Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

by elizac

BRIEF DERTIG: AMSA DONG – PREHISTORIESE VALLEI Kulturele dag

Maart 23, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Subject:           Amsa Dong – prehistoriese vallei : kulturele dag

Date sent:        Tue, 07 November 2001 07:26:03

Elke dag as ek in die stadsgedeelte van die woonbuurt waar ek bly rondloop, sien ek die oorhoofse padteken: Amsa Dong – prehistoriese vallei. Ek dreig nou al ‘n wyle om die geskiedkundige punt te gaan besoek.

‘n Paar naweke gelede vier Amsa ‘n kulturele fees van kos en kindertjies wat dans en speel in kleurige kostuum in die preshitoriese vallei en ek besluit om te gaan kyk. Ek loop die hele pad van onse huis tot by die prehistoriese vallei: ‘n hele frisse uur se stap in oggendverkeer en mensemassa gejoegel.

Ek herken van die EET-kindertjies as aanduiding dat ek nou die feestighede nader. Hulle kom groet met wye, vriendelike oop mondjies en sagte, skrefie, donker oë.

Voor die prehistoriese vallei is tafels met tradisionele kosse uitgepak. Reg by die ingang is ‘n hele vark op ‘n spit aan’t braai. Die res van die kos maak die nou reeds bekende groentepannekoeke met invis en keem bap gerolde seegras met rys en velerlei vrugmomente en ander rysmeel en sojameel soetgebak uit.

Op die plek ontvou nog ‘n vertroude roetine van een of ander Koreaan wat my begroet met: Amerikaner? Amerikaner? En ek wat: nam apurika (Suid-Afrikaner) terug antwoord.

‘n Vierkant van vrolike, vriendelike moeders en vaders en spelende kinders ontvou in die binnepleine van die prehistoriese vallei. In die middel is daar ‘n buitelugverhoog met ‘n reeks prettige en plesierige jeugaktiwiteite. Agter die verhoog, op ‘n stowwerige plein met polletjies gras, is ‘n leërskare engeltjies met silwerwit vlerke en ‘n regiment diskoseuns in goud en geel en rooi en swart besig om met balletjuffroubegeleiding danspassies te oefen.

Ek en Pieter-die-Jongere herorganiseer die opelugrepetisie in ‘n fotosessie en neem foto’s van onsself omring deur ons geel klas in tradisionele dansdrag in die gewade van engele met bloedrooi dansjuffroumonde en swaar, vals, donkerswart wimpers. Tussen die gekliek-kliek en gezoem van die kameras oefen die geel klas se engele met vlerkgeklap dat die stof so staan. Moeders kom stel ander boeties en sussies van ons leerlinge bekend en ek maak gesigkonnotasies van moeder tot kind.

Later die oggend bekyk ons ‘n hele kabaret van jong, heupswaaiende Koreaanse jongelinge wat hul passies en trappies oral oor die verhoog kom maak en trap, met ‘n juffrou wat in ysere konsentrasie voor die verhoog die choreografie beduie. Ons dink natuurlik dat ons geel klas se engele die heel beste was en klap soos trotse ouers ekstra hande.

‘n Moeder kom bring vir my en Pieter-die-Jongere ‘n eet-en-drinkdingetjie en ons kopknik, kopknik: hamsa hamneeda.

Ons verken die res van die prehstoriese vallei en die gepaardgaande prehistoriese fees. Rye grashutte deur bome omring ontvou in ‘n interstedelike woudjie. Die grashutte is van oorspronklike staat soos Koreane ‘n honderd jaar of wat gelede aan huis verkeer het. Ons neem foto’s van die kontras tussen wolkekrabberagtergrond en die grashuttevoorgrond.

Jongetjie Koreane is soos primitiewe mans aangetrek en deel stukke klei uit. Hiermee kan ons, ons eie primitiewe toebehore maak. Klippe en stokke en tou word ook uitgedeel, waarmee jy ‘n hamer kan vervaardig.

Op pad terug busstop toe, kry ek en Pieter gratis penne en poskaarte en spesiale gedenkkoeverte om die dag in herinnering te roep.

Elke dag is inderdaad ‘n dag hier in Korea, dink ek, terwyl ek nog ‘n treetjie in my eie stukkie reisgeskiedenis maak.

Agter my braai die vark voort op die spit en iemand vra: Amerikaner? Amerikaner?

Die son trek water bo ‘n Seoulse wolkekrabber.

Oktober 2001

by elizac

TUSSENWERPSEL

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

Daar is ‘n goeie rede waarom hierdie blog die laaste ruk nie aktief was nie. Lees hier http://doingthecan-can.blogspot.com/ vir meer.

Ali

En vir diegene wat nou nog nie die kloutjie by die oor gekry het nie: ek behartig hierdie blog namens iemand anders. Ek is nie manlik nie. My naam is nie Johannes nie. En ek was nog nooit in Korea nie.

by elizac

BRIEF NEGE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 5 – van stoomkamers en warm baddens

Maart 20, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Subject:           Danksegging: Dag 5 – van stoomkamers en warm baddens

Date sent:        Tue, 30 October 2001 03:12:33

Vandag is die laaste openbare vakansiedag in die reeks van Chu-seok feesvieringe. Ek wou al ‘n geruime tyd die Koreaanse tradisie van stoomkamers en warmbaddens en saunas gaan ondersoek, maar my inhibisies rondom ‘n geharde, laaste oorblywende psoriaseskolletjie of twee of drie, het my tot dusver daarvan werhou. Danksy my ysere twee maal daaglikse roetine van my nuutverkore rome en salwe op elke moontlik hoe en draai van my lyf aangesmeer, is ek nou gaaf en glad genoeg van vel om die vertroude, veilige lae van kledingstukke vir ‘n uur of wat publiek vaarwel toe te roep en stoom en warm water aan my stywe spiere te voel.

Voor my aankoms in Suid-Korea het ek ‘n paar oosterse films oor die tradisie rondom stoomkamers en warmbaddens en saunas gesien. ‘n Hele reeks van aktiwiteite word van nageslag tot nageslag oorgedra van in warm water met groentee aangevul te lê en baai tot jou lyf met sout in te vryf en in ‘n stoomkamer te gaan sit tot afwisselend van in vuurwarm water tot in yskoue water te plas en plons.

Nodeloos om te sê dat ek nie alleenlik die ruimte wil benut tot die voordeel van my eie liggaam se ontspanningsvlak nie, maar dat ek ook my bril in die warm bad ophou om, brilglase toegestoom al dan nie, al die gebruike en gewoontes met westerse nuuskierigheid skaamteloos dop te hou.

Saunas en warmbaddens en stoomkamers word met ‘n oranjerooi teken wat soos ‘n C lyk wat op sy rug lê, op geboue aangedui, en vanuit die ruglêende C trek daar dan ‘n aantal rokende ringe wat soos kaaskrulle voorkom.

Sommige saunas en stoomkamers is vier-en-twintig uur oop. Uiteraard word dit nie net bloot om fisiese wellewendheid aangewend nie, maar blyk ook ‘n sosiale bymekaarkomplek te wees.

Voor by die deur sit ‘n effe gesette Koreaanse jong meisie in ‘n glashokkie en verkoop kaartjies. Dit kos R21 om in te gaan vir so lank bly as wat jy lus voel. Die Koreaanse jong meisie is omring van tandeborsels en growwe skroplappies in groen en pienk en rooi wat teen ekstra koste aangeskaf kan word om jou badervaring nog meer sensueel en esteties plesierig te maak.

By die ingang split die kamers in ‘n deur vir vrouens en ‘n deur vir mans. ‘n Koreaanse, ouerige, hoflike heer ontvang my kaartjie. Hy oorhandig ‘n sleutel met ‘n nommer aan ‘n rekkie en beduie na ‘n duiwehokagtige rak. Voor die rak trek jy jou skoene uit en sit dit dan in die vakkie met jou sleutel se nommer op. Dan betree jy die algemene area met sluitkassies en handdoeke en kamerjaponne en poedelnaakte mans wat op houtbanke hul toonnaels sit en knip.

Ek loop eers ten volle geklee en stel ondersoek in. In die een hoek is ‘n area met gewigte en ‘n in die hoek langsaan sit mans onder handdoeke met kamerjaponne aan op afslaanstoele en kyk televisie. In die middel is ‘n groot, elektroniese masseerstoel met magnetiese knoppe op wat met muntstukke beheer kan word. Naakte vaders en ewe naakte klein seuntjies droog af tussen oksel en lies en klim op elektroniese skale en volg vertroude rituele.

Twee glasdeure lei tot ‘n stomende vertrek met twee baddens – een in die middel van die vertrek en een kleiner bad langs die kant. Die middelbad is voorsien van stomende, vuurwarm, borrelende water en die kleiner bad is gevul met yskoue water. Teen die een muur is ‘n hele reeks wasbakke met plastiese komme en pype met stortkoppe. Voor elke wasbak is ‘n langerige spieël.

Mans sit op plastiekstoele in ‘n ry en was en skeer en skrop hulle velle tot dit rooi gloei met die growwe rooi en pienk en groen lappies. Een man is besig om die sole van sy voete met ‘n blou plastiekskeermis te skeer en te skeer. Teen die ander muur is ‘n ry storte met elke stort ook van ‘n spieël voorsien.

Twee deure maak uit die warmbadkamer uit oop en loop elk in ‘n kleinerige sauna uit. Soos jy inkom, staan daar ‘n houer met growwe sout en buise met spierverwarmers. Jy vryf die sout in jou lyf in om jou sirkulasie te bespoedig en jou lyf te verwarm.

Ek hou nie van saunas nie. Dit versnel my hartklop en laat my duiselig en naar voel. Selfs Goudini se warmbaddens het dieselfde uitwerking op my gehad. Maar die afgelope paar dae is my sirkulasie meer pynlik en stadiger as gewoonlik. Ek is dus bereid om die warmbad op die proef te stel ten einde die voordeel van soliedsirkulerende bene te voel.

Ek betree die warmbad en, hoewel die water stoom en gloedig borrel, is ek nog steeds verras oor hoe kokendwarm die water is. Vir eers waag ek net my bene te volle in die hitte. Geleidelik laat ek die warmte oor die res van my lyf borrel. Rondom my skrop en stort en was en skaaf en skuur mans met die vlekloosste velle. Ek dog ek is die voyeur in my eie film en kyk en kyk en kyk.

My sirkulasie verbeter byna onmiddellik en na tien minute voel my bene lig en warm en solied. Ek bly vir min of meer ‘n halfuur in die stomende water en wend ‘n halfhartige poging aan om my bene halfpad in die yskoue water te gaan druk.

In die algemene vertrek loop daar sagte trappies op tot by ‘n dakkamer met vloerbedekkings. Hier kan jy na jou borrebad- of sauna- of skoonmaakroetine ‘n rustige, warm, stil slapie kom vang. Dit herinner my aan die baarmoeder of ‘n huse in die middel van die woud by die see. Ek voel heeltemal veilig en geborge. Privaat en onaanraakbaar.

Die kamers is vyf minute se stap van waar ek werk en ek sal dit beslis in die toekoms inspan wanneer ek ‘n uur of twee tussen klasse vry het om net te kom wegkruip.

Ek buigbedank die omie by die deur: kamsa hamneeda. Anyong haseyo en buigbedank die jong Koreaanse dame in die glashokkie: kamsa hamneeda. Anyong haseyo.

Ek voel Koreaans-gekultiveerd en loop stoom-stoom en sweet-sweet met sterker bene die straat af.