You are browsing the archive for 2017 December.

Word leesaktiviste!

December 21, 2017 in Uncategorized

Die Engelse outeur Neil Gaiman het ’n slag ’n lesing gehou: “Why Our Future Depends on Libraries, Reading and Daydreaming.” Hy maak toe hierdie stelling:

Once in New York, I listened to a talk about the building of private prisons — a huge growth industry in America. The prison industry needs to plan its future growth — how many cells are they going to need? How many prisoners are there going to be, fifteen years from now? And they found they could predict it very easily, using a pretty simple algorithm, based about asking what percentage of ten- and eleven-year-olds couldn’t read. And certainly couldn’t read for pleasure.

Wat gebeur in Suid-Afrika? In ons land kan 78% van alle Graad 4 leerders nie lees nie. Dit is die bevinding van Progress in International Reading Literacy Studies (PIRLS), ’n organisasie verbonde aan Unicef.

Spotprent deur EWN.

Dit is skrikwekkend. Gayman werk baie nou saam met PEN International om lees te bevorder. Lees gewoon hier. Maar wat kan ek doen?

LAPA en die ATKV is reeds besig met programme om te help, maar wat kan gewone mense doen?

Hier is wat ek en jy kan doen. Eintlik, moet doen!

  • Begin deur vir jou kinders, kleinkinders, peetkinders of enige kinders te lees.
  • Moedig ma’s aan om vir hulle kinders te lees – reeds voor geboorte. Die baba kan in die buik al optel of die ma angstig of gelukkig is en dit het ’n direkte oorsaak op die kind se breinontwikkeling. Wat meer is, ma’s wat vir baba’s lees – van daardie stokkie die eerste keer positief wys tot in laerskool, se band met hulle kinders is baie heg. Dit skei goedvoelhormone in die kind se brein af wat die frontale lobbe stimuleer.
  • Raak betrokke by leesprogramme as jy nie self klein kindertjies het nie. Daar is duisende biblioteke en skole wat smag na mense om net vir kinders te lees. Weer eens: Daardie kind uit ’n gebroke huis, kyk mooi: sy of hy vind geborgenheid in ’n veilige ruimte soos ’n biblioteek of ’n skoolsaal of ’n kerk waar daar voorgelees word.
  • Koop kinderboeke. Versprei dit en moedig ouers aan om die boeke te voor te lees. Luister wat ’n onnie uit Athlone vertel oor kinderboeke.
  • Laai hierdie vier pragtige, volkleur boeke in Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe gratis af en versprei dit – dit is wettig. Wendy Maartens het dit geskenk. Klik hier: http://bit.ly/2iasRVp.
  • Word aktiviste en begin deur vir Cyril Ramaphosa te skryf dat CAPS dadelik uit skole verwyder moet word. Uitkomsgerigte onderwys, wat slegs fokus op lees- skryf- en syfervermoë moet van nou af in ons skole plaasvind. Al die ander gemors in die kurrikulum moet uitgegooi word. CAPS is klaaglike gemors wat deur ou model C-skole se mense opgestel is.
  • Word aktiviste wat vir Cyril Ramaphosa skryf dat ons moet ophou om matriek as nuttelose doelwit na te jaag. Ons het mense nodig wat in graad RR, Graad R en dan in Grade 1, 2 en 3 moet leer om met begrip te lees, goed te kan skryf en basiese syfervaardighede toe te pas. Dan gaan ons sien hoe Suid-Afrika blom. Kinders het net vyf jaar van skoolopleiding nodig, waarvan die eerste twee slegs speel uitmaak. As ons daardie vyf jaar maak werk, skep ons denkende kinders. Daarna mors ons ons geld, want ’n kind wat kan lees en skryf, kan dan of verder studeer, of ’n ambag leer. Ons land is desperaat vir goeie, gesiene ambagsmense.

***

Volwasse lesers

Maar wat van volwassenes? Wat van ouens wat reeds in die tronk is?

Daar is min mense wat soveel omgee as Carla van der Spuy. Sy doen geweldig baie om mense agter tralies weer ’n stem te gee – en ook boeke!

Ek het by haar gaan kers opsteek.

IZAK: Soveel van die mense in jou boeke kom uit huis met probleme. Is daar iets wat ek as gewone sterfling kan doen om mense uit die tronk te hou?

Carla: Ja, ons kan almal iets doen. Ons kan betrokke raak. Ons kan huismoles, kindermishandeling en molestering aanmeld. Ons kan diegene ondersteun wat geliefdes agter tralies het sodat die misdaadspiraal gestaak kan word. Verwerping en apatie is die grootste probleme in ons samelewing. Albert Schweitzer het gesê: “You don’t live in this world all alone. Your brothers are here too.”

IZAK: Diegene wat uit die tronk kom, sukkel soms om aan te pas. Is daar programme waar gewone ouens kan betrokke om daardie mense weer op die been te kry?

Carla: Daar is instansies wat vir gewese gevangenes help werk soek. Mense is skrikkerig om hulle in diens te neem wat te verstane is. Een man, vermoedelik ’n reeksmoordenaar het my vanuit die tronk gebel en gesê hy is uit. (Dit nadat hy my vertel het hy het 80 jaar gekry.) Hy wou weet of hy in my tuin kan werk. Dit was natuurlik ’n slenter. Hy sit nog solidly met sy agterstewe agter tralies. Ek dink hy wou vir parool aansoek doen en aan hulle vertel dat hy ’n werk het. Dus moet mens versigtig wees. Maar ek het ook wonderlike verhale van rehabilitasie gehoor. Vra maar vir Jenny en Jonathan Clayton van Hope Prison Ministries. Die drie mesmoordenaresse van die Kaapse Vlaktes met wie ek vir Bloed op haar hande gesels het, het volkome gerehabiliteer. Die rede daarvoor was dat hulle ondersteuning gekry het. Daar is na hulle uitgereik. Min mense is teen opregte naasteliefde bestand. Díe drie is van die wreedste moorde aangekla, maar hulle het nog nooit weer ’n voet skeefgesit nie. By Pollsmoor is daar ’n sentrum waar gewese gevangenes en diegene wat op parool is handewerk doen. Hulle maak onder meer die pragtigste handsakke. Maar die betaling is maar min. Ek weet DKD bied ook kursusse aan wat die ouens kan help om werk te kry.

IZAK: Hoe gaan dit met die Reading for Redemption Projek?

Carla: Met my goeie vriendin Sarie Peens, wat by DKD weg is en gereeld boeke by my huis kom haal het en na tronke in die drie Noordelike provinsies geneem het, moes ek weer nuwe kontakte opbou. Ek het nou ’n kontak by DKD in Rustenburg wat my sal help. Lesers kan my inbox as hulle boeke wil skenk. My garage was al so vol bokse met boeke dat daar nie plek vir die karre was nie. Ek glo die veldtog gaan weer nuwe momentum in die Nuwe Jaar kry. Dis een van my Nuwejaarsvoornemens.

IZAK: Dis amper Kersfees. As jy Moederkrismis was en Suid-Afrika EEN wens kon toestaan, wat sou dit wees?

Carla: Ek sou wens dat misdaad so afneem dat die tronke moet toemaak soos wat die geval in Nederland is. Maar dan sal misdaadskrywers werkloos wees. Maar ag wat, dan begin ons maar net almal romanses skryf.

***

Daar het jy dit. Besoek Carla van der Spuy op Facebook en inbox haar as jy wil boeke skenk. Ek het self al gesien watter verskil dit aan mense se lewens maak.

Koop Carla se boeke, klik hier.

***

Ek het kiekies gevra en Carla het twee aangestuur van ’n bekendstelling by Bargain Books wat in Centurion gehou is.

Carla van der Spuy, medeskrywer van Sielsiek – die psiges van Suid-Afrika se koelbloedigste misdadigers en haar dogter Tanya van Buuren Botma, een van die skrywers van Die Perfekte Brander, by Sielsiek se bekendstelling in Centurion.

Dr. Henk Swanepoel, medeskrywer van Sielsiek – die psiges van Suid-Afrika se koelbloedigste moordenaars by Loraine Swanepoel, bestuurder van Bargain Books Centurion by die bekendstellling van Sielsiek in Centurion.

***

Ons kan almal iets doen. Ons moet almal iets doen. Ons kan nie bekostig om 78% van ons kinders oor vyftien jaar in die tronk te hê nie.

Word aktiviste! Word leesaktiviste!

Versoeningsdag 2017: Die ATKV se boodskap

December 16, 2017 in Uncategorized

(HemelBesem en Dr. Danny Titus by die ATKV-Rieldans se finaal)

Vandag, 16 Desember, word Versoeningsdag gevier.

Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, deel sy gedagtes. Ek haal van hier af direk aan:

“Dis moeilik om te glo dis alweer Versoeningsdag. Ons land is so gepolariseerd, die wêreld veel meer in skerp kampe. Vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae, klink soos ‘n klinkende stuk metaal. Dit bly aanvalle, aanslae, sterftes, brande, hongersnood, droogtes. Dan reën dit weer in oorvloed in die res van die land en in die Weskaap bly die reëntjies gruwelik weg. Ons lewe nou eenmaal in ‘n wêreld van teenstrydighede, die een regeer en die ander ontbeer, die een in oorvloed en die ander moet met veel, veel minder klaarkom. In die naweek waarin die Versoeningsdag val, kry die land dalk ‘n nuwe leier. Iemand wat genadiglik die huidige verval sal stuit. Of dalk tog ook nie. Die ANC as politieke party wat ons heersende party is, is so intens verdeeld dat mens jou asem ophou. Dit is glad nie oordrewe om te dink aan die ergste wat kan gebeur as die verdeeldhede nie hanteer kan word nie. Gaan die weermag hulle hou aan die uitslae, aan watter kant gaan die polisie hulle skaar? Gaan die ANC uiteen spat? Dan wat? Of mag ons steeds vra vir versoening in ons land? Ons versoening het so ‘n lang pad gekom en op soveel terreine het mense met mekaar versoen. Die geskeide verlede is oorkom, die wonde van die verlede is steeds daar, maar die felheid, die kruheid, die wreedheid is weg. Nou het gierigheid, korrupsie en arrogansie oorgeneem. Steeds is daar Suid-Afrikaners wat versoen, wat hul vingers stop werk aan versoening. Steeds is daar mense wat bid en glo dat die wonderwerk van versoening ook die huidige afvalligheid sal omvou. Dat die donkerwolke sal verdwyn. Dit is juis die rol van versoening: om skynbaar onversoenlikes en onversoenlikheid bymekaar te bring. Suid-Afrika het ‘n wesenlike ervaring daarvan, ons het dit gedoen en ons pluk steeds die vrugte daarvan. Vir jonger Suid-Afrikaners is dit moeilik om te verstaan, van hulle bevraagteken dit selfs. Miljoene Suid-Afrikaners weet net van die huidige bestel. Baie wil nie weet van ‘n vorige bestel nie. En tog, dit is waar ons land se vingerafdrukke van versoening steeds lê. Vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae, hét wel op Suid-Afrika neergedaal. Dit is vir my die hoop uit die huidige moerasse, die haat en die nydigheid: ons hét dit gesmaak, ons land het beter geraak, ons ekonomie het versterk. Die roekelose gierigheid van vandag, die gemaksugtige korrupsie in die staat en ook in die privaatsektor, die verbreking van wette en reëls en orde met ‘n roggelgelag uit die maag, dit sal alles wegvaag, ons land sal beter word, die misdadigers sal agter tralies kom. Ons sal die pad van versoening moet stap, want ons glo, en ons bid, en ons weet, ons sal weer daar kom.

“ATKV-groete.”