by

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (4) – van nonne tot oprah

November 10, 2009 in Sonder kategorie

vervolg van drie

 

Ek gooi sommer ‘n ekstra mondvol gedroogde mielies in my linkerkies en met die wat die stywelip Koreaanse juffrou my groentee kom bedien, val ‘n vyftal mielies klaterend op die spiëelgladde vloer.

Vandag sal ek my nie bekommer oor verdwaal nie, dink ek. Soos Hansie van ouds laat ek ‘n hele mieliespoor agter.

Hoewel dit Woensdagnamiddag is, sit ‘n hele koor van Koreaanse tannies en jongmense in die foyer van die teater voor die ingaan van Nunsense. Dit verbly my hart om deel te wees van ‘n gemeenskap wat teater geniet en ondersteun.

Ek sit reg bo in die hoek in die voorste ry van die balkon. Die eerste non maak haar verskyning en kom praat nonsens in die middel van die onderste vloer se gehoor in Koreaans. Dit is toe wel ‘n oreaanse weergawe van die Amerikaanse musiekblyspel. Gelukkig dat ek die Pieter Toerien-weergawe gesien het. Die storielyn is nog duidelik in my onderbewussyn.

Die troepie Koreaanse nonne is almal bekende sterre in Korea. Die mense klap en lag en speel saam. Vir een toneeltjie doen die een non ‘n guitige nommertjie van ‘n Koreaanse tannie wat deur die ryslande waad en klaagliedere sing en die gehoor skater. Ek is bly om te sien dat die gemeenskap wel vir hulself kan lag, ongeag hul verlede van oorlog en armoede.

***

Die ander lekkerte van later-lê-ende oggende is Oprah-om-elf. Noudat ek nie meer deur Westerse kommunikase en maniere van dink en doen en interakteer omring is nie, voel Westerse manipulering vir my duideliker en meer helder aan my hart en kop. ‘n Deel van my is dus opgewonde om ‘n stukkie Westerse ervaring van Oprah-terapie terug te kry. ‘n Ander deel kyk effe skepties na die hele gedoente van jou oë so knip en jou mond sus trek. Alles vir effek.

Natuurlik het Koreane ook hulle manier van indirekte kommunikasie met lyftaal en oogstaar en oogknip onderstreep. Ek hou my net die meeste van die tyd dom met die voordeel dat ek kan skuil agter die onvermoeë om die taal te begryp as die situasie my nie aanstaan nie.

Die tweede oggend bekyk ek dus Oprah-om-elf met ‘n nuwe oog en wonder of ek nog daarvan hou. Woorde het intussen vir my suiwerder geword omdat ek aangewes is op die essensie van begrippe en gedagtes by die gebrek aan taligheid.

Die sensasionaliteit en ooranalise van die Amerikaanse gespreksprogramme begin steek my effe dwars in die krop. Tog is Oprah soos ‘n vertroude glanstydskrif voor slapenstyd en ek is bly sy maak deel uit van my vakansie – al is dit dan net om te weet wat ek nie meer wil hê nie.

(word vervolg)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.