Jy blaai in die argief vir 2009 Junie.

by elizac

BRIEF TIEN: TWEEDE NUWEJAAR

Junie 28, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject: 2de nuwejaar

Date sent: Monday, April 01, 2001 11:20 AM

Die elfde, twaalfde en dertiende Februarie val volgens die maankalender op die eerste, tweede en derde Januarie en is gevolglik hier tweede nuwejaar. Dit staan as um-nyok sol-nal bekend. Soos met die meeste ander Koreaase feeste kom families van heinde en verre bymekaar met ‘n kospakkie in die hand om mekaar geluk op die nuwe jaar toe te wens. Ons kry elkeen van Young-Tae ‘n geskenkpakkie met gesigseep, bevogtiger, ‘n waslappie en ‘n seephouer – alles aantreklik in ‘n glanserige kartonhouer verpak, met ‘n liefdevolle, beblomde rooi rose kaartjie daarby.

Ek hou die kaartjie vir my sentimente-album. Die geskenkpakkie gee ek, weens my gevoelige velletjie, vir die keembapjuffrou om die hoek waar ek altyd my aandete-keembap laat maak. Sy het besluit dat sy baie van my hou en ek kry atyd ‘n ekstra rolletjie seegras en klewerige witrys as ek keembap by haar bestel. Dan vra sy op die koop toe ook nog vir my die helfte van die kossies se prys en voer my van tyd tot tyd met ‘n ekstra gratis dingetjie uit haar publieke kombuis.

Die drie dae van sol-nal is publieke vakansiedae. Volwassenes bring kos-offerandes aan hul afgestorwenes en sit boepenspere en rooi rissiegeregte en opgekookte worteltjies en bakkies rys en water en neute en blomme en kerse voor hul moeders en vaders se foto’s of op sommige se boepens heuweltjiesgrafte. ‘n Grafgedenksteen in Korea is ‘n hopie grond wat rondvormig is, met gras bo-oor geplant, asook ‘n rooi rissieboom of twee. Sommige grafte het reuseboepensheuweltjie bo-oor wat amper die grootte van ‘n regte heuwel uitmaak. Só ‘n heuwel vorm dan ‘n familiegraf.

Oor tweede nuwejaar word die kinders geld in die hand gestop. Hoe laer jy voor jou ouer meerderes buig, hoe meer geld beland in jou hand. Selfs in die middel van die besige, moderne stad tussen vaartbelynde, snelle treine op subways deur, sien jy jong seuns en dogters laag voor tannies en oom tydens sol-nal buig. Ook ek kry 1000 won (min of meer tien rand) by die keembapdame present.

Ek skep oor die drie dae nuwe oosterse avonture en ruk my organisasiepen uit vir elke dag ‘n dag. Die eerste dag besluit ek en Glen om by Lotte World te gaan ysskaats. Mag ek wel eervol vermeld dat ek my my lewe lank nog op niks kon balanseer nie. Op die rype ouderdom van agtien het ek op my suster-hulle se plaaserf buite die paarl met behulp van die kinders se fietse my ten minste vir die duur van die lengte van die erf op die fiets gebalanseer gehou. Eenkeer as student op Stellenbosch het dit my en ‘n vriendin twee ure geneem om van Voëltjiesdorp (seker so twintig minute se ry per fiets tot by die universiteit) tot in Stellenbosch te pender, omdat ek kort-kort my balans verloor het en op die ou-end die fiets dorp-in moes stoot.

Met die ysskaats gaan dit toe ook nie veel beter nie. Maar ek is vasbeslote om ten minste een maal reg rondom die baan te probeer skaats.

Dit blyk toe amper net so ‘n groot uitdaging ter balans te wees om op die skerp lemme van die skaatse vanaf die skoene se aantrekgedeelte tot by die ysskaatsbaan te loop. Ek voel soos ‘n manwat ek altyd in Observatory in Kaapstad gesien draf het met kromgetrekte bene. Ek waardeer toe sommer my bene heelwat meer teen die tyd toe ons by die baan uitkom.

Van ‘n toeskouerpunt af lyk die tegniek van ysskaats vir my heel maklik. Jy gooi jou lyf effe vooroor, sit jou hande agter jou rug, krom jou knieë en siedaar: gly, gly en al in die rondte, om en om gee jy sulke lang treë terwyl die gly/loop in skaats verander. Ja nou maar wel. Die oomblik toe ek my skerp lem ysskaatsvoet op die seepgladde ysbevrore baan neersit, klou ek verbete om lewe en dood aan die rand van die ring vas, en laat los, laat los ek nie. Ek is nie eens vir ‘n miniskule moment gebore in staat om my balans te handhaaf nie. Ek wil opsluit óf vooroor, óf agteroor neuk.

Glenn sê: sit nou net jou een voet voor die ander en gly/loop en voor jy weet, skaats jy. Sê wie? Ek sit my een voet voor die ander en die been wat agterbly, weier om te beweeg. Ek klou so verbeter aan die rand van die baan vas, dat my arms krampe begin kry. As ek iewers op ‘n punt in my ringgeklouery kom waar iemand voor my staan en my klouplek belemmer, maak ek gromgeluide op Engels om hulle uit my pad uit te intimideer.

Van tyd tot tyd maak Glenn ‘n draai of twee om die baan, terwyl ek voort klou. Dit neem my amper ‘n uur om om die baan geklou te kom. Toe Glenn die tweede keer by my verbywarts, sê ek: nee wat, as ons terug by die ingang is, is die avontuur ook vir vandag verby. Verder as klou en krampe kry, sal my ysskaatstegnieke nie vandag vorder nie. En, voeg ek by, die ysskaatsstorie is nie eens ‘n sin in my Koreaanse kronieke werd nie.

Glenn grinnik en gaan skaats vir oulaas nog een keer om die baan. Ek kloubereik amper die eindpunt van die ingang en is heel trots op myself dat ek ten minste nie een maal ys aan kop en sitvlak gevoel het nie. Net voor ek die ingang bereik, draai ek om om te sien waar Glenn hom bevind.

Die volgende oomblik peil Glenn met swaaiende arms op my af. Hy verloor sy balans en wil neerslaan. Sy arms en hande gryp soos ‘n eksotiese Egiptiese priesteres met dertien arms en ses-en-twintig hande deur die lug. Hy gryp aan my sjokoladebruin ferweelbaadjie vas en ruk my baadjie se sak van my lyf af. Ons Koreaanse toeskouers is slap van lyf agter handbedekte mone aan’t beduie en lag. Glenn herwin sy ewewig en ek staan met my baadjie se sak op my bobeen en lag my van my balans af.

Dié keer is dit ek wat na Glenn se kant toe gryp, maar voor ek my kom kry, lê ek vier bene in die lug met ‘n yskoue agterkant en ‘n saklose baadjie. Terug in die aanpasgedeelte sit en werk ek my sak aan. Vroeër die dag het ek, heel ironies, maar nou prakties/sinchronisties, vir Glenn ‘n naald en gare van my huis af as ‘n geskenk saamgebring – min wetende dat ek dit self binnekort nodig sou kry.

Die ysskaatsstorie groei ten minste van ‘n sin tot ‘n paragraaf. Reg deur die dag loop en proes ek nog oor die afgerukte saktoneel van my eerste Koreaans poging om te probeer ysskaats.

Later die aand gaan eet ek en Glenn by ‘n Koreaansvegetariese restaurant: Sanchae in Maebong. Oral op rakke staan ingelegde knoffel en rissies en wortels. Teen die muur is ‘n prent van Jesus en ‘n foto van die eienares toe sy in ‘n tv-program oor haar restaurant verskyn het. Organiese opwasmiddels, in plastiese houers in grasmandjies gerangskik, word te koop aangebied.

Ons kan kies of ons op die vloer of by ‘n tafel wil sit. Ons kies die tafel. Die kos is tradisioneel, en die tekstuur en die geure is voortreflik. Ek het die geskakeerde keuses van kossies by die restaurant al voorheen by ander tradisionele kosplekke beproe en geëet, maar die kwaliteit is hier onomwonde van ‘n ander klas. Voor ons op die tafel is min of meer ses-en-twintig klein bakkies met gepeperde worteltjies en sesamsaadgegeurde groentes en kim-chi en verskillende soorte tofu en soppies en borrelende soppe en aartappelpannekoeke en die tradisionele bakkies wit rys as basis. Ons eet en ruik en proe en sluk tot ons mae ‘n boepensvol ronde vredige kommetjie van medemenslike bederf vorm.

Die volgende dag gaan ek op besoek na die Chongdong tradisionele teater. In die middestad loop ek al met die klipmuur van die Deoksung paleis af. Kort voor lank kry ek die tradisionele teatertjie op my regterkant.

Voor in die portaal is daar allerhande eksotiese oosters gekleurde aandenkings te koop: waaiers en lapbeursietjies en groen klipringe en groen potjies met wit vliegende ooievare op. Jy kan ook van jou ‘n foto in tradisionele kostuum laat neem wat in innige pienk en inkblou en ruimrooi en eiergeel aan ‘n reeling hang.

Die teaterprogram bestaan uit ses verskillende algemene nommers. Dit open met ‘n ensemble van hofmusiek wat tradisioneel vir die adelstand aan die hof gespeel was: jeungak. Die glim symateriaal, elegantgeklede groep op die verhoog lyk soos ‘n glansposkaart wat lewe kry.

Tweede op die program is ‘n waaierdans met die mees eksotiese gegrimeerde Koreaanse dansers wat op jubelende musiek met waaiers in presiese ritme swaai en waai en draai. Die kleure van die kostuums is meer intens as wat ek gewoonlik op straat sien.

Hierna volg samulnori met tradisionele orkesbegeleiding. Samulnori is tradisionele Koreaanse boertige fluitmusiek en is taamlik opruiend. Die vorm ‘n kalmer balans met die meer elegante orkestrale musiek as basis.

Salpuri is volgende aan die beurt. Dit is ‘n dans met behulp waarvan die bose geeste besweer word. Mans mt linte aan hulle hoede vasgebind, tol teen ‘n verstommende spoed al om al om, terwyl hulle op ‘n uurglasvormige drom slaan.

Dan volg ‘n pansori-moment. ‘n Dramatiese storie van liefhê, heimwee en leed word met behulp van drombegeleiding uitgesing. Sangomi: die driedromdans, bou tot ‘n klimaks op. Pangut sluit die program af met ‘n groep plaaswerkers wat dans en tol en draai en dromme slaan.

As ek ‘n eg klassiektradisionele Koreaanse ervaring onomwonde kan aanbeveel, is dit die optree van tegnies hoogsverfynde, tradisioneel uitmuntend uitgevoerde teater. Elke nommer is net lank genoeg om die aandagspan volkome te behou. Die kleure van die kostuums en die grimering is intens en teatraal en behou die aandag soos ‘n honger by voor ‘n vroeglente kelk. Op ‘n skerm aan die kant van die verhoog word al die nodige inligting van elke nommer in Koreaans, Engels en Japannees/Chinees verduidelik. Voorwaar Koreaanse ambassadeurswerk uit die boonste rakke. Ek het nie eens een maal ‘n uiltjie wou knip nie!

Die laaste dag van my sol-nal ervaring gaan ek op besoek aand ie Sheraton Walker Hill Hotel bo teen die berg buite Cheonho. Dis ‘n vyfster hotel met die enigste vier-en-twintig uur casino in Seoul. Ek neem ‘n huurmotor tot by die hotel en voel soos een of ander ster op besoek. Ek hou daarvan om rondgery te word – veral as ek alleen agter in ‘n rytuig sit en die bestuurder is in uniform.

Die hotel self is would-omring met ‘n luukse swembad en tennisbane. Hier sal ek beslis tydens somers kom rondstap. Dit is vry van die verkeer van ‘n paar honderduisend voetgangers soos by die meeste gewilde uithangplekke in Seoul. Binne is die hotel in roomminimalisme van kunswerke en glanshandelsnaamwinkels geklee. Ek loop eers ‘n draai om die casino en betree dan die calvinistiese verbode dobbelwêreld. Ek waag my hand aan ‘n knoppiedrukmasjien en wen tweehonderd rad. Ek is trots dat my selfdissipline my toelaat om die wengeld in my sak te steek, sonder om verdere kanse te waag. Ter afsluiting van die tweede nuwejaar vars briesie vakansiebreek, koop ek vir my die volgende naweek ‘n paar nuwe stukies musiek met my verworwe wennende wins.

Terug buite, wagtende op ‘n huurmotor, loop Prada, Gucci en Armani, Louis Vuiton en Coco Chanel gekleede Oosterse dames net soos in die modetydskrifte wat ek altyd in die biblioteek op Vredendal deurgeblaai het, by my verby. Ek staan buite die hoofingang van die hotel onder oorhoofse verwarmers en wag en vermoed dat my lewe eintlik die lief en leed, eb en vloei, skaduwee en lig werd is.

Kersfees = song-t an-jol

Nuwejaar = sol-nal

Tweede Nuwejaar = um-nyok sol-nal

um-nyok sol-nal

Suid-Korea

2002

by elizac

BRIEF NEGE: KOREAANSE PAASFEES

Junie 28, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject:

Date sent: 18 March 2001

Broeders en susters

Julle het nog nooit Pase gevier as julle dit nie in Seoul gevier het nie.

Ek en my kollega, Pieter die ouere, gaan vanmiddag na sy Presbeteriaanse kerk in die hartjie van Seoul. Ons kom om die draai geloop en hierdie futuristiese gebou van ‘n kerk verrys uit die Germaanse. Kerke hier is nie gewone baksteen-en-sement kreasies waar mense nederig hul hoofde gaan buig in ootmoedige aanbidding nie. Geen Calvinistiese skeppings nie.

Die meeste kerke is omring deur winkels en kafees en groente- en blomstalletjies. Dit lyk asof hulle op ‘n vreemde planeet hoort. Sommige kerke is van ‘n ysteragtige stof gemaak en party het twee torings van metaal. Bo-op die toring is pienkrooi perspekslykende kruise.

En daar is ‘n kerk om bykans elke twede hoe en draai. As ek deur die gebou waar ek werk se venster kyk, tel ek daar alleenlik by die twintig kruise. Elke nag is die stad in honderde rooipienk gloeiende kruise gehul, wat van straathoek tot straathoek bo-op die dubbele torings gloei.

Ek en Pieter kom om die hoek van die kerk gestap en op ‘n kerkgrote doek hang ‘n skildery van Jesus buite die kerk. By die tienduisend mense staan buite die kerk en sing.

Op die spesifieke moment toe ons om die hoek verskyn, laat die een pastoor dertig plus spierwit duiwe uit ligte vliegbare plastiek gemaak uit ‘n lugdigte houer, wat hul in die lug laat opskiet en ‘vrede’ oral oor die derduisende mense se koppe laat rondvlieg.

Emm, kan ek sê dat ek bietjie oorweldig was, siende dat, toe ek laas Pase gevier het, dit in Vredendal was met voorlesing, gebed en gesang sus en so?

Voor ek en Pieter die kerk binnegaan, drink ons eers water in ‘n reuse-eetsaal waar die kerkgangers middagete nuttig. Kindertjies hardloop rond en mense kwetter en kou. Ons gaan sit voor in die kerk in die bank vir eerste besoeke. Jongmense is besig om klanktoerusting te toets en voor op ‘n tafel staan ‘n twaalftal goue klokke. Predikers kom groet en skud hand en vra: ook van Kaapstad in Nama Pureekaa? (Nama Pureeka = Koreaans vir Suid-Afrika) terwyl hulle in my rigting beduie.

Die diens begin.

Die kerkkoor sing uit volle bors. Ek wil aansluit. ‘n Groep jongmense neem voor die luidsprekers posisie in. Hulle sing en sing en sing. Voor op ‘n oorhoofse skerm verskyn al die woorde en van tyd tot tyd beelde van die sangers en predikers en gemeentelede. ‘n Charismatiese Koreaanse prediker met ‘n Amerikaanse glimlag met ‘n Amerikaanse aksent en Amerikaanse tande preek en bid en dans en sing. Agter hom verskyn ses jong meisies en hulle klap hande en sing: prys die Heer! tot hul wange gloei.

Ons wens mekaar ‘n geseënde Pase toe. Amen! Halleluja!

Terwyl almal die geloofsbelydenis doen, kom ‘n vreemde hartseer oor my wat ek nie ‘n naam kan gee nie.

‘n Amerikaanse prediker vertel die paasverhaal vanuit al die opgetekende hoeke. Hier moet ek bieg dat my dramatiese self harder moet werk om te bly inneem. Ek begin die klein Koreaanse dogtertjies voor my se haarbobbles in detail bestudeer. Die een het sulke groot rooi wolballe in haar hare. Dit laat my dink aan kindertyd in die moedergemeente op Vredendal toe ek die aantal ronde rame in die vensters en die ronde kringe in die koepeldak by die naam kon noem. Ek kon nooit verstaan hoekom iemand aan my ‘n storie moet vertel wat ek self iewers kan gaan oplees nie. Ek soek iemand se interpretasie en insig.

Gelukkig het die Koreane ook ‘n sterk sin vir die dramatiese en kort voor lank verskyn drie Koreaanse engele met ‘n fenominale sin vir balans en balanseer in allerleie soepel posisies op amazing grace. ‘n Groep jongmense gaan neem plek agter die klokke in en beier een of ander gesam met indrukwekkende konsentrasie uit die klokke uit. Ons klap hande en knik: Pase. Pase. Geseënde Pase.

Die predikant se seun kom doen aankondigings en nuwe gemeentelede stel hulleself bekend en kry ‘n groot ronde speld op hul bors om hulle te verwelkom. Die koor breek weer los in samegesang en almal sing en prys en knik en groet. Aan die einde van die diens kom skud die res van die predikerklossies hand en wil my inspan in hul kerkaktiwiteite met drama en sang.

Ek en Pieter gaan eet in die eetsaal. Ons kry groente/kolerige heerlike sop en klewerige rys en keemchee vir middagete teen R12 ‘n maal. Ek sê: gogee – a nee yo! (geen vleis nie!) en vra vir ‘n dubbele skeppie keemchee. Pieter betaal vir my maaltyd.

Ná die tyd neem ons ‘n bus Lotte World toe. Dit is ‘n groot winkelkompleks met ‘n internasionale hotel en winkel na winkel na winkel en – halleluja – vyf verskillende fliekplekke, een met drie Engelse flieks. Ek is fliekhonger na ek in Suid-Afrika gewoond was om ‘n fliek ‘n week te gaan kyk. Hier het ek nog net een rolprent gesien. Die fliekplek om die hoek van waar ek bly, het net Koreaanse flieks en af en toe een skop-en-skiet Amerikaanse nommer.

Ek en Pieter gaan sit in ‘n koffiewinkel reg langs ‘n ysskaatsbaan waar Amerikaanse soldate en ou ooms en klein vallende kindertjies almal saam skaats. Die koffiewinkels het sofas in plaas van stoele en ons sit sag en agteroor en kwinkeleer op Afrikaans en Engels. Ek besluit om vandag teeloos agteroor te sit, want my sisteem raak nog gewoond aan die effe hoër pryse vir drinkgoedjies in restaurante en kafees. ‘n Enkele gewone koppie tee, dames en here, kos ‘n wopping R24! A nee yo! Daarvoor kan ek vir vier maande lank rooibostee drink, as ek my hele boksie per maand opgebruik.

Op pad huis toe loop ek verby sulke oulike waatlemoentjies – die grootte van ‘n spanspek – vir die ouliker prys van R50 ‘n waatlemoen. Maar dan is die gemiddelde salaris drie maal hoër hier as in Suid-Afrika. Ek dink egter nie julle besef hoe bevoorreg julle met kos- en huispryse is nie. ‘n Gemiddelde drieslaapkamerhuis verhuur hier vir plus minus R50-70 000 per maand. Jip, julle het reg gelees. En dan moet jy voor die tyd dertig tot vyftig duisend rand deposito betaal, wat hier as key money bekend staan.

Ek en Peter neem die subway terug huis toe en kindertjies gaan die twee witmense met groot ooglede aan en beduie en bespreek agter bakhande van waar die twee van ons dan nou verdwaal het. Ons groet op ‘n genoeglike paasfees.

Ek vaar die Hyundai-winkelsentrum met elf vloere binne en draf gou vinnig oor E-mart toe om aandete te gaan koop. Knibbelend aan geroosterde grondboontjies loop ek met ‘n gesang in my hart en ‘n huppel in my skop Pung Nap Dong binne. In die hoek van my kamer, op my vloer, nuttig ek aandete: wit soet brood, mielies, tofu, grondbone, piesang en klein blokkies seegras.

Ek prys die Here vir die nuwe huis van my waar ek tuis voel en waar ek hoort en nog vir lank wil groei en bly en soek en ondersoek en leef en lag en rondhardloop en kuier en duiwe ook uit my bevry.

Liefde:

Van Johannes uit Pung Nap Don/Seoul – Korea.

by elizac

johannes h. a. lochner

Junie 28, 2009 in Sonder kategorie

 

by elizac

BRIEF AG: LELIKE HONDJIES EN SO AAN

Junie 27, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject:

Date sent: 23 April 2001

Lelike hondjies: ek het een keer hierdie proestige Madelein van Biljon opstel gelees waar sy skryf hoe haar suster vir haar in Kaapstad kom kuier waar sy in ‘n woonstel in die Tuine bly. Al die pad van Johannesburg af kom die suster om ‘n week oor te bly. Ná die tweede dag het die twee nog glad nie ‘n voet by die huis uitgesit nie en hulle voe toe hulle moet darem iets saam van Kaapstad ervaar.

Om die hoek is daar ‘n museum met ‘n uitstalling van oosterse wasprodukte en die susters loop deur die Tuine, verby die eekhorings en groentesmouse tot by die museum. Hulle stap die museum binne, koop ‘n kaartjie, loop op en af en verby die wasprodukte, kyk vir mekaar, waarop Madelein se suster sê: Madelein, die goed is darem regtig baie lelik. Kom ons gaan liewer huis toe.

Nou ek probeer eerlikwaar elke dag my geestelike suiwer energie aanwend deur nie na mense en gebeure en dinge as lelik te verwys nie, maar so het ek vandag weer verby ‘n troeteldierwinkel gestap en glo my vry: Koreane het die lelikste hondjies wat ek in my dag des lewens nog ooit gesien het. Kinders en vrouens en meisietjies loop met hierdie wit poedelrige gedoentetjies rond, waarvan die voorkuiwe óf ligpers, óf pienk gekleur word. Party kry sulke trippelskoentjies aan elke voet en dan dink hulleself hulle is te oulik met hul se seksie skoentjies aan.

Die tweede spesie hondjies lyk soos effe af klapperlekkergoed in dofbruin en klappergeelwit wollerige velletjies. G’n oog in sig van hulle se gesiggies nie. Hulle blyk ‘n gunsteling ond er die manlike hondrondlopers te wees, wanneer jong ooms en ou ooms met afklapper aan ‘n leiband op en af deur die nouer as nou strate van Pung Nap Dong gaan wandel.

Maar ek moet byvoeg dat daar wel ‘n spesie Koreaanse hond is wat effe beter bedeel daarna uitsien. Ek sou nou nie sê beeldskoon nie, maar wel beter bedeeld. Die jin do. Dit is ‘n Koreaanse wolfhond en lyk effe soos ‘n maer husky. Ek dink nie hulle is vir die stad geteel nie en ek het tot dusver nog net een op straat gesien.

Een aand met ‘n effense brose lus om iets te vertroetel, stel ek aan Sok Jin voor dat ons ‘n kat moet kry. Ek beskryf al die katte uit my verlede, waarop Sok Jin reageer: alle katte is lelik en lyk eenders. Miskien as julle die twee katte in ons straat sien, sal julle wel verstaan. Hulle is sulke gesiglose verwese wesentjies met die allergruwelikste gemiaau in die middel van die nag.

By behoefte aan ‘n lewendige dingetjie in die huis sal ek maar by ‘n goudvis begin. Piepklein waterskilpadjies word ook in bakke vir gelukkige vibrasies in die huis aangehou.

Strate: van nou strate gepraat. Stel jou twee karre voor die grootte van ‘n 1970 Mercedes Benz. Parkeer hulle albei op ‘n sypaadjes en gee hulle dan die opdrag om by mekaar verby te ry. Dít is die breedte van die strate tussen huise in Seoul. Die interstedelike paaie is gewoon breed, maar die strate tussen huise is nie net naamloos nie, maar ou boeta, jy moet bestuursvernuf hê soos min.

Sok Jin beïndruk my elke oggend met sy ry-op-die-rand-van-‘n-tiekie-met-‘n-lorrie bestuursvermoë. En natuurlik voel dit vir my nog somtyds meer as nou, omdat karre aan die linkerkant bestuur word. Aan die begin het ek my ‘n paar keer boeglam geskrik as ‘n kar so van die “verkeerde” kant af op ons afpeil.

Mool en cha: mool = water. Cha = tee. Ek dink heel dikwels aan Sophie en Vredendal-inkopies in die bloedige hitte (Paarl en Kaapstad ook ingesluit). Aan Sophie, omdat ons altyd so lekker tee met suurlemoene en doekies oor die tafel by haar huis met die wolfhond en die dassievel oor die wit hemelbed gedrink het. Want Sophie, hier in Korea is die mense so elegant en slim met koop en kuier en winter en somer vermeng met drinkgoed.

Oral in groot winkelsentrums en in die bank en die poskantoor staan waterhouers met groot omgekeerde kanne water op. Bo-op die houers is sulke piepklein papierkoevertjies wat jy oopvou en dan na hartelus voor of na jou kooptogte leegdrink. Ek staan altyd skaamteloos by E-mart se voorportaal en drink ten minste tien maal my houertjie leeg.

Een keer het ‘n Koreaanse seuntjie met ‘n sekere mate van Engelse vermoë met ‘n sterk Amerikaanse aksent vir my kom vra: what are you doing? Ek het hom pertinent geïgnoreer en net nog meer water gedrink. Soms loop ek spesiaal al die pad van die huis af E-mart toe oor die vyftig voet straat, net om te gaan water drink.

Dan is daar ook tafeltjies met koffie en suurlemoentee en warm flesse en papierkoppietjies en sofas in ‘n hoek by sommige modewinkels, waar jy tussen besluitneem deur kan sit en boekblaai en tee drink. By die internetkafee waar ek sit en tik, drink ek hulle se omgekeerde kan water in een aand leeg. En dis alles lekker en verniet en gratis.

Itaewon: Ek probeer elke naweek om ten minste een nuwe buurt of besienswaardigheid of winkel te ontdek. Deur die week werk ek deur tientalle brosjures en vra padaanwysings vir Sok Jin en Pieter die jongere. Dan skryf ek dit in my Johannes-die-reisiger boek en vroeg Saterdagmôre is ek op en skoongeskrop en op pad.

Op een so ‘n Saterdag het ek die toeristebuurt, Itaewon, gaan ontrafel en ontknoop. Itaewon is naby die Amerikaanse militêre basis geleë. Dit skep dus ‘n bodem waarop Amerikaners sa kan tuisvoel. Goed en goed en goed. Koop en koop en koop. Nike en Reebok en Adidas, vermeng met tradisionele en hedendaagse Koreaanse produkte. Om elke hoek en draai hoor jy ‘n erge getweng van ‘n Amerikaner wat nog ‘n vonds probeer bekibbel met een van die Koreaanse verkopers. Oral staan Koreaanse mans op straat en probeer jou oortuig om by hul snyerswinkel in te stap, sodat hulle vir jou ‘n splinternuwe pak klere, net reg vir jou lyf, kan meet en pas en sny.

Itaewon is die een plek in Seoul waar jy om elke hoek en draai ‘n wit gesig sien. Dit het ook ‘n hele versameling nagklubs en dinge van die lyflikheid kom kruip in die nag uit die skemer van die einde van die dag en gee aan die nag die naam: naglewe.

Subways: wat ‘n ervaring n Suid-Afrika se burgeroorloglykende treine met graffiti en moord en doodslag. Die subway in Korea is beeldskoon. Daar is omtrent ag verskillende lyne gemerk in verskillende kleure. My lyn is die pers lyn, maar op pad na ‘n twintig minuut afstand mag jy heel dikwels tot drie maal van lyn verwissel: van pers na bruin na pers.

Jy koop ‘n kaartjie voor elektroniese deurgange by ‘n kaartjieskantoor. Dan druk jy die kaartjie in ‘n gleufie, wat dit dan merk en aan die anderkant uitskiet. Sou daar iets verkeerd met jou kaartjie wees, skiet daar ‘n kniehoogteflap toe en ‘n sekuriteitspersoon kom jou help. Dan draf jy deur tonnels en ry roltrap tot by jou vlak en ‘n oorhoofse aankondiging in Koreaans en Engels en soms Japannees laat jou weet dat jou trein op pad is. Die afstand en tyd word ook op ‘n elektroniese skerm aangedui.

Binne-in die trein sit jy op grys ferweelkussings, met sitplekke wat binnetoe, na die algemene gang, toe wys. Daar is nie ‘n papiertjie of krapmerkie op die treine nie. Op ‘n piepklein skerm dui dit elke vyf minute aan waar die volgende afstand homself bevind. ‘n Amerikaanse aksentstem dui ook ook die volgende plek aan. Tussendeur speel klassieke musiek. Ek is elke keer teleurgesteld as ‘n uurlange trip verby is.

Soos gewoonlik is die voyeur in my wawydwakker as ek van die subway gebruik maak. Ek bekyk en gaap aan en my mede-Koreaanse reisgenote maak asof hulle nie ook dieselfde doen nie. Kindertjies is gelukkig sonder skanse en wys vinger en probeer Engelse gesprekke aanknoop. Hulle dink in die algemeen dat enigiets wat lig van kleur is en Engels praat, van Amerika af kom. Iemand het my wel gewaarsku dat as ek te intens oogkontak op die subway maak, ek dalk net om die hand gevra mag word.

Daar was onlangs ‘n grappie in die Korean Herald van die Koreaanse mannetjie wat agter ‘n blonde vrou aan hardloop en roep: miss! miss! Sy dink dan in die comic strip bubble: nee, ek geen nie Engels nie. En hy bly roep: miss! miss! en sy bly met stywe lippie dink: nee, ek is nie beskikbaar omdat ek blond en in Korea is nie. Uiteindelik kry die mannetjies haar in die hande en sê: miss! miss! jy het jou selfoon laat val! Op die laaste prentjie van die strokie val haar gesig dan en sy lyk erg verleë.

Ek is nou honger. Ek gaan gou vir kossies jag in die naamlose straat wat verby EET al die pad na ons huis in Pung Nap Dong en vele en verdere avonture loop.

by elizac

BRIEF SEWE: SPOEG-SPOEG HIER, SPOEG-SPOEG DAAR

Junie 27, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>

To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za

Copies to:

BCC to:

Subject: Spoeg-spoeg hier, spoeg-spoeg daar

Date sent: 23 April 2001

‘n Essay van algemene waarnemings vanaf my huidige stukkie aardie in Seoul, Suid-Korea. April 2001

Spoeg: ek bly altyd versigtig rondtrap rondom growwe veralgemenings, maar ek dink ek kan vrylik en met reg na ses weke se rondstap in Seoul se strate sê dat die meeste mans in Seoul in die openbaar speg. Dit lyk asof dit deur die bloed vloei. Asof jy ‘n belangrike deel van jou Koreaanse etnisiteit deur jou spoeg op die grond as Koreaanse jongetjie uitdruk. Die spoeg word vir ‘n kortstondige wyle spesiaal tussen die kiewe bymekaargemaak en tot teen die binnewande van die lippe voortgestu om dan met passievolle publieke daadwerklikheid voor of agter enige verbyganger se voete op die sypaadjie of straat geprojektiel te word. Klotsies spoeg lê soms op my pad huis toe aan die uitdroog.

Saam met die spoeg verstout ek my in die tweede veralgemening:

Rook: die meeste Koreaanse mans rok. Sulke lig-in-die-broek papierdun stukkies twak wat oral tussen wys- en middelvinger saam met die spoeg die behoeftes van die mond vermaak. Daar is nie eens die geringste teken dat Korea ooit anti-rook wette sal instel nie. Hulle rook asof ‘n afkondiging pas deur Rembrandt van Rhijn self gemaak is dat die laaste dae vir sigarette aangebreek het en dat dié wat nog wil rook nou maar so veel en so dikwels moontlik moet rook, wat hulle weet nie hoe lank hulle nog spoeg met rook sal kan verwissel nie. Ten minste is rook gelukkig wel verbode in winkelsentrums (nie in restaurante of algemene spasies van winkelsentrums nie), busse, subways en by die instituut rook niemand ooit voor die kleintjies en kinders nie.

Tyd: in al my jare in Suid-Afrika het tyd te midde lewenstyl my altyd effens depressief om die hart gestem – dat teen die tyd dat ek reg is vir inkopies doen (wat gewoonlik hier rondom vieruur, halfvyf was) was die meeste winkels en stalletjies in Kaapstad al aan’t oppak en het die groot namiddagverkeer/terugtog huis toe begin, wat met openbare vervoer rondbeweeg kooptogte in elk geval onaangenaam gemaak het. Ook het telefoonpraatlus my hier teen na middernag getref, wanneer die gemini kreatiewe en geselsvirbrasies die sterkste met die maan gepla is. En nou is ons mos grootgemaak dat dit onordentlik is om mense ná tien in die aad te bel.

(Nou nie dat ek my in elk geval aan laasgenoemde etiket gesteur het nie. Van my Suid-Afrikaanse vriende sê nog steeds dat ek een van die weinig mense is wat hulle ken, wat hulle ná middernag kan bel as die praatgogga byt).

Wel, liewe vriende, hier kom ek heel niksvermoedend in Korea aan en ieder en elk van my tydbehoeftes en verlangens en ritmes en begeertes word onomwonde vervul. Eerste (liewe moeder) roer niemand eintlik hier voor nege-uur in die oggend nie – somer of winter (en allermins gedurende die winter wanneer jou spoeg aan jou verhemelte vasvriese) begin groot uittogte en uitpakkery en bus nommer dit en bus nommer dat en stampvol grys en swartblou gekleede Koreaane in subways en gebou op en gebou af op pad werk toe, eers iewers na nege. Tweedens hou die jolige gejoegel tot lank na twee in die oggend aan. Die meeste groot winkelsentrums bly tot tienuur nog oop en die straatstalletjies en straatkafees is tot lank na twee in die môre aan groente smous en keemchee verkoop en as jy om middernag uit ‘n toiletrol raak of ‘n hewige blustig vir ‘n knaagdingetjie ontwikkel, is winkel- en kafeetye nie vir jou hardlywigheid of sooibrand te blameer nie. Dit is vir my allerheerlik. Die Koreane is glad nie bang vir lang ure wer – en kuier – nie.

Ek werk self van tien in die oggend tot ag in die aand, met allerleie breke tussenin, om dit leefbaar op die fisiese sisteem te maak. Soms gaan slaap ek dan vir ‘n uur of wat tussen half nege en tien, waarna die ontdekkerskoors my pak en ek op en af in Pung Nap Dong oor die vyftig tree hoofstrate (ja, ek het dit spesiaal afgetree, sodat ek presies vir julle kan skryf oor hoe lank en hoeveel tree getree moet word om saam met ‘n paar miljoen Koreane aan die ander kant van die pad uit te kom). Tydloos stap ek tot in E-mart en Hyundai Winkelsentrum en downtown Seoul, tussen tie en twaalf in die aand, lustig aan’t bekyk en verwonder, ontdek en oorwin.

Terug by die huis Engels en Koreaans ek en Sok Jin, proe Koreaanse kossies en luisters na westerse en oosterse klanke van nuutgekose en verworwe Johannesmusiek en ons skryf en kuier en vra vrae en mediteer en kwetter en kwinkeleer tot Sok Jin, gewoonlik eerste, met brombeergeluide op sy kookwaterbed teen skuins na twee in Pung Nap Dong/zone/lokasie diep en innig en vervuld aan die voet van die punt van die groot stad Seoul, die soete slaap van alle verdienstelikes slaap.

Veiligheid: by die lees van my middernagtelike ontdekkingstogte kan ek al reeds sien hoe menige Suid-Afrikaanse oë vraagtekens rek: maar is dit veilig? Ek moet bieg dat ek vir die eerste twee weke Suid-Afrikaanse angsneurose onttrekkingsimptome moes deurwerk. Nie soseer oor rondloop in die nag nie, want in Suid-Afrika het ek voet by stuk geweier om my in die aand in selfgeskepte huistronkies uit vrees vir vrees het ‘n duisend oë op te sluit. My neurose was meer rondom hoe gewoond ons in Suid-Afrika geraak het aan wanaangepaste sosiale dinamika.

In Seoul loop ek verby ‘n skoppie en ‘n besem en werkershandskoene wat iewersop ‘n hoek op ‘n sypaadjie lê en ek dink: wat is vreemd omtrent dié prentjie? ‘n Wyle later dring dit tot my deur dat, as jy dieselfde objekte onbewaak so in Suid-Afrika sou laat lê, dit lankal gestel en verkwansel sou word.

Ek loop verby motorfietse wat voor straathoekwinkels staan en luier met die sleutel in die aansteker en g’n motorfietsdrywer in sig nie. Weer dink ek: waarom staan die prentjie my vreemd aan?

Ek neem aan julle begryp teen dié tyd wat ek bedoel.

Of ek kom by die werk en ‘n handsak staan in die voorportaal, sonder ‘n mens in sig.

En dit wat ek as vreemd sine, is eintlik normaal. Dit is net dat ‘n mens in Suid-Afrika so abnormaal moet oorleef.

My lys van vryheid in veiligheid is eindeloos: wanneer moeders, selfs in groot winkelsentrums, gaan inkopies doen, los hulle gou ongeërg hul sewe- of tienjarige kleuter by die ingang van die winkel, terwyl hulle vryhand van rak tot rak hardloop en goedjies in mandjies gooi. Die kleintjies sit en vermaak hulleself angs- en argeloos, sonder dat enigiemand na hul kant toe kyk met donker gedagtes van mutie of moord, ontvoering of verwerwing as seksslawe. Ek is natuurlik weer eens die enigste een wat dink dit is oulik en uniek. Of enigsins daaroor dink.

Wanneer Sok Jin my in die oggend kom oplaai, ry daar twee jong Koreaanse dametjies van om en by die sewe met ons saam. Sok Jin parkeer twee blokke ver en kom haal my by ons voordeur. Soms het ek nog dit en dat in ‘n sak te gooi of Sok Jin krap in ‘n boek. Intussen wag die twee dames in die wat wat, weer eens met die sleute in die kar, om die hoek staan en luier. Niemand kyk die kar met steellus of ontvoerfantasieë aan nie.

Dit is nogal ‘n erg konfronterende proses aan die begin om te besef hoe onnatuurlik mense in Afrika bestaan. Ek was meer versteur oor dat ek dit ales eienaardig vind, as wat ek versteur was deur my nuutgevonde veiligheid.

Vrouens loop of ry fiets stoksielalleen enige tyd van die dag of nag. Ek loop hee dikwels na middernag verby ‘n Koreaasne dame op ‘n fiets op pad na iewers. Kindertjies speel heeltemal op hulle eie na middernag in die strate. Wat ‘n bevrydende waarneming!

Sok Jin het onlangs sy selfoon op ‘n bus laat lê. Die volgende oggend het hy dit by die busbestuurder teruggekry wat dit vir hom gehou het.

Moord en verkragting in Korea bestaan nie. Daar is miskien een berig oor misdaad per drie koerante wat ek gedurende die week lees.

Koerante: daar is slegs twee Engelse koerante in Korea. Die Korean Herald en die Korean Times. Ek lees die Korean Herald wat meer gemeeskapsgerig is, met internasionale nuusknipsels en die gewone westerse uitleg van politek, ekonomie, kultuur en sport. Dit bevat ook geklassifiseerde kolomme met horde advertesies oor reispakette oral oor die Ooste.

Een maal elke twee weke is daar ‘n gemeenskapskolom (bulletin board) in die koerant wat mense vanuit alle uithoeke van die aarde saam in Korea bymekaar probeer uitbring, of sport en kultuuraktiwiteite adverteer. In een so ‘n kolom het ek al inligting verkry oor ‘n gesondheisondersteuningsgroep wat onder andere rondom diabetes bymekaarkom. Ek wil nog aansluit.

Die Korean Times is meer sakegerig en ek het dit nog net een maal gelees. Die koerant hier is vir Engelssprekendes soms die enigste vinnige vrypas na algemene gebeure in die land, siende dat tv hoofsaaklik in Koreaans is en tydskrifte net nternasionaal in Engels verskyn. ‘n Koerant kos 500 won (drie rand).

Die won: my liewe landgenote. Die liewe, liewe won aan die begin. Die won is die koreaanse geldeenheid en word in miljoene uitgedruk. Jy kry 10 won (gelykstaande aan Suid-Afrika se 50 sent), gevolg deur 50 won, dan ‘n 100 won muntstuk, met volgende ‘n 500 won munt. Die 10 won is goudkleurig, die 50, 100 en 500 won is silwerkleurig. Die 1000 won noot is ‘n bruinpers noot en min of meer R6 werd. Dan spring dit tot ‘n 5000 won noot in geel, met volgende ‘n 10 000 won noot in groen. 10 000 won is omtrent R60 werd.

Moet ek byvoeg dat jou kop aan die beegin honderde en duisende nulletjies draai? So het ek menigmaal ‘n 10000 won vir ‘n 1000 won uitgeruk en dus aangebed om R60 vir ‘n trossie piesangs, in plaas van R6, te betaal. Nou koop ek soos ‘n ou Seepuntse kugel 500 won se tofu, 700 won se water, 1500 won se brood en 2000 won se piesangs. Ek het spesiaal vir my ‘n ontwerpersgeldhouer met ‘n oosterse krag-in-eenvoud grys en rooi blompatroon beursie gekoop om my miljoene respekvol plesierig en mooi te hou en in en uit te gee.

Bedelaars: in die ses weke wat ek op allerleie straathoeke my verskynings gemaak het, het ek nog net vier bedelaars gesien. En net een van hulle het by my beld kom vra. Anti-bedelaar hemel.

Pryse: hier moet ek bieg slaan my kop nog erg toe, want na ‘n leeftyd van goedkoop in Suid-Afrika leef, denkende dat dit eintlik duur is, wil my bobreindele nou maar net nie aanvaar waarmee dit elke dag gekonfronteer word nie. Hier volg die pryslys, wat vir menige Suid-Afrikaners soos iets uit die jaar 2010 sal klink:

‘n goedkoop kefiebrood: R9 (dit is die goedkoopste brood met tien voorafgensyde wit snye)

Margarine: R7 (ek lys al die goedkoopste goedjies)

Een lemoen: R6

Een peer: R6

Een waatlemoen: R50 (nee, ek bedoel nie R5 nie)

‘n Koppie tee in ‘n restaurant: R24 (‘n bier vir die bierdrinkers – ook R24)

‘n Engelse tydskrif van Amerika: R80

‘n Onderbroek: R25

Fliek: R42 ‘n fliek.

Die lys is oneindig. Pryse is vier tot vyf maal hoër as in Suid-Afrika, maar dan is die gemiddelde salaris drie maal meer hier.

Huispryse, soos ek voorheen gesê het, is fenominaal hoog. Omdat Korea so klein en oorbevolk is, is jou persoonlike ruimte beperk, hoewel ek dit eienaardig genoeg glad nie as sodanig ervaar nie. Ek moet soms my lyf kleiner vir die badkamer maak, of ek het al ‘n keer of wat my kop teen die kosyn van ‘n restaurant gekap, maar mense versprei hulself heel goed oor die grootstad uit, sodat ek nooit voel my lyf is te groot vir die strate nie.

Huispryse bly egter die een ding wat my kop moeilik inneem: ‘n gemiddelde drieslaapkamerhuis verhuur teen tussen 40 en 60 duisend rand per maand, met ‘n 30 of 50 duisend rand deposito. Die piepkleinste eenslaapkamerwoning verhuur ten R2500 per maand met ‘n 30 duisend rand key money.

Daar is ook ‘n sisteem waar jy 300 duisend of 600 duisend rand kan spaar, dit vir’n huiseienaar in een bedrag betaal en dan in ‘n ware huis bly, vir solank jy wil. As jy dan eendag lus voel vir uittrek, kry jy weer jou 300 duisend of 600 duisend terug.

‘n Gemiddelde salaris: 1 200 000 won.

‘n Trip na Europa: 600 000 won

Nou glo ek spin julle koppe ook tussen al die nulletjies en gee ek dit eers ‘n kortstondige breek. Maar ek moet beken dat na ‘n wyle ‘n mens dit glad nie meer agterkom nie en heel gelukkig spend spend spend.

My allergeliefdes, in die volgende essay-aflewering onder andere: water, helende water en tee van shop tot shop, en vlerksleep op die subway, en itaewon, die Amerikaanse gemeenskap in Seoul.

Tot dan

Liefde

Johannes

by elizac

BRIEF SES

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 18 March 2001

Liewe Afrikaners – landgenote

Ek dog julle sal die volgende gestewelde staaltjie van die Johanneskronieke in Korea saam met my geniet.

Soos in alle Oosterse lande skop ons hier in Korea ook ons skoentjies by die voordeur uit. Aan die begin het ek veters aanmekaar laat knoop en op sokkies gegly en amper een keer iemad anders se skoene op my uittog vanuit iewers aangetrek. Maar mettertyd verfyn ‘n mens die hele proses tot ‘n skoentjie-uitskop en –aanpluk ritteltit wat Kruik se balletgeselskap sou gehaal het.

My kollega, Pieter die ouere, suggereer toe dat ek vir my sulke preutse flip-on’s koop, wat nóg geslag, nóg styl, nóg geld kos. Vir ‘n skamele R12 koop ek vir my hierdie vaalgrys en rooi gestreepte lapskoentjies, met sulke masseringspunte op die binnesole en ‘n dofbruin label wat voetgrootte in die middel van die skoen vasgewerk is en ‘n albatros met ‘n vliegende voël daarby aandui. In plaas van nou op my sokkies rond te gly, glip ek die nerd’s de luxe nommers aan my voete en van die enkels af ondertoe, lyk ek soos een van daardie kinders wat ons liefs op skool sou vermy (dis nou as dinge van die vlees prioriteit nommer een in onse skoolse lewens was).

Maar die skoentjies, soos dit soms met minder visueelbedeelde dinge in die lewe gaan, word een van my gunstelingmomente uit my wardrobe, en ek trippe en flip op en flip af deur my twee tree by twee tree kombuis tot in my vier tree by vier tree kamer, met gemasseerde voetsole en g’n glip of val of glyoomblikke nie. Ek moet bieg dat ek nog altyd so ‘n effense ding oor styl en ‘n tikkie dramatiese flambojansie gehad het. Deur die genade is dit net Sok Jin wat my, in die intimiteit van ons binnekamer, met die koekierige trappers aan beskou – alhoewel ek vermoed dat Sok Jin heeltemal onbewus van my worstelstryd rondom die vleeslike flair of flairloosheid is.

Want, met alle respek aan my Koreaanse broeders en susters, sommige trek kleertjies in die openbaar aan waarin ‘n mens miskien nie jou huis op ‘n Maandagmôre sou skoonmaak nie. Dit is sulke sweetpakkerige ontwerpe met reselabels op, of nogal mooierige grys wollerige rokke, maar dan het iemand dit godgedink om “little kitty” in groot silwerwit letters op die bors vas te stryk. Al te pragtig.

Terselfdertyd moe ek sê dat jy ook die ander ekstreem van besondere stylvolheid kry van ontwerperskoene en dramaties/simplistiese snyerspakkies in kleure van diepgrys en blouswart en intensbruin en grys en swart. In Pung Nap Dong, waar ek huishou, loop die Koreaanse ooms en tannies en seuns en dogters meer dikwels in die sweetpakkerige little kittie’s rond en die geskoeisels sou ‘n treffer op ‘n bazaar sale by die Kaapse parade gewees het.

Sok Jin staan met sy twee voete tussen die soms ‘n label met ‘n sweetpak en soms ‘n meer gekultiveerde momentjie plat op die aarde. So vlieg hy een aand styf teen middernag van ons kookwaterbed af op en beduie iets van iets gaan koop. Ek verwag dat hy tien minute later met water en appels by die voordeur een van sy twee paar skoentjies gaan uitskop, maar ‘n halfuur later is daar nog taal nog tyding van ons Sok Jin. Teen half een in die môre kom ‘n spending sprek gelukkige Sok Jin met ‘n wit sak lap die huis binne. (As ek nou na Sok Jin en spending spree in dieselfde asem verwys, bedoel ek drie kledingstukke per seisoen). Hy’t om middernag gaan klere koop.

Die eerste toevoeging tot sy klerekas is een van daardie nou-sien-jy-die-label, nou-sien-jy-die-sweetpak, nou-sien-jy-my sweetpakke met ‘n lewensgrootte Nike-embleem in spierder as spierwit op ‘n bottelgroen sweetpakagtergrond. Die tweede aankopie is hierdie regte stylvolle warm, dik, groen trui met ‘n ritssluiter en lang arms en ‘n effense polonek – alles waarvan ek in ‘n trui hou.

Ek kwyl en dribbel en drip onmiddellik voor Sok Jin se voete oor waar die trui vandaan kom en kan ek ook een kry. Sok Jin probeer eers in sy suiwer kinderlike goedheid wegkom met: jy kan maar my trui van tyd tot tyd by my leen, maar ek hou voet by stuk e wil ook en wanneer en hoeveel en presies waar, tot Sok Jin uiteindelik belowe om my ook op ‘n middernag shopping ekskursie te neem.

Hoewel julle dalk mag dink dat ek erg voorwaarts in my truikoopbehoeftes is, sal net iemand wat aan langarmneurose ly, werklik verstaan. Nooit kry jy ‘n ding waarvan die arms nie na jou elmboë toe optrek nie, sodat as jy die keer ‘n amper te ang arm gewaad oor jou polse voel gly, is jy bereid om dit teen enige prys selfs van die persoon se lyf af te koop.

Intussen raak Sok Jin bedrywig met kar drywe vir’n vriend van hom wat gaan trou en ek word impotent in my truikooplus gelaat. Soos ek op en af loop en soek na Sok Jin se peasantboetiek, sien ek al hierdie Koreaanse seuns met sulke seksie skoentjies aan. Hulle dra, net soos ons Waterfront se kindertjies, band-oor-die-brug-van-die-voet Hang Tennerige ontwerpe saam met wit sokkies en swaai boud van kaffe tot pc (dis wat hulle internet hier noem) tot e-mart tot busstop tot huis. Hulle maak my heeltemal lus. En by gebrek aan Sok Jin en trui, koop ek vir die eerste keer in my lewe vir my jonglat flippende floppe en met grys sokkietjies en donkerblou en wit gestreepte seksie nommertjies flip flop ek nou self ook op pad na die pc.

Uiteindelik kry Sok Jin se vriend klaar getrou. Een aand kom ek by die huis met Sok Jin op sy kookwaterbed en ek sê: staan op, staan op. Dis tyd vir die trui. Sok Jin is heeltemal te mooi en ordintlik om nee te sê en hy trek sy kanariegeel en rooi label sweetpak aan en ek skop my seksie skoentjies tussen die bondel by die voordeur aan my voete e ons loop deur Pung Nap Dong/sone/lokasie op soek na my trui.

Ek voel so lekker vry en tienerhormone wel op in my. Ek trap my seksie skoentjies hier en ek trap my seksie skoentjies daar. Ek is oortuig almal kyk vir my.

By die winkel kry ons dieselfde styl as Sok Jin se trui – dis net in dié millennium se swart: diepgrys. (Ek het eenkeer in ‘n modetydskrif gelees: die swart van die nuwe millennium is grys. ?) Ek is eintlik bly dat ek ‘n trui in ‘n ander kleur as Sok Jin s’n kan kry en net vir die wis en die onwis pas ek dit aan vir arm-lank-genoeg en lig van gewig om die skouers. Sok Jin beduie spieël se kant toe en ek gaan besigtig die vonds van ‘n trui met die wonder van lank genoeg moue in die hoek voor die spieël.

Ek besluit toe sommer om net vir regte lekker ydelheid ‘n vinnige loer na my seksie skoentjies in die spieël te gee.

Met die afkyk voete toe, voel ek asof ek in een van daardie kindertydse nagmerries is, waar jy by die skool sonder jou onderste gedeelte van jou uniform aankom, want, dames en here, in die refleksie voor my staan Johannes met niks minder as sy dooslike huistrappers met die masseersle en die ovaalvormige label wat albatros sê en die hele skoen bedek, in kommin grys en getjekte, gelapte rooi nie. In my euforia van wil gaan trui koop, het ek met my kop in die wolke en my voete oor die aarde aan’t swewe tussen die bondel skoentjies by die voordeur die verkeerde geskoeiseltjies aan geflop. Hier loop ek allerseksie met my ou koekkruipers deur Pung Nap Don en dog die mense kyk vir die seksie sandaaltjies. Dis soos om met jou slippers by die kerk ingestap te kom en te dink jy het jou Italiaanse ontwerpersnommertjies aan.

Natuurlik is ek toe heel dankbaar dat ‘n paar miljoen Koreane smaakloos deur die lewe gaan, want as enigiemand agtergekom het dat dié my ou huispantoffeltjies is wat ek hier op straat aan het, laat hulle nie blik of bloos daarvan agterkom nie.

Nou moet ek byvoeg dat die tog terug huis toe heelwat platter op die aarde was.

Dit is maar moeilik om jou agterlyf seksie te swaai as jy weet jou geskoeisels skreeu: nerd! kosie! en kommin!

Vandag stap ek by die voordeur van die werk uit en ‘n man met ‘n olyfgroen t-hemp en ongelabelde olyfgroen sweetpakbroek slof-slof die pad af. Hy is so konserwatieflykend as kan kom, met kortgeknipte hare en niks wat hom eksentriek of vreemdsoortig daarna laat uitsien nie. Dis toe ek afkyk na sy voetgoed dat ek besef hy het ‘n paar hoëhak dames insteekskoene aan met diamantégespes teen die kante met die skoene wat omtrent drie nommers vir hom te klein is.

Soos een van die lelike suster loop hy houtgerus die pad af na wie weet waar en niemand bloos g’n blik of spraak g’n stilettosprook nie.

Ek is die enigste een wat oopmond aangaap en hom ‘n paar tree agtervolg om die gedoente uit te werk. Al wat ek kan dink, was dat hy óf ook nie afgekyk het toe hy in die bondel skoen aangeglip het nie, óf dat hy kaalvoet en guitig by sy mini-voetige vriendin gaan kuier het en dat sy hom gou gestuur het om sykouse vir haar werkuitrusting by die winkel om die hoek te gaan koop en dat hy toe haar skoentjies moes aanglip, sodat hy nie vuilvoet die kouse sou aanpas vir ingeval die lus hom oorweldig nie. Of dalk het hy ‘n skoenfetish, of miskien dra hy maar net gewoon hoëhakskoene met diamantégespes. Of dalk is te klein insteek hoëhakskoene met diamantégespes die nuwe millennium se ingevoerde Spaans-Italiaanse geskoeisels soos swart die nuwe millennium se grys?

Ek tik van wysvinger tot wysvinger by die pc, met my seksie skoentjies onder die tafel uitgeskop. Of sal ek liewer sê: sover ek weet was dit die seksie skoentjies waarmee ek laas die huis verlaat het, maar om nou die volle waarheid te vertel, laas toe ek die seksie skoentjies gesien het, het Sok Jin gevra of hy dit nie kan leen nie.

Miskien het ek net op my sokkies by die internetkafee kom tik? Laat ek net gou hier onder my op die vloer rondvroetel. As ek nie die seksie skoentjies kry nie, weet ‘n mens nooit watter ander opwindende dinge ek kan optel nie.

Ek mag dalk ook net met ‘n paar nommers te klein slip on’s met diamantégespes terugtrippel huis toe.

Met liefde

Van Pung Nap Dong. Seoul – Korea tot Kaapstad, Paarl, Vredendal, Lutzville, Koekenaap – Suid-Afrika.

J

by elizac

BRIEF VYF: LAAT DIE KINDERTJIES NA MY TOE KOM

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 10 March 2001

Kindertjies, die wêreld oor, lyk dit my, het dieselfde behoeftes: hulle wil vir hul uniekheid erken word en voel geborge met ‘n sagte, dog ferme hand wat aan hulle ‘n veilige raamwerk skep waarbinne hul kan groei en bevry en ‘n vaste aardse bodem kan voel.

Siende my sterk punt die kreatiewe is, teken ons ‘n erge hoeveelheid op ingels vir die eerste week of twee. Dis gesigte en lywe en bene en arms en die kleure van die reënboog en nog meer gesigte en lywe en arms.

En ook soos oral oor die wêreld kry jy die groepie mannetjies wat die hele lyf in al sy anatomiese dele wil teken. Freud sit in sy skik en kyk hoe krap die Koreaanse moeders se bottermondskatjies bodele en onderdele op hulle prentjie van die ly waar hulle veronderstel is om hare by te teken. Dan sensor ons dit maar vir op die tafel in plaas van met Suid-Afrikaanse wondergom vir op die muur.

Sulke tye is ek maar bly dat al ons klasse glasmure het sodat almal wat verbyloop kan sien waarmee jy besig is, want die posisie van ‘n kinderopvoeder is altyd broos.

Partymaal is die glasmuur te dik vir ‘n daalder. Veral aan die begin, waar mens pynlik oor en oor jou elke stap bevraagteken en heroorweeg en oor en weer wil seker maak dat jy wel jou miljoen plus won aan die einde van die maand waardig is. Want meneer die direkteur loop soms op en af in die gange en dan loer hy kopknikkend by die glasmure in. Hoewel hy dit baie mooi en ordentlik doen, werk dit tog partymaal aan die begin op my senuwees.

Dan kyk juffrou Ham van oorkant oor die pad ook nog deur haar venster of jy net so presies en deeglik en aanmekaar onophoudelik soos sy werk. Ek voel later soos deel van ‘n sielkundige eksperiment, net, die vensters is tweerigting en ek weet van elkeen se dophoudende beweging. Dan die vader dat ek drama studeer het en die performer in my goed op die voorgrond is. Kort voor lank verbeel ek my net ek is op die verhoog en perform lat die stof so staan. As ek die dag broos van siel en verstand voel, draai ek my rug en werk in ignorering van die muur met die venster met die allerewig inkykende oog. Eendag kry ek dalk net lus en plak vir hom toe.

In ‘n land waar almal om jou se hare en oë swart is, druk jy jou individualiteit uit deur jou hare rooi te kleur. So het ‘n hele paar van my meer karaktervolle peutertjies dan suke geel/bruin trendie flertsies hare hier voor by hulle kuiwe ingesny en gekleur. Die heel kleintjie dra uniforms, maar die groteres en die tieners kom in hul eie keuse van klere skool toe. Ek het ‘n sewejarige rinses in my een klas wat met balletroknommers en pien en bruin (son)strepe in haar haartjies klas toe kom. Sy is porseleinpoppie fyn, maar ou boeta, maak sy haar mondjie oop, klink sy soos ‘n gremlin. Sy het so ‘n konker, krakerige stemmetjie wat haar soos ‘n geharde ou roker die dele van die kop en lyf sonder ‘n knipoog foutloos laat resiteer.

Een jong dametjie van ook so by die sewe, is die dogtertjie van ‘n haarkapper in die ware melodramatiese oorgeaksentueerde, na liggaam en uitdrukking en stem, sin van die idee wat ons soms van haarkappers het. Sy kom op sulke kort beentjies die kamer vinnig met designerskoentjies binnegetrippe. Dan trek sy ‘n diep emosioneelverwonde gesig, gooi haar lyf op die lessenaar neer, swaai haar handjies oor haar Engelse boek en dui aan dat sy nie vandag krag het vir die woordeskat van apple book cat donkey elephant nie.

Ná ek my Afrikanervoet pertinent met haar neergesit het, swaai sy haar koubomblou ontwerpershandsak aan die einde van die les van kop tot knie, terwyl sy die kamer op haar designerskoenetjies uittrippel, aan die lament oor die nuwe Engelse meneer sonder ‘n breek van die moordende roetine van woordeskat: abble, b-oo-k, cad, donkie, ele-faant.

Hoewel ek nie my lus kon inhou om onmiddellik vir Sophie van Yong Min en die skreeumara te vertel nie, skryf ek die ervarinkie met die inbreek van die effens gesette ou dogtertjie graag weer. Dit was so ‘n opwindende avontuur. Veral op my bo-arm spiere.

Een môre kom my slimmer groepie heel niksvermoedend en vrolik good morning good morning and how are you die klas binnegetrippel. In die oorkantste klas sit ‘n bleek, maer moeder by Ham Teacher met so ‘n gesette dogtertjie met ‘n effense snorretjie bo die bo-lip van om en by die ses. Ek vermoed weens onomgesoomde rokspante sluit sy nou eers vir die eerste keer by die skool aan. Haar ogies staan stokstyf in haar kop en dit is duidelik dat sy dink die hele skoolervaring is ‘n wrede ondier wat haar gaan verskeur, opslurp, fynkou en glad en glibberig gaan afsluk. Ham Teacher en bleekmaer moeder het nie die vaagste benul hoe om haar die eerste tree oor die pad in my klas te laat gee nie.

Vroeg het ek nou al hier geleer: as daar ‘n wrede ondier vir jou om donker hoeke loer, kyk hom terug in die bek, loop reguit in sy warm blasende asem in, gryp hom voor die bors en worstel met hom tot hy soos ‘n mak ou lammetjie uit jou hand eet. Hiermee verwys ek natuurlik na van die bloedjies wat soms hardverskeurend aan die huil of lawaai of aan die pie gaan (shie-shie – ek dink die Afrikaanse ekwivalent is wie-wie). In plaas van om my mooi nuwe dasse van moontlike kwyl of snot en trane te probeer beskerm, gryp ek die ou gediertetjie by die lyf en ons polkadraai of bekyk die a, b, c, of gaan dan shie.

Juffrou Yong Min is egter ‘n wilde perdjie van ‘n ander kleur. Oom Kosie sou haar ‘n klein (Koreaanse) merrie genoem het.

Braaf stap ek tot by haar ongelowige moeder, neem haar aan die hand en nooi haar soetliefie my klas binne. Dit is toe net daar waar sy in ‘n spasma gaan wat enige sangoma groen sou laat word van pure kompeterende jaloesie.

Volgende stap is dan in die oog van die bek van die dier. Ek omarm haat met my hele lyf en ons dra haar die klas binne. Al my instinkte is nou oop en ek hulle goed aan die vertrou. Yong Min skop en kry spasmaas en dan lament sy: oma! O maaaa! O mm mmm maaaa! (oma – moeder/ma). Haar oorgepaaide kossies-vir-die-gevaar-van-‘n-moontlike-tantrum stewige lyfie begin op my bo-arms werk – maar ek hou. Die res van die kindergemeenskap gaap oopmond aan. Waarvoor die angsaanval? Wonder hulle. Vir ‘n bietjie ou Engels op jou vroegmôre maag eenmaal ‘n oggend?

Maar Yong Min sien moederlose spoke en skop beentjies en kry aanvalle en oma! oma! oma! Van my gesofistikeerde ontwikkelde jong damepeutertjies kom praat trooswoordjies en woorde van berusting in haar oor. Maar dit maak haar nog net meer troosteloos.

Bleekmaer moeder, wat lyk asof sy permanent ondervod en aan yster tekort is vir al die Yong Min trantrums en kossies voerdery wat sy moet hanteer, kom op ‘n stadium die klas halfhartig ingestorm om Yong Min te kom oorvan en uit! sê ek: uit! Vir Yong Min laat ek vandag net gaan as sy ten volle geïntegreer en groepsgelukig deel word van die breëre samelewing – al kos dit nou ook my arms.

Oor die volgende vyf minute gebeur die volgende meer as vyf dinge gelyktydig: Yong Min kry spasma na spasma. Ek loop met haar van arm na heup – of sal ek liewer sê: ek sleep met haar van arm na heup en op ‘n stadium gaan daar hierdie ping! deur my kop: Yong Min = vet. Moeder paai met kos. Johannes = diabetes. Bar One van Suid-Afrika in sak.

Ek sleep vir spastiese Yong Min tot by my sak, ruk so ‘n platgedrukte maandoue Bar One vir moontlike lae suikeraanvalle wat nooit gebeur nie uit die diepste intieme private binnedele van my sak, skeur dit met dié deel van my regterhand wat nie alreeds heeltemal dood onder mejuffrou Yong Min se gewig is nie, oop, en skielik soos die tantrum gekom het, stop dit vir ‘n helder wonderskone sekonde. Yong Min sê haar eerste Engelse woord: chocolate?

Yes! Yes! Chocolate, beaam ek en die lyflike juffrou Yong Min maak haar mond oop.

Ons kou vir ‘n salige halwe minuut sjokolade toe een van my kleinste, fynste dametjies na my tafel toe aangestorm kom. Shie-shie, dui sy met benoude ogies aan. Nou maar waarvoor wag jy? Gaan! beduie ek. Af met die pad hardloop sy toilet toe met die helfte van die klas agter haar aan.

Die volgende oomblik is sy sonder onderkleredingetjies terug in die klas na haar onderlyf aan’t beduie. Blindederm, dink ek. Sy sê ‘n woord waat my aan onse eie Afrikanerkleutertjies se nommer twee laat dink, maar net om seker te maak, storm ek by Pieter no. 1 in die klas langsaan in, Yong Min vol Bar One gereed met meer energie vir tantrum nommer twee, met broeklose kleintjie blykbaar bloot in nood vir nommer twee en vir hulp met die alledaagse, maar op vyf, gewigtige, saak van ‘n meer komplekse shie. Gelukkig laat die hele konsternasie juffrou Yong Min vir ‘n wyle van haar spoke en duiwels vergeet en skielik besef sy ook sy het na al die oggend performance ‘n nood.

Weer eens af met die gangetjie tot by die dames en af met die onderkleertjies en John Teacher maak maar asof hy elke dag vyfjaaroue meisiestjies toilet dril en toe met die knopies en uiteindelik lui die klok.

Ek vind intussen uit dat mejuffrou Yong Min nie net ‘n bobaas tantrumgooier is nie. Sy ken ook haar Engels. In ‘n stiller moment vra ek van die dele van die lyf en sy weet van face en hair en eyes en ears alles op hul regte plekke.

Met die res van die kinderskaar in ‘n ry, loop ons die trap op tot by die oranje klassie se juffrou. Yong Min, kan ek met trots aankondig, dames en here, loop nou langs my, hand-aan-hand. By haar klassie dui die juffrou op Koreaans aan dat sy vir John Teacher moet bedank. Ek kry ‘n drukkie en met ‘n laaste snik-snikkie neem ek en Yong Min afskeid.

Die aand in my kookwaterbed wonder ek of Yong Min se moeder haar die volgnde dag terug skool toe sal stuur? Miskien dink sy die wit Afrikaner van Suid-Afrika sal die kind se dood beteken.

Die volgende oggend kom ‘n blosende erg selfversekerde Yong Min met pienk rokkie en pienk bobbels in die hare saam met die res van haar maatjies die klas binne.

Sy is nou een van my prima leerlinge. Ons, sal ek maar sê, het gebond.

Net onder ons, om die waarheid te sê, sy is besig om ‘n regte juffrou te word. Hol aanmekaar na John Teacher toe met een of ander klikstorie. Maar by gebrek aan konstante Bar One’s het ‘n mens seker maar vele vorme van sekuriteit-vir-jouself skep nodig.

O, en as een van julle dak by ‘n Bar One fabriek in Suid-Afrika verbyloop, hardloop tog gou in en sê vir hulle, hulle het my lewe en beslis my bo-arms van ‘n gewisse mejuffrou Yong Min dood gered.

Liefde
John Teacher

by elizac

BRIEF VIER

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject: Laat die kindertjies na my toe kom
Date sent: 4 February 2001

En die eerste dag is soos ‘n see van kindertjies vanaf kwart oor tien soggens tot aguur saans. En of ek nou weet of ek in die Koreaanse kinderskaarwater kan swem, spring John Teacher in die diep kant in en ek trap-trap en hoes en proes en kort voor lank is daar geen vaste grond in sig nie.

Die sesjarige kom in ‘n klossie dosyn die kamertjie binnegehardloop. Hulle beloer en bekyk en giggel agter bak handjies. Kort voor lank word die hare op my arms die hoofaantrekkingspunt van Koreaanse peuterbespreking. So ook die kleur van my oë en elke kolletjie op my vel en elke nuanse en skakering van my hare.

Met ootmoedige bewondering beduie hulle na my hare, kyk diep in die oë en met ‘n vingertjie wat om weerspreking vra, sê hulle: golden. Your hair – it’s golden.

Na twee vyftigminuut klasse in die oggend van EYES, that’s right – it’s EYES en THAT’S YOUR FACE. OLGOOL – FACE en hope snotneusies afvee en ‘n paar honder maal gil: SIT DOWN! FACE! QUIET! BE QUIET! OLGOOL – FACE! FACE! breek my stem en ‘n laatoggend lunchtyd min of meer saam aan.

Ek en menere Pieter en Pieter en Sok Jin skop ons skoentjies voor die geel saal van die kleintjies wat as die yellow class bekend staan uit, trippe oor die warm vloer tot in die hoek by die deur van die klein kombuisie/middagete-eetplek. Om ‘n miniatuur langwerpige kombuistafel sit ek en die Pieters en Sok Jin en wag op die twee kombuisdames om ons te bedien.

Hulle arriveer met warm sagte lywe en warmer glimlagte met piepklein silwer bakkies klewerige wit rys (bap) en plaas ‘n bakkie voor elkeen van ons neer terwyl Sok Jin ‘n silwer lepe en twee silwer chop sticks stokkies voor ons neersit. Die res van die tafel is bedek met blou plastiese houertjies vol suur gespyseryde kooltjies en spruite (kimchi), gemarineerde spinasie, ‘n bakkie met versoet/versuurde raap, klein blokkies gedroogde seegras en dan gewoonlik ‘n vleisdingetjie soos gedroogde vissies in nog meer versuurde groete. Almal help saam uit die kommuniële bakkies groente met die stokkies. Net oor die bakkies rys kry jy alleenreg. Partymaal is daar ‘n stomende pot seegrassop (mee jok gook) op die stoof aan die prut en word dit saam met die rys en die warm lywe en glimlagte in piepklein bakkies bedien. Twee van my verhemelte/palet hoogtepunte tot dusver was aartappelsop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies.

Tussendeur drink ons boontjiewater (kawng mool) en hoe kan ek vergeet van my gunsteling der gunstelingproeseltjies, selfs toe ek nog in Suid-Afrika geleef het: toobo – tofu in klein warm blokkies gebraai en met sojasous bedek.

Die twee kombuisdames vermoed dat ek ondervoed is. Aan die begin beduie ek verwoed: gaw gee, tak gaw gee, seng son – a nee yo!! Vleis, hoender, vis – nee! Die dames kry ‘n beteuterde trek op hul gesigte, asof ek hul persoonlik teleurgestel en ‘n intieme moment met hul geweier het. Hoe meer ek beduie dat daar meer as genoeg is om die liggaam aan mekaar te hou om die uitdagings van die siel te bowe te kom, hoe meer kry hulle hierdie trek op hul gesigte: vir jou sal ons nog vet voer, mannetjie!

As ek aan die begin, geselshonger, voor die rekenaar sit, en vinnig my e-mail pitkossies oor die hele wêreld binne die eerste tien minute van middagete op datum probeer kry, kom soek die een kombuistannie my. Jy moet kom eet, sê sy op Koreaans. Daar’s seegrassop. Jou gunsteling.

As ek dan net gou die komma en punt van my geskrywe probeer klaar maak, stuur sy vir Sok Jin om my te kom roep. Mmm, lekker warm seegrassop, nes moeder se boontjiewintersoppe destyds op Vredendal toe ek ‘n jong, honger na siel en verstand en gees, groeiende jong man was.
Ek probeer ekstra lekker geluide na die twee warm glimlaggende dames se kant toe maak terwyl ek die seegrassies glad en sout by my keel voel afgly. Ek sê driemaal: kam sa hamneeda (dankie) en knik my kop amper uit ‘n lit van my nek af om aan te dui hoe dankbaar ek vir al die warm sout/soet Koreaanse versterkings is, want kort voor lank keer ek terug na die klein klaskamertjie op die vyfde vloer en soos die kindertjies na my toe kom, is ek tog heimlik dankbaar vir die kombuisdames se indringende en energiegewende Koreaanse disse der eeue wat my nou gepanterser teen die koue en met hernude ywer effens sagter laat sê: face – olgool. Face. Sit down!

by elizac

Brief Drie

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 9 March 2001

Bemindes

Gisteroggend word ek wakker en dink ek bly nog in Pung Nap Tong, maar ek het nou al geleer om tussen die Engels en Koreaans deur twee maal te vra en voor die oog van die vertaler te skryf en te onderstreep en al die gevaartekens te probeer uitkanaliseer.

So beteken “ge” byvoorbeeld sesamsade, terwyl “ke” hond beteken. Julle kan julle dus die konsternasie voorstel as my lus vir sesamsade oor my kos in ‘n restaurant die oorhand kry en ek nie die “k” genoeg “k” nie en ‘n fietse stywe en goedgemarineerde hondjie bo-op my rys, in plaas van sesamsade, kry. Want, ja, die gerug is wel waar. Hond word nog steeds in sommige Koreaanse restaurante as ‘n lekkerny bedien.

Maar om terug te keer tot die verwarrende wakkerwordery in Pung Nap Tong. Gisteraand fluister een van my engele vr my net vir ingeval jy hopeloos verdwaal of vir iemand wil aanraai om vir jou te kom kuier vra net weer vir Sok Jin waar ons nou regtig bly.

Wel, geliefdes. Dit is Pung Nap Dong. En tot môre-oggend sal dit so bly. Hou egter ‘n spasie in jul adresboeke oop vir ingeval dit miskien na Pun Njap Kon of Pun Jap Bong of iets in dier voege gaan verander.

Bogenoemde is maar net nog ‘n klassieke voorbeeld van hoe die multitalige gekommunikeerdery daarna uitsien. Die Koreane dink en praat Koreaans. Ek dink Engels en praat gebroke Koreaans en teksboek Engels en as my moer nou so af en toe suur word, uiter ek ‘n ding of twee in Afrikaans waarvoor niemand my dan sal kan dagvaar nie.

(Vir dié van julle wat van nodelose feite hou: dong, soos in die huidige Pung Nap Dong, beteken “area”. Ek neem aan dis nou dieselfde ding soos in ons townships se “zone” of ons toentertydse lokasie. Ek bly dus in Pung Nap Zone/lokasie/dong van die moederstad, Seoul, in die landsuide van Korea.)

Môre is my eerste maand volbring in Seoul. Ek voel asof ek al ‘n leeftyd hier woon en werk. Ek voel gewoonlik so oor dinge wat my hart verbly en verwarm. Wat ek werklik van die ervaring geniet, is dat my brein konstant met nuwe inligting gestimuleer word. Die taal, die kos, die kultuur, die stad en sy struktuur.

Daagliks word daar in die Engelse koerant iets spesiaals vir die foreigners geadverteer om te doen of te bestudeer of te ervaar. En baie daarvan is gratis. Dit gaan ook oor kulturele mededeelsaamheid en nie net oor die land se ekonomie verstewig nie. So jy kan tradisionele instrumente leer speel, Koreaanse volkspele leer, leer kook in Koreaans (gespeseryde kole en spinasies en spruite en ander vreemde groenteykende dinge en ‘n kaasagtige produk gemaak uit sojabone en bonewater en seegrassop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies). En jy kan Koreaans gratis leer praat en kalligrafie leer en mediteer saam met die Buddhistiese monnike en potte bak en die moontlikhede is legio. Natuurlik wil ek dit alles en nog meer doen.

Ek sal maar by die mediteer begin sodat ek vinnig astraal kan transfigureer, want die afstande is soos van die Kaap tot in die Paarl tot by Clanwilliam se dam tot in Vredendal verby Lutzville.

Trots op myself het ek die eerste dag werk toe reeds ‘n bus op my eie tussen die paar miljoen Koreane deur geneem. Alles lyk aan die begin eenders. Ek kan niks lees of hoor of beluister of verstaan nie. Dit is nogal op ‘n sekere vlak besonder bevrydend, want jy weet niks van niemand se krisis of as een jou oor jou geel hare en jou meroen das en blou hemp en groen onderbaadjie onder die bolip sou bespreek nie.

Die aand wys my een kollega vir my waar die busstoppie is en of ek die pad huis toe alleen sal kan aanpak? Ja wat, sê ek, ek het dan nou vanoggend so mooi op eie stoom hier aangekom.

Maar, broeders en susters. In die nag lyk baie Koreane en Koreaanse geboue en naamlose strate wel heelwat anders. Ek klim by daardie ou busstoppie vlak voor my huis af en ek het nie die vaagste benul waar ek is nie.

Ek loop op en ek loop af.

Ek loop om die gebou waar ek seker is ek regs moet draai en dan is daar net ‘n muur en nie eers ‘n links om van ‘n regs te onderskei nie. Dan loop ek weer op en ek loop weer af en nog affer, om weer op en om die gebou te probeer loop. Dit is my eerste Koreaanse wintersnag tot laat in die koue buite. My lippe is later so uitgedroog en styf getrek, dit vorm een plat vlak met my tandvleise en die agterkant van my tong en keel. My bene het lankal enige gevoelswaarde verloor. My vingers is stokstyf en kliphard. Sou ek nou ‘n suikerkrisis ontwikkel, is daar nie ‘n druppeltjie bloed om uit hulle te forseer nie.

Vir dié wat dink dat ek as kind dalk te veel “Oom Kaspaas” in die Landbouweekblad tydens plastogkuiers op die Kliprand gellees het en nou aan ‘n oordrewe sin van oordrewendheid ly – glo my vry: ek verdwaal vir ‘n goeie drie ure en net voor een van my vingers klonk! voor my afbreek en in ‘n Koreaanse riool die stad afspoel, beloof ek my siel aan die Here as ek net nou onmiddellik ‘n oplossing vir die op- en afgelopery sonder ‘n links van ‘n regs te onderskei kan vind.

Nou moet ek nogal bieg. Klap ek my geestelike vinger in die laaste tyd, is my beskermengele op hulle poste. Die Here bederf my deur en deur. En nee, Pa, hoewel die kind nie rigtingbedonnerd is nie, dink ek ek moes die verdwaalervaring die eerste aand gehad het net om uit te vind hoe bewaar en beskermd ek werklik is.

Want waar ek ookal bel met my nuwe koorloos gekonnekteerde internetselfoon, antwoord niemand nie en die padkaartjie/blaadjie/flentertjie papier wat ek op my het om aan te dui hoe om na my kookwaterpotbed toe aangekruip te kom wat Sok Jin spesiaal vir my geteken het, is net so twee strepe wat sê: Saka Bakkery, op met dié straat in, toe nog: Pung Nap Dong, en al die pad tot by Kodak, en dan links en die tweede straat links. Ek verstaan daar niks meer van nie, want ek op en af voor Saka, maar daar is nóg Pung Nap Dong, nóg links, nóg regs.

Net voor ek die Johannes neurotiese bobbejaan agter die bevrore Koreaanse bult wil gaan haal en sien hoe ek soos Racheletjie de Beer die volgende oggend sonder die heldedaad van ‘n boetie wat ek met my dun verleefde jassie van die dood beskerm het, verkluim voor die Saka Bakkery wakker word, dink ek: bid. En ek sê net: Here, dankie dat jy nou een van my engele in ‘n Koreaanse mens laat verander en tussen die miljoene deur wat nie kan Engels praat nie hom na my toe stuur en sonder kaart of links of regs of enige idee waar dit ding of dong hom my laat verstaan en my nou onmiddllik uit hierdi koue na my kookwaterbed toe vat.

Ek loop toe hierdie Saka-winkel binne en beduie en wys flentertjie papier en so ‘n korrekte Koreaanse mannetjie skop sy skoentjies in sy winkel aan, neem my papiertjie uit my hand en loop en loop en loop saam met my deur die miljoene.

Kinderlik vol vertroue loop ek agterna.

Dan draai hy die papiertjie so en dan draai hy die papiertjie sus.

En ons loop en loop.

Tussen ons is daar ‘n woordlose gebondenheid wat die bekende klanke van sinne van bekende woorde van gemeenplasige tale te bowe gaan.

Ons loop en loop.

En skielik staan ons voor Saka met ‘n links en ‘n regs, met ‘n regs indraai in Pung Nap Dong. Dis tóé dat ek besef dat ek voor Saka Koffiewinkel en nie Saka Bakkery afgeklim het nie. Hoe moes ek nou ook weet daar’s ‘n Saka in elke dong?

Maar wat ek wel wis, is dat dit so moes wees. Dat ek nou weet ek is nooit alleen nie.

Ek wonder of ek my beskermengel om die hals mag val. Met ‘n kopknik verdwyn hy in die donkerverligte strate.

En ek stap met ‘n huppel in my hart Pung Nap Dong binne en ek weet: ek is by die huis en wil nêrens anders bly nie.

Nog nooit was ‘n kookwaterbed so warm en so mooi soos op my eerste nag, net voor middernag van die werk af, toe ek onder my Koreaanse lap, met my heup op die vloer, vas en vaster die slaap van nuutgevonde warmte en her- en weer ontdekte geloof en beskerming en onvoorwaardelike bewaring slaap nie.

by elizac

Brief Twee

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 

From: “johannes lochner<”j_lochner@hotmail.com>
To: avdspuy@indlovu.bortech.ac.za
Copies to:
BCC to:
Subject:
Date sent: 2 March 2001

Liewe vriende en familie van my hart en siel

Ek is nou drie weke in Seoul en dit voel reeds soos ‘n leeftyd.

Ek probeer nog steeds met my e-mail reise op datum kom. Dit lyk darem asof ek in die pylvak is.

Ek tik op die oomblik by ‘n internetkafee om die hoek van waar ek bly vir ‘n skamele 6 rand per uur.

Internet is besonder gewild in Korea, maar so is rook ook en daar is nie allerlei oulike rookwette soos in Suid-Afrika nie.

Ek sit dus omring deur dertig plus Koreaanse jongelinge wat kettingrook en internetspeletjies speel.

Dit is halftwaalf, Sondagaand, en vir dié van julle wat vergeet het om ‘n prettige aprilgekdag te hê: maak dit ‘n simpel en perspienk Maandag en doen alles agterstevoor en twee maal vinniger of stadiger. Doen die stadige goed vinniger en die stadige goed vinniger. Dit sal julle pas – Marida en Sanet?

Buiten vir Leah heg niemand blykbaar veel waarde aan die dag nie. En ek kan julle ook nie meer heeltemal uithelp met oornag trou-aankondigings nie, want ek blyk verby die fase te wees. Slaap gerus, Moeder.

Van slaap gepraat.

Na my kultuurskok roes afslaap, word ek met verkwikte energie wakker en dit is verstommend wat ‘n paar ure se slaap aan die menslike psige kan doen. Hoewel my onmiddellike omstandighede nog steeds rommelings van ‘n paniekaanval by my nekwerwels en ruggraat laat afrol, is ek ten minste op dié stadium in staat om myself tot kalmte te waan.

Buite het my eerste Koreaanse yskoue laatwinterdonkerte op my neergedaal en omring deur veertien plus miljoen oosterse siele het ek nie die vaagste benul waar ek my bevind nie. Sok Jin moes inderhaas iewers heen en hy los vir my ‘n paar honderd won belgeld en hy maak vir my ‘n paar Koreaanse briewe vir ingeval ek wil gaan rondloop en moontlik verdwaal en my kollegas wil bel of gaan opsoek.

Ek weet nie eens waar die voordeur van die agterdeur van ons HUIS te onderskei is nie; laat alleen gaan rondloop en die hele Korea vol op publike telefone lê. Al wat ek op die stadium te eet het, is Provitas en Bar Ones wat ek by die dosyne saam met my gevlieg het vir suikerkrisisse op pad na my toekomstige sielestad, Seoul.

Voor Sok Jin vertrek, mor ek oor toiletpapier en water en letterlike twee sekondes later is hy terug met beide, wat my laat vermoed dat die beskawing nie te ver van my ongekaart en -getransporte huidige huis en haard is nie.

Ek gaan deur ‘n paar Johannes-neuroses van moontlike lae bloedsuikeraanvalle en hoe ek die vreemde donker koue strate op en af hardloop en op Koreaans probeer verduidelik dat ek dringend suiker nodig het voor ‘n diep en lewenslange floute my gaan oorval. Is natuurlik toe weer dat ek van my twee dosyn Bar Ones in my koffer onthou – asook die feit dat ek min of meer drie jaar gelede laas ‘n lae bloedsuikeraanval gehad het.

Op daardie stadium gebeur daar ‘n effens ferm klop aan die deur.

Dit is Pieter en Pieter. Wonder bo wonder het hulle die huis weer gevind, hoewel die omgewing voorheen heeltemal aan hul onbekend was. Hulle staan soos ou familie voor my nuwe huis se deur met gasbrandertjies en botteltjies gas en komberse en kossies en vroedvroustreke uit die boonste rakke.

Pieter die ouere kloek veral oor hoe mooi die kas van ‘n huis gemaak kan word en hoe gerieflik geleë dit is en ai, die vloer is te lekker warm en ons kuier oral oor die warm tapyt en hoe beter ek al klaar na net een drie ure slaapsessie lyk en die warm Koreaanse nessie dreun in sy kosyne, so word daar gekuier.

In komplete Gemini-styl is my eerste behoefte aan ‘n telefoon. Ek wil môre begin rondloop en ondersoek na my buurt instel, maar siende dat die strate nie name het nie en dat ek niks kan lees wat wel op die geboue geskryf staan nie, wil ek ‘n selfoon op my kan dra, vir ingeval ek verdwaal, sodat ek vir Pieter of Pieter kan bel om te beduie of te kom haal. Ons maak ‘n afspraak om die volgende dag te ontmoet om Techno-Mart toe te gaan.

Dit is ‘n tegnologiese shopping mall fantasie van vyftien vloere van tegnologiese wondere van dunbesnaarde vaartbelynder rekenaar-tv-skeppings tot ysblou, skuimpiepienk, draagbare cd-spelers tot ultradun lap tops en duisende derduisende selfone.

Nie lank na die Pieters se teekoppies koud is nie, krup ek onder my monnike kookwatervloerbed in en slaap die slaap van ‘n duisend arbeiders.

Die volgende môre voel ek tien jaar jonger en ‘n paar honderd lae ligter. Johannes die Ontdekker is wawyd op en wakker.

Badtyd word die eerste avontuur in sy aller eenvoud en primitiwiteit vanuit my Westerse oog. Die badkamer is ‘n pypie met ‘n tortkop wat aan die koue en warm kraan gekoppel is. ‘n Versiersuikerpienk skotteltjie en twee dikvet plastiese skoene wat hippo’s genoem word – onnodig om te sê: ook in versiersuikerpienk – maak die res van die badtafereel uit.

Eers word al die kleertjies buite die badkamerkassie uitgeskop, dan word die pienk bakkie met water gevul, die hippo’s aangeskoffel en siedaar: gereed vir bad en ‘n paar minute later vars en skoon en verfris vir dag nommer een op Koreaanse bodem. Ja, want die aardse baddery bring my direk aarde toe. G’n ure se staan onder die stort soos by die Pan Pacific nie. G’n ure se draai in die badkamer tot alles uitgedroog en ongemaklik oorstom en jeuk-gewas is nie.

Ek geniet die eenvoudige vinnige ritueel. My lyf kry net genoeg aandag om wakker en verfris te voel. Ek voel wel so effens soos Gulliver in ‘n land waar dinge ietwat kleiner geword het.

Geheel en al wakker word ek nou manhaftig.

‘n Kooplus en rondloop-aanval kom oor my.

Ek besluit om die ingeboudekashuis meer van ‘n nessie te maak voor Pieter en Pieter opdaag. Nou waar dinge in die donker taamlik vreemd en ver gelyk het, skaam ek my vir my angsneurose die vorige aand, want, my liewe vriende en familie, ek is omring van ‘n paar honderd kafees en groenteverkopers en twee plantwinkels op die hoek en ‘n kombers-en-kussing-en-duvet-winkel en kos en kos en kos en sal ek nog ‘n maal sê: kos – ‘n skamele straat van my af.

Ek koop minerale water en aarbeie en nog vrugte en ‘n allerprettigste pienk plant. Ek hardloop met my fondse huis toe en gaan dekoreer. Ek plak Tafelberg pienk en blou en helder en mistig in die middel van die kombuis. Ek sit poskaarte van die pasontdekte Kuala Lumpur oral rond. Ek strooi robynrooi aarbeie op blou oosterse borde in die slaapkamer. Die pienk plant kry ‘n ereplekkie in die meditasiehoek vir allerhande energieë kanaliseer. Ek begin so effens asemhaal en ontdooi en ontlaai. My lippe dui nog steeds aan dat die weer daarbuite nie mee speletjies te speel is nie. Styf getrek en kurkdroog lek ons elke minuut lippies nat.

Marida se geskenk bruin en swart pakke hang bo Sok Jin se kop ten die muur. Gelukkig gebruik niemand hier klerekaste nie. Alles hang op staanders on in die oopte teen mure en kaste.

Van op die vloer slaap tot klere buite kaste hang tot kossies en water en die eenvoudige manier waarop mense om my leef, begin dinge al hoe bekender voel – asof ek in ‘n vorige lewe in Korea was. Na die aanvanklike kultuurskokmoment is ek nou aan die teenoorgestelde end. Slegs ‘n dag later en ek voel asof ek al reeds ‘n hele aantal jare hier deurleef het.

Amper donkernamiddag later daag Pieter en Pieter by die voordeur op. Ons loop in die koue lug met my stywe lippe wat styf en stywer trek. Ons neem bus so-en-so tot by punt A en stop voor ‘n allemintige gebou met die naam in geel en wit: Techno-Mart.

Op en af in die gebou en verby duisende derduisende selfone en cd-spelers en walkmans en wasmasjiene en lap tops en tv’s en rekenaars en nog cd’s en nog en nog selfone. My kop draai, maar ek maak of ek dit alles gewoond is. Ons loop goedsmoeds na enige selfoonhoek en begin selekteer en fynproe en oor en weer bespiegel en te kiwwel en redekawel om tussen derduisende selfone tot een besluit te kom.

Ek het nog altyd ‘n groot, maar groot, kwessie gehad wanneer dit by vinnige besluitneming en materiële dinge kom. Wat as dié kleur môre mooier is as dié? En wat as dié klank fyner is as dáárdie? En so aan. En so aan. En so aan.

Pieter die ouere staan en bruil hier in my nek en sê: Koop dié een. Dis splinternuut en spotgoedkoop en jy kan nie verkeerd gaan nie.

Die splinternuwe, spotgoedkope selfoon is so ‘n blokkerige silwergrys handgrote nommertjie wat pas as koordlose internet op die mark verskyn het – vir ‘n skamele R120. Ja, Dames en Here. Julle het reg gelees. ‘n R120.

In Korea gebruik van die 25 miljoen volwassenes in Suid-Korea blykbaar 23 miljoen selfone. Dié dat dit so goedkoop is. Dieselfde foon sal in Suid-Afrika min of meer R1200 kos. Nou weet ons.

Vyf minute later is ek gekonnekteer en internetkoordloos vir ‘n skamele R250. My nommer is 018 857 9966 vir ingeval iemand gek genoeg is om my teen R10 ‘n kwart minuut Korea toe te wil bel.

Ek wens ek kon vir jou ‘n selfoon stuur, Leah, maar ek dink hulle werk meestal net plaaslik. Ek het selfs een gesien in die vorm van ‘n doodskis met ‘n kruis op. Vrouens dra meestal perlemoenkleuriges en selfs goues en witroompienkes. Jonger mense het sulke piepklein wollerige hondgjies wat van hulle s’n afhang en die meeste mans dra hulle selfone aan ‘n ontwerperstou om hulle se nekke. Dink net watse fees sindikate met die hele ou spulletjie in Suid-Afrika sou hê.

Van selvloer drie tot vier tot vyf gaan ons by die strykysterrak verby en ek koop vir my so ‘n pers deurskynende nommer.

My materiële siel bevredig, keer ons terug na Johannes en Sok Jin se nessie in die tradisionele Koreaanse buurt van Pung Nap Tong in downtown Seoul.

Liefde:
Jo