by

WAAROM KRY MENSE KANKER?

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Julle sal my vanaand moet verskoon as ek so ‘n bietjie sarkasties is. My biblioteekboeke is klaar gelees, en ek het nog nie kans gehad om nuwe ontvlugtingsliteratuur te kry nie, so nou sit ek lees ek ander literatuur en luister na praatjies. Het vanaand die Sarie Gesond (Somer 2010) weer in die hande gekry en so al die wyse raad(t) bekyk. Ook na ‘n tv-program gekyk met die naam No Reservations, waar vier vroue indringend geklets het oor gewig en gesondheid en so aan. Almal karring altyd oor dieselfde goed aan, so kom ek maak julle ‘n bietjie bang:

http://www.cancer.gov/bcrisktool/RiskAssessment.aspx?current_age=45&age_at_menarche=13&age_at_first_live_birth=0&ever_had_biopsy=0&previous_biopsies=0&biopsy_with_hyperplasia=0&related_with_breast_cancer=0&race=1

Ek hoop julle kan dit oopmaak. Dit is ‘n instrument wat ontwerp is om mense se risiko op borskanker te bepaal. En weet julle wat was my risiko in November 2009 toe ek 45 geword het? ‘n Volle 0,9%. Ja, julle lees reg. Die gemiddelde vrou van my ouderdom se risiko om borskanker te ontwikkel, is 1%. My risiko was dus laer as die van die gemiddelde vrou. Oor ‘n leeftyd van 90 jaar verhoog my risiko na 10,6%, en die van die gemiddelde vrou na 11,9%. Laat ek dot dot dot skryf en dit daar laat.

Dit bring my dus by my vraag: waarom kry mense kanker? Wat my betref (en dis my OPINIE hierdie!), is daar twee antwoorde. Die kort antwoord is: niemand weet nie. Hier kom die lang antwoord en my repliek daarop: elke persoon word gebore met kankerselle. Jou lewenstyl bepaal of hierdie selle aktief sal word, of nie. Lewenstyl het te doen met risikofaktore waaroor jy beheer kan uitoefen, en risikofaktore waaroor jy geen beheer het nie (sien www.breastcancer.org). Die risikofaktore waaroor jy beheer kan uitoefen, is die volgende:

  • dieet. Min rooi vleis, baie groente en vrugte, baie water. Skattie, ek eet al 25 jaar lank nie rooivleis nie. Nie eens biltong of my ma se bobotie nie. Dalk moes ek meer geëet het? Volgens Sarie Gesond het “die wat die meeste rooi- en verwerkte vleis geëet het, … meestal jonger gesterf, veral weens hartsiektes en kanker”. Ha! Ek eet nie eens verwerkte kaas nie!
  • gewig. As jy oorgewig is, verhoog dit die risiko op hartsiektes en kanker. Reg, ek’s 20kg oorgewig.
  • Oefening. Nou ek’s nie Antjie Aktief nie, maar lees my vorige pos en besluit self. Het juis weer vanaand 25 minute op die eliptiese treiner ingesit, ten spyte van die newe-effekte.
  • rook. Reg. Bring daar vir my ‘n sigaar of twee, en dalk ‘n pyp ook. Gooi sommer ‘n ietsie sterker ook in. Het nog nooit gerook nie. Doen niks vir my nie. Dalk moet ek begin?
  • Alkohol. Ten spyte van die feit dat ek op ‘n druiweplaas in die Wes-Kaap grootgeword het, het ek op die ouderdom van 12 ‘n geheelonthouer geword. Dwarsdeur my studentejare (en dit op Stellenbosch!). Ek was altyd die designated driver. Het nie eens alkohol met nagmaal gebruik nie, en het eers weer begin toe ek 23 jaar oud was. Verkies vandag ‘n lekker ou rooiwyn met lekker kos, of ‘n goeie Chardonnay. Maar ons drink min, want my arme man kry erg gout na net ‘n glasie of twee. Kan nie eens onthou wanneer ek laas ‘n glasie wyn gehad het nie. Beslis lank voor die Wêreldbeker. Wat my laat dink: môre is dit ‘n week na chemo 5 en die onkoloog sê die chemo behoort dan uit my gestel te wees. Dan kan ek weer begin drink, want dit sal nie met die chemo inmeng nie… Wonder of hier nog ‘n bottel ordentlike wyn in die kas is. Daar’s beslis wyn…
  • Chemikalieë in jou omgewing. Weet nie eintlik hoe ek iets hieraan kan doen nie. Op die oomblik ruik ek Nompumelelo se vure, en dis so 5km van hier af. En aangesien ek op ‘n plaas grootgeword het, was ‘n mens seker nogal blootgestel aan chemikalieë. Die enigste ander chemikalieë waaraan ek hier kan dink, is waspoeier en opwasseep… My tuin is erg organies. So erg, dat die ruspers en slakke en molle my nou al by die naam groet.
  • Hormoonvervangingsterapie vir langer as vyf jaar. My liefie, ek het dit nog nie nodig gehad nie, en nou sal ek dit nooit mag gebruik nie.

Die risikofaktore waaroor jy nie beheer kan uitoefen nie, is die volgende:

  • ouderdom. As jy gelukkig is, sal jy oud word. Daarmee saam kom ook die verhoogde kans op allerhande siektes.
  • persoonlike geskiedenis van borskanker. As jy dit eers gehad het, verhoog jou risiko. Jy kan wel behandeling toepas wat jou risiko verlaag (soos chemo en bestraling en natuurlik die uitsny en afsny van organe!)
  • sekere veranderinge in jou borste. Hiermee het ek nog nooit gesukkel nie.
  • familiegeskiedenis, veral van jou ma, jou ma se susters, of jou susters. Ek het twee tantes wat albei borskanker gehad het. Aan my pa se kant. (Nuwe navorsing probeer glo nou wys dat dit nie saak maak of dit van pappie of mammie se kant kom nie. Ek kon dit nog nie vind nie). Daar is geen kanker aan my ma se kant van die familie nie.
  • genetiese abnormaliteite. Nou ek kan sekerlik na baie eienaardige genetiese abnormaliteite in my familie wys, maar of dit iets met kanker te doen het, is onseker.
  • Jou menstruasiegeskiedenis. As jy voor 12 begin menstrueer het, of eers na 55 in menopouse gegaan het, verhoog jou risiko. Nie ekke nie.
  • Ras. As jy blank is, verhoog jou kanse.
  • Bestraling aan die bors voordat jy dertig was. Huh? Nie met my gebeur nie. Hoekom sou dit ook?
  • Borsdigtheid. Het klaarblyklik te doen met ‘n verhoogde vlak van estrogeen. My borste is dig, vandaar die ultrasound wat op 13 Augustus 2009 gedoen is. Geen probleem nie.
  • Blootstelling aan diethylstilbestol. ‘n Middel wat gebruik word om miskrame te voorkom. Beslis nie by my gebruik nie.
  • Laat swangerskap of geen swangerskap nie, m.a.w. om kinders te hê na die ouderdom 30. Ek het nie kinders nie. Dit was nie noodwendig ‘n keuse nie, maar iets wat op my afgedwing is deur die lewe.

Om op te som: ek is wit, oorgewig, het digte borste en is tussen die ouderdom van 40 en 59. Dis my risikofaktore. En, as jy wil, kanker aan vaderskant.

So, waarom kry mense kanker? My antwoord is: eintlik is die wetenskaplikes net besig met raaiskote. Hulle kan nie sê nie, en kan bloot staatmaak op gemiddeldes en dit soos wetenskap laat lyk. Laat my verduidelik: dit is baie moeilik vir ‘n mediese wetenskaplike om werklik sy/haar hipoteses te toets. Byvoorbeeld, as jy glo dat die voorbehoedingspil kanker veroorsaak, sal dit oneties wees om vroue daaraan bloot te stel, sodat jy kan sien of hulle kanker kan kry. Jy kan nie mense kanker gee en dan sê: ok, die ding gee kanker nie. So nou moet jy raai. Hoeveel vrouens wat borskanker het, het die voorbehoedingspil gebruik? Vir hoe lank? Watter tipes? En diegene wat dit nie het nie? Wat het hulle gebruik? Watter tipes? Sê nou maar jy dink radio-golwe, soos die van selfone en ander elektroniese apparaat, veroorsaak kanker. Dit sal oneties wees om mense aan groot dosisse van hierdie apparate bloot te stel, net sodat jy kan sien of dit wel kanker veroorsaak of nie. Want wat as dit mense wel siek maak? Wat maak jy dan? [Die anti-vigs room is nou vreeslik in die nuus. Ek dink dis wonderlik, veral vir vroue wat nie werklik ‘n keuse het in beskerming van hulself nie (julle weet, daai mans wat vra: hoekom wil jy ‘n kondoom gebruik? Loop jy rond? terwyl hy eintlik die een is wat rondloop), maar ek het nogal ‘n probleem met die etiek van die studie: hoe gee jy vir vroue, wat jy weet in ‘n hoë risiko groep val, ‘n placebo, terwyl ander die ware Jakob kry? Maar dis ‘n debat van ‘n ander aard].

Hoekom kry so baie mense nou kanker? Wat is verkeerd in ons samelewing? Die wetenskaplikes beweer dit is bloot vroeë opsporing. Maar vroeë opsporing behoort nie ‘n verskil te maak aan die getal diagnoses nie – net aan die oorlewingsyfer. Vir my lê die probleem veel dieper as die baie oppervlakkige, gemaklike antwoorde soos dieet, oefening, gesond leef.

So ek kyk wel steeds na my dieet, maar ek het hierdie afgelope week al biltong geëet. Was lekker, maar ek is nie nou lus vir nog nie. Ek het hierdie week al 45 minute op die elliptiese treiner deurgebring, maar ek gebruik deesdae die hysbak in plaas van die trappe. Waarom nie? Laat my vroeër kom waar ek wil wees, en dan kan ek bietjie ontspan. Plus ek probeer werklik om tog nie so verantwoordelik vir alles te voel nie. Die studente daag nie op vir klas nie? Ag wat, gee hulle maar net ‘n woordjie of twee en gaan aan. Niks gaan verander net omdat ek dit wil hê nie. Daai referaat wat lê en wag? Môre voel my breinselle dalk beter en dink ek flinker.

Laat my gaan slaap. Môre is dit weer tyd vir ‘n bloedtoets. En daarvoor kan ek nie leer nie!

11 antwoorde op WAAROM KRY MENSE KANKER?

  1. loudavisi het gesê op Julie 22, 2010

    Elizabeth, dankie vir hierdie skrywe, nou weet ek ook meer.
    Iets wat ek by ‘n vriend in Kanada gehoor het:
    (hy doen navorsing oor borskanker)

    Swart vroue kry nie maklik borskanker nie, want hulle borsvoed tot die kinders self teen 7 of 8 jaar kies om op te hou. Dis meestal omdat hulle nie ander kos kan bekostig nie.

    Meeste vroue wat borskanker kry is maer en het baie klein borsies.

    Bra’s wat onder die arm styf sit, druk op die limfkliere en veroorsaak dat die kliere nie hulle werk kan doen nie, gifstowwe hoop daar op en vorm knoppe.

    Ondergrondse water wat vergiftig is deur boere wat gifstowwe spuit. Die grond absorbeer die gif en as dit water kry, sak dit af en vergiftig die ondergrondse water.

    Dit is ook maar bespiegelinge…hoop die slim ouens kry eendag ‘n antwoord.

    ?

  2. katrina het gesê op Julie 22, 2010

    Ek is geneig om nogal met jou opinie saam te stem, want ek het al baie gewonder oor al hierdie moets en moenies van voorkoming ensovoorts, oor risikofaktore ens. Dis dieselfde met mense wat bv. hope en hope aanvullings en goed gebruik en vrek siek raak en dan ander wat die teenoorgestelde is… Daar is sekerlik wetenskaplike verklarings ook, maar soos jy, kan enigeen van ons beslis in daardie 0,9% groep val en dan daardie statistieke word… Hoop jy’t ‘n goeie dag XX

  3. Dink dit gaan maar so met baie ander siektetoestande.
    Een persoon neig meer daarna as die volgende.
    My pa was ‘n erge goutlyer en het bittermin alkoholiese drank gebruik.

  4. 4anni het gesê op Julie 22, 2010

    Dis waar wat jy sê. Alles is bespiegelinge. Volgens een is suiker goed vir jou, volgens ‘n ander is dit doodskos. My pa is oorlede aan Pankreatitis, wat dikwels gekoppel word aan alkholisme. En ek kan vandag vir jou waarborg, my pa het met nagmaal wyn gedrink, en dis dit. Met die gevolg, ek self luister met die een oor, en dis dit. Verder probeer ek gesond eet en matige oefening inkry, en glo so van my kant af doen ek my deel. As ek sou lus kry vir rooivleis, eet ek rooivleis.

    Sterkte, en lekker dag vir jou!

  5. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Nie juis kwaad nie. Meer sarkasties oor al die “maklike” antwoorde uit mense wat nog nie daar was nie, se monde. Seker julle het ook al gelees en gelees en gelees, en vreeslik baie raat gekry… My nuutste? Barley water. Dink dis hops?

  6. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Presies!

  7. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Sê vir haar sterkte en gee haar my blog om te lees!

  8. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Selle met my man. En hy’t al hoë bloeddruk van voor 40…

  9. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Ek wens net die mediese navorsers wil erken dat hulle nie weet nie. Hulle sien so dikwels neer op mense soos ek wat in die sogenaamde “Geesteswetenskappe” is, maar hulle wetenskap is ook geen eksakte wetenskap nie.

  10. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Ek ken vroue wat twee keer dikker as ek is. Hulle het nie kanker nie. Ek ken vroue wat die helfte my size is. Hulle het kanker. Ek ken vroue wat nooit kinders gehad het nie. Hulle het nie kanker nie. Ek ken vroue wat op die “regte” ouderdom kinders gehad het. Hulle het kanker. Ek ken vroue wat gim – met kanker. Ensovoorts. Ons moet almal begin om die lewe te geniet – maak nie saak wat dit beteken nie – solank ons nie onsself of ander skade aandoen nie.

  11. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    Hierdie antie het persoonlik net ‘n bra gedra as sy gedink het dis absoluut noodsaaklik, m.a.w. as iemand dalk tog nou kon aanstoot neem weens die sigbaarheid van my A-cups. Soos by die werk deur ‘n dun toppie. Andersinds glad nie. Tot my ma se ontsteltenis (sy baklei al sedert my vyftiende jaar met my…) En ek het vas geglo dat bra’s die kliere vasklem. En kyk nou.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

1 terugspoor