Swartval: #16DaeVanAktivisme

December 1, 2016 in Uncategorized

Vandag is die eerste dag van sestien waarin ons veronderstel is om aktiviste te wees teen die geweld wat vroue en kinders op die lyf loop. Ek wil kyk of ons iets deur middel van die letterkunde kan doen.

Speel asseblief saam?

9780799380910

Swartval

Goed, ek is bevoordeeld, maar as daar een boek is wat my heeltemal oorrompel het in 2016, is dit Martin Steyn se Swartval.

Dit is geskryf vanuit ’n vrou se oogpunt. Deur haar oë beleef jy geweld, verkragting, die angs van opgesluit wees, en die brute wil om te oorleef.

Steyn breek die reëls. Hy neem die leser verder op die pad as wat ’n normale krimi sou wou. Hoekom? Hy wou juis hê dat ons geweld teen vroue moet verstaan; dis nie ’n vinnige woepwaps en dan is alles oor nie.

Wat meer is: Martin Steyn skenk ’n deel van elke boek se verkope aan Rape Crisis.

Gee om met ’n boek

Skrywers gee om.

Dink aan Thula-Thula van Annelie Botes.

Dit is maklik om te sê ons kan niks doen nie, want vroue het dan gestem vir Donald Grab them by the Pussy Trump en onse eie Showerhead word deur ANC Vroueliga op sy troon in Nkandla beskerm. Wat de hel?

Maar: Nie alle vroue het vir Trump gestem nie. Ons moet hulle beskerm; en ons moet die vroue wat wel vir hom gestem het, teen hulleself beskerm. Die wêreld van Brexit en Trump en wit Nasionalisme is ’n koue plek. Vra die mense wat onder Hitler gely het.

Ditto met ons eie land: Daar word duisende vroue in Suid-Afrika verkrag terwyl Showerhead Zuma kattemaai. Ons moet hulle beskerm.

Bewusmaking

Deur te praat hieroor, doen ons reeds iets. Deur idees uit te ruil oor boeke wat ’n verskil maak, doen ons reeds iets.

Praat asseblief saam? Ek werk by LAPA en ken dus hierdie uitgewer se boeke tans beter as die ander s’n, hoewel ek wyd lees. Ek vra dus by voorbaat dat julle moet my moet help om my blindekolle in te vul.

Voorsmakie

Bly, die US Woordfees se kortverhaalbundel gaan ter sprake kom, so ook Alta Cloete se Net ’n mens.

Ek wil in die volgende paar dae nog gesels oor Die oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, deur Sophia Kapp; Chanette Paul se krimis onder die loep neem, Dina Botha se Suikersoet sonde proe en dan verduidelik waarom Deon Meyer se Koors ook op my lysie sal wees van boeke wat almal moet lees.

Swartval

Vir vanaand sê ek dankie aan Martin Steyn vir ’n besondere boek. Dit is my boek van 2016, en daar was groot, groot aanspraakmakers op hierdie titel. Dit is hier te koop.

0 responses to Swartval: #16DaeVanAktivisme

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *