Die verliefmaking van Hera

Junie 4, 2009 in Sonder kategorie

Daar is alweer moeilikheid in die hoof huweliksbed van Olimpus.  As die blougrys rookwolke so uit Hera se haard borrel moet jy maar weet sy is diep diep ontstoke. Die meeste van die tyd kan jy haar buie bepaal na gelang van die rookwolke wat uit haar kombuis ontsnap.  Hierdie blougryses beteken net een ding… Sy’t alweer vir Zeus gevang katte knyp in die donker. En sodra die res van ons die eerste tekens van blougrys borrelings aanskou vlug ons maar bergaf om hier tussen julle mense weg te kruip en ons eie moleste te maak – die gode raak mos maar gou-gou verveeld en die meeste van die tyd moet die mensdom dit ontgeld.  Maar dis ‘n anderdag se storie.

‘n Mens sou dink dat die vrou na millenia van ontrouheid gewoond sou wees aan Pa se dwalende oog.  En die feit dat hy altyd maar altyd weer na haar toe terugkeer.  Ek wonder hoeveel vrouens, godinne en nimfe al onder sy ewigdurende sjarme geswig het? Ma sal weet, ma onthou mos alles.

Nie dat dit altyd ‘n goeie ding is vir ‘n ma om te kan doen nie hoor! Jy leer vroeg-vroeg in jou lewe dat ‘n ma soos Mnemosyne niks vergeet nie… selfs na duisende jare is sy nog steeds daartoe instaat om jou skuldig te laat voel oor die eerste keer wat jy een van Clio se perkament rolle aan die brand gesteek het! (Bygesê, as sy nie so grafiese beskrywing van Prometheus se lewer in die arend se kloue geskryf het nie, sou ek nie so groot geskrik het en dit per ongeluk in Hera se haard laat val het nie!) Maar vir die ander dinge is Ma ‘n ster.  Die mees betroubare bron van enigiets en alles wat jy wil weet… Nie dat ek regtig wil weet by hoeveel vrouens my pa al geslaap het nie – jig – maar sy sal weet hoekom Hera nog steeds so die hel in raak daaroor.

Dalk is sy maar net jaloers.  Dit kan nie lekker wees om jou hele lewe lank vir die gek gehou te word deur ‘n jags ou bliksem wat skelm rondkruip en as jy jou oë uitvee is daar nog ‘n Zoosie in die omgewing nie! Ek kan natuurlik nie oordeel nie – as dit nie vir Pa se roving eye was nie, was ek en my agt sussies nooit gebore nie – ma sê haar kraam was die ergste nagmerrie ooit en, anders as die meeste aardse vroue moet sy nog elke detail presies onthou! Ek begryp hoekom al nege gelyk moes gebeur… as sy na die eerste een geweet het waarvoor sy haar inlaat sou die res van ons ook heel waarskynlik nie hier rond gewees het nie. Bygesê, Hera sou waarskynlik ook glad nie beïndruk gewees het as Zeus nege keer dieselfde ‘fout’ met dieselfde vrou gemaak het nie.

“Fout” – dis Hera se woord vir pa se glipsies…

Ding is, ek verstaan nie werklik hoekom Pa so rondloop nie. Dalk is dit net omdat hy kan en mag – wie sal nou die grootste van al die gode weier? – en wil… Want, selfs al is sy die meeste van die tyd maar buierig, is Hera nogal ‘n looker! Dink so bietjie Marilyn Monroe (waarskynlik die naaste wat ‘n moderne vrou aan Hera se voorkoms sou kom, hierdie nuwerwetse gier van plankies sou nooit deug op Olimpus nie) maar heelwat langer en baie statig.  Sjoe, sy is kwaai, maar sy is mooi ook! As sy tog net wil leer hoe om te relax sal dinge heelwat beter gaan.

Ek wonder of sy al ooit ‘n lover gehad het… Ek bedoel nou iemand anders as Pa. Seker nie. Watter man of god sal braaf genoeg wees om Zeus se vrou te probeer verlei?

Mmm, maar sê nou maar, sê nou net Hera besluit om ‘n man te verlei?

Sy is net so belangrik soos Pa… En sy’s ouer as pa – nou nie Demi en Ashton ouer nie, maar genoeg om as die oudste van Cronus en Rhea bekend te staan – plus sy is die koningin van die gode… genoeg rede en genoeg gesag om hom teen te staan as sy wil.

Dis nou te sê AS sy wil.  Ek sweer sy staan so lank al voor daardie haard dat die feminist revolution ongesiens by haar verby gegaan het.  Ewige jeugdige godin wat sy is het sy nog nooit ‘n bra gedra nie, wat nog te sê van een verbrand?

Tsk, iemand sal haar moet help om with it te raak met hierdie nuwe millenium.

Korreksie EK gaan haar help! With a little bit of help from my friends, natuurlik.

“Apollo, kom hier!”

“Ag hel Erato, wat is dit nou? Ek was besig om te kuier by die Playboy Mansion! Het jy al ooit die Blue grotto gesien? En die girls!”

“Ek sweer jy’s nes ons pa! Dink jy nooit aan iets anders as vroumense nie?”

“Nie as ek dit kan verhelp nie, skattebol en jy weet dit!”

“Ja, okay, ek weet! Maar fokus nou eers bietjie. Ek het ‘n brainwave gehad! Hera moet ‘n lover kry!”

“Hera! Is jy mal! En hoekom sal ek haar in elkgeval wil help om ‘n lover te kry hmm? Na alles wat sy al ons gedoen het – jy weet sy haat my! Ek gee nie ‘n veer om wat met haar gebeur nie.”

“Apollo, dink so bietjie, as Hera vir ‘n slag preoccupied is met haar eie lover gaan sy nie meer so erg tekere gaan oor jou en pa en die res van julle se sosiale aktiwiteite nie! En as Hera gelukkig is kan die res van ons weer vir ‘n slag huis toe gaan.”

“Terug gaan Olimpus toe! Hoekom sal ek dit wil doen noudat ek my eie suite in die Mansion het?”

“Ag Apollo man, moet nou nie so wees nie, toe! En jy wéét jy gaan die een of ander tyd moeg raak vir die Bunnies – jy het nog altyd. En komaan, mis jy nie die feeste en partytjies op Olimpus nie? Om saam met my en die res van die muses konserte te skep en uit te voer nie? Wanneer laas het jy vir ons iets nuuts laat doen? Selfs Hera geniet jou shows! En dit kan dalk net die ideale geleentheid wees om haar aan iemand voor te stel waarop sy smoorverlief kan raak.”

“Erato, jou romantiese sieletjie! Is jy home-sick kleinsus?”

“Ja, so bietjie. Dis net die twaalf wat dit op die oomblik daar bo waag.  Totdat pa vrede gemaak het met Hera is dit nie veilig vir die res van ons om terug te gaan nie. Die meeste van ons is net nog ‘n rede waarom sy vir hom kwaad kan bly. Jy weet dit mos!”

“Nou goed dan. As jy so daarop aandring… Maar ons gaan verseker nog hulp nodig hê. En as jy nou vir Hera hopeloos verlief wil laat raak is daar een ou waarsonder ons dit verseker nie gaan regkry nie. Kom, ons moet vir Cupid gaan soek!”

2 antwoorde op Die verliefmaking van Hera

  1. abrham het gesê op Junie 6, 2009

    ons eie ‘gods must be crazy’serial

  2. gidivet het gesê op Junie 6, 2009

    Lekker storie. En nog ‘n vervolgverhaal ook. (Skuif reg in stoel en begin lees.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.