Jy blaai in die argief vir 2009 November.

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (6) – op soek na modder

November 15, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van 5)

Die volgende oggend staan ek met toebroodjies in tinfoelie en ‘n sak gepak met ekstra kleertjies op. Vandag gaan ek Daecheon Strand in die Gongju provinsie besoek. ‘n Regte somervakansiemoment.

By die kaartjieskantoor aangekom  om die buskaartjie te koop, dui die nie-Engelssprekende kaartjieskantoordame vir my aan dat die rit vier ure sal neem. In my kop stry ek met haar dat Sok Jin gesê het dis ‘n twee uur trippie.  Ek is egter vas van plan om die Daecheon ding te doen en redeeer nie verder met haar nie – vier ure al dan nie.

Die busbestuurderomie kam sy hare elke halfuur en laat dink my aan my eie pappie.

Ek hou die padtekens met arendsoë dop – vresende vir ‘n Icheon/Incheon herhaling.

Elke dan en wan verander die spelling van Daecheon Strand op die naamborde. So ry ons van Dae Chuon tot Dacheon tot Taechon, wat alles op dieselfde naderende plek dui. Op ‘n stadium sien ek geeneen van bogenoemde padtekens nie en die bord sê: Socheon.

Ek kry Icheon/Incheon-ritteltit en is seker dat ek vir vier ure in die verkeerde rigting ry.

Die aanvanklike aantrekkingskrag van die Dacheon Strand is dat dit Suid-Korea se eie dooie see is. Swart modder word uit die see en omliggende standgebied gegrawe en beloof om helende inhoude en genesende krag. Ek sien my vel nog gladder gloei na die Daecheon-trippie van ag ure soontoe en terug later.

Uiteindelik, na die busbestuurderomie sy hare vir die dosynste keer gekam het, trek ons by ‘n landelike busstop in.

(word vervolg)

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (5) – kinderlike dankiedag

November 13, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van 4, hoe dan nou anders?)

Op my tweede oggend se vakansielysie beplan ek ‘n trippie na die vars lug en oop ruimtes van Seoul se kinderpark. Drie stoppe verder vanwaar ek bly, op die pers lyn, is die Seoul Children’s Park subwaystop. Ek trek vir my koel somerkleertjies aan en voor ek nog die subway bereik, sweet ek myself ‘n kilogram ligter.

Ongeag die hitte is daar vandag ‘n huppel in my stap en voel ek lig en laf. Die eerste dag se vakansie begin al klaar soete vrugte pluk. Voor die ingang van die kinderpark is stalletjies met velerlei spoeelgoed en opgeblaasde ballonne. ‘n Reuse Koreaanse seun kom skud my hand en vra of ek van Amerika af kom. Die vertroude aanname: as jy blond is, moet jy Amerikaans wees.

Op my nee, is sy tweede keuse Kanada.

Op die ou-end besluit hy ek lyk soos Jean-Claude van Damme en moet dus Russies wees. Ek voel gevlei dat dat so ‘n groot lummel vaan ‘n Koreaanse seun dink ek lyk soos ‘n blonde rolprentvegter ster, maar die Russiese oor by die Van Damme-kloutjie bring, amuseer en ontgaan my wel.

Iets wat my altyd be?ndruk wanneer ek in Seoul rondkuier, is die aanwending van ruimte tot die allerlaaste korreltjie sand. Hoewel Seoul kleiner as Kaapstad is, met oor die tien miljoen meer mense, ervaar ek dit geografies glad nie. Die aarde word ekonomies uitgewerk en ontvlugtingsoorde is volop en ryklik geseën met die mooi en kalmte van die natuur. Die kinderpark bestaan uit bloeiselbome, spuitende fonteine, omringende berge, ‘n miniatuur dierepark en velerlei sitplekke om die natuur in te drink. Reg aan die eindpunt van die park is ‘n swembad ter lafenis van die swetende somer.

Ek loop en loop en loop.

My lyf voel laf en lig.

Met my kamera in die hand, word ek heeltemal snaphappy. Soos toe die sirkus Vredendal toe gekom het, hol ek kinderlik uitgelate van dier tot dier.

Hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n tier.

En ek snap en snap en snap.

Oosterse ooievare wei in ‘n koel, groen veld. ‘n Geel-oog kraai luister met lewendige, intense oë na die lied in my hart. ‘n Jong, Koreaanse dierebewaarder bid vir my ‘n leeuwelpie aan om vas te hou.

Vandat ek die proses na Korea uit Suid-Afrika begin het, ontspan my liggaam en gees bewustelik.

‘n Groot dankbaarheid kom oor my. Ek sing: dankie, dankie, dankie, terwyl ek bome en wolkkolomme van onweerswolke afneem.

Ek sing dankie, dankie, dankie, terwyl ek Indiese olifante van Afrika olifante probeer onderskei.

Ek sing: dankie, dankie, dankie, en dink aan almal wat lief en dierbaar in my lewe is.

By die speelgoedstalletjie op pad uit terug subway toe, koop ek ‘n pakkie plastiekplaasdiere vir my oggendklassies – nes my moeder vir my eenkeer vir my verjaardag Johannesburg te gestuur het.

(word vervolg)

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (4) – van nonne tot oprah

November 10, 2009 in Sonder kategorie

vervolg van drie

 

Ek gooi sommer ‘n ekstra mondvol gedroogde mielies in my linkerkies en met die wat die stywelip Koreaanse juffrou my groentee kom bedien, val ‘n vyftal mielies klaterend op die spiëelgladde vloer.

Vandag sal ek my nie bekommer oor verdwaal nie, dink ek. Soos Hansie van ouds laat ek ‘n hele mieliespoor agter.

Hoewel dit Woensdagnamiddag is, sit ‘n hele koor van Koreaanse tannies en jongmense in die foyer van die teater voor die ingaan van Nunsense. Dit verbly my hart om deel te wees van ‘n gemeenskap wat teater geniet en ondersteun.

Ek sit reg bo in die hoek in die voorste ry van die balkon. Die eerste non maak haar verskyning en kom praat nonsens in die middel van die onderste vloer se gehoor in Koreaans. Dit is toe wel ‘n oreaanse weergawe van die Amerikaanse musiekblyspel. Gelukkig dat ek die Pieter Toerien-weergawe gesien het. Die storielyn is nog duidelik in my onderbewussyn.

Die troepie Koreaanse nonne is almal bekende sterre in Korea. Die mense klap en lag en speel saam. Vir een toneeltjie doen die een non ‘n guitige nommertjie van ‘n Koreaanse tannie wat deur die ryslande waad en klaagliedere sing en die gehoor skater. Ek is bly om te sien dat die gemeenskap wel vir hulself kan lag, ongeag hul verlede van oorlog en armoede.

***

Die ander lekkerte van later-lê-ende oggende is Oprah-om-elf. Noudat ek nie meer deur Westerse kommunikase en maniere van dink en doen en interakteer omring is nie, voel Westerse manipulering vir my duideliker en meer helder aan my hart en kop. ‘n Deel van my is dus opgewonde om ‘n stukkie Westerse ervaring van Oprah-terapie terug te kry. ‘n Ander deel kyk effe skepties na die hele gedoente van jou oë so knip en jou mond sus trek. Alles vir effek.

Natuurlik het Koreane ook hulle manier van indirekte kommunikasie met lyftaal en oogstaar en oogknip onderstreep. Ek hou my net die meeste van die tyd dom met die voordeel dat ek kan skuil agter die onvermoeë om die taal te begryp as die situasie my nie aanstaan nie.

Die tweede oggend bekyk ek dus Oprah-om-elf met ‘n nuwe oog en wonder of ek nog daarvan hou. Woorde het intussen vir my suiwerder geword omdat ek aangewes is op die essensie van begrippe en gedagtes by die gebrek aan taligheid.

Die sensasionaliteit en ooranalise van die Amerikaanse gespreksprogramme begin steek my effe dwars in die krop. Tog is Oprah soos ‘n vertroude glanstydskrif voor slapenstyd en ek is bly sy maak deel uit van my vakansie – al is dit dan net om te weet wat ek nie meer wil hê nie.

(word vervolg)