Vegters in nuwe oorloë

January 12, 2020 in Uncategorized

Vegters deur Lucia Prinsloo is waarskynlik die eerste vernuwende werk oor oorlog in Afrikaans, juis omdat dit wegbreek van die Suid-Afrikaanse grensliteratuur en niks met die Boereoorlog te make het nie.

(English-language readers, click here for a discussion.)

Verhale oor die Grensoorlog is belangrik, sien ook my bespreking van Grensgeval op LitNet. Soos Viëtnam die Amerikaners se psige oorheers het vir baie geslagte, sal die oorlog in Angola nog lank met ons wees. Kyk ook maar hoeveel goeie boeke daar nog oor die Boereoorlog geskryf word.

Tog, die nuwe generasies beweeg aan, vir my seun is die Grensoorlog ’n soort fassinasie, iets waar sy pa met gewere gewerk het. Hy wil ook weet hoe dit is om met ’n goeie aanvalsgeweer te werk, daarom skiet hy gereeld by ’n skietbaan.

Dit is hierdie nuwe Suid-Afrikaners wat ons hertoelating tot die Gemenebes nou omarm. Dié jongmense is los van apartheid en is nooit opgeroep vir diensplig nie; hulle kan hulleself sonder ideologiese angs skaar aan die kant van Brittanje se elitemagte.

Lucia Prinsloo se eie seun is een van die jong manne wat wou aansluit by ’n uitstekende weermag; hy en ’n baie goeie vriend het dit gedoen en het uiteindelik in Afghanistan gaan veg as deel van die Britse weermag.

Jonk of nie, oorlog maak seer. Dit maak nie saak watter koeël watter lyf tref nie, dit maak nie saak in watter land die stewel vervaardig is wat die landmyn aftrap nie, wanneer die bloed spat, is dit rooi.

Prinsloo beskryf die oorlog in Afghanistan verbluffend goed, deels omdat haar seun kon raad gee. Die jongmanne het selfs raad gegee met die voorblad; dit is geen geheim nie dat hulle eie gesigte hier vasgevang is.

Prinsloo skryf fiksie, maar put baie uit die jong Suid-Afrikaners se ervarings.

Die leser word ingetrek in die klank, die reuk, die vrees … Wanneer jy in daardie Chinook klim, voel jy die vibrasies. Op patrollie sien jy die omgewing, jy ervaar die klanke.

Later wanneer die twee manne die Duzi Marathon gaan roei, is dit soos om ’n film te kyk wat geskiet is vanaf ’n GoPro op hulle helmets.

Louis Esterhuizen sê oor Vegters: “Hierdie werk is by verre een van die mees indrukwekkende tekste wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om te hanteer.” Komende van ’n meester is dit enorme pryswoorde, maar ek dink ook Vegters is iets heeltemal nuut, heeltemal anders en is fantasties aanmekaar gesit.

Ek wil opsetlik nie te veel van die storie weggee nie, maar die oorlog maak seer. Die oorlog laat fisiese en emosionele letsels.

Baie van ons het al geskryf oor hoe “colatteral damage” (die dood van siviele mense) soldate ry; hierdie boek is nie anders nie en skroom nie om dit aan te spreek nie.

Die verskrikking van ’n landmyn is ’n belangrike deel van dié boek.

Uiteindelik is Vegters ook ’n boek oor twee seuns wat probeer om lief te hê ná alles.

Lucia Prinsloo se Vegters is een van my gunstelingtekste uit 2019; daar was baie tekste wat my opgewonde gemaak het.

Vegters het by Wenkbrou verskyn. Wenkbrou is ‘n druknaam van LAPA uitgewers.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *