Koalisies is die toekoms, wenners is nie

August 24, 2016 in Uncategorized

stemizak650

Anders as in die verlede sal Suid-Afrika hopelik oor ’n aantal jaar nie meer droom oor wenpartye nie; hopelik sal ons in elke verkiesing kan begin droom van mense wat middelgrond soek met die doel om effektiewe dienslewering te verseker.

Ek is opgewonde oor die koalisies wat skielik in Suid-Afrika tot stand gekom het.

Hoekom? Want dan het niemand absolute mag nie.

Koalisies maak dat mense hulle eie nonsens eenkant sit en begin werk na iets blywend.

Neem ’n land soos Nederland. Daar is die verkiesingsuitslae binne ure bekend, want hulle tel elektronies, maar dit neem weke voor ’n nuwe regering in werking kom.

Die vraag in Nederland is nie óf die land deur ’n koalisie regeer gaan word nie, maar wel watter partye dit sal regkry om middelgrond te bereik sodat hulle saam die beste vir die land se inwoners kan bied?

 

Proporsionele verteenwoordiging

Proporsionele verteenwoordiging maak dit moontlik vir klein partye om groot partye in toom te hou.

Ons land kies sedert 1994 volgens proporsionele verteenwoordiging. Selfs in die plaaslike verkiesing stem ons twee keer: Een keer vir die persoon in jou wyk, en een keer vir die party wat jy graag na jou belange wil laat omsien.

In 1994 was ons dus reeds gerat vir koalisies, al was dit op daardie stadium bloot ’n droom.

 

Twee magtige partye, of ’n klomp kleintjies?

In lande soos die VSA en die VK is dit bitter moeilik vir kleiner partye om hulle stempel af te druk.

Kyk na die VK. As dit nie was vir Tony Blair wat die Arbeiders so ver regs getrek het nie, sou die frustrasievlakke nie groot genoeg gewees het vir mense om hulle vrees vir die Konserwatiewe Party te verloor nie. Blair was plein konserwatief.

Dus, so verloor Arbeiders toe steun na links, en skielik moes die Konserwatiewe Party (middelregs) ’n koalisie aangaan met die Liberaal Demokrate (links). Wonderlik.

Had die VK ook proporsionele verteenwoordiging, soos Suid-Afrika, dan sou daar al baie lankal ’n koalisie moes wees en Blair sou beslis nie kon wegkom met sy oorlogspeletjies nie.

Of: dink aan die VSA vandag. Selfs die Republikeine moet hierdie keer vir Clinton stem, want hulle kan nie Trump toelaat om hulle land in sy moer te stuur nie. Trump sou nooit meer as luidrugtige man met lelike hare gewees het as mense vir kleiner partye kon stem nie. Die VSA het nie kleiner partye nie, daar is geen manier om die maghebber in toom te hou nie – hoewel hulle twee huise darem remme kan inbou, soos die regses met Obama gemaak het.

 

Middelgrond

Koalisies, formeel of informeel, gaan oor die vind van middelgrond. Die EFF het vir almal gesê die ANC is korrup. Dit is een ding waaroor hulle met die DA saamstem.

Sou die EFF dus met die ANC ’n koalisie aangaan, dan sou hulle moeiliker aan hulle kiesers kon verduidelik watter verskil hulle gaan maak.

Die EFF en die DA weet albei dat daar harde bene gekou gaan word oor die volgende vyf jaar, en daar is die moontlikheid dat sommige rade gaan uitmekaarspat voor hulle termyn om is. Die middelgrond is egter die stryd teen korrupsie. Die DA weet hulle sal baie, baie fyn moet kyk na armoedeverligting. Die EFF weet dat hulle nie sommer sal kan aangaan om leë beloftes aan mense te maak nie.

Lekker, maal twee.

 

Ons het ’n lang pad gestap

Dit is meer as 21 jaar ná 1994 en die demokrasie is skielik mondig, maar ook effens meer volwasse.

Tot nou toe was die ANC vir die meeste mense die logiese party om voor te stem. Hulle was die bevryder.

Soos die ANC egter hulle eie kiesers begin versaak het, het die DA besef hulle moet transformeer.

Toe waag Juju dit om die regte ding te doen.

Danksy die EFF het die nou vir DA die eerste keer ’n kans om ’n verskil te maak. Nou sal die DA moet uithaal en wys, en die EFF gaan hulle baie hard laat werk daaraan.

Wie gaan wen?

Suid-Afrika gaan wen as hierdie twee partye bereid is om nie vir hulleself nie, maar vir almal te werk.

 

Klein partye, nie wenners nie

Die grootste droom van ’n demokrasie is om mense saam te laat werk wat skynbaar niks in gemeen het nie. Moenie verbaas wees as die Vryheidsfront Plus en die Cape Muslim Party binnekort gaan begin gesels nie. Die ACDP het reeds begin saamspeel.

Sulke radikale partytjies frustreer dalk die DA, maar maak uiteindelik vir goeie demokrasie.

’n Tweepartystelsel laat te veel mag in die hande van die wenner. Dit is net wanneer ’n demokrasie só ver gevorder het dat daar geen wenners is nie, dat almal se stemme gehoor word.

My eerste sin het gelui: Anders as in die verlede sal Suid-Afrika hopelik oor ’n aantal jaar nie meer droom oor wenpartye nie; hopelik sal ons in elke verkiesing kan begin droom van mense wat middelgrond soek met die doel om effektiewe dienslewering te verseker.

Ons is op pad soheentoe. Dit gaan nog ’n paar jaar neem voor ons daar kom, maar die hoop is reeds in die lug.

Ek is baie, baie dankbaar.

* * *

Lees ook: Met ‘n bornfree na die stembus

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *