Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (3) – van brille, pille en mielies!

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

vervolg van 2

Tweede op my vakansielys is om die markte en aktiwiteite van Namdaemung te gaan ondersoek. Onder ‘n loopgang deur op pad Namdaemung markte toe, ontdek ek ‘n oogarts met rame op spesiale prys. Ek koop vr my ‘n ontwerpers, plastiek, donkerbruin met wynrooi ondertone raam. Die raam saam met die lense en die lense se insit kos ‘n skamele R180 en die spotgoedkoop takie word binne 20 minute afgehandel.

Dongdaemung markte word as die arbeider se mark en die tradisionele markte van Seoul geadverteerl. Hier kry jy enigiets van ‘n oulap se mooi stuk sy tot weermagkomberse en uniforms en stewels tot rye en rye leerbaadjies en gedroogde vrugte en ‘n reeks interessantlykende gedroogde lekkernye waarvan ek nie almal op die naam kan peil nie. Ek vind wel ‘n ou Koreaanse tannie op ‘n straathoek wat gedroogde, gesoute geelmielies verkoop.

Ek loop en kou mielies op my eerste vakansiedag deur die nou gangetjies en breë verkoopwandelvlakke van Dongdaemun se tergende ware van ‘n paar duisend won se koop later aan die einde van die hoeveelste straat van ‘n joegelende massa wat koop en koop en kyk en koop. Ek ontdek ‘n hele straat vol beddegoed en koop vir my twee versiersuikerpienk oosterse kussingslope.

Al mieliekouende gaan soek ek na ‘n teater naby die stadsaal in die sentrum van Soul. Ek het vir my ‘n kaartjie gekoop om die Koreaanse interpretasie van Nunsense te gaan aanskou. Ek is nie seker of die weergawe in Koreaans is nie.

In Suid-Afrika het ek die Pieter Toerien-produksie by Theatre on the Bay gesien. Ek dink ek en my vriendin Colette het nog in die middel van die nag van Kampsbaai tot Woodstock teruggeloop na die teaterervaring.

Ek ontdek ‘n klein, sjiek en glansryke, minimalistiese koffiewinkel in dieselfde gebou as die teater en gaan skufel agter een van hulle tydlose, kosmopolitaanse tafels in.

Dit voel skielik vir my of ek gearriveer het.

word vervolg

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (2) – besoek aan die spesialis

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van 1)

Dit is nog steeds vir my ‘n aanpassing om alles in die oortreffende trap te ervaar. Ek verwag ‘n gewone grootte wagkamer, waar ek saam met ‘n handvol kliënte op die dokter sit en wag terwyl ek deur ‘n glanstydskrif blaai. Inteendeel stap ek drie vloere van velbehandelings binne.

Op vloer een kry ek ‘n registrasiekaart en op vloer twee is sonlampe en op vloer vier is ontrimpelings en die kantoor van dr. Lee en twee ander dokters wat die wagkamer deurdraf teen ‘n pasiënt elke twee minute teen R120 ‘n konsultasie.

Ek verkyk my aan al die mooi velle en wonder vir wat sommige oosterlinge die glanstydskrifte afwagtend sit en deurblaai.

Vele kopknikke en anyong haseyo’s en kamsa hamneeda’s aan die dokter en sy vyf vriendelik ontvangsdames later, loop ek met my eerste voorskrif en beloftes op ‘n mooier vel die kliniek se apteek om die hoek binne.

(word vervolg)

by elizac

BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (1) – velspesialis!

Oktober 25, 2009 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”[email protected]>

To:       [email protected]

Subject:           al om die huisies

Date sent:        Monday, 1 October 2001 12:45:56

Met my aanvanklike kontrak geteken vir twee, drie dae vakansie per jaar, maak ek my gereed vir ‘n doudruppel-in-die-droogte ervaring.

Geleidelik ontvou Korea se publike vakansiedae almanakkaart egter voor my oop en elke ekstra vakansiedag is soos ‘n tydsgenesende en energiegewende present binne die 24 uur van rus en reis en sit en staar en ‘n jaar-in-‘n-dag van doen-net-wat-jy-wil.

Ons eerste amptelike drie dae vakansie is dan in Julie en maak ‘n handgrootte ervaring van vyf dae uit, gekonnekteer aan Saterdag en Sondag se naweek.

Tussendeur leer ek dat ons ook vyf dae danksegging (chuseok) in Oktober vier en daar’s ‘n vyf dae tweede nuwejaar in Februarie. Tussendeur is daar Buddha se verjaardag, een  of ander politieke dag waarvan die naam my nou ontgaan het (dit blyk toe onafhanklikheidsdag te wees), onderwysersdag, ouerdag, kinderdag, kersdag en nuwejaar, en dan die reeds gerapporteerde geskenke van onverwagte oggendpieknieke waartydens ons gou lêers en afdrukke en projekte en persoonlike geskrywe en laatlêery en Oprah teen elfuur op Amerikaanse tv op datum kan kry.

My eerste oosterse vakansie vanuit Korea:

Ek is soos ‘n kind afwagtend op my eerste seevakansie. Ek maak voorbereidende lysies en vir die eerste vakansiedag is ek gereed met toebroodjies in tinfoelie toegedraai en voor die haan nog kan kraai, spring ek rond in die stortkas en was en maak mooi en is gereed om alles van die breëre Korea met smaak en geur en tekstuur te beproe en in te drink.

Die vorige nag het ek movies-till-dawn tot halfses die oggend op Amerikaanse tv gekyk. Die tydsvergryp laat my nou wonder hoe om my energie vir die res van my eerste vakansiedag aan te wend. Om elfuur het ek ‘n afspraak by ‘n velspesialis om die laaste oorblywende psoriaseskolletjies vaarwel toe te roep.

Ek trek vir my elegant en glansryk aan en speel vir die dag volwaardige volwassene wat mooi na myself kan kyk met my eie salaris en ekstra dinge soos velspesialiste kan bekostig. My velspesialis praat deur die genade goed genoeg Ingels en ek kan hom van al my kwale en kwankemente inlig. Sy van is ironies van dieselfde e-dynastic lyn as die van my gewese vrou, Rebekah: Dokter Lee.

(Meer heling deur die e-dinastie. In Koreaans is die van Lee E). 

 

(word vervolg)

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (8) – gelukkig tuis

Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie

vervolg van 7

Sok Jin kyk my met groot skrefiesoë aan.

En skielik moet ek lag. Om te dink ‘n skamele ses maande gelede het ek in ‘n kortstondige kultuurskokdepressie verval ten aanskoue van Pung Nap Dong en ons Pung Nap Dong se huis. Nou kan ek my nêrens anders voorstel of indink dat ek êrens anders sal wil bly nie.

Hier is ek tuis. Weens die huis se minder mooie eienskappe het ek harder gewerk om dit lief te hê en is dit nou gebonde in die liefdevolle, deernisvolle kamers van my hart. Sonder die huis van muurpapier en benouende ruimte, klerekas, kombuis, droograk en mooimaakplek – alles-in-een, leef-op-die-vloer, kookwaterbed – sou ek sonder storie of unieke struktuur, net maar nog ‘n huis iewers in net maar nog ‘n straat betrek het.

Maar die gode het spesiaal net vir my, na lyf en gees geskik, ‘n huis gekies in die arbeidersbuurt van Pung Nap Dong in Seoul, Suid-Korea, saam met Sok Jin, beeldskoon na liggaam en siel.

En ek sê dankie.

En nou gaan ek huis toe.

Om my vlerke te sprei.

Johannes

September 2001

Pung Nap Dong

Seoul – Suid-Korea

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (7) – gelukkig tuis

Oktober 20, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van 6)

Die arme Sok Jin is salig onbewus van my vorige lewe as ‘n obsessiewe trekvoël. Hy weet nie dat die trekvoël in my nou vir ‘n wyle net tot rus wil kom nie.

Ek hou van Pung Nap Dong, sê ek. Ek hou daarvan om deur die straat van kole en silwer, langstertige vissies en palings wat swem in ‘n emmer en appels en vet, ronde pere en seegras en blokke stomende tofu en langbroeke, silwergrys en raafswart, oopgelê op ‘n ry, verkoop op die hoek van die straat en kindertjies op driewielkarretjies en op fietse en kloekende moeders en skellende tannies en ou omies, rokende, hurkende voor die plantwinkel met margrietjies en african violets en bamboesbome huis toe te loop.

En ek hou van ons huis. Dis … ons huis.

Hier ervaar ek meer ruimte as ooit vantevorein my lewe, want hier is geen kritiek nie. Hier leef ons konflikvry. Hier doen ek net wat vir my lekker is en volg ek my eie ritme en ruimte sonder die vrees dat iemand beuselagtig of onbenullig môre met my sal stry oor ek die lig aanlos of die koppie op die vloer vergeet het of…

Ja, maar… sê Sok Jin. Dit sal nog steeds ons wees wat saambly. Net met meer ruimte.

Ek neem so aan, sê ek. Maar wil jy nou uit Pung Nap Dong trek? vra ek.

Ek wil tog nie in een van daardie kunsmatige westerse buurte gaan bly in een van daardie Amerikaanse apartments sonder muurpapier teen die mure en chroom en goue krane en vertrekke wat lyk asof dit uit ‘n katalogus kom nie. Dis soos om saam met ‘n beeldskone minnaar of vriend sonder persoonlikheid te wees. Dit gee jou geen stories as geskenk nie. Dit laat jou binnekos van jou herinneringe eenvlakkig en leeg. Ek hou van Pung Nap Dong.

Ek hou daarvan dat vrouens sing wanneer ek laat in die aand huis toe stap – sing terwyl hulle in die donker alleen sing bloot omdat hule gelukkig is tussen mense wat na aan die aarde innig en voluit leef en lag en eet tot laat in die nag en drink en kettingrook en in inskopskoeisels en t-hemde onpretensieus met drif en sonder nonsies luid en betrokke, privaat en onbetrokke, net leef.

(word vervolg)

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (6) – orde en weer trek

Oktober 18, 2009 in Sonder kategorie

(vervolg van vyf) Elke dan en wan dreig ek om ‘n boekrak te koop vir die groeiende kolonie boeke sonder orde of struktuur. Ja, sê Sok Jin, en dan kry ons sommer ‘n rekenaar ook. En wat van ‘n videomasjien, sê ek.

 

Van tyd tot tyd gaan alles in die badkamer weens die monsoenreëns se klamte aan’t muf. Dan maak ek van die geleentheid gebruik om opsluit ook my sirkulasie te bespoedig en skrop en skuur ek die hele badkamerkas met die benadering van ‘n fanatiese giminstrukteur tot sy vorige glorie van silwerskoon, goudgeel teëls.

 

Soggens doen ek my gesigroetine in die kombuis voor die spieël op een van die kombuisrakke onder die buisligte wat gons en soem. In die hoek van die kombuis staan nog ‘n klerestaander met, tot nou toe, onaangetrekte winterse klere, wat binnekort hulle verskyning op straat sal maak.

 

Voor die kaslose, deurlose winterklerekas in die hoek van die gangkombuis is ‘n muurgrootte kaart van die wêreld teen die muur. Hier staan ek van tyd tot tyd en visualiseer my reise om die wêreld: Tokio, Hiroshima, Beijing, Shanghai, Viëtnam, Vladivostok, Berlyn, Amsterdam, Parys, Londen…

 

Onlangs kondig Sok Jin aan dat hy volgende jaar wil hê dat ons na ‘n groter plek bo-op die dak van ‘n hoë gebou moet trek. Sy motiveringvoordele is dat ons dan varser lug sal inasem deur bo-op ‘n gebou te bly en dat ons ook die ruimte van die dak van die gebou as ekstra voordeel sal hê. Hier kan ons plante in potte aanhou en tuin- en dakpartytjies hou.

 

Trek? sê ek. Uit ons pragtige huis in Pung Nap Dong? Ek is sommer onmiddellik op my anti-trek perdjie en vra ‘n honderd en tien vrae oor iets wat moontlik oor ses maande mag gebeur.

(word vervolg)

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (5) – naak van lyf en gelukkige chaos

Oktober 12, 2009 in Sonder kategorie

Vervolg van vier

In Korea is daar’n dualiteit wanneer dit by die naaktheid van die lyf kom. As die dag snikheet van die hitte is en jy jou dagtaak buite moet verrig, kan jy skamel geklee oop en bloot ten volle aanskoue van wie ook al verbyloop groente verkoop of bakstene karwei. Maar moenie dieselfde bietjie klere dra onder die vaandel van doelbewus lyfwys nie.

Hoewel ‘n innige kus op die mond selde op straat of in Koreaanse televisiefilms gesien word, loop almal poedelnakend kaal wanneer hulle na saunas of warmbronne toe gaan.

Ek het gister ‘n Amerikaanse film gaan kyk. Tydens die hele fliek was daar ‘n medelewende onderlange gekwetter en gegiggel van genot, maar toe die twee romantiese hoofspelers mekaar innig en intiem op die mond soen, kon jy vir die volle tien sekondes van die soen ‘n speld hor val.

Soos dit van tyd tot tyd gaan wanneer mens voluit en met volle oorgawe leef, raak ons Pung Nap Dong se tuiste soms gelukkig chaoties. Ligblou plastiek oosterse borde, sjokoladebruin oosterse kommetjies en silwer oosterse eetstokkies hoop in die opwasbak van die kombuisgang op. Klere hang geduldig oor die droër in die hoek van die gangkombuis by die skoonmoeder-se-tong voor die aftrappie by die ystergroen voordeur en wag soms vir ‘n volle week om afgehaal en opgehang te word. Ons binnekamer lê bestrooi met Sok Jin se horde Engelse boeke en oefeninge en vraestelle.

Tussendeur doen ek mee aan die leef-op-die-vloer-so-innig-as-wat-jy-moontlik-kan-met-die-ruimte-tot-jou-beskikking deur my eie spoor metafisiese boeke en glanstydskrifte, geluisterde musiekmomente in cd en kassette, vandag se Korean Herald in stukkies gesny weens alles wat ek wil onthou en ondersoek en ervaar, en leeggedrinkte mineraalwaterbottels en leeggeëete blou plastiek oosterse borde agter te laat.

By die intrap van die deur van ons leef- en slaapkamer is ‘n aanloopbaan van liggies op die vloer met ‘n konglomerasie van elektriese toebehore: herlaaiende selfone, walkman batterye en haardroërs.

Periodiek kry ek ‘n skoonmaak en opruim en in hopies pak en orde en orden aanval en bui. Vandag was juis weer so ‘n dag. Nou hang die kleertjies netjies in ‘n ry. Die vloere is gevee. Die boeke is in verskeie torinkies oral oor diekamer opgestapel. En die skottelgoed is gewas en weggepak. Die kombuis lyk amper, wel, kalm.

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (4) – van ertjiesopgroen tot sy en satyn

Oktober 11, 2009 in Sonder kategorie

Uit die een meter by drie meter lange loopgang wat ons die kombuis noem, is ‘n deur vir ‘n ekstra kamer van twee meter by twee meter en ‘n deur vir ons kasgrootte badkamer. Die houtdeure en vensterrame is ertjiesopgroen geverf. Tannie Maggie en Oom Hans wat in my kinderdae skuins oorkant my ma en pa op Vredendal gebly het, had ‘n eetstel met koppies en pierings en borde in presies dieselfde mistroostige, dowwegroen kleur.

Op die vloere is tapyte met die nagemaakte houtvoorkoms.

Ons het die ekstra kamer in ‘n instapklerekas omskep. In die een hoek hang ons klere aan ‘n dubbele staander op ‘n ry. By gebrek aan ruimte is dit ook die blyplek van my Barbiepopgrootte yskas. Hier bly my oorryp piesangs, my mieliebotter, my botteltjies-op-‘n-ry mineraalwater en my insulien koel tydens die humiede, sweetwarm Seoulse somer.

Weens die gebrek aan ruimte, en om ook sommer by die arbeiderstema van ons Pung Nap Dong se buurt te pas, hou ons van ons klere in groot bruin papierkardoessakke aan.

Om die hoek van die ertjiesopkleurige instapklerekasdeur, het ek sensuele prente vanuit Vogue en Elle en Harpers Bazaar geplak om ons instapklerekas ‘n meer glansryke supermodelvoorkoms te gee.  Die huisbaas het eenkeer tydens die monsoenreëns kom kyk of die dak nie lek nie en effens gestol voor die foto’s van westers, ontblote lywe – geklee in sy en satyn, kasjmier en pels.

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (3) – plakpapier in ‘n skoenboks

Oktober 10, 2009 in Sonder kategorie

In Korea word die tradisie nog steeds gehandhaaf om jou ten vole huis met die allerlelikste muurpapier uit te plak. En ek bedoel: jou hele huis, die plafon inkluis.

Wie ook al die keuses van muurpapier maak, het beslis nie ‘n kursus in binnenshuise versiering by Martha Stewart gevolg nie. Ons muurpapier is witblou met mufblou blertsse wat soms vir my soos boomtakkes met wattebolletjies lyk, en ander kere bloot soos mufblou blertse voorkom.En nee, Dames en Here, ek is nie besig om te vererger nie. Ons praat nie Biggy Best nie. Hier het ons met volbloed praktiesgekose, die goedkoopste-per-meter muurpapier te doen.

Aan die begin het ek gevoel asof ek in ‘n skoendoos met muurpapier uitgeplak bly. Toe ek klein was, het ek altyd vir my speelgoed ‘n skoendooshuis gemaak. My ma gee dan vir my oorskietstukkies muurpapier nadat sy die kombuiskaste of die badkamerkassie uitgeplak het. Dan plak ek, soos met ons Pung Nap Dong se huis, tot die binnekant van die deksel van die skoendoos uit en my speelgoed bly lank en gelukkig tussen prentjies van visse en seegras en skulpe.

Nou dat ek daaroor dink: dit kon seker erger gewees het. Verbeel jou: ‘n hele huis uitgeplak met seeperdjies en seesterre en oesters, of wat van al die Walt Disney-karakters van Micky tot Donald Duck? Of dalk Snoopy? Dan is daar natuurlik altyd ook nog muurpapier met zigzag patrone of kolle en strepe.

Hóé die tradisie van die minder mooi muurpapier ontstaan het, ontwyk die analitiese deel van my brein nog steeds. Ek weet nie of die mure met die muurpapier op langer skoner lyk nie, en of die mufkolle wat tydens die somerse monsoenreëns en die sneeuende winters op die mure uitslaan deur die muurpapier bedek word nie?

My eerste poging tot binnenshuise versiering was om die muurpapier van bo en die muurpapier van links en die muurpapier van regs te probeer versag. My mooiste kleertjies hang nou teen die mure en Sok Jin het sy weermagpak aan ‘n hanger as aandeel tot die tuisteskeppende proses in die een hoek kom hang. Tussendeur is daar Afrikajuweliersware en buddhistiese houtkrale en vele fotomomente van wanneer die lewe in ‘n volmaakte, visuele oomblik van my mees geliefde lewenservaringe gevries het.

Die kombuiskaste is halfpad met ligpienk en halfpad met seegroen muurpapier beplak. Met die witblou en muf blertse agterdoek van die plafon en die mure, lyk die kombuis soos ‘n psigedeliese roomyskinderpartytjiekoek dwelmtrip. My probeerslag tot ‘n visuele balans en kalmering van die kombuis, was om net swart en wit foto’s op die kaste en teen die mure ten toon te stel. Maar ek is jammer om te sê dat die eind-effek my kop nog meer laat draai.

by elizac

BRIEF TWEE-EN-TWINTIG: HOLTE VIR DIE VOET (2) – ‘n lelike huis met ‘n groen deur

Oktober 5, 2009 in Sonder kategorie

Wat vir my lekker is van saam met Sok Jin bly, is dat hy net genoeg belangstel om my belangrik, maar nie benouend nie, te laat voel. En ek gun hom dieselfde vryheid. Ons volg elkeen, selfs in die intiemste ruimtes van ons binnekamer, ons eie, persoonlike roetine, sonder dat die een ooit op die ander een se sit en staan en lê en lyk en vermaak kommentaar lewer.

Aan Westerse standaarde gemeet, bly ek estetiesgesproke in ‘n lelike huisie. En ek sê dit met dieselfde deernis as ‘n ouer wat weet dat sy kleintjie nie juis mooi is nie, maar tog het hom hom allerverskriklik lief.

In die woonbuurt waar ek bly, lyk al die huise dieselfde. Dit is van donkerbruin, plastieklykende bakstene gemaak. Voor die huise is donkergroen baksteenkoepels met ystertorings daarop vasgemessel. Die voordeure is munisipale donkergroen geverf en het ‘n tawwe ystervoorkoms.

Die strate voor die huise is van dieselfde donkerbruin bakstene as die bakstene van die huise geplaveisel. Die strate is sonder name en voor elke tweede or derde huis is ‘n langwerpige, kommuniële, blink blikposbus.

In die middel van die nag, wanneer die halwe maan oor ons straat skyn, lyk dit soos ‘n prentjie uit ‘n Tweede Wêreldoorlogse Londen.