Die redakteur mag nie die intensie van die teks verander nie

July 7, 2019 in Uncategorized

Die redakteur mag nie die intensie van die teks verander nie.

Ek hou baie van die debat wat tans op Lekkerleesboekrak heers, want ek is kinderlik opgewonde as mens oor taal en letterkunde gesels. Dit gee my egter ook die kans om ’n paar sente van my eie in die fontein van wysheid te gooi.

 

Watter druknaam staan op die boek?

LAPA het verskeie platforms. Een daarvan is Romanza. Die moeilikste om te skryf. Die tweede, wat gereeld op Lekkerleesboekrak bespreek word, is genrefiksie wat onder die druknaam LAPA verskyn.

Nou is daar Wenkbrou.

Wat maak Wenkbrou anders as LAPA se genrefiksie? Eenvoudig net dit: Die leser word gedwing om ’n medeskepper van die teks te word.

Wenkbrou maak die deur oop na letterkundige tegnieke.

In ’n letterkundige werk word die leser gevra om saam te dink, om saam te skep.

Ek het al by meer as een geleentheid ’n lesing gegee om te verduidelik hoe struktuur, nie inhoud nie, ’n rol speel in die skep van die onderskeie drukname.

As jy ’n Romanza koop, weet jy:

  1. Dit lees maklik.
  2. Dit het nie kragwoorde in nie.
  3. Die plot gaan lekker heen en weer, maar daar is ’n eenvoudige struktuur, wat die leser maklik volg met ’n streng hand op die fokaliseerder.

Romanza is die moeilikste om reg te kry, en daarom die maklikste om te lees.

Dit is nonsens om te beweer dat Romanza nie moeilike goed aanspreek nie.

Marilé Cloete se held is bipolêr in Moed vir die liefde.

Heila Theron spreek skaliegas aan in Karoo-droom.

Frenette van Wyk neem ’n simpatieke oog na ’n vrou wat haar man verneuk in Soene in ’n sandkasteel. Wonderlik.

Kortom, Romanza takel moeilike onderwerpe net soos enige ander letterkundige werk dit sal doen en ek is baie trots daarop; Romanza bly egter toeganklik geskryf en word so geredigeer. Dit is ononderhandelbaar. Die intensie van die Romanza is om die leser te laat ontspan.

Cecilia Britz het ook baie streng reëls neergelê wanneer dit kom by die genrefiksie wat by LAPA verskyn. Sy is meesterlik.

Genrefiksie wat onder die druknaam LAPA verskyn, is meer verwikkeld as Romanza. Perspektiewe skuif; tog dit bly redelik maklik om te lees. LAPA bederf die leser. Dit is die intensie. Ons is trots daarop.

  • Genrefiksie verskil van algemene letterkunde juis omdat dit lesergedrewe is.
  • Die uitgewer van genrefiksie sal bepaalde voorskrifte hê om die leser ter wille wees.
  • Algemene letterkunde probeer eerder die leser uitdaag.

LAPA het uitsonderinge. Ons het dit byvoorbeeld sterk oorweeg om Sophia se Kantelpunt onder Wenkbrou te laat verskyn, juis omdat dit ’n literêre teks is met ’n struktuur wat nie geskryf is vir die eenvoud van die lees nie. Sy is egter bekend by LAPA, en daarom is besluit om haar ’n uitsondering te maak onder daardie druknaam.

 

Waarom Wenkbrou?

Ek praat baie by leeskringe. Leeskringe hou van boeke wat jou uitdaag, wat jy nie in ’n eerste lees kan deurdraf nie.

In Suid-Afrika is genrefiksie die grootste verkopers van fiksie, maar letterkunde neem ’n beduidende plek in op Nielsen se toptienlys. Hier is 2018 se verkope – algeheel, landswyd.

By Wenkbrou gebruik ons die letterkundige tegnieke tot die beskikking van die skrywer. Een daarvan is om die leesproses te vertraag.

Michel Foucault (1985:136) sê: By means of structure, what representation provides in a confused and simultaneous form, is analysed and thereby made suitable to the linear unwinding of language.

Toemaar. Selfs toe ek nog ’n dosent was, het ek gesukkel om Foucault te verstaan.

Brain McHale (1987:182) is effens makliker: Postmodernist texts are typically spaced-out, literally as well as figuratively. Extremely short chapters, or short paragraphs separated by wide bands of white space, have become the norm.

So, ja. Die letterkundige teks vertraag opsetlik die leesproses. Daarom is daar so baie terugflitse en tydspronge.

Jan van Luxemburg (1985:192) sê: Wanneer gebuertenenissen in taal worden weergegeven, word er niet alleen op allerlei manieren uit die (fictieve) werklijkheid geselecteerd. Er word ook van alles veranderd.

En dis wat die letterkundige ondersoek soveel pret maak. Dit is wat leeskringe doen as ons oor meer verwikkelde tekste praat. Dit word ’n speletjie om als te ontrafel.

Haydn White verduidelik dit baie mooi: On this level, I believe, the historian performs an almost poetic act.

 

Sypaadjie as parodie

Joan Hambidge het jare gelede ’n parodie op Romanza geskryf.

Die swart sluier was dalk net te moeilik vir die gewone leser om te verstaan, so dit is nie meer baie bekend nie.

Toe ons Sypaadjie moes bemark, wou ek taamlik opsetlik nie verwys na postmoderne tegnieke nie, want ek was bang mense mis die heerlike, lekkerleesstorie.

Dalk was dit ’n fout. My fout. Dit was my besluit.

Sypaadjie is veel makliker as Die swart sluier, maar essensieel doen Rossouw presies dieselfde as Hambidge. Op ’n metavlak speel die teks met die konvensie, sy skep ’n bewuste parodie.

Onthou: Die woord parodie word nie negatief gebruik nie. Juis nie. Rossouw is ’n liefhebber van die Romanza en sy weet baie daarvan. Dis hoekom sy dit so goed ken, en so goed ostranenia kan pleeg.

As julle ooit ’n skrywerswerkswinkel bygewoon het waar ek gepraat het, sou julle hierdie woord gehoor het. Onstranenia. Dit is Russies, en dit beteken om iets so vreemd te maak, dat ons weer opnuut daarna kyk.

Kyk net wat Rossouw reggekry het. Sy laat ons bladsye vol skryf oor ’n romanse. Daardie “boekie” waarop almal in die openbaar neersien, kry skielik genoeg aandag dat ons almal skielike die mooi in die Romanza sien en waardeer.

Fantasties. Romanza bo!

Saartjie Botha het dit verstaan. Sy het gesien die formaat en als is presies soos ons Romanza. En tog ook anders.

Kyk hoe slim is Rossouw. Sy gee vir ons merkers in die teks, wat bitter min mense, behalwe Saartjie Botha, nog raak gelees het.

Ons weet teen die tyd al Lea se ouers was aartskonserwatief (bl. 8).

Haar familie was nooit uitgesproke rassiste nie, net versigtig vir die onbekende. Dit is waarvoor die Afrikaner bekend is, bang vir dit wat hulle nie ken nie. Afrikaners pak hul woon­waens en gaan hou elke jaar by dieselfde plek vakansie: “Op plot nommer 19 in Struisbaai se karavaanpark kampeer ons al vir dertien jaar.” Trots daarop ook.

Dan breek Lea uit hierdie rassistiese denke. Sy gaan verken die onbekende (bl. 8).

Die kleurlyn het grys geword en veroorsaak dat sy alle lyne bevraagteken het. Selfs haar seksualiteit het vir haar duideliker geword. Aan die ander kant het haar ouers se onkundige lyn pyn­lik tussen hulle gelê.

Lyne. Die oomblik wat jy jou die lyne grys laat word, bly net soeke oor. Vra enige teoloog.

Sypaadjie is ’n teks van soeke, van begin tot die einde.

Dit dop alle sekerheid om.

Lea is tall dark en handsome. Maar sy is ’n vrou. Sy word verlief op ’n vrou.

In die “gewone” romanse is daar dikwels ’n sagte, gay bestie. Hier is Ean die beste, hy is straight. Hy kry een nag van aksie en dan ook nie weer nie.

Gay literatuur in Suid-Afrika is dikwels kwaad vir die kerk. Hier is die kerk die heelmaker.

Die hele boek bevraagteken dus alle lyne wat ons om onsself trek; dit bevraagteken die gemak van gewoonte. Daarom is die struktuur ook so anders.

Hierdie boek is slim. Baie, baie slimmer as wat ’n mens by die eerste lees besef.

 

Dit is ’n lekker gesprek

Ek geniet dit as mense passievol raak oor taal en ek leer elke dag iets nuuts op Lekkerleesboekrak, maar as ’n mense letterkundige redakteurs wil kritiseer, is dit nodig om te verstaan dat ons nie van skoolhandboeke praat nie. Daar herskryf ’n mens. Ek het dit al baie gedoen. Ek kan; daar is honderde boeke in die mark wat min sinne oor het wat ek nie persoonlik herskryf het nie. Want die intensie van die teks het daarvoor gevra.

In die letterkunde moet die teks se intensie geag word.

Ek sou die blou bliksem in gewees het as ’n redakteur al die slim goed uitgehaal en Sypaadjie in ’n “normale” romanse verander het.

Die redakteur mag nie die intensie van die teks verander nie.

 

Persoonlik

Vergun my ’n klein, persoonlike staaltjie. In 1999 was Zapiro bekend aan diegene wat sy werk gevolg het in die Engelse pers, maar nog nie ’n openbare figuur nie. Ek is gevra om ’n onderhoud te doen.

Jonathan Shapiro het ’n slim manier om, as hy op sy senuwees is, die onderhoud te stuur deur baie te praat. Ek het hom toegelaat, tot op ’n punt, en toe gesê: As jy wil hê ek moet jou aan ’n breër publiek bekendstel, moet jy my vertrou.

Daar, in ’n vuilerige kroegie in Kloofstraat, het iets magies gebeur.

My artikel is geskryf en LitNet se personeel het dit vir ’n nuwe redakteur gegee wat vryskutwerk wou doen.

Sy het dit mooi in ’n Media24-berig gaan herskryf. Chronologies, feit-feit-feit. Mooi paragrawe. Amen.

Toe dit verskyn, het ek iets gedoen wat ek nog nooit te vore of daarna gedoen het nie. Ek het Etienne gebel en gesê dis onaanvaarbaar. Toe stuur ek vir hom my oorspronklike teks.

Binne minute was die geredigeerde dokument van die lug af. Myne is geproeflees, en is steeds beskikbaar. My onderhoud lees moeilik. En dit was die punt.

 

Bronne

Foucault, Michel. 1985. The order of things. Londen: Tavistock Publications.

McHale, Brain. 1987. Postmodernist fiction. New York: Methuen.

Van Luxemburg, Jan (et al). 1985. Inleiding in die literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

White, Haydn. 1975. Metahistory: the historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore: John Hopkins University Press.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *