Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

by elizac

DRUGS EN VERVELING

Augustus 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek besef maar net elke dag hoe ‘n vervelige lewe ek nou eintlik lei. Die onkoloog het vir my hêppie pilletjies voorgeskryf, want volgens haar vernietig die chemo die seratonienvlakke in jou liggaam wat lei tot swak slaappatrone. Nou ek slaap al jare baie sleg, maar wanneer ek wel slaap, slaap ek. So nou sit ek met hêppie pilletjies en ook slaappile, en die twee wil mekaar nou nie uitlos nie. Ek kan nog steeds nie slaap nie, en ek weet nie hoe lank dit gaan vat voor die hêppie pilletjies inskop nie. Intussen voel ek soos ‘n dronk hoender wie se bene van haar lyf verwyderd is. Ver verwyderd. Dis glad nie lekker dat my kop eenkant is en, ja wel, my boude anderkant nie.

Wat my laat dink dat ek ‘n verskriklike slegte addict sou gewees het. Totaal onfunksioneel.

by elizac

PARTYKEER…

Augustus 29, 2010 in Sonder kategorie

… word ek wakker en daar is niks fout met my nie. Dan word ek wakker.

Partykeer kyk ek na myself in die spieël en ek dink nie aan doodgaan nie. My oë is wakker en die grys sakke onder die oë is weg.

Gister sit en verkoop ek weer juwele op die mark. Die mense is toe met die geldhand, maar jy kan hulle nie kwalik neem nie. Dit lyk of die resessie uiteindelik vir Oos-Londen getref het. ‘n Vrou staan en gesels met my – mense weet mos nie wie of wat jy is nie. Vir hulle is jy net die vrou wat op die mark sit en juwele verkoop. Sy wil weet wanneer ek weer op die mark gaan wees. Ek sê maar ek is gewoonlik hier, maar op die oomblik het ek ‘n gesondheidsprobleem waarvoor ek behandel word en dus kan ek nie elke Saterdag waarborg nie. Nou kyk sy my skeef aan. Ek sien sommer wat deur die kop gaan: Vigs, of iets soortgelyks. Toe sê ek maar ek kry chemo.

Toe kyk sy my diep aan en sê: die Heilige Gees in my sê vir my dat jy gesond sal wees.

Nou is dit nou nie ‘n goeie boodskap nie???

by elizac

CHEMO SEWE

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

Ag, mense, ek wil huppel en spring en dans, al kan ek nie dans nie en het, soos my pa, hallelujavoete wat hul eie rigting inslaan. Ten spyte van my musikaliteit… Dans was mos sonde in my grootwordjare. Chemo sewe het besonder goed afgeloop en was binne drie en ‘n halwe ure verby. Bloot omdat ek eers die onkoloog gesien het en toe die gelukbringertjies aan al die ander pasiënte uitgedeel het. Dit het nogal lank geduur, want daar was baie mense vandag. Ek het dit net-net gemaak vir die laaste stoel. En hulle het die aar gebruik wat die vorige keer tweede keuse was, en dit het steeds perfek gewerk, sodat al die produkte binne twee ure deurgeloop het en ek klaar was!

Plus, ek het vir die hoofsuster – die ene met die dun lippies – ‘n Minnie Muis gekies wat vlerkies het en ‘n sterretjie vashou en vir haar gesê sy moet ene kies, maar ek dink die ene is goed vir haar, want sy is ‘n engel en ‘n ster! Sy het tot geglimlag en gesê sy sal daardie enetjie neem. Die ander verpleegster het ewe gelukkig vir my gewys dat sy haar Garfield (ja, ek weet dis nie Disney nie, maar ek het gedink die manne sal meer neutrale gelukbringertjies kies, maar toe kies hulle vir Mickey en Minnie) aan haar selfoon gehaak het.  Ek het eers vir my chemoverpleegster gevra of sy dink die hoofsuster sal iets wil hê. Sy’t self haar lippies dun gemaak en haar kop nee geskud… Maar ek het tog probeer! Ons was in elk geval vandag so baie mense, dat sy niemand kon keer nie!

Eeeeeeen…. ek verbeel my die Shhhh, chemo in progress-plakkate is verwyder…

Ag, en dan wil ek net sê: dankie, Liewe Here! Volgende keer laat ek ALMAL weer vir die chemosusters bid, en nie vir my nie! Dit werk!

by elizac

EK’S BIETJIE BEKOMMERD….

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

… oor môre. Dis chemo SEWE (Halleluja!) en daai hoofchemosuster se lippies word baaaaaie dun as ek daar instap. En ek’s mos ‘n sensitiewe sielietjie – altyd ingestel op ander. Maar môre is ek Minnie Mouse (al 1,8 meter van my!) en ek gaan Disney gelukbringertjies aan die ander pasiënte uitdeel. So ek weet nie wat die reaksie gaan wees nie. Maar sy moet nou maar haar lippies dun maak. Dis my manier van sê: kyk na my! Ek lewe!

by elizac

BELYDENIS IN DIE NAMIDDAG

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Ter verdediging van my vorige pos (hiehiehie) moet ek darem net die volgende bieg:

1. Ek het ‘n doktorsgraad in Afrikaans. Ja, nogal. As Afrikaans nie meer gelees/geleer word nie, is my navorsing in sy jy-weet-wat.

2. Ek gee klas in Engels. Besigheidskommunikasie. M.a.w. ek leer (meestal) Xhosabloedjies hoe om op Engels in die besigheidswêreld te kommunikeer. ‘n Taak wat doodgebore is voor dit begin het, want hulle kan dikwels nie eens is of are baasraak nie.

3. My gunstelingliteratuur is Engelse chick lit. Daar is doodeenvoudig net nie genoeg sulke literatuur in Afrikaans beskikbaar nie. Ek lees ten minste twee boeke per week, al beteken dit dat ek min moet slaap!

4. My grootste ambisie is om ‘n hygroman te skryf. Lekker Afrikaanse chick lit. In die styl van Eleanor Baker. Dis ook een van die redes waarom ek probeer om so ver as moontlik netjiese Afrikaans op litnet te gebruik. Let wel, nie die Standaard Afrikaans waaroor die meeste van ons geleer het nie, maar Afrikaans wat die situasie pas. Dit help my oefen.

5. O, en ek het twee romantiese verhale geskryf terwyl ek op skool was. In die Wisku ndeklas. Natuurlik nooit gepubliseer nie, want wat weet ‘n 16-jarige nou van hyg? (OK, ‘n 16-jarige van die tagtigers…) My Wiskunde, moet ek bysê, het ek net-net op die Hoër Graad deurgekom. Waaroor ek vandag spyt is. Maar ai, daai stories van my was baaaaaie interessanter as die Wiskunde onderwyser.

Nou weet julle heeltemal te veel. Dalk sal ek elke litnetblogger wat hier lees, moet delete. Julle weet wat ek bedoel.

by elizac

WEG MET AFRIKAANS!

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Terwyl die mense nou so lekker baklei het hier op die blogs, laat ek sommer ‘n nuwe geveg begin… Hoekom het ons hoegenaamd elf tale in hierdie land? Kom ons begin ‘n veldtog waarin ons propageer vir Engels as die enigste amptelike taal. Dit gaan in elk geval gebeur, so kom ons maak die pyn minder en begin sommer nou daarmee. Ek sien die mense wat so Afrikaans is, praat maar self sleg Afrikaans. Tot dusver het ek hard probeer om Afrikaanse televisie te ondersteun sodat ons nie nog die bietjie moet verloor wat daar wel is nie, maar ai, nou kan ek nie meer nie. Laat ons maar eers vir 7e Traan los – dis ‘n hele blog post. Vanaand kyk ek Pasella om my so ‘n bietjie aan die mooi dinge in die lewe te verkyk, en waarlik, praat sjef Thabo nie beter Afrikaans as Neels van Jaarsveld nie. Seker 50% van sy “Afrikaans” was Engelse uitinge. Die pragtige aanbiedster praat van ‘n lighuis, sodat die persoon met wie sy ‘n onderhoudvoerder haar mooi reghelp en verduidelik van ‘n “vuurtoring”. En die liewe Paultjie, ai, hy het dan so “opgekyk” na Kobus Wiese. Waarom dit nuus is, weet ek nie, want die man is lank. Daar is seker min mense wat nie opkyk na hom nie.

Dan is daar ander programme, soos Supersterre, waar mense voortdurend deur die sang van die deelnemers “weggeblaas” is. Daar’t seker maar ‘n sterk Sedoos gewaai, of anders het die spulletjie almal ‘n oormaat knoffel geneem om met die stemme te help. Maar ek’t nogal lank gekyk of hulle die weggeblaasde beoordelaars en aanbieders vir ons sou wys, maar dit het nooit gebeur nie. Seker maar uitgesny, want as Patries Lewies met daai rokkies aan weggeblaas word, sal haar klere ook foutjies begin toon. So in die openbare oog. Dan hoor ek gereeld van mense wat so bang is hulle het iets uitgemis. Ek hoop tog werklik nie so nie. Dit kan ‘n hewige stank afgee. Of hulle wonder of ‘n saak opgebring is. Nee, magtig, mense, wie gaan daai gemors skoonmaak? Naar by die werk of tydens die bespreking van ‘n saak is nie ‘n grap nie.

Laasgenoemde twee woorde laat my altyd dink aan Lina Spies, wat my Nederlandse dosent in my eerstejaar was. Sy’t eendag spottenderwys in ‘n toespraak gesê: Ek hoop nie ek het iets uitgemis wat ek moes opgebring het nie. Deesdae klink heelwat mense of hulle ‘n maagprobleem het met al die gemissery en opbringery. En ek dink nie hulle kom dit agter nie.

So kom ons kry die pynlike gebruik van Afrikaans nou verby. From now on we speaketh the English only.

Wat my laat dink aan die Afrikaanse pappa wat vir sy Engelse kindjie gesê het: No, put the chips back. Mommy bought you Already Chips. Nou ek ken van Simba en van Willards en ook van Eveready Batterye, maar Already Chips? Nog nie van gehoor nie.

Nou wonder ek. Dalk moet Engels verban word, want ek kan daar ook nie meer veel verstaan nie!

by elizac

MALLEMEULE

Augustus 24, 2010 in Sonder kategorie

Môre begin die liewe mallemeule weer: bloedtoets sodra ek myself uit die huis kan sleep (dit vat laaaaaank om vals ooghare aan te sit!), Donderdag die ag pille in die oggend en ag in die aand, en Vrydag om half 11 chemo.

En môre moet ek ook gaan kyk of daar iets by Binnelandse Sake aangaan, want my paspoort verval in April 2011, en dis nou nie goed genoeg vir die Germaanse ambassade nie. Het juis vandag ‘n uur en ‘n half in ‘n tou gestaan en gesit om my bestuurslisensie te vernuwe. Vyf jaar gelede het ek ses ure in dieselfde tou gesit/gestaan; so dinge verbeter definitief. Die mense praat steeds nie Afrikaans of Engels nie, maar dan, my isiXhosa is self nie te waffers nie.

Die feit dat ‘n gewag by Binnelandse Sake my minder depressief maak as die vooruitsig van bloedtoetse en chemo, moet julle seker iets van my gemoedstoestand vertel. Nog net twee sessies, en laat die liewe Here gee dat dit NOOIT OOIT weer met my gebeur nie. Amen.

by elizac

AI, DIE NAVORSING!

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Kyk nou net wat lees ek raak in die nuutste Huisgenoot (bl. 24): Die Amerikaanse Kankervereniging het in ‘n veertien jaar lange ondersoek “bevind mense wat ses of meer uur van hul daaglikse ontspanningstyd omsit, vroeër aan kanker of hartsiektes sterf as diè wat minder as drie uur lank sit”. Huh? Is dit net ek, of is daar ‘n groot skroef los êrens? Ek bedoel, hierdie mense het pas VEERTIEN JAAR se tyd en geld bestee aan navorsing oor kanker en hartsiektes. En hulle bevind dat jou kanse om kanker/hartsiektes te kry, groter is as jy meer as ses uur van jou daaglikse ontspanningstyd omsit. VEERTIEN JAAR! En dan kom hulle tot ‘n slotsom wat my laat vrae vra. Byvoorbeeld: hoekom kan jy gedurende werkstyd sit, maar dit het geen invloed op jou gesondheid nie? Wat word bedoel met “ontspanningstyd”? Byvoorbeeld, as ek sit en juwele maak in my ontspanningstyd, tel dit steeds as “sit en ontspan”, of tel dit as “sit en werk”? En hoeveel van julle het daagliks ses ure se ontspanningstyd? En verder, het dit betrekking op elke dag, of kan dit jou benadeel as jy net een keer per week meer as ses ure sit?

Die ergste is dat hierdie inligting aan die gemiddelde Afrikaanse leser voorgehou word as die waarheid.

NS O, ek lees deesdae die Huisgenoot. Dit laat my besef hoe bevoorreg ek is. Net in hierdie week (seker verlede week?) se uitgawe is daar ‘n artikel oor ‘n vrou wat op een been staan soos ‘n flamink, ‘n vrou met ‘n magnetiese gesig en ‘n vrou wie se neus en ore met ‘n swaard afgesny is. Laat jou dink, of hoe?

by elizac

OE JINNE!

Augustus 16, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s nou so opgewonde en vrolik! My smaail raak eintlik die agterkant van my kop. Ek’t vandag, na djaaaaarre se gesukkel met my ou skootrekenaar, uiteindelik vir my ‘n ander een gaan koop. En ek tik hom net so effentjies, dan reageer hy al. My oue – ag jaar oud om presies te wees – is deur my werk aan my verskaf, en ek moes nou so met ‘n ompad langs die ene vir myself kry. Hulle sal vir my die software laai, want die een is nou met my navorsingsgeld (wat ek nog nie gekry het nie!) verkry. Ha! So ek kan internet, maar ek kan nie werk nie… Maar ek is stadig maar seker besig om die dingetjie te verken, en hy het so ‘n oulike ogie daar bo in die middel, en ek kan Skype en hoef nie te sukkel met ‘n los kameratjie en sulke goed nie. Nou moet paranoïese ek net die ogie toeplak wanneer ek dit nie gebruik nie (ja, ek kyk dr phil!). Ag, te wonderlik. Ek is net bevrees ek weet nie hoe ek die rekenaar vir so drie dae by ICT Services gaan los dat hul die universiteit se programmatuur kan laai nie… Vir daardie drie dae sal ek die ou rekenaar moet gebruik. Diè het hul darem vandag ekstra ram gegee. Ek hoop dit beteken ekstra skop soos ‘n jong ram, en nie net ekstra moeilikheid, soos met ‘n ou bok nie.

Og, en al die gesmaail en vrolikheid vind plaas dwarsdeur ‘n baie seer mond en seer kakebeen en lae witbloedtelling en inspuitings… Maar vandag se dag gaat dit my nie onderkry nie!

by elizac

LEKKER MOEILIK

Augustus 12, 2010 in Sonder kategorie

Ek is vanaand behoorlik die hel in. Sit vanmiddag so kort voor vyf ewe rustig hier voor die rekenaar, toe my sel lui: Elizabeth, Sesona did not arrive at aftercare. WAT?????? Sesona is my sesjarige (amper sewe) peetkind en sy is in ‘n oulike skooltjie hier om die draai van ons huis. Toe het die kind – wat, soos graad 1 die land oor, om 12:00 uitkom – nooit na die netbaloefening by die nasorg opgedaag nie EN NIEMAND HET HAAR GEMIS NIE!!!! Ek plak toe natuurlik net pruik op die kop (dalk moes ek sonder pruik gegaan het – dit sou hulle laat skrik het!) en spring in die motor en jaag nasorg toe. Daar hardloop die nasorgtannies soos afkophoenders rond en weet nie wat om te doen nie. Een van hulle (en ek weet wie dit was) het selfs heengegaan en die kind AFWESIG gemerk op die register toe sy sien die ma kom haal die kind. Nou hoe werk jou kop? As die ma die kind kom haal, dan moet dit kind mos daar wees! En julle weet, haar ma bel elke keer die nasorg as iemand anders Sesona gaan optel, soos ek, of haar pa, of haar oom. Dis nie asof ons nie laat weet nie. Intussen is die kind weg en niemand weet waar sy is nie. Ek is soos ‘n sersant-majoor tussen die tantes in: bel die netbaljuffrou! Het julle die klasjuffrou se nommer! Waar is die skoolhoof se nommer? Dis nou alles om by ‘n punt uit te kom waar ons kan vasstel presies wanneer die kind weggeraak het. Visies van nare ooms met aaklige bedoelings flits deur my kop. Ek sien hoe sit ons die hele nag in die polisiestasie en wag om te hoor van ‘n kind wat in ‘n angstoestand is, omdat haar ma en haar tannie nie meer vir haar lief is nie, en haar nie kom haal nie. Die tantes begin toe lewe kry, maar kommunikeer niks met my nie – hulle verdwyn net daar in die nasorggebou in. Ek kry die een tante, besig om te bel. Sy bel die netbaljuffrou. Diè weet nie wie Sesona is nie. Nou, ek verwag werklik nie van haar om al die meisietjies in die netbalgroepie te onthou nie, veral omdat ek weet sy rig hulle nie elke keer af nie. Maar waar is haar register? Ek is die laaste persoon wat kan praat van gesigte en name onthou, want ek moet ‘n mens so vyf keer sien voor ek hom/haar miskien sal onthou, maar ek sien baie meer studente in ‘n dag, en as iemand my vra of juffrou Siswana daar was, sal ek kan onthou, of ek sal ten minste kan gaan kyk. En dis met die volgende belslag – nou na die klasjuffrou toe – dat Sesona in die speelgrond van die skool gevind word: plat op haar gesiggie en huilend in die stof. Sy’t gedink haar ma het haar vergeet. En om die een of ander rede het sy gedink haar ma gaan haar by die skool optel, en nie by die nasorg.

Nou vra ek julle. Die ENIGSTE mense wat van hierdie skoolgebou gebruik maak, is die Graad R’s tot Graad 3’s – nie so baie kinders nie en nie so baie mense nie. Die nasorg is seker maksimum 150m vanaf die hoofhek. Die opsigters sluit die skoolhekke en merk nie ‘n kleine kind wenend in die stof op nie? Die nasorgtannies doen nie navraag om uit te vind waar die kind is nie? Hierdie kind het die HELE MIDDAG SONDER KOS EN SONDER SORG in die stof gesit en NIEMAND het haar opgelet nie. Die ou gesiggie was vuil van trane en snooi en stof.

Nou kan julle seker verstaan dat ek die hel in is. As hierdie kind iets met oorkom, hoe gaan ek ooit weer haar ma in die oë kyk? Dis ek wat aangedring het dat sy na die skool gaan – teen groot onkoste vir hulle almal, en groot ongerief, terwyl daar ‘n skool 100m van hulle huis af is. Ek ys.

Sesona is natuurlik deur hierdie aaklige tante van haar gestraf. Sy sou vandag nuwe skoene kry, maar sy sal die nuwe sandale nou eers volgende naweek kry. Sy moes ook vir al die tantes by nasorg om verskoning vra. Maar eerlik, ek dink die eensame middag sonder kos en met die hartseer was groot genoeg straf.

En ek het darem haar ma gevra om haar nie te “smack” nie – daai “smack” van ‘n Xhosakind is erger as ‘n ou boerepak.

MAAR EK IS NOG STEEDS DIE HEL IN! Ek het ‘n e-pos aan die skoolhoof gestuur en ook aan die fasehoof. Daardie anties by nasorg het nou met my te doen – hulle weet natuurlik glad nie wie ek is nie, maar ek is DOKTOR, thank you very much, en my man is ‘n eks-onderwyser van die skool wat nou as INSPEKTEUR (ja, ek weet dit word nou iets anders genoem, maar dis dieselfde ding!) werk, en hy doen baie vir hierdie skool! HA!HA!HA!

Hulle beter my môre bel!