Die Rakkers het gepraat: #16DaeVanAktivisme

December 3, 2016 in Uncategorized

lekkerlees

Baie dankie. Veral aan die wonderlike mense van Lekkerleesboekrak wat soveel omgee. Ek het gehoop om ’n respons te kry op my oproep om via die letterkunde iets te doen rondom die #16DaeVanAktivisme. Wel, ek het. En wat ’n ongelooflike respons! Die lyste volg hieronder, rol gerus af.

As julle nie Lekkerleesboekrak ken nie: https://www.facebook.com/groups/lekkerlees/

Sinisme

Die Suid-Afrikaanse outeur, Helen Moffet, is nou al bekend vir haar jaarlikse aksie teen die die #16DaeVanAktivisme. Sy voel ons moet elke dag aktiviste wees teen geweld. Ek stem natuurlik saam. Die rede waarom ek egter die golf ry, is juis omdat ek hoop om mense aan boeke bekend te stel wat hulle koppe kan swaai. Die hele jaar lank.

Gesprek vs Fascisme

Nou net, terwyl ek besig was met die redigeer van die Rakkers se antwoorde, vra ’n jong vrou van 22 vir my waarom ek ’n Pot vol winter “toelaat” op hierdie lys? My antwoord was: Maretha Maartens het die orde van Kerk en Staat en Skool uitgedaag deur te praat oor tienerseks. In daardie dae was die skool, die kerk en die staat een. Voorbehoedmiddels het bestaan uit “Jy mag nie”.

Ongelukkig is daar steeds te veel kerke wat presies dieselfde doen. Ongelukkig is daar steeds klinieke waar meisies lesings kry, in plaas van inspuitings. Ongelukkig eindig te veel tieners steeds in agterplaasklinieke waar mense gewillig is om aborsies uit te voer, al is dit veronderstel om gratis en geredelik beskikbaar te wees in staatsdiens. Lees ook Jan van Tonder Roepman, ’n boek wat toevallig nie ter sprake gekom het nie.

Dít is die krag van boeke.

Ek wil een aanhaling op die rak uitsonder, wat presies die doel van hierdie oefening opsom. Karin Behrens skryf:

Ek weet nie presies waarna jy op soek is nie, maar net my persoonlike ervaring. Vir iemand wat ‘n liefdevolle pa gehad het, en ’n goeie man getrou het, was die boeke ’n eye-opener. Daar is mense wat in totaal ander omstandighede groot geword het en ook ander huweliksmaats het. Die boeke lig my in, leer my empatie. Ek ek probeer help waar ek kan want my omstandighede kon baie makliker anders gewees het.

Dankie, dankie, dankie dat julle lees. Dankie dat julle deelneem.

Ek het my bes gedoen om almal se antwoorde te kopieer.

Die rakkers se lys fiksieboeke:

  • ’n Pot vol Winter, Maretha Maartens
  • A little life, Hanya Yanagihara
  • Anderkant die stilte, André P. Brink
  • Chinchilla, Nanette van Rooyen
  • Die donker god, Fransi Phillips
  • Die geheime kamer, Corlia Fourie
  • Die naamlose, Mariël le Roux
  • Die Reuk van Appels, Mark Behr
  • Dis ek Anna, deur Anchien Troskie
  • Donkermaan, André P. Brink
  • Here Be Lions: A Memoir, Not Suitable for Children, Helen Brain
  • Klara, Mariël le Roux
  • Pastoor, Pat Stamatélos
  • Saliger, Dibi Breytenbach.
  • Sirkel van die noodlot, ST Potgieter
  • Sirkusboere, Sonja Loots
  • Skaduself, Paula Marais
  • Swartskaap, Odette Schoeman
  • Thula-Thula, Annelie Botes
  • Tippex dit uit, Anne-Marie Conradie
  • Triomf, Marlene van Niekerk
  • Van Skoolbank tot Bordeelbed, Jaco Hough-Coetzee en Elanie Kruger
  • Vaselinetjie, Anoeschka von Meck

Die rakkers se lys niefiksieboeke

  • Bloed op haar hande, Carla van der Spuy
  • Ek is g’n Slams, Fatima Osman
  • Exit, Grizelda Grootboom
  • Hobhouse: Geliefde Verraaier, Elsabé Brits
  • I have life, Alison
  • Love is War: The Modimolle Monster, Karyn Maughan and Shaun Swingler
  • Mens of Monster, Carla van der Spuy
  • Mishandel, misbruik, misken, Carla van der Spuy
  • Sara Baartman and the Hottentot Venus, C. Crais & P. Scully.
  • Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof, Chris Karsten

Ek wil egter ook die skrywer en joernalis, Elsabé Brits, se wysheid deel, want hierdie lyste kan natuurlik nie volledige wees nie.

In die geval sou en dink nie-fiksie is waarna ’n mens soek. Maar wat met vroue gebeur het in die land gaan sover terug as die storie van Sara Baartman, vergrype jeens slawevroue wat tragies was. Stories soos Krotoa, Armosyn van die Kaap, verhale uit die ABO en swart vroue se verhale ook.

Karel Schoeman se boeke beeld die vergrype teen vroue in SA goed uit.

Daar is ’n magdom boeke oor die ABO se wandade. Let wel Kamphoer (en het nie die ander een onder oë gehad nie) is geskoei op ‘n ware verhaal, maar dit blyk fiksie soos dit daar staan in swart en wit. Vir die verkragtings in die ABO is die Havanga-kommisie se verslae daar.

Waarby ek wil byvoeg Dan Sleigh se boeke is ook oor en oor die moeite werd om te lees.

Slagofferskap

Ek wil ’n laaste punt maak. Een van die Rakkers het voorgestel Susan Lemmer se boek Ek wil hê jy moet weet: Sy is steeds my kind oor Cezanne, beter bekend as Advokaat Barbie, moet ook hier wees. Ek gaan ja sê. Die slagoffer van geweld word dikwels die een wat geweld pleeg.

Asseblief, lees Amor van der Westhuizen se storie in Mishandel, misbruik, misken soos vertaal aan Carla van der Spuy. Amor kon wegbreek uit die siklus, maar sy is baie eerlik dat sy dit byna nie gemaak het nie.

Amor het oor Carla se ander boek, Bloed op haar hande, gesê sy amper ook só uitgedraai het. En weet julle wat ek raakgelees het in Bloed op haar hande? Daar is nie een vrou, en ek gaan dit herhaal, nie een vrou in daardie boek wat nie ’n ding oor haar pa gehad het nie. As man is dit erg.

Lees ook asseblief die kortverhaal “Om die hemel te proe” in die US Woordfees se bloemlesing, Bly. Dit verwoord die siklus baie goed.

Zwing-zwing

Sjoe, dit was lekker. Ek dink ons het boeke van NB Uitgewers, Random House Struik Penguin, Naledi, Protea en LAPA gedek – en daar was onafhanklike uitgewers ook.

Ida Roux skryf uiteindelik: “Wel, ek dink Izak se kop zwing nog met al hierdie boeke.”

Wel, jy is reg Ida. Maar dis ’n lekker zwing!

0 responses to Die Rakkers het gepraat: #16DaeVanAktivisme

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 trackback