Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

by elizac

BRIEF DERTIEN SOK JIN 1

Julie 31, 2009 in Sonder kategorie



From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>


To:       avdspuy@indlovu.bortech.ac.za


Copies to:


BCC to:


Subject:          


Date sent:        19 May 2001


 


Toe die gode my vreugde en vermaak en verblyf en vryheid in Korea gereël het, is Sok Jin persoonlik vir my uitgesoek as soet, sagte, nuwe rooi kersie op die Koreaanse avontuur met moedershande, tuisgebakte, klam, oopgeryste heuning en lemoen en amandelklapperige stroopsoet koek.


 


Hoe geseën is ek nie. Hoe seën die heelal my nie elke dag met medemenslike, warm, eerlike, mooi, oop, beeldskoon van hart en lyf en verstand Sok Jin nie.


 


My eerste aansig van Sok Jin was hoofsaaklik van sy rug – al die pad vaardigbesturende terug van die lughawe af op pad na ons huis toe, nadat hy en die twee Pieters my op die lughawe gaan haal het. Dit is nou presies twee maande gelede van ‘n leeftyd in Korea later.


 


Sok Jin dra, soos ‘n ware heer, John Teacher se sakke ons huis binne en sit dit op die vloer van ons kookwaterbeddens neer. Ek voel soos die Engelse gentleman wat direk uit London in die 1800’s in die Ooste aankom om vir die asiatiese wesentjies Engels te gaan leer.


 


Twee maande later laat Sok Jin my elke dag nog effens besonders en spesiaal voel.


 


Buiten my sakke op die vloer van die bed, is dit aanvanklik net Sok Jin se paar kledingstukke in die huis en ‘n houer met vogroom en middels vir gesigsbehandeling en blou, weggooiskeerlemmetjies. Sok Jin maak onmiddellik die pienk silwerhouertjie met die gesigsbehandelinggoetertjies oop en sê/beduie: wat in die boksie is, is myne net sowel as joue. Ek kry so half skaam vir my westerse benadering van myne en joune en baie definitiewe skeidslyne tussenin en dink in my agterkop wat ek het om met Sok Jin te deel. Instinktief weet ek al reeds dat hy niks verwag nie.


 


In die begindae word Sok Jin my persoonlike bestuurder en rigtingaanwyser en immigrasie-uitklaarder en sub way-instrukteur en aan vriende voorstel en kossies help ontdek en die essensiële op die Koreaanse naam leer noem. Elke oggend daag hy om presies 20 voor 10 by ons voordeur op. Dan smeer ek nog gou gedeelde vogroom om my kiewe voor die spieël in die kombuis, skuifel in my skoentjies by die voordeur, sit die lig af, sluit die deur en volg Sok Jin, wat altyd op ‘n vinnige drafstap pas op pad na die volgende punt toe is, na die voertuig om die hoek. Die geel EET-voertuig met die twee jonge dametjies van om en by die ag jaar oud, wat vir ons in die luierende ryding sit en slaap-wag met die sleutel in die skakelaar.


 


Ons oggendrit volg ‘n vertroude ritueel van Sok Jin wat woorde in Engels vra en ek wat as uitruilproses die kinderliknederige ervaring meemaak van met jou vinger aandui: kar, boom, voel en dan die Koreaanse woorde ywerig en met dramatiese herhaling in my blou handboek vir Koreaanse algemene inligting neerskryf.


 


Van tyd tot tyd vlieg Sok Jin midde vaardige bestuur om en gee die twee jong Koreaanse dametjies ‘n innige, aardse vryf oor die kop of druk hulle knieë of hande tot sy hele gesig verkreukel van plesier.


 


Sok Jin het ‘n passie vir kinders. Hy wil ‘n hele huisvol kindertjies van sy eie hê. Mooie, Koreaanse, slim klein kadoetjies – soel van vel, raafswart van haar, witter as sneeu, ja witter as sneeu sal hul hartjies wees, met Sok Jin as pappa.


 


Sok Jin is sewe-en-twintig iin Koreaanse jare. In Korea tel jy al reeds die eerste jaar van die oomblik wat die oosterse saadsel die oosterse eiersel bevrug. Tussen ons Westerse familie-en vriendekring sou Sok Jin dus vanjaar sy ses-en-twintigste verjaardag gevier het.


 


Ek het alreeds vertel hoe ek in my eerste dag se kultuurskokstaat op Sok Jin se lap en nekstutkussing kookwaterbed die slaap van alle aanpassendes geslaap het, met Sok Jin wat vir my boodksappe in Koreaans op flentertjies papier skryf en dit by my spinnende kop los. Boodskappe wat ek vir Koreaanssprekendes kan wys, vir ingeval ek wil gaan rondloop en dalk in die proses aan die verdwaal mag raak.


 


Sok Jin verpersoonlik vir my dit waarvoor ek bewondering in die mooier as mooi menselik wesens op my avontuurbesaaide, geseënde pad het. Intuïtief kies ek altyd my sielsgenote/vriende uit die volgende inhoude van die suiwer doopvont van die liefdevolle hart:


Kinderlike, speelse, aardse kwaliteite


‘n Gewillige, gekose naïewiteit ongeag die soms teerder uitdagings wat die lewe al gebring het


‘n Onbewuste, bewuste sensualiteit


‘n Oopheid


‘n Eerlikheid


‘n Bereidwilligheid om van die self te gee


‘n Geestelike ontvanklikheid


‘n Sterke broosheid.

by elizac

slaaptyd

Julie 26, 2009 in Sonder kategorie

jy slaap
jy slaap in Seoul tussen
pienk perspekskruise tussen
winkels wat soet brood verkoop
jy slaap in Bangkok
onder die geluid van tuk-tuks
tussen pêrels
jy slaap in Amsterdam
op kobbelstene en langs die Ryn
tussen kastele
jy slaap in Parys en Dubai
in warm woestyne tussen oases
en smaraggroen palms
jy slaap op al die plekke
waar jy ooit wou wees
jy slaap
oorkant die rivier
waar ek jou  nou nie mag besoek nie

by elizac

BRIEF TWAALF VRYHEIDSDAG 3

Julie 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek loop twee maal om die swembad en kyk en ruik voor ek bordjie uitpluk en opskep. Immitation Suid-Afrikaner en Afrikaner en Afrikakosse uit die boonste rakke. So elke sewende tafel herhaal al die temas weer van vooraf. Daar is ‘n tafel met bobotie en geelrys met gemengde groente. Daar is ‘n tafel met gebraaide, gedroogde appelkose met kasjoeneute en okkerneute en rosyne en vet, ronde, miniatuur, gedroogde vye. Daar is ‘n tafel met avokadopeer gemeng met uie en tamatie en neute en slaaie en bruinbrode. Daar is ‘n tafel met biltong en braaiboud en brandewyntert. Op een tafel is pinasie met mildelike, gebraaide dennesade bo-oor gestrooi. Aartappel en patatpannekoeke lok uit nog en nog ‘n vet, ronde silwerhouer op ‘n blourooi vlam.


 


Tussendeur is rooiwyn per bottel na bottel op reusegroot ysblokke met bottelgrootgate aan die koel bly.


 


Krokodilvleis en frikkadelle en nog en meer braaiboud en biltong plesier die knibbelende karnivore.


 


Ek loop om en om die swembad en proe en knibbel en knaag en plesier en bevry my palet. As my suikers vanaand te hoog opskiet, troos ek my dat ek ten minste oefening inkry met al die geloop om die swembad.


 


Ek proe vier maal aan die aartappel en patatpannekoeke en ontdek ‘n houer met klein braai-aartappels. Ek annekseer die hele houer. Ek eet geelrys met gemengde groente en vermoed dat ek dalk aan ‘n oordosis stysel mag ly. Ek skep die hele bak avokadopeer in my té klein bordjie en gooi dit goed met gebraaide neute toe.


 


As Vryheidsdag vandag niks anders vir my beteken as die bevryding van my selfgenoegsame sintuie deur te proe en te eet nie, dan was dit al klaar die formele pakkie se aantrek en die subwaylyn so en so kruis en dwars en Pieter se gekerm oor my brood deur en deur werd.


 


Ek loop drie maal om die swembad.


 


Ek ontdek waatlemoen en spanspek en pynappel en groot rooi korrels druiwe.


 


Ek weet nie of mense vir my kyk oor ek so mooi lyk, of oor ek so lekker eet nie.


 


Ek beruik en bekyk die tafel met die koeksisters en die tipsietert en die ses tuisgemaakte roomyse en die maroelamoes en die mieliepap – want hier sit selfs ek in ‘n lawwe gemini-vry van bevrydende vryheidsbui voet neer en begin wel my suikervlak in ag neem.


 


Moet bieg dat ek wel net so ‘n klitsie van die mieliepap geproe het.


 


Die click song speel in die agtergrond en ek gaan drink die grênd Hyatt se waterkan leeg.


 


Tussen die kossies deur is daar sulke oostersgerangskikte proteas in allerminimalisme en op ‘n sentrale punt spring ‘n springbok uit ys gekap iewers die Koreaanse lug in op. In die middel van sy lyf uit ys is die Suid-Afrikaane vlag aan’t drup en smelt.


 


Op ‘n gegewe bord-uit-die-hand moment gryp ek vir meneer Kekana, die huidige ambassadeur van Suid-Afrika in Korea, aan die skouer en ons neem ‘n foto met my weggooikamera vir my vriende en familie in Suid-Afrika.


 


Ek gaan krap in die besoekersboek. Dit is konsul van Switzerland en ambassadeur van Sudan en politikus van Pole en Rusland en Egipte. Daar is handtekeninge van Nieu-Guinea en Hongarye, China en Indië, Gaboen en Libië. Ek voel my jouwaarlikwaar vry weens die goeie geselskap.


 


Ek ontmoet vir Kim van Kaapstad. Sy gee vir my haar e-pos adres en belowe om vir my ‘n werk met meer geld vir volgende jaar te vind – ek moet net e-pos. Dit is nou al haar vierde jaar in Korea. Sy stel my aan Jason, ook van Kaapstad, voor, wat by een van Seoul se universiteite Engels gee. Hy doen sy doktorsgraad in letterkunde en is ‘n kenner van Koreaanse kuns en teater en musiek en kultuur. Na vyf minute het ek ‘n rits kontakplekke oor waar en hoe om kreatief te gaan ontdek. Hy nooi my ook uit om enige tyd te bel as ek musiekblyspele, operas, teater of fliek wil gaan kyk.


 


Korea kreatief meer helder en duideliker in een aand.


 


Pieter raak kriewelrig, want hy wil nog van sy cavinistiese goedjies in van Itaewon se nagklubs gaan bevry. Al die pad met die goue hyser ry ons tot by ontvangs. In die voorportaal aangekom, mis ek my noodgeval nooitvolprese brood.


 


Al die pad terug met die hyser gaan tel ek die brood op, net daar waar ek hom agter die muur met ons aankoms gaan gooi het. In Suid-Afrika sou hy nou al lankal van ‘n bom verdink gewees het.


 


Terug in die voorportaal hang my performermond oop voor ‘n groep uiters gekultiveerde Koreane wat in Westerse glansontwerpersuitrustings Cole Porter songs sing. Twee mans en twee vroue onder begeleiding van vleuelklavier en tjello en fluit.


 


Hier wil ek ook sing. Binnekort gaan ek my stem in Korea bevry. Binnekort gaan ek in die Grand Hyatt vyfsterhotel saam met die vleuel en fluit en tjello sing. En nee, nie Ruiter van die Windjie nie.


 


Het ek bygevoeg dat daar ‘n selfs meer stylvolle Leon Schuster moment was toe ek en Pieter die Ouere die kosomringde swembad verlaat? Wie se musiekversameling saam met die proteas uit Suid-Afrika ingevlieg is, weet nugter!


 


Ek en Pieter neem met ‘n goeie boerehanddruk afskeid in Itaewon. Na middernag ry ek met ‘n taxi terug Pung Nap Dong toe.


 


Ek kyk vir die ligte wat verbyflits.


Ek kyk vir die Hanrivier se brug.


Ek kyk na gebou na gebou na oosterling na oosterling in verbyryende motor.


 


Ek ek sê: Dankie, vir hierdie mooie môre. Dankie, vir hierdie nuwe dag.


 


In Pung Nap Dong koop ek groente-olie margarien drie-uur in die môre by ‘n kafee ter organisasie van my kort-voor-lank, nege-uur in die oggend ontbyt van soet, witbrood en margarien en piesang en grondboontjies.


 


Terug by die huis gaan lê ek op my kookwaterbed.


My kop spin.


 


Vir ure lê ek wakker en dink en verteer.


Vryer en gelukkiger van ver af.


 


johannes

by elizac

BRIEF TWAALF: VRYHEIDSDAG! (2)

Julie 25, 2009 in Sonder kategorie

Nadat ons van die pers lyn tot bruin lyn gerits het, spring ons op ‘n taxi op pad na die Grand Hyatt op ‘n bult net buite Itaewon. My mond begin al klaar oophang. Ek sien ‘n ander hoek van Seoul wat ek nog nie voorheen ontdek het nie. Hoewel daar nóg see, nóg water in sig is, lyk dit soos ‘n kusgedeelte wat met nou strate na heuwels toe opkronkel. Klein glansryke winkels met miniatuurligte daaromheen belowe velbehandelings en masseringsessies. Dit laat my aan ‘n meer mediterreense Kampsbaai kronkelpad dink. Growwer, glansryke Griekeland gekruis met sjiek, koloniale Kampsbaai.


 


Bo-op ‘n bult kyk ek terug op ‘n asembenewende uitsig. Elke deel van grootstad Seoul is sielvol geïntensifeer. Pienk/rooi perspekskruise op kerke, katedrale en heilige koepels, vermeng met swaastikas en bruin en grys huise en geboue, en die Hanrivier met die moderne Hanbrug waaroor karre, soos in n New Yorkse fliek met liggies wat van ver af blink en flikker, elkeen hul pad na êrens vind om wie weet waar te gaan bevroetel en te gaan bevry.


 


Ons hou voor die Grand Hyatt stil. Dit voldoen onmiddellik aan sy naam.’n Portier geklee in wit handskoene kom maak die kardeure vir ons oop. Ons klim voor hierdie majestieuse sag-oranje, gewaste, koloniale gebou af.


 


Hier kan ek bly, dankie.


Dit is vir my.


Dit is vir my.


 


Ek en Pieter betree die gebou en dit bring die wêreldburger/superster/welgestelde kunstenaar, harteredder en held in my uit. Ek kry so ‘n stappie op my en swaai die broodsakke van kroon tot voet. Pieter stel voor dat ek dit by ontvangs laat en ek ignoreer hom en swaai boud en voort.


 


Ons druk die goue hyser se poolside knoppie en al die pad af ondertoe betree ons die verhoog van die absurde. Want hier, my liewe vriende, ontvang Marie Antoinette ons om sonder die onbevryde gepeupel rondom die Olimpiese swembad koek te eet.


 


In die voorportaal is ‘n Koreaanse dame in Koreaanse drag by ‘n vyftal swart boeke uit handgemaakte papier almal aan’t vra om die boek te teken vir historiese verwysing. Ek teken: Johannes Lochner en skryf in groot voortvloeiende liglopende letters: Vryheid! Rondom ons gooi konsul so-en-so en ambassadeur die-en-daai in swart aandpak hul besigheidskaarte in ronde glashouers.


 


Ons loop verby drie Afrikaners op ‘n ry wat handskud en in Afrikaans sê: naand, naand, en welkom om te kom bevry. (Ek weet nou nog nie wie die tannie en die twee ooms op die rooi tapyt was nie. Ek vermoed hulle is van hogere politieke herkoms).


 


Voor ons ontvou ‘n toneel uit White Mischief of ‘n oosterse Kook en Geniet-advertensie. Reg rondom die Olimpiese swembad met drywende kerse op die waterkim, staan ‘n hondertal oosterlinge met aandkleertjies aan en meng met Ghananees en Afrikaner, Egipetenaar en Duitser, Libiër en Switzer – rooi wyn in die hand met Gé Korsten wat in die agtergrond sing: Tahiti verre land…


 


Nee, ek het nie self gedrink nie en nee, ek was ook nie op ‘n geestelike trip nie.


 


Met hierdie futuristiese wonderskone uitsig oor die hele Seoul en silwer ronde koepelhouers kos op dansende vlamme reg rondom die swembad, en Afrikavroue in tradisionele Afrikadrag en mense van die Kaapse vlakte wat in kypie aksente Afrikaans praat, speel Glennis Lynn en Four Jack’s and a Jill: Hi! Cassanova en sing Bles: Ruiter van die windjie. Ek verwag dat ek enige oomblik in Suid-Afrika op my ma en pa se mat in Vredendal gaan wakker skrik en besef dis alles net ‘n droom.


 


Op die oorhoofse horlosie bo die swembad sien ek die tyd kruip skuins voor sewe en so tussen my ongekende landgenote suit ek my onder ‘n boom langs die swembad in, gaan gooi my sak brood agter ‘n muur by die koffietafel en begin my eerste van vele sirkelgange reg rondom die swembad – skaamteloos die kos aan’t beproe en beruik.


 


Dit laat my dink aan een van ons familistories, dat toe ek ‘n kind was ek en my ma eenkeer na ‘n begrafnis toe gegaan het, en ná die tyd, op die begrafnisonthaal, het ek glo so baie geëet, dat toe iemand my ma vra of sy weet wie se kind dié is, sy my bloedlynverbintenis ten opsigte van haar hewig ontken het.


 


Wel, Moeder, vanaand oortref ek selfs my stoutste verwagtings met so ‘n skielike onverwagte vlaag Westerse kos. Die arme ou brood lê heeltemal geminag en wag om bevry en bevroetel te word. Maar laat hy maar wag, want sy hoogedele meneer kekane het darem nou vir ons gekýter.

by elizac

BRIEF TWAALF VRYHEIDSDAG

Julie 24, 2009 in Sonder kategorie



From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>


To:       avdspuy@indlovu.bortech.ac.za


Subject:           VRYHEIDSDAG


Date sent:        4 Mei 2001

 


Liewe Patriote, Landgenote!


 


On the occasion of the celebration of the seventh anniversary of Freedom Day, the national day of the Republic of South Africa, Change d’Affaires and mr Isaac Kekana, request the pleasure of the company of mr John Lochner at a reception on Friday, 27 April 2001 at 18:30 hours at the poolside garden, Grand Hyatt Hotel. Dress code: Formal. RSVP: 792 4855.


 


Vroeg Vrydagoggend beskeer en beskrop en besprinkel ek my en klim puur en gemanikuur uit my badkamerkas – reg om my voortydig op te dress om oor wêreldgrense heen die ietwat kontroversiële en ironiese kwessie van vryheidsdag in Suid-Afrika saam met my Suid-Afrikaanse landgenote in Korea te bepraat en te bespiegel en te beproe.


 


Op die bus op pad instituut toe sit ek in my grys/swart pakkie wat ek van my suster Marida se oorlede skoonpa geërf het, met my young designers swart hempie van Suid-Afrika aan en my nuwe glimswart das van ‘n straatboetiek in Seoul. Vandag arriveer John Teacher opgedress by EET en kan my skreefogige, maanlig-van-vel, fraai en fyne Koreaanse kleinvoetige studeten in my vroegtydige visuele inkleding vir die formeel aangetrekte Vryheidsdag deel, tot ek om sesuur vanaand saam met Pieter, die Ouere, op die subway klim, op pad na die Grand Hyatt Hotel in Itaewon.


 


Ek kry twee ure vroeër van die werk af om die historiese moment te kan gaan meemaak. Vlugtig dink ek terug aan twee jaar vroeër toe ek so ‘n bevrydende partytjie op die Parade in Kaapstad wou gaan bywoon en slegs ‘n paar honderd die-hards opdaag om te sing en op en af te spring en te glo dat ons wel vryer en vroliker in die nuwe Suid-Afrika van krag tot krag die toekoms in, tot eenheid heel en groei en ons nuutgevonde vryheid wyer en inniger oor Afrika uit laat kring.


 


Ek vermoed dat die res van die derduisende Suid-Afrikaners, landgenote, wat dié dag by die Parade verwag was, miskien bloot eenvoudig die publieke vakansiedag wou benut om te rus en te slaap – moeg van misdaad en geweld en min geld. Of miskien was dit die gebrek aan publieke vervoer op ‘n publieke vakansiedag? Of miskien was die vryheid onbevrydend – nie die vier werd nie?


 


Wat sal die Grand Hyatt en sy edele meneer Isaac Kekana vanaand ter Suid-Afrikaners-is-plesierig sewende vryheidsviering inhou?


 


Kort voor sewe hol ek na die winkel om die hoek en met effe suikerneurose en gebrek-aan-stysel geloof, koop ek vir my ‘n R10, tien sny goedkoop soet witbrood, net vir ingeval die grênd Hyatt nie aan my insulien-in-balans-met-koolhidrate diabetiese behoeftes kan voldoen nie. Pieter die Ouere gee my plastiese sak met brood ‘n op-en-af kyk, want ons is mos nou veronderstel om formee en grênd te lyk vir die Hyatt, maar ek hou my blind en swaai sak van skouer tot knie terwyl ons in ons pakkies tot by die bus, op pad subway toe, loop. Ons lyk soos kruisings tussen die veiligheidspolisie, Pretoriaanse politici en Afrikaners op pad om Vryheidsdag by die Grand Hyatt in Itaewon, Seoul, Korea, te gaan vier.


 


‘n Vlaag van ironie en absurditeit begin vroegaand reeds aan my agterkop karring. Pieter die Ouere mis die meeste van die obskure inleidende momente saam met my. Hy is veels te besig om homself senuagtig in die spieël te bekyk of hy dan nou mooi genoeg is vir meneer Kekane en sy vryerige dag. Ek verlang na my vriendin, Irise, wat altyd in volle waardering onomwonde saam met my hierdie absurde, surrealistiese verhoë van my lewe in ons wandeltogte in Suid-Afrika vreesloos bestyg en beklim het. Hoe slap sal ons nie vanaand rondom die swembad by die grênd Hyatt in stuiptreklaggende hiënas verander en kruip soos ons lag soos ons bevry vir die bevrydende geleentheid van Suid-Afrikaanse Vryheidsdag in Seoul nie.


 

Maar siende dat Pieter te veel met die spieël intiem verkeer, maak ek my gereed om die obskuriteit van die geleentheid tussen Johannes en John en al die ander gemini-alibi’s terdeë te geniet.

by elizac

BRIEF ELF: POSKANTORE EN ANDER DINGE (4)

Julie 22, 2009 in Sonder kategorie

Die tweevoet voorportaal lyk effens deurmekaar. My seksie skoentjies staan voor ons kamerdeur. Sok Jin het gevra of ek omgee as hy soms die seksie skoentjies gebruik om partymaal van binnekamer tot voorstoep te trippel, en siende dat kommuniële gebruik, van dinge soos uit een bakkie uit eet en seksloos saam in een bed slaap en truie en skoene leen, deel van die Koreaanse lewensstyl is, wie is ek nou om nee te sê? (Veral siende dat ek goed van Sok Jin se walk man gebruik maak, terwyl ek nog spaar vir ‘n Japanese een van my eie).


 


Sprong gespring bo-oor die seksie skoentjies, maak ek die deur van ons binnekamer oop, om ‘n vreemde kalant op een van ons tafels aan te tref.


 


‘n Monster-met-een-oog van ‘n televisie.


 


Sok Jin het vir ons ‘n tv gekoop.


 


Ek draai onmiddellik onvriendelik en suur my rug op die nuwe inwoner en karring en rasionaliseer in my kop oor hoe ‘n tv in die huis alles wat innig en intiem en medemenslik is, soos gesels en stilte en mediteer en dink, kom staan en omkarring – veral in ‘n huis die grootte van ‘n skoendoos. Tien minute later is ek só omgekrap, dat die tv ‘n monster van ‘n reuse doosgrootte oog word wat die hele kamer vol staan en blêr en bloei. Hoe ek ook al draai of staan of sit, ek kry hom nie geïgnoreer nie.


 


Opsluit hol ek die huis uit na die plantwinkel om die hoek. Ek koop hierdie enorme skoonmoeder-se-tong in ‘n oosterse pot met donker en ligbruin druiwetrosse daarop geverf. Swaar dra al aan die een kant gaan plak ek die skoonmoeder-se-tong voor die tv neer en verwag van die tong om hard en luid te begin gil, sodat dit in alleraardse plantgeit die tv kan uitbalanseer.


 


Al wat gebeur, is dat die kamer nou nog kleiner lyk en ek vermoed dat ek dalk aan Saterdagontdekkingstog uitputting ly, en loop slaap vir ‘n wyle op my kookwaterbed.


 


In een dag groei ons kamer in ons huis in Pung Nap Dong van inspirerende minimalisme tot groteske maksimalisme. Die vloer kraak, so dreun dit tussen potplant en tv.


 


Ek slaap dat dit spoeg.


Ek slaap die tv weg.


Ek slaap in ‘n katedraal onder die rok van ‘n bruid.


Ek slaap tussen vrae van wie en hoe oud en wat en waar?


 


Toe ek wakker word, sing mense iewers “Amazing Grace” in die middel van Pung Nap Dong in Korea.


 


Ek staan op en gaan kyk vir die tv. Ek sal van jou leer hou en jou tussen behoefte aan stilte en bid en mediteer en privaatheid deur in balans beheer, omdat jy dalk my visie van Korea kan verbreed.


 


Sok Jin kom huis toe en ek maak kloekgeluide rondom die tv en sê: pragtig en wanneer en wat kyk ons? En kyk ons nuwe plant! Skoonma-se-tong, nes die een wat my ma in ‘n ou melkemmer onder my kamervenster aangehou het, toe ek klein was. Dit laat my veilig en bekend en geborge voel.


 


En Sok Jin knik, en ek vermoed hy verstaan nie heeltemal nie.


 


Ons kyk tv. En ek begryp my aanvanklike teenskop, want ek raak heeltemal remote mal aan’t knoppies druk vir ‘n nag en ‘n halwe dag. Ek kyk Koreaanse melodramas, nes onse eie Egoli, waar mooi van vel en haar, Koreaanse meisies huil dat die Academy Award skaam sal kry omdat hulle dit nooit sal kan vereer vir goeie diens gelewer nie. Ek kyk ‘n hele kanaal vol spesiaal vir musiekvideo’s. ‘n Amerikaanse kanaal vir die Amerikaanse militêre diens wys die beste Amerikaanse flieks en programme wat ek ook in Suid-Afrika gesien het: Amy Mcbeal, ‘n drama oor ‘n hospitaal en een of ander tranerige familie-gesinsprogram. Stasie na stasie na stasie het speletjiesprogramme op, tradisionele en moderne Koreaanse musiek en ‘n Amerikaase formaat CNN-tipe stasie. Een kanaal word in Engels deur Koreane aangebied. Een program neem jou op reis deur Korea, met inligting oor vervoer en plekke om te bly, wat om te eet en waar en hoeveel. ‘n Ander program leer jou Koreaans, step-by-step.


 


Ek gaan sit die skoonmoeder-se-tong by die voordeur in die kombuis. Ek haal ‘n prent of twee rondom die tv van die muur af. Ek gaan sit in ons instapklerekas en skryf in my gratitude journal en bid my dankgebede en mediteer en luister na musiek – alles gelukkig en gesond en in beheer.


 


Ek gaan loop tot by die skoonmoeder-se-tong en sê: Welkom, en knyp hom aan ‘n blaar. En die skoonmoeder-se-tong sê: Dankie. Dankie. Dankie.

by elizac

BRIEF ELF: POSKANTORE EN ANDER DINGE (3)

Julie 20, 2009 in Sonder kategorie

 Op en af met die subway.

As ek gedink het Myeong-Dong was, teen die tyd dat ek daar weg is, gepak met lewende wesens, loop ek ‘n straat binne wat soos ‘n oopgekrapte miernes lyk. Dink aan die Kaapse stasie op ‘n Saterdagmôre. Vermenigvuldig dit met ‘n miljoen.

Daar is stalletjies met pynappels en spanspekskywe op stokkies wat op blokke ys lê en wag om aan gelek en gesmul te word. Sonbrille en sonbrille en oliebolle en tradisionele geregte en pakke en hemde en ontwerperskoene en juweliersware en horlosies en etiket na etiket na etiket in ‘n deel wat bekend staan as: Fashion City.

Hoewel ek vroeër van die smaakloosheid wat Koreaanse algemene kleredrag betref, geskryf het, is daar die ekstreme van besonderse ontwerpersbewustheid met labels soos Prada, Gucci, Dolce en Gabbana, en dan natuurlik die kersierooi en lemmetjiegroen en kanariegeel en asuurblou kleure van die Koreaanse tradisionele uitrustings. Ek het twee ou welgestelde dames ‘n luuksehotel sien binnegaan met die mees elegante hanbok-uitrustings in grysblou. Moet-afgeneem-word mooi.

Soos gewoonlik moet ek op ieder en elke vlak van ieder en elke kooppek rondloer en teen twee-uur voel my lyf dat dit voor sewe met poskaartpos-opgewondenheid wakker geword het. Op pad terug subway toe koop ek vir my ‘n suigstokkie pynappel e suursoet en yskoud in die mond soek ek die pers lyn.

‘n Langhaar Koreaanse jongetjie kom skud my hand omdat ek groot oë het en pienk van kleur is. Ek knik vriendelik, maar voel ‘n effense knor in my agterkop, bang datek nou my vroeëre volprese publieke privaatheid vir goed verloor het.

Om die hoek van my huis by Cheono stasie kry ek fliekbehoefte. Ek spring op ‘n bus Lotte World toe, want ek kan iets onthou van ‘n Julia Roberts fliek wat binnekort begin. In Lotte World aangekom, wat, neem ek aan, op Suid-Afrikaanse bodem ‘n vermenigvuldigde Cavendish Square is, lees ek tussen die Koreaanse lyne deur dat The Mexican, met Julia in die hoofrol, eers volgende Saterdag, die 28ste April, op my papie se 89ste veraardag sy eerste vertoning sal gee.

Ek sal dit dan maar op jou verjaardag ter viering gaan kyk, liewe pa.

In die winkelsentrum hardloop drie kindertjies agter my aan en verduidelik dat hulle as deel van hul Engelse huiswerk aan iemand Engels die volgende vra moet stel:

§ Wat is jou naam?

§ Hoe oud is jy?

§ Waar kom jy vandaan en wat se Koreaanse kos eet jy graag?

Oortuig dat my privaatheid nou al die tyd ‘n sindroom was, antwoord ek John, lieg ek: dertig, sê ek: Suid-Afrika en beïndruk hulle deur my gunstelingkos in Koreaans te lys as keembap (wat Westerlinge sushi noem – seegras rondom rys gerol), kimchi, meeyok gook (seegrassop) en nok cha (groentee).

Droog in die keel en groentee gereed sluit ek ons geliefde huis se voordeur in Pung Nap Dong oop.

by elizac

BRIEF ELF: POSKANTORE EN ANDER DINGE (2)

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

Vanmôre se gehuppel het as eindbestemming: Meong-Dong. Dit staan bekend as die buurt met die meeste winkels op die kleinste lap aarde en daarom dus die meeste inkopiegangers per vierkante meter. In Meong-Dong is ook ‘n Roomskatolieke katedraal. Die enigste katedraal in Seoul.

Ek voel na liggaam en siel opgewonde, want beide my begeertes na die bevrediging van die vleeslike en my voedselhonger gees kan vandag hier in een pakket gestimuleer word en tot rus kom.

Asof ek nou al my hele lewe lank met die subway kruis en dwars oor Seoul koop en kuier, spring ek tussen elektroniese skuifdeure deur p die trein met die pers lyn by my naaste stasie in Cheono, om elf stopplekke later by Dongdaemun Stadium die bruin lyn tot by Myeong-Dong te neem. Weer eens gaan die treinrit te gou verby. Ek verkyk en vergaap al te lekker en dit bly nog elke keer vir my ‘n nuutjie om op ‘n skoon graffitilose wa te sit en die hele subwaymasjen goedge-olie en foutloos aan’t opereer, te ervaar. Daar is ‘n trein in dieselfde rigting elke twee minute.

My reisgids het belowe dat Myeong-Dong menskyk werd is. Een ding wat Suid-Afrika altyd hoogs bevredig het, was my lus vir mense bekyk. Afrikane en Afrikaners, Indiérs en Engelse, Duitsers, Hollanders, Franse, Griek Jood en Mohammedaan. Hier in Seoul sien ek negentig persent van die tyd Koreane. Tussendeur is daar vele Japanese toergroep wat Korea as een van hul gunsteling vakansiebestemmings beskou en dan heelwat Amerikaners wat vir die militêre diens werk. Ek sien veral Afro-Amerikaners wat net soos die African Americans uit die hip hop en rap video’s lyk, met ontwerperstekkies aan en dungarees in blou denim en dik, silwer juwerliersware en musse op hul koppe.

Hier en daar, soos ‘n motreën in die somer, sien ek ‘n Europeër my pad kruis. Ons kyk mekaar dan alwetend op en af, maar spraak g’n sprook nie. Ek kon nog nooit werklik begryp hoekom mense ander lande gaan besoek en dan probeer om hul land van herkoms daar te herskep nie. Dan kan jy mos netsowel by die huis bly. Ek vind dat deel van die opwinding vir my hier juis my eie- of andersoortigheid is en my publieke stilte sonder Koreaanse taligheid. Ek hoef nooit kontak te maak as ek nie so voel nie en ek geniet die privaatheid terdeë ná ‘n leeftyd van kommentaar om elke tweede hoek en draai in Suid-Afrika.

Wel, vandag blyk dit dat ek my woorde effens sal moet sluk. Maar daaroor ietwat later.

Teen elfuur kom ek by Myeon-Dong aan, wat nog eintlik vroegmôre in Korea is. Klotsies mense stap oral tussen die nou strate met winkel na winkel na winkel, rond. Ek kan sien dat die gesigte hier wel meer kunssinnig en stedelik voorkom, met ‘n paar Koreaanse jong dames in ontwerpersklere (pienk pashminas oor ‘n stylvolle, grys, nousluitende, knielengte rok met ontwerperskoene waarvan die tone omtrent drien nommers te groot is, en hierdie lang, elf-puntige vorm). Vele rooikopgekleurde jongelinge kruis en dwars die strate en twee meisies van ‘n advertensiemaatskappy agtervolg al die rooi kapsels met ‘n silwer videokamera-ontwerpersnommertje op soek na materiaal vir ‘n advertensie. Ek proes natuurlik heeltyd in my mou, dat dit wat vir my alledaags in terme van haarkleur is, hier as ekstreem beskou word.

Nou ja, geliefdes, dit is dan in Myeong-Doong wat my publieke privaatheid in westerswees sy knou kry. Siende dat dit ‘n meer moderne deel van Seoul is, loop daar vele Engelssprekende Koreane rond en hulle blyk altyd gefassineer te wees met westerlinge in Asië.

‘n Hele televisiespan spring op my af en begin uit te vra. Waarvandaan en vir hoe lank en wat dink ek van Myeong-Dong en waarmee sal ek dit in Suid-Afrika vergelyk? Die eerste plek wat by my opkom is die Groentemarkpleiin in Kaapstad met die katedraal in die agtergrond en Langstraat aan die kant.

Tot dusver het ek nog nie foto’s geneem nie, want ek wil eers vir my ‘n behoorlike kamera koop. Maar vandag neem die fotolus in my oor en ek koop vir my R60 se weggooinommer (10 000 Won). Dit maak die fotograaf in my heeltemal wild en wakker.

Ek sien hierdie ouwêreldse houtwaentjie buite ‘n winkel geparkeer staan, met coke bottels daarop gepak. Ek volg die waentjie die hele Myeong-Dong deur en gebruik dit as leitmotiv om foto’s te neem. Op pad kom ek ‘n vrou teë wat ‘n skinbord kimchi op haar kop dra en agter haar rug kliek-kliek johannes trigger happy.

In die Kodac magic moment kyk ek skielik op en daar staan die grote katedraal bo-op ‘n bult in die middel van Myeong-Dong. Sterk. Mooi. Impossant. Sonder nonsies.

Ek loop met ‘n grondpad wat met ‘n gewone huismat bedek is tot by die katedraal.Voor by die ingang staan mans in pakke rond, met vrouens in tradisionele Koreaanse rokke (hanbok). Hulle woon ‘n troue by. Om die hoek van die katedraal is ‘n winkel met prente van Jesus in ‘n lendedoek, ringe waarmee jy jou trou vir Christus kan aandui, beelde van Maria en die kleine Jesus in hemelblou en lekkergoedpienk en horde Jesusse aan die kruis in verskillende style en vorms.

Ek wil vir my ‘n ring koop met ‘n bloedrooi Roomskatolieke kruis op. Die ring is prysloos. Die klok slaan twaalfuur en die twaalfuurgebed word gedoen. Die verkoopsassistente maak opp die oomblik wat ek ringprys wil vra oë toe, en ek staan monnikematerialisties en wag dat hulle klaar moet bid sodat ek my ring kan koop.

Op pad met die bult op, op die spoor van die katedraal, agtervolg ek twee nonne wat met ontwerpersetiket inkopiesakke die pad katedraal toe vat. Ek klik weer eens lustig agter hul rûe en tite my foto: Nonne in Prade, of Ontwerpersnonne.

Binne-in die katedraal is die trouprosedure besig. Reg voor in die kerk is ‘n bruid en bruidegom in westers wit en swart besig met die trouformulier. Ek voel half spesiaal vir die voorreg van troudophou en niemand, lyk my, gee om nie.

Buite neem ek foto’s en ‘n Koreaanse omie dui aan dat hy wil gesels. Ek knik egter vriendelik kop en stap aan asof ek nie begryp wat van my verwag word nie – die tv-onderhoud energie nog aan’t herstel.

Terug in Myeong-Dong kry ek ‘n erge aanval van miere in my agterkant en besluit om te gaan kyk hoe Dong Daemun daar uitsien.

by elizac

BRIEF ELF: POSKANTORE EN ANDER DINGE (1)

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject:

Date sent: 23 April 2001

Vanmôre vlieg ek vroegmôre met Mozart uit die bed. Ek is soos ‘n opgewonde kind op sy eerste dag op skool met nuwe skoolklere in die kas wat nog na winkel ruik om vir die eerste keer aan te trek.

Dit is Saterdag.

Ontgin en ontdekdag.

Ek en my eerste bondeltjie poskaarte aan vriende en familie oor die hele wêreld gaan eerste na die poskantoor om die hoek waar jy net mooi hoef te staan en lyk, want alles word vir jou gedoen, van seëls plak tot in die bus gooi.

Op pad loop ek verby ‘n dierewinkel en wat sal ek jou waarlik in dir middel van grootstad Seoul met sy veertien plus miljoen siele en sy Prada, Gucci en Gabbana winkels te sien? Voor die dierewinkel, in ‘n hout-en-draadhok, skrop twee kapokhoenders rond. Hulle lyk op ‘n druppel water na nes my kindertydse troetelhen en –haan waarvan die haan oor die twaalf jaar my getroue sielsgenoot en vriend was en soggens agter my aan skool toe gedraf het.

Ek bespiegel en beplan dat as ek nou die twee sou koop, waar ek hulle in ons skoendooshuis sou aanhou met die minste moontlike geskierie op onse kookwaterbeddens. Natuurlik sê die praktiese moederstem in my: jy’s laf. Loop pos jou poskaarte, en met ‘n seer hart skeur ek my los van die twee skroppendes wat tien teen een binnekort tussen seegras en suurkool deel van ‘n rysgereg gaan word.

Op pad poskantoor toe bekommer ek my dat hulle my dalk by die poskantoor gaan dagvaar of opsluit. Ek het weer in erge geministyl effe heeltemal oorboord gegaan met woorde op baie klein stukkies vierkantige papier en heeltemal vergeet om plek te laat vir ‘n posseël of twee.

In die poskantoor hou ek my poskaarte, met die prentkant na bo, skamerig na die vrou agter die toonbank toe uit en vra: hoeveel na namapuureeka?

Sy dring daarop aan om self die seëls te gom en te plak en ná ‘n paar eenlettergrepige weieringswoorde van my kant af, gee sy die stryd gewonne.

Gelukkig is die possëels piepklein, maar ek moet nog steeds mik en fokus en indruk om dit iewers in die middel of langs die kant tussen brief en adres vasgeplak te kry. ‘n Taak waarmee ek my nie-Afrikaanslesende Koreaanse poskantoorsuster tot op hede nog nie vertrou nie. Want wat as sy nou die posseël oor “ek het jou lief” gaan staan en plak?

Die seëls en koeverte in Korea het nie gom op nie. Ek weet nie of die Koreaanse departement van gesondheid so ‘n gelekkery aan posseëls as ‘n gesondheidsgevaar verklaar het nie, want as jy kyk hoe baie die mans hier rook en hoe wit die water van chloor is, moet hulle hulle se prioriteite regkry. Oral op die toonbanke lê geel houertjies taai gom. Almal begom woerts-warts hulle seëls en binneflappe van hulle koeverte en siedaar! is hulle briewe gomgereed vir besending.

Tussen my gombewondering deur sien ek uit die hoek van my oog dat daar ook twee rekenaars in die poskantoor is waarop jy tussen briefpos deur gou kan e-mail. Dit, plus hul gratis yskoue drinkwater in die hoek, en die mooi gerangskikte blommetjies oral, laat my net nog meer kinderlik tevrede by die poskantoorvoordeur uithuppel.

by elizac

PAASFEES

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject: geseënd

Date sent: 29 Maart 2001 02:54

Geseënde pase.

Mag daar duiwe uit jou hart uit opvlieg en jou kop en gees lig maak.

j