Plakboek

Plakboeke dit is wat ek  moet maak. Sulke uitknipsels van alles wat vir my mooi is . Nie prentjie mooi nie – woordmooi. Dinge wat ek raaklees in die koerante/tydskrifte ,  wat ek wens ek het gesê – onthou dinge. Herlees dinge. Grappies . Snaakse briewe…

Amper soos my lankterug se prente van filmster Sandra Dee,  geplak in ‘n ou gebruikte oefeningboek  Bo-oor potlood geskriffies . Bo-oor Juffrou Erasmus se reg- en verkeerdmerke.Oefeningboeke met maaltafels agterop. Vermeningvuldigingstafels. Deesdae het die plakstorie ‘n fênsie naam gekry , opgekikker deur mooiversierings –Scrapbooking.

Daar sal seker altyd iemand  wees wat mens se bewondering afdwing. Wat plakwaardig is. Gaan koop nou vanoggend die Beeld . Lees en geniet die man se woorde.                                                                                                 Wilhelm Jordaan. Ek haal net iets aan “‘n Mens weet mos dis jaar na jaar ” dieselle ou storie” – leë voornemens wat vroeg-vroeg verlep en tot niks kom nie.

En jy weet die rykes sal ryker word, die armes armer; kibbelendes sal bly kibbel; praters sal bly praat en niks sê nie; en die donderjaers sal voortdonder…”  Hemel weet , dit is nou die lekkerste woord -‘donderjaers’ !

..en terwyl jy op die bladsy is,  lees gerus Christina Landman . “Mag arm mense kinders hê?” lees deeglik. Ag vader, ” vandag het ek weer so deuskant die Hemel gedraai ” soos my oorle familielid sou sê as iets wonderliks haar toegeval het. Lees die Briewe . Lees die wonderlike brief wat Dr Hennie van Deventer geskryf het ” Ons moenie geleerde barbare hê nie”

Wie G Olwagen van Old Oak is , sou ek nou nie kon sê – sy brief oor die ‘struikeling van die vingers met ASCII-kodes”, oor die kappie op die ê en die deëlteken op die reën- wil tot te vertelle hê dat die gebruik van die kodes mors werksure .’ 4 sekondes hier 15 sekondes daar’. Ek sal nog vêr paaie loop voor ek my kappie en deëlteken gaan los. Rekenaareeu of de not. Moet wel toegee, dit neem tyd in beslag – oordinktyd. Die dubbel nie in AFRIKAANS  is eerder vir my ‘n krisis, ek tik my naderhand so in warpoel van dubbel-nie’s vas..

Moet darem noem, so deur die skryf van dese blog, is ek geroep om na die wonderlike voorlesing te sit en luister van Linda Rhode uit haar nuutste sprokiesboek.  Koop asseblief vir julle kleuters en peuters en familiekindertjies daardie boek – Deuskant die Hemel ! Waarlik ek het vandag daar ‘n draai gemaak.

Groetnis  van die huis op die hoek se inwoners.

19 thoughts on “Plakboek

  1. Dankie vir jou lekker blog.Ek sukkel om die tegnologie van kappies en deeltekens hier op die werf reg te kry,daarom los ek dit uit.
    Ek was altyd goed met die dubbel nie,maar deesdae knoop ek myself altyd vas en twyfel of ek reg is.

    • @perdebytjie , ek het nie ‘n woordeboek op my rekenaar nie, ek twyfel oor spelling van woorde wat ek nooit oor getwyfel het nie..en oor sinsbou – moontlik moet ek met meer konsentrasie begin lees waar kommas geplaas word.. oeg! Dankie vir jou meelees, ek waardeer dit altyd.

Leave a Reply

Your email address will not be published.