Boeke maak jou wêreld oop: #16DaeVanAktivisme

December 15, 2016 in Uncategorized

Vraag: Hoe kan ’n lekker liefdesverhaal help teen ons land se vergrype?

Antwoord: Sophia Kapp sal gereeld vir jou sê haar navorsing bewys dat mense wat swaarkry, juis ontvlugting soek in dit wat meer ideaal is; dat ’n boek met ’n einde vol hoop, vir mense met min hoop, help om vorentoe te beur. Lees gerus meer oor Sophia se sienings op LitNet.

***

#16DaeVanAktivisme

Vanoggend in die bed sit die geliefde met Dokters Sonder Grense se nuusbrief en sê: “Die wêreld is maar ’n droewige plek.”

Dit ná ’n goeie vriend ook weer nuwe nuus gebring het van die verkragtings en geweld teen vroue en kinders: Suid-Afrika is die land met die hoogste verkragtingsyfer buite ’n oorlogsone.

My probleem is, wat kan ek doen? Dit is maklik om oorweldig te voel en dan weg te hardloop. Tog het ek besluit ek gaan die idee van #16DaeVanAktivisme ’n bietjie kaap om oor boeke te praat. Juis.

Nou wil ek eers ’n geheim verklap: Dit was hierdie skermgreep op Amazon.com se webwerf wat my laat dink het ek wil oor boeke praat in die konteks van #16DaeVanAktivisme.

suikersoet

Interessant, die plasing was in Engels, maar dit handel oor Dina Botha se Suikersoetsoende. Ek weet nie wie Katrina is nie, maar sy het my anders laat kyk na die boek.

Zelda betrap haar man in die bed saam met ’n ander vrou, dit ná sy meer as twintig jaar lank alles vir haar huwelik gegee het. Haar prokureur se aandag gee weer rigting. Lees dit gerus. Ek het!

9780799381337

Ons leef wel in ’n tyd waar poli-amorie en ander vorme van verhoudingsbestuur aangemoedig word deur seksterapeute. Zelda se skok sou dus in sommige kringe as oudmodies beskou kan word, maar die realiteit is, die onbekende Katriena se punt is absoluut geldig. Zelda is verneuk, skynbaar konstant. Hier is geen sprake van erkenning gee aan haar nie, sy word doodeenvoudig in die steek gelaat deur haar man.

Dina Botha (se prokureur) draai die bordjies om.

Dina Botha se suikersoetboek sê vir vroue: Jy is meer werd.

Ek hou daarvan.

Klik hier vir die Kindle-weergawe.

Klik hier vir die boek by LAPA Uitgewers.

9780799378009

Jy is meer werd

As julle nog nie Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva gelees het nie, stel dit reg!

Kapp se boek is ’n maklike een om aan vroue te gee wat in die verkeerde verhouding is, want dit is duidelik geskryf vir mense wat seergekry het, al is die einde ook heerlik soet. Julle sal ook nooit weer eenders kan dink aan ’n donkerknal tydens die liefdespel ná jy hierdie boek gelees het nie!

Dit is ook baie maklik om Chanette Paul se ouevre aan te beveel. Chanette het een van die skerpste penne teen verhoudingsgeweld in Suid-Afrika, al lees haar boeke so lekker. Onthou dit as jy boeke soek om aan mense te gee.

Alta Cloete se Net ’n mens is weer ’n boek om aan iemand te gee wat sukkel om ’n familielid se seksuele oriëntasie te verwerk; en Fanie Viljoen se jeugboek Uit is ’n moet vir jongmense wat bang is om uit te kom.

In die wêreld van Brexit en Trump, gaan ons hierdie soort boeke nodig hê. Die verskrikking vir minderhede in die VSA gaan al hoe erger word, en hier in Suid-Afrika kopieer ons mos alles slaafs wat uit die regse Amerika kom. Ek wens so ek kan vir al die omies in die NG Kerk wat steeds hardnekkig weier om die Bybel postmodern te lees, ’n kopie van Marida Fitzpatrick se “Sonde” gee, soos opgeneem in die US Woordfeesbundel Bly. Dit is ’n briljante opsomming van soveel van my vriende se seer.

Ek het reeds berig oor Martin Steyn se wonderlike werk in Swartval en die Rakkers het hulle stemme uitgespreek.

Gee dus aan iemand wat swaarkry ’n boek en sê: Jy is meer werd.

9780799380903

Maar wat kan ek doen?

Ons is nie almal skrywers soos Dina, Sophia, Martin, Fanie, Marida of Chanette nie.

Met ’n groot naam agter jou kan jy ’n ope brief teen Trump se fascisme skryf en dit publiseer, soos JK Rowling dit gedoen het. Maskas. Ek is mal daaroor. Ek is egter nie so bekend soos sy nie.

Jy kan die regte ding doen soos Thuli Madonsela; ek weet sy is nie ’n skrywer nie, maar sy verdien alle melding wat sy kan kry. Ek is nie so slim soos sy nie.

Ek is wel betrokke by PEN Afrikaans, en is trots op die werk wat ons saam met PEN International doen. As ek my klein stemmetjie voeg by die van ander skrywers en joernaliste van reg oor die wêreld, kan ons ’n verskil maak.

En ons kan lees.

koors_400

Lees, lees. En Lees.

Ek lees tans Little Suns deur Zakes Mda. Dit onderskryf die teorie dat die geweld waarmee ons vandag te make het, direk verband hou met die gruwels wat die sogenaamde Westerse beskawing, Bybel onder die arm, in Afrika gepleeg het.

Maar op ’n ander noot het Deon Meyer se Koors my baie diep geraak.

Meyer skets die probleem van ’n liberale staat vs ’n kerkstaat pragtig – sonder om te preek. Meyer se hele boek is gebaseer op die teorie dat die mens “kollektiewe fiksie” kan verstaan. Dit het hy van Yuval Noah Harari gekry.

Lees maar self Harari se boeke, maar Meyer is makliker. Wat Koors wys, is hoe ons mekaar beïnvloed deur in groepe te dink.

Lees dus boeke wat jou uitdaag. Daar is baie wat ek nie hier genoem het nie.

Lees ook resensies soos die van die onbekende Katriena op Amazon. Katriena se wyse woorde het dit weer aan my duidelik gemaak dat alle boeke wat positiewe alternatiewe aan vroue bied, bemagtigend is.

Viva!

2 responses to Boeke maak jou wêreld oop: #16DaeVanAktivisme

  1. Izak, het jy Sally Andrews se Recipe of love and murder gelees? (Tannie Maria mystery 1)? Uitstekende boek wat ook die slegter en beter kant wys van vroue teen wie daar huishoudelike geweld is maar ook die geweldenaar tot n mate

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *