Want Mamma het so gesê.

June 13, 2018 in Uncategorized

Hoeveel sport wedstryde het ons nie deur die karvensters gekyk nie;
soos skelms vir ons seuns weggekruip
anders kry ons Maandag ‘n prokureursbrief …
dit is ‘after all’ nie ons naweek nie.

Nie een prysuitdeling se uitnodiging het ons gekry,
geen skoolfoto om in ons huis te pronk.
Ons hoor eers later van stories en prestasies,
en by ander van seleksies.

Vir jare speel ons maar saggies en ontvrede ‘n gebreekte tweede viool.

Mens sou dink dit sal nou beter wees?
As volwassenes sal hulle self besluite neem?
Mens hoop na soveel jare sou die kleinkinders ‘n ander storie wees?
Maar dit is nie … want Mamma het so gesê.

Sy probeer hom skelmpies wegvat sonder om die ander Ouma te groet;
By die krieket word hy verbied om by sy Oupa te kom sit.
Sal ons die kleinkinders ook sien op Mamma se terme …
‘n onsigbare skikkingsooreenkoms waarvan ons niks eers weet?

As Mamma sê is Pappa onbelangrik.
Sy hart en emosies tel nie,
want by Mamma moet hulle die vrede bewaar,
al beteken dit ook Pappa word afgeskryf!

Dit was Augustus ‘97 toe die twee manne my hart kom steel!
Vasberade het ek voorgeneem om die beste Stiefma ooit te wees.
Iewers oor die jare moes ek ook my hart probeer spaar,
naweke uithou –
want hulle wou duidelik nie naby wees …
oor alles wat Mamma sê.

Hulle ken my nie … nie soos my kinders nie.
As ‘n Pa se hart so onbelangrik is
hoeveel meer die Stiefma s’n?

Dis 2018 en nogsteeds is ons die seuns se tweede keuse …
want Mamma het so gesê.
Nogsteeds moet ons dink voor ons praat en altyd versigtig wees,
dit sal hartverskeurend wees as hulle weer net weg moet bly.

Daar is ‘n liefdesliedjie wat sê “Maybe sometimes love just ain’t enough”,
wie sou kon dink dit kan dieselfde met jou eie kinders wees?
Die stukke van my hart moet ek vir nou eers bêre,
want agter die woede en bravade van hierdie seuns se Pa
is daar flenters van sy hart
en jare se opgehoopte trane …

Aspoestertjie se Handsak

June 12, 2018 in Uncategorized

Drie dae voor die troue voel ek soos Aspoestertjie: ek het ‘n prins en ‘n uitnodiging …

Ek sou nooit kon raai hoe my goeie feë die dag gaan red nie … wag, hier is my Storie!

Ma van die Bruidegom kort ‘n rok, towerskoene en natuurlik ‘n klein, fyn handsakkie!

Die familie se stryd en stories om die gepaste uitrusting te kry is Vrydag aand gevul met ure en rande, dasse en baadjies, oorbelle en sykouse, skoene en handsakkies!  Ek luister en lag na elkeen se storie, opgewonde om die storie by die persoon te sit … om te sien hoe elkeen se persoonlikheid en smaak uitgebeeld gaan word deur ‘n stuk lap om die lyf en wonderbaarlik sal saamsmelt om ‘n ongelooflike familiefoto te vorm!

Enige iets vir Boeta se troue!  Vandag is dit donker grimering, haarsprei, ‘n duur rok, fluweel baadjie en natuurlik my asemrowende skoene: goue blomme op swart.  Hulle skreeu TROUE: uniek, spesiaal uitgesoek om van my blomme ‘n aandrok te maak.

Ek stap die vertrek binne, dit word doodstil soos toe Aspoestertjie almal se asem weggeslaan het met haar aankoms by die paleis.  Toe ek my prins by die koets ontmoet het daai blou oë in ‘n pak klere my hart vinniger laat klop en vir ‘n oomblik konsentrasie laat verloor … Lyf is nog so ‘handsome’ soos die eerste dag wat ek hom ontmoet het en ook net betyds om my te vang voordat ek my paar blink sykouse flenters val!

My Aspoestertjie oomblik ‘n totale ramp!

Lyf wou my nog met bewondering aanstaar, maar die val het die oomblik geruïneer en die skoene het iets heeltemal anders vir hom geskreeu: “Help!  Seer Voete!  Gevaar!”  Die laaste keer wat ek sulke hoë skoene gedra het was op ons eie troue.  Die dominee het ons skaars man en vrou verklaar toe is die skoene uit!  Die registers is met kaalvoete geteken en hy moes net keer of ek stap nog kaalvoet by die kerk uit ook!

Ons was reeds laat, so ek het vinnig gaan platskoene aantrek en die hakskoene in ‘n geleende handsak gedruk vir later!

… dis korrek, ‘n geleende handsak!

Geen winkel het die perfekte handsak besit nie … ‘n Fyn, pikante handsak kan ‘n lipstiffie hou, maar nie ‘n paar skoene nie.  Ons almal weet tog die hakskoene is hoofsaaklik vir die fotos en die kapel en ek kan tog nie die hele dag met ‘n paar skoene in my hand rondloop nie?  My eerste goeie feë was besig om te stryk toe ek haar handsak gewaar … was dit baie mooi?  Seker nie!  Fyn?  Gladnie!  Pas dit by my uitrusting?  Hoegenaamd nie!

Die goeie-bediende feë toor toe haar handsak in ‘n skoensak.  Ek gooi sommer alles wat jy moontlik nodig het om jou neus te poeier ook daarin!  Die familie is skaam en geskok … maar Aspoestertjie het nog nooit so groot handsak, goue skoene of ‘n bediende gehad nie, sy’s ‘happy’.

My tweede goeie feë se naam is Uber …

Ons was amper by die venue toe my skoonsus laat weet sy staan met my een skoen in haar hand!  Hoe ek dit reggekry het om net een skoen in te pak sal niemand weet nie, maar my goeie-bediende feë het het dit opgespoor en Uber kom die familie eers ‘n uur later oplaai.  Ek kon sien hoe ek op al die fotos verskyn met ‘n platskoen en ‘n hakskoen, hoe seer my knieë gaan wees van die ongelyk loop … ‘n totale katastrofe!  ‘The talk of the wedding!’

Die goeie-drywer Uber feë toor toe die tyd, laai die familie vroeër op sodat Lyf net betyds die verlore skoen aan my voet kan sit, my optel en met die trappies ophardloop sodat ek met twee towerskoene voor die bruid by die kapel opdaag.

Die handsak het inderdaad towerkragte gehad.  Almal was skaam om met die sak gesien te word, maar Lyf se bril het ‘n plekkie gekry, Oupa se beursie en almal se ‘photobooth’ fotos.  Daar was snesies toe ons trane afgevee het met Boeta se ‘speech’ en ‘n keuse van lipstiffie vir laataand fotos.  Daar was ‘n plekkie vir die strooimeisie se geleerde kouse en ons ringdraer-kleinseun se kruisbande.  Ja, almal het uiteindelik baat gevind by my bediende se geleende handsak!

Die dag was gevul met ‘n sprokie van ‘n bruid, ‘n seun om op trots te wees, die perfekte dag waar mens sjerrie drink in klein, fyn teekoppies en roosterkoeke eet in mooi klere.  Snaakse fotos by die photobooth in brille, vreemde hoedjies en skandelike verklarings soos “I came for the cake!”  Van die ongelooflike oxtail tot die ‘spot-on’ DJ!  Dit was inderdaad die perfekte troue!

Vandag was beslis ‘n sprokie … almal het fees gevier tot die bruid en bruidegom ons om middernag verlaat het.

Ek was Prinses Aspoestertjie vir ‘n dag met my bediende se handsak en storievertel-towersskoene.  Middernag het die einde van ‘n Perfekte dag aangekondig, en die begin van ‘n ‘happily ever after’ vir ons aantreklike, stil seun en ons nuwe, donkerkop dogter!

Sop vir ‘n Recce

May 4, 2018 in Uncategorized

Dit is vir my baie opwindend om te hoor van die Recce’s se “WALL OF SHAME”!  Hier lys hulle jou naam as jy valslik loop en rondvertel dat jy eens ‘n Recce was.

Die RECCE’s is ‘n eretitel vir sowat 1200 manne wat letterlik bloedgesweet het, ‘n graad van deursettingsvermoë gewys het en ‘n ander mening kom heg het aan die term selfdissipline.  Die klomp manne weet wat dit is om aan te gaan met jou brein as jou liggaam eenvoudig nie meer kan nie.  Die manne het iets wat jy nooit sal hê nie: Recce Keuring!  Hulle het nie net ‘n vreesaanjaende proses oorleef om die titel Recce te verdien nie, maar was betrokke by operasies, lewensreddings en ‘truly life changing events’ waarvan niemand weet nie.

Die oomblik toe jy so om die braaivleisvuur vertel het jy was ‘n Recce, het jy jouself uitgegee as ‘n ‘fraud’ … want ‘n uitsonderlike kenmerk aan die groep manne is nederigheid.  Die manne praat en vertel nie braaivleisvuur-stories nie, hulle gooi nie feite en ervarings rond om iemand in die kroeg te beïndruk nie.

Daar is ‘n soort kameraderie tussen hulle, of hy nou in die 70’s of in 90’s gekwalifiseer het.  ‘n Menslikheid en ‘n waardering vir ander mense ten spyte van dit wat hulle self bereik het.

Die afgelope naweek het ek so bietjie Recce beleef by die Recce Mission: ‘n Mountainbike en Trailrun Challenge wat deur ‘n klomp oud-Recce’s aanmekaargesit is, ‘n roete deur Dullstroom se berge.

Recce-kode?  As hulle praat van ‘n Challenge, bedoel hulle Challenge.

  • Niks hier gaan maklik wees nie.
  • Nie almal gaan klaarmaak nie.
  • Party gaan nooit eers wegspring nie.
  • As jy egter nou by die wegspringpunt staan is dit met alle intensie om laat vanaand die eindstreep oor te steek.

Op die hoogste punt van Mpumalanga het ek so bietjie Recce-bloed en geaardheid beleef.  Ons gesin het die voorreg gehad om die waterpunt te beman.  Al die komberse wat ons besit is uit Gauteng uit saamgery, want verlede jaar was dit 2 grade gewees toe die manne tussen 22h00 en 02h00 daar aangekom het.  Een van die besonderse mense was my eie liewe Lyf, saam met sy jarelange vriend en fietsry partner.  Hulle verstaan die betekenis van ‘deur dik en dun’ so bietjie anders as ons: “deur kranse en valleie, bebloede knieë en verdwaal, van begin tot einde trap en sweet ons saam”!

Waterpunt 6 was anders … as jy op die punt aankom het jy sowat 170km afgelê en nog sowat 50km oorgehad.  Jy het besluit om die afdraaipunt op die makliker roete verby te steek en die opsies om met ‘n voertuig verder te gaan van die hand gewys.  Jy is een van die 19 uit 80 ryers wat besluit het om die Recce Challenge klaar te maak, en bevoorreg was om tot hier te kom sonder meganiese of gesondheidskwessies wat jou rit kortgeknip het.

Daar by waterpunt 06 het ek gesien hoeveel ‘n opslaanstoel werd kan wees. Dit is op die berg waar ‘n koppie warm sop nuwe betekenis gekry het.

Dit is nie die normale 220km nie: dit is bergklim en fietsdra, navigeer en soek na ‘n tweede of derde verdwaal.  Dit is op jou saal van 09h00 af.

… dit is neersak in ‘n opslaanstoel en dankbaar smeek-vra vir nog ‘n koppie sop …

Die eer was myne.  Ons gesin s’n.  Elke gesig sy eie suksesstorie.  Die onseker opdraendes in die donker berg sê iets van deursettingsvermoë en die selfdissipliene van elke man wat uiteindelik aanmeld by waterpunt 06.  Nommer 01 is die enigste ryer wat die berg in daglig kon sien en ons sprakeloos agtergelos het … waar is sy moeg?  Ek onthou die man wat die maan bewonder het gesit en gesels het asof hy die nag saam ons gaan kamp.  Die ou met die  geelbaadjie wat plat op die grond langs sy fiets gaan sit asof hulle beste vriende was en my laat wonder het of hy ooit weer gaan opstaan.  Ongeskikte Theuns wat oor alles op die pad gekla het en my hulpvaardige meisies afgejak het.  ‘n Bekommerde lang man oor sy swangervrou wat op die einde wag en die chatterbox wat op Oros ry.  Daar was ‘n moedelose ou wat my met glasoë bekyk het en die een wat van Vryheid afgekom het vir ‘n uitdaging.

Drie sal my egter vir altyd bybly.

 Nommer 058 is ‘n man van 67 wat 02h30 die oggend by ons opgedaag het.  Hy was vars en rustig en sterk – sy kop was reg.  Hy het in die lewe al geleer jy jaag jouself nie.  Die eindpunt is net so belangrik soos die ‘journey’ soontoe.

Span 212 het 03h00 Saterdagoggend by ons aangekom: yskoud, braaf en vasbeslote om klaar te maak.  Daar was iets baie spesiaal en baie mooi aan die span: hulle was twee middeljarige vrouens.  Daar was iets mooier aan 03h00 as enige ander oomblik: die natuurlik instink van ‘n man om ‘n vrou te beskerm en op te pas.  Hulle is soos dames gevoer en met ‘space blankets’ warm toegedraai.  Ekstra sop is ingepak vir die laaste been wat voorgelê het en ‘n voertuig het agter hulle aangery tot hulle teen daglig oor die einstreep gery het.  Geharde, sterk manne het hulle met blydskap, respek en prys ingewag!  Dit was die mooiste mooi dat ‘n vrou altyd ‘n vrou sal bly, dat ‘n man haar gaan soek en oppas tot die einde … want dit is wie hulle is.

Jakes was die enigste een wat 40km kon draf en 170km daarna met sy fiets kon ry.  Die nederigste van almal wat daai aand in die maanlig aangekom het.  Ons het hom nie gesien nie, ons het die fietsbande op die pad hoor aankom.  Hy het die helder volmaan so waardeer dat hy sonder sy lig daai bult uitgery het!

Na sowat 2 ure se slaap in ‘n yskoue tent onder foelie-lankens het ons weer ons punt bymekaargemaak en in die bakkie gelaai.  ‘n Vrede het saam met ons ingeklim, die gedagte van God se perfekte skilderye in die vlaktes om ons.  Ons het so twee ure na die laaste wenner daar opgedaag toe ek my eer ontvang: die ryers het met dankbaarheid gepraat van die Sop Tannie!  Na 220km se rowwe terrein onthou hulle die Sop-Tannie. 

Het die 220km van hulle Recce’s gemaak?  Beslis nie!  Maar vir eendag, in my oë, was daar iets Recce in elke Sivvie wat ons daarbo kon ontmoet.  Iets onbeskryflik nederig en vervullend aan die klein aandeel van ‘n koppie sop vir ‘n Recce … ‘n Recce vir ‘n dag!

Wall of Shame – SASFA – South African Special Forces Association

www.recce.co.za/wall-of-shame/

Ek Kan nie Blog nie … ?

March 9, 2018 in Uncategorized

Ek hoor orals vriendinne wat blog – resepte en boererate, raad met kinders en verhoudings.  Ek kan nie kook nie!  Ek kan nie naaldwerk doen nie!  Ek kan seker ook nie Blog nie 😉 Ek’s ‘n dromer! Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte.  Ek hou konserte in my kar en probeer lag v klein dingetjies in die lewe!  Maar soms kry die lewe almal bietjie onder en dan help skryf!  Die blog is my Sielkundige en my Terapeut! 🤔😶😁😄