Skip to content

Want Mamma het so gesê.

Hoeveel sport wedstryde het ons nie deur die karvensters gekyk nie;
soos skelms vir ons seuns weggekruip
anders kry ons Maandag ‘n prokureursbrief …
dit is ‘after all’ nie ons naweek nie.

Nie een prysuitdeling se uitnodiging het ons gekry,
geen skoolfoto om in ons huis te pronk.
Ons hoor eers later van stories en prestasies,
en by ander van seleksies.

Vir jare speel ons maar saggies en ontvrede ‘n gebreekte tweede viool.

Mens sou dink dit sal nou beter wees?
As volwassenes sal hulle self besluite neem?
Mens hoop na soveel jare sou die kleinkinders ‘n ander storie wees?
Maar dit is nie … want Mamma het so gesê.

Sy probeer hom skelmpies wegvat sonder om die ander Ouma te groet;
By die krieket word hy verbied om by sy Oupa te kom sit.
Sal ons die kleinkinders ook sien op Mamma se terme …
‘n onsigbare skikkingsooreenkoms waarvan ons niks eers weet?

As Mamma sê is Pappa onbelangrik.
Sy hart en emosies tel nie,
want by Mamma moet hulle die vrede bewaar,
al beteken dit ook Pappa word afgeskryf!

Dit was Augustus ‘97 toe die twee manne my hart kom steel!
Vasberade het ek voorgeneem om die beste Stiefma ooit te wees.
Iewers oor die jare moes ek ook my hart probeer spaar,
naweke uithou –
want hulle wou duidelik nie naby wees …
oor alles wat Mamma sê.

Hulle ken my nie … nie soos my kinders nie.
As ‘n Pa se hart so onbelangrik is
hoeveel meer die Stiefma s’n?

Dis 2018 en nogsteeds is ons die seuns se tweede keuse …
want Mamma het so gesê.
Nogsteeds moet ons dink voor ons praat en altyd versigtig wees,
dit sal hartverskeurend wees as hulle weer net weg moet bly.

Daar is ‘n liefdesliedjie wat sê “Maybe sometimes love just ain’t enough”,
wie sou kon dink dit kan dieselfde met jou eie kinders wees?
Die stukke van my hart moet ek vir nou eers bêre,
want agter die woede en bravade van hierdie seuns se Pa
is daar flenters van sy hart
en jare se opgehoopte trane …

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar