Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

by elizac

BRIEF SES-EN-TWINTIG: DANKSEGGING: DAG 1 – van vlieg en fliek

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Subject:           Danksegging: Dag 1 – van vlieg en fliek

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:26:18

Seoul Grand Park: ter viering van die Koreaanse dankseggingslangnawek werk ek vir my ‘n program van vyf dae se pret en al-lanklal-lus-vir-plesier uit.

Nadat ek Saterdagoggend met ‘n mielietoebroodjie en oorryp piesangvulsel met grondboontjies bestrooi ingelyf het, neem ek die pers lyn tot by Dongdaemun. Vandaar klim ek oor tot op die ligblou lyn al die pad tot by Seoul Grand Park. Dis omtrent ‘n uurlange rit met die subway. Oral in die kompartemente sit mense met kospakkies toegedraai in ligpienk kaasdoeke op pad om danksegging saam met hul families te gaan vier. Die kompartemente is neus-teen-nek vol en ruik na mielie-asem.

Seoul Grand Park bestaan uit ‘n botaniese tuin, ‘n kinderdieretuin, ‘n groter dieretuin, ‘n opelug kunsgallery en ‘n kunsmuseum.

Hoewel die hele Korea die grootte van die Kaapprovinsie beslaan en Kaapstad en Seoul min of meer geografies in grootte vergelykbaar is, bestaan Seoul uit plus minus 12 miljoen mense, teenoor Kaapstad se twee miljoen. Tog is die Koreane baie slim met die aanwending van ruimte op die mees ekonomiese en esteties plesierbare maniere moontlik.

Seoul Grand Park is dan weliswaar nog ‘n voorbeeld van die suksesvolle aanwending van ruimte tot ‘n innerstedelike, maklik bekombare, landelike wegbreek van die stadsgewoel. Dit gaan alles oor organisasie en die strukturering van dit wat tot jou beskikking is. Jy kan óf te voet al die besienswaardighede in Seoul Grand Park besigtig, óf jy kan van ‘n oorhoofse sirkelsisteem gebruik maak van banke wat soos by skivakansie-oorde ‘n tiental meter hoog in die lug oor die botaniese tuin, oor ‘n meer en oor die dieretuine tot binne-in die omliggende woude sirkel en draai: reuseskoenlappers, reuseryers, al om, al om.

Voor die dieretuine is verskeie stalletjies met speelgoed en spookasem en braaiende inkvis en mense wat koop en eet en lag en spelende kindertjies en die lewe geleef van sy kop se kroontjie tot sy voet se toontjie. Soms weet ek nie watter tentoonstelling om te kyk nie: die dieretuin of die stalletjies van joegelende, oosterse mensemassa?

Eers gaan loop ek in die kinderdieretuin rond. Ek ontdek ‘n kolonie wilde, Koreaanse honde. Hierdie keer neem ek duidelik foto’s ter bewys van hul onaansienlike, biologiese uitleg. By die flits van die kamera wys hulle tande en gaan hou skuiling in hulle sementhokke. Angstig oor die kamerageflits, weier hulle vir ‘n wyle om uit hul hokke te kom en ek verloor belangstelling en gaan neem foto’s van die agterente van donkies.

Die res van die kinderpark bestaan uit hasies en kindertjies en eende op ‘n kalendermooi meer. Ek neem verskeie foto’s van die meer om my later meer konkreet daaraan te herinner dat ek dit wel so ervaar het. Grasgroen bonsailykende bome groei voor ‘n glimmende meet met ‘n woudbedekte bergagterdoek en wilde, wit reiers en wit eende swem en vlieg. Van tyd tot tyd vlieg daar ook ‘n vliegtuig of twee oor die park.

‘n Groepie midde-oosterse vroue, van kop tot tone in linnedoek geklee, word deur hul ans by die Afrika-seksie van die dieretuin afgeneem. Die mans dra elk ‘n groot houer met Rothmanssigarette.

Die Afrika-seksie word goed in die Seoulse Grend Park verteenwoordig: kameelperde kyk vir die mense wat weer vir hulle kyk en wie weet wie vermaak vir wie. ‘n Afrika-olifant skuur sy boude teen ‘n muur. Gemsbokke wei in die verte. Dit voel vir my asof ek na alles deur ‘n televisieskerm kyk.

Die behoefte om nader te wil ruik en te vat en te ervaar kom karring aan my agterkop.

Soos by dieretuine die wêreld oor, open flaminke die tuine se poorte. Die flaminke hier het die briljantste neon-oranje pienk kleur. Ek tel vere op vir my plakboek later.

Die flaminke se kom en gaan word van opelug klassieke musiek begelei. Dit voel vir my so effe kommunisities – die oorhoofse luidsprekers buite in die natuur met welluidende Tsjaikovsky musiek en die dans van die flaminke.

Maar mooi en kalmerend-opruiend is dit wel.

Ek stap oor die volle lengte en breedte van die Seoulse Grand Park. Kort-kort kyk ek vir een van daardie skistoelskoenlappers wat soos ‘n valk oor ‘n kuiken bo my kop sy draai kom maak. ‘n Lus begin in my groei om, teen my hoogtevreesbeterwete in, op een van die vliegende banke my tog terug tot by die subway aan te pak.

Ek gaan loop in die opelug kunsgallery rond. ‘n Reusegrootte naakte ma-en-pa-en-seun standbeeld loop onder die bome. Die titel sê: family picnic. Ek wonder hoekom daar ‘n dogter makeer. Su dit ‘n indirekte aanmoediging wees om meer seuns te hê, of het die befondsing en die sement vir die projek bloot opgeraak?

Ek probeer die struktuur en sin van die res van die buitelugkunswerke uitwerk en sien dat ek in goeie geselskap is: die kunstenaar het die meeste van sy reusegroot sementkonstrukies “ongetiteld” getitel.

Skielik herinner ‘n oorhoofsvliegende bank my weer aan my lus om my vrees vir hoogtes aan die strot te gryp. Kort voor sonsondergang loop ek doelbewus denkloos die put van die draaikolk van die vliegende sitplekke binne. Die sisteem is van so ‘n aard dat jy in die draaiende beweegproses op ‘n merk op die voer moet staan en dan word jy letterlik deur die bank opgetel, terwyl twee assistente ‘n metaalraamwerk oor jou lig waarop jou voete rus.

En daar vlieg ek.

by elizac

BRIEF VYF-EN-TWINTIG: Chu-Seok

Januarie 24, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Subject:           Chu-Seok

Date sent:        29 October 2001

 

Maandag, Dinsdag en Woensdag, die eerste tot die derde Oktober is Chu-Seok: Koreaanse danksegging hier in Suid-Korea. Van heinde en verre ry families om die drie publieke vakansiedae bymekaar deur te bring.

Oral in die winkel verskyn geskenkpakkies op die rakke. Jy arriveer by jou familie se huis met ‘n professioneelverpakte boks olyfolie of ‘n boks van verskillende rooiwyne. In die stad loop mense rond met rooi pepersmeer verpak in ‘n bloedrooi doos met ‘n pienk doek daarom gedraai.

Die kommersiële kospakkies het hul oorsprong in die tradisionele gebruik om tydens Koreaanse danksegging verskeie tuisgemaakte disse en soetgoed en bygeregte van chilies en rys en mielies aantreklik te verpak en dit dan in ‘n helderkleurige doek toe te draai as geskenk aan jou familie.

(Mag ek byvoeg dat ‘n dosie van vyftien verfraaidde rooiwangappels in selofaan toegedraai op die oomblik vir R250 per houer verkoop. Dit werk min of meer op R16 of R17 per appel uit!)

In die gees van die danksegging bring een moeder vir my ‘n pakkie met ‘n glimlag en drie verskillende soorte brode en die boodskap dat haar kind my liefhet. So spreek die gees van Chu-Seok helder en duidelik en direk in my hart.

Die instituut gee weer vir elkeen van ons ‘n reuseboks met dertig houertjies seegras binne-in. Ek is verheug, siende dat ek gedroogde seegras soos Simba tjips verorber.

Een van my studente bring vir my song-peon: tradisionele Koreaanse lekkergoed gemaak uit rysmeel. ‘n Taai, dikkerige rysdeeg word geknie en tot ‘n halwe handpalmgrootte platgedruk. Die leë doppie deeg word dan met ‘n soet plakseltjie sesamiesade gevul. Dan druk jy dit tot ‘n skulpvorm toe en verwerk die hele dik, taai, degerige konkoksie tot ‘n kougompie in die mond. Lekker.

My een kollega, Pieter die jongere, gee vir my ‘n houer met twaalf blikkies perskesap as Chu-Seok geskenk.

Die vooraand tot die langnaweek van Chu-Seok gaan ek dankbaar met die plat-op-die-aarde geskenke van brood en sap en seegras en soet proeseltjies rysdeeg en versekerings van liefde huis toe: dankbaar dat ek hier is, dankbaar dat ek hierdie oop, eerlike, eenvoudige, onopgesmukte, sielvolle ervarings in Korea kan meemaak, dankbaar vir elke enkele oomblik van my lewe.

Johannes

Oktober 2001

by elizac

BRIEF VIER-EN-TWINTIG: Lig en alleen (2)

Januarie 23, 2010 in Sonder kategorie

Een middag bel Sok Jin om te sê hy is op pad terug huis toe. Ek kan hom teen Maandagmiddag by die huis verwag.

Ek tel kasette en boeke van die vloer af op.

Ek hang klere oor hangers.

Ek was al die skottelgoed.

Ek vee en vee die vloer.

Ek skrop die hele badkamerkas in sy algehele badkamerkasgrootte.

Ek skuif my bed terug in sy klein hoekie en ek pak alles om my in geordende hopies en stapeltjies op die vloer.

Die Maandagaand vind ek ‘n verbrande, bruin visserman met growwe, raafswart hare wat van statiese elektrisiteit in al vier windrigtings staan, op Sok Jin se vloerbed in Sok Jin se deel van ons woon- en slaapruimte.

By nadere ondersoek vind ek uit dat dit dan inderdaad ‘n variasie van die ooster-lig-van-vel en klassiek en elegant van voorkoms Sok Jin is, ná drie weke van onophoudelik op die strand rondlê.

Dit neem my ‘n wyle om aan die vreemde, bekende voorkoms van Sok Jin, die visserman, gewoond teraak. Hy is egter nog steeds net so sag en hoflik soos voor sy vertrek en kort voor lank is die enigste herinnering dat hy ooit weg was, sy ligterwordende donkerbruin gelaat.

Die drie weke alleen het my laat besef dat ek volrond geword het. Ek voel binne-in myself geanker.

En as dit lekker is om saam met iemand edel en hoflik van inbors die privaatheid van my binnekamer respekvol te deel, is dit net so lekker om alleen in my eie, goeie geselskap te verkeer.

Waar ek ook al is, voel ek lig, maar nooit alleen nie – want ek is dig en digter in en om en aan die essensie van my self in balnas met my self geanker aan die hoogste vibrasie van onvoorwaardelike liefde met behulp waarvan ek alles kan omvorm tot manifestases van selfvervulling, lig en nog meer liefde in die veilige binnekamers van my hart.

by elizac

BRIEF VIER-EN-TWINTIG: Lig en alleen (1)

Januarie 22, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Subject:  lig en alleen

Date sent:       Mon, 29 Oct 2001 08:01:49

Te midde van die ergste monsoenreëns begin die dak bo my kookwatervloerbed te lek. Pas lees ek in die Korean Herald van huise wat ineenstort en lewensverlies weens oorstromings en nat oopdraadkabel kortstluitings.

Ek hou die grotergroeidende nat kol bo my kop met ‘n arendsoog dop tot Sok Jin later die aand huis toe kom. Sok Jin kondig aan dat hy vir drie weke langs die weskus gaan duik.

“En wat van die dak?” vra ek. Sok Jin kyk my aan asof hy pas ontdek het dat ek van lotjie getik blyk te wees.

Ek druk hom daar op die plek rus in ‘n spreekwoordelike hoek en eis dat hy die huisbaas bel om die lekkende dak te kom inspekteer. Die huisbaas sê hy sal later die aand ‘n draai kom maak en Sok Jin belowe om my van die weskus af te bel ten einde uit te vind of die huis nog in al sy fondamente staan en of ek van aand tot aand droog en veilig die nat kol van die lekkende plafon dophou.

Dis die eerste keer in sewentien jaar dat ek vir meer as twee weke agtereenvolgende alleen sal bly. Ek laat vir Sok Jin die huisbaas se telefoonnommer neerskryf. Ek laat vir Sok Jin sy vriend om die hoek se huis- en telefoonnommer neerskryf.

Vir ‘n kortstondige wyle wonder ek hoe afhanklik ek myself ervaar van Sok Jin as lewensaar, vertaler, plekaanwyser en warm, medemenselike asem aan sy kant van ons slaap- en leefkamer se kookwaterbedvloer.

Die eerste paar aande kriewel en rol ek rond. Die enigste nadeel van alleen bly, is dat my dubbele gemini-energie sonder die grense van ‘n ander lyf in die huis se kom en slaap en gaan, skielik eindeloos die kers aan albei kante kan brand.

Ek ontdek deurnag Amerikaanse flieks op tv.

Ek lees tot my oë brand voor hanekraai.

Oral lê skribbeltjies papiere rond met dit-en-dat wat ek nog wil skryf, stapeltjies boeke en musiek maak monumente oral oor die vloer van laatnag tot vroegoggend sessies van lees en lê en luister.

Teen die derde dag vermoed ek ‘n besliste inkeer tot selfdissipline van geordende tyd, ten einde vroegoggend disfunksionaliteit en laatmiddag humeurigheid ‘n nekslag toe te dien.

Teen die einde van die eerste week het ek nóg voor-, nóg sy-aansig van die huisbaas gesien. Die nat kol teen die plafon herinner nou erg aan die bom op Hirosjima. Ek het intussen my kookwaterbed na Sok Jin se deel van die kamer verskuif. Nie alleen voel ek die voordeel dat ek die moontlikheid van ‘n gedrup op my kop in die middel van die nag gevrywaar is nie, maar dit gee my ook ‘n beter hoek vanwaar ek die grotergroeiende sampioensambreel van ‘n nat kol kan dophou.

By die aanbreek van die eerste naweek op my eie, begin ek ‘n blymoedigheid ervaar wat vergelyk kan word met dieselfde euforia na die oorlewing van die eerste week van vas. My liggaam is nou gesuiwer en voel meer besliste fokuspunte en skanse en grense van alleen wees.

Ek word, om die waarheid te sê, al hoe ligter van gees. Ek begin die aand se stiltes, na ‘n dag van deur ‘n honderd jong siele by die instituut omring wees, in te drink. Ek begin in stilte te baai.

Ek eis stilte.

Vir ure kan ek net sit en tuur in die niet en lig van lyf en ligter van siel op ‘n trip van stilte gaan. Na ‘n leeftyd van amper veertig woonplekke later, sowel as hotelkamers en losieshuise, rondawels en vakansie-oorde, slaapsale en tente en ‘n paar honder huis- en kamer- en trekmaats, geniet ek my eie geselskap terdeë.  Ek kan nie wag om saans by die huis te kom en my eie ritme en voorkeure, liggaamsritme en private doen en late ten volle uit te druk nie.

Die huisbaas kom klop een aand onverwags aan die deur, wat ek gesteurd op ‘n skrefie oopmaak.

Ek is nou al gewoond aan die nat kol as my enigste organiesveranderende geselskap (dis nou buiten vir die skoonmoeder-se-tong in die hoek by die voordeur) en het intussen berus dat die huis in sy fondamente staan-staan van krag tot krag regdeur die monsoen sal gaan.

Die huisbaas kyk hier aan die plafon en voel daar aan die muur en ek is totaal in die duister of die Koreaanse gemompel enige beloftes inhou van die dak later laat regmaak.

Die aand ná die inspeksie stort die ergste reënbui tot op hede oor die skiereiland uit. In die middel van die nag word ek wakker met ligte wat buite om die huis flits. Ek voel asof ek op ‘n vistreiler in die middel van ‘n stormagtige oseaan is. Die huisbaas loop al om die huis en slaan op die dak en probeer die oorsprong van die skade bepaal.

Dis vyfuur die oggend. Johannes en sy avonture in Pung Nap Dong.

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (8) – RUS

Januarie 20, 2010 in Sonder kategorie

(Toe Sok Jin ‘n paar weke later van sy weskus duikvakansie af terugkom, ontdek ons dat hy my Daecheon rigting en afstand uitvraery met Daejon verwar het – die sesde grootste stad in Korea wat wel twee ure van Seoul af beoftes inhou van stomende warmwaterbronne, mere en mentgroen woude, met ‘n expo-park in die middel van die stad met allerhande wetenskaplike besienswaardighede om op ‘n volgende vakansie se lys te plaas).

Veels te skielik nader ek die voorlaaste dag van my vakansie. Ek maak ‘n lys van los drade van dinge wat ek voor Maandag se tweede siklus van Koreaanse kindertjies en jongelinge se gepuur deur Ingils en nog wat wil ervaar.

Ek gaan besoek Lotte World se museum van Koreaanse volkservarings.

Ek loop verby rye en rye van miniatuur vallei van ‘n toentertydse Korea.

Ek besigtig lewensgrootte gipsmodelle van die ontwikkeling van die oosterse mense van ‘n primitiewe tyd tot nou. Dis vir my fassinerend om te sien dat ‘n sekere groep primitiewe oosterlinge van Siberië af tot by Korea getrek het en dat hul oë wel oosters voorkom. Die genetika van die hele proses van Rusland tot Korea met ‘n Russiese-grootte oosterse oog primitiewe mens is vir my heel interessant.

Skielik is my gô uitgefikansie – soos my pa-goed altyd gesê het.

Ek beplan ‘n Sondag van stilte en modder en rus en lê en verteer.

Sondag slaap ek en slaap en slaap en slaap. Ek skrop my vel met nuutontdekte Body Shop-produkte van Engeland. Ek smeer my vol Daecheon modder van kop tot tone. Ek lees. Ek lê. Ek luister musiek. Ek kook. Ek skryf. Ek drink die stilte om my in. Ek baai in die binnepret van my menswees. Ek voel volwaardig, volkome na liggaam, hart en gees.

Die vyf dae ervaring bewys aan my dat alles, tyd ingeslote, relatief is. Die vyf dae vakansie was soos ‘n sny brood met botter met sout oorgestrooi. Heerliker as die luukste vyfgangmaal as jy honger het na liggaam en gees en die sny brood is al wat jy het om te eet.

En ook is daar niks lekkerder as ‘n liggaam en gees se rus na die seën van arbeid adel nie.

Ek hou van werk. Lank en innig en lekker en hard werk.

En ek hou van kuier.

En as mens is ek volrond en volwaardig gelukkig as ek albei in die oortreffende trap kan doen. As ek voluit en nog en meer en meer nog kan leef en die lewe kan vier: ‘n jaar in ‘n dag.

En ek is dankbaar vir my vyf dae/ses weke vakansie van heerlike, wonderbaarlike, loflike, liplekkendlekkere lyflike, sielsverrykende, aktiewe, energiegewende rus en vrede tot my tweede siklus as John Teacher in Pung Nap Dong, Seoul, Suid-Korea.

Julie 2001

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (7) – swart modder

Januarie 18, 2010 in Sonder kategorie

Onmiddellik gryp ‘n glibberige jafel my voor die bors en wil hê ek moet teen 300 en iets rand die aand by sy huis oornag. Ek sê, nee dankie, ek kuier net vir die dag en dan ry ek weer vier ure terug huis toe. Hy hou net lank genoeg aan om my een van daardie Oprah-liggaamstegnieke te laat toepas wat ‘n besliste “nee!” beteken.

Die strand is omring deur rye en rye strandkafees en speelgoedwinkels en stalletjies met kos en klere. Plaksel op plaksel Koreane sit halfgeklee onder sonsambrele en kuier en eet en praat en lag.

Daar is egter geen modder in sig nie. Die strand is wit en skulploos.

Ek vind later deur een of ander oorhulpvaardige gids uit, wat wil hê dat ek by sy huis teen R250 per aand kom bly, dat die modderseisoen verby is, maar, sê hy, ek kan pakkies modder teen ‘n prys by die stalletjie daar naby die promenade gaan koop.

Met my vier ure se reis in gedagte en nog duidelik gevoel aan my been en met ‘n onwilligheid om my veeleisende vel teleur te stel, loop ondersoek ek die modder-in-‘n-pakkie stalletjie.

Ek ontdek die varsste, geurigste swart modder seep en pakkies swart modder en modderpoeier net soos die produkte van die dooie see. Ek koop ‘n handvol pakkies en een koekie seep om in die privaatheid van my badkamerkas op die proef te gaan stel.

Op en af loop ek langs die strand.

Verby rye en rye helderkleurige plakkies en bos na bos van goudgeel stink Afrikaners. (Ek is seker niemand noem dit hier stink Afrikaners nie).

Ek vra selfs dat iemand van my ‘n foto langs die blomme neem om bietjie die ironie van stink Afrikaners in die ooste met my mede-Afrikanergenote te deel.

Ek loop verby strandplakkies en balle en sonbrille en kos.

Ek loop verby Koreaanse jongelinge op strandbromponies in swembroeke en plakkies.

Ek loop en loop en loop my energie tot kalmte.

Teen laatnamiddag kriewel ek huis toe. Na drie ure op die modderlose strand van Daecheon Beach, Gonju City, klim ek op die bus op pad terug huis toe. Op die bus slaap ek die en innig – geborg deur hope vars lug en ver ente se stap.