by

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (5) – kinderlike dankiedag

November 13, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van 4, hoe dan nou anders?)

Op my tweede oggend se vakansielysie beplan ek ‘n trippie na die vars lug en oop ruimtes van Seoul se kinderpark. Drie stoppe verder vanwaar ek bly, op die pers lyn, is die Seoul Children’s Park subwaystop. Ek trek vir my koel somerkleertjies aan en voor ek nog die subway bereik, sweet ek myself ‘n kilogram ligter.

Ongeag die hitte is daar vandag ‘n huppel in my stap en voel ek lig en laf. Die eerste dag se vakansie begin al klaar soete vrugte pluk. Voor die ingang van die kinderpark is stalletjies met velerlei spoeelgoed en opgeblaasde ballonne. ‘n Reuse Koreaanse seun kom skud my hand en vra of ek van Amerika af kom. Die vertroude aanname: as jy blond is, moet jy Amerikaans wees.

Op my nee, is sy tweede keuse Kanada.

Op die ou-end besluit hy ek lyk soos Jean-Claude van Damme en moet dus Russies wees. Ek voel gevlei dat dat so ‘n groot lummel vaan ‘n Koreaanse seun dink ek lyk soos ‘n blonde rolprentvegter ster, maar die Russiese oor by die Van Damme-kloutjie bring, amuseer en ontgaan my wel.

Iets wat my altyd be?ndruk wanneer ek in Seoul rondkuier, is die aanwending van ruimte tot die allerlaaste korreltjie sand. Hoewel Seoul kleiner as Kaapstad is, met oor die tien miljoen meer mense, ervaar ek dit geografies glad nie. Die aarde word ekonomies uitgewerk en ontvlugtingsoorde is volop en ryklik geseën met die mooi en kalmte van die natuur. Die kinderpark bestaan uit bloeiselbome, spuitende fonteine, omringende berge, ‘n miniatuur dierepark en velerlei sitplekke om die natuur in te drink. Reg aan die eindpunt van die park is ‘n swembad ter lafenis van die swetende somer.

Ek loop en loop en loop.

My lyf voel laf en lig.

Met my kamera in die hand, word ek heeltemal snaphappy. Soos toe die sirkus Vredendal toe gekom het, hol ek kinderlik uitgelate van dier tot dier.

Hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n tier.

En ek snap en snap en snap.

Oosterse ooievare wei in ‘n koel, groen veld. ‘n Geel-oog kraai luister met lewendige, intense oë na die lied in my hart. ‘n Jong, Koreaanse dierebewaarder bid vir my ‘n leeuwelpie aan om vas te hou.

Vandat ek die proses na Korea uit Suid-Afrika begin het, ontspan my liggaam en gees bewustelik.

‘n Groot dankbaarheid kom oor my. Ek sing: dankie, dankie, dankie, terwyl ek bome en wolkkolomme van onweerswolke afneem.

Ek sing dankie, dankie, dankie, terwyl ek Indiese olifante van Afrika olifante probeer onderskei.

Ek sing: dankie, dankie, dankie, en dink aan almal wat lief en dierbaar in my lewe is.

By die speelgoedstalletjie op pad uit terug subway toe, koop ek ‘n pakkie plastiekplaasdiere vir my oggendklassies – nes my moeder vir my eenkeer vir my verjaardag Johannesburg te gestuur het.

(word vervolg)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.