Jy blaai in die argief vir 2009 September.

by elizac

AL OM DIE HUISIES (19) – courage to change

September 29, 2009 in Sonder kategorie

Voor my vertrek is ek geseën met die private en praktiese ruimte van ‘n dubbele bed, ‘n koel kamer en ‘n warm stort van my eie aan huis van my suster in die Paarl. Hier ervaar ek die seën om die tyd en ruimte te hê om my geestelike basis te integreer. Om my slagofferskap vaarwel toe te roep. Om te weet dat ek eenhonderpersent verantwoordelik is vir my lewe en die keuses wat ek maak oor hoe ek op elke uitdaging gaan reageer.

Hier werk ek vir my ‘n persoonlike geestelike pakket uit wat ek so na aan my hart elke dag beoefen. En dit gee my kop vlerke. Dit omring my met die suiwerste wit lig van onvoorwaardelike liefde. Dit hou my voete geanker – plat op die aarde – met my huis nou op ‘n rots gebou.

Elke oggend mediteer ek. Ek visualiseer my hoogste ideale. Ek dan God vir bewaring deur die dag. Ek doen daaglikse gebede van danksegging. Saans skryf ek in my joernaal: ek is dankbaar vir….. (ek is op die oomblik op dankbaarheidsmoment nommer 7212). Elke dag lees ek uit boeke van inspirering. My daaglikse gids is Al-Anon se Courage to Change.

Elke dag gee ek oor wat ek té kompleks of oorweldigend vind om te hanteer, en elke dag vibreer wonderwerk na wonderwerk in my lewe. Ek weet dat geestelike konneksie ‘n keuse is. En binne die keuse is ek nie gevrywaar van uitdagings op my pad nie. Ek is hier om uitdagings te oorkome. Ek is hier om my lig met die res van die wêreld te deel. Ek is hier om my skadu’s, privaat in my binnekamer, in stille sterke krag en vertroue, deur die hoogste vibrasies van die liefde, te omvorm.

So heel ek my heel-al.

So heel ek die hele heel-al.

(finaal volg)

by elizac

AL OM DIE HUISIES (18) – op pad na die ooste

September 28, 2009 in Sonder kategorie

In my kop en hart pleit ek. Ek soebat. Ek vra. Ek dank God om my van armoede en siekte, verbale mishandeling, beheer en my algehele dal-van-doodskaduwee te verlos.

Iemand edelmoedig van inbors borg my lyf gesond en bevry my onmiddelike domein tot in die ooste.

Vir die laaste paar weke bly ek by my suster in die Paarl. Stukkie vir stukkie val my lewenslegkaart gebou en herbou, rangskik en herrangskik, omvorm en ontleed en ontlaai, uitmekaar geruk en versigtig – die hart is broos. Moenie dat dit weer teer bloei nie – terug en inmekaar gesit en bewustelik sus en so gerangskik, alles soos ‘n stil, oorverdowende wonderwerk, elke stukkie, in sy plek.

Die karma is deurgewerk. My gees is nou doelbewus geanker aan God. Aan my hoogste, geestelike bewussyn. Aan my hoogste vibrasie van onvoorwaardelike liefde.

(word vervolg – ja, nog enetjie!)

by elizac

AL OM DIE HUISIES (17) – tussen bomme en bloed

September 27, 2009 in Sonder kategorie

Eendag word Stasiestraat rooi-van-bomstraat. ‘n Bom ontplof voor Obs Café agter ons huis. Ek staan in die kombuis van die huis met my pasgemaakte koppie rooibostee in my hand en hoor metaal uitmekaarskeur. Ons almal hardloop uit in die strate en kyk mekaar in die oë.

‘n Paar weke later breek iemand deur my kamer die huis binne en strooi briewe en klere en persoonlike, waardevolle, waardelose goedjies die wêreld van die huis vol. My kopvel trek styf in die nag. Psoriases groei op my. Soggens is my asemhaling vlak en hortend.

Hier moet ek uit.

Twee-uur een stil môre vroeg skop iemand die deur van die huis in. Hy gil en skree soos ‘n besetene. Hy breek ‘n venster en bloei. Stasiestraat word Bloedstraat.

Vir die volgende paar maande bly ek opeenvolgens by my vriend John aan huis, by my suster, Linda, in Brackenfell, by my Noorweegse vriendin, Iene en haar blonde, Noorse vriendin, Camilla, in Observatory.

Vir ‘n allerlaaste poging om direk deur al die skadulae van my verlede te werk, trek ek weer vir ‘n paar maande terug in my ouers se huis.

(word vervolg)

by elizac

AL OM DIE HUISIES (16) – tussen katte en terapie

September 25, 2009 in Sonder kategorie

Ek trek in Stasiestraat in Observatory in saam met drie disfunksionele katte. Die een kat is brandmaer en pie op my bed. Die ander kat eet en eet en eet deur die koue Kaapse winter en lyk soos ‘n bol ontploffende wol en pie en pie op my bed. Die derde kat het ‘n afbeen. Sy ly aan post-traumatiese stres sindroom nadat sy haar been onder die trappende wiel van ‘n vragmotor verloor het. Sy hop soos ‘n mal ding die gang af, terwyl haar halwe been dowwe plofgeluide op die houtvloer maak. Sy gaan skuil agter ‘n onopgehangde skildery – wagtende op die spook van haar tref-en-trappende vragmotor.

My huismaats trek in en uit. Hulle rol rookgoed uit die tuin. Dié keer bly ek en mor en spuit lugverfrisser.

Ek sit op die stoep en mediteer met ‘n uitsig oor die oosterse tuin. Ek onthaal handevol vroue van Noorweë en Amerika, Duitsland en Kaapstad. Ons trek sy en sensueel, sag en fluweel aan en vier die mag van die durf van die brose met handgemaakte groente- en bruindeegpasteie, pastageregte vol olyfolie en knoffel en gemmer en mediterreense soetsuur, gedroogte tamaties en avokadopeer. Ons lees verse van die liefde en komplimenteer mekaar vanuit die hoogste vibrasies van onvoorwaadelike liefde uit die binnekamers van ons hart.

Hier hou ek dramaterapiesessies. Hier leer ek myself nog verder liefhê.

(word vervolg – amper klaar!)

by elizac

AL OM DIE HUISIES (15) – terug na Obs

September 24, 2009 in Sonder kategorie

Soos ons reis, bly ek by my Amerikaanse vriend John in sy Princetonlykende kothuis in Observatory. Ek bly by my vriende Salomé en Stewart en hul dogter, Jodie, en die skaaphond, Pippin, en die staffie, Nelson, en die vyf katte van wie ek nooit die name kon onderskei of onthou nie, in hul piepklein plaashuisie op ‘n kleinhoewe buite Stellenbosch. Ek bly by my vriende, Adré en Jan, op hul wingerdplaas buite Franschhoek. Ek bly by my suster in die Paarl. Ek bly by ons fotograaf, Graham, in sy tweeverdieping kotuis in Observatory. Ons bly in losies- en vakansiehuise as geskenke op ons pad. Ons bly in hotelkamers in die stad en rondawels by warmbronne in Goudini se woude.

Van tyd tot tyd bly ek vir volle siklusse van selfondersoek en die algehele lae van my verwonde self ontleed en ontlaai aan my ma en pa se huis. Ons huil, en ons gil en ons stry en ons bid en vir tien dae praat ons nie ‘n woord met mekaar nie. Ons gil en huil en skreeu en bid nog meer.

En baie geleidelik, klein, effens, treetjie vir treetjie, kom die vrede wat alle verstand te bowe gaan suutjies en teer en vind ‘n gemaklike lêplek tussen ons. En ons waag die kans om moeder en vader en kind, as gelykes, langs mekaar te staan.

Ek trek terug Kaap toe. Ek begin by die Community Arts Project in Woodstock werk.

Eers bly ek weer aan huis van my vriend John. Gedetermineerd om so gou as moontlik ‘n onafhanklike ruimte te betrek, vind ek ‘n blou huis met ‘n oosterse tuin in Stasiestraat, Observatory, deur middel van die kennisgewingbord buite Spar in Observatory.

word vervolg

by elizac

AL OM DIE HUISIES (14) – van luckypackets en van sing

September 23, 2009 in Sonder kategorie

Eendag is my geld net op. My ma en pa sê kom huis toe. Ná sewentien jaar uit my ouers se huis, trek ek terug in die agterkamer by die toilet en die deur wat nie kan sluit nie. Ek loop al om die huisie, soos ‘n eksotiese dier in ‘n kou van my eie ingekerkerde siel. Ek skreeu my lot teen God en mens uit onder ‘n warm, plattelandse, stergevulde hemel. Ek bid om heling.

En die heling kom deels deur die klank van my stem. Ek sing my siel gesond. Ek ontmoet vir Leah en ons toer die wêreld rond. Ons sing en speel en skep en huil en leef en lag en deur die klanke uit ons mond word ons hart weer en meer gesond.

Soms slaap ek op Leah se sitkamerbank. Soms slaap ek in een van die seuns se beddens op die plaas buite Lutzville.

Ons ry van Bitterfontein tot Wittewater, van Gamoep tot Garies, van Clanwilliam tot Citrusdal, van Paarl tot Stellenbosch tot Kaapstad. Ons sing en speel en lag. Ons verval in stilstuipe en hou partytjies op ons pad wanneer ons plesierig is. Ons maak geld en koop lucky packets en gooi petrol in die bakkie. Soms voel ons voluit en ons weet dat ons leef.

word vervolg

by elizac

AL OM DIE HUISIES (13) – van egskeiding en depressie

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Ek en Rebekah trek uit die geel huis in ‘n desperate, laaste poging om ons huwelik te probeer red. Ons trek om die hoek in ‘n spierwit tuinhuis in met ’n hout perdestalvoordeur wat in ‘n ouwêreldse Observatory eenmaal deel van perdestalle op ‘n plaas was. Ons is omring van lelies en rose, laventel en magrietjies, katte en beeldhouwerke.

Die idilliese agterdoek skep ‘n ironiese raamwerk vir die wederkerige en selfvernietigende energie wat ons op mekaar uithaal en eenmaal: die liefde genoem het.

Eendag besluit ek om my uit die donker spiraal van ondergang te red en ek trek terug in die geel huis in Observatory. Ek verval egter in die oog van ‘n donker depressie van egskeiding en armoede en siekte en slagofferskap.

Vriende hou my aan die lewe.

Ek slaap dae om en verby van nie kan funksioneer nie, van nie wil voel nie, van te veel voel en iewers diep binne-in my is daar ‘n straaltjie van lig wat ek weet en glo en vertrou eendag tot sy volle glorie sal deurbreek.

Ek herontmoet my vriendin en sielsgenoot, Irize. Ons leef ‘n boek wat onafhanklik van hierdie storie geskryf moet word.  Ek ontmoet ook vir Fen, my metafisiese terapeut. Op ‘n stadium gaan ek elke dag of elke tweede dag vir ‘n sessie met Fen. Die ligstraaltjie word ‘n ligglans word ‘n stralekrans word ’n son wat oop en warm vanuit my diepste, helderste, mees funksionele, liefdevolste self skyn.

word vervolg

by elizac

AL OM DIE HUISIES (12) – van diabetes en asma

September 21, 2009 in Sonder kategorie

Ek word gediagnoseer met diabetes.

Hier vee ek die bloed van my vingertoppe en steek ek my bene vol gate. Hier gaan my suikers op en my suikers gaan af. Hier word ek inderdaad met, soms te veel en soms sonder suiker oor die brein, laf van hart en verstand.

Ek en Rebekah begin skei – stukkie vir stukkie.

In die geel huis word ‘n kind gebore. En ek sit langs die bad vol rooi, warm water en ervaar die stil, besliste energie van die skepping. Nog steeds van naelstring tot baarmoeder gebind, swem die pasgebore siel in die vorm van ‘n mens in die bloederige, warm water.

Bo die dak van die huis is ‘n kalm, geankerde gloed. Die huis is nou volwaardig, absolute, ten volle alles-insluitende kosmos: liefde, trou, siekte, skei, geboorte, dood.

Niemand gaan tydens my geskiedenis in die huis dood nie, maar eendag kom klop ‘n man en sy vrou aan die voordeur env ra of hulle deur die huis kan loop. Dit het aan sy ouma in die 1940’s behoort. Hy onthou met deernisvolle heimwee dit en dat van hoe die huis en sy ouma in die huis vroeër was. En my voorkamer, sê hy, het sy ouma een nag aan ‘n asma-aanval gesterf. Tóé verstaan ek my vele nagte van vlak asemhaal en die gevoel dat iets in die middel van die nag op my bors kom lê en my inasem.

word vervolg

by elizac

TUSSENWERPSEL

September 20, 2009 in Sonder kategorie

Miskien is dit net regverdig om die volgende te sê vir diegene wat wonder (en dalk dié wat nie wonder nie!): ek is nie Johannes Lochner/John Teacher nie. My blog meld duidelik dat ek vroulik is, en uit sy briewe behoort dit duidelik te word dat hy wel (uiters) manlik is. Die briewe is dus nie my briewe nie. Ek behartig hierdie blog namens hom, omdat hy dit nie meer kan doen nie, en ek weet hy sou dit wou doen. Dit is ook my manier om my belofte aan sy ma na te kom; dat ek “iets” met die briewe sal doen. Hierdie blog is dus my “iets”. Ek sal daarmee aanhou, solank ek kan.

Ali

by elizac

AL OM DIE HUISIES (11) – die kosmos deur die geel huis

September 20, 2009 in Sonder kategorie

Hier raak ek verlief op die blonde, kersierooi van lip en stil, sensuele Anna Frank van Marburgh in Duitsland, tot haar mediese dokter/sosiale werker kêrel hom ‘n wyle later vanuit Duitsland by haar aansluit.

Hier het ek ‘n stroom van kuiergaste wat saam in die aand om die kaggel kuier terwyl viool en klavier deur die kamer vibreer en robyn en roesrooi roosblare op die vloer tussen wit, warm kerse glim, en ons eet en drink en lag en sing en voel en leef tot die sterre een word met die witwarm as van die uitgebrande vuur in die kaggel.

Hier vier ek die lewe in sy brose, sterke, sensuele, innige, sensitiewe volheid. Hier filosofeer en kreëer en ontdek en strek ek die lae van my hart en siel en verstand saam met Duitsers en Franse, Hollanders en Noorweërs, Indiërs en Kapenaars, Amerikaners en Kanadese, Portugese en Zoeloelanders.

Ek raak verlief en trou met die jong, briljante, beeldskone, Amerikaans-Koreaanse Rebekah, op pad, met ‘n ompad, om in Oxford in Engeland te gaan studeer.