Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

by elizac

SHEILA VAN QATAR

Julie 27, 2010 in Sonder kategorie

Sondagoggend so halftienerig lui my selfoon. Ek sit nog huiwerig oor ‘n bakkie jogurt, maar ek antwoord. Dis die markbestuurder. Hy sê ek het Saterdag glo twee armbande aan ‘n dame verkoop en sy moet Maandag teruggaan Kaap toe, en die twee armbande is nou te groot. Mmm, wens dit was ek wat die armbande verkoop het, maar met my witbloedliggaampies gevaarlik laag en my liggaam sonder enige infeksiebeheer, was dit ‘n waagstuk om Saterdag mark toe te gaan. Was dus nie daar nie. Saak afgehandel. Tien minute later lui my foon weer. Dis die dame met die te-groot-armbande. Sy’s nou vreeslik jammer, maar hulle kry nou nie die man (en hulle bel my?) wat die armbande aan haar verkoop het en sy is nou desperaat. Ek sê toe maar ek eet net gou my jogurt klaar, dan is ek op pad. Die mark is maar so 5 minute se ry van ons huis af – as daar nie verkeer is nie – en dis tog seker nou nie die einde van die wêreld om jou medemens te gaan help nie. My man sal bestuur, want hy is bang ek raak duiselig langs pad.

En so ontmoet ek vir Sheila van Qatar. Wat twee Gotiese armbande by ‘n persoon gekoop het wat eintlik ‘n sekere, baie bekende smousproduk se juweliersware so ietwat namaak. Vroue is dol oor die bonkige juweliersware. Ek ook, maar ek sal nie maak wat ander maak nie. Sy’t die twee stukke vir haar dogters gekoop en vlieg die Maandag weer Qatar toe – nie Kaapstad nie. Vandaar die krisis. Ek sit en maak reg en ons gesels. Sy is hoogs ontsteld toe sy besef ek het uit my siekbed (ha!) opgestaan om haar te kom help. En toe’s my man ook nog onbeskof met haar. Volgens hom moes sy mos die armbande aangepas het en dan sou sy geweet het die goed is te groot. My argument is: ek het mos nou ingestem om die joppie te kom doen, en dan is dit mos nou onnodig om met haar te raas. Ek sê net vir haar: dis my 67 minute vir Mandela. Ek dink nie sy het presies geweet wat ek bedoel nie!

Toe ek wegloop, sê sy: jy sal gesond word, want jy straal ‘n positiewe gees uit.

Dankie, Sheila van Qatar. Jy is een van die vele interessante mense wat ek op my pad raakloop. Mag jy geseënd wees.

by elizac

VERLIGTING

Julie 23, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend vir 09:00 afspraak by my AP (Algemene Praktisyn) gekry. Hy ken nou al die storie. En net toe ek in die spreekkamer vir hom sit en wag, lui my foon, en dis my man en hy sê: laat die AP die onkoloog bel. Daar’s fout met die bloedtoetse. Die onkoloog sê ek moet onmiddellik kom.

Natuurlik is dit nie ‘n krisis nie. My witbloedliggaampies is laag en dit verhoog die kans op infeksie. Vandaar ook die feit dat die mondsere nie wil weggaan nie – dit bly ontsteek. Maar dis nie of ek nou juis ANDERS voel as na vorige chemos nie. Dis dieselfde. So hoekom kon my vorige onkoloog nie hoor as ek sê ek voel so verskriklik sleg nie? Die locum was die eerste persoon om ‘n sommernet bloedtoets te skeduleer, om te sien wat my liggaam doen. Hierdie onkoloog was die eerste een om in my keelgat af te kyk. Hy sit met ‘n vonkel in die oog en besluit hoe lank hy my sal afboek. Tot die einde van die kwartaal. Ek protesteer, maar eintlik wil ek nie. Hierdie was ‘n sleg jaar vir my en my studente. As ek nie siek was nie, het hulle gestaak, en van ‘n ordentlike verhouding tussen ons, is daar geen sprake nie.

Dis ook weer tyd om myself in te spuit met daardie oulike naaldjies wat R4000 vir vyf kos. En ek is weg huis toe met ‘n handvol pille, onder andere ‘n emulsie wat binne SEKONDES die mondpyn verdoof, en pynpille wat langer as ‘n uur hou. Verligting vir ten minste vier ure. Waarom kon ek dit nie vroeër gekry het nie? Ek gaan ‘n lysie uitdruk van moethê pille en dit in my handsak hou.

Nou’s ek natuurlik rasend honger. Het een en ‘n half kilogram die week verloor.

by elizac

H.A.L.T.

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Oeeeee, toe klim hierdie antie vanmiddag weer ‘n slag deeglik op die pity pot. En ek sit daar op die troontjie met trane wat van my wange afstroom, en ek kan nie eens ordentlik huil nie, want die mondsere voel asof hulle op my skarniere sit, en as ek huil, moet die skarniere beweeg, en dis seeeeeer. En waaroor was dit? Oor ‘n ou naaldeprikkie. ‘n Bloedtoets. My bloedtelling.

Vandag was ‘n lang dag. Het twee klasse gee van ‘n uur en ‘n half elke. Al my klasse is ‘n uur en ‘n half lank. Ek vind deesdae dat ek so na ‘n uur baie moeg word. Toe is daar nou nog probleme in my eerste klas met die uitdeelstukke, en ek moet eers teruggaan kantoor toe om goed te gaan haal (ons het mos nie assistente soos by ‘n normale universiteit nie) en ek moet trappe klim en is gedaan. Kan skaars die boks vashou. Weer terug klas toe. My mond pyn iets vreesliks, sodat dit moeilik is om te praat. Tussen die eerste en die tweede klas moet ek gou huis toe kom om iets te eet, want vanoggend kon ek twee klein houertjies jogurt eet. Ek’s honger. Ek’s moeg. Toe is dit Duitse klas. Die studente werk flink, maar ek vind dit moeilik om my tong om Umlauts en sch te knoop. Dis seeeeeer. Ek sit by tye net. En toe die klas verby is, kan ek uiteindelik hospitaal toe vir die opvolgbloedtoets wat die onkoloog voor gevra het. Moet vandag gedoen word.

Dokter, sê die oulike suster (hulle dink ek’s ‘n mediese dokter en ek help hulle nie reg nie, want dan word ek vinniger gehelp), ek het nie butterflies nie. Is dit ok as ek dit in die hand doen? Ek maak asof ek weet wat sy sê, maar knyp my oë toe. ‘n Naald in die hand herinner aan chemo, en daaraan wil ek nie herinner word nie.

En dis toe wat ek so jammer vir myself begin voel. Want ek is HUNGRY, ek voel LONELY en ek is TIRED. Nog nie heeltemal seker of daar ANGRY ook was nie, maar ‘n mens het genoeg probleme as net een van die faktore teenwoordig is. As ‘n kombinasie teenwoordig is, is dit tyd om te HALT, want anders gaan jy iemand aanrand, of iets sê wat jy nie bedoel het nie, of in trane uitbars… En dis dan wat ‘n mens tog so maklik op die potjie klim.

So ek’t so deur die verkeer huis toe gery met trane wat oor my wange rol. En ek voel skoon fragiel. Dit oor ‘n naald in die hand.

by elizac

LEWENSFILOSOFIE

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Maankind sê in kommentaar op my vorige blog: “Daar is vir my net een eenvoudige antwoord: Dis op jou lewenspad. Of nie.” En dan lees ek in die Sarie Gesond (Somer 2010) oor die lewensfilosofie van ‘n 24-jarige. Of is sy nou 26. Genade, kind, jou brein is nog besig om te ontwikkel! Hoe op aarde kan jy ‘n lewensfilsofie hê wat vir hierdie ou antie van waarde is? Want ek het ook altyd ‘n lewensfilosofie gehad: dinge kom op jou pad, omdat jy iets daardeur moet leer. Te wonderlik. Iets slegs gebeur met my, en dan moet ek iets leer. Toe sterf ‘n vriend van my op sewe-en-dertig, amper ag-en-dertig. Iemand wat vyf-en-twintig jaar lank deel van my lewe was. Iemand met soveel talent, dat hy nie elke dag geweet het of hy vandag gaan sing, toneelspeel, skryf of onderrig nie. Iemand met ‘n vol lewe en baie potensiaal. Die een dag het ons nog per e-pos gekommunikeer, en die volgende oggend was hy nie meer daar nie. Alles net weg. En ek besef: hy het nie gesterf sodat ek iets kan leer nie. Dis mos onsinnig. Hoekom sal God ander mense pyn aandoen, sodat ek iets kan leer? En ek moes my lewensfilosofie hersien, want ek kan niks leer uit sy dood nie, behalwe dat enigiemand enige tyd kan doodgaan. En dit weet ons mos op intellektuele vlak. Toe besluit ek: die lewe gebeur met ‘n mens. Dis hoe jy dit hanteer, wat die verskil maak.

Dr Phil sê altyd: Life is not cured. It is managed.

En terwyl ons die lewe bestuur, mag ons hope pret langs die pad hê.

by elizac

WAAROM KRY MENSE KANKER?

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Julle sal my vanaand moet verskoon as ek so ‘n bietjie sarkasties is. My biblioteekboeke is klaar gelees, en ek het nog nie kans gehad om nuwe ontvlugtingsliteratuur te kry nie, so nou sit ek lees ek ander literatuur en luister na praatjies. Het vanaand die Sarie Gesond (Somer 2010) weer in die hande gekry en so al die wyse raad(t) bekyk. Ook na ‘n tv-program gekyk met die naam No Reservations, waar vier vroue indringend geklets het oor gewig en gesondheid en so aan. Almal karring altyd oor dieselfde goed aan, so kom ek maak julle ‘n bietjie bang:

http://www.cancer.gov/bcrisktool/RiskAssessment.aspx?current_age=45&age_at_menarche=13&age_at_first_live_birth=0&ever_had_biopsy=0&previous_biopsies=0&biopsy_with_hyperplasia=0&related_with_breast_cancer=0&race=1

Ek hoop julle kan dit oopmaak. Dit is ‘n instrument wat ontwerp is om mense se risiko op borskanker te bepaal. En weet julle wat was my risiko in November 2009 toe ek 45 geword het? ‘n Volle 0,9%. Ja, julle lees reg. Die gemiddelde vrou van my ouderdom se risiko om borskanker te ontwikkel, is 1%. My risiko was dus laer as die van die gemiddelde vrou. Oor ‘n leeftyd van 90 jaar verhoog my risiko na 10,6%, en die van die gemiddelde vrou na 11,9%. Laat ek dot dot dot skryf en dit daar laat.

Dit bring my dus by my vraag: waarom kry mense kanker? Wat my betref (en dis my OPINIE hierdie!), is daar twee antwoorde. Die kort antwoord is: niemand weet nie. Hier kom die lang antwoord en my repliek daarop: elke persoon word gebore met kankerselle. Jou lewenstyl bepaal of hierdie selle aktief sal word, of nie. Lewenstyl het te doen met risikofaktore waaroor jy beheer kan uitoefen, en risikofaktore waaroor jy geen beheer het nie (sien www.breastcancer.org). Die risikofaktore waaroor jy beheer kan uitoefen, is die volgende:

  • dieet. Min rooi vleis, baie groente en vrugte, baie water. Skattie, ek eet al 25 jaar lank nie rooivleis nie. Nie eens biltong of my ma se bobotie nie. Dalk moes ek meer geëet het? Volgens Sarie Gesond het “die wat die meeste rooi- en verwerkte vleis geëet het, … meestal jonger gesterf, veral weens hartsiektes en kanker”. Ha! Ek eet nie eens verwerkte kaas nie!
  • gewig. As jy oorgewig is, verhoog dit die risiko op hartsiektes en kanker. Reg, ek’s 20kg oorgewig.
  • Oefening. Nou ek’s nie Antjie Aktief nie, maar lees my vorige pos en besluit self. Het juis weer vanaand 25 minute op die eliptiese treiner ingesit, ten spyte van die newe-effekte.
  • rook. Reg. Bring daar vir my ‘n sigaar of twee, en dalk ‘n pyp ook. Gooi sommer ‘n ietsie sterker ook in. Het nog nooit gerook nie. Doen niks vir my nie. Dalk moet ek begin?
  • Alkohol. Ten spyte van die feit dat ek op ‘n druiweplaas in die Wes-Kaap grootgeword het, het ek op die ouderdom van 12 ‘n geheelonthouer geword. Dwarsdeur my studentejare (en dit op Stellenbosch!). Ek was altyd die designated driver. Het nie eens alkohol met nagmaal gebruik nie, en het eers weer begin toe ek 23 jaar oud was. Verkies vandag ‘n lekker ou rooiwyn met lekker kos, of ‘n goeie Chardonnay. Maar ons drink min, want my arme man kry erg gout na net ‘n glasie of twee. Kan nie eens onthou wanneer ek laas ‘n glasie wyn gehad het nie. Beslis lank voor die Wêreldbeker. Wat my laat dink: môre is dit ‘n week na chemo 5 en die onkoloog sê die chemo behoort dan uit my gestel te wees. Dan kan ek weer begin drink, want dit sal nie met die chemo inmeng nie… Wonder of hier nog ‘n bottel ordentlike wyn in die kas is. Daar’s beslis wyn…
  • Chemikalieë in jou omgewing. Weet nie eintlik hoe ek iets hieraan kan doen nie. Op die oomblik ruik ek Nompumelelo se vure, en dis so 5km van hier af. En aangesien ek op ‘n plaas grootgeword het, was ‘n mens seker nogal blootgestel aan chemikalieë. Die enigste ander chemikalieë waaraan ek hier kan dink, is waspoeier en opwasseep… My tuin is erg organies. So erg, dat die ruspers en slakke en molle my nou al by die naam groet.
  • Hormoonvervangingsterapie vir langer as vyf jaar. My liefie, ek het dit nog nie nodig gehad nie, en nou sal ek dit nooit mag gebruik nie.

Die risikofaktore waaroor jy nie beheer kan uitoefen nie, is die volgende:

  • ouderdom. As jy gelukkig is, sal jy oud word. Daarmee saam kom ook die verhoogde kans op allerhande siektes.
  • persoonlike geskiedenis van borskanker. As jy dit eers gehad het, verhoog jou risiko. Jy kan wel behandeling toepas wat jou risiko verlaag (soos chemo en bestraling en natuurlik die uitsny en afsny van organe!)
  • sekere veranderinge in jou borste. Hiermee het ek nog nooit gesukkel nie.
  • familiegeskiedenis, veral van jou ma, jou ma se susters, of jou susters. Ek het twee tantes wat albei borskanker gehad het. Aan my pa se kant. (Nuwe navorsing probeer glo nou wys dat dit nie saak maak of dit van pappie of mammie se kant kom nie. Ek kon dit nog nie vind nie). Daar is geen kanker aan my ma se kant van die familie nie.
  • genetiese abnormaliteite. Nou ek kan sekerlik na baie eienaardige genetiese abnormaliteite in my familie wys, maar of dit iets met kanker te doen het, is onseker.
  • Jou menstruasiegeskiedenis. As jy voor 12 begin menstrueer het, of eers na 55 in menopouse gegaan het, verhoog jou risiko. Nie ekke nie.
  • Ras. As jy blank is, verhoog jou kanse.
  • Bestraling aan die bors voordat jy dertig was. Huh? Nie met my gebeur nie. Hoekom sou dit ook?
  • Borsdigtheid. Het klaarblyklik te doen met ‘n verhoogde vlak van estrogeen. My borste is dig, vandaar die ultrasound wat op 13 Augustus 2009 gedoen is. Geen probleem nie.
  • Blootstelling aan diethylstilbestol. ‘n Middel wat gebruik word om miskrame te voorkom. Beslis nie by my gebruik nie.
  • Laat swangerskap of geen swangerskap nie, m.a.w. om kinders te hê na die ouderdom 30. Ek het nie kinders nie. Dit was nie noodwendig ‘n keuse nie, maar iets wat op my afgedwing is deur die lewe.

Om op te som: ek is wit, oorgewig, het digte borste en is tussen die ouderdom van 40 en 59. Dis my risikofaktore. En, as jy wil, kanker aan vaderskant.

So, waarom kry mense kanker? My antwoord is: eintlik is die wetenskaplikes net besig met raaiskote. Hulle kan nie sê nie, en kan bloot staatmaak op gemiddeldes en dit soos wetenskap laat lyk. Laat my verduidelik: dit is baie moeilik vir ‘n mediese wetenskaplike om werklik sy/haar hipoteses te toets. Byvoorbeeld, as jy glo dat die voorbehoedingspil kanker veroorsaak, sal dit oneties wees om vroue daaraan bloot te stel, sodat jy kan sien of hulle kanker kan kry. Jy kan nie mense kanker gee en dan sê: ok, die ding gee kanker nie. So nou moet jy raai. Hoeveel vrouens wat borskanker het, het die voorbehoedingspil gebruik? Vir hoe lank? Watter tipes? En diegene wat dit nie het nie? Wat het hulle gebruik? Watter tipes? Sê nou maar jy dink radio-golwe, soos die van selfone en ander elektroniese apparaat, veroorsaak kanker. Dit sal oneties wees om mense aan groot dosisse van hierdie apparate bloot te stel, net sodat jy kan sien of dit wel kanker veroorsaak of nie. Want wat as dit mense wel siek maak? Wat maak jy dan? [Die anti-vigs room is nou vreeslik in die nuus. Ek dink dis wonderlik, veral vir vroue wat nie werklik ‘n keuse het in beskerming van hulself nie (julle weet, daai mans wat vra: hoekom wil jy ‘n kondoom gebruik? Loop jy rond? terwyl hy eintlik die een is wat rondloop), maar ek het nogal ‘n probleem met die etiek van die studie: hoe gee jy vir vroue, wat jy weet in ‘n hoë risiko groep val, ‘n placebo, terwyl ander die ware Jakob kry? Maar dis ‘n debat van ‘n ander aard].

Hoekom kry so baie mense nou kanker? Wat is verkeerd in ons samelewing? Die wetenskaplikes beweer dit is bloot vroeë opsporing. Maar vroeë opsporing behoort nie ‘n verskil te maak aan die getal diagnoses nie – net aan die oorlewingsyfer. Vir my lê die probleem veel dieper as die baie oppervlakkige, gemaklike antwoorde soos dieet, oefening, gesond leef.

So ek kyk wel steeds na my dieet, maar ek het hierdie afgelope week al biltong geëet. Was lekker, maar ek is nie nou lus vir nog nie. Ek het hierdie week al 45 minute op die elliptiese treiner deurgebring, maar ek gebruik deesdae die hysbak in plaas van die trappe. Waarom nie? Laat my vroeër kom waar ek wil wees, en dan kan ek bietjie ontspan. Plus ek probeer werklik om tog nie so verantwoordelik vir alles te voel nie. Die studente daag nie op vir klas nie? Ag wat, gee hulle maar net ‘n woordjie of twee en gaan aan. Niks gaan verander net omdat ek dit wil hê nie. Daai referaat wat lê en wag? Môre voel my breinselle dalk beter en dink ek flinker.

Laat my gaan slaap. Môre is dit weer tyd vir ‘n bloedtoets. En daarvoor kan ek nie leer nie!

by elizac

OEFENING

Julie 20, 2010 in Sonder kategorie

 

Ek haat oefening. Met ‘n passie. Daai kliertjie wat die oulike endorfientjies afskei wanneer jy oefening gedoen het en wat vir jou laat sê: “Oe, ek voel so goed nadat ek oefening gedoen het”, ontbreek by my. Nie gekry nie. Na oefening voel ek, wel, moeg. Gedaan. Uitgeput. Lus-vir-lê. Niks se nonsens van “ek het soveel energie!!!” (daar’s altyd ‘n paar uitroeptekens by so ‘n uitering) of “Nou’t ek sommer weer lus vir die lewe” nie. Verder glo ek oefening is gevaarlik. Ek’t nog nooit soveel pyne gehad soos in die laaste tien jaar nie, en dit was met al die oefening. En ek hoef maar net na my talle vriende te kyk wat al vir jare sport beoefen, en nou met kraakbeengeite sit, of wie se ruens opgefoeter is in hulle strewe na Springbokkleure, of wat knypende senuwees het van draf. Die feit dat ek oor die afgelope tien jaar ‘n klomp geld en tyd by die Aktiewe Maagde spandeer het, en dat ek steeds met ‘n kankerdiagnose sit, het natuurlik ook niks gehelp om my beter te laat voel nie.

Aanvanklik het alles onskuldig begin: ‘n spinning gim het in ons dorp oopgemaak. Ek het gevoel dat ek nou ‘n klompie ponde behoort te verloor en fiks te begin word, en aangesien ek altyd – as skoolkind en student – baie lief was vir fietsry, sou spinning my dalk laat beter voel as enigiets ander. Dit het ook. Nadat die beginstadium van weet-nie-of-jy-moet-sit-nie-weet-nie-of-jy-moet-staan-nie verby was namate ek eelte op die regte plekke begin ontwikkel het, was ek gaande oor spinning. Beste van alles: klasse is net 45 minute, jy gaan in, doen jou ding, en jy gaan uit. Lekker vinnig sommer so op pad huis toe van die werk af. Verloor tien kilogram sonder om te hard te probeer. Ek lyk goed, al voel ek steeds nie goed nie en al versamel daar steeds geen endorfiene in my liggaam nie.

Na ‘n tydjie het ek besef dat die spiere begin verkort en dat ek iets sal moet doen om te strek. So begin doen ek joga. Gek na die joga, al word daar kort-kort vir my gepreek oor die sondige godsdiens wat ek beoefen. Dit laat my langer voel en dit laat my strek, en ten minste kan ek weer my tone aanraak. Ek het selfs tonne energie, sodat ek een Saterdagoggend na ‘n jogaklas die onkruid in die tuin vrou-alleen uitroei.

Toe maak die spinning gim toe. Na ‘n paar maande van oor die weg probeer kom met die gim-om-die-hoek, sluit ek uiteindelik by die Aktiewe Maagde aan. Dis goedkoper as die joga op sy eie, hulle bied wel jogaklasse aan, en ek kan elke dag van die maand gaan net soos ek wel. Plus daar’s hope spinning. Jy moet net jou sitplek op die fiets boek, en dan’s alles reg. En dan moet jy net tien minute voor die tyd opdaag, of hulle gee jou fiets weg. Wat partykeer broekskeur gaan, want in die winter bied hulle die klasse aan ‘n halfuur na ek by die werk klaargemaak het, en dan moet ek nog deur die verkeer ry, aantrek en by die klas kom. Die stres!

Verder is daar ongeveer 30 fietse in ‘n area wat kleiner as my eetkamer is, en die meeste spinners is hierdie fanatiese, luidrugtige fietsryers wat òf voorberei vir die Argus, òf net daarvan hou om geluide soos “Oei!”, “Aai!”, “Ei” in jou ore te skree, terwyl die musiek op topvolume pomp. Later is ek so doof, dat ek nie die instruksies van die instrukteur kan hoor nie, of jy sit en bid ernstig dat die skepsel langs jou asseblief net nie so baie moet sweet soos verlede week nie, want toe het hy terstond en op die daad omtrent vyf liter sweet uit sy t-hemp gewring tydens die klas. Met alles wat hier rondom jou en op jou spat. Jy begin later jou klasse so skeduleer, dat jy die ergste entoesiaste kan vermy. Al wat jy wil doen, is jou oefening, sonder dat jy in die proses jou gehoor verloor, of die teiken word van sweetmissiele.

Kla help nie. Eventueel begin migreer jy maar na die trapmeule, of die elliptiese treiner, of jy woon Pilates-klasse by, of een van die ander klasse wat dalk kan lekker lyk. En skielik het jy ‘n probleem. Jy is ‘n gimganger. Jy trek aan vir klasse, jy woon ‘n uur se klasse by, jy gaan stort… Teen die tyd wat jy klaar is, is dit aguur in die aand, die aandete moet nog gemaak word en jy het nog niks by die huis gedoen nie. Jou kat spreek jou as ‘u’ aan, en daardie referaat wat November al moes klaar gewees het, lê nog altyd op ys in jou rekenaar. En dis September.

Toe het ek hierdie jaar besluit om vir eers die Aktiewe Maagde te staak. Ek sal by Kurwes aansluit, ‘n halfuur se oefening doen op pad huis toe, en by die huis wees. Ek sal weer ‘n jogaklas hier om die hoek van ons huis begin, sodat ek nie so baie tyd op pad deurbring. Einde Januarie was my laaste klas.

Na die mastektomie moes ek egter onmiddellik weer met oefening begin. Hier is een wat julle gerus by die huis kan probeer. Ek moes dit so drie keer per dag doen, en doen dit selfs nou nog so twee keer per dag:

Staan parallel teen ‘n muur met jou gesig na die muur gedraai. Plaas jou hande teen die muur met die palms teen die muur en die vingerpunte na bo. Onthou om nie die arms te laag te plaas nie, maar moet dit ook nie te hoog forseer nie. Jy kan jouself beseer. Strek jou vingerpunte. Sodra dit gemakliker is, kan jy probeer om jou vingers hoër teen die muur te beweeg. Doen dit klein bietjies op ‘n keer. Herhaal.

by elizac

UIT MY SE PAD UIT!

Julie 20, 2010 in Sonder kategorie

Jy daar, wat so oor die pad slinger, asof daar nie ‘n môre gaan wees nie, en jy wat sommerso voor die verkeer inloop sonder om ‘n aanduiding te gee van wat jou intensies is, en jy wat teen die verkeer in opgejaag kom op jou baisiekel, sodat ek nie weet of jy gaan links of regs nie, bly seblief uit my se pad uit! Hierdie antie is vol chemo, het Vrydagnag laas geslaap, haar maag is erg onlekker en jy mag dit dalk nie maak nie.

Ek dink ons moet plakkers begin maak vir ons karre: Beware. Chemo babe on board.

by elizac

NAAR

Julie 19, 2010 in Sonder kategorie

Og, ek’s nou vanaand naar. En dit het NIKS met chemo te doen nie! Het mos sedert my diagnose omtrent geen sjokolade geëet nie, en het ook geen lus daarvoor gehad nie. Wanneer ek wel daarna gevoel het, het dit nie lekker gesmaak nie. Hulle sê dit gebeur nogal. ‘n Bonus natuurlik, vir ‘n oorgewig, middeljarige vrou. En nou, vir die laaste week of so, het ek ‘n sjokoladelus wat vir niks skrik nie. Vandag daar in Woolworths sonde gepleeg en ‘n pakkie van daardie “Chuckles – malted puffs” ook in die trollie gelaai. Het my pad halfpad daardeur gevind en dit doen my nie goed nie.  Voel skoon siek soos ek hier sit. Nou’s ek hopelik eers weer vir ‘n tydjie klaar met die tjoklits.

by elizac

DEURMEKAAR

Julie 18, 2010 in Sonder kategorie

Vanaand lekker deurmekaar, al het ek mooi gehou vir die laaste 48 uur na chemo vyf. Kat het nie kos gekry nie, en eers toe sy al redelik om my bene gekerm het, het ek besef waaroor dit gaan. En daarna het my man net met genade kos gekry sonder dat my vingers in die slaai geval het. As dit nie was vir Martha se hoenderpastei wat ek gister by die mark gekry het nie, was daar geen kos nie. En ek doen goed, maar het rustelose bene en daardie dzzzzz-gevoel oor my, wat beteken ek is so elektries soos ‘n aardlekkasie, en kan op niks konsentreer of by niks stilstaan nie. Amper soos tydens my eerste chemo, toe ek vir vier dae nie tot stilstand kon kom nie, en so al om die sitkamer gemigreer het, al kon ek terselfdertyd niks sien nie. Gelukkig geen dubbelvisie nie.

Donderdag die “nuwe” onkoloog gespreek, net om agter te kom hy is bloot die locum wat vir twee weke instaan tot die “regte” nuwe onkoloog opdaag. Sy begin glo in Augustus. Maar ek het meer aanklank by hom gevind. En hy het nie ‘n woord gespreek oor my platinumblonde pruik nie. My net baie rustig ondersoek en meer raad gegee as my vorige onkoloog. Sy het altyd bloot geglimlag en niks gese nie.

Vrydag kon ek normaal funksioneer, met selfs ‘n afspraak oor ons in-house kongres wat middel Augustus plaasvind, en waarvoor ek en ‘n kollega nog ‘n referaat moet aanmekaarslaan. Ek mentor mos. So af en toe. Saterdag was ‘n bietjie moeiliker, want ek het weer ‘n slag op die mark gaan sit met my juweliersware. Net sodat mense kan sien ek leef nog. Was twee maande laas daar, en het op ‘n stadium elke Saterdag daar gaan sit – kom wind of weer. Nou sleep ek my nie meer nie. Sal dalk nog eendag blog oor die markdae. Dit kan by tye baie snaaks wees, veral omdat mense jou baie eienaardig kan behandel as hulle dink jy is net nog iemand wat nie kon werk kry nie, en nou sit jy maar by die mark!  Maar ek was moeg, gister, na die oggend op die mark. En ek dink ek het dalk te veel geslaap. Vandaar die rustelose bene en die dzzzzz in die kop.

by elizac

EK WIL NOU NIE OORDRYF NIE…

Julie 14, 2010 in Sonder kategorie

… maar ek voel vandag weer vir die eerste keer in ongeveer sewe weke myselwers. Net betyds vir môre se chemo nommer 5. Sien die nuwe onkoloog om 9 en daarna is dit die eerste sessie van Taxotere. Moes vandag al met medikasie begin. Daarna ook nog die Zoladex-inspuiting, wat my hormone moet beheer.

Ek dra môre ‘n platinumblonde pruik. Ek was nog altyd gemaak om ‘n platinumblondine te wees. Mooier as Marilyn Monroe, sê ek julle!

En ek probeer regtig hard om nie daaraan te dink dat ek hierdie week by ‘n kongres in Athene sou wees nie, of dat ek vandag in Athene sou rondwandel nie, of dat ek môre op ‘n skippie na van die Griekse eilande toe sou gaan nie. My gesondheid IS belangriker as kongresse en verlore geld, en ek was baie siek die vakansie. Nie hospitaal-toe siek nie, maar wel so siek dat ek tot Sondag nog na ‘n pompie moes gryp om asem te kon haal. En al weer op antibiotika was. Ek, wat antibiotika in die verlede soos die pes vermy het.

O, en ek moet darem sê: op die dag wat ons van Rome na Stuttgart toe sou gevlieg het, het die Italiaanse lughawepersoneel gestaak. Ons het dus daardie opwinding gemis. En ons het darem van die Wêreldbeker se opwinding hier in Suid-Afrika kon beleef. Al het my span verloor. Al het AL my spanne verloor! [email protected]#!? se seekat! (ja, ek weet die seekat het nie gespeel nie!)