You are browsing the archive for 2016 December.

HemelBesem: God praat Afrikaans

December 30, 2016 in Uncategorized

s1

(Klik op die prentjies om hulle groter te maak.)

Geheim! Geheim! Op 4 Maart om 14:00 tref ons die ATKV Boektent by die US Woordfees. Bespreek nou al vir “God praat Afrikaans”.

Maar, HemelBesem is by drie ander produksies ook betrokke op die fees, onder andere die huldiging aan Adam Small, Kô lat ons sing: 3 Maart, 20:30, Stadsaal & 6 Maart, 15:00, Stadsaal.

Op 10 Maart om 17:00 by Bloekomhoek gooi hy sy gewig in by “Vyf skakerings van Hip-Hop”.

Hy is boonop te sien in die film Noem my Skollie.

HemelBesem is een van die sagste mense wat ek in ’n lang tyd ontmoet het. As jy hierdie ou al gesien opstaan het om die trane af te vee van ’n jong wannabe, dan weet jy: Onder daardie tats klop ’n wonderlike hart.

s4

Dit het by meer as een geleentheid gebeur by die oudisies vir ATKV-Crescendo. Simon is so nice, so sag, so ’n totale gentleman. Hier is hy op ’n paneel wat oudisies doen vir ATKV-Crescendo.

screen-shot-2016-12-30-at-13-55-02

Dan gesels jy met Nederlandse konsul-generaal oor wat hy in die Nederlande doen, en jy weet: Die man loop met die konings, maar sy hart se mense het hy nie vergeet nie. Hier is hy saam met die plaaslike kunstenaar Linkris en die twee Nederlanders Marakit en Skafalau.

Dan lees jy sy dankie-brief aan die einde van 2016 en jy dink: Deksels, dis ons wat moet dankie sê.

Ma, daai’s HemelBesem. Dis hy daai. Lees gerus. Hier is ’n hele paar gratis MP3’s wat hy boonop weggee. Jip. Gratis en verniet. Kliek op hierdie skakel, kyk na die skakels en kopieer hulle, gooi dit in jou browser en klik op download.

down

(Copy, Paste, Download.) Dis gratis, dis cool en dis wettig.

s2

En, onthou, die straatpredikant, met die naam HemelBesem, dis hy wat geskryf het God praat Afrikaans. Maart 2017. Dit verskyn by LAPA Uitgewers.

God praat Afr blog

Trein na Kalkbaai

December 30, 2016 in Uncategorized

screen-shot-2016-12-30-at-08-06-31

(Kliek op die foto’s om hulle groter te maak)

Trein na Kalkbaai vertel ‘n semi-outobiografiese verhaal van ’n seuntjie en sy gesin wat in hierdie dae ná Kersfees altyd een keer per jaar die trein na Kalkbaai geneem het.

t1

In Oktober het LAPA Uitgewers en die ATKV hierdie treinrit herkonstrueer saam met ’n enorme aantal skoolkinders. Daar was kinders van Jan van Riebeeck, Springfield en Kayamandi, net buite Stellenbosch; vir sommige Kayamandi-kinders was dit ’n eerste keer op ’n trein, of by die see.

t2

Graham Isaacs, die outeur, het saam met die kinders in die trein gery.

t12

Hy het honderde boeke geteken.

t14

t6

Op die strand is die storie is voorgelees in Afrikaans, Engels en Xhosa.

screen-shot-2016-12-30-at-08-08-48

t10

t9

Daarna het ons almal by Kalky’s gaan vis en tjips eet.

t8

Die Kaapse treine is baie veilig en ek raai enige een aan om julle gesin te neem vir ’n rit na Kalkbaai of St James. Dit is baie mooi.

t3

Wanneer daar ’n voorafbespreking vir ’n groep is, word daar wagte by elke deur geplaas, niemand anders word in daardie wa toegelaat nie.

t13

Mense soos Keith Temming, hier regs op die foto, is baie trots op hulle veiligheidsrekord by Metrorail.

t5Hierdie uitstappie op ’n trein na Kalkbaai was een van die baie lekker goed wat in 2016 met my gebeur het.

Ek deel dit nou, want dit is presies die tyd dat ‘n klein tjokkertjie, Graham Isaacs, altyd met sy gesin strand toe gegaan het.

t7

Vandag sit daar ’n klomp klein seuntjies en dogtertjies op die strand. Wie weet: Oor dertig jaar is daar dalk nog ’n outeur wat vir ons ’n boek gaan skryf oor vandag.

Die boek is in drie tale beskikbaar. Die Engels en Afrikaans gaan tans teen ’n besonder goeie prys.

trein-a

Trein na Kalkbaai

train-x

Ukuya eKalk Bay ngololiwe

train-e

Train to Kalk Bay

Mamre roer die mense van Mamre

December 17, 2016 in Uncategorized

comp1

To my English-speaking friends, please scroll down through the pictures. Below them, I give a detailed description of the event, and I explain why it was held on 16 December.

***

Vir my Afrikaanse vriende: Gisteraand, 16 Desember 2016, het die mense van Mamre, ’n baie klein dorpie aan die Weskus, hande gevat, want Whaden Johannes het Mamre na Mamre gebring.

***

_mg_1628

’n Kiekie vooraf: Gisteraand was daar vier mense op die verhoog. Heel links is Zandré Johannes, Whaden se boetie, dan Whaden Johannes, Jodi Jantjies en Brizano Erasmus.

Whaden was in die hoofrol, Jodi was Tarra, en Zandré en Brizano het die begeleiding gedoen.

_mg_1653

Die man wat nie op die verhoog was nie: Morne van Staden. Morne is ’n projekkoördineerder  by die ATKV en is verantwoordelik vir die sukses van ATKV-Crescendo. Whaden is in 2014 ontdek deur die Crescendo-span, terwyl Jodi en Brizano deel was van 2016 se Crescendo-span.

Almal wat al deel was van ATKV-Crescendo, sal kan vertel dat Morne hart en siel deel is van die projek. Hy is nie bloot ’n werknemer nie, hy is ’n pa, ’n seun, ’n broer, ’n vennoot, of ’n kombinasie hiervan, vir enige een van die span wat dit nodig het, wanneer hulle dit nodig het.

_mg_1646

Mamre is ’n klein, historiese dorpie aan die Weskus. Whaden het gisteraand vir die gehoor gesê: “Mense kom skiet films in ons dorp. Wat doen ons?”

_mg_1652

Hierdie gedenkplaat vertel iets van die geskiedenis van die dorp.

_mg_1666

Die toneelstuk het plaasgevind op die klip waarop die gedenkplaat aangebring is. Die stuk is geskryf deur Nico Scheepers, in samewerking met Whaden Johannes. Dit het op Aardklop gedebiteer met Scheepers as regisseur.

zimg_6632

Die stuk het gisteraand gespeel voor Tori Osso, die restaurant waar die hoofkarakter en Tarra suiker gesteel het, aldus die verteller in Mamre.

_mg_1673

Whaden in aksie. Mamre vra ernstige vrae aan die Kerk, van daar die grootse gebaar van versoening, en aktivisme, wat later die aand voor die kerkgebou plaasgevind het.

Tarra, die vroulike karakter, word verkrag, maar dominee, die hoofkarakter se pa, wil nie teen sy ouderling, wat die verkragter is, optree nie.

Dit is ’n tannie in Mamre, wat haar Christenskap op ’n gedwonge wyse buite die kerk moet uitleef, wat die verskil maak in hierdie karakters se lewens.

Die stuk is dus nie teen Geloof nie, dit is wel teen die mag wat gelowiges vir hulleself toeëien. Ek gaan nie meer vertel nie, want die stuk gaan nog toer. Gaan sien dit.

_mg_1712

Applous vir Zandré, Whaden, Jodi en Brizano.

_mg_1715

Whaden nooi almal om saam met hom voor die kerk te bid teen die volgehoue geweld teen vroue en kinders. Hy sê ook dat Versoeningsdag, 16 Desember, wat ook die laaste dag van die #16DaeVanAktisime is, opsetlik gekies is vir hierdie oomblik.

_mg_1724

Whaden lei die optog.

_mg_1731

Whaden wag voor die kerk.

_mg_1736

Die mense kom aan.

_mg_1756

’n Sirkel word gevorm.

_mg_1761

’n Kring van gebede gaan op.

***

Last night the people of a small town on the West Coast joined hands. It was a memorable moment in the ongoing fight against violence that haunts our society and it was a young man, Whaden Johannes, who had planned and executed this memorable night in Mamre.

Whaden grew up in this town. In 2014 he was selected to be part of ATKV-Crescendo, a programme to train voices for the music industry.

Whaden has since been seen on stages across the country.

Earlier this year he teamed up with the award-winning young playwright, Nico Scheepers, to create a play about life in the small town of Mamre. Scheepers scripted the play and directed Johannes while it played on the arts-festival circuit. The play is called Mamre.

It is a scathing attack on the people with power, specifically those in the Church who claim to speak on behalf of God, who turn a blind eye to the needs of young people who are sexually abused.

Significantly, there is a character in the play who acts as a correction. She is forced to act out her Christian faith outside the formal church.

Last night Johannes brought the play, Mamre, back to Mamre. It was staged in the open air on 16 December, a public holiday known in South Africa as the Day of Reconciliation.

After performing the play, Johannes led the attendees to the church. In the light of single street lamp, everyone held hands while prayers were said against the ongoing violence on women and children.

For those who do not know the significance of the 16th of December, here is a quick summary:

1 This was the date, on 16 December 1961, on which Umkhonto we Siswe, the armed wing of the African National Congress (ANC) was formed, since the ANC could not find a peaceful solution to apartheid. In the ongoing wars between those who wanted to liberate South Africa and those who opposed the ANC, thousands of women were raped. Both sides were guilty. To this day, South Africa has the highest incidence of rape in any country that is not officially at war.

2 Further back in history, a battle between white settlers and a Zulu army took place on 16 December 1838. Infamously this battle was captured by the right-wing church as an example of God being with whites in any battle against “heathens”.

3 Since both these dates were so significant in the way people saw race and freedom in South Africa, the new government chose to commemorate the date, 16 December, as a day of reconciliation. It has since become a public holiday.

4 The final significance of this day is that the battle against rape has not yet been won – on the contrary. And so, each year various institutions take part in an event with a hashtag: #16DaysOfActivismAgainstAbuse. While this too is controversial, many women feel 16 out of 365 days are woefully inadequate, it is used by activists to highlight the significance of all the historical events that had led to our violent society; and the ongoing violence against our communities.

***

It was a brave act of Whaden Johannes to bring his play Mamre back to Mamre and then to lead a conciliatory prayer-meeting outside the church.

To me it was a privilege to be there.

Boeke maak jou wêreld oop: #16DaeVanAktivisme

December 15, 2016 in Uncategorized

Vraag: Hoe kan ’n lekker liefdesverhaal help teen ons land se vergrype?

Antwoord: Sophia Kapp sal gereeld vir jou sê haar navorsing bewys dat mense wat swaarkry, juis ontvlugting soek in dit wat meer ideaal is; dat ’n boek met ’n einde vol hoop, vir mense met min hoop, help om vorentoe te beur. Lees gerus meer oor Sophia se sienings op LitNet.

***

#16DaeVanAktivisme

Vanoggend in die bed sit die geliefde met Dokters Sonder Grense se nuusbrief en sê: “Die wêreld is maar ’n droewige plek.”

Dit ná ’n goeie vriend ook weer nuwe nuus gebring het van die verkragtings en geweld teen vroue en kinders: Suid-Afrika is die land met die hoogste verkragtingsyfer buite ’n oorlogsone.

My probleem is, wat kan ek doen? Dit is maklik om oorweldig te voel en dan weg te hardloop. Tog het ek besluit ek gaan die idee van #16DaeVanAktivisme ’n bietjie kaap om oor boeke te praat. Juis.

Nou wil ek eers ’n geheim verklap: Dit was hierdie skermgreep op Amazon.com se webwerf wat my laat dink het ek wil oor boeke praat in die konteks van #16DaeVanAktivisme.

suikersoet

Interessant, die plasing was in Engels, maar dit handel oor Dina Botha se Suikersoetsoende. Ek weet nie wie Katrina is nie, maar sy het my anders laat kyk na die boek.

Zelda betrap haar man in die bed saam met ’n ander vrou, dit ná sy meer as twintig jaar lank alles vir haar huwelik gegee het. Haar prokureur se aandag gee weer rigting. Lees dit gerus. Ek het!

9780799381337

Ons leef wel in ’n tyd waar poli-amorie en ander vorme van verhoudingsbestuur aangemoedig word deur seksterapeute. Zelda se skok sou dus in sommige kringe as oudmodies beskou kan word, maar die realiteit is, die onbekende Katriena se punt is absoluut geldig. Zelda is verneuk, skynbaar konstant. Hier is geen sprake van erkenning gee aan haar nie, sy word doodeenvoudig in die steek gelaat deur haar man.

Dina Botha (se prokureur) draai die bordjies om.

Dina Botha se suikersoetboek sê vir vroue: Jy is meer werd.

Ek hou daarvan.

Klik hier vir die Kindle-weergawe.

Klik hier vir die boek by LAPA Uitgewers.

9780799378009

Jy is meer werd

As julle nog nie Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva gelees het nie, stel dit reg!

Kapp se boek is ’n maklike een om aan vroue te gee wat in die verkeerde verhouding is, want dit is duidelik geskryf vir mense wat seergekry het, al is die einde ook heerlik soet. Julle sal ook nooit weer eenders kan dink aan ’n donkerknal tydens die liefdespel ná jy hierdie boek gelees het nie!

Dit is ook baie maklik om Chanette Paul se ouevre aan te beveel. Chanette het een van die skerpste penne teen verhoudingsgeweld in Suid-Afrika, al lees haar boeke so lekker. Onthou dit as jy boeke soek om aan mense te gee.

Alta Cloete se Net ’n mens is weer ’n boek om aan iemand te gee wat sukkel om ’n familielid se seksuele oriëntasie te verwerk; en Fanie Viljoen se jeugboek Uit is ’n moet vir jongmense wat bang is om uit te kom.

In die wêreld van Brexit en Trump, gaan ons hierdie soort boeke nodig hê. Die verskrikking vir minderhede in die VSA gaan al hoe erger word, en hier in Suid-Afrika kopieer ons mos alles slaafs wat uit die regse Amerika kom. Ek wens so ek kan vir al die omies in die NG Kerk wat steeds hardnekkig weier om die Bybel postmodern te lees, ’n kopie van Marida Fitzpatrick se “Sonde” gee, soos opgeneem in die US Woordfeesbundel Bly. Dit is ’n briljante opsomming van soveel van my vriende se seer.

Ek het reeds berig oor Martin Steyn se wonderlike werk in Swartval en die Rakkers het hulle stemme uitgespreek.

Gee dus aan iemand wat swaarkry ’n boek en sê: Jy is meer werd.

9780799380903

Maar wat kan ek doen?

Ons is nie almal skrywers soos Dina, Sophia, Martin, Fanie, Marida of Chanette nie.

Met ’n groot naam agter jou kan jy ’n ope brief teen Trump se fascisme skryf en dit publiseer, soos JK Rowling dit gedoen het. Maskas. Ek is mal daaroor. Ek is egter nie so bekend soos sy nie.

Jy kan die regte ding doen soos Thuli Madonsela; ek weet sy is nie ’n skrywer nie, maar sy verdien alle melding wat sy kan kry. Ek is nie so slim soos sy nie.

Ek is wel betrokke by PEN Afrikaans, en is trots op die werk wat ons saam met PEN International doen. As ek my klein stemmetjie voeg by die van ander skrywers en joernaliste van reg oor die wêreld, kan ons ’n verskil maak.

En ons kan lees.

koors_400

Lees, lees. En Lees.

Ek lees tans Little Suns deur Zakes Mda. Dit onderskryf die teorie dat die geweld waarmee ons vandag te make het, direk verband hou met die gruwels wat die sogenaamde Westerse beskawing, Bybel onder die arm, in Afrika gepleeg het.

Maar op ’n ander noot het Deon Meyer se Koors my baie diep geraak.

Meyer skets die probleem van ’n liberale staat vs ’n kerkstaat pragtig – sonder om te preek. Meyer se hele boek is gebaseer op die teorie dat die mens “kollektiewe fiksie” kan verstaan. Dit het hy van Yuval Noah Harari gekry.

Lees maar self Harari se boeke, maar Meyer is makliker. Wat Koors wys, is hoe ons mekaar beïnvloed deur in groepe te dink.

Lees dus boeke wat jou uitdaag. Daar is baie wat ek nie hier genoem het nie.

Lees ook resensies soos die van die onbekende Katriena op Amazon. Katriena se wyse woorde het dit weer aan my duidelik gemaak dat alle boeke wat positiewe alternatiewe aan vroue bied, bemagtigend is.

Viva!

Koljander, koljander, so deur die Bosch

December 13, 2016 in Uncategorized

vetkoek

Ek het die ander dag berig oor die voorreg om Annatjie Melck, Opperman se muse vir die gedigsiklus “Grondstowwe by die Siklus van Seisoene”, se boek by die drukker te gaan inwag. (Lees hier.)

Dié boek word tans verskeep en julle kan maar gaan vra daarna; as jou boekwinkel dit nie nie het nie, vra asseblief dat hulle dit bestel:

Koljander, koljander, so deur die Bosch

Annatjie Melck

ISBN: 9780799379822

Voorgestelde prys R300.00 (winkels kan hulle pryse maak)

LAPA Uitgewers

Hoekom is ek opgewonde oor die boek? Dit is ’n stukkie literatuurgeskiedenis, waar Annatjie vertel van hulle vriendskap met die Oppermans. (Lees die volledige gedig, met die opdrag “eintlik vir Annatjie Melck” hier.)

Dit is egter maar ’n klein deel van Annatjie se storie.

Annatjie Melck is ook die vrou wat Oom Samie se Winkel beroemd gemaak het op Stellenbosch en sy is die matriarg van die Muratie-wynlandgoed.

Maar Opperman het juis oor kos geskryf: “kerriekos eet, varkrib en bruin wildbraad, souskluitjies met kaneel en gesproete pannekoek.”

En dit is wat hierdie boek so interessant maak. Ek kon nou al blaai. Van die resepte is baie eenvoudig, maar die kulltuurgeskiedenis slaan deur. Kyk hoe lyk haar resep vir vetkoek; die vetkoekfoto is hier bo.

vetkoekresep

(Klik op die resep om dit groter te maak)

Vir Annatjie gaan kosmaak nie oor pretensie nie, maar wel oor liefde en beskerming. Sy sê voor in die boek dat sy nie ’n “fynvingerkok” is nie. Haar resepte is aards, maar deksels lekker.

Die ATKV beywer sigself deesdae vir die bewaring van dit wat kultuurskatte is, daarom is hierdie boek so belangrik.

perske

Dit is erfeniskos. Kyk hoe mooi word versnipperdeperskekonfyt beskryf en verduidelik.

perskeresep

(Klik op die resep om dit groter te maak)

Daar is ook skreeusnaakse stories oor haar jong jare in. Hier is een.

valstande

(Klik op die storie om dit groter te maak.)

Annatjie Melck is een van die stigterslede van die Fynproewersgilde: As jy wil deel in die poësie van lekker eet, is hierdie boek vir jou.

Hierdie boek is die perfekte geskenk vir iemand wat reeds alles het.

skaapkop-1

Daar is ook ’n resep vir skaapkop maak in die boek. Ek plaas net die foto. Grinnik!

koljander-img_6358

So lyk die voorblad.

Pasgedruk: Opperman se muse

December 8, 2016 in Uncategorized

koljander-img_6357

Julle ken die uitdrukking: “Hot off the press?”

koljander-img_6358

Wel, daar lê dertig boeke by Oom Samie se winkel op Stellenbosch wat so warm van die pers af is, as jy môreoggend een gaan koop, gaan jy dit hê voor die uitgewers hulle kopië het.

Hoekom is hierdie boek belangrik?

Op bladsy 118 van DJ Opperman se Komas uit ’n Bamboesstok staan daar:

Grondstowwe by die Siklus van Seisoene

geskryf vir die Fynproewersgilde

eintlik vir Annatjie Melck.

koljander-img_6208-an-09-22-52

’n Foto van die oorspronklike gedig.

Die muse agter een van die bekendste gedigsiklusse in Afrikaans vertel uiteindelik haar storie. Dit is haar boek, haar storie, haar resepte. Die storie van Opperman is ook in die boek.

Annatjie Melck is ook die vrou wat Oom Samie se Winkel beroemd gemaak het op Stellenbosch en sy is die matriarg van die Muratie-wynlandgoed.

Opperman het liries gedig oor “kerriekos eet, varkrib en bruin wildbraad, souskluitjies met kaneel en gesproete pannekoek.” Nou is meer as 100 van hierdie resepte verpak saam met Annatjie se lewensreis – wat begin op die oop vlaktes van die Groot Karoo en eindelik tot ruste kom onder die groot eike van Muratie, net buite Stellenbosch.

koljander-img_6356

Hierdie boek moes uit, so ek is vanoggend na die drukkers, Creda Communications, om te gaan afteken op die eerste oplaag.

koljander-img_6355

Ek is ’n seuntjie, oukei, so ek is mal masjiene. Die boek is twee keer gesny, Dit keer dat daar duikies kom in die mooi omslag.

koljander-img_6360

Ek is ook altyd opgewonde oor mense wat trots is op hulle werk.

koljander-img_6362

Daar by Creda Communications is elkeen, van die voorman tot die operateur, trots op die werk wat hulle lewer. Hier is die voorman wat die hele tyd met almal skakel om die boek se proses dop te hou.

koljander-img_6363

Die vrou is een van die drie mense by Creda wat elke boek oopmaak en bekyk. Haar oë is skerp. Sy laat gaan nie ‘n boek as sy iets snaaks raaksien nie.

Ek is van Creda af Stellenbosch toe.

Die eerste dertig boeke is nou al by Oom Samie se winkel, die res is van vroeg volgende week af by goeie winkels, of jy kan LAPA bel en bestel: 012 401 0700.

koljander-img_6366

koljander-img_6365

Het ek al gesê? Ek is ’n seuntjie, so ek is mal masjiene.

***

Annatjie Melck is een van die stigterslede van die Fynproewersgilde: As jy wil deel in die poësie van lekker eet, is hierdie boek vir jou.

Vir Annatjie gaan kosmaak nie oor pretensie nie, maar wel oor liefde en beskerming. Sy is lief daarvoor om haar kos in mooi en interessante houers te bedien, maar verkies dat die kos natuurlik lyk sodat die kwaliteit en smaak behoue bly.

Dit sal ’n uitstekende Kersgeskenk maak vir daardie persoon wat reeds alles het. Daar is meer as 100 resepte en baie stories om te lees.

Koop dit.

Koljander, koljander, so deur die Bosch

Annatjie Melck

ISBN: 9780799379822

LAPA Uitgewers

R300.00

Die Rakkers het gepraat: #16DaeVanAktivisme

December 3, 2016 in Uncategorized

lekkerlees

Baie dankie. Veral aan die wonderlike mense van Lekkerleesboekrak wat soveel omgee. Ek het gehoop om ’n respons te kry op my oproep om via die letterkunde iets te doen rondom die #16DaeVanAktivisme. Wel, ek het. En wat ’n ongelooflike respons! Die lyste volg hieronder, rol gerus af.

As julle nie Lekkerleesboekrak ken nie: https://www.facebook.com/groups/lekkerlees/

Sinisme

Die Suid-Afrikaanse outeur, Helen Moffet, is nou al bekend vir haar jaarlikse aksie teen die die #16DaeVanAktivisme. Sy voel ons moet elke dag aktiviste wees teen geweld. Ek stem natuurlik saam. Die rede waarom ek egter die golf ry, is juis omdat ek hoop om mense aan boeke bekend te stel wat hulle koppe kan swaai. Die hele jaar lank.

Gesprek vs Fascisme

Nou net, terwyl ek besig was met die redigeer van die Rakkers se antwoorde, vra ’n jong vrou van 22 vir my waarom ek ’n Pot vol winter “toelaat” op hierdie lys? My antwoord was: Maretha Maartens het die orde van Kerk en Staat en Skool uitgedaag deur te praat oor tienerseks. In daardie dae was die skool, die kerk en die staat een. Voorbehoedmiddels het bestaan uit “Jy mag nie”.

Ongelukkig is daar steeds te veel kerke wat presies dieselfde doen. Ongelukkig is daar steeds klinieke waar meisies lesings kry, in plaas van inspuitings. Ongelukkig eindig te veel tieners steeds in agterplaasklinieke waar mense gewillig is om aborsies uit te voer, al is dit veronderstel om gratis en geredelik beskikbaar te wees in staatsdiens. Lees ook Jan van Tonder Roepman, ’n boek wat toevallig nie ter sprake gekom het nie.

Dít is die krag van boeke.

Ek wil een aanhaling op die rak uitsonder, wat presies die doel van hierdie oefening opsom. Karin Behrens skryf:

Ek weet nie presies waarna jy op soek is nie, maar net my persoonlike ervaring. Vir iemand wat ‘n liefdevolle pa gehad het, en ’n goeie man getrou het, was die boeke ’n eye-opener. Daar is mense wat in totaal ander omstandighede groot geword het en ook ander huweliksmaats het. Die boeke lig my in, leer my empatie. Ek ek probeer help waar ek kan want my omstandighede kon baie makliker anders gewees het.

Dankie, dankie, dankie dat julle lees. Dankie dat julle deelneem.

Ek het my bes gedoen om almal se antwoorde te kopieer.

Die rakkers se lys fiksieboeke:

  • ’n Pot vol Winter, Maretha Maartens
  • A little life, Hanya Yanagihara
  • Anderkant die stilte, André P. Brink
  • Chinchilla, Nanette van Rooyen
  • Die donker god, Fransi Phillips
  • Die geheime kamer, Corlia Fourie
  • Die naamlose, Mariël le Roux
  • Die Reuk van Appels, Mark Behr
  • Dis ek Anna, deur Anchien Troskie
  • Donkermaan, André P. Brink
  • Here Be Lions: A Memoir, Not Suitable for Children, Helen Brain
  • Klara, Mariël le Roux
  • Pastoor, Pat Stamatélos
  • Saliger, Dibi Breytenbach.
  • Sirkel van die noodlot, ST Potgieter
  • Sirkusboere, Sonja Loots
  • Skaduself, Paula Marais
  • Swartskaap, Odette Schoeman
  • Thula-Thula, Annelie Botes
  • Tippex dit uit, Anne-Marie Conradie
  • Triomf, Marlene van Niekerk
  • Van Skoolbank tot Bordeelbed, Jaco Hough-Coetzee en Elanie Kruger
  • Vaselinetjie, Anoeschka von Meck

Die rakkers se lys niefiksieboeke

  • Bloed op haar hande, Carla van der Spuy
  • Ek is g’n Slams, Fatima Osman
  • Exit, Grizelda Grootboom
  • Hobhouse: Geliefde Verraaier, Elsabé Brits
  • I have life, Alison
  • Love is War: The Modimolle Monster, Karyn Maughan and Shaun Swingler
  • Mens of Monster, Carla van der Spuy
  • Mishandel, misbruik, misken, Carla van der Spuy
  • Sara Baartman and the Hottentot Venus, C. Crais & P. Scully.
  • Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof, Chris Karsten

Ek wil egter ook die skrywer en joernalis, Elsabé Brits, se wysheid deel, want hierdie lyste kan natuurlik nie volledige wees nie.

In die geval sou en dink nie-fiksie is waarna ’n mens soek. Maar wat met vroue gebeur het in die land gaan sover terug as die storie van Sara Baartman, vergrype jeens slawevroue wat tragies was. Stories soos Krotoa, Armosyn van die Kaap, verhale uit die ABO en swart vroue se verhale ook.

Karel Schoeman se boeke beeld die vergrype teen vroue in SA goed uit.

Daar is ’n magdom boeke oor die ABO se wandade. Let wel Kamphoer (en het nie die ander een onder oë gehad nie) is geskoei op ‘n ware verhaal, maar dit blyk fiksie soos dit daar staan in swart en wit. Vir die verkragtings in die ABO is die Havanga-kommisie se verslae daar.

Waarby ek wil byvoeg Dan Sleigh se boeke is ook oor en oor die moeite werd om te lees.

Slagofferskap

Ek wil ’n laaste punt maak. Een van die Rakkers het voorgestel Susan Lemmer se boek Ek wil hê jy moet weet: Sy is steeds my kind oor Cezanne, beter bekend as Advokaat Barbie, moet ook hier wees. Ek gaan ja sê. Die slagoffer van geweld word dikwels die een wat geweld pleeg.

Asseblief, lees Amor van der Westhuizen se storie in Mishandel, misbruik, misken soos vertaal aan Carla van der Spuy. Amor kon wegbreek uit die siklus, maar sy is baie eerlik dat sy dit byna nie gemaak het nie.

Amor het oor Carla se ander boek, Bloed op haar hande, gesê sy amper ook só uitgedraai het. En weet julle wat ek raakgelees het in Bloed op haar hande? Daar is nie een vrou, en ek gaan dit herhaal, nie een vrou in daardie boek wat nie ’n ding oor haar pa gehad het nie. As man is dit erg.

Lees ook asseblief die kortverhaal “Om die hemel te proe” in die US Woordfees se bloemlesing, Bly. Dit verwoord die siklus baie goed.

Zwing-zwing

Sjoe, dit was lekker. Ek dink ons het boeke van NB Uitgewers, Random House Struik Penguin, Naledi, Protea en LAPA gedek – en daar was onafhanklike uitgewers ook.

Ida Roux skryf uiteindelik: “Wel, ek dink Izak se kop zwing nog met al hierdie boeke.”

Wel, jy is reg Ida. Maar dis ’n lekker zwing!

Swartval: #16DaeVanAktivisme

December 1, 2016 in Uncategorized

Vandag is die eerste dag van sestien waarin ons veronderstel is om aktiviste te wees teen die geweld wat vroue en kinders op die lyf loop. Ek wil kyk of ons iets deur middel van die letterkunde kan doen.

Speel asseblief saam?

9780799380910

Swartval

Goed, ek is bevoordeeld, maar as daar een boek is wat my heeltemal oorrompel het in 2016, is dit Martin Steyn se Swartval.

Dit is geskryf vanuit ’n vrou se oogpunt. Deur haar oë beleef jy geweld, verkragting, die angs van opgesluit wees, en die brute wil om te oorleef.

Steyn breek die reëls. Hy neem die leser verder op die pad as wat ’n normale krimi sou wou. Hoekom? Hy wou juis hê dat ons geweld teen vroue moet verstaan; dis nie ’n vinnige woepwaps en dan is alles oor nie.

Wat meer is: Martin Steyn skenk ’n deel van elke boek se verkope aan Rape Crisis.

Gee om met ’n boek

Skrywers gee om.

Dink aan Thula-Thula van Annelie Botes.

Dit is maklik om te sê ons kan niks doen nie, want vroue het dan gestem vir Donald Grab them by the Pussy Trump en onse eie Showerhead word deur ANC Vroueliga op sy troon in Nkandla beskerm. Wat de hel?

Maar: Nie alle vroue het vir Trump gestem nie. Ons moet hulle beskerm; en ons moet die vroue wat wel vir hom gestem het, teen hulleself beskerm. Die wêreld van Brexit en Trump en wit Nasionalisme is ’n koue plek. Vra die mense wat onder Hitler gely het.

Ditto met ons eie land: Daar word duisende vroue in Suid-Afrika verkrag terwyl Showerhead Zuma kattemaai. Ons moet hulle beskerm.

Bewusmaking

Deur te praat hieroor, doen ons reeds iets. Deur idees uit te ruil oor boeke wat ’n verskil maak, doen ons reeds iets.

Praat asseblief saam? Ek werk by LAPA en ken dus hierdie uitgewer se boeke tans beter as die ander s’n, hoewel ek wyd lees. Ek vra dus by voorbaat dat julle moet my moet help om my blindekolle in te vul.

Voorsmakie

Bly, die US Woordfees se kortverhaalbundel gaan ter sprake kom, so ook Alta Cloete se Net ’n mens.

Ek wil in die volgende paar dae nog gesels oor Die oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, deur Sophia Kapp; Chanette Paul se krimis onder die loep neem, Dina Botha se Suikersoet sonde proe en dan verduidelik waarom Deon Meyer se Koors ook op my lysie sal wees van boeke wat almal moet lees.

Swartval

Vir vanaand sê ek dankie aan Martin Steyn vir ’n besondere boek. Dit is my boek van 2016, en daar was groot, groot aanspraakmakers op hierdie titel. Dit is hier te koop.