Japie Gouws sê tot siens: Flori en Koelsoem gaan voort

May 25, 2017 in Uncategorized

Gister, 24 Mei, het Japie Gouws by die Algemene Jaarvergadering van die ATKV tot siens gesê en die leisels van die ATKV aan Deirdre le Hanie oorhandig. Daarom plaas ek vandag foto’s van tannie Koelsoem en Tannie Flori. Binne die ATKV staan die uitgee van hulle boeke nie-amptelik bekend as “Japie se projek”.

Sedert tannie Koelsoem en tannie Flori se eerste boek in wording was, het Japie nie een geleentheid laat verbygaan om met hierdie twee tannies te spog nie.

Japie vertel baie graag dat tannie Koelsoem, wat ’n Moslem is, vir Amore Bekker gesê het van haar Christenvriendin, Flori Schrikker, toe Amore ’n resep vir piekelvis gesoek het tydens Paasfees.

Japie het eenvoudig vir LAPA Uitgewers, wat deel is van die ATKV, opdrag gegee om die twee tannies op te spoor en ’n kontrak aan te bied. My kollega, Tania de Kock, is toe in die Bontas in en die res is geskiedenis. Kook saam Kaaps was amper ’n jaar sonder ophou op Nielsen se topverkoperlys, die tannies se TV-reeks, Flori en Koelsoem se kosse, is baie gewild en het selfs ’n mediaveertjie gewen. Toe kom Soettand.

Nou hier, vir die rekord en as dankie aan Japie, deel ek die vreugde van die Hight Tea wat gehou is om Soettand, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se tweede boek, te vier. Dit het plaasgevind by die Rhodes Memorial Restaurant wat spesiaal Halaal-kos laat  inry het vir die geleentheid.

Ja, dít is wat Japie met die ATKV gedoen het. Hy het gesorg dat dit ’n veelrassige, multi-kulturele organisasie is waar Christen en Moslem ewe welkom moet wees.

Die ATKV bemark steeds Afrikaans, maar is nie meer monokultureel nie. Dit is veral jongmense, soos tannie Flori se kleindogter, wat moet verstaan dat ons Afrikaans saam-saam sal moet praat en leef. Daarom doen die ATKV ook soveel vir die onderwys in Suid-Afrika,

Dié geleentheid, wat op 24 Maart gehou is, het heelwat persdekking gekry. Hier neem Luluma Zenzile, van Media24, ‘n foto van die twee kokke. Japie het baie moeite gedoen vir die pers.

Hier is Shantel Moses, wat die artikel geskryf het, en Lulama Zenzile. Kliek hier om Shantell se storie te lees en om te sien hoe die foto lyk wat Lulama geneem het.

Die span vian Blackhole Productions was ook daar. Hier is die video wat hulle gemaak het by Soettand se bekendstelling. Dit dien al klaar as ‘n baie mooi dankie aan Japie Gouws.

HemelBesem, die ambassadeur van ATKV-Crescendo, het by die geleentheid opgetree, Hy is ook op die video te sien.

Shireen Crotz, van die US Woordfees se WOW-span, het die onderhoud gedoen met Flori en Koelsoem. Sy het hulle gades ook betrek, Hier gesels Shireen met oom Osman, tannie Koelsoem se man.

En hier is Shireen saam met oom Fonni, tannie Flori se man.

 

Minister Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van Sport en Kultuur, het ook die geleentheid bygewoon.

Hier is Japie saam met Anroux Marais.

Dit was ’n geleentheid vir die gesinne om saam fees te vier. Hier is tannie Flori se seun en van haar kleinkinders.

Tannie Flori se dogter, Yolanda, en haar man.

Tannie Koelsoem se dogter, Gadija, wat ook ‘n bobaaskok is.

Die stories gaan voort.

Japie het onlangs aan die pers gesê: “Dit is tot siens. Nie vaarwel nie.”

Danksy Soettand en Kook saam Kaaps sal “Japie se projek” ook vir ‘n hele tyd nog met ons wees.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *