Eendag is nou

December 18, 2019 in Uncategorized

Jacomien is so flippen Afrikaans. So onderdanig aan haar man en haar opvoeding. Ek wou soms skree: “Leef net!” En toe kom sy dit self agter. Boem!

Filosofieproffies sal nooit weer dieselfde wees nie. (Ek het filosofie as hoofvak gehad, terloops. Any takers?)

Kristel Loots kan so lekker spot. So fyn. Sy is so snaaks… Hierdie lekkerleesroman Eendag is nou word uitgegee deur LAPA uitgewers.

Lees gerus hierdie onderhoud. En word deel van Jacomien se siening: Eendag is nou.

Die titel. Verduidelik waarom dit op 60 skielik vir Jacomien nodig geword het om te verstaan eendag is nou?

Jacomien is verveeld met haar lewe. Die mure van die huis beweeg al nader aan haar en sy smag na bevryding. Ook van die irritasie en frustrasie wat oor baie lange jare saam met JanKoos kom. JanKoos is vol fiemies, ’n amper outydse chauvinis en oor die algemeen ’n pyn in die watsenaam, maar hy is nie werklik deur en deur ’n slegte mens nie. Daarom wag Jacomien en sy hoop. Wie weet … miskien gebeur daar eendag iets wonderbaarliks wat alles verander.

Ja, ja, en miskien begin varke eendag vlieg.

Dís die futiliteit van hierdie gedagtes wat Jacomien een someroggend met ’n donderknal in haar kombuis tref. Sy sit handjies gevou vir eendag en wag, maar eendag wag nie meer vir haar nie, eendag het haar ingehaal.

Eendag is hier, eendag is nóú.

Vader Tyd is ’n ou bogger wat niemand ontsien nie.

Jacomien is sestig, wel … amper sestig. Daar word nou eenmaal anders gedink oor ’n vrou van 59 jaar en 364 dae as oor ’n vrou van 60. Asof alle masjinerie summier om middernag afgeskakel word en met ’n gesnik en gestotter tot stilstand skok. Begeertes, intelligensie, skoonheid, alles is daarmee heen, ingehaal deur die tyd.

Jacomien se man, JanKoos, is ’n interessante knaap. Hy woon begrafnisse by en Jacomien gaan saam. Vertel net so iets hiervan?

Jacomien se sosiale lewe bestaan hoofsaaklik daaruit om begrafnisse van wildvreemde mense by te woon. Dis een van die rare maniere waarop haar man, die nimlike JanKoos, sy sake bedryf. Jacomien haat dit, maar ’n goeie vrou behoort tog haar man in al sy bedrywighede te ondersteun. Sy moet mooi stigtelik aantrek sodat hulle met die ander roubeklaers kan saamsmelt. Dis by die after party ná die begrafnis wat JanKoos sy kamera uitpluk en stilweg begin foto’s neem van alles wat agtergebly het.

Maar goed. Hy het haar die ou huishennetjie genoem. En nou is Jacomien nie seker of sy dit meer wil wees nie. Vertel vir ons so iets van die psige van die vrou wat op sestig haarself afvra: Hoekom?

Vroue van 60 hoor ’n klok lui soos met ’n langafstandwedren wanneer jy die laaste rondte begin hardloop. Die eindpaal is in sig en daardie klok begin alte veel soos ’n doodsklok klink. Wanneer ’n vorm ingevul word waar ouderdom ter sprake kom, word die laaste kerfie gewoonlik aangedui as 60 +. Daar word dus geen onderskeid getref tussen 60 en doodgaanouderdom nie.

Geen wonder vroue trap rem vir die vales wanneer daardie getal op hul afstorm nie.

Ná 60 verander alles. Jy kan goedkoper gaan fliek, jy kry verniet koffie in die Wimpy, Spur het spesiale klein happies op die spyskaart wat meer gepas vir jou verouderde spysverteringskanaal sal wees én jy kry afslag as jy jou hare laat sny – en dis gewoonlik ’n ‘eppie’ wat dit doen, almal se hare in dieselfde kleur en styl. Daarvoor is Jacomien darem nog nie gereed nie. Sy laat haar hare en alles anders wat gedoen kan word, by Delia and the Dolls doen en hulle weet wat hulle doen. Daarom is daar nie ’n grys haartjie op Jacomien se kop nie.

Fifty shades of grey of verwaterde beige is nie vir haar nie.

Mans en vroue wat dekades lank saamleef begin later eenders lyk. Dieselfde pille en brille, wat hulle soms deel, dieselfde winkeltande, wat hulle darem hopelik nie deel nie en eenderse kalkoennekke. En hulle begin mekaar se sinne voltooi. Wanneer die skoenlappers in jou maag in vet, lomp motte begin verander, het dit tyd geraak vir vernuwing.

En tog: Hulle het getrou. Hoekom?

JanKoos is nie juis ’n George Clooney look-alike nie. Hy is ’n kortkop korter as Jacomien, daar is ’n kaal kolletjie op sy kop en hy spog met ’n beginners boepens. As student in haar eerstejaar was Jacomien ’n finalis in ’n joolkoninginkompetisie. Selfs op die gevorderde ouderdom van amper 60 het sy nog nie heeltemal verdor of verwelk nie; en mans sien haar nog as vrou raak. Maar om mooi te wees was nie altyd vir Jacomien goed nie. In haar jongmeisiedae het dit teen haar getel.

Die mooie Jacomien is destyds getroud met ’n paar gate in haar gees. Haar sexy Elizabeth Taylor come to bed-oë en lieflike bos hare het nie vir haar die poorte van die hemel laat oopgaan nie. Al wat sy wou hê is ’n doodgewone man, ’n man wat haar nie sou verafgood en allerhande eise aan haar stel nie.

Wat JanKoos beslis nie doen nie, selfs al baai hy in haar glorie. Nie hy of sy ma behandel Jacomien asof sy iets spesiaals is nie. Want sien, JanKoos is sowat 8 jaar jonger as Jacomien. En hy laat haar en almal om hulle dit nooit vergeet nie. Om die braaivleisvure is dít wat hy graag ophaal die oomblik wat daar ’n geleentheid daarvoor is. Jacomien is mutton dressed as lamb, die ouer vrou wat ’n toy boy soos hy nie met rus kon laat nie. Dis ook hoe skoonma haar sien – en Jacomien kan verstaan waarom.

Jacomien word gereeld daaraan herinner dat sy nie kan toelaat dat JanKoos losloop nie. Want hy sal oombliklik deur gretige, gulsige vrouevingers opgeraap word asof ’n swerm honger voëls verbygevlieg kom en hy ’n sappige wurm is.

Daar is meer sulke huwelike soos die van Jacomien en JanKoos. Mans en vroue wat met ’n vae gevoel van onbehaaglikheid in simbiose leef, jaar na jaar, dekade na dekade, nooit werklik gelukkig nie, maar ook nie ongelukkig genoeg om iets daaraan te doen nie.

En dan is daar Roelf. Roelf Landman. O, jinne. Nie goeie vibes nie, al kan hy dalk ’n huis koop en genoeg geld inbring vir ’n sestigste braai. Wat moet die leser van hom weet, sonder om die storie weg te gee?

Op universiteit was Jacomien, mooi soos wat sy was, nie veel van ’n sosiale vlinder of ’n kultuurdier nie, sy het eerder saam met haar paar vriendinne hul dae in die Loeloeraai Restaurant omgesit en gesels. Lekker vet geword van die tjips wat hulle by die borde vol verorber het.

Dis ook waar sy Roelf leer ken het. Hy wat kon pyprook soos ’n pro.

Ag! Sy kon nie vir ’n beter boyfriend gevra het as sy hom self van die hemel af bestel het nie. Selfs haar pa sou tevrede wees met Roelf, hom vertrou het.

Jacomien was vas van plan om in ’n spierwit trourok te trou. Maar dit was voordat sy Roelf leer ken het. As die spierwitte maagdelike trourok waarvan sy jare lank gedroom het, noodgedwonge langs die pad na roomwit moes verander, was Roelf, die tokkelok, die regte man om die opoffering voor te maak. Hy was ’n diep siel, presies waarvoor sy toe nog kuis en koeklik gewag het.

JanKoos het sy dogter ook ’n bietjie opgepiep, nie waar nie?

Ek sal eerder sê hy het haar bederf. JanKoos wou nie te veel deur Klara gepla word nie. Enigiets vir ’n stil lewe. Maar hy het probeer opmaak vir sy onbetrokkenheid by sy dogter. Vir haar ’n buitensporige R50 in die kollektebordjie laat gooi terwyl die ander Sondagskoolkinders ’n skamele R5 gegee het. Pure ‘afshow’ natuurlik, wat die arme Klara toe ook moes ontgeld.

Henk is haar boetie. Daar is nogal ’n mooi verhouding tussen hulle?

Henk en Jacomien is ’n tweeling en die arme Henk voel verantwoordelik vir haar. Maar Jacomien wou nie hê hy moes op universiteit om haar draai soos ’n beskermengel in ’n kakiebroek nie. Tog het hy deur die jare nie veel van ’n keuse gehad nie. Selfs in hul sestigste jaar pak Jacomien haar probleme by hom af. Dit pla haar ’n bietjie. Dat sy ’n leeftyd lank so high maintenance was dat dit hom van alle ander vroue afgesit het.

Dis interessant om te sien dat JanKoos en Jacomien se dogter dink haar pa “joke net” as hy na vroue kyk. Die meisiekind sukkel egter later as sy vermoed haar ma loer na iemand. Hoekom?

’n Ma word dikwels as die hoeksteen van ’n huis beskou en mag, selfs onder die grootste druk, nie verkrummel nie. Dis anders met ’n pa. Hy mag maar ’n paar mirakels en manewales uithaal, want hy’s ’n man en ’n man kan. Dis makliker om hom oor te sien as hy ’n gek van homself en almal om hom maak, want dit word half van hom en sy spesie verwag. En buitendien, hy joke net.

Klara is ’n daddy’s girl. As haar pa en ma saam-saam in ’n bootjie sink, sal Klara altyd eers haar pa uitvis en doodseker maak hy is toegevou in ’n kombers voordat sy hopelik sal terugdraai na Jacomien toe. In Klara se oë is Jacomien old school en sy lyk asof ’n hond sy been teen haar gelig het. Maar Klara is doodseker haar pa kan op water loop terwyl hy ’n stralekrans perfek op sy kop balanseer. Hoeveel kwaad kan so ’n wondermens nou ook doen?

Goed. Dan is daar Jay-Jay. O, aarde. Jacomien kan nie slaap oor alles wat sy dink haar dogter met hierdie prof doen nie…

Klara het spesiale naampies vir Jay-Jay. “Ek noem hom my koning,” vertel sy vir haar ma. “Of skattebol. En liefling. En jou pragtige ding.” Nou kyk, dis genoeg om ’n ma se verbeelding op loop te sit en uit die slaap te hou. En dan is dit ook Jay-Jay se strewe in die lewe om sy studente te leer om alles te vergeet wat hulle deur die jare by hul goeie Calvinistiese Afrikaner-gesagsfigure gehoor het.

Teen wolwe soos hierdie is Jacomien se arme kind nie bestand nie. Juis omdat sy so rebels is vandat sy uit haar ma se home schooling vrygelaat is en toegelaat is om skool toe te gaan soos ’n normale kind.

Daar is selfs selfies op sy skoot. Uhmm. Wil jy iets daaroor uitlap?

Daardie selfies op die professor se skoot was baie ontstellend. Want dit beteken die tweetjies was heel moontlik alleen toe die foto’s geneem is. En wie weet of die sexy professor nie dalk op ’n later stadium uit sy deftige pak klere geklim het nie. Sy das losgewikkel, sy hemp oopgeknoop … Daardie tipe van ding …

Eintlik wou Jacomien al lankal Klara soos ’n arend haar kuiken uit die nes skop terwyl sy nog met moedervlerke onder haar kind kon invlieg om te keer dat sy haar des dinges val. Maar nou is sy nie seker dat Klara se vlerke sterk genoeg is vir die stormwinde wat deur ’n man soos Jay-Jay veroorsaak kan word nie.

Jacomien gaan konfronteer dan die goeie prof en, wel… Gaan eet saam met hom?

En toe is hy heelwat ouer en aantrekliker as wat Jacomien ooit sou vermoed het. Hy met sy Bruce Springsteen-lyf, met ’n houding van for ever in blue jeans, babe. En sy oorringetjie en sy helder oë en sy spierwit tande soos ’n jong leeumannetjie. Hy met daardie sterk gesig van hom, daardie mooi mond.

Wel, maak nou nie saak dat hy soos ’n frieken filmster lyk nie, hy is hopeloos te oud vir Klara, kon haar pa gewees het. Nog erger, in ’n vroeg-ryp-vroeg-vrotgeval, waar daar gou getrou en kinders gekry is, selfs haar frieken oupa.

Klara is begogel met hierdie filosofieprofessor, met die trotse naam van faam, Jean-Jacques Rousseau. Maar Jacomien, interfering mother, pyn in die watsenaam en aardspessimis wat sy is weet daar is bittermin ware happy endings in werklike lewensverhale.

Sal ons maar die leser toelaat om self uit te vind wat dan gebeur? Drama’s uit die verlede, ’n huisbraak… En darem mooi goed ook, nie waar nie.

Jacomien leef midde-in die wanorde en misdaad wat deel is van die Suid-Afrikaanse werklikheid van vandag en leer ook daaruit ’n paar noodsaaklike lewenslesse.

Gister is verby, aan môre kan jy niks doen nie, maar jy kan elke dag leef asof dit jou laaste is. Carpe Diem is meer as net ’n cliché.

Oudword is nie vir sissies nie, maar die amper sestigjarige Jacomien is nie ’n sissie nie. Ook nie oud nie.

Hulle sê jy moet jou sestig jaar oue lyf omhels, jy moet jou ouderdom celebrate. Maar hulle sê niks van die samelewing wat graaf in die hand nader staan om jou te begrawe nie, natuurlik paslik geklee in ’n lelike ouvrourok.

Vroue van sestig mag glo nie aan swinging from the chandeliers dink, daarvan droom of daaroor praat nie. En die algemeen bekende vierletterwoord wat daarna verwys word natuurlik nooit geuiter nie, veral nie sonder om die aanhalingstekens met die vingers in die lug te wys nie. Natuurlik nooit voor die kinders nie, veral nie voor jou eie middeljarige kinders nie. Die arme goed skaam hul dood!

Maar daar is altyd die uitsonderings. Veral onder die wat skielik besef: Eendag is nóú!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *