al is dit op papier, sal begin om eenvoudig elke dag te leef sonder vrese vir môre en sonder om die hele tyd agtertoe te kyk. Toe ek vir my mastektomie gegaan het, het iemand hierdie boodskap vir my gestuur:

I was regretting the past and fearing the future.

Suddenly my Lord was speaking:

“MY NAME IS I AM”.

He paused. I waited.

He continued, “When you live in the past

with its mistakes and regrets,

it is hard.

I am not there.

My name is not I WAS.

When you live in the future,

with its problems and fears,

it is hard.

I am not there.

My name is not I WILL BE.

When you live in this moment

it is not hard.

I am here.

My name is I AM.”

 

Dit het gehelp om my rustiger te maak. Dit help vandag steeds as ek oor môre begin kommer en vergeet om in vandag te leef.

by elizac

NOU’T EK SO BAIE DINGE WOU GESê HET….

September 14, 2010 in Sonder kategorie

…. dat ek nie kan onthou wat ek wou gesê het nie! Ek draai weer diè week ernstig briek aan, maar ek sing ook: oompie trap die orreltjie dat ons vinniger kan ry. Môre bloedtoets en Vrydag die LAASTE CHEMO! Vrydag is die laaste chemo! Vrydag is die laast chemo! Vrydag is die laaste chemo! Ja tralala tralalalala. Ek gaan die antie wees met die pienk pruik. Wag tot so kwart oor tien voor jy kom kuier, want ek sal dalk skree voor daardie tyd, en jy wil nie ‘n antie met pienk hare en rooi wange sien nie.

Kan julle dit glo? Voor in die wapad brand ‘n lig, en al dergelike dinge.

by elizac

VERSLAWING

September 9, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit vandag weer en stel lieflik die werk uit wat ek eintlik moet doen: om ‘n referaat oor Vigs in die klaskamer (nee, nee, net oor hoe om dit aan te bied!) klaar te skryf. Sit en blaai ek deur die blogs en besef hoeveel mense skryf oor verslawing. Dis òf dat hulle self verslaaf is aan iets, òf hulle woon saam met iemand wat aan iets verslaaf is. Nou het ek reeds voorheen genoem dat ek nou maar ‘n slegte verslaafde sal maak, so daaruit sal julle seker kan aflei dat ek nie kan verstaan hoe dit voel om verslaaf te wees aan iets nie. Selfs my kosverslawing het hierdie jaar al verdwyn. Maar – en hier moet ek nou al weer bely – ek weet hoe dit voel om getroud te wees met ‘n alkoholis. Ek weet van die put van leuens en die hoop en die weer-op-jou-gesig-val en die probeer opstaan, net om weer te val. Ek weet hoe dit voel om te voel asof jy die hele tyd in ‘n sepie leef. Alles is altyd drama. En ek het baie gebid dat iemand tog asseblief die televisie se knoppie moet afsit.

Daar was ‘n tyd in my lewe dat ek begin beplan het aan die perfekte moord. Gedink het: hoe sal ek ‘n baksteen deur sy kop kan sit en daarmee kan wegkom? En gelukkig besef het dat dit waansin is om so te dink, en dat EK die probleem het.

En dis waar Al-Anon in my lewe gekom het. Hulle het my lewe gered. Ook diè van my eks – ten minste het hy nie aan my hand gesterf nie. En ek het geleer dat ek self die televisie se knoppie moet afsit.

Nou wil ek net vir almal sê wat met verslawing saamleef: as die verslaafde nie AA (Alcoholics Anonymous) of NA (Narcotics Anonymous) bywoon nie, kan jy maar vergeet van gesond word. Ja, en ek ken die verskonings: ek is nie soos hulle nie (dis nou daai slegte dronkies by AA), of ek het ‘n sielkundige probleem, of dis my ouers se skuld, of joune, of wie-ook-al.

En jy, jy wat saam met die verslaafde probeer leef, jy het ook hulp nodig. Want as jy nie hulp kry nie, dan help jy die verslaafde.

So, gaan sluit aan by Al-Anon. En gaan kry vir jou twee boekies: One Day At a Time en Courage to Change. En as jy net een kan bekostig, kry dan net een.

Dit sal jou lewe red.

by elizac

AL WEER HARE

September 8, 2010 in Sonder kategorie

Ek dink ek het goeie nuus, maar ek gaan dit nou baie saggies sê, want ek is bang dis nie waar nie: ek dink my hare is besig om terug te groei!!! Dis nou omtrent al ‘n week dat my kop vol donse is. Nou ja, my kop was nooit heeltemal kaal nie, maar daar was min hare oor. Nou lyk dit of my hele kop oortrek is van sagte, donker donse. Ja, die grys hare is ook nog daar, maar die donker donse is steeds meer! Ek begin ook wenkbroue kry: sulke kort stoppeltjies wat in die middel begin uitgroei.

 

Ek weet nie wat dit beteken nie, want ek weet nie of die stoppels dalk net tot ‘n punt gaan groei en dan gaan stop nie, en of hulle dalk weer met die volgende chemo gaan uitval nie, maar daar is definitief lewe!

 

Ek’s amper te bang om te sê, maar dit voel tog asof normaliteit net om die draai is…

by elizac

KYK BIETJIE OF JUL HIERDIE KAN LEES

September 8, 2010 in Sonder kategorie

http://www.leef.co.za/sielskos/my-lewe/positiewe-uitkyk/heelhartigheid-dwarsdeur-kanker-behandeling

by elizac

EN HOE HELP ‘N MENS?

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Wat sê ‘n mens vir iemand wat met kanker gediagnoseer is, of wat iets slegs oorgekom het?

Ek weet regtig nie. Niks help nie. Dit weet ons almal mos.

Ek het ‘n vriendin van wie ek ‘n jaar laas gehoor het. Deur ‘n vriend hoor ek dat sy nie weet wat om vir my te sê nie. Nou wat moet sy vir my anders sê as wat sy voorheen vir my gesê het? Deur dit alles heen bly ek nog steeds ek. Ek het nou net ‘n ekstra onderwerp om oor te praat.

So luister na my en moenie vir my vertel ek kla die hele tyd nie. Dis nie waar nie. Partykeer wil ek net my simptomes met jou deel. Soos die skurwe voete. Of die snaakse kol onder my arm. Of my jeukende winkbroue. Dis vir my ook alles nuut en eienaardig.

En dan kan ek nog altyd na jou luister ook. Ek sien die naweek ‘n vriendin wat aan erge depressie ly. En ek sien sy is nie lekker nie, maar dit glimlag en sê: dit gaan goed. Uit daarmee, sê ek. Nee, sy wil nie by my kla nie, want my goed is soveel erger. Ekskuus?!? Maniese depressie is ‘n verskriklike siekte. Op die ou-end sit en gesels ons toe ‘n uur terwyl sy by my uitpak. Dit laat my normaal voel as jy normaal met my praat. Dit nie vermy om oor jou lelike hare te praat nie. Ja, ek het nie hare nie, maar ek gaan weer hare hê. En jou hare is tog nog altyd vir jou belangrik. Dis bietjie simpel om so aan te gaan oor hare en klere en naelpolitoer, maar as dit jou gelukkig maak, dan maak dit jou gelukkig. Ek gaan tog sekerlik nie van almal verwag om die vleeslike vaarwel toe te roep en net oor die geestelike te gesels nie. Dis dalk meer sinvol, maar dis nie heeltemal normaal nie.

Die heel lekkerste vir my is om tussen vriendinne te sit en ons sit en gesels net. Oor meer as die oppervlakkige. Ons kyk na mekaar met die oë van die siel, en ons sien mekaar raak. Dis lekker. Dis belangrik. En dit help.

Jy kan altyd ‘n eetdingetjie gaan afgooi as jy weet jou vriend/vriendin het vandag chemo gehad. Of, as jy weet sy/hy word eers oor vier dae siek, gaan doen dit dan. Of gaan maak ‘n koppie tee vir hom/haar in sy/haar eie kombuis. En drink dit saam. En gesels. Terwyl jy met sielsoë kyk.