Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

by elizac

BRIEF NEGE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 4 – ek stap langs die hawe (vervolg)

Februarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Ek wonder oor die Chinese stukkie grond voor die stasie. Terug by Incheon stasie gaan loop ek deur die poorte van China Town. Ek neem foto’s van Chinese kafees met bloedrooi en versiersuikerpienk lanterns wat in die wind wapper. Ek loop met ‘n bult van trappe uit. In die middel van die sementstraat sit ‘n kring ou Chinese dames plat op die grond en kuier. Oor die volgende bult is ‘n park met ‘n uitkyktoring oor die hele Incheon.

Die park heet Vryheidspark. Hier het Chinees-Koreane vryheid van onderdrukking veertig jaar gelede verklaar, deel ‘n jong Koreaanse meisie met my ‘n tikkie politieke en sosiale inligting wat ek weens haar geradbraakte Engels nie ten volle begryp nie. Ek maak ‘n nota in my agterkop dat ek later vir Sok Jin hieroor moet vra.

Kort voor aandete pak ek die tog aan terug huis toe. Ek klim by my gunsteling aandete- en fliekplek, Dongdaemun, af. Ek eet my vertroude stukkie groen spanspek op ‘n stokkie, drink my halfbevrore gebottelde minderaalwater en laat maak vir my twee rolletjies keem bap. Die tannie voel jammer vir my vleislose keem bap en sit ‘n ekstra lootjie suursoet raap tussen die binnewande van die gedroogde blaaisels seegras in.

Ek kry skielik lus vir myself bederf. Ek neem die roltrap tot op die vierder vloer van die Fraya Modegebou: die mansafdeling.

Seoul het ‘n groot verskeidenheid van mansmodes. Ek kan my verstout om te sê dat die verskeidenheid mans- en vrouemodes min of meer in balans is.

Ek gaan beloer die mooi goedjies van ‘n miniatuurboetiek waar ek al voorheen ‘n aantreklike lapdingetjie of twee gekoop het. Na ‘n hele paar te-kort-van-mou hemde, trek ek hierdie pruimrooi/bruin, syerige baadjie aan en dit sê eenvoudig: trek my aan, betaal  my, hou my aan, gaan huis toe, dankie.

Terug op die subway voel ek mooi en geseën en dankbaar. Ek dink as ek nou die baadjie aan iemand anders se lyf gesien het, sou ek dit graag sou hê.

Ek kom tik die storie. Dis twee-uur, Woensdagoggend.

Vandag wil ek graag garag-mark toe gaan en ek wil langs die Hanrivier gaan loop.

Na die vorige dag se onverwagte reën, was vandag die oopste, sagste, mooiste dag.

En dan wil ek die tradisie van Koreaanse warmbaddens en stoom- en saunakamers gaan aanskou.

Goeienag.

by elizac

BRIEF NEGE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 4 – ek stap langs die hawe

Februarie 21, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 4 – ek stap langs die hawe

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:51:37

Ek het ‘n hele paar los drade van reisbelustings wat ek tydens die paar publieke vakansiedae probeer optel. Een van hulle is om Suid-Korea se hoofhawestad te gaan besoek. (Ek het reeds voorheen oor Incheon met ‘n “n” se nuwe lughawe gerapporteer).

Vandag neem ek die subway halfpad en ander halfpad helfte die trein tot by Incheon self om die hawestad te gaan ontgin en ontdek. Ek reis met die pers lyn tot by Songil. Hier klim ek oor op die trein tot in Incheon.

Dit is ‘n twee ure lange trip.

Die Incheon-stasie herinner my vaagweg aan Muizenbergstasie in Kaapstad. Dit het dieselfde bakstenerige voorkoms, met ‘n hoë kerktoring in die verte wat my seker aan die horlosietoring by Muizenberg herinner.

Regoor die stasie is’n instappoort versier met Chinese verfwerk en dieresimboletorinkies uit hout gekerf om die enigste China Town in Korea aan te dui. Die meeste Chinese kom Suid-Korea met behulp van bote en skepe deur Incheon hawestad binne en van hulle het dan wel hier bly vasmeer en ‘n China Town gestig.

Reg langs die stasie in ‘n toerismeburo. Ek gaan blaai eers deur hulle inligting en vra raad oor hoe om my paar uur daar ten beste te benut.

Ek neem ‘n bus na ‘n gedeelte met die naam Wolmido. Dit is ‘n promenade met velerlei kafees en restaurante.

Die bus hou in ‘n onindrukwekkende oopte stil. Ek wonder vir ‘n kortstondige moment van ongeloof waar die see en al die beloofde besienswaardighede uit die grys vierkant van niks kan opdoem. Weliswaar: net om die volgende hoek maak ‘n feestige loopgang van ‘n oosterse mensemassa en restaurant na restaurant sy verskyning. Op pad na die skepe en bote en restaurante is verskeie kermistipe speletjies met behulp waarvan jy \n wollerige, opgestopte lapdier kan wen deur ‘n balletjie van ‘n stokkie af te skiet of ‘n ballon met ‘n veerpyltjie kaf te draf. Koreane hou van speel.

Die eerste restaurant wat my oog vang, is getiteld “Amsterdam”. Dit het ‘n groot windmeul van voor en ‘n kleiner windmeul langs die kant. Getrou aan ons vriendskap neem ek ‘n foto vir my vriending, Irize, in Amsterdam, om later met haar die Hollandse verteenwoordiging in Korea visueel te kan meedeel.

Langs Amsterdam is Arizona – hout-van-voorkoms, met rooi letters aangedui – ‘n regte Spur in Korea. Arizona word afgewissel met Cafe London en Cafe Paris. En so aan en so aan vir so ver die oog kan sien.

Voor die kafees en restaurante sit verskillende straatkunstenaars en teken Koreaanse kindertjies en Koreaanse ou oumas en Koreaanse verliefde paartjies met pastelle en ‘n kwassie hier en daar. Vir ‘n oomblik oorweeg ek om ‘n prentjie van my te laat teken, maar met oosterse oë, asseblief. Johannes met goudblonde hare en donker, oosterse oë langs die kaai van Korea.

‘n Seebrieserige honger neem egter die oorhand en ek gaan soek na iets om te knaag. Ek  koop ‘n miniatuur papierkardoessakie vir ‘n fraaie twaalf rand van gebraaide soetpatatpennetjies wat tjipperig kraak onder my tande. Op en af loop ek en kyk bote en skepe en water en ‘n paar heuwels in die verte.

by elizac

BRIEF AG-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 3 – Koreane is plesierig (Deel 2)

Februarie 20, 2010 in Sonder kategorie

Die res van die familie het klaar geëet en Sok Jin se pa kom maak kort-kort ‘n draai by die tafel en moedig my aan om nog en meer te eet. Ek maak kreungeluide en vryf oor my mag om aan te dui hoe vol ek is. In Korea dui jy jou genot en dankbaarheid aan deur te ooreet.

Sok Jin se ma kom vind uit of dit en dat darem lekker is en ek glimlag so breed moontlik en wys allerhande vingertekens van lekker en regtig heerlike en baie dankie. In my agterkop raak ek natuurlik ook terselfdertyd benoud dat al die geëet besig is om ver verby my toelaatbare suikervlakke te styg.

Sok Jin se ouma, wat my ma se ouderdom is, kuier vir die danksegging by hulle. Sy praat ‘n paar lang sinne met my in Koreaans. Ek vra vir Sok Jin wat sy alles sê.

“Sy sê jy moet Koreaans leer praat!”

Ek lag. Presies wat my ma sou gesê het: “Sê vir hom hy moet Afrikaans leer, dat ons kan kuier.”

Sok Jin se ma en pa gaan besoek sy een oom in die hospitaal wat pas sy hand in ‘n elektriese saag ongeluk verloor het en ek en Sok Jin gaan kyk ‘n fliek op televisie. Ek wonder vir ‘n kortstondige oomblik of ek my kosbare vakansietyd met ‘n tv-fliek wil verwyl, maar dan besef ek hoe kosbaar die alledaagse van die meemaak van die hele familie-aangeleentheid werklik is.

Sok Jin raak op die vloer aan die slaap, en ek lê op sy ma en pa se bed en kyk tv.

Die telefoon lui en lui.

Na ‘n uur of wat raak ek weer honger en gaan krap in die kombuis op soek na oorskietkos.

Skielik begin die voorkamer feestig te vul met ooms en tantes en broers en susters wat met kossies in die hand kom kuier. Almal, van die oudste tot die jongste, gaan sit kruisbeen op die vloer – selfs die ouma van amper by die tagtig.

Almal kom beloer eers die blonde Engelse vreemdeling by die tv en een besonder warm en vriendelike ouerige tannie deel ‘n hele reeks Koreaanse sinne met my, terwyl sy my op en af bekyk en beglimlag.

Sok Jin vertaal dat sy dink dat ek baie jonk lyk. Ek hou natuurlik onmiddellik van die tannie!

Sy kom bied vir my haar Koreaanse, tradisionele, tuisgemaakte ryslekkers aan, wat sy my verseker lekkerder sal smaak as die wat ek by die winkel gekoop en gebring het. Dis net toe ek haar wil verseker dat dit wel lekkerder smaak, dat ons agterkom sy my die hele tyd die lekkergoed aanbied wat ek self gebring het!

Ons lag en neem foto’s. Ek glimlag breed en, hoewel al die aandag soms oorweldigend raak, voel ek tuis en welkom en danbaar vir di ealledaagse besondere familiefeestige ervaring.

Ek vra vir Sok Jin om saam met my tot by die subway te loop. Sy ma sit vir my rou mielies op die stronk in ‘n sak om later te kook.

Koreane is plesierig, dink ek, en loop met ‘n lied in my hart en ‘n huppel in my stap huis toe.

by elizac

BRIEF AG-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 3 – Koreane is plesierig

Februarie 14, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 3 – Koreane is plesierig

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:43:38

Koreane is plesierig en dan maak hulle so:

Vandag is die eerste amptelike dag van Chu-Seok feesviering. Chu-Seok is nie ‘n godsdienstige fees nie, maar wel ‘n familiedankbaarheidsfees. Tradisioneel gaan jy terug na die dorpie, distrik of vallei waar jy gebore is. Jy neem verskeie tradisionele disse met jou saam om tydens familierituele aan jou voorvaders en voormoeders te offer ten einde danksegging te betoon aan jou bloedlyn der eeue.

In die stad word geskenkpakkies by die winkels gekoop met van olyfoliesepe op ‘n ry tot bokse vrugtesap en bokse ingemaakte vrugte en bokse wyn en bokse olyfolie en tradisionele lekkers gemaak van rys tot die reeds gerapporteerde taaierige ryslekkers en ryskoekies gesny in langwerpige stukkies met sesamiesade bestrooi en ryspoffers gekleur in pienk en groen en geel.

Almal verskyn op straat in han bok (tradisionele Koreaanse kleredrag) in oosterse pienk en inkblou, suurlemoengeel en duifgrys, bloeiselwit en pruimrooi, versiersuikergroen en innige bruin. Dit is vir my besonders om ou mans en klein seuntjies in ten volle uitrustings van sag, intensglimmende pienk te sien. Met die moderne kontras van Nike-seilskoene skep dit ‘n opwindende uitrusting van ‘n aantreklike ontmoeting tussen die ou en die nuwe.

Ek vat myself in ‘n nuwe glimswart broek en wynrooi truibaadjie uit, wat ek ‘n paar maande gelede vir die komende winter gekoop het. Die wer leen hom nou net reg daartoe.

Om twee-uur ontmoe ek vir Sok Jin by Dongill stasie op die pers lyn. Sok Jin staan in sy jeanbroekie en t-hempie en lyk soos ou bekende familie. Ons loop ‘n paar blokke deur ‘n motreëntjie tot by sy ouers se huis. Ek oorhandig ‘n dubbele handvol song-peon (wit en groen taai, klewerige, Koreaanse ryslekkers met die soet skietseltjie sesamiesade in die middel) aan Sok Jin in die gees van Chu-Seok.

Ons klim trap tot by die eerste vloer van ‘n woonstelgebou. Ons skop skoentjies by die voordeur uit. Sok Jin se hele familie staan in die kombuis/woonkamer en kom groet en bekyk en nooi in en beduie dit en dat en vra uit en raak ‘n hele reeks sêgoed kwyt – alles in Koreaans.

Ek skud hand soos Lady Diana op besoek en maak asof ek alles verstaan.

Hoewel ‘n deel binne-in my sku en skaam is vir al die aandag vandag, laat ek toe dat my gemini die oorhand neem en kwetter saam oor algemene onbenullighede van o, is dit nou jou suster? en kyk al die kos! en pomp Sok Jin kort-kort in die sy om te vertaal.

Sok Jin se ouers is presies soos ek my hulle voorgestel het. Sy pa is kort en klein en stillerig in die agtergrond, met van tyd tot tyd ‘n joviale buie van eet, eet, eet en ‘n warm hand op die blad. Sy ma is meer op die voorgrond. Sy het roesrooi strepe in haar hare en lyk jonger as wat ek verwag het. Sy is duidelik die energie in die huis en soos die meeste Koreaanse huisvroue is sy konstant besig om te organiseer.

Ek en Rebekah het altyd gesê die Afrikaanse en Koreaanse families is baie eenders. Ek voel dus heel tuis en gemaklik in Sok Jin se ouerhuis.

Die huis bestaan uit ‘n kombuis/voorkamer as senter. Uit die vertrek is daar vier deure wat letterlik in ‘n vierkant oomaak. Een vertrek is die badkamer. Die volgende vertrek is Sok Jin se suster se kamer, dan sy jonger broer se kamer en laastens die ouers se kamer, waar almal saam televisie kyk en rondkuier.

Op die tafel in die middel van die kombuisgedeelte het Sok Jin se ma ‘n hele fees van Koreaanse kos uitgepak. Sok Jin het haar goed voorberei dat ek nie vleis eet nie. Een van my gunstelinggeregte – meeyok gook (seegrassop) – word as my hoofdis aangebied. Rondom ons is klein houertjies gevul met wit, klewerige rys (bap), gedroogde seegras (keem), gebraaid tofu (tobu) en plat, swart sampioene in ‘n dun degie gebraai. In ‘n ander bakkie is klewerige sesamieblare met ‘n chilliesous bedek. In nog ‘n bakkie is bruin leliewortels in ‘n souterige sop.

Op die vloer staan ‘n bord met halfgeskilde pere en appels en velerlei ander vrugte en neuterige goed waarvan ek die vorm en smaak en naam nie ken of herken nie. Sok Jin bied vir my ‘n vruggie aan wat soos ‘n gedroogde dadel lyk met die naam de-chu. Jy kou die vruggedeelte om ‘n kleinerige pitjie af. Dit smaak soos ‘n droë appel. Dit het ‘n kurkerige tekstuur en is suurderig. Sok Jin slaan die Engels na en dit sê: Jojoba.

Ek is heeltemal deurmekaar, want ek het altyd jojobaprodukte van seep en vogmiddels en sappe in Suid-Afrika by gesondheidswinkels gekoop, maar my nooit die natuurlike produk so voorgestel nie.

(Op pad terug van Sok Jin se ouerhuis af, wys hy vir my ‘n de-chu boom wat met die donkerbruin, dadelvormige vruggies langs die pad groei. Ek wil nog uitvind of dit werklik die jojoba is waarvan ek holisties in Suid-Afrika gebruikgemaak het.)

by elizac

BRIEF SEWE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 2 – Spontaan rondlê en die vreugde van niksdoen

Februarie 7, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 2 –  spontaan rondlê en die vreugde van niksdoen

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:34:47

 

Met ‘n hele reeks vakansieplanne wat langs my bed op papier gekaart lê en wag om met behulp van bus en subway getransport te word, breek Koreaanse danksegging, dag twee, met ‘n buiteseisoenlike reënbui aan. Ek besluit op die plek rus om my roes nog meer mildelik te laat rus en slaap rustig en onverstoord tot eenuur die middag voort. Ek verklaar die dag tot ‘n regte rondlê-en-niksdoen vakansiedag en skuif plan a, b en c aan tot die oorblywende drie dae van Maandag en Dinsdag en Woensdag se Chu-Seok.

Teen namiddag begin die reënbuitjie uit te peuter en ek dress op en gaan kyk American Sweethearts in Dongdaemun by Fraya op die tiende voer. Ek gaan kry ‘n stapeltjie toeriste-inligting by die toerismeburo in Dongdaemun.

Ek het al lankal lus om Koreaanse tradisionele teater te ondersoek. By een van die teaters kan jy na tradisionele sang- en instrumentale musiek gaan lusiter, asook tradisionele teater bywoon. Na die tyd kan jy die spelers ontmoet en saam met hulle in jou eie tradisionele kostuum foto’s laat neem. Ek wik en weeg of ek wil gaan.

Na die film is ek rustig en ontspanne en nie seker of ek my lyf van pers subway tot ligblou subway tot perskekleurige subway wil versteur nie. Die behoefte om die ultra-moderne neem vandag die oorhand en ek ry terug Cheonho toe – huis toe.

By Cheonho aangekom, doen ek by E-mart aan en koop ‘n reuseblik sampioene, aksjoeneute en perskegegeurde mineraalwater. By die huis gaan maak ek ‘n konkoksie van groenteryspap (jy gooi ‘n gedroogde pakkie rys-en-groente-mengsel in ‘n pan en laat dit tot ‘n pap prut terwyl jy aanhoudend roer). Daarmee saam braai ek uie en kasjoeneute en eet mondevol uit die pan met seegras terwyl ek vanuit my vloerbed lê en tv kyk.

Later die aand bel Sok Jin en vra of ek planne vir môre het. Hoewel ek van plan was om die hawestad, Incheon, per subway te gaan besoek, sê ek nee, wat doen ons? Sok Jin nooi my uit om saam met hom en sy ouers Koreaanse danksegging te kom vier.

Ek sê dankie en waar en hoe laat? Môre ontmoet ek Sok Jin by subwaylyn nommer sus en so, uitgang die en daai, van watter spoor ookal.

Ek loop na die PCroom om die hoek van ons huis om my Koreaanse stories te kom tik. Die hondjie by die internetkafee ken my reuk en vibrasie en aangesig nou al deur en deur, en gee my ‘n geskenk van stertswaai en blye verwelkoming en spring op en af en kom ruik aan my sak. Die man by die internetplek gee vir my ‘n soetkoekie present en ek voer dit vir die stertswaaiende hondjie onder die tafel.

Soms verg dit min vir lekker om eenvoudig net lekker te wees.

Ek sluk die laaste sluk uit die twee liter bottel mineraalwater langs my. Dis presies middernag.

Ek sien uit na nog en meer spontane geskenke van Chu-Seok se Maandag en Dinsdag en Woensdag.

Goeienag.

by elizac

BRIEF SES-EN-TWINTIG: DANKSEGGING: DAG 1 – van vlieg en fliek (deel 2)

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

En my kop begin in die oortreffende trap te dink: ek is ‘n paar meter hoog in die lug en al wat my van spring weerhou is ‘n metaalpyp waarop my arms rus en wat ek self kan oplig en hier sit ek stoksielalleen en skud en skommel teen min of meer ‘n meter per uur oor ‘n meer vol verskriklik baie water en ek is dieselfde persoon wat ‘n kwart teen Tafelberg op af moes kruip omdat ek nie die behoefte om te spring, kon weerhou nie. Toe maak ek maar my oë toe en sê oor en oor: ek is in beheer. Ek is in beheer. Ek is in beheer.

Ek onthou hoe ek eenkeer saam met die skoukoningin van Vredendal by die skou op Vredendal in die verspotte feesvierende impuls van die oomblik op ‘n besonder mankolieklykende groot wiel geklim het. Elke keer as nog ‘n paar op die wiel gelaai word, hang en swaai die reeds gelaaide banke van die mankolieke wiel hoër op in die lug.

Dis toe ek en die skoukoningin reg bo in die middel van die wiel begin skommel en swaai dat ek na haar toe oorleun en sê: ek moes jou seker vroeër gewaarsku het, maar ek ly aan erge vrees vir hoogtes. Soos ons nou hier sit, neem die lus vir spring meer en meer van my beheer.

Sy trek toe haar skoonheidskoningin-oranjeblinkrooi aandrokkie wat sy besluit het om helder oordag te dra, fraaitjies en allerfyntjies, dog ferm, reg, herskuif haar skoonheidskoningkroontjie op haar kop en sê: jy daag ons altyd uit om al ons inperkinge met behulp van dramaterapie te bevry. Hier is nou jou uitdaging. Jy is in beheer. Kyk my net stip in die oë en onthou: jy is in beheer.

Hierdie keer is daar nie ‘n wyse skoonheidskoningin met grasgroen gemaskarade oë na wie ek stip kan kyk om my aandag van die oorhoofse, kleinerwordende grondtoneel af te lei nie, en ek begin soos iemand wat ‘n paniekaanval moet oorkom aan lysies van ander dinge behalwe die huidige ding dink. As ek by die subway uitkom, wil ek vir my ‘n rubber kobraslang by een van die speelgoedstalletjies vir my klaskamer se diereversameling koop. As ek by die subway uitkom, wil ek vir my ‘n rubberslang by een van die stalletjies vir my diereversameling se klaskamer koop. As ek by die rubberslang uitkom, wil ek vir my ‘n subway by een van die klaskamer vir my subway se diereversameling koop.

Ek hoor mense praat en kindertjies lag. Ek maak my oë oop – hopende dat die einde in sig is.

O, my genade.

Ek is in die middel van die meer besig om pynlik stadig oor ‘n hoë hobbel teen een meter per uur op my vlerklose bank voort te vlieg. Aan die anderkant van die sirkelgang kwetter en praat ‘n familie van ‘n ma en ‘n pa en ‘n klein seuntjie met hul voete wat van die ystervoetbankie af swaai. Ek wonder of hulle kan sien hoe bleek my knobbels aan die ysterraamwerk vasklou. Ek is seker hulle fluister soos hulle verbyry: dis die een wat gaan spring.

Ek maak weer my oë toe.

Skielik voel ek in beheer.

Ek maak my oë oop en waag die kans om selfs agtertoe te kyk. Ek roer my bene effens. Voor in die wapad sien ek die stoplose lig.

Twee mans beduie vir my om die ysterraamwerk oor my kop te lig en gereed te maak vir landing. In ‘n splittende sekonde van ‘n lompe oomblik van my angstige kop kry ek die raamwerk na g’n kant toe gelig nie. Gekonfronteer met die idee dat ek dalk weer in die sirkelgang opgeslurp gaan word en dié keer tot diep in die woud teen ‘n meter per uur oor die meer vol water en die ope lug sonder skanse vlerkloos, eindeloos gaan bly voortvlieg, laat my sekuur, presies en doeltreffend, reageer. Ek lig die raamwerk met een suksesvolle daadwerklike beweging oor my kop.

Soos ‘n adellike wat pas die wêreld in die eerste vliegkontrepsie oorkruis het, steek ek my hand na een van die assistente by die grondbasis toe uit. Elegant help hy my tot op my voete tot op die bekende bodem van die grond en die leë bank vlieg voort.

Ek koop twee plastiek kobraslange vir my klaskamer.

Later terug op die subway voel ek half eufories tranerig. Deels omdat ek wel in beheer was en deels weens die pompende adenalien in my are. Nou ja wel, dis seker so na as wat ek ooit aan die Mount Everest ervaring sal kom.

Ter afsluiting van my eerste dankbaarheidsdag gaan koop ek my gunsteling aandete in Dongdaemun: keem bap (seegras gerol om rys) en ‘n stukkie spanspek op ‘n stokkie. Dan bestyg ek die Fraya modekompleks met ‘n reeks roltrappe tot op die negende vloer. Ek klim met gewone trappe verder tot op die tiende vloer – met slegs ‘n hysbak as alternatiewe keuse om by my eindbestemming uit te kom. Ek gaan fliek.

‘n Paar honderd mense staan in rye voor die kaartjieskantoor en maak ‘n poging tot die laaste kaartjie. Dit lyk soos Wall Street voor ‘n stygende aandeel. Ek kry letterlik die tweedelaaste kaartjie vir The Princess Diaries, met Julie Andrews as ‘n koniningouma – ‘n Walt Disney produksie vervaardig deur Whitney Housten. Die fliek is hier en daar snaaks, maar grotendeels voorspelbare, oppervlakkige, Amerikaanse gesinsvermaak.

Wat my meer interesseer, is die uitleg van die teater. Elke ry stoele bestaan uit ag sitplekke. Elke twee-twee sitplekke bestaan uit tweelingbankies. Ek deel my bankie met ‘n Koreaanse vader wat sy gesin se reaksie in toom probeer hou en inmiddels ook duidelik wil laat verstaan dat hy die Engels wel goed begryp.

Hoewel ek in retrospek die avontuur van die vliegende bankie geniet het, vind ek dat ek meer van die stagnante tweelingmoment in die fliekhuis hou.

Liefde:

Johannes