Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

by elizac

NAAMLOOS?

Junie 27, 2010 in Sonder kategorie

Asseblief, aan almal wat meer verbeelding het as ek: ek soek nog na ‘n naam vir my blog. Verkieslik niks met “kan” of “kanker” in nie… Iets ouliks, prettigs en catchy…

by elizac

Vinnige update

Junie 24, 2010 in Sonder kategorie

Net vinnig laat weet voor ek in die bed neerslaan met ‘n boek: chemo vier het verbasend goed afgeloop nadat die chemosuster eers die eerste aar gemis het en my in pyn laat sit het :-(. Daarna het sy aar gekry en dit was nie pynlik nie. Ek het my blou pruik gedra en algemene chaos in die chemokamer veroorsaak met alkoholvrye sjampanje (basies borrelende druiwesap – dankie aan die mense van Robertson!) Met almal gesels (soveel interessante mense op die aarde) en ook vriende gehad wat saam met my kom vier het.

Dankie aan almal wat bid. Partykeer voel dit of ek nie meer kan vra nie, maar ‘n mens het net jou geloof in ‘n situasie soos hierdie.

by elizac

CHEMO VIER

Junie 23, 2010 in Sonder kategorie

Chemo vier vind môre, 24 Junie 2010, om 09:00 plaas. My laaste Adriamycin/Cyclophosphamide-chemo. Oftewel, my laaste AC. My laaste dans met die rooi duiweltjie. Ag liewe Here, laat daar asseblief ‘n aar wees wat funksioneer!

by elizac

VAN MEDIESE FONDSE EN SO

Junie 20, 2010 in Sonder kategorie

Kyk, ek weet nou nie wie van julle werk vir ‘n mediese fonds of by ‘n mediese fonds of het ‘n fênsie pos by ‘n fênsie mediese fonds nie. Maar daar het darem nou al ‘n paar wonderbaarlike dinge gebeur met my en my mediese fonds – wat ter wille van die vrede liewer naamloos sal bly. Ek’s al jaaaaaare by genoemde mediese fonds en het voorheen nie probleme gehad nie. Behalwe dat hulle nie vir voorbehoeding wou betaal nie – iets wat my nog altyd vreemd voorgekom het. Julle sal vir ‘n babatjie se skete en geite betaal, maar julle sal nie vir die voorkoming van die babatjie betaal nie? Maak nie finansiële sin nie. Elk geval. In 2002 het ek ‘n operasie gehad wat my septum se afwyking gekorrigeer het sodat ek weer vry kon asemhaal. Geen probleem nie. Ek weet tot vandag toe nie wat genoemde operasie gekos het nie. Alles betaal deur my mediese fonds.

En toe vind 24 Februarie 2010 plaas en skielik raak ek ‘n duur pasiënt. Niks kan gebeur sonder voorafgoedkeuring nie, en intussen moet ek (en die spinnekop in my lyf) wag. So gaan ek op 1 Maart vir ‘n beenskandering, borskas x-strale, en ‘n ultrasound (wat’s dit op Afrikaans?) van die maag. Alles om vas te stel of daar enige verspreiding is. Voorafgoedkeuring moet verkry word. Ek vra mooi vir die dokter se ontvangsdame wie die dinge moet reël, sodat daar nou nie moeilikheid is wanneer ek vir die spulletjie gaan nie. Hulle sal, sê sy vriendelik. Geen probleem nie. Op hierdie stadium van my lewe probeer hulle dinge vir my so maklik as moontlik maak, want ek het nie ekstra stres nodig nie. Groot waardering van my kant af. Ek is nie in die mediese veld nie (ten spyte van my titel) en ek verwag nie van ander mense om eksperte op my veld te wees nie, so hoekom verwag hulle dit van my?

Die Maandag daag ek toe mooi betyds vir my afspraak op, maar ek wag en wag en wag. Uiteindelik word ek suutjies na die kantoor geroep: so jammer, maar jou mediese fonds het nie toestemming gegee nie, en ons kan nie die beenskandering doen nie, tensy jy bereid is om self te betaal. Nou’s ek natuurlik al klaar lekker op ‘n stasie, want hier is baie vreemde goed besig om met my te gebeur, en nou nog dit ook. En as ek nou uitstel, dan gee die fonds wanneer toestemming? Dan beteken dit dalk uitstel van operasie wat vir die volgende week Dinsdag geskeduleer is, en intussen sit en lek die spinnekop gif in my liggaam in. Sal betaal, sê ek. Gaan toe vir die skandering. Kry eers ‘n radio-aktiewe inspuiting waarmee ek dan twee ure moet sit en wag en terwyl ek wag, doen hulle die x-strale en die ultrasound. Gelukkig vertel die radioloog my darem dat die ultrasound skoon is, behalwe vir fibroïede op my baarmoeder. Sal dit glo moeilik maak vir my om swanger te raak. Verklaar baie dinge, maar bietjie laat om dit op 45 uit te vind. Daarna die beenskandering, wat van jou waardigheid ‘n klug maak: jy sit naamlik soos ‘n porno-ster op ‘n tafel en moet elke keer jou pose vir so 5 minute hou, sodat die masjiene foto’s van jou bene kan neem. En met bene, bedoel ek nou elke been in jou liggaam. Dis om soos om vir ‘n outydse tydskrif te poseer; soos in die dae van die eerste kameras, want as jy beweeg, moet hulle dit weer doen. ‘n Volle uur en ‘n half van in verskillende posisies lê of sit terwyl ‘n masjien rondom jou beweeg en knars en foto’s neem, en dit met my kloustrofobie. En aan die einde van die plesierrit, moet ek ‘n koel R4500 uit my sak haal.

Gaan huis toe en stuur die rekening aan my mediese fonds. Onmiddellik. Hulle is veronderstel om binne twee weke uit te betaal – na die goedkeuring verkry is, natuurlik. Intussen vind die mastektomie plaas en ek lê hulpeloos in die hospitaal. Iewers langs die pad vind ek uit dat “voorafgoedkeuring” op 10 Maart, ‘n dag na die mastektomie, gegee is. Ek kry amper ‘n hartaanval, want as ek nou nie op 1 Maart betaal het nie, sou ek moes wag tot 10 Maart om die skandering te laat doen, en dan moes die operasie ook uitgestel word. Ensovoorts. Verder vind ek uit dat dit nie vir die hospitaal nodig was om my vir die ultrasound en x-strale te laat betaal nie, want daarvoor het hulle nie voorafgoedkeuring nodig nie.

Iewers langs die pad besef ek toe maar die geld is nog nie aan my uitbetaal nie. Bel die mediese fonds. Nee, hulle het ‘n bedrag aan die hospitaal uitbetaal. My geld, waarop die hospitaal dringend aangedring het. Bel x-strale. O ja, daar is krediet op my rekening. Geen net asseblief vir ons jou rekeningnommer en dan betaal ons die bedrag oor aan jou op die sewende van volgende maand. Nou kyk, nou begin my bloeddruk gevaarlik styg. Ek moes ONMIDDELLIK betaal het, anders was hulle nie bereid om die prosedure te doen nie, maar nou dat hulle my geld skuld, moet ek wag. Stel dit toe ook baie vriendelik aan die dame. En ek is nog vriendelik, want sien, ten spyte daarvan dat hierdie ‘n stad is, is dit ‘n klein stadjie, en oormôre het ek daardie selfde persoon weer nodig, en dan is hulle nog traer om my te help. Kry toe darem my geld op die sewende. Nie alles nie. Die beenskandering se geld is nog uitstaande.

Bel Vrydag die mediese fonds. Hulle het op 22 April reeds die geld vir die beenskandering aan die hospitaal oorbetaal. Ek bel weer die dame by x-strale se rekeningafdeling. Dieselfde storie: ek sal nou moet wag tot 7 Julie vir die R2700 wat hulle my nog skuld, want hulle betaal net op die sewende geld uit. Nou vra ek jou met trane in my oë: hoe op deeske aarde kan hulle so gou agterkom jy skuld vir hulle geld, maar as hulle vir jou geld skuld, moet jy eers bel voordat hulle dit betaal? Want skielik weet hulle nou nie daar is ‘n kredietsaldo op jou rekening nie. En waarom het hulle hoegenaamd die rekening na die mediese fonds toe deurgestuur? Ek het mos klaar betaal! Dit was mos nou my verantwoordelikheid!

Maar bogenoemde is darem nou nie alles die mediese fonds se skuld nie. Luister egter hierna: ek sien 29 Maart die onkoloog. Hulle sal goedkeuring kry vir die chemo om te begin, en dit behoort nie lank te duur nie. Ek wag. En ek wag. Teen die Woensdag van die volgende week bel ek: wat gaan aan? Nee, hulle het nog nie goedkeuring gekry nie. Donderdag bel die lieflike vrou wat  by onkologie met die rekeninge werk (ek sal nie haar naam noem nie; netnou bel almal haar!) om te sê dat die goedkeuring deurgekom het en ek moet net wag vir die chemosusters; hulle bel binnekort. Ek hoor niks nie. Sit en werk nou mooi uit dat as die chemo daardie week begin, ek genoeg tyd sal hê na my vierde chemo en dan Europa toe sal kan gaan. Hoor niks nie. Wag. Teen Woensdag bel ek weer. Nee, sê hulle, maar die goedkeuring is deur; kom ons kyk wat aangaan. Toe het een of ander briljante persoon by die mediese fonds die volgende datums op die goedkeuring gesit: chemo van 1 April 2010 tot 30 Maart 2010. Of so iets. Wat beteken die chemo hou op voor dit begin het. En natuurlik wil die hospitaal nie aan my raak nie, want daar is eintlik nie goedkeuring nie. Die Donderdag kry ek ‘n oproep van die chemosusters: jy kan môre inkom of Maandag. Wat kies jy? Môre. Alles goedgekeur. Magtigingsnommer, de lot. Maar natuurlik is die chemo nou ‘n week laat, en natuurlik begin ons dinge nou baie fyn sny vir die Europatrippie. Want dit beteken indien alles goed gaan (en ons weet mos nou al dit het nie), kry ek my vierde chemo twee dae voor ons na Europa toe vertrek. En op hierdie stadium weet ons toe mos nog nie hoe my liggaam op die chemo gaan reageer nie.

Verlede week kry ek ‘n rekening van die chemomense: chemo twee en drie is nog nie betaal nie. Chemo een is wel betaal, maar niks anders nie. So raak ek toe sommer die sakie van die nie-betaling van die chemo aan toe ek Vrydag met ‘n vrolike en behulpsame Gita by die mediese fonds praat. Sy deel my mee dat ek nie op die onkologieprogram geregistreer is nie. Dis mos onmoontlik, seg ek, die hospitaal sou my NOOIT in die eerste plek op chemo toegelaat het as dit die geval was nie. Verder betaal julle ewe gelukkig al die chemoverwante medikasies uit, maar nie die chemo self nie. Hoe werk dit? Sy tik daar op haar rekenaar en sê na ‘n tydjie: o, hier’s iets snaaks aan die gang. Ek kry ‘n verwysingsnommer en bel die onkologiemense. Want ek sit en werk toe uit: as ek nie teen Vrydag begin met die medikasie wat veronderstel is om my witbloedliggaampies te help nie, kan ek eers Maandag begin, en dan kan die chemo weer eens nie plaasvind nie, en dan kan ek enige vakansie wat ek dalk mag beplan, maar rustig van vergeet. Julle moet darem weet: dis Grahamstad Kunstefees en dit was nog altyd my gunstelingfees wat atmosfeer betref. En ek sal darem my ouers wil sien, as ek dan nou nie my tweelingsuster en my peetkind kan sien nie. Maar die vriendelike dametjie by die rekeningafdeling lig my in dat sy nie die mediese fonds in die hande kan kry nie en dat sy nog nie toestemming het nie. Ek bekla my lot by haar. Sy verstaan baie mooi. Ek vertel haar ook dat ek wel met die mediese fonds oor die nie-betaling gepraat het en dat hulle vir my ‘n nommer gegee het vir verdere navrae. Sy gee my die oorspronklike magtigingsnommer (goed om die dinge te hê) en lig my toe sommer ook in dat die mediese fonds – en hou asseblief hier jou hart vas – die geld vir chemo een teruggevra het! In my lewe het ek nog nie so iets gehoor nie! Hulle het klaarblyklik daarop aangedring dat die hospitaal die geld terugbetaal, want ek is nie geregtig op chemo nie! Nou vra ek jou met trane in my oë: hoe op deeske aarde gee hulle toestemming vir ‘n mastektomie, vir borsrekonstruksie, vir allerhande vreemde medikasie van die apteek, vir eggogramme van die hart, maar nie vir die chemo nie? Later bel sy weer en sê die onkoloog sê ek kan inkom vir die eerste inspuiting indien ek bereid is om verantwoordelikheid te neem vir die rekening. Ek hoef nie onmiddellik te betaal nie, maar wel indien die goedkeuring van die mediese fonds nie gebeur nie. R4000. Vir vyf inspuitinkies. Natuurlik sê ek ja. Hierdie is die langste vakansie wat ek in twintig jaar in Junie/Julie het, en nou moet ek dit by die huis spandeer!

En toe ons vieruur die middag daar inloop, kom die blye tyding: alles is reg. Die mediese fonds het besef hulle het ‘n fout gemaak, en nou is ek weer op onkologiebestuur en hulle sal wel die chemo betaal en ook die inspuitings. Halleluja!

Wat my onderkry, is die gewag vir administratiewe beamptes wat dink hulle het die reg om oor my lewe te besluit. Wat mediese besluite namens opgeleide medici maak. Vir wie blameer ek vir die verliese wat ek nou gely het en wat dalk nie nodig sou gewees het indien my chemo betyds begin het nie? Want dan sou ek nog ‘n week gehad het om te herstel, ‘n chemo in te pas en ek sou waarskynlik reg gewees het vir Europa. En hulle weet waarskynlik goed dat ek nie lus is vir baklei nie. Nie die krag het nie.

Laat ons nou maar net hoop ek bly nou op die onkologiebestuursprogram. Dat iemand nie iewers weer per ongeluk ‘n knoppie druk en alles uitwis nie.

Vrede vir almal. Ook die wat by mediese fondse werk.

by elizac

TELEURSTELLING

Junie 19, 2010 in Sonder kategorie

Kyk, as daar nou een ding in die ou lewe is waarmee ‘n mens seker moet leer saamleef, dan is dit teleurstelling. Maar wragtig, partykeer gee die ou lewe ‘n mens ‘n skop net wanneer jy nou al lekker lê en ween en swaarkry van jammer voel vir jouself. Julle weet dalk al dat ek ‘n dosent aan ‘n sogenaamde “historically disadvantaged university” is. Senior dosent, asseblief. Met geen van die gepaardgaande voorregte wat gewoonlik daarmee geassosieer word nie. Een van my pligte is om navorsing te doen. Waarvoor ek glad nie sou omgee nie. As die sisteem net saamwerk.

Onder andere was deel van my beplanning vir hierdie jaar om drie navorsingsuitsette te lewer, wat gepubliseer moet word. Een van hierdie uitsette het ek saam met my baas gedoen, en die ander twee sou ek op my eie doen. Het verlede jaar November of daar rond aansoek gedoen vir ‘n kongres in Griekeland en is gekeur. Het net voor Krismis gehoor my abstrak is aanvaar en het rondgetrippel: ons gaan Griekeland toe! Want natuurlik het ek die kongres mooi goed gekies: dit sou beteken het dat ons vir vier weke in Europa kon gaan rondloop, met die laaste week vir die kongres uitgehou. En aangesien dit nou so ‘n mooi lang vakansie in die middel van die jaar is, sal my geliefde ook kan verlof insit en saam met my gaan. Ons sal dan Rome toe kan gaan – ek was al drie keer in Italië, maar nog nooit in Rome nie. Daarna sal ons my suster in Duitsland ontmoet – sy werk daar – en tyd saam met haar spandeer. Onder andere sal ons ook by ‘n vriendin van ons gaan bly, wat so 40km vanaf Parys in die mooiste klein Franse dorpie bly. Ons was al voorheen daar in die winter, maar sal dit graag in die somer wil besoek. Dis regtig een van daai dorpies wat lyk soos in die moewies, met klein winkeltjies en klein straatjies en die interessantste mense. En dan sal ons vir die laaste week terugvlieg Griekeland toe, die kongres bywoon, die referaat lewer, en so ‘n bietjie vir Athene verken en na die eilande gaan. Ideale vakansieplanne. Plus, as alles nou mooi uitwerk, betaal die universiteit my vliegtuigkaartjie en ook my verblyf.

Koop 25 Januarie ons internasionale kaartjies deur www.travelstart.co.za – kyk gerus na hulle pryse. Ons het al voorheen deur hulle bespreek en nog nooit probleme gehad nie. Ons vlieg via Kaïro na Athene en dis alles ‘n groot avontuur. En ons vertrek Sondag 20 Junie.

Toe gebeur 24 Februarie 2010, en skielik het ek ‘n kwaadaardige gewas in my linkerbors, en daar is ‘n mastektomie op die kaarte, en chemo, en baie snaakse goed waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Vra my sjirurge: moet ek kanselleer. En hulle bly sê, nee, ons beplan die behandeling rondom jou program. Daar maak die mediese fonds toe ‘n fout op my magtiging vir chemo, en die chemo begin laat. Een volle week. Ons sit en dink en beplan: as alles goed uitwerk, is my vierde chemo Vrydag 18 Junie en dan moet ons die Sondag vlieg en so aan en so aan. Probeer die vlugte uitstel, probeer Rome uit ons program sny, maar dit werk nie uit nie. Ons kan nie vlugte uit Suid-Afrika kry na Kaïro toe nie, maar wel van Kaïro tot in Athene. Glo as gevolg van die Wêreldbeker. Ek verstaan dit nie so mooi nie, maar nou ja. Ons vat maar die kans. Bespreek hotelle in Athene en in Rome. Bespreek vlugte van Athene na Rome, van Rome na Stuttgart, van Stuttgart terug na Athene. Selfs ons visums daag betyds op, ten spyte van aanvanklike probleme.

En op Donderdag 17 Junie 2010 huppel ek by die pataloë in vir die bloedtoets en huppel weer tien minute later uit met die uitslag in die hand. Maar ek WEET iets is fout, want ek is al die hele week duiselig, maar dis eintlik heeltemal normaal, want ek het gewoonlik lae bloeddruk en lae yster en dis klaarblyklik ‘n simptoom daarvan. Intussen word die mondsere nie gesond nie, en normaalweg sou hulle nou al teen Maandag die wyk geneem het, en ek het ‘n yslike brandende swam onder die regterarm wat ek pamperlang met salfies, maar ek voel al hoe die sampioene op my lyf begin groei. Ek gee die uitslag vir die chemosuster en sy gee dit een kyk en sê: jy kan nie môre chemo kry nie. En ek voel hoe die wêreld en al my uitsien en opwinding uit my verdwyn. Want my witbloedseltelling is te laag vir die chemo. Die onkoloog gryp my daar en sê: as ons jou môre chemo gee, is jy oor tien dae in die hospitaal, en jy gaan nie van die Griekse of Italiaanse hospitale hou nie. Erger nog: as ek enigiets oorkom in Europa, sal geen versekering uitbetaal nie, want hulle gaan net sê jy’t hiervan geweet en klaar. Ek dink as ek ‘n been moet breek in Europa, sal hulle ‘n manier vind om dit aan kanker te koppel, sodat hulle nie hoef uit te betaal nie.

Natuurlik is ek in trane. En natuurlik is dit nou ‘n helske georganiseerdery met vliegtuigkaartjies wat “suspend” moet word, en ‘n kongresreferaat wat gekanselleer moet word. Gelukkig het die universiteit, soos gewoonlik, nog geen uitbetalings aan my gedoen nie, so ten minste hoef ek nie daardie geld terug te betaal nie. Maar ons verloor die visumgeld, die versekeringsgeld, ons kan die binnelandse vlugte nie gebruik nie en verloor daardie geld, ons verloor deposito’s op hotelverblyf. Wat nog? Ek wil nie eens dink aan die somtotaal nie. Dan praat ons nie eens van die emosionele verliese nie. Ek gaan gewoonlik Europa toe in die winter, want ek het nooit ‘n lang vakansie in Junie/Julie nie. 2010 was die ideale geleentheid. Nou moet alles wag, en ons moet die internasionale vlug gebruik voor 25 Januarie 2011. Ek het Donderdag die hele dag gehuil, al het ek vir myself bly sê: dit help tog nie!

Vanaf Vrydag kry ek nou inspuitings om my immuunsisteem aan te help. Moet onder andere die naweek myself inspuit. Gelukkig het ek ‘n vriendin wat ‘n verpleegsuster was en sy het my vandag gehelp. R4000 vir die ou paar inspuitinkies. Maandag moet ek teruggaan vir die bloedtoets en dan sal hulle besluit of ek nog inspuitings moet kry en of ek reg sal wees vir die vierde AC op Donderdag. En ek het soooo uitgesien na die einde van die AC’s! Nou’s dit met nog ‘n week uitgestel.

Ek moes vrede maak met die uitstel en nog ‘n Krismis in Europa. (Hoe ondankbaar kan ‘n mens nou in elk geval wees???) Ek probeer nog steeds. My beroepsplanne vir die jaar lyk beroerd. Tot dusver lyk dit na een moontlike publikasie. Hopelik kan ek ook ‘n referaat doen saam met ‘n junior kollega by ons eie universiteitskongres in Augustus.

Maar een ding moet ek wel sê: die erns van hierdie siekte is met ‘n felle slag by my tuisgebring. Want ek voel goed. Ek gaan aan met my lewe. Dis nie asof ek bedlêend is nie. Maar as jou liggaam nie meer siekte en infeksie kan beveg nie, dan weet jy daar is fout.

by elizac

OM TE BLOG OF NIE TE BLOG NIE

Junie 19, 2010 in Sonder kategorie

Diè van julle wat al voorheen hier ‘n draai gemaak het, sal oplet dat ek lanklaas geblog het. Daar is goeie redes voor, maar later meer daaroor. Ek het altyd gereeld hier by litnet se blogs ‘n draai kom gooi, en dan het ek gedink dit sal nogal lekker wees om ook so ‘n blog te begin. En dan het ek weer gedink, maar waaroor sal ek dan nou blog? My lewe is eintlik baie oninteressant. Ek staan soggens op, ek gaan werk toe, ek kom terug huis toe of gaan doen inkopies, ek maak kos, ek kyk televisie, werk aan my stokperdjie(s), gaan slaap. Môre begin die hele ou spulletjie weer van vooraf aan.

Niks daarvan het verander nie. Dis steeds dieselfde ou storie, en eintlik baie oninteressant, al is daar nou chemo en doktersbesoeke en foob fills en al sulke narighede by die spulletjie ingegooi. Dit bly steeds maar net ‘n gewone lewe. Dus het ek nie veel gevoel na blog nie. My derde chemo was ook ‘n pynlike spulletjie, sodat ek tot Sondag nog vir myself jammer gevoel het. Het regtig probeer om my aan my hare regop te trek, maar dis nogal moeilik as jy ‘n pruik dra. Het selfs vir my ‘n blou pruik gaan koop wat ek na die kerkbasaar gedra het, en, hoewel dit my deur die dag gekry het, het dit nie veel aan my gemoedstoestand verander nie. Ja, ek is mos nou deesdae een van die tannies agter die basaartafels. Soos ‘n vriendin eendag gesê het: sy’t gewonder wat van die basaartannies geword het; toe besef sy maar ons moet nou die basaartannies wees! Ek en ‘n vriendin doen die kunstafel en werk ons gedaan in die weke voor die basaar om darem kwaliteititems op die tafel te kry. Mense wil egter nie betaal vir die regtig goeie kuns wat hulle daar kan kry nie. Hulle sal eerder R200 vir ‘n afdruk by Mr Price gaan betaal as R100 vir ‘n goeie kunswerk deur ‘n goeie kunstenaar. Oh well. Nie my werk om hulle op te voed nie!

In elk geval, so het alles maar teen die gewone spoed voortgegaan. Nie veel om te rapporteer nie. Ek kon sit en kla het oor die newe-effekte wat hierdie keer soveel erger was, oor die infeksies wat nie wil weggaan nie (al op my tweede kursus antibiotika), omdat ek lyk asof deur killer mosquitoes aangerand is soos wat krapmerke op my bene ontsteek. Of dat my brein besig is om my in die steek te laat – ek vergeet eenvoudige goed. Of dat ek heeltemal doof in die een oor was as gevolg van infeksies.

Maar dis nie juis nuus nie. So ek het nie geblog nie.