Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

by elizac

EK HET GEJOK

Mei 30, 2010 in Sonder kategorie

Ja, ek het gejok. Vir myself en vir ander, maar veral vir myself. Ek is toe glad nie so vreesloos soos wat ek my verbeel het nie. Toe daardie chemosuster Vrydagoggend om 9 nader staan met daardie naalde, toe trek my liggaam ineen van die vrees. Het mooi gepleit: onthou, ndilusana! (Ek’s ‘n babatjie!), maar dit het nie gehelp nie. Ek moes daardeur. En dit was weer eens seer. Het nog die hele tyd gewonder wat die Adriamycin aan die are doen as dit so gevaarlik is – dit vernietig weefsel as dit daarmee in aanraking kom, so ek kan eintlik nie beweeg terwyl hulle die Adriamycin in my are drup nie. Nou’t ek uitgevind: dit maak ook die are dood. Hulle kon glad nie die vorige are gebruik nie en moes die keer ‘n aar gebruik wat aan die onderkant van die arm sit. En ek kon die hele tyd voel hoe dit my arm brand, sodat die arm nou nog styf en seer is. En ek vir myself jammer voel.

Dink dit gaan nou meer sielkundig wees as iets anders. Gelukkig is daar nog net een Adriamycin-behandeling oor.

by elizac

BIETJIE SAD

Mei 27, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s vanaand so ‘n bietjie sad. Die depressie bekruip ‘n mens maar so voor ‘n chemo (môre chemo 3), veral as jy dink aan daardie rooi vloeistof wat hulle in jou are laat drup en hoe giftig alles is.

Maar ek is ook sad vir nog ‘n vrou wat môre ingaan vir ‘n mastektomie. Sy is ouer as ek, en ek het haar nog nooit ontmoet nie, maar ek weet sy is vanaand benoud. Ons het telefonies kontak. ‘n Mens het iemand nodig wat al hierdeur is. Net om te weet dit is erg, maar dit is nie so erg soos wat jy dink nie.

En ek dink vanaand aan die persoon wat ek was die nag van 8 Maart 2010, die persoon wat op 9 Maart 2010 om 06:00 die oggend by die hospitaal moes wees. Dis wat ek daardie nag geskryf het:

“01:15 Oor vyf ure is ek by die hospitaal. Ek is nie bang nie – net baie hartseer. Hou my hand vas, Here! Laat die beker my verbygaan! Laat alles asseblief skoon wees. My bors was vandag seer, asook die limfkliere onder my arm. Dis asof my liggaam die indringer probeer beveg en dit nie regkry nie.

Ek is nie bang nie. Ek wil net nie. Maar ek wil leef en nog baie dinge doen.

Gisteraand It’s Complicated gaan kyk met N en M. Toe gaan eet. N hou my vas en M sê: julle maak my so hartseer, want julle is so mooi.

Here, ek ken nie die pad nie. Ek vra dat U dit saam met my sal stap en dat U U engele sal stuur om my te dra. Amen.

Dit help tog nie ek huil nie. NIKS gaan deur my trane verander word nie.”

En ek was vier ure later wakker, was betyds by die hospitaal, maar toe die verpleegpersoneel met die skofverwisseling begin sing: Oh Lord I need Thee, het ek teen my man se bors geval en gesnik.

Vandag kan ek met deernis en baie liefde terugkyk na die vreesbevange ek van 9 Maart.

En ek weet my onbekende borsmaat sal ook hierdeur kom.

by elizac

VREESLOOS

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek’t my altyd nog bekommerd oor velerlei en allerlei. Was nog altyd bang. Bang vir hoogtes? Dis ek daai. Kon skaars die Voortrekker Monument end-uit tot bo bestyg. Net my koppigheid het my daar gekry, en ek is op my boude daar af. Sit-sit van treetjie tot treetjie. Die Ulmer Muenster? Jinne, daai hoogste kerktoring ter wêreld het my amper ondergekry. Die ganse tyd wat jy hom bestyg, voel dit asof jou se voete onder jou gaan uitgly en jy gaan deur daardie kleine venstertjie glip. Al weet jy dis onmoontlik vir selfs jou bobeen om daardeur te gaan. Toe die laaste gedeelte van die toringtrappies so in die mis bo my kop verdwyn, toe laat ek maar gaan. Die volle 161,53 meter was my nie beskore nie; veral nie toe ek sien die laaste paar meter het nie eens reëlings om aan vas te hou nie! Wou nie sit-sit in die koue en op daardie mos na bo nie (deesdae laat hulle jou net toe om die toring tot op die eerste uitsigpunt te bestyg in die winter – glo weens ysgevaar). En moenie eens met my praat oor valskermspring, of rekspring nie – laat my knieknoppe aan die kap gaan net om daaraan te dink!

Dan praat ek nie eens van die bang wees vir goed soos aftrede en oudag en pensioen en te min geld en so aan nie. Sit maar altyd die geldjies weg vir die oudag. Wie sal nou na ons kyk wanneer ons oud is? Ons het nie kinders nie; so daai deur is vir ons toe. En wat gaan ek doen met my aftrede? Kan tog nie die hele tyd net sit nie. Ek wil nog goed kan doen! En partykeer wonder ek oor nog twintig jaar by dieselfde instituut. As ‘n mens eers by een van hierdie plekke beland het – soort van die last outpost vir lost academics – dan wil geen respektabele universiteit meer aan jou vat nie. Stigma. Hulle dink dis aansteeklik, en vergeet van die goeie werk wat ons in die klaskamers doen. (Maar dis eintlik ‘n helemale nuwe topic!) Ook die vrese voor die diagnose: wat as dit borskanker is? Wat gaan ons doen? Hoe gaan mens aan? Hoe seer gaan dit wees? Wat van die eerste chemo? Hoe erg is die naar? Oor en oor en oor. Ensovoorts. Ensovoorts. En die refrein bly: ek’s bang. Ek het vrees.

Toe daag 24 Februarie 2010 in my lewe op, en ‘n man wat ek nog net een keer vantevore gesien het, vertel my dat hulle kankerselle in die gewas gevind het. Dat dit wel ‘n gewas is. Dat ‘n mastektomie my beste opsie is. En my wêreld gaan staan stil en ek fokus net op een ding: wat volgende? Kom ons pak dit aan. Kom ons doen dit. Nou.

Deesdae is daar nou ‘n ander probleem. Skielik is ek vreesloos. Voortrekker Monument? Nyah, vulletjie. Muenster? Sal dit weer doen, en die keer tot bo. Valskermspring? Bring on the aeroplane! Ek wil nog lugballon ry, en net dalk klim ek Kilimandjaro, al sit die idee van die toiletlose berg my af. Sleg toilette? Ag nee wat, op 24 Februarie 2010 het ‘n dokter vir my gesê ek het borskanker! Aftrede? Wat? Ag nee, kom ons lewe liewer nou. Ek weet nie eens of ek aftrede gaan maak nie! Op 24 Februarie 2010 het ek gehoor ek het borskanker! Alzheimers? Og, maak tog nie saak nie! Op 24 Februarie 2010 het ek gehoor ek het borskanker! Kollega wat op my skel? Nie belangrik nie!

Dit maak my natuurlik gevaarlik. Dis nie dat ek nie omgee nie, maar al hierdie dinge is eintlik bitter klein. Al wat ek het, is die hier en nou.

Sodat ek nou gisteraand in groot moeilikheid was omdat ek vir ‘n vriendin gesê het ek dink dis sinloos dat haar kind op 18 verloof geraak het. Sy is jonk, sy is op universiteit, sy moet die lewe geniet. Verloofde sit in Pretoria; sy is op Stellenbosch. Die reaksie het my geamuseer: amper gewelddadig met vingers wat in my rigting wys en ‘n geskree op hoe ‘n ouer haar kind moet ondersteun en bla bla bla. En ook hoe dit nie nodig is om met ‘n klomp mans te slaap voordat jy jou tot een man verbind nie, en nie almal is partytjiediere nie en nie almal is soos ek nie. My mond het oopgehang. Was nog nooit ‘n partytjiedier nie. Dit beteken nie dat ek nie my universiteitslewe geniet het nie. En niemand het van seks gepraat nie. Om die waarheid te sê, ek raai al my studente aan om nie seksueel betrokke te raak voor hulle nie die man/vrou vir ten minste twee jaar ken nie (ja, ja, ek weet, droomland, maar iemand moet hulle tog oor die dinge adviseer as die ouers dit nie doen nie!) En ek is sekerlik tog geregtig op my opinie! En my opinie gaan nie die verlowing verbreek nie. Volgens mamma het hulle verloof geraak, omdat die dogter nie wou hê die Stellenbosse manne moet haar “pla” nie. Nou kan sy eenvoudig vir hulle sê sy is verloof, en dan is dit verby. Vaderland, nie elke man wat met jou praat wil ‘n verhouding met jou begin nie! En noem my outyds, maar ek het nog altyd gedink ‘n verlowing is bewys van intensie-om-te-trou. Glo my, hier is baie werk vir ‘n sielkundige, want 19-jariges wat “verloof” raak, doen dit uit ander redes as uit liefde. Maar dis maar net my opinie.

Ek moet leer om my mond toe te hou. My een Ghanese kollega ken net een sin op Afrikaans, en dis “a tjoe bjek is a hjeel bjek”. Nie almal is waar ek is nie. Maar moet asseblief nie die dinge wat ek sê verwar met dit wat ek regtig dink nie.

by elizac

GOEIE NUUS

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

Nee, ek het nie goeie nuus gekry nie. En dis juis die punt. Dis onvermydelik dat ‘n mens aan die dood dink met ‘n kankerdiagnose. Onvermydelik, tensy jy erg aan ontkenning (dis nou die oulike denial op Ingels) ly. Jy dink aan jou kanse. Jy gaan lees na. Die internet het baie statistiek, en (neem in ag dat hierdie geheue nou al deur twee chemo’s is en as daar enige vinnigverdelende selle was, is hulle erg gekompromiteer) vertel dat sowat 84% van mense wat met my tipe borskanker gediagnoseer word, dit vir ten minste vyf jaar oorleef. Wat dit nie sê nie, is die persentasie persone wat na vyf jaar kankervry is. M.a.w., daardie fantastiese statistiek sluit ook mense in wat steeds kanker het, maar nog leef. Nou dis nie dat ek morbied wil wees nie, maar dis die werklikheid waarmee ek gekonfronteer word. Dan wonder ek soms of dit die moeite werd is. My dokter praat van my lewe “verleng”. Met vyf jaar, tien jaar, dertig jaar? Hulle kan nie sê nie. En wat laat my dink dat ek binne die volgende tien jaar sal regkry wat ek nie in die laaste vyf-en-veertig jaar reggekry het nie? Is dit die moeite werd? Ek aanvaar my antwoord sal oor tien jaar ja wees.

Nou kom vertel elkeen wat weet van my diagnose allerhande stories van so-en-sus wat ook kanker gehad het en sy’s dertien jaar later oorlede. Of die een het ook so goed gereageer op die chemo, en nou’s sy dood. Hoe op deeske aarde moet dit my laat beter voel? Kom, ek wil hoor van survivors, van mense wat 30 jaar terug gediagnoseer is en steeds ‘n vol lewe lei, wat dit kankervry doen. Gee my dan asseblief tog ‘n stukkie goeie nuus!

by elizac

VANDAG…

Mei 19, 2010 in Sonder kategorie

… voel ek heelwat beter. Het gister na die middestad (wel, dit wat ons hier die middestad noem) gegaan na ‘n winkel wat professionele haarsalonprodukte verkoop. En daar het hulle toe ‘n hele reeks pragtige pruike – tot ‘n bloue en ‘n pienke! Die twee Xhosa dametjies agter die toonbank het nie ‘n oog geknip toe ek my vaal Cancercare pruik afruk en vra om aan te pas nie. Hulle het aangegee en mooi geglimlag agter hulle netjies kuifies en raad gegee en saamgestem oor my finale keuse. Ook vertel van sjampoe (R14!) wat die pruik sal mooi hou en alles netjies in ‘n sak verpak. Ek het natuurlik die pruik onmiddellik opgesit en so daarmee Woollies toe gegaan. In mnr en mev Doemnies vasgeloop wat verklaar het dat hulle nooit sou sê dat dit ‘n pruik is nie, en dis ‘n pragtige snit. En ek het niks snaakse kyke gekry, of mense wat my oë probeer vermy nie.

Vandag het ek die pruik opgesit na ek gesig gewas het en die hele dag daarmee rondgeloop. Ek voel meer soos ek.

En dalk, net dalk, gaan koop ek daardie blou pruik om vir my volgende chemo te dra.

by elizac

VANAAND…

Mei 16, 2010 in Sonder kategorie

… is ek nou so ‘n bietjie af. Maandag se negatiewe chemo het my erg gegooi – ek sien net nie kans vir daardie depressiewe atmosfeer nie. Verder het ek Donderdag al my hare laat afskeer. Kon nie meer saamleef met die gemors nie, en dan het ‘n mens nog die kompulsiewe behoefte om aan die hare te bly vat, sodat jy gedurig met handevol hare sit. Nou word ek telkens wanneer ek opkyk met my beeld in die donker venster gekonfronteer: ‘n vreemde, middeljarige, oorgewig, vroulike weergawe van die Oros-man, met ‘n aartappel vir ‘n kop. Ek voel onvroulik, onsexy, onlekker. Hoe kan ek ooit weer na iets lyk? Ek was nog nooit Mej. Wêreld nie, maar ek het darem ook nie die kinders huilend na hul ouers laat hardloop nie. En ek weet die hare sal weer teruggroei, maar vir die volgende ses/sewe maande sal ek met hierdie beeld moet saamleef. En dis skielik baie moeilik. Ek dink dis die sigbaarheid van die toestand wat my nou onderkry. Voorheen kon mense nie sien dat iets verkeerd is nie, maar nou kan hulle duidelik sien daar is fout.

Verder het die suidelike hare ook erg yl geword, sodat ek skielik ontsaglik weerloos voel. Ek wag nog om te sien wat met die Nanny McPhee-haar op die ken gaan gebeur.

Môre gaan ek vir my ‘n pruik soek waarin ek gemaklik voel. Iets los en ligs en bont. Hierdie gesukkel met serpe en hoede is nie vir my nie.

En natuurlik kom die meeste mense nie eens agter wat ek voel of dink nie. Om die waarheid te sê: hierdie naweek het ‘n hele klomp mense my glad nie eens herken nie!

by elizac

GEBEDE

Mei 10, 2010 in Sonder kategorie

Toe die hele storie begin het, en ek gewag het vir die finale uitslag, het ek bly bid: Here, laat hierdie beker asseblief aan my verbygaan. Mettertyd, en veral in die dae voor die mastektomie en die eerste chemo, het dit verander na: Here, asseblief. Asseblief, Here.

Dit bly steeds so. Smeekgebed meer as iets anders.

Maar deesdae kan ek ook vir ander bid.

by elizac

CHEMO II

Mei 10, 2010 in Sonder kategorie

Chemo II het vandag plaasgevind. Moes eers die onkoloog spreek om te sien dat alles reg is en my newe-effekte van vorige chemo en so aan. Sy het nuwe pille vir die naar voorgeskryf wat die voriges, wat my dubbelvisie gegee het en baie vaak en terselfdertyd senuweeagtig gemaak het, te vervang. Hoop maar dit werk alles.

Alles het goed afgeloop. Een van die vroue wat die vorige keer daar was, het vandag haar laaste chemo gehad. Nommer 8. Eintlik moes ons dit vier, maar ek en sy sou nou op verskillende dae chemo gekry het, so ek het nie geweet sy gaan daar wees nie. Het ook ‘n ander vrou raakgeloop wat by die sjirurg was toe ek daar was om my histiologieverslag te kry. Kom toe uit dat haar dogter voorheen my haarkapper was!

Die sessie het laat begin: eers die onkoloog, en toe moes ek eers almal groet en nonsens praat. Glo my, as dit sou gehelp het, het ek eerder in trane uitgebars! Maar ‘n mens het nie veel beheer oor hoe jou liggaam gaan reageer nie, maar jy het baie beheer oor jou houding. Toe is dit ‘n gesukkel met die aar, en natuurlik het ek net een hand beskikbaar vir die chemo (daar mag GEEN naalde in my linkerhand kom nie, weens die gebrek aan limfkliere na die operasie). Later het die suster my hand in warm water gehad om te are te laat uitswel. Sy kry toe wel ‘n aar (gebed!), maar dit bly seer word, en met die Adriamycin – die Rooi Duiwel – is dit gevaarlik. Dan sukkel dit weer. Klaarblyklik is dit moontlik dat hulle dalk ‘n senuwee kan raak en dit verklaar die pyn, maar ai, dis ongemaklik. Sy’t net voor die Adriamycin die naald verskuif en toe was dit beter. En natuurlik moes ek toe weer vinnig kamer verlaat, want ek het omtrent 2 liter water voor die tyd gedrink. Na die Adriamycin het ek weer moes gaan weens ‘n beker tee wat hulle gemaak het. Daarna was dit nog Cyclophosphamide, en op die ou-end was alles eers teen half 3 klaar.

Vandag was daar twee mans en ‘n seun ook in die chemokamer. Ek weet nie waarvoor hulle daar was nie. Die seun se chemo kon nie plaasvind nie, want sy bloedtelling was nie reg nie. Die een man moes ook gehospitaliseer word, want hy het net flou geraak in die stoel. Een van die vroue is ook gehospitaliseer, en dit was haar eerste chemo. Baie swaar vir haar, kan mens sien. Daar was ook ‘n baie jong meisie – 22 – met breinkanker. Sy het ook vandag haar laaste chemo gehad. Hoekom kry so baie jongmense kanker? Dit is vir my opvallend dat jonger en jonger mense daarmee gediagnoseer word. Ek dink dit moet baie swaar wees vir hulle, maar, aan die anderkant, dalk besef hulle nie werklik wat met hulle gebeur nie. Ek weet nie.

Wat my ook pla, is dat soveel van die mense bot of suur is. Die apteker – hy’s meer soos die alchemis wat ons chemikaliee meng – se (skuus kan nie vanaand die kappie kry nie!) nie almal voel so goed soos ek nie. Ekskuus? Hy het definitief nie van die dreigende trane geweet nie. Het net gesluk en myself gedreig en gese ek moet net aangaan. Moet net. Ek sit en praat en vra mense vrae oor hulle lewens en so aan, en hulle is heeltemal bereid om te antwoord. Maar daar kom niks verder nie. Daar is soveel interessante mense met interessante stories wat daar sit. Ek weet hoe bang ‘n mens is, want ek bly bang, maak nie saak wat nie. Maar ‘n mens kan nie in vrees lewe nie. En om daar te sit en gesels lei die aandag af van wat besig is om te gebeur en laat die tyd vinniger verbygaan. Houding, julle weet, houding.

by elizac

Die ergste…

Mei 6, 2010 in Sonder kategorie

… van die haarverlies, is die feit dat dit net hare noord van die neus is wat uitval. Alle suidelike hare moet nog steeds gewaks, geskeer en gepluk word. En ek sweer: hulle word definitief swarter, veral die op die ken… Verder weier ek nou om hare te was, want dan val alles vinniger uit. So, as julle per ongeluk langs ‘n vrou met baie vuil hare staan, moet nie oordeel nie. Sy mag dalk ‘n goeie rede hê.

Bloedtoets vandag om te kyk of my bloedliggaampies almal teenwoordig is. Chemo 2 Maandag. 10h.

by elizac

HARE + FOOB FILL

Mei 3, 2010 in Sonder kategorie

My hare is definitief besig om te gaan. Right on cue, en volgens die voorspelling van my onkoloog. Twee weke na chemo. Dit het begin met ‘n branderige gevoel so rondom Vrydag en ‘n bietjie meer hare as gewoonlik op my hande wanneer ek hare was. En vanoggend, toe ek die spikes probeer stileer, kom daar sommer hordes hare op my hande af. Met die gevolg dat ek so ‘n bietjie soos ‘n windverwaaide hoender lyk, want met waks en al kan ek die hare nie gelyk regop kry nie, want te veel val uit. Het nie gedink die haarverlies gaan my pla nie, want dit groei mos weer terug. Maar ek vind dit nogal traumaties, veral omdat mense nou sal kan sien daar is ‘n probleem. Gelukkig werk ek in ‘n omgewing waar pruike (of “pieces”) en kopdoeke algemeen is. Ek hoop net die hare hou tot volgende Maandag, want ons gaan kuier die naweek bietjie in die Kaap vir my geliefde se verjaardag. Hou mos nie daarvan om met fieterjasies te sukkel nie! Het darem die een pruik gewas ter voorbereiding…

Verder gaan ek vandag vir my tweede foob fill, dus gaan daar weer ‘n paar ongemaklike dae/weke voorlê terwyl die vel rek en strek en die foob ‘n pad probeer vind. Die eindresultaat beter net die moeite werd wees!