You are browsing the archive for Uncategorized.

Staan stil om vorentoe te gaan

December 31, 2019 in Uncategorized

Hier op die ou jaar het ek uiteindelik tyd gemaak om Die Dao van Daan van der Walt te lees. Dit het my heeltemal oorrompel. Ek kan al die pryse en pryswoorde wat hierdie boek al ontvang het, nou verstaan.

Die Dao van Daan van der Walt het my laat stilstaan. Laat wonder. Laat dink.

Aan die einde van verlede jaar het Markus Zusak se Bridge of Clay dit reggekry. Vanjaar was daar twee boeke wat my laat stil word het: Die Dao van Daan van der Walt en Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Laasgenoemde twee speel albei tussen Suid-Afrika en China, maar dit is totaal verskillende boeke.

Die Dao van Daan van der Walt gebruik verskillende antieke tekste om Bybelse valshede te weerlê. Vir té lank het teoloë vir ons gelieg; almal wat die antieke tekste ken, weet dat groot dele van die Ou Testament klakkeloos gesteel is by ander gelowe, en dat die Nuwe Testament geskryf is deur mense wat probeer sin maak uit ’n nuwe interpretasie van die Ou Testament deur nog eens te steel uit ander gelowe se tekste.

Lodewyk G. Du Plessis skep vir Daan, ’n regsgeleerde en stoere Afrikaner, ’n boer, wat naarstiglik aan sy kultuur en geloof vasklou.

Daan se vrou is die letterkundige, iemand wat uiteindelik ontsnap uit haar onververvulde huwelik deur met haar PhD in die letterkunde te begin. Daan het ’n renons in haar vriende wat kom gesels oor tekste en hulle interpretasies; self worstel hy met die Bybel en sy groeiende besef dat hy gay is, dat hy nooit vir sy vrou werklik kan gee wat sy van ’n man se lyf sou verwag nie.

Talle mense lei Daan stelselmatig op ’n ontdekking van tekste wat ouer as die Bybel is, en insae gee in hoe die Bybelskrywers en sendelinge seks versondig het – iets wat nooit moes gebeur het nie.

Ná sy vrou se dood, en ’n paar wrede gebeure wat Daan byna knak, beland hy in China waar sy seun woon en intussen ook, sonder Daan se wete, getroud is. Hier kom Daan in aanraking met ’n Dao-meester by ’n Boeddhistiese tempel en hy leer ’n besondere jong man ken wat hom vaardig maak in die bewegings van Oosterse meditasie.

Daan se wêreld wankel. Sy seksuele drange word nie minder nie, en hoe meer hy probeer vasklou aan die leringe van die kerk, hoe meer vind hy uit dat die einste kerk vir hom gejok het en uiteindelik sou verraai in sy tyd van nood.

Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. Du Plessis is anders, vars en verkwiklik. Dit is ’n uitstekende roman.

Oud-regter Andries Buys is die man wat onder die skuilnaam Lodewyk G. du Plessis geskryf het.

Eendag is nou

December 18, 2019 in Uncategorized

Jacomien is so flippen Afrikaans. So onderdanig aan haar man en haar opvoeding. Ek wou soms skree: “Leef net!” En toe kom sy dit self agter. Boem!

Filosofieproffies sal nooit weer dieselfde wees nie. (Ek het filosofie as hoofvak gehad, terloops. Any takers?)

Kristel Loots kan so lekker spot. So fyn. Sy is so snaaks… Hierdie lekkerleesroman Eendag is nou word uitgegee deur LAPA uitgewers.

Lees gerus hierdie onderhoud. En word deel van Jacomien se siening: Eendag is nou.

Die titel. Verduidelik waarom dit op 60 skielik vir Jacomien nodig geword het om te verstaan eendag is nou?

Jacomien is verveeld met haar lewe. Die mure van die huis beweeg al nader aan haar en sy smag na bevryding. Ook van die irritasie en frustrasie wat oor baie lange jare saam met JanKoos kom. JanKoos is vol fiemies, ’n amper outydse chauvinis en oor die algemeen ’n pyn in die watsenaam, maar hy is nie werklik deur en deur ’n slegte mens nie. Daarom wag Jacomien en sy hoop. Wie weet … miskien gebeur daar eendag iets wonderbaarliks wat alles verander.

Ja, ja, en miskien begin varke eendag vlieg.

Dís die futiliteit van hierdie gedagtes wat Jacomien een someroggend met ’n donderknal in haar kombuis tref. Sy sit handjies gevou vir eendag en wag, maar eendag wag nie meer vir haar nie, eendag het haar ingehaal.

Eendag is hier, eendag is nóú.

Vader Tyd is ’n ou bogger wat niemand ontsien nie.

Jacomien is sestig, wel … amper sestig. Daar word nou eenmaal anders gedink oor ’n vrou van 59 jaar en 364 dae as oor ’n vrou van 60. Asof alle masjinerie summier om middernag afgeskakel word en met ’n gesnik en gestotter tot stilstand skok. Begeertes, intelligensie, skoonheid, alles is daarmee heen, ingehaal deur die tyd.

Jacomien se man, JanKoos, is ’n interessante knaap. Hy woon begrafnisse by en Jacomien gaan saam. Vertel net so iets hiervan?

Jacomien se sosiale lewe bestaan hoofsaaklik daaruit om begrafnisse van wildvreemde mense by te woon. Dis een van die rare maniere waarop haar man, die nimlike JanKoos, sy sake bedryf. Jacomien haat dit, maar ’n goeie vrou behoort tog haar man in al sy bedrywighede te ondersteun. Sy moet mooi stigtelik aantrek sodat hulle met die ander roubeklaers kan saamsmelt. Dis by die after party ná die begrafnis wat JanKoos sy kamera uitpluk en stilweg begin foto’s neem van alles wat agtergebly het.

Maar goed. Hy het haar die ou huishennetjie genoem. En nou is Jacomien nie seker of sy dit meer wil wees nie. Vertel vir ons so iets van die psige van die vrou wat op sestig haarself afvra: Hoekom?

Vroue van 60 hoor ’n klok lui soos met ’n langafstandwedren wanneer jy die laaste rondte begin hardloop. Die eindpaal is in sig en daardie klok begin alte veel soos ’n doodsklok klink. Wanneer ’n vorm ingevul word waar ouderdom ter sprake kom, word die laaste kerfie gewoonlik aangedui as 60 +. Daar word dus geen onderskeid getref tussen 60 en doodgaanouderdom nie.

Geen wonder vroue trap rem vir die vales wanneer daardie getal op hul afstorm nie.

Ná 60 verander alles. Jy kan goedkoper gaan fliek, jy kry verniet koffie in die Wimpy, Spur het spesiale klein happies op die spyskaart wat meer gepas vir jou verouderde spysverteringskanaal sal wees én jy kry afslag as jy jou hare laat sny – en dis gewoonlik ’n ‘eppie’ wat dit doen, almal se hare in dieselfde kleur en styl. Daarvoor is Jacomien darem nog nie gereed nie. Sy laat haar hare en alles anders wat gedoen kan word, by Delia and the Dolls doen en hulle weet wat hulle doen. Daarom is daar nie ’n grys haartjie op Jacomien se kop nie.

Fifty shades of grey of verwaterde beige is nie vir haar nie.

Mans en vroue wat dekades lank saamleef begin later eenders lyk. Dieselfde pille en brille, wat hulle soms deel, dieselfde winkeltande, wat hulle darem hopelik nie deel nie en eenderse kalkoennekke. En hulle begin mekaar se sinne voltooi. Wanneer die skoenlappers in jou maag in vet, lomp motte begin verander, het dit tyd geraak vir vernuwing.

En tog: Hulle het getrou. Hoekom?

JanKoos is nie juis ’n George Clooney look-alike nie. Hy is ’n kortkop korter as Jacomien, daar is ’n kaal kolletjie op sy kop en hy spog met ’n beginners boepens. As student in haar eerstejaar was Jacomien ’n finalis in ’n joolkoninginkompetisie. Selfs op die gevorderde ouderdom van amper 60 het sy nog nie heeltemal verdor of verwelk nie; en mans sien haar nog as vrou raak. Maar om mooi te wees was nie altyd vir Jacomien goed nie. In haar jongmeisiedae het dit teen haar getel.

Die mooie Jacomien is destyds getroud met ’n paar gate in haar gees. Haar sexy Elizabeth Taylor come to bed-oë en lieflike bos hare het nie vir haar die poorte van die hemel laat oopgaan nie. Al wat sy wou hê is ’n doodgewone man, ’n man wat haar nie sou verafgood en allerhande eise aan haar stel nie.

Wat JanKoos beslis nie doen nie, selfs al baai hy in haar glorie. Nie hy of sy ma behandel Jacomien asof sy iets spesiaals is nie. Want sien, JanKoos is sowat 8 jaar jonger as Jacomien. En hy laat haar en almal om hulle dit nooit vergeet nie. Om die braaivleisvure is dít wat hy graag ophaal die oomblik wat daar ’n geleentheid daarvoor is. Jacomien is mutton dressed as lamb, die ouer vrou wat ’n toy boy soos hy nie met rus kon laat nie. Dis ook hoe skoonma haar sien – en Jacomien kan verstaan waarom.

Jacomien word gereeld daaraan herinner dat sy nie kan toelaat dat JanKoos losloop nie. Want hy sal oombliklik deur gretige, gulsige vrouevingers opgeraap word asof ’n swerm honger voëls verbygevlieg kom en hy ’n sappige wurm is.

Daar is meer sulke huwelike soos die van Jacomien en JanKoos. Mans en vroue wat met ’n vae gevoel van onbehaaglikheid in simbiose leef, jaar na jaar, dekade na dekade, nooit werklik gelukkig nie, maar ook nie ongelukkig genoeg om iets daaraan te doen nie.

En dan is daar Roelf. Roelf Landman. O, jinne. Nie goeie vibes nie, al kan hy dalk ’n huis koop en genoeg geld inbring vir ’n sestigste braai. Wat moet die leser van hom weet, sonder om die storie weg te gee?

Op universiteit was Jacomien, mooi soos wat sy was, nie veel van ’n sosiale vlinder of ’n kultuurdier nie, sy het eerder saam met haar paar vriendinne hul dae in die Loeloeraai Restaurant omgesit en gesels. Lekker vet geword van die tjips wat hulle by die borde vol verorber het.

Dis ook waar sy Roelf leer ken het. Hy wat kon pyprook soos ’n pro.

Ag! Sy kon nie vir ’n beter boyfriend gevra het as sy hom self van die hemel af bestel het nie. Selfs haar pa sou tevrede wees met Roelf, hom vertrou het.

Jacomien was vas van plan om in ’n spierwit trourok te trou. Maar dit was voordat sy Roelf leer ken het. As die spierwitte maagdelike trourok waarvan sy jare lank gedroom het, noodgedwonge langs die pad na roomwit moes verander, was Roelf, die tokkelok, die regte man om die opoffering voor te maak. Hy was ’n diep siel, presies waarvoor sy toe nog kuis en koeklik gewag het.

JanKoos het sy dogter ook ’n bietjie opgepiep, nie waar nie?

Ek sal eerder sê hy het haar bederf. JanKoos wou nie te veel deur Klara gepla word nie. Enigiets vir ’n stil lewe. Maar hy het probeer opmaak vir sy onbetrokkenheid by sy dogter. Vir haar ’n buitensporige R50 in die kollektebordjie laat gooi terwyl die ander Sondagskoolkinders ’n skamele R5 gegee het. Pure ‘afshow’ natuurlik, wat die arme Klara toe ook moes ontgeld.

Henk is haar boetie. Daar is nogal ’n mooi verhouding tussen hulle?

Henk en Jacomien is ’n tweeling en die arme Henk voel verantwoordelik vir haar. Maar Jacomien wou nie hê hy moes op universiteit om haar draai soos ’n beskermengel in ’n kakiebroek nie. Tog het hy deur die jare nie veel van ’n keuse gehad nie. Selfs in hul sestigste jaar pak Jacomien haar probleme by hom af. Dit pla haar ’n bietjie. Dat sy ’n leeftyd lank so high maintenance was dat dit hom van alle ander vroue afgesit het.

Dis interessant om te sien dat JanKoos en Jacomien se dogter dink haar pa “joke net” as hy na vroue kyk. Die meisiekind sukkel egter later as sy vermoed haar ma loer na iemand. Hoekom?

’n Ma word dikwels as die hoeksteen van ’n huis beskou en mag, selfs onder die grootste druk, nie verkrummel nie. Dis anders met ’n pa. Hy mag maar ’n paar mirakels en manewales uithaal, want hy’s ’n man en ’n man kan. Dis makliker om hom oor te sien as hy ’n gek van homself en almal om hom maak, want dit word half van hom en sy spesie verwag. En buitendien, hy joke net.

Klara is ’n daddy’s girl. As haar pa en ma saam-saam in ’n bootjie sink, sal Klara altyd eers haar pa uitvis en doodseker maak hy is toegevou in ’n kombers voordat sy hopelik sal terugdraai na Jacomien toe. In Klara se oë is Jacomien old school en sy lyk asof ’n hond sy been teen haar gelig het. Maar Klara is doodseker haar pa kan op water loop terwyl hy ’n stralekrans perfek op sy kop balanseer. Hoeveel kwaad kan so ’n wondermens nou ook doen?

Goed. Dan is daar Jay-Jay. O, aarde. Jacomien kan nie slaap oor alles wat sy dink haar dogter met hierdie prof doen nie…

Klara het spesiale naampies vir Jay-Jay. “Ek noem hom my koning,” vertel sy vir haar ma. “Of skattebol. En liefling. En jou pragtige ding.” Nou kyk, dis genoeg om ’n ma se verbeelding op loop te sit en uit die slaap te hou. En dan is dit ook Jay-Jay se strewe in die lewe om sy studente te leer om alles te vergeet wat hulle deur die jare by hul goeie Calvinistiese Afrikaner-gesagsfigure gehoor het.

Teen wolwe soos hierdie is Jacomien se arme kind nie bestand nie. Juis omdat sy so rebels is vandat sy uit haar ma se home schooling vrygelaat is en toegelaat is om skool toe te gaan soos ’n normale kind.

Daar is selfs selfies op sy skoot. Uhmm. Wil jy iets daaroor uitlap?

Daardie selfies op die professor se skoot was baie ontstellend. Want dit beteken die tweetjies was heel moontlik alleen toe die foto’s geneem is. En wie weet of die sexy professor nie dalk op ’n later stadium uit sy deftige pak klere geklim het nie. Sy das losgewikkel, sy hemp oopgeknoop … Daardie tipe van ding …

Eintlik wou Jacomien al lankal Klara soos ’n arend haar kuiken uit die nes skop terwyl sy nog met moedervlerke onder haar kind kon invlieg om te keer dat sy haar des dinges val. Maar nou is sy nie seker dat Klara se vlerke sterk genoeg is vir die stormwinde wat deur ’n man soos Jay-Jay veroorsaak kan word nie.

Jacomien gaan konfronteer dan die goeie prof en, wel… Gaan eet saam met hom?

En toe is hy heelwat ouer en aantrekliker as wat Jacomien ooit sou vermoed het. Hy met sy Bruce Springsteen-lyf, met ’n houding van for ever in blue jeans, babe. En sy oorringetjie en sy helder oë en sy spierwit tande soos ’n jong leeumannetjie. Hy met daardie sterk gesig van hom, daardie mooi mond.

Wel, maak nou nie saak dat hy soos ’n frieken filmster lyk nie, hy is hopeloos te oud vir Klara, kon haar pa gewees het. Nog erger, in ’n vroeg-ryp-vroeg-vrotgeval, waar daar gou getrou en kinders gekry is, selfs haar frieken oupa.

Klara is begogel met hierdie filosofieprofessor, met die trotse naam van faam, Jean-Jacques Rousseau. Maar Jacomien, interfering mother, pyn in die watsenaam en aardspessimis wat sy is weet daar is bittermin ware happy endings in werklike lewensverhale.

Sal ons maar die leser toelaat om self uit te vind wat dan gebeur? Drama’s uit die verlede, ’n huisbraak… En darem mooi goed ook, nie waar nie.

Jacomien leef midde-in die wanorde en misdaad wat deel is van die Suid-Afrikaanse werklikheid van vandag en leer ook daaruit ’n paar noodsaaklike lewenslesse.

Gister is verby, aan môre kan jy niks doen nie, maar jy kan elke dag leef asof dit jou laaste is. Carpe Diem is meer as net ’n cliché.

Oudword is nie vir sissies nie, maar die amper sestigjarige Jacomien is nie ’n sissie nie. Ook nie oud nie.

Hulle sê jy moet jou sestig jaar oue lyf omhels, jy moet jou ouderdom celebrate. Maar hulle sê niks van die samelewing wat graaf in die hand nader staan om jou te begrawe nie, natuurlik paslik geklee in ’n lelike ouvrourok.

Vroue van sestig mag glo nie aan swinging from the chandeliers dink, daarvan droom of daaroor praat nie. En die algemeen bekende vierletterwoord wat daarna verwys word natuurlik nooit geuiter nie, veral nie sonder om die aanhalingstekens met die vingers in die lug te wys nie. Natuurlik nooit voor die kinders nie, veral nie voor jou eie middeljarige kinders nie. Die arme goed skaam hul dood!

Maar daar is altyd die uitsonderings. Veral onder die wat skielik besef: Eendag is nóú!

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

December 15, 2019 in Uncategorized

Blikskottel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is wêreldletterkunde. Dit staan breëbors langs enige Nobelpryswenner wat ek al gelees het.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden is ’n BOEK, in hoofletters. Drie PhD-skripsies sal nie genoeg wees om dié een na waarde te skat nie. Dit is ’n enorme werk met geweldig baie lae.

Die storie? Dit is in die eerste plek ’n spioenasieverhaal.

Die leser moet egter gewaarsku word: die postmodernistiese bladspieël (let op na die talle wit spasies en twietagtige, kort paragrawe en hutsmerke), ook die voortdurende, metafiksionele selfondersoek, vertraag die leesproses baie bewustelik.

Die boek is dus meer as ’n storie. Soos enige goeie boek het dit lae van die betekenis, hierdie een se lae loop diep, baie diep. Hier is van die betekenislae wat vir my uitstaan:

  • Verbluffende insae vir Afrikaanse lesers in die denke van die Falliste (#FeesMustFall).
  • Taal, veral Afrikaans, se plek in die nuwe Suid-Afrika.
  • Afrikaanswees vs Afrikanerskap vs Afrikaanssprekend wees.
  • Identiteit.
  • Grond.
  • Lyflikheid.
  • Seks vs liefde, of juis nie?
  • Gender.
  • Kuns vs proteskuns vs kommersiële kuns vs die teks vs die neweteks.
  • Trigger warnings.
  • Die reg op privaatheid vs die reg op veiligheid.
  • Die plig van die staat vs die regte van die individu.
  • Die grensoorlog.
  • Volkstate (in verskillende vorme) vs vryheid.

Die lys is langer, maar kom ons laat dit daar.

Pryswenner

Ek vermoed hierdie boek gaan die wenner wees van volgende pryse:

  • Die UJ-prys
  • WA-Hofmeyerprys
  • ATKV-Prosaprys (hang af wie die paneel is)
  • kykNET-Rapportprys vir fiksie
  • Die Hertzogpyrs vir prosa

My opmerking oor die ATKV-Prosaprys is belangrik. Daardie prys is ingestel om toeganklike literatuur te bekroon. In hierdie verband sou Grensgeval van Marita van der Vyver, Halley se komeet deur Hannes Barnard, of Reney Warrington se Smit Motors, dalk ’n waardiger wenner wees, want Die biblioteek aan die einde van die wêreld speel met al postmodernistiese truuks om die leser uit te daag en te laat dink, te laat lees.

Van der Vyver, Barnard en Warrington skryf ’n heerlike storie, hulle bied dit aan op ’n manier wat lekker lees, en skep verskillende lae wat vir ’n slim leser wag om ontdek te word; toeganklike letterkunde dus met baie diepte.

Van Heerden aan die ander kant, skep ’n teks wat die hele tyd vir die leser aandui dat lees ook ’n skeppingsproses is. Jy móét kophou, al is die storielyne redelik eenvoudig. Die teks is uitgerafel en blootgelê, die agterkant van die tapisserie word vorentoe gehang, die steke en die nate wys. Dit ís ’n lekker, onderhoudende storie vol spanning, maar dit is ook ’n selfbewuste artefak. Dit sal dus interessant wees om te sien hoe die paneel die ATKV-Prosaprys se akte lees.

Die ander pryse? Wel. Ek weet wie ek sou kies!

Wie moet die boek lees?

Almal wat behoort aan leeskringe: plaas die een nou al op julle lysies vir 2021, of druk dit in daardie gaatjie wat nog gevul moet word vir 2020. Julle gaan nie ’n lekkerder bespreekboek kry as hierdie een nie.

Vir wie is die boek nie?

Dit is nie ’n boek met ’n enkelvoudige verhaallyn nie en die einde is nie voorspelbaar nie. Ek weet daar is diegene wat suiwer wil lees om te ontsnap. Dan is die boek dalk nie vir jou bedoel nie. Tog, al my navorsing toon dat Afrikaanse lesers honger is vir lekker stories met diepte, daarom vermoed ek hierdie een sal wyd gelees word. Juis omdat dit soveel diepte het.

Bespreek die boek

Nee, dis nie ’n maklike boek nie, dit is egter ’n boek wat jou deeglik inslurp en vashou. ’n Kort resensie soos hierdie is glad nie genoeg om daaroor te praat nie.

Koop dit, lees dit, nooi jou leeskring of ’n klomp vriende, sit ’n hele dag opsy, bespreek die Ubers en maak die rooiwyn oop, begin dan praat. Daar gaan woede wees, want die boek sny diep. Daar gaan uiteindelik ook kollektiewe insig wees – al is dit dan juis in alles waaroor ons nie saamstem nie.

Lees dit.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n bedonnerde werk. Dit slaan hard. Dit slaan jou binne. Dit slaan jou asem weg. Dit dwing jou om jou brein te laat werk.

Dit is nie maklik nie. Dit is egter fantasties.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is my 2019-letterkundeboek-van-die-jaar. Glo my, daar is ongelooflike werke gepubliseer in 2019, so ek sê dit dus nie sommer nie.

Baie van die ander uitstekende boeke lees makliker. Ek was nog altyd, skaamteloos, ’n voorstander van toeganklike letterkunde, maar wanneer ’n boek soos hierdie een verbykom, dan moet ’n mens tyd en kopspasie maak en gewoon sê: Ervaar.

***

Vir ‘n fotogallery oor die boek se bekendstelling, klik hier.

In gesprek met Waldimar en Jan-Jan

December 2, 2019 in Uncategorized

Boeke, bier en briljante breine.

LAPA Uitgewers het op 26 November vir Jan-Jan Joubert gevra om met Waldimar Pelser te gesels oor die boek In gesprek met Waldimar.

Waldimar Pelser is die aanbieder van kykNET Verslag se aktuele TV-program In Gesprek. Hierdie boek bevat ‘n versameling van die 100 beste, lekkerste en dapperste van inleidings wat Waldimar vir die program geskryf het; dit is uitgegee deur LAPA Uitgewers. Dit is ‘n bietjie soos om deur Zapiro se boeke te blaai, jy herbeleef alles weer.

Waldimar Pelser is redakteur van die Sondagkoerant Rapport.

Hy is al drie keer met ‘n ATKV-Mediaveertjie as beste aanbieder van ‘n nuus- of aktualiteitsprogram bekroon.

Voor sy joernalistieke loopbaan het hy in die regte en die joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en daarna ‘n meestersgraad aan die Oxford-universiteit in Engeland verwerf.

Die gesprek het plaasgevind in The Biggest Little Beer Shop, net langs Wordsworth Books in die Willowbridge Winkelsentrum. Wordsworth Books se personeel het die geleentheid gereël en het die boeke daar verkoop.

Jan-Jan Joubert is self ‘n joernalis wat al baie pryse gewen het. Sy tweede boek, Gaan Suid-Afrika oukei wees? het pas verskyn.

Die bierwinkel was vol en die gehoor het die gesprek geniet.

Heelwat vrae is gevra. Hier vra Elridus Grobler ‘n vraag oor die internasionale swaai na regs.

Beide Jan-Jan en Waldimar het met die gehoor gesels ná die tyd.

Aspaai: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

November 22, 2019 in Uncategorized

Etienne van Heerden se nuutste, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, is op 19 November 2019 op Stellenbosch bekendgestel. Natuurlik wou ek kiekies neem.

LitNet het ‘n fotogalery geplaas. Klik hier om dit te besoek.

Ek deel so ‘n paar van my gunstelingkiekies wat dit nie gemaak het nie – outtakes soos ons Engels sê.

Etienne teken my boek.
Loerbroer is orals, ons bestaan is fragiel.
Só werk dit.
Wie loer jou af?

Cape Town, a place between

November 21, 2019 in Uncategorized

Cape Town: A place between by Henry Trotter is an odd little book, but so worth reading.

I live in Cape Town. It is a place between two oceans, between first and third worlds, between east and west. Many locals think that we are the last outpost of a European dream. Trotter asks: How can we understand a city that is most assuredly in Africa, though not—seemingly—of it?

The majority of its citizens: a people between black and white, native and settler, African and European. Jip. Ou Jan en sy manne het vrou gevat. Afrikaans, my home tongue, started here. A mixed language.

Trotter came to Cape Town twenty years ago and married a local. Now he lives here. He has a child.

Like my own, Henry’s family is not all white. He married a woman that would have been “coloured” under apartheid. Their marriage would have been illegal.

From within his own family, he began exploring Cape Town and her people.

Here is a short extract:

***

Cape people, half-castes, God’s step-children, BastardsHottentots, Eurafricans, half-breeds, racial hybrids, middle minority, buffer group, mixed-bloods, marginal men, in-betweeners, brown Afrikaners, middle children, twilight people, blacks, so-called Coloureds, people of mixed race, CamissakleurlingsbruinmenseBoesmansgam: just a few names given through history to the people now called—and who call themselves—coloureds.

This sprawling (and mostly offensive) nomenclature reveals South Africans’ uncertainty concerning how to understand people whose genetic and cultural diversity resists narrow racial categorization.

In fact, in apartheid law, coloureds were literally deemed those who were not “obviously” African, European or Indian.

They were a reservoir category, a collection of people who did not conform to the purist racial fantasies of white men.

***

This is a short book of just over 100 pages; it allows readers to quickly identify the unique pulse of the city, as well as its throbbing historical, social, cultural and political beat that underlies the transactions between all Capetonians. Anyone, anywhere in the world, should read it.

It is published by Catalyst Press and distributed in South Africa by LAPA. The ISBN is 978-1-946395-25-2.

It is available at Loot.co.za, the Book Lounge, Kalk Bay Books and many branches of Bargain Books and Exclusive Books. Any store will also be able to order it for you.

The Cape Argus published an extract, with photographs of Henry and his family as well. Find it here.

News24 also published an extract. You can read it here.

I took this photograph in Kalk Bay a few years ago. Kalk Bay has fascinating history. It started as a fishing community. Then the rich (white) folks moved in. Apartheid wanted it segregated. Neither the whites nor the “non-whites” were prepared to budge. These flats have a long history of housing people in between rich and poor. This young boy, so smartly dressed for school, gives me hope.

Kalk Bay is like a mini Cape Town. That is why one of the launches will take place in Kalk Bay.

(2 uit) Drie Kleure Paul

November 17, 2019 in Uncategorized

In 1993 en 1994 het Krzysztof Kieślowski drie films uitgebring: BlouWit en Rooi. Die drie films het gou bekend geword as die Drie-Kleure-trilogie en was gewild, deels omdat die helfte van die Westerse wêreld verlief is Juliette Binoche, maar ook omdat hulle gewoon baie slim in mekaar gesteek het.

Kieślowski het naamlik drie verskillende stories vertel, maar het sekere tonele herhaal om so intertekste te skep.

Waarom gebruik ons intertekste?

Enige teks praat met ’n ander. Op ’n basiese vlak kan jy met advertensies van twee kettingwinkels in jou hand staan en die pryse vergelyk sodat jy kan besluit waarheen om te gaan, maar in die letterkunde maak skrywers van intertekste gebruik om poorte oop te maak na ander (verbeelde) wêrelde.

Wanneer ’n skrywer bewustelik ’n ander verhaal oproep, beteken dit dat die ander verhaal betrek word en op ’n metavlak bekyk word vanuit die nuwe teks. Op hierdie manier ontstaan ’n gesprek tussen tekste.

Chanette Paul doen nou presies dieselfde met die drieluik waarmee sy tans besig is.

Twee van die drie, Lira en Mirre, is gepubliseer en die derde, Corali, verskyn in Februarie.

Die boeke fokus op drie vroue wat wegvlug uit gebroke verhoudings en hulle dan kom afsonder op ’n dorpie met die naam Vywerbaai. Daar gebeur die lewe, die hartseer, en die mooi. Uiteindelik is daar hoop vir elkeen.

Paul maak, soos Kieślowski, bewustelik gebruik van intertekste. Sy laat sekere gebeure weer ’n keer “speel” voor die leser se oog. So leer ons meer oor dieselfde gebeurtenis, maar uit ’n verskillende perspektief. Dit is slim. Die leser ken nou al van die karakters en weet dus soms wat gaan gebeur, wat spanning skep.

By ander geleenthede word stiltes in die een teks weer aangevul deur ’n kennis van die ander; een baie mooi voorbeeld is Beulah en haar gesin.

Paul is baie slim. Sy beskryf ’n spierwit dorpie op so ’n manier dat die leser onmiddellik bewus is van die bevoorregte posisie van die inwoners, maar sonder dat sy ooit prekerig raak oor die saak, en sonder dat die storielyn in gedrang kom.

In die eerste boek leer ons Beulah, die huishulp uit die onderdorp, en ander lede van haar gesin ken. In die tweede is Beulah en haar gesin baie minder sigbaar, deels omdat die fokus hier heel anders is. Dan, op bladsy 222 gooi Paul ’n leidraad aan die slim leser. Beulah merk op teenoor Boet: “Ons bruin mense is mos deurskynend vir wit mense. Sien ons nie raak nie. En hulle glo seker ons is doof ook, want hulle praat dinge waar ons kan hoor wat seker nie vir onse ore bedoel was nie.”

Meer gaan ek nie verklap nie. Lees die boek. Die realiteit is dat hierdie opmerking, en die intrige wat hierop volg, baie belangrik is vir dié boek en die reeks. Nie net lewer Paul op ’n metavlak kommentaar op die Suid-Afrikaanse samelewing nie, sy bestuur haar karakters se aan- of afwesigheid om haar stories te maak werk – oor al drie boeke heen.

Dis slim. Beulah se opmerking sou minder suksesvol wees in hierdie boek as ons haar nie reeds elders leer ken het nie.

Die Literaire Thriller

In Nederland is daar ’n hele “genre” van lekkerleesverhale wat verkoop word onder die vaandel van ’n Literaire Thriller. Hierdie boeke probeer nie letterkundige pryse wen nie. Hulle is kommersieel en lees lekker, maar is geskakeerd en die mense is redelik gewoon; hulle is nie superhelde nie.

Ons gebruik nie daardie term in Suid-Afrika nie, maar Chanette Paul sou waarskynlik die beste voorbeeld daarvan wees in ons land. Haar karakters is suksesvol, hier en daar selfs ryk, maar hulle is nie superhelde, of selfs superskurke nie. Soos dikwels in Nederlandse tekste die geval is met die Literaire Thriller, hou Paul haar besig met die posisie van die vrou in ’n komplekse stelsel van waardes.

In Mirre skep sy weer ’n narsistiese vent om Mirre se man te wees (hoor sommer hoe die spanningslyn stywer word!), maar die mense wat Mirre om haar skaar, is gewoon. Ryk, ja. Bevoorreg, ja. Maar ook menslik. Verder: die bevoorregting word reguit in die oë gekyk en aangespreek. (Toilet! Toilet! As jy dít nie verstaan nie, koop Lira en Mirre dadelik.)

LAPA gaan volgende jaar die Nederlandse superskrywer Ester Verhoef na Suid-Afrika bring om op te tree by die US Woordfees. Verhoef is een van die heel beste verkopers in Nederland. Voor jy egter in Maart Liewe Mamma koop, wat die Afrikaanse vertaling van Verhoef se blitsverkoper is, moet jy dalk Chanette Paul se LiraMirre en Corali lees. Kyk ’n bietjie hoe lekker onse Boerethrillers is!

Drie kleure Paul. Lekker. Baie lekker. Kieślowski, eat your heart out!

Natural hair | Natuurlike hare

November 14, 2019 in Uncategorized

“Being a brown person means hair is more than just hair.” So said Bianca Flanders at the launch of her delightful book Pumpkin finds her queen.

 “Girls spend so much time worrying about their hair, instead of thinking how they may become president one day,” Flanders said to a packed Young Blood Gallery in Breë Street, Cape Town.

Kelly Smith interviewed Flanders.

Flanders told Smith she too used to do everything to have straight hair, but then one day, like Pumpkin Pie, she realised that it was possible to embrace her beautiful curls.

Flanders teamed up with her partner Dean Balie for a delightful reading, set to music, of Pumpkin finds her queen.

Balie is an actor in his own right.

Flanders is a well-known and much-respected singer, dancer and actor. She is a voice artist as well.

Pumpkin finds her queen is her first book.

The delightful illustrations in the book are by the award-winning illustrator Zinelda McDonald.

Die boek is ook in Afrikaans beskikbaar as Prinses Pampoenpit. Albei boeke is uitgegee deur LAPA Uitgewers.

Lihle Dunjana provided some lovely jazz.

***

Hair has always been political in this country.

There were the pencil tests.

There were army-style shaves (even in school).

Three years ago some headmasters still took it upon themselves to be the ridiculous gate keepers of an old and defunct order.

Back then I composed this photo essay in protest.

Last night I was totally enamoured by the way natural hair was embraced.

Pumpkin Pie for President!

Die sewentiende veer

November 3, 2019 in Uncategorized

Die karakters in Nanette van Rooyen se nuwe boek voel vir my soos daardie Chinese porseleinbakkies wat gebreek het, en dan weer met goud aanmekaar gelas is. ’n Mens noem die vreemde kunsvorm Kintsugi. Die stukkende kunswerk kry meer waarde deur stukkie vir stukkie weer met liefde en goud gelas te word.

Koop Die sewentiende veer en lees dit voor die resensente met spoilers begin. Die titel verwys na ’n baie belangrike veer, maar ek gaan nie sê hoekom nie.

Ek wil wel noem:

  • Lara woon saam met haar ma en dié se vriend. Hulle is ’n klein, disfunksionele gesin wat tog baie lief is vir mekaar.
  • Lara werk vir ’n tatoe-kunstenaar.
  • Lara weet nie haar pa is nie, en dit grief haar.
  • Alex het in ’n kinderhuis grootgeword. Daar ontmoet hy ’n alleenloper wat na uile en ander voëls omsien. Dié man en sy uile word Alex se enigste familie.
  • Alex werk in ’n bekende koffiewinkel in Kaapstad, die ene steampunk.

Ons ontmoet die karakters wanneer Alex na Lara gaan soek. Lees self hoe en hoekom.

***

Jeugromans, Bildungromans en teikenmarkte?

Van Rooyen se boek is fantasties. Dit is dalk “jeugroman”, maar alle ouderdomme van 13 af op moet dit lees. Die boek is kort en die temas is so geskryf dat ’n onderwyser nie ’n toeval sal kry as ’n leerder dit in die klas wil gebruik nie, maar die karakters is rond genoeg afgewerk om enige ouer leser ook te bekoor.

Jeugboeke is nie mak nie. Dink maar aan Fanie Viljoen se baie bekende Breinbliksem (Tafelberg) of sy uitstekende Pleistersvir die dooies (LAPA). Albei moet, soos Nanette van Rooyen se Die sewentiende veer (LAPA), of Jan Vermeulen se Soen (Tafelberg) en Oopmond (LAPA), ook deur volwassenes gelees word.

As jy nie Sally Partridge se boeke ken nie, dan moet jy hier kliek. Hulle is briljant. Ja, hulle werk as jeugromans, want in Engels lees skooljuffers makliker moeilike onderwerpe, maar nog eens is dit net onnosel groot mense (wat dit ook al mag beteken) wat nie Partridge se boeke sal wil probeer nie. Tafelberg kan baie, baie trots wees op haar.

Dan het jy dikker, meer verwikkelde romans waarin die temas meer gewaagd is, dink maar aan Halley se komeet (Wenkbrou) deur Hannes Barnard. Daardie karakters is jonger as Van Rooyen se karakters, maar die temas word anders aangepak. Dit is hoekom ons dit as ’n Bildungsroman geklassifiseer het.

Dink ook Lucia Prinsloo se Vegters (Wenkbrou) waar die hoofkarakters slegs ’n paar jaar uit die skool uit is. Dit is een van die groot boeke van 2019. Op watter stadium is ’n boek dus vir “ou mense”?

My kontensie is dat alle mense goeie boeke moet koop, lees en geniet.

Die sewentiende veer is dunner en effens minder verwikkeld as van die ander wat ek hier bo noem, maar dis in die eenvoud dat ’n mens die gebreekte karakters teen die lig sien om hulle goue inlaswerk te bewonder. Hulle is nie almal super ryk, super mooi, super arm of super slim nie. Van Rooyen skep MENSE.

Sy betrek ook werklike gebeure, soos die bekendstelling van Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie se Soettand by die Rhodes Memorial, om egtheid aan haar karakters te verleen. Ook Dana Snyman word ’n wonderlike kamee geskenk in hierdie boek.

Ek self is nie gek oor ’n eerstepersoonverteller nie, hoewel die meeste jeugboekskrywers dié verteltoon aanneem. Die voordeel van dié verteltrant is egter ’n intieme stem wat ons nie makliker anders sou kry nie. Van Rooyen doen dit baie goed. Jy beleef elke seer, elke oomblik van verwondering en elke enorme selfondersoek baie, baie intens.

***

Van Rooyen verjaar vandag.

In die boek speel vere van baie verskillende soorte voëls ’n baie groot rol. Lees self. Ek gaan nie verklap nie.

Al wat ek gaan sê is: Nanette, op jou verjaarsdag stuur ek vir jou veer uit Kanada. Dit is opgetel deur ’n lid van die inheemse bevolking en ingebind in ’n droomvanger. Dit het met ’n lang ompad by my beland. Ek het geen idee aan watter voël dit behoort het nie. My droom is dat Die sewentiende veer deur baie mense gelees en waardeer sal word.

Beseringstyd

November 3, 2019 in Uncategorized

Suid-Afrika se ekonomie is in beseringstyd, maar vandag is ons almal kampioene.

(A quick summary in English lower down)

Voor die wedstryd verby was, het die woorde South Africa reeds op die William Webb Ellis-trofee gepryk.

Toe die gonser blaas, moes Suid-Afrika net een hengse skop na die kantlyn gee om seker te maak dat Siya Kolisi die beker omhoog sou hou, om seker te maak dat Cyril Ramaphosa in ’n Boktrui vir ’n klompie oomblikke verswelg sou word deur enorme, swetende manne wat ’n passie vir Suid-Afrika deel.

Daar was iets magies aan die wen; en aan Kolisi se toespraak teen die teen die einde. Saam kan ons meer doen.

Vir ’n paar fantastiese oomblikke was die wêreld mooi, was die reënboognasie saamgebind in groen en goud. En vir die eerste keer was die span, wat die beker vir die reënboognasie gewen het, so bont soos die mense wat vir hulle geskree het.

Nou die vraag:

Hoekom is daar so min boeke oor rugby geskryf?

Kerneels Breytenbach het onlangs Hond se gedagte gekry. Lees dit. Kerneels weet hoe om ironie te laat werk; kerk, staat en rugby… niks word ontsien nie. Daar is ook die biografieë. Against all odds is ’n Jonathan Ball-publikasie, terwyl dieselfde outeur se weergawe vir jongmense, wat gewoon Siya Kolisi heet, in Afrikaans by LAPA uitgegee is. (En lees Naomi Meyer se onderhoud met die skryywer op LitNet.)

Maar romans, met ouens wat hulle longe uitspeel in rugby, die demigode wat werklik groter en sterker is as gewone mense, is skaars.

Hoekom? Dalk is die rol van die letterkunde om te ironiseer, om vrae te vra. In wit Suid-Afrika was rugby nogal altyd die grootste godsdiens, so hoe skryf jy oor helde sonder om dweperig te wees? Die letterkunde se rol is nie om biografieë te skryf nie, die skrywer van fiksie se rol is om die voete van klei te ondersoek.

Daar is egter een boek wat ek baie hoog aanslaan. FJ Labuschagne se Beseringstyd is ’n slim roman wat ook baie lekker lees. Dit het reeds in 2014 by Naledi verskyn, so ’n mens sal dalk in tweedehandsewinkels moet gaan soek; doen dit, dié boek verdien aandag.

Chase, die hoofkarakter, is alles wat ’n mens van ’n rugbygod verwag: Hy is ryk, hy is groot, hy is so sterk soos ’n bees en die vroumense gooi panties. Hy is boonop blerrie goed op die veld.

Dit is ’n letterkundige teks, so daar is ’n maar; hierdie held het ’n swak plek. Dit is waar die boek fassinerend raak; want Chase bly op die heel hoogste vlak meeding, ten alle koste.

Koop dit en lees dit. Jy geniet die vasbyt, die sweet, die kameraderie. Iewers, as jy die hoogste sport in enige iets wil bereik, moet jy deur pyn en selfbevraagtekening kan werk om die oog op die prys te hou. Of jy nou opleiding as soldaat ontvang, of in rugby wil uitblink, of op die pad jou merk wil maak as hardloper, die bomenslike maak van jou ’n wenner.

Elkeen van daardie manne wat Saterdag die Engelse oorrompel het, se storie is op ’n manier soortgelyk aan Chase s’n. Elkeen is ’n godjie in die rugbygodsdiens. Elkeen het met pyn en baie bitter ure daar gekom.

Wat maak van Saterdag se oorwinning so spesiaal?

FJ Labuschagne se Beseringstyd dra ’n motto: In beseringstyd kan jy ’n wedstryd wen of verloor.

Saterdag het die bokke niks meer as 80 minute nodig gehad nie. Ons land se naam was reeds op die beker (letterlik) toe die eindfluitjie blaas.

Dit was egter die kort, effens gesette man wat sy pak se baadjie en hemp gaan ruil het vir ’n groen trui wat weet ons land moet nou wen, anders gaan ons verloor. Cyril staan aan die hoof van ’n regering wat ernstig droog gemaak het. Junk status staan oral op die finansiële state.

Gelukkig kan ’n godsdiens, soos rugby, soms in beseringstyd iets beteken.

Saterdag het dit.

Saterdag het ons weer in Suid-Afrika geglo.

Saterdag het Rassie Erasmus se span vir ons gewys ’n mens kan in beseringstyd die onmoontlike moontlik maak.

Ek sluit af met korrespondensie tussen my ’n baie dierbare vriendin – ’n Ausie. Jip. ’n Ausie.

***

This correspondence between me and a dear friend in Australia summarises yesterday’s events.

My friend wrote:

Well done RSA. I thought the POMS were a shoe-in so even a greater effort as underdogs with a black captain!!!!
I guess there will be much celebration. Enjoy

I answered:

It is wonderful how the nation united yesterday. Jabu and I watched the game with friends. Not one of the people in the room were rugby fans, but we cheered every move.

It was truly wonderful.

Lots of green and gold love.

Sometimes fairy tales are more real than books.

Sometimes we have to embrace the fact that heroes need not have feet of clay, that our team is the best.

Sometimes even a cynic has to write in hashtags: #WeDidIt #ItComesHome #Siya #SiyaKolisi #OhCaptainMyCaptain #GroenEnGoud #DitKomHuisToe