You are browsing the archive for 2017 August.

Ontmoet Alison. Gee om. Jy kan wen!

August 24, 2017 in Uncategorized

Ontmoet Alison. Lag vir Soli Philander. Eet heerlik by Kelvin Grove. Staan ‘n kans om een van drie omgeemense se boeke te wen. Help die Durbanville Kinderhuis.

Vroue-ontbyt

Hoofspreker: Alison Botha

Seremoniemeester: Soli Philander

Plek: Kelvin Grove, Campgroundweg 144, net langs die Nuwelandkrieketstadion

Prys: Slegs R390 per persoon

Datum en tyd: 2 September 2017, 09:30

Wat jy kry: Kelvin Grove se legendariese ontbyt, ’n dankiepakkie vol pamperlang, die kans om verskeie items, waaronder hierdie boeke, te wen tydens die gelukstrekking

Bespreek gou asseblief: jstrauss@durbanvillekinderhuis.org.za

Dibi Breytenbach het gevra: Wat kan sy doen om te help? Toe stuur sy ’n getekende kopie van Heiliger.

Martin Steyn het, onder andere, met Alison gesels tydens sy navorsing oor Swartval. Hy skenk ook ’n bedrag van elke boek wat hy verkoop, aan Rape Crisis. Toe hy hoor van hierdie geleentheid, stuur hy dadelik ’n getekende boek.

Chanette Paul se boeke gaan altyd oor vroueregte. Toe sy hoor van die geleentheid, vra sy: Wat is die Kinderhuis se adres? Daar is ’n getekende kopie van Paaiboelie op pad.

Hierdie boeke gaan in ’n gelukstrekking weggegee word.

Iets oor elke boek:

Heiliger, Dibi Breytenbach

Hendrik skiet uiteindelik ’n sluwe rondloperhond. Die eerste koeël mis rakelings, maar die tweede is sekuur. Nou is die oud-soldaat in ’n goeie bui. Dit is byna Kersfees en dinge tussen hom en Amalia wil-wil lyk of dit kan uitwerk.

Toe gebeur dit: Die plaaslike speurder, Buthelezi, daag op en slaan Hendrik in boeie. Die klag? Sy buurman se seun is dood en daardie opslagkoeël word verdink.

Dadelik word hierdie insident ’n rasvoorval, want die seun is swart. Die gemeenskap is woedend en die onbevoegde blanke speurder wil wys dat hy nie ’n wit man sal laat wegkom met moord nie.

Hendrik weet hy het die seun nie geskiet nie, maar hoe bewys hy dit?

Die teks is briljant, want so gereeld gebeur dit dat stinkryk mense wegstap van ’n moordsaak op grond van tegniese punte. Die publiek voel dan verraai. Nou gooi Breytenbach die leser in die diepkant in, want ons het simpatie met Hendrik, maar die redes waarom die reg nou skynbaar onreg pleeg teen hom, is presies dieselfde wat ons as gewone sterflinge voor vra wanneer tegniese detail in hofsake ter sprake kom.

Saam met Hendrik beleef ons magteloosheid in die stinkende tronk- en hofselle terwyl die regslui en die polisie kibbel.

Breytenbach is ’n regsgeleerde en met hierdie boek sleep sy die leser saam met haar. Dit is ’n naelbyter, want natuurlik wil almal weet hoe die seun gesterf het. Gaan Hendrik oud word in die tronk?

Stukkie vir stukkie word die gebeure aanmekaar gelas en die reg se tentakels word beleef soos nog nooit te vore in Afrikaans nie.

Dibi Breytenbach se eerste twee boeke was goed. Hierdie een plaas haar onder die voorste krimiskrywers in ons land. Heiliger sal ewe goed verstaan word in plekke soos die VSA waar die onreg van die regsprosesse dikwels afhang van ’n mens se geld, al dan nie.

Swartval, Martin Steyn

“Ek droom van die dag dat ek die woordeboek oop maak en dan staan daar argaïsme langs die woord verkragting.” Toe hy dít by die 2016 US Woordfees sê, het Martin Steyn luide applous ontvang.

In sy nuutste roman Swartval neem Martin die protes verder. Enige krimi het ’n punt waar die spanning gebreek word. Lesers sal in hierdie naelbytboek ook daardie punt bereik. Swartval hou egter nie hier op nie. Steyn weier om die leser te onthef. Daar waar die boek moes eindig, volgens die konvensie, is nie die plek waar die slagoffer se reis eindig nie.

In hierdie roman word die leser verder geneem, dieper in die psige van die slagoffer. Ons maak ook haar eerste tree op die moeilike tog na heling mee.

Swartval is in die eerste plek ’n naelbytboek. Dit is ’n riller. Dié riller neem egter ook die etiese aspekte van die skrywer en die leser se omgang met die slagoffer in gedagte.

Elke kopie van Swartval wat verkoop, sal ook ’n skenking aan Rape Crisis waarborg.

Die enigste ander boek wat ’n soortgelyke ondersoek gedoen het, is Zakes Mda se Rachel’s Blue. Mda se teks speel egter in die VSA af. Steyn se boek is eg Suid-Afrikaans. Die storie en die wetlike aspekte is ook gans anders.

Paaiboelie, Chanette Paul

Chanette Paul se ondersteuners sal bly wees om te hoor Jojo Richter van Siende blind, Raaiselspieël en Ewebeeld is terug. Hierdie enigmatiese privaat ondersoeker word gehuur om uit te vind wat werklik sewe jaar gelede in die skatryk Eduard Swiegelaar se studeerkamer gebeur het. Hy is daardie dag, ten aanskoue van sy heelwat jonger, sexy trofeevrou, Zaan Mentz, doodgeskiet.

Zaan het ’n redelike rykdom verkry toe haar ouer man dood is, en daarom trek sy in op Crystal Crags, een van die mees eksklusiewe landgoedere in die land. Haar keuse van dié landgoed hang saam met die puik sekuriteit, want sy weet wat in daardie studeerkamer gebeur het, en sy vrees vir haar lewe.

Dit neem egter nie lank voor Jojo en Zaan agterkom dat vreemde goed ook binne die veilige mure van Crystal Crags gebeur nie. Is dit toe te skryf aan die bonatuurlike? Die plaaslike inwoners vertel graag dat die landgoed binne die Duiwelsdriehoek lê, ’n plek waar dinge en mense sommer wegraak.

Die stories loop dik, en hoe dieper Jojo grawe, hoe meer besef sy iets is nie pluis nie.

Terwyl Jojo die geheim van ’n enkele oggend se gebeure ontrafel, dobber die geheime, wat vir langer as ’n honderd jaar op Crystal Crags verswyg is, geleidelik boontoe. Zaan staan skielik in die brandpunt. Hoe lank sal dit neem voor haar veilige blyplek ’n tronk word waaruit sy nie kan ontsnap nie?

Al drie die boeke is uitgegee deur LAPA Uitgewers, maar die skrywers skenk hulle uit eie sak.

Ek moet egter ook noem dat LAPA Uitgewers en die ATKV dit vir my moontlik maak om ’n ambassadeur van die Durbanville Kinderhuis te wees.

Kirstenbosch en Kogelberg

August 13, 2017 in Uncategorized

The beloved and I have interesting and varied jobs. We both work long hours and love what we do. We often spend time apart. And that is why those moments together are so precious.

*

Ek en die geliefde het albei wonderlike werke. Ons is baie dikwels nie bymekaar nie. Daarom is oomblikke saam so spesiaal.

Kirstenbosch

Op Vrouedag is ons Kirstenbosch toe.

On Women’s Day we walked in Kirstenbosch.

Kogelberg

This weekend we spent time in the Kogelberg Nature Reserve. We have booked this last year already.

Hierdie naweek was ons in die Kogelberg Natuurreservaat, dit het ons verlede jaar al bespreek.

Selfie

I always walk without shoes. Elma had to take hers off to cross a stream. She put them back on again.

Ek loop altyd sonder skoene. Elma moes hare uittrek om deur ‘n stroom te kom. Sy het hulle weer aangetrek.

The Odebosch Eco Cabins in the Kogelbergerg reserve.

Die Oudebosch Ekohuisies in die Kogelbergreservaat.

Our house. Luxury with a longdrop!

Ons huisie. Dis luukse met ‘n longdrop!