Izak @ #BoekeJol 2016

August 24, 2016 in Uncategorized

16 08 20 BoekeJol6504

Ek was verlede week in Pretoria. Deels was ek daar om aandag te gee aan ’n aantal LAPA-sake, maar dan ook om #BoekeJol 2016 by te woon. Saterdagmiddag moes ek ook my PEN Afrikaans-hoed dra. Bernadette Buss het ons verwelkom.

16 08 20 BoekeJol6537

Die jaarlikse Boekejol- en Filmrolfees is die breinkind van Dia van Staden. As julle meer wil weet, of nou al wil begin beplan vir 2017, klik hier.

16 08 20 BoekeJol6649

Die Boekejol word gehou in om die Atterbury Teater. Al die lokale is stapafstand van die teater af.

16 08 20 BoekeJol6505

Natuurlik gaan die Boekejol oor boeke – en Graffiti moet alle eer kry vir die manier waarop die boeke heen en weer gekarwei is. Hier, in die middel, is Sonja Janse van Rensburg van Graffiti saam met een van die hardwerkende boekverkopers (regs) en Sylvia de Kock, ’n hardlesende boekkoper wat ook heelwat boeke resenseer op Lekkerleesboekrak en op Goodreads.

Die eerste sessie wat ek bygewoon het, was die gesprek tussen Kaptein Elmarie Myburgh, van die Suid-Afrikaanse polisie, Carla van der Spuy en Riette Rust.

16 08 20 BoekeJol6513

Hier is Kaptein Myburgh (links), wat reeds meer as veertig reeksmoordenaars aan die pen laat ry het, saam met Carla. Hulle het gesels oor Carla se boek Bloed op haar hande. Koop die boek hier.

16 08 20 BoekeJol6509

Hier is Riette Rust, die skrywer van Vlees en bloed, saam met Sylvia de Kock. Koop haar boek hier.

16 08 20 BoekeJol6555

Op Vrydag 19 Augustus was daar ’n interessante gesprek oor trauma in die gesin. Johan Erasmus (links) was die gespreksleier. Hier is hy saam met Irene Fisher (Ek is nog hier), Juliana Coetzer (Bloedvreemd) en Marga van Rooy (In die skadu van skisofrenie).

16 08 20 BoekeJol6551

Marga en haar dogter, Henriëtte Boot, het In die skadu van skisofrenie saam geskryf. Dit is ’n baie eerlike en insiggewende blik op ’n gesin wat Henriëtte se siekte moet saamleef. Koop die boek hier.

Hierna kon ek ontspan vir die aand, en het die première gaan kyk van Dis koue kos skat, wat natuurlik op Marita van der Vyver se roman gebaseer is.

fIMG_5446

Moenie huiwer nie! Gaan kyk dit. Dis koue kos skat open op Vrydag 26 Augustus. Vir ’n verandering is hier ’n Afrikaanse film waaroor ons nie hoef skaam te wees nie. As hulle die klank afgeskakel het, sou ek kon raai dis ’n Franse film, want elke nou en dan huiwer die kamera en die oog word toegelaat om te talm. Oor en en oor die moeite werd. Naomi Bruwer, wat ek hier gekiek het, vergelyk dit met Tortilla Soup. Ek stem saam. Klik hier vir die lokprent. Gaan geniet dit!

16 08 20 BoekeJol6573

Ná die film het ek gaan luister na die Digtersmarathon. Hier is Hendrik Botha, Danie Marais, Riel Franzsen, Eunice Basson, Emma Bekker, Bernard Odendaal, Gerda Taljaard-Gilson en Philip De Vos. Agter is John King van Graffiti, altyd aan die werk om boeke te verkoop.

Ek is lief vir gedigte (is selfs iets soos ’n closetdigter, julle kan my gedigte hier lees), so dit was ’n besondere aand saam met die woord.

16 08 20 BoekeJol6600

Die Saterdagoggend was Carla van der Spuy (links) en Amor van der Westhuyzen (tweede van regs) in gesprek met Dr Henk Swanepoel (regs). By hulle is Suzanne van Niekerk, die uitgewer van Carla en Amor se boek Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma.  Koop die boek hier.

16 08 20 BoekeJol6613

Die gesprek het diep getref, al was daar heelwat humor ook.

16 08 20 BoekeJol6655

Daarna was vier baie slim mense aan die werk. Hier is Gerda Taljaard, Irma Venter die krimiskrywer, Sophia Kapp wat oor vroue en die liefde en Keina Swart wat rubrieke skryf. Gerda het die gesprek gelei. Daar is baie gelag. Sophia, ’n taalraadgewer, het veral mense laat lag toe Gerda haar ’n bietjie gepor het oor die titel en sekere woorde in haar nuutste roman…

16 08 20 BoekeJol6674

Daarna moes ek my PEN Afrikaans-hoed opsit. Hier sit van die mense wat die jaarvergadering bygewoon het, in die raadsaal van die City Lodge hotel.

16 08 20 BoekeJol6677

PEN Afrikaans beywer sigself vir persvryheid en artistieke vryheid. Klik hier vir meer.

16 08 20 BoekeJol6681

’n Snaakse oomblik van die paar dae in Pretoria, was toe Kleinboer (regs) se tweelingbroer hom ná die PEN Afrikaans-vergadering kom haal het. Dié mitiese tweelingbroer word gereeld vermeld in Kleinboer se werk, en het destyds op LitNet aan gesprekke deelgeneem as Sarel Sambok. Dit was soos om ’n karakter uit ’n roman te ontmoet; effens onwerklik.

* * *

Naomi Bruwer het ook haar kiekies geplaas, klik hier om hulle te sien.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *