Jy blaai in die argief vir 2010 April.

by elizac

ONBEDAGSAAMHEID

April 28, 2010 in Sonder kategorie

Ja, toe raak ‘n klomp mense nou hewiglik ontsteld oor my vorige twee posts. Kom ek plaas dit bietjie vir almal in konteks: wanneer ‘n mens chemo kry (en Kelly behoort dit te kan beaam), verswak jou immuunstelsel so ongeveer sewe tot tien dae na die chemo toegedien is. Jou rooibloedliggaampies verminder, jou witbloedliggaampies word aangeval en jy is oor die algemeen meer vatbaar vir infeksie. Jy moet dus ten alle koste situasies vermy wat jou in ‘n posisie gaan plaas waar jy infeksie kan opdoen, want enige infeksie kan moeilik wees om te beheer en jy mag gehospitaliseer word. Dus probeer jy dinge doen wat jou uit risiko-situasies haal. So jy was jou hande baie, vermy skares en bly weg van mense met aansteeklike siektes, soos verkoue, griep, masels of waterpokkies. En jy probeer wegbly van mense wat rook in jou rigting blaas, want dit irriteer jou seer keel en die seer mond en jou longe. Laasgenoemde word egter baie moeilik indien jy elke keer wat jy by ‘n deur wil ingaan, eers deur ‘n paar rokers se rook moet waad, of, soos wat wel die naweek gebeur het, iemand ‘n sigaret binne die parkeergarage opsteek en voor jou uitloop met sy rook agter hom aan. Wat my betref, kan enige roker stook tot hy/sy absoluut blou word in die gesig. Maar hoekom verwag jy van my om saam te rook? Hoe weet jy wie langs jou staan? Hoe weet jy of die persoon net so vars en gesond soos jy voel? Jy weet nie. Dis onbedagsame optrede.

Ek hou ook nie van mense wat hulle musiek so hard speel, dat ek ook daarna moet luister nie. Dis onbedagsame optrede. Ek hou ook nie van mense wat spoeg op straat, of nie agter ‘n boom kan gaan staan as hulle dan nou moet toilet toe gaan nie. Dis onbedagsame optrede. Ek hou ook nie van mense wat te vinnig ry nie, veral nie in gebiede waar my geliefdes ook moet ry of moet stap nie. Dis onbedagsame en gevaarlik optrede. Ek hou nie van mense wat landswette oortree en dan sit en kerm oor die regering se onvermoë om misdaad die hok te slaan nie. Of wat allerhande skeldname gebruik om hulle landsburgers te beskryf nie.

Ek’s vir niemand kwaad nie. Ek wroeg nie met een of ander sielewroeging oor wie my kanker gegee het of nie. Dit het gebeur. Ek moet dit hanteer, of ek wil of nie.

Wat my vorige post WEL was, was ‘n antwoord op ene Ghosted se onsmaaklike kommentaar oor my bors by my post oor die rook. Hy/sy het al sy/haar kommentaar intussen verwyder – waarskynlik besef in watter swak smaak dit was. Ek sal die post met Laura Ellis se foto’s verwyder sodra almal kans gehad het om my kommentaar te lees. Haar verhaal is vrylik beskikbaar by www.lauramellis.livejournal.com en dien vir my tot inspirasie.

O, en ingeval julle wonder: van my beste vriende is rokers…

by elizac

WAAR DAAR ‘N ROKIE TREK…

April 27, 2010 in Sonder kategorie

… is daar ‘n sigaret. Kyk, elke diertjie sy plesiertjie, en leef en laat leef, maar wragtig, as jou plesiertjie my gesondheid begin benadeel, begin my bloed sommer kook. Was die naweek weg vir ‘n Kaapse draai, en daar loop ek my weer eens vas in mense wat dink dit is hulle reg om te rook, en dit binne ‘n parkeergarage, of sommer net buite die gebou se deure, sodat ander mense deur hulle dampe moet loop. Nou laat ek sommer hier elke roker bykom: julle is selfsugtig! Julle dink niemand kan julle ruik nie, omdat julle julself nie kan ruik nie! Maar enigeen wat nie ‘n roker is nie, sal vir julle kan sê: ons ruik julle op ‘n afstand. En jy stel diegene rondom jou se lewe in gevaar. Vir agtien jaar van my lewe is ek blootgestel aan my pa se rook. Een van sy gunstelingplekke om te rook was die motor: sodra ons hele gesin in die motor geklim het, het pappie sy sigaret aangesteek en lustig gerook, met al vier sy telge op die agterste sitplek. Daarna was ek ook kortstondig en rampspoedig met ‘n roker getroud. So raai wat is een van die eerste vrae wat dokters die afgelope ruk vir my gevra het? “Rook u of het u voorheen gerook?” My antwoord is altyd nee. Want ek het nog nooit gerook nie. Maar eintlik moet dit seker ja wees. Tweedehands gerook, dankie. Kan ek bewys dat dit enigsins ‘n invloed op my gesondheid gehad het? Nee, natuurlik nie. Maar ek kan ook nie bewys dat dit nie ‘n invloed op my gesondheid gehad het nie!

En waarom ken rokers nie die nuwe wette nie? Is dit te veel moeite om uit te vind wat jy wettiglik mag doen? So sit ons ewe buite by ‘n klein restaurantjie. Steek een ‘n sigaret op – en daar is jong kinders en ‘n baba in die omgewing. Ons trek toe maar binnetoe, maar sit so dat ons nog steeds die pragtige uitsig kan bewonder. Nee, steek een sy sigaret op, leun teen die muur langs die venster en blaas lustig rook uit in ons rigting. Teen die tyd dat ‘n derde persoon dieselfde gedoen het, het my man sy speelgoed woelig uit die bababed gegooi. En natuurlik is die roker stom van verbasing. Nooit gedink dat hy iets doen wat iemand anders kan aanstoot gee nie. Ek het by tye lus gevoel om my bostuk op te lig en vir hulle die vernieling onder die bloesie te wys.

Want mnr of me die roker, jy weet nie waardeur die persoon gaan wat net so ‘n entjie weg van jou af staan en wat jou rook moet ruik nie. Jy weet nie waardeur die persoon gaan wat deur jou rookwalms moet stap om by Woolies uit te kom nie. Maar jy kan dalk net besig wees om iemand wat doodonskuldig probeer om normaal te lewe, se immuniteit te kompromiteer. Dink ‘n bietjie. En gaan steek daai sigaret van jou op onder die verste boom in die verste hoek, weg van enige mense af, soos wat die landswette dit dikteer. Voor een of ander mal vrou jou haar halwe boob wys.

by elizac

CHEMO EEN

April 19, 2010 in Sonder kategorie

Dankie aan almal wat boodskappe van ondersteuning gelos het. Toe was die ergste van chemo nr 1 nie die newe-effekte nie, maar die naalde wat in jou lyf gedruk word. Ek kan net dankie sê: dankie, Here, dankie. Hulle het soveel medikasie gegee, wat alles teen die naarheid inwerk, dat ek nie ‘n enkele moment naar was nie. En dankie, Here, dat die medikasie met my akkordeer. Die enigste newe-effek wat ek het op die oomblik, is dat my visie aangetas is. Kan nie naby lees met my bril nie, en ook nie sonder my bril nie. Kan nie ver sien met my bril nie, en ook nie gemaklik met my bril nie. Hoop dit is van verbygaande aard. Verder is ek moeg, maar ek vermoed dat dit op hierdie stadium meer ‘n emosionele moeg is as iets anders. Sukkel om te fokus op dit wat ek moet doen. Dis nou die een ding van hierdie hele affêre: ‘n mens kan eintlik op niks anders fokus nie. Dit maak jou uiters vervelig.

So, daar is nog 7 chemo’s oor. Een verby. Dankie tog vir een wat verby is. Ten minste gebeur iets nou.

by elizac

CHEMO

April 15, 2010 in Sonder kategorie

Chemo begin môre. Ek wil omtrent van my kop af raak as ek daaraan dink. Nie oor die chemo self nie, maar oor die newe-effekte. Want niemand kan vir jou sê hoe jou liggaam gaan reageer en wat met jou gaan gebeur nie. Ja, jy gaan definitief jou hare verloor, kanse is goed dat jy naar kan wees. Hoe naar is naar? Ek raak nooit naar nie. Net as ek oorinfeksie het, en dit gebeur so een keer elke vyf jaar. So hoe naar is dit nou presies? Jy sal moeg wees. Hoe moeg? Moeër as wat jy is nadat jy 10 een-en-‘n-halwe-uur-klasse aangebied het in ‘n week? Ek weet nie. En dis wat my onderkry: die voortdurende onsekerheid en die nie-weet-nie. Gewoonlik het ‘n mens darem nog die illusie dat jy beheer het in jou lewe. Met hierdie ding het jy geen beheer nie. Alles hang af: van ander mense, van jou liggaam, van jou kop, van genade. Jy moet leer om in die hier en nou te leef en nie te beplan nie. Elke ding is as: AS alles goed verloop, sal ek vier chemos kan inpas voor die konferensie. AS alles goed gaan, kan ek einde September/begin Oktober klaar wees met chemo. AS. Dis nie ‘n goeie woord vir ‘n selferkende beheervraat nie.

by elizac

EEEEEEEEEEEEEEEEKKKKK!!!!!!!!!!

April 13, 2010 in Sonder kategorie

Verskoon my, ek freak vanaand net so bietjie uit. Twee redes:

Die mediese fonds het verlede Donderdag (8 April) toestemming gegee dat die chemo kan voortgaan. Vandag bel ek die onkoloog se spreekkamer om uit te vind waarom ek niks hoor nie. Seg hulle, die mediese fonds het wel goedkeuring gegee, maar die verkeerde datums op die papiere gesit. Volgens hulle is die toestemming geldig vir die tydperk 7 April 2010 tot 31 Maart 2010. Nou wil die apteek ens nie die medikasie gee nie, want wie sal daarvoor betaal, want die toestemmingstydperk is reeds verby… En intussen vreet ek my vingers op en probeer normaal voortgaan met my lewe.

En het ek al gesê dat ek by ‘n “historically disadvantaged” universiteit klas gee? Het ek enigsins genoem dat my studente vir drie weke sonder ‘n dosent gesit het terwyl ek weg was? En het ek ook daarby gevoeg dat ons nie funksionerende roosters het nie? Dit beteken dat ek sommige klasse slegs drie keer gesien het voor ek weg is, terwyl ek hulle naastenby so 8 keer moes sien. Dit beteken ook dat ek hulle vorentoe nie genoeg gaan sien vir klas nie, en dat ek ten minste ses punte moet genereer in die helfte van die tyd wat dit gewoonlik duur. Daarby dan ook nog die chemo, en wat dit aan my gaan doen… Meng sommer by die hele spul ook in die staking wat gister begin het, want die ingenieursstudente het aan die begin van die tweede kwartaal nog nie dosente vir sommige van hul vakke nie, en hul eksamens begin oor 5 en ‘n half weke. Ek sê liewer niks verder nie.

Ek begin nou net stadig uitrafel.

by elizac

VERKOUE

April 12, 2010 in Sonder kategorie

Ai tog, ek KAN dit nie glo nie! Om die een of ander rede het ek oor die naweek ‘n verkoue opgedoen. Dit beteken geen chemo nie, en dit beteken dat niks kan begin nie, en as dit nie kan begin nie, kom dit ook nie tot ‘n einde nie. Sal maar voor my eerste klas apteek toe ry en goed gaan kry en na klas in die bed gaan klim. Ai ai ai.

by elizac

WAARSKUWING

April 11, 2010 in Sonder kategorie

Na aanleiding van Maankind se kommentaar by my vorige pos, net die volgende waarskuwing: baie mense dink dit kan nie met hulle gebeur nie. En die Vader weet, as ek geld gekry het elke keer as ‘n vrou vir my sê: ek het so ‘n jaar of wat terug ‘n knop in my bors ontdek, maar dit was nie seer nie, toe’t ek niks gedoen nie, was ek nou skatryk. Glo my, kwaadaardige gewasse is gewoonlik nie seer nie. Dis net sowat 6% (kan 8% ook wees, maar dis steeds min) wat wel seer is. M.a.w. 96% van alle kwaadaardige gewasse is NIE SEER NIE. Plus, moenie staatmaak op daardie mammogram wat skoon was nie. Ses maande gelede was myne ook skoon. Gaan sit maar in die bad (of staan in die stort), smeer jou se borste lekker in met die seep, en lig jou se armpie hoog op, terwyl jy met jou ander hand daardie bors bevoel. Gooi hom in trurat en doen dit met die teenoorgestelde bors. Mammogramme kan nie klein gewassies optel nie. Gaan lees die statistiek. Min vroue se borskanker word deur middel van ‘n mammogram gediagnoseer. So, doen jou selfondersoeke, skraap die moed bymekaar en gaan dokter toe, en dan gaan verloor jy daai ekstra gewig, want ekstra gewig beteken ekstra estrogeen, en ekstra estrogeen kan jou selle deurmekaarkrap. Dis beter om te weet as nie te weet nie.

En vir ekstra inligting, gaan na www.breastcancer.org .

by elizac

HOE GAAN DIT?

April 11, 2010 in Sonder kategorie

Voor ek begin, moet ek net kwalifiseer: nie my vriende of my familie weet van hierdie blog nie. Ek het ‘n ander blog waar ek dinge met hulle deel, maar ek het ‘n plek nodig waar ek net kan raas en kwaad en hartseer wees sonder dat dit die mense na aan my ontstel. Want almal wil altyd weet hoe dit gaan. Of hulle wil kom kuier om te sien hoe dit met my gaan. Of ek ok is. Nou ja, ek is ok. Ek staan nog vertikaal. Met my gesondheid gaan dit goed. Maar partykeer, veral laatnag, lê ek net en ween my hart uit. Want hierdie siekte/toestand is ‘n emosionele rondomtalie, en as jy te veel dink, sal jy jouself mal dink. En ek moet rou, rou oor ‘n liggaam wat nie meer dieselfde is nie, wat my in die steek gelaat het op 45, oor my lewe wat vir altyd verander het, oor gesondheid wat ek nie meer net as vanselfsprekend kan aanvaar nie. En, glo my, mens gaan deur elke stadium van die rouproses – partykeer sommer almal in een dag!

Mense sê goed soos: o, jy is so sterk! Jy is so ‘n voorbeeld vir ons! Jy is so positief! Maar hulle weet nie van die aande wat ek huil nie, of wat ek lus is om iets te slaan nie. Of wat ek uiters magteloos voel nie, want alles wat met my gebeur, is in ander se hande. Ek het nie eens meer die illusie van beheer oor nie. En vir ‘n beheervraat is dit werklik erg!

So kom ek sê nou: onder die omstandighede gaan dit goed met my. Ek glo God sal my gesond maak. Ek glo Hy het my reeds gesond gemaak (en vir diegene wat nie in God glo nie: mag hierdie ding nooit met julle gebeur nie). Ek het ‘n mediese fonds wat tot dusver vir die meeste prosedures betaal het. Ek het ‘n werk wat my ondersteun. Ek het ‘n wonderlike man en fantastiese vriende en my familie – alhoewel ver – is daar vir my. Die goeie dae is partykeer meer as die slegte dae. Gelukkig het ek nog my aweregse sin vir humor. En ek het talente wat my aandag van tob kan wegneem. Ek kan skilder en kraletjies op kreatiewe maniere inryg. Ek kan bont aantrek en die lewe vier. Ek kan voor my studente staan en perform en maak asof niks verkeerd is nie.

Maar daar IS dae wat ek wil rant en rave. Daar IS dae wat ek nie “positief” wil bly en ‘n “voorbeeld” wil wees nie. Wat ek net in die bed wil bly en dikbek wees.

by elizac

BRIEF EEN-EN-DERTIG: OX/GLENN/VANDAAR DIE STILTE (Deel 2)

April 10, 2010 in Sonder kategorie

Uiteindelik breek die dag van my invoerproduk se direkte, fisiese geboorte aan via Incheon lughawe ‘n uur of wat se ry buite Seoul. Ek en Young-Tae, onse direkteur, ry vroeg een Saterdagmôre tot by die lughawe om vir Glenn te gaan verwelkom.

Vanaf die eerste oomblik wat ek Glenn ontmoet, voel hy net aan my bekend en vloei ons energie onomwonde en sonder onnodige verduidelikings en woorde. Ek neem hom op ‘n eerstedaagse reis deur Seoul, verdienstelik Gemini-kriewelende en krioelende energie. Ons gaan van Hyundai glanswinkel tot E-mart to Dongdeamon to Cheonho se bakboord en stuurboord.

Om ons amper-uit gô tot lafenis te bring, deel ek met Glenn my gunstelingteedrinkplek. Met my eie aankoms hier het Sok Jin en vriende my Ox toe gebring. Dit is hierdie tydlose, pleklose restaurant met minimalistiese interieur en ‘n paar obskure kunswerke wat die manlike anatomie kort-kort rekonstrueer, of soms, neem ek aan, dekonstrueer.

Ox is op vier vlakke uitgelê. Die eerste vlak bestaan uit spierwit rusbanke wat oor ‘n ashoop uitkyk. Die tweede vlak bestaan uit groter wit rusbanke met ‘n glasteëlvloer in groot blokke oranjegeel. Ligte skyn van onder uit die vloer en verwarm die sentrale kamer. ‘n Derde vlak is in uiterse minimalise gedekoreer met takkies groen bamboes in plaspipette op ‘n ry ten die agterste wit muur en roesbruin geëtste teëls met religieuse motiewe in ‘n ry teen ‘n ander wit muur. Die vierde vlak is ‘n private, intieme klein kamer van rusbanke en kuierende oosterse jongmense.

Ek en Glenn drink rooitee en groentee in die sentrale kamer. Glenn sit gewoonlik onder ‘n skildery van kolle en reghoeke wat my een nag voor die kop slaan as ‘n abstrakte studie van falliese objekte. Vir seksueel konserwatiewe Korea is dit nogal ‘n rare, visuele, publike dekorasiemoment.

Wat Ox vir my veral besonders maak, is dat dit in die allerlelikste gebou geleë is. Ek hou altyd daarvan as die buitegoed van die pakkie die binnekos geheim hou.

By Ox kuier ek en Glenn laatnagte.

Die jong mannetjie Koreaan teebediener ken nou al al ons teedrinkbehoeftes en teen twee-uur in die oggend kyk ons vir sy lawwe bokspringe en bollemakiesies agter die toonbank om homself, neem ons aan, wakker en aan die gang te hou, tot ons uiteindelik besluit om huiswaarts te keer.

En ja, my liewe vriende en familie, so sit ek en Glenn derduisende myle van ons herkoms af en vind uit dat hy een van my vriende in Engeland ontmoet het toe hy verlede jaar in London gebly het. Ons het inderwaarheid die vriend tydens dieselfde week in Suid-Afrika gesien, net voor my vertrek Suid-Korea toe. Op ‘n ander keer vind ons uit dat hy saam met een van my oud-dramastudentekennisse sielkunde in Kaapstad studeer het. Die vallei van die wêreld is klein en groot en voor ons deur en vry en bevrydend.

Ek en Glenn kuier so intens en onophoudelik tot hy gespeen op sy eie bene aan Koreaanse bodem kan staan – ek kom net nie by stories skryf vir almal lief en dierbaar oor die wêreld uit nie. Dis vir my ‘n verblydende moment toe ek my terug in die arms van my ou minnaar bevind – my vertroude woorde van komplese eenvoud van reis en ervaar en ontdek en voel en soms oorvoed en noodwendig moet en wil verteer deur die sielsvreugde van skryf. Ek skryf ‘n hele tiental momente van lankbeleë stories tot wasdom uit die kamers van my hart en kop. Ek stuur dit met een vreugdevolle energie van lig en liefde aan een en almal aan. Ou stories van vakansie en kuier en ontdek en dankbaarheid tot op datum gebring.

Lig en ligter, vervuld en oop en ontvanklik vir meer en tevrede met hoe en waar en wanneer my lewe ontvou, verwonder ek my aan die avontuur van my lewe. Die afdraaipaaie, die onverwagte momente van komplekse, verwikkelde alledaagsheid.

Ek is bly dat ek leef. Dat ek oorleef het. Dat ek hier en nou is. Wie en wat ek is.

Tot groter wasdom deur kuier en stilte en avontuur en verteer.

En, soos altyd, met my lippe warm aan ‘n koppie groentee, klink ek dit ook op u, op jou, op jy, op julle.

Elkeen deel van die juweel van die allesomvattende verwêreldse grootstadse vallei van die wêreld in my hele hart, my sterke fors van ‘n kapabele liggaam, my gees wat spin van goudvergulde silwer, wit lig.

Liefde:

Johannes