Profile photo of elizac

by elizac

DIT GAAN ROF HIER

November 16, 2014 in Uncategorized

Julle ken seker almal die storie van die hond en die perd en die donkie en die bobbejaan en die mens, en hoe elkeen mos gekies het hoeveel jaar hy op aarde wou spandeer. Nou ja, ek is nou in perd se jare. Amptelik. Dus gaan dinge maar rof, want as iemand net vir jou vra om werk te doen, dan sê jy ja en jy gaan sit en jy doen dit. Al verstaan jy nie altyd die sin daarvan nie. Dis nou soos dit hierdie jaar met my gegaan het.

En ek kla nie. NIe regtig nie. Ek geniet die dinge wat na my toe kom: studiegidse en handboeke en studiegidse en ekstra werk by nog ‘n universiteit hier in die dorp. Die keer het ek Afrikaans gegee vir wonderlike, snaakse studente. Ek het dit so geniet. Die kinders hou ‘n mens regtig jonk.

Ook was ek bevoorreg genoeg om vir ‘n kongres in Lissabon te gaan en ‘n referaat daar te lewer. Daar is ook ‘n kans dat ons referaat deel kan word van ‘n boek – ons wag nog om te hoor wat gaan gebeur, maar die referaat is reeds aanlyn beskikbaar. Die finale weergawe moet nog gepubliseer word, maar die “draft” is reeds daar. Dit is maar vervelig, maar dit was ‘n uiters interessanate kongres wat op ‘n nuwe, vars manier aangebied is – nie hierdie gelees van referate nie, maar ons aanbieding moes ‘n totaal nuwe ding gewees het. Plus ek het Lissabon gesien en Vasco da Gama se graf, asook Barcelona vir ‘n week. Daaroor moet ek ook nog ‘n storie skryf. Wat ‘n ongelooflike stad! Kyk net na hierdie blog om die mooiste foto’s van die stad te sien.

Môre gaan ek in vir ‘n skoueroperasie – ek het ‘n ligament geskeur, kan julle dit glo? Nou vertel ek vir almal dis ‘n sportbesering… Het mos gaan swem en gevoel my skouer maak so krrr, krrr, maar toe gaan swem ek net meer en langer. My sjirurg sê dis wear and tear, maar ek gaan nie vir enigiemand dit vertel nie! Klaarblyklik is die operasie erg pynlik, maar my pyndrumpel is mos relatief hoog. Kom ons hoop dit help. Ek het eintlik gedink hulle gaan net ‘n naald en gare vat en die skeurtjie toewerk, maar nee, nou moet hulle skroewe insit en die ligament anker. Hy beter lank geanker bly!

Intussen het ek ook 50 geword en het die hele dag lank gevier. Vyf jaar terug het ek nie geweet of ek dit gaan maak nie en kyk, hier is dit al amper vyf jaar sedert ek met kanker gediagnoseer is. Dit was ‘n lang pad en ene wat ek vir niemand toewens nie, maar omdat ek dit gestap het, kan ek vandag ook vir ander wat besig is om die pad te stap, aanmoedig. As dit nou nie te soetsappig klink nie.

En dis dit! Hopelik kry ek tyd voor Krismis om weer bietjie hier rond te krap. My sperdatum is 30 November!

Profile photo of elizac

by elizac

NET OM TE WYS EK LEEF NOG

Maart 23, 2014 in Uncategorized

Dis mos maar ‘n ding as ‘n mens weet iemand het kanker gehad…

‘n Ou gedig, geskryf in 2011:

 

Lessons in coping with grief

 

When I look in the mirror I wish I could see

not this abomination of me

this freak show of grey circles

of puffed-out eyes of scary-old-lady hair

this criss-cross of scalpel and knife

of ungodlike matching – the uneven attempts of man

to bring normal back to life

 

When I look in the mirror

I wish I could see

just me.

Profile photo of elizac

by elizac

AS MENS TIEN WORD…

September 14, 2013 in Uncategorized

… moet jy ‘n partytjie hê. Aanvanklik het ons sewe kinders genooi. Saam met die verjaardagmeisie was dit ag. Toe het daar nog niggies en nefies bygekom en op die ou-end was daar tien. Die meeste van hulle tien jaar oud. Weet julle hoe voel dit om tien tienjariges te probeer beheer by ‘n mini-golf speelplek? Dit is amper soos om katte in ‘n kraal te probeer kry. Toe val een boonop en breek haar voorste tand. Omdat sy soos ‘n bok op ‘n plek gaan klim het waar daar duidelik staan “geen ingang”. En omdat sy aanhou speel, al sit en wag die oom al vir haar in die bakkie. Baie bekkig. Ek moes haar aanspreek, omdat sy oor ‘n hoë heining klim. “No, I can”, seg sy vir my en foeter oor die heining. En later word daar ewe vir my gesê: “I do speak English”, omdat ek vir hulle “Yizani!” skree. Toe sê ek maar mooi, ja, en ek praat ‘n bietjie Xhosa en ek gaan dit gebruik wanneer julle nie vir my op Engels luister nie!

Hier is ‘n foto van die verjaardagkoek.

Sesona moes self bak en self die versierings maak. Ek het botterversiersel gebruik, want ek hou niks van fondantversiering nie. Wat is ‘n koek nou in elk geval sonder ‘n lekker stuk versiersuiker?

Hier is nog ‘n foto:

Ek is baie bly ek het die dag oorleef. Teen half 3 het ek die oorblywendes in die kar geboender en by hulle se ouers gaan aflaai!

Profile photo of elizac

by elizac

SO LYK MY WERKPLEK

September 13, 2013 in Uncategorized

En ek moet sê: op die foto’s lyk alles mooi skoon en groot! Tot jy nader kyk.

Hier is my kantoor. Ek het intussen die lessenaar geskuif, aangesien my rekenaar deur die venster van my lessenaar af gesteel is. Die kantoor is omtrent 3m X 2,5m.

Soos julle kan sien, is daar nie baie pakplek nie. Ek sal nogal hou van so ‘n muur met boekrakke. My liasseersisteem is op die vloer…

Hier is nog ‘n foto. My lessenaar staan nou in die hoekie en ek moet met my rug na die deur toe sit. Ek het ook ‘n stel “pigeon holes” in die kantoor gehad vir pakplek, maar die het ek nou in die gangetjie voor die deur staangemaak.

En dit is wat ek elke oggend sien wanneer ek by die werk aankom. As daar nie ‘n klomp studente in die pad staan nie. Soos julle kan sien, gebruik almal van ons die vloer as liasseersisteem.

Die gang op pad na my kantoor. Die arme dosente op links het nie eens ‘n venster om by uit te kyk nie. Ek weet regtig nie hoe ‘n mens so kan werk nie. Ook geen privaatheid nie – die studente kan na jou staar deur die glasvensters. Baie dosente plak plakkate op die vensters vir privaatheid. Hierdie kantore is ook oop bo. Daar is geen manier waarop jy met ‘n student privaat kan konsulteer nie. Jy kan ook nie in vrede sit en werk nie, want jy moet na al jou kollegas se gepraat en/of gospel luister.

Ons het wel ‘n pragtige kampus. Dit is 35km buite Oos-Londen – wat natuurlik sy nadele het – maar dit bly mooi. En lekker koud in die winter! Die studentekafeteria is onder links en die koshuis is in die verte.

Hier onder is ‘n foto van die rolstoel oprit na die boonste vloer. Moenie opgewonde raak oor die lugversorging nie – dit is vir die rekenaarlokale op die onderste vloer. Die oorspronklike ontwerp van die kampus was vir ‘n hoërskool. Die destydse Ciskei-regering het besluit om dit sommer te gebruik vir die technikongeboue. As die wind waai, sing daardie reëlings behoorlik!

En nou kom ons by die detail. Waarskuwing: nie geskik vir sensitiewe siele nie!

Hier is ‘n foto van die seepbak in die toilette wat ek moet gebruik. Om seep te kry, moet jy jou hand onder die deksel insteek en uitskep. En ek is baie dankbaar, want ten minste is daar seep. Op ‘n stadium het ek gaan kla, want daar was nie seep nie en die skoonmaaksters het net skouers opgetrek. Volgens hulle was die bakkie “broken” en daarom het hulle nie nodig gehad om seep in te sit nie.

Hierdie is ‘n klein krakie in die muur agter die toilet.

Vra my nou wat hierdie is. Ek wil nie weet nie, maar ek vermoed dit is oorblyfsels van toe die duif een naweek sowat drie jaar terug in die toilette oornag het. Kyk ook hoe mooi skoon is die lysies…

Aan die moontlikhede vir hierdie vlek wil ek nie eens dink nie. Dit sit seker al vyf jaar teen die muur. Maar kyk hoe mooi blink die vloere – alles word gepolitoer en die vullis word na die hoekies geskuif.

En ek het maar net Dinsdag so in my omgewing ‘n paar fototjies geneem. Hoop julle het die vertoning geniet!

Profile photo of elizac

by elizac

DIT MOET VRYDAG DIE DERTIENDE WEES

September 13, 2013 in Uncategorized

My lewe by die werk grens dikwels aan die belaglik. Maar vandag oortref weer ander dae in terme van waansin.

Vir absoluut jare het ons ‘n oulike teekamer gehad waar ons tee kon gaan drink vanaf kwart oor tien tot half elf. Ons kon ook middagetes daar kry teen ‘n gesubsidieerde prys vanaf so kwart voor 1 tot 2h elke dag. En ons is bedien deur ‘n kelner. As ek hard dink, sal ek waarskynlik nog sy naam onthou. Na ‘n klompie jare het die universiteit (daardie tyd technikon) se klasse so uitgebrei, dat ons ook oor middagetes begin klas gee het. Dit het veroorsaak dat ‘n mens nie altyd op die voorgeskrewe tye vir jou middagete kon gaan nie. Ook het ‘n ander spysenier oorgeneem en hulle manier van kos maak het nou nie altyd met die Westerse smake ooreengestem nie. Plus ek hou daarvan as my kos goed lyk en soms lyk dit eienaardig, al smaak dit lekker – baie vol fiemies!

Nietemin, die idee was daar. Ek kon gaan tee drink het as ek wou en ek kon gaan eet het as ek wou. Meestal kon ek net op ‘n Woensdag gaan tee drink het, aangesien my klasse grotendeels deur teetyd plaasvind.

So ‘n maand of drie gelede het ons gehoor dat ons van nou af vir ons eie tee sal moet betaal, aangesien die spysenieringsmaatskappy ‘n massiewe bedrag vra om vir die vyf of ses mense wat wel tee of koffie drink te voorsien. Dit op sigself is nie vir my ‘n probleem nie. Ek is heeltemal bereid om vir ‘n koppie tee of twee een keer ‘n week te betaal. Maar toe hoor ons, ons sal R10 moet betaal vir ‘n tee/koffie wat ons self moet maak. Dit is ek nie bereid om te doen nie. R5, ja, maar nie R10 nie. Dit betaal ek hier by ons in ‘n restaurant en dan word ek bedien met ‘n pot tee. Plus suiker en regte melk.

Vandag stap ek toe af om te gaan kyk of ek kan tee kry en watter van die stories waar is. Ek word begroet met ‘n leë teetafel. Geen koppies. Geen pierings. Geen lepels. Om nie eens te praat van tee en suiker nie. Of melk. ‘n Vriendelike, onbekende man begroet my. Hy sal gaan uitvind of ek kan tee kry. Kom hy terug: “Ja, jy kan ‘n teesakkie kry teen R1,90 en ‘n pakkie suiker vir 50c.” Hy weet nie of ek sal kan water kry nie. Eers terug kombuis toe om te vra. Die water is glo verniet. En melk? Ja, hulle het Cremora. Ek soek nie Cremora in my tee nie. As ek wil sleg tee drink, hoef ek nie daarvoor te betaal nie. Hy sal gaan vra. Terug kombuis toe. Hy kom terug. Nee, ek mag nie melk kry nie. Teen die tyd het ek al amper trane in my oë. Hy belowe hy sal met die persoon in beheer praat en as hy nie met haar enige vreugde verkry nie, sal hy met iemand hoër op praat.

En nou? Waar moet ek nou ‘n koppie tee kry? Ek het al voorheen my eie teesakkies en suiker saamgekarring – selfs my eie teeketel in die kantoor gehad. Die probleem is dat ons kantoortjie klein is en daar is nie veel plek vir ekstras nie. (Ek sluit ‘n foto van my kantoor in dat iemand my moet jammer kry – en ek het ‘n “goeie” kantoor!) En is die idee van ‘n teetyd dan nie dat jy met jou kollegas moet interact nie? Net so ‘n bietjie van ‘n breuk vat voordat jy jou weer hart en siel in jou werk werp nie?

Ek sal ‘n plan moet maak. Mens het mos darem so af en toe lus vir ‘n teetjie. En teen dié tyd is ek al meer as gewoond daaraan om planne by die werk te maak.

NS. Ons is terug by die werk. Na sewe weke se staking. Vra my hoekom dit so lank geduur het. Dalk skryf ek daaroor in ‘n ander blog?

Profile photo of elizac

by elizac

ONS STAAK

Augustus 29, 2013 in Uncategorized

En vir die van julle wat opregte Afrikaanses is: julle sal weet ons staak nie sommer nie. By my “universiteit” (en ek sit dit maar in aanhalingstekens, want dit word beslis nie bestuur soos ‘n universiteit nie) word daar dikwels gestaak. Ons het iets soos vyf kampusse net hier in Oos-Londen alleen (dit staan bekend as een kampus, maar is omtrent 35km uitmekaar) en as elke kampus net een keer per jaar staak, lyk dit asof ons die hele tyd staak. So nou is een ontevrede in Mthatha, en dan word daar gestaak. Of iemand gooi speelgoed rond in Queenstown, en dan word daar gestaak. En dan word daar vir my gesê: julle staak altyd.

Nou hierdie keer staak ons almal. Eintlik staak die personeel, en ons is nou in ons sesde week van die staking. Dis een van daai Marikana-stakings: niemand praat met iemand nie en geen werk word gedoen nie. En ek? Ek staak saam. Ek het al voorheen hier geskryf oor my werk (hier en hier, as iemand belangstel), maar dinge raak nou regtig woes. Op hierdie stadium het ons in Januarie 2011 laas ‘n salarisverhoging gehad en dit was onder die inflasiekoers. Intussen betaal ek reeds R2400 per maand vir vervoer alleen, maar my salaris is steeds vasgehaak in 2011. Nou ja, dis mos my probleem daai, is dit nie? Die probleem is dat ek nou vir die eerste keer in ‘n lang tyd nie meer die goed kan finansier wat ek al die jare uit my eie sak gefinansier het nie: telefoonrekenings, internet, faks, rekenaar, papier, bindwerk, kongresse, skryfbehoeftes. Dis ‘n redelike lys en dit raak duur om jou werknemer so te subsidieer. Boonop kan ek geen item op daardie lys van my taks aftrek nie, want SARS beskou dit as ingesluit by my werk – my werkgewer voorsien dit mos, of hoe?

Ons werkgewer bied ons ‘n salarisverhoging van 4,25% aan. Op hierdie stadium is ek desperaat genoeg om dit te aanvaar. Ook weet ek dat die universiteit nie geld het om vir ‘n ons ordentlike salarisverhoging aan te bied nie. So hoekom staak ek? Ek het lank hieroor nagedink, en hier is van die redes:

1. Ons het ag jaar gelede saamgesmelt. Sedertdien leef ons in hoop dat dinge sal verbeter. Dinge verbeter egter nie. Daar is ‘n “grab and go”-kultuur wat deur sommige mense uitgeleef word. Hulle kry kontrakte vir vyf jaar, kyk hoeveel hulle kan vat en dan verdwyn hulle. Ons het tien jaar terug gesê die samesmelting gaan nie werk nie, maar ons opinies is geïgnoreer. Een van die instansies met wie ons moes saamsmelt het vir vyf jaar geen salarisverhoging gekry nie. Dit was hulle ooreenkoms met die departement van onderwys ten einde hulle werk te behou. Toe ons met hulle saamsmelt, het hulle natuurlik seker gemaak dat hulle salarisse opgestoot word om by ons s’n aan te pas. Nou word ek vertel dat ek inhalig is, want ek wil meer hê. Waarom moet ons die prys betaal vir die wanbestuur van die universiteit? Intussen moet ek geduldig sit en wag dat almal op dieselfde vlak kom, maar dit gebeur nie, want “daar is nie genoeg geld nie”.

2. Ten spyte van die feit dat ons al ag jaar een instituut is, kry personeel op verskillende kampusse steeds verskillende pakette, want “daar is nie geld” om almal op dieselfde pakette te kry nie.

3. Ons studente betaal bittermin vir hulle kursusse en die universiteitsbestuur is uiters trots op hierdie feit. Kom ek verduidelik vinnig waarom dit ‘n onnosel argument is: Sê nou maar dit kos die universiteit R1000 per student per jaar om daardie student op universiteit te hou. Die regering befonds ons (en hier rond ek nou af, want ek is nou nie lus om die werklike getalle te gaan soek nie – ek is te kwaad) 60% van die R1000, m.a.w. R600. Ons kry sê nou maar R300 vir die registrasie van die student. Die ander R300 kry ons as die student deurkom. Intussen moet die student R400 betaal vir sy/haar voorreg om op universiteit te wees. Die student het nie die finansies om hierdie bedrag te betaal nie en maak staat op befondsing van NSFAS. Indien die studente nie befonds word nie en nie betaal nie, bly hulle steeds studeer. Nou is die student nog benoud, omdat hy/sy nie kan betaal nie. Dus is die fokus op die studies ook nie daar nie. Of die gevolge van twaalf jaar se swak skolering (is daar so ‘n woord?) tree in. Die student kom nie deur nie. Vir daardie student kry ons dus slegs die R300 wat aanvanklik as subsidie uitbetaal is en die res is ‘n verlies. Ander universiteite vra, kom ons maak dit nou maar ‘n maklike getal, want klaarblyklik is ek ‘n onopgeleide persoon, R10000 per student. Hulle subsidie is dus R3000 plus R3000 as die student deurkom. Boonop kan geen student aan ‘n plek soos Wits, Stellenbosch, Kaapstad, Natal, Rhodes of Pretoria (noem maar op) studeer as hulle nie vir hulle studies op een of ander manier betaal nie. Selfs al word hulle deur NSFAS befonds, kry die universiteit steeds meer geld, want ons word nie befonds op grond van wat dit die universiteit in werklikheid kos nie, maar op grond van wat hulle betaal. Op hierdie manier boer ons die hele tyd agteruit. Die regering het R300 miljoen bewillig om studente se agterstallige skuld te betaal – en ons is klaarblyklik reeds weer R40 miljoen in die rooi wat studenteskuld betref. Ek, as dosent, het nie die reg of die mag om ‘n student te weier om te registreer nie. Verlede jaar, byvoorbeeld, moes ek ‘n student registreer wat die universiteit reeds R35000 geskuld het. Ek wil nie die reg hê om daardie student uit te gooi nie, want ek moet voor ‘n klas vol studente gaan staan op die ou-end. Maar as die regering – en ons bestuur – wil hê dat daardie student moet registreer sonder om te betaal, dan moet die befondsing vir ons universiteit mos anders werk, of hoe? My argument bly: as dit jou R10 kos om die koppie tee te maak en jy verkoop die koppie tee vir R5 gaan jy ‘n tekort hê.

4. Blade Nzimande het ‘n paar jaar terug belowe dat hulle genoeg fondse sal beskikbaar stel om die universiteit reg te ruk. Daardie fondse het agterweë gebly, behalwe vir geld vir infrastruktuur (daar is ‘n helske sekuriteitshek op ons kampus gebou en een lesinglokaal), verbetering van kwalifikasies (ek mag nie van daardie geld kry nie, want ek het reeds my kwalifikasies verbeter – red nou ‘n volk) en die afbetaling van studenteskuld. Intussen moet ons klasgee sonder oorhoofse projektors of dataprojektors, my rekenaar is oor die vakansie gesteel en my kantoor is so groot soos ‘n posseël.

5. Daar is geen minimum of maksimum werksvereistes vir dosente nie. Om bevorder te word, moet ek iets soos ag of twaalf artikels publiseer (navorsingsuitsette hê), maar ek gee agtien periodes per week klas. Ek het kollegas by ‘n ander universiteit wat gesamentlik een-en-twintig periodes het en hulle is drie dosente plus ‘n tutor. Sommige van my kollegas het vier of ses klasse per week. Sodra hulle meer klasse gee, word hulle oortyd betaal en dit word aan hulle uitbetaal. Vir my word daar doodeenvoudig gesê ons het nie genoeg personeel nie en ons moet almal die las help draai. In effek beteken dit dat ons die universiteit subsidieer, omdat ons die las dra en nie daarvoor eis nie. Dit is baie moeilik om ‘n werksbeleid vir die dosente te hê, veral omdat ons op verskillende kampusse werk. Dis nie maklik om te weet dat ek jok indien ek byvoorbeeld sê dat ek môre by daai kampus werk nie, en intussen loop ek rond nie. Veral omdat ek geen kantoor het  op een van die kampusse waar ek werk nie. Maar daar kan vereistes gestel word in terme van die aantal periodes wat ek mag klasgee. (En ek moet byvoeg, ek gee nie om om uit te help indien ‘n kollega met verlof gaan of siek is nie, maar dan wil ek weet dat die “guns” op ‘n stadium ook na my kant toe sal kom, soos wat dit by ander universiteite werk). Ek moet op ‘n gelyke voet komepeteer vir bevordering met kollegas wat min of geen klas gee nie, maar ek moet my navorsing snags doen, want die res van die tyd is ek besig met studente.  (OK, dit gaan gewoonlik beter in die tweede semester, maar in die eerste semester sit en slaap ek al 7h voor die televisie van moegheid).

6. Een van die maniere waarop ‘n universiteit ekstra befondsing bekom, is deur publikasies in geakkrediteerde vaktydskrifte. Die laaste keer wat ek in ‘n Suid-Afrikaanse tydskrif gepubliseer het, het ek R30000 gekry vanaf die departement. Nou ja, ek sê nou “ek”, maar ek kry nie die geld nie – die universiteit kry die helfte van die geld en die ander helfte word in my navorsingsrekening inbetaal. Wanneer ‘n mens in ‘n internasionale joernaal publiseer, gaan die bedrag op na omtrent R100000. Dis baie geld. Professore behoort ‘n sekere aantal publikasies per jaar te lewer ten einde hulle salarisse te regverdig. Ek het hierdie jaar twee studiegidse vir uitgewers geskryf (dit tel nie vir subsidie nie, maar dit tel as ‘n publikasie) en publiseer in Oktober ‘n artikel in ‘n vaktydskrif. En die enigste rede waarom ek dit reggekry het, is omdat ek deurnag gewerk het om alles klaar te kry. O ja, ek het darem ook twee artikels beoordeel vir publikasie. Daarvoor kry ek geen subsidie nie, maar dit lyk goed op my CV.

Ongelukkig is my universiteit in die posisie waar ‘n navorsingskultuur nie juis bestaan nie. Een rede is dat baie dosente wat voorheen aan die technikons gewerk het, nog steeds nie ‘n M het nie. Hulle kry dikwels nie kans om te studeer nie. Die wat wel kans het, spandeer soveel tyd op onnodige goed, dat hulle ook nie studeer nie. Hier wil ek myself nou maar nie te veel uitlaat nie. Daar is wel befondsing vir diegene wat hulle kwalifikasies wil verbeter, maar daar is nie geld om vir ‘n plaasvervanger te betaal nie. Wat weer eens beteken dat die reeds oorlaaide personeel ekstra werk op hulle moet neem. Ek gee, weer eens, nie om nie, maar feit is dat ek geen sabbatsverlof gaan kry tensy ek studeer nie. En wat moet ek nou gaan studeer? Nog ‘n D? Dankie, maar nee dankie. Persoonlik dink ek dat diegene wat nie oor ‘n M beskik nie, vyf jaar gegun moet word om die M te kry. Daarna moet hulle ander werk gaan soek. Jammer, maar die lewe is moeilik. Ek is moeg daarvoor dat daar van my verwag word om ekstra te doen, maar ander kom weg met moord. Daar is mense wat op my vlak aangestel is wat nog nie eens ‘n M het nie. Dan is daar ander wat hulle flou werk en skaars tyd kry om asem te haal, maar hulle het nie toegang tot ekstra toelaes en ekstra gunsies nie.

Ek dink ook dat, indien jy ‘n professor is, een van jou take moet wees om jong navorsers op te lei. Jy kan saam met hulle publiseer en so geld genereer plus ‘n navorsingskultuur vestig. Dit gebeur nie.

8. Ek is moeg daarvoor dat sommige mense “more equal” is as anders.

9. Ek kan dit nie meer bekostig om die universiteit te subsidieer nie. Ek het in 2011 ‘n kongres bygewoon. Die enigste rede waarom  die vliegtuigkaartjie en kongresgelde betaal is deur die  universiteit, was omdat ek in 2010 daarvoor baklei het. Voor ek geweet het dat ek borskanker het. Ek moes vir my eie verblyf en my eie kos betaal. Die universiteit het hierdie sisteem waarvolgens jy moet aansoek doen om na ‘n kongres te gaan: eers moet jy toestemming by die hoof van navorsing kry. Daarna moet jy met die reisagent skakel en die sal vir jou die vliegtuigkaartjies reël en die betaling. Dikwels geskied hierdie betaling ‘n paar dae voor die kongres begin. Dit is ‘n probleem wanneer jy na ‘n internasionale kongres toe gaan, want dan het jy nie tyd om ‘n visum te kry nie. Verder kan ek die universiteit baie geld spaar as ek vir ‘n kaartjie uit my eie sak betaal (kyk www.travelstart.co.za ). So kon ek een jaar ‘n kaartjie kry vir R7000, waarvoor die universiteit op die ou-end R14000 sou betaal het. Die destydse reisagent was ook in Mthatha geleë. Ek wag steeds dat hulle terugkom na my toe in verband met die 2010-kongres. Verlede jaar het ek dieALV-kongres in Pretoria uit my eie sak befonds, m.a.w. reisgeld, verblyfgeld, kongresgeld. Ek dink my man het vir die huurmotor betaal, want my geldjies was op.

10. Ons gee aan jongmense kanse wat op geen ander plek kanse sal kry nie. Uiteindelik betaal ons ook die prys daarvoor, want as hulle nie deurkom nie, kry ons nie die volledige subsidie nie en hulle kan nie die fooie bekostig nie. Ons spandeer ook baie tyd met die studente. Ek onthou toe ek destyds tydelik gasdosent by Stellenbosch was, het ek die dosente daar gevra wat hulle doen om die klasse vir die studente interessant te maak. Hulle antwoord? Dis nie hulle werk om dit interessant te maak nie. Die student moet doodeenvoudig luister en klaar. As ek dink hoeveel ekstra tyd ons met studente spandeer, hoeveel ekstra werk, hoeveel ekstra kanse, net om hulle op ‘n punt te kry waar hulle sinne kan maak wat sin maak. Ons doen ‘n klomp goeie werk wat hoegenaam nie raakgesien word nie.

Lang storie, en ek is seker ek is nog nie by die kern nie. Vir my het dit nog altyd gevoel dat ek sal kan aanhou solank ek voel ek maak ‘n verskil. Ek voel nie meer so nie. Ek voel asof ek jaar na jaar aankarring op dieselfde noot en nêrens uitkom nie. Ek is moeg vir die negatiewe publisiteit wat my universiteit heeltemal onnodiglik kry. Ons doen ontsaglike goeie werk met ontsaglike swak produkte. Natuurlik is daar vrot appels. Nie al die dosente aan die US of UCT of Wits of Rhodes is goeie dosente nie. Party is goeie navorsers en party is vrot appels. Dis oral so. Maar ons hoef regtig nie almal oor dieselfde kam geskeer te word nie.

Wil ek teruggaan werk toe? Ja, natuurlik. Ek is amper gelukkig met die 4,25% wat na ons kant toe gegooi word, want ek kan tog so tevrede wees met krummels. Gaan dinge verander as ons teruggaan werk toe op hierdie stadium? Die antwoord is nee. Selfs my optimisme en my geloof kan nie so ver strek nie.

Profile photo of elizac

by elizac

ONS KYK FOTO’S

Julie 4, 2013 in Uncategorized

So sit en kyk ons foto’s vanmiddag, ek en tannie Bettie. Sy’t iewers die week gebel om te sê sy gaan nou vinnig agteruit. Ons praat baie eerlik daaroor: hoe lank sy nog gaan lewe. Die suster van die hospies het al in November vir haar gesê sy sal nie nog ‘n jaar maak nie, en elke keer as ek besoek aflê, is sy swakker.

Ek drink nie tee nie. Tannie Bettie is nie in staat om tee te maak nie en sy is baie partikulier oor hoe daar in haar kombuisie gewerk moet word. Dus maak ek nie tee nie.

Ons gesels. Dis koud. Haar kat skrop nes op haar skoot. Tannie Bettie bewe wanneer sy die foto’tjies uithaal om vir my te wys.

Hier is sy as jong meisie in ‘n wye uitskoprok. Sy leun sterk en mooi teen ‘n voertuig aan met haar man aan haar voete.

Hier is sy as predikantsvrou tussen die gemeentevroue. Het sy toe al geweet dat sy haar man gaan verlaat? Het die gemeentevroue geweet van die moeilikheid in die pastorie? Hoe moeilik moes dit nie gewees om in daai dae jou man te los nie, wat nog te sê van die predikant – God se gesant.

En hier sit sy om die tafel saam met die professor en sy vrou. Hy woon deesdae by sy kinders in die Vrystaat iewers, maar sy vrou is lankal dood. Ook ‘n siekte gehad wat haar van die voete af verlam het.

Hier is ‘n foto saam met Ester. Ester kyk verlief in haar man se oë. Sy het nie toe geweet haar man sal op 35 sterf aan kanker en haar alleen laat met die kinders nie. Kyk, hier is nog ‘n foto van Ester en haar man. Dit was net na die eerste baba gebore is. En daar is hulle op haar troudag. Sy het haar eie trourok gemaak en hulle het die saal goedkoop gehuur by die dramavereniging.

En wie sou dit wees? Nee wat, ons sit die foto eenkant toe. So baie babatjies en sy kan nie meer onthou wie is kleinkinders en wie is broers en susters se kinders of kleinkinders nie.

Hierdie foto is van – weet jy wie so-en-so is? Nee, jammer, tannie Bettie, ek weet nie. Wel, dis sy suster. Sy en my seun was baie na aan mekaar. Ons het nog kontak en wanneer ek in Pretoria is, sien ek haar.

Nog ‘n foto wys haar dogter in ‘n rok gemaak van ‘n wit kanttafeldoek. Sy het die dogter se rok gemaak, haar hippiedogter wat nou met stywe haartjies en rooi waterstewels bitsig om die huis loop. Ek herken nie die dogter in die gelukkige foto’s nie. Sy staan styf teen haar ma en die liefde is sigbaar.

Daar agter staan my lover, sê tannie Bettie ingenome. Niemand het geweet hy is my lover nie. Sover ek weet, leef hy nog.

Ek het baie stories geskryf, sê tannie Bettie. Sal jy na my dood deur my stories gaan en iets daarmee doen? Ek belowe. Hoe anders? Ek weet nie hoe ek verby die dogter gaan kom nie, maar ons het hoop.

Dogter het nou in die laaste paar dae vir haar ma gesê sy wil nie hê sy moet in die hospies sterf nie. Sy sal na haar ma kyk en ‘n dagverpleegster betaal om te help.

Ek is nie seker dat die dogter weet wat sy sê nie. Maar ek bly stil, want ek is bly namens tannie Bettie dat dinge vir ‘n slag goed gaan.

Daar loop twee hoenderhane in die straat toe ek huis toe gaan. Pragtige, goedversorgde hoenderhane. Beide behoort aan tannie Bettie se dogter.

Profile photo of elizac

by elizac

SOFISTIKASIE

Junie 7, 2013 in Uncategorized

‘n Klompie jare gelede – nou ja, kom ons wees eerlik: ‘n hele klompie jare gelede, toe ek besig was met ‘n M.A. in Tweede Taal Onderrig aan een van ons land se vooraanstaande universiteite, loop ek een van my oud-dosente raak. Hy het voorheen, by ‘n ander vooraanstaande universiteit, vir my klas gegee in die letterkunde, maar het intussen verskuif na hierdie universiteit. Sy opmerking toe hy my weer raakloop? “Jy kom meer gesofistikeerd voor.” Wel, ja, as voorgraadse student was ek vars van die plaas af met uiters min lewenskennis. Wat verwag jy na so ‘n klompie jare?

Ek vind deesdae baie mense ongesofistikeerd. Miskien is dit die ouderdom. Miskien is dit bloot die beneuktgeite wat saam met die chemopause kom. Ek weet nie. Ek weet net dat as jy na al die jare steeds dink dat “Kinders van die wind” die toppunt van sofistikasie is, dan het jy ‘n probleem. Of as jy steeds dink “Kaptein” van Kurt Darren maak op die een of ander vlak sin. Of as jy, na twintig jaar, steeds vasgenael sit voor een van die EsYBieSie se herhalings (dis nou as jy dit nie voorheen misgeloop het nie; indien wel, dan mag jy maar kyk, net om te sien waaroor die hoeha was). Of as jou humor steeds vasgesteek het op die vlak van ‘n tienjarige en jy jou gedaan lag vir “Orkney Snork nie”. Toegegee, as jy ‘n tienjarige is en dit is vir jou snaaks, dan kan ek dit vergewe. Maar sekerlik moes jy darem deur die loop van die lewe ietwat ontwikkel het, sodat jy darem so ‘n knippie ekstra kan hanteer.

My studente beweeg op ‘n vlak wat ek in my gawe momente as “ongesofistikeerd” sal beskou. Hulle is onskuldig aan die weë van die (wit) wêreld. As ek hulle vra hoe dit gaan, sal hulle my waarskynlik presies vertel hoe dit gaan. En as ek hulle vra of hulle iets geniet het, sal hulle my ook vertel.

So neem ek ‘n groepie studente ‘n paar jaar gelede na een van ons beter restaurante hier in die dorp. Kos my ‘n fortuin om hulle te voed, maar nou ja, die opvoedingsproses moet plaasvind. Hulle het nie van die kos gehou nie. Die calamari was net te vreemd. Die een wat ‘n wrap bestel het, het die lekkerste geëet. Hulle het wel die koek volpunte gegee. Daarna het ek besluit: nooit weer nie. Van nou af neem ek julle eers na kettingrestaurante en daarna na ander plekke. Twee jaar gelede het ek drie studente in my Duitse klas. Ons gaan op ‘n weeklikse basis na ‘n koffiewinkel. Eers die Wimpy, daarna ‘n Griekse plek, daarna die plek by die museum, daarna die dieretuin en so aan. Aanvanklik drink die een sy koffie uit die piering, teen die tweede keer drink hy sy koffie met ‘n teelepel en teen die derde keer drink hy sy koffie uit die koppie. Vooruitgang. Die ander een probeer elke soort koffie wat hy in die hande kan kry, en nog een elke soort sjokoladedrankie. Ons kuier heerlik saam en leer so tussenin Duits.

Verlede jaar se groep kon ek doodeenvoudig net in die Wimpy gelos het, en hulle sou gelukkig gewees het. Ek neem hulle na die museum se koffiewinkel. Hulle elkeen bestel ‘n pita burger. Nog nooit in hulle lewens ‘n pita geëeet nie. Hulle eet. Elke krummeltjie. Agterna vertel hulle dit was die slegste burgers wat hulle nog geëet het. En hierdie man is bekend vir sy lekker kos! Ek het hulle toe maar eerder weer na Willem Wimpy toe geneem.

Vanjaar se groep is ‘n bietjie groot, en aangesien ek hierdie jaar nie ‘n ekstra inkomste het nie, kan ek hulle nie rondneem na kafees en restaurante toe nie. Ek organiseer toe maar ‘n uitstappie na die Duitse kafee in die Hemingways Mall . Daar kos dit my al my oorredingsvermoëns om hulle sover te kry om iets te bestel wat hulle nie ken nie. Los die melktert! Probeer ‘n Apfelstrudel. Ek koop ook vir elkeen ‘n brezel – iets wat ek op gereeld basis gaan koop vir ontbyt of my aandete. Met die volgende klas vra ek hulle hoe die brezel was. Aaklig, sê hulle soos uit een mond. Dit was sleg!

Nou ja, I rest my case. Ek sou op daardie ouderdom al vlot kon lieg as iemand vir my ‘n ou dingetjie gekoop het. “Hoe hou jy van die handeroom wat ek vir jou gekoop het?” (Ek is allergies vir sekere tipes handeroom). “Baie dankie, dit ruik heerlik!” is die antwoord dan. Ek jok mos nie regtig nie. Dit ruik lekker. Dit laat my net nies en jeuk. Of: “Hoe was die koffie?” Antwoord: “Ek drink nie koffie nie, want dit maak my naar en jou koffie het my besonder naar gemaak”. Nee! Ek sal net sê dankie, dit was heerlik. En dit was mos. Ek het dit nie gedrink nie, maar ander het, so dit moes aanvaarbaar gewees het.

Ek weet nou net nie of sofistikasie noodwendig ‘n goeie doel is nie. Vir my klink dit soms ‘n bietjie na snobisme en dis werklik nie waarheen ek op pad is nie. Ek weet net hierdie kindertjies het nog ‘n lang pad om te stap as hulle nie so ‘n lagie van sofistikasie ontwikkel in my klas nie.

Profile photo of elizac

by elizac

DIT MAAK MY NOU SOMMER WEER DIE BLIKSEM IN

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Hierdie persoon gaan nie meer deel wees van my vriendekring nie:

Ek kan net nie verstaan dat mense nie kan besef dat die enigste manier om kanker te voorkom is om net gesond te eet en te drink nie! Dit is deel v die smal weg Eet eenvoudig+gesond Soos die Here dit bedoel het…….

En wanneer ek dan kapsie maak:

Versigtig!

http://blogs.litnet.co.za/elizac/?p=154

http://www.nhs.uk/Livewell/preventing-cancer/Pages/diet-and-cancer.aspx

http://godfirst.co.za/series/why-do-bad-things-happen-2/

Net omdat jy die smal weg bewandel, beteken nie dat jy nooit siek sal word nie.

kry ek die volgende:

ekt my opinie gelug na aanleiding van my eie ondervinding+ervarings die afgelope tyd Dis diep persoonlik en glad nie op jou gemik nie Trouens,het jou inskrywing+die res van wat al my vriende vandag opgesit het eers nou gelees Ek weet net jy het ook kanker gehad Dis al Ek bly by wat ek gese het Net soos jy het ek ook n reg op my eie opinie En ek wil ook net se dat ek probeer om die smal weg te wandel, eks glad nie heilig nie EN jy is verkeerd,ek het 6mnde van erg siek wees agter die rug Dink asb weer voordat jy mens net aanval op FB! Jy weet def nie alles nie!!!!!!

Weet nie wat my onkunde met die storie te doen het nie. Sover ek kon sien, het ek niemand aangeval nie. Maar ‘n mens moet nie net die goed lees wat met jou saamstem en dan dink jy is geregtig op ‘n opinie nie.

Toe’t ek maar as volg geantwoord:

Ek het jou beslis nie aangeval nie. Maar jy moet versigtig wees wat jy sê. As jy dink dat ‘n mens kanker kan verhoed deur gesond te eet, moet jy weer dink. Hoe dink jy laat dit mense voel wat kanker het/gehad het? Dit klink asof dit ons skuld is dat ons siek geword het. Dink jy werklik dat ek verkeerd geëet en gedrink het en daarom kanker gekry het? Want dis presies wat jy sê! Hoe op dees aarde vertel jy vir die ma van ‘n ses maande oue baba met kanker dat die kind die verkeerde goed geëet het? Slegte goed gaan met jou gebeur of jy nou op die smal weg is of nie. ‘n Gesonde dieet kan jou beskerm, maar dit kan nie siekte verhoed nie. Wat sê jy van diabete? Dat dit hulle skuld is? Hoekom kanker uitsonder? God het ook siekte geskep – as Hy dit nie geskep het nie, kan Hy dit nie gesond maak nie. Ook in siekte is daar ‘n doel. Deur jou siekte en selfs deur jou dood kan jy God verheerlik en so Sy koninkryk uitbrei.

En dis JUIS omdat ek NIE alles weet NIE dat ek NIE sulke definitiewe stellings sal maak oor ‘n siekte waarvan ek bitter min verstaan nie.

Dan vra ek myself af hoekom ek nog enigsins die moeite doen om met mense in hierdie debat te tree. Elkeen leer sy/haar eie lewensles op sy/haar eie manier. Mag die Vader gee dat hulle nie self op persoonlike vlak met kanker te doen sal kry nie.

En ek sal maar nie die res van die gesprek herhaal nie. Klaarblyklik verdraai ek haar woorde. Verdraai? As jy vir my vertel ek kon kanker “voorkom” het deur die regte kos te eet en te drink, dan sê jy mos vir my dis my skuld dat ek kanker gekry het!

Profile photo of elizac

by elizac

MY GESONDHEID – ‘N UPDATE

Mei 3, 2013 in Uncategorized

Intussen is ek hopelik steeds gesond en sien die onkoloog nou elke ses maande. Ja, in Januarie het ek my laaste Zoladex gehad en dit moes hier rondom 15 April uit my sisteem gewees het. So raak ek al hoe dikker en toe die skildklierpille nie juis ‘n verskil maak nie, gaan koop ek daar vir my ‘n natuurlik produk genaamd “Thyroid Support Formula”. En daar is ek niks lus vir tjoklits nie en niks lus vir soetgoed nie en ek verloor 5kg sonder om werklik te probeer. Tot ek die botteltjie se etiket lees en sien dit sê spesifiek jy mag dit slegs onder ‘n dokter se toesig gebruik as jy op Tamoxifen is. Skrik my natuurlik gedaan en hou op, en nou kan ek met gemak ‘n blikkie kondensmelk opeet. Of ‘n bak fudge. Sonder om te naar te word. Dalk moet ek maar ‘n draai by onkologie gaan maak en uitvind of ek die aanvulling mag gebruik. My onkoloog is eintlik baie ontspanne oor sulke goed, maar ‘n mens weet nooit nie. Dis net, ek wou so graag nog 5 kg verloor het voor einde Junie, en soos ek nou aangaan, tel ek elke gram weer op. Dink ek moet sommer môre ‘n draai by die apteek gaan maak.

Verder het ek ook baie mylpale gehad: drie jaar na die mastektomie, drie jaar  na die eerste chemo, drie jaar na die eerste Zoladex… En toe vergeet ek skoon om dit te herdenk. Ek het darem die mastektomiedatum saam met ‘n vriendin gevier, maar die ander het gekom en gegaan sonder dat ek opgelet het. Eers ‘n week of twee na die tyd onthou. Dit wys net hoe die lewe aangaan. Selfs van kanker kan mens soms so ‘n bietjie vergeet.